Patriarge en Profete

44/75

Hoofstuk 42—Die Wet Herhaal

(Hierdie hoofstuk berus op Deuteronomium 4 tot 6;28) PeP 442.1

DIE Here het aan Moses verkondig dat die aangewese tyd vir die besetting van Kanaan ophande was en terwyl die bejaarde profeet op die hoogte bokant die Jordaan en die Beloofde Land gestaan het, het hy met diepe belangstelling op die erfnis van sy volk neergekyk. Sou dit moontlik wees dat die vonnis wat weens sy sonde te Kades uitgespreek is, herroep kon word? Met diepe erns het hy gesmeek: “Here, Here! U het begin om U kneg U grootheid en U sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Libanon.” (Deuteronomium 3:24-27). PeP 442.2

Die antwoord was: “Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie. Klim op die top van Pisga en slaan jou oë op na die weste en na die noorde en na die suide en na die ooste en bekyk dit met jou oë; want jy mag oor hierdie Jordaan nie gaan nie . PeP 442.3

Sonder teëspraak het Moses hom aan God se besluit onderwerp. En nou was sy groot kommer oor Israel. Wie sou hulle belange so ter harte neem soos hy? Uit die volheid van sy hart het hy gebid: “Laat die Here, die God van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die Here nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie.” (Numeri 27:16,17). PeP 442.4

Die Here het die gebed van Sy dienskneg aangehoor; en die antwoord het gekom: “Neem vir jou Josua, die seun van Nun, ‘n man in wie die Gees is; en lê hom die hand op en stel hom voor die priester Eleasar en voor die hele vergadering en gee hom ‘n opdrag voor hulle oë; en lê op hom van jou hoogheid, sodat die hele vergadering van die kinders van Israel na hom kan luister.” (Numeri 27:18-20). Josua het Moses lank bygestaan; en omdat hy ‘n man van wysheid en bekwaam en gelowig was, is hy gekies om hom op te volg. PeP 442.5

Deur die oplegging van hande, gepaard met ‘n indrukwekkende opdrag, is Josua plegtig as leier van Israel aangestel. Hy is ook tot die huidige regering van Israel toegelaat. Die woorde van die Here betreffende Josua is deur Moses aan die volk oorgedra: “Hy moet voor die priester Eleasar staan, dat dié vir hom die beslissing van die Urim kan vra voor die aangesig van die Here; volgens sy uitspraak moet hulle uittrek en volgens sy uitspraak moet hulle intrek, hy en al die kinders van Israel saam met hom en die hele vergadering.” (verse 21-23). PeP 443.1

Voordat hy sy betrekking as die sigbare leidsman van Israel neergelê het, is aan Moses bevel gegee om aan die volk die geskiedenis van hulle verlossing uit Egipte en hulle reise deur die woestyn te herhaal en ook om aan hulle die wet wat in Sinaï verkondig is, saam te vat. Toe die wet bekend gemaak was, was min van die teenswoordige vergadering oud genoeg om die ernstige plegtigheid van die geleentheid te begryp. Aangesien hulle binnekort oor die Jordaan sou trek om die Beloofde Land in besit te neem, wou God die eise van Sy wet aan hulle voorhou en gehoorsaamheid as ‘n voorwaarde vir voorspoed aan hulle oplê. PeP 443.2

Moses het voor die volk gestaan om sy laaste waarskuwings en vermanings te herhaal. Sy aangesig het met ‘n heilige lig geskyn. Sy hare was wit van die ouderdom; maar sy gestalte was regop, sy gelaat het van onverminderde krag van gesondheid getuig en sy oog was nog helder en onverdof. Dit was ‘n belangrike geleentheid en met diepe gevoel het hy die liefde en genade van die Almagtige Beskermer beskryf: PeP 443.3

“Doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is. Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het en in die lewe gebly? Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die Here julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het? PeP 443.4

Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die Here God is; daar is geen ander buiten Hom nie.” PeP 444.1

“Die Here het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die Here julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. Jy moet dan weet dat die Here jou God, God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte. (Deuteronomium 7:7-9). PeP 444.2

Die Israeliete was oorgehaal om hulle moeilikhede aan Moses toe te skryf; maar nou was hulle agterdog dat hy deur hoogmoed, eersug of selfsug beheer was, verwyder en hulle het met vertroue na sy woorde geluister. Moses het hulle getrou op hulle foute en die oortredings van hulle vaders gewys. Hulle was dikwels ongeduldig en opstandig oor hulle lang omswerwinge in die woestyn, maar hierdie vertraging om Kanaan in besit te neem, was nie aan die Here toe te skryf nie; Hy was meer gegrief as hulle omdat Hy hulle nie onmiddellik in besit van die Beloofde Land kon bring en so aan alle nasies Sy magtige krag en die verlossing van Sy volk kon betoon nie. Deur hulle wantroue in God, deur hulle trots en ongeloof, was hulle nie gereed om in Kanaan in te gaan nie. Hulle sou op geen manier ‘n volk, wie se God die Here is, verteenwoordig nie; want hulle het nie Sy karakter van reinheid, goedheid en welwillendheid gehad nie. Indien hulle vaders in geloof hulleself aan die leiding van God en Sy oordele onderwerp het en in Sy insettinge gewandel het, sou hulle lank tevore reeds in Kanaan as ‘n voorspoedige, heilige en gelukkige volk gevestig gewees het. Hulle vertraging om die goeie land binne te gaan, het God onteer en in die oë van die omliggende nasies, aftrek aan Sy heerlikheid gedoen. PeP 444.3

Moses, wat ‘n goeie begrip van die aard en die waarde van die wet van God gehad het, het die volk verseker dat geen ander nasie aan sulke wyse, regverdige en genadige reëls, as die wat aan die Hebreërs gegee is, onderworpe was nie. Hy het gesê: “Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die PeP 444.4

Here my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.” PeP 445.1

Moses het hulle aandag gevestig op “...die dag dat jy voor die aangesig van die Here jou God by Horeb gestaan het.” En hy het die volk gevra: “Watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die Here onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” Hierdie vraag aan Israel kan vandag herhaal word. Die wette wat God aan Sy volk van ouds gegee het, was wyser, beter en meer menslik as die van die meeste beskaafde lande op aarde. Die wette van die nasies dra die kenmerke van die swakhede en hartstogte van die onhernude hart; maar God se wet dra die stempel van goddelikheid. PeP 445.2

Moses het verklaar: “Die Here het julle geneem en julle uit die yster-smeltoond, uit Egipte, uitgelei om Sy erfvolk te wees.” Die land waar hulle spoedig sou ingaan en wat aan hulle sou behoort op voorwaarde van gehoorsaamheid aan die wet van God, is met die volgende woorde aan hulle beskryf-en hoe moes hierdie woorde nie die harte van Israel aangeraak het nie, toe hulle onthou dat hy, wat die seëninge van die goeie land so gloeiend geskilder het, as gevolg van hulle sonde, uitgesluit was om in die erfnis met sy volk te deel: PeP 445.3

“Die Here jou God bring jou in ‘n goeie land...” “...nie soos Egipteland waar julle uitgetrek het, wat jy met jou saad besaai en met jou voet, soos ‘n groentetuin, natgelei het nie. Maar die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land van berge en laagtes wat van die reën van die hemel water drink;” “...'n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ‘n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ‘n land van olieryke olyfbome en heuning; ‘n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ‘n land waarvan die klippe yster is en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap;” “...'n land waar die Here jou God voor sorg; die oë van PeP 445.4

die Here jou God is altyd deur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.” (Deuteronomium 8:7-9;11:10-12). PeP 446.1

“En as die Here jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die Here nie vergeet ... nie.” “Neem julle in ag dat julle die verbond van die Here julle God nie vergeet nie... Want die Here jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.” As hulle dan sou doen wat in die oë van die Here sonde was, het Moses gesê dat hulle “...sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.” PeP 446.2

Nadat Moses die wet in die openbaar herhaal het, het hy die werk om die wette, die insettinge en die regte wat God aan hom gegee het en ook die verordeninge aangaande die offerstelsel neer te skryf, voltooi. Die boek waarin dit geskryf is, is aan die betrokke amptenare oorhandig en is vir veilige bewaring aan die kant van die verbondsark geberg. Maar die groot leier was steeds bevrees dat die volk van God sou afdwaal. In ‘n uiters verhewe en roerende rede het hy die seëninge wat aan hulle, op voorwaarde van gehoorsaamheid geskenk sou word en die vloeke wat op oortreding sou volg, vir hulle uiteengesit: PeP 446.3

“As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel...” “...geseënd sal jy wees in die stad en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee... “...Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang en geseënd sal jy wees by jou uitgang. Die Here sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word.” “Die Here sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan.” PeP 446.4

“Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.” “En jy sal ‘n voorwerp van verbasing, ‘n spreekwoord en ‘n spot wees onder al die volke waarheen die Here jou sal PeP 446.5

wegvoer.” “En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie. En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die Here sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë en ‘n kwynende siel. En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie. In die more sal jy sê: Ag, was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Ag, was dit maar more!-vanweë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp en vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.” PeP 447.1

Deur die Gees van Inspirasie het Moses ver deur die eeue gekyk en die verskriklike tonele van Israel se nasionale ondergang en die vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse leërs beskryf: “Die Here sal teen jou ‘n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ‘n arend vlieg; ‘n nasie wie se taal jy nie verstaan nie, ‘n nasie hard van aangesig, wat ‘n grysaard nie ontsien en vir ‘n seun geen genade het nie.” PeP 447.2

Die algehele verwoesting van die land en die verskriklike lyding van die volk tydens die beleg van Jerusalem eeue daarna onder Titus, is duidelik geskilder: “En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is ... En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het ... En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak.” “Die vertroetelde en verwende vrou by jou wat van verwendheid en weekheid nooit probeer het om haar voetsool op die grond neer te sit nie-haar oog sal die man wat sy liefhet ... skeef aankyk, ... en haar kinders wat sy sal baar; want sy sal dit stilletjies eet by gebrek aan alles in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak.” PeP 447.3

Moses het sy rede afgesluit met die indrukwekkende woorde: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou PeP 447.4

dae, sodat jy kan woon in die land wat die Here aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee.” (Deuteronomium 30:19,20). PeP 448.1

Om hierdie waarhede dieper op hulle gemoedere af te druk, het die groot leier dit in ‘n gewyde gedig saamgevat. Hierdie lied was nie net histories nie, maar ook profeties. Terwyl dit van die wonderbaarlike verhouding van God met Sy volk in die verlede vertel het, het dit ook die groot gebeurtenisse van die toekoms voorafgeskadu, naamlik die uiteindelike oorwinning van die getroues wanneer Christus die tweede keer met krag en heerlikheid kom. Die volk is gelas om hierdie poëtiese geskiedenis te memoriseer en om dit aan hulle kinders en kleinkinders te leer. Dit moes deur die gemeente gesing word wanneer hulle vir aanbidding saamgekom het en deur die mense in hulle daaglikse arbeid herhaal word. Dit was die plig van ouers om hierdie woorde só op die ontvanklike verstand van hulle kinders af te druk dat dit nooit vergeet sou word nie. PeP 448.2

Aangesien die Israeliete in ‘n besondere sin, die bewaarders en bewakers van God se wet sou wees, moes die betekenis van die gebooie en die belangrikheid van gehoorsaamheid daaraan op ‘n besondere wyse op hulle gemoedere en deur hulle, op hulle kinders en kleinkinders ingeskerp word. Aangaande Sy insettinge het die Here beveel: “Jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan ... En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.” PeP 448.3

Wanneer hulle kinders hulle in die toekoms sou vra: “Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die Here onse God julle beveel het?” dan moes die ouers die geskiedenis van God se genadige omgang met hulle herhaal-hoe die Here hulle verlossing bewerk het sodat hulle Sy wet kon gehoorsaam-en hulle moes aan hulle sê: “Die Here het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is. En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die Here onse God soos Hy ons beveel het.” PeP 448.4