Patriarge en Profete

43/75

Hoofstuk 41—Afvalligheid by die Jordaan

(Hierdie hoofstuk berus op Numeri 25) PeP 432.1

Met vreugde in hulle harte en hernude vertroue op God het die oorwinnende Israeliete van Basan af teruggekeer. Hulle het reeds waardevolle grondgebied in besit geneem en was vol vertroue vir die onmiddellike verowering van Kanaan. Slegs die Jordaanrivier het tussen hulle en die Beloofde Land gelê. Net oorkant die rivier was ‘n vrugbare vlakte bedek met lowergroen plantegroei, benat uit strome van oorvloedige fonteine en deur weelderige palmbome oorskadu. Aan die westelike grens van die vlakte het die torings en paleise van Jerigo verrys, so deur palmboom woude omring, dat dit “...die stad van palmbome...” genoem is. PeP 432.2

Aan die oostekant van die Jordaan, tussen die rivier en die hoë tafelland waardeur hulle gereis het, het nog ‘n vlakte vir etlike kilometers langs die rivier gestrek. Hierdie beskutte vallei het ‘n tropiese klimaat gehad en hier het die Sittim-of akasiaboom welig gegroei wat aan die dal sy naam gegee het, naamlik die “dal van Sittim.” Daar het die Israeliete gekampeer en tussen die Sittimbosse langs die rivier ‘n aangename rusplek gevind. PeP 432.3

Maar in hierdie aantreklike omgewing sou hulle ‘n boosheid teëkom wat dodeliker was as die groot strydmagte van gewapende manne of die wilde diere van die woestyn. Die streek wat so ryk was aan natuurlike bronne, is deur die inwoners besoedel. In die openbare aanbidding van Baal, die vernaamste afgod, is die mees laagste en goddelose misdrywe gepleeg. Oral was plekke wat bekend was vir afgodery en losbandigheid; selfs die plekname het getuig van die goddeloosheid en verdorwenheid van die volk. PeP 432.4

Hierdie omgewing het ‘n besoedelende ‘n demoraliserende invloed op die Israeliete gehad; en amper sonder dat hulle self daarvan bewus was, het hulle afgedwaal van God en in ‘n toestand begin inbeweeg waar hulle ‘n maklike prooi vir versoeking sou word. PeP 432.5

Gedurende hulle verblyf langs die Jordaan het Moses voorbereidings getref vir die inbesitneming van Kanaan. Hierdie werk het die groot leier voltyds besig gehou, maar vir die volk was hierdie tyd van spanning en afwagting uiters moeilik en voordat baie weke verby is, is hulle geskiedenis deur die ernstigste afwykings van deug en eerbaarheid geskend. PeP 433.1

Aan die begin was daar min omgang tussen die Israeliete en hulle heidense bure, maar na ‘n tyd het die Midianitiese vroue die kamp begin binnesluip. Hulle besoeke het geen agterdog gewek nie en hulle het hul planne so suutjies uitgevoer dat die saak nie onder Moses se aandag gebring is nie. Dit was die doel van hierdie vroue om, in hulle omgang met die Hebreërs, hulle te verlei om die wet van God te oortree, hulle aandag weg te lei na hul heidense rituele en gewoontes en hulle te lei na afgodediens. Hulle het hierdie planne versigtig onder die dekmantel van vriendskap verberg sodat hulle nie verdag voorgekom het nie, selfs nie eers deur die opsieners van die volk nie. PeP 433.2

Op Bileam se voorstel het die koning van Moab ‘n groot fees ter ere van hulle gode gereël en daar is in die geheim ooreengekom dat hy die Israeliete sou oorreed om dit by te woon. Hulle het hom vir ‘n profeet van die Here aangesien en dit was dus nie vir hom moeilik om sy plan uit te voer nie. Groot getalle mense het saam met hom gegaan om die feestelikheid te aanskou. Hulle het dit op die verbode terrein gewaag en is in die strikke van die Satan gevang. Betower deur die musiek en dansery en uitgelok deur die skoonheid van die heidense maagde, het hulle hul getrouheid aan Jehova van hulle afgewerp. Na mate hulle deelgeneem het aan die vrolikheid en feestelikheid, is hulle sinne beneweld en die mure van selfbeheersing afgebreek. Die hartstogte het geseëvier; en nadat hulle hul gewetes met ontugtigheid besoedel het, is hulle oorreed om voor afgode neer te buig. Hulle het op die heidense altare geoffer en aan die skandaligste rituele deelgeneem. PeP 433.3

Dit was nie lank voordat die vergiftiging soos ‘n dodelike besmetting deur die kamp van Israel versprei het nie. Manne wat hulle vyande sou verslaan het, is deur die liste van heidense vroue oorkom. Dit was asof die volk verdwaas was. Die owerstes en vooraanstaandes was onder die eerste PeP 433.4

oortreders en so baie van die volk het hulle skuldig gemaak, dat dit ‘n algemene afvalligheid geword het. “So het Israel hom dan gekoppel aan Baal-Peor. Toe Moses van die boosheid bewus word, was die planne van hul vyande reeds so suksesvol, dat die Israeliete nie net aan die wellustige aanbidding op die berg Peor deelgeneem het nie, maar die heidense rituele het begin om in die kamp van Israel opgemerk te word. Die bejaarde leier was verontwaardig en die toorn van God het ontvlam. PeP 434.1

Hierdie goddelose praktyke het ‘n uitwerking op Israel gehad wat die beste besweringe van Bileam nie kon bewerkstellig nie-dit het hulle van God geskei. Deur spoedige oordele is die volk attent gemaak op die omvang van hulle sonde. ‘n Verskriklike plaag het in die kamp uitgebreek en tienduisende is aangetas. God het gelas dat die voorbokke in hierdie afvalligheid deur die rigters om die lewe gebring moes word. Die bevel is dadelik uitgevoer. Die oortreders is gedood en hulle lyke is opgehang waar die hele Israel dit kon sien sodat die vergadering, wanneer hulle sien hoe ernstig God teenoor die leiers opgetree het, ‘n diepgewortelde besef sou hê van hoe groot afkeer God in hulle sonde het en die verskrikking van Sy toorn teenoor hulle. PeP 434.2

Almal het beken dat die straf regverdig was en die volk het hulle na die tabernakel gehaas en met trane en diepe vernedering hulle sondes bely. Terwyl hulle nog so by die ingang die tabernakel voor God geween het, terwyl die plaag nog sy dodelike werk verrig en die rigters hulle verskriklike opdrag uitgevoer het, het Simri, een van die adel van Israel, openlik die kamp binnegestap, vergesel van ‘n Midianitiese hoer, die dogter van ‘n “...stamhoof van ‘n familie in Midian... ” en haar na sy tent gelei. Nog nooit was goddeloosheid meer onbeskaamd of opsetlik nie. Aangevuur deur wyn, het Simri sy sonde “...soos Sodom...” bekend gemaak en hom in sy skande verheug. Die priesters en die leiers het hulle in droefheid en verootmoediging neergebuig en “...tussen die voorportaal en die altaar...” geween en gesmeek dat die Here Sy volk moes spaar en Sy erfnis nie aan smaadheid moes oorgee nie, toe hierdie vors van Israel sy sonde so skaamteloos voor die oë van die ganse vergadering vertoon het asof hy God wou uitdaag om hom te straf en die rigters van Israel wou bespot. Pinehas, die seun van Eleasar die hoëpriester, het uit die vergadering uit opgestaan, ‘n spies geneem “...en agter die Israelitiese man aan PeP 434.3

gegaan in die tent...” en albei gedood. So het daar ‘n einde aan die plaag gekom en die priester wat die oordeel van God voltrek het, is in die teenwoordigheid van die hele Israel vereer en die priesterskap is vir ewig aan hom en sy huis bevestig. PeP 435.1

God het gesê: Pinehas “...het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend ... Daarom spreek: Kyk, Ek sluit met hom my vredesverbond en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy God geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het.” PeP 435.2

Die oordeel wat Israel as gevolg van hulle sonde by Sittim getref het, het al die oorlewendes van daardie groot geselskap wat byna veertig jaar tevore die vonnis verdien het, uitgewis: “Sterwe sal hulle in die woestyn!” Toe die volk op bevel van God gedurende die verblyf op die vlaktes van die Jordaan getel is, het daar aan die lig gekom dat daar onder hulle niemand was “...van die wat deur Moses en die priester Aaron getel is nie, toe hulle die kinders van Israel in die woestyn Sinai getel het ... van hulle het niemand oorgebly nie buiten Kaleb, die seun van Jefunne en Josua, die seun van Nun” (Numeri 26:64,65). PeP 435.3

God het oordele oor Israel gebring omdat hulle toegegee het aan die aanloklikhede van die Midianiete; maar die verleiers sou nie van die toorn van die vergelding van God gevrywaar word nie. Die Amalekiete wat Israel by Rafidim aangeval het en die swakkes en die wat uitgeput in die agterhoede was, gedood het, was eers lank daarna gestraf, maar die Midianiete wat hulle tot sonde verlei het, omdat hulle gevaarliker vyande was, sou spoedig die oordeel van God ervaar,. God het Moses beveel: “Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete; daarna sal jy by jou volksgenote versamel word.” (Numeri 31:2). Die opdrag is onmiddellik uitgevoer. Uit elke stam is duisend man gekies en onder Pinehas as hulle aanvoerder uitgestuur. “En hulle het oorlog toe getrek teen Midian. soos die Here Moses beveel het ... Ook het hulle die konings van Midian gedood by die wat hulle verslaan het: ... die vyf konings van Midian; ook het hulle Bileam, die seun van Beor, met die swaard gedood” (verse 7,8). Ook die vroue wat deur die aanvallende leër gevange geneem is, is op bevel van Moses gedood, omdat hulle die skuldigste en gevaarlikste vyande van Israel was. PeP 435.4

Dit was dan die einde van diegene wat kwaad teen God se volk gesmee het. Die psalmdigter sê: “Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het.” (Psalm 9:16). “Want die Here sal sy volk nie verwerp en sal sy erfdeel nie verlaat nie; want die regspraak sal terugkeer tot geregtigheid.” “Wanneer mense die lewe van die regverdige bestorm en onskuldige bloed veroordeel, sal die Here hulle ongeregtigheid op hulle laat terugkeer en hulle in hulle boosheid verdelg.” (Psalm 94:14,15,21,23). PeP 436.1

Toe Bileam geroep is om die Hebreërs te vloek, kon hy met al sy besweringe geen onheil oor hulle bring nie, want die Here het geen ongeregtigheid in Jakob aanskou of onheil in Israel gesien nie. (Numeri 23:21,23). Maar toe hulle God se wet oortree het deur toe te gee aan versoeking, het hulle beskerming van hulle gewyk. Wanneer die volk van God aan Sy gebooie getrou is, is daar “...geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel...” nie. Daarom word al die mag en uitgeslape liste van Satan ingespan om hulle tot sonde te verlei. As diegene wat beweer dat hulle die bewaarders van God se wet is, sy bepalinge oortree, skei hulle hul van God en sal nie by magte wees om teen hulle vyande te staan nie. PeP 436.2

Die Israeliete wat nie deur die Midianiete se wapens of hulle besweringe oorrompel kon word nie, het hulle hoere ten prooi geval. Dit is die mag wat die vrou, wat in die diens van Satan staan om siele te verstrik en te vernietig, besit. “Baie is die gesneuweldes wat sy laat val het en talryk almal wat deur haar vermoor is.” (Spreuke 7:26). Dit is hoe die kinders van Set van eerbaarheid verlei is en die heilige saad verdorwe geword het. So is Josef versoek. So het Simson sy krag, die beskerming van Israel, in die hande van die Filistyne verraai. Dis hoe Dawid gestruikel het. Salomo, die wysste van konings, wat drie keer die geliefde van God genoem is, het ‘n slaaf van sy hartstogte geword en het sy eerbaarheid aan dieselfde betowerende krag opgeoffer. PeP 436.3

“Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1 Korinthiërs 10:11,12). Die Satan weet goed waarmee hy in die mensehart te doen het. Hy weet, want hy het duisende jare lank met duiwelse toegewydheid die PeP 436.4

swakhede van elke karakter bestudeer en deur die daaropvolgende geslagte, het hy gewerk om die sterkste mense, vorste van Israel, te oorrompel deur dieselfde versoekings as die wat by Baal-Peor so geslaagd was. Oral, regdeur die eeue, lê die wrakke van karakters wat op die rotse van sensuele toegewings gestrand het. Soos ons nader aan die einde van tyd kom, soos God se volk op die grens van die hemelse Kanaan staan, sal die Satan, soos van ouds, sy pogings verdubbel om hulle te verhoed om die goeie land binne te gaan. Hy stel sy strikke vir elke siel. Dis nie die onkundiges en ongekultiveerdes alleenlik wat beskerm moet word nie; hy sal sy versoekings vir diegene in die hoogste poste, in die mees heiligste ampte bewerkstellig. As hy hulle kan lei om hulle siele te besoedel, kan hy baie deur hulle vernietig. En Hy gebruik steeds dieselfde middele as drieduisend jaar gelede. Deur wêreldse vriendskappe, deur die bekoorlikheid van skoonheid, deur genotsug, vrolikheid, feestelikhede, of die wynbeker, versoek hy mense om die sewende gebod te oortree. PeP 437.1

Satan het Israel tot losbandigheid verlei voordat hy hulle na afgodery gelei het. Diegene wat God se beeld onteer en Sy tempel in hulle eie persone verontreinig, sal nie skroom om God op enige wyse te onteer om die begeerte van hulle verdorwe harte te bevredig nie. Sensuele toegewings verswak die verstand en verlaag die siel. Die sedelike en verstandelike vermoëns word afgestomp en verlam deur die bevrediging van dierlike begeertes; en dis onmoontlik vir die slaaf van hartstogte om die heilige verpligting van God se wet te besef, die versoening te waardeer, of die regte waarde aan die siel te heg. Goedheid, reinheid en waarheid, eerbied vir God en liefde vir heilige dinge al die heilige toegeneentheid en edele begeertes wat mense met die hemel verbind, word in die gloed van wellus verteer. Die siel raak ‘n uitgebrande en verlate woestyn, die woonplek van bose geeste en die “...versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls.” Wesens wat na die beeld van God geskape is, word tot die vlak van diere afgetrek. PeP 437.2

Dit was deur omgang met afgodedienaars en in hulle feeste te deel, wat die Hebreërs gelei is om God se wet te oortree en Sy heilige oordele oor die nasie te bring. So is dit ook tans, deur die volgelinge van Christus te lei om met die goddeloses om te gaan en aan hulle vermaak deel te neem, dat Satan die meeste PeP 437.3

sukses behaal om hulle tot sonde te verlei. “Gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie.” (2 Korinthiërs 6:17). God vereis tans net soveel onderskeid tussen Sy volk en die wêreld ten opsigte van gebruike, gewoontes en beginsels, as wat Hy vroeër van Israel vereis het. As hulle getrou die leringe van Sy Woord navolg, sal hierdie onderskeid voortbestaan; dit kan nie anders nie. Die waarskuwings wat aan die Hebreërs gegee was om nie gelykvormig met die heidene te wees nie, was nie meer direk of eksplisiet as dit wat Christene verbied om gelykvormig te word aan die gees en gebruike van die goddeloses nie. Christus praat met ons ons: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” (1 Johannes 2:15.) “Weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Jakobus 4:4). Die volgelinge van Christus moet hulle van sondaars afskei en slegs omgang met hulle hê wanneer daar ‘n geleentheid is om goed aan hulle te doen. Ons kan nie te versigtig wees omgang met diegene, wie se invloed ons van God wegtrek, te vermy nie. Terwyl ons bid: “Lei ons nie in versoeking nie...” moet ons die versoeking sover moontlik vermy. PeP 438.1

Dit was toe die Israeliete uiterlik op hulle gemak en veilig was dat hulle tot sonde verlei is. Hulle het God nie altyd voor oë gehou nie en hulle het nagelaat om te bid en het ‘n gees van selfvertroue gekoester. Gemak en selfbevrediging het die vesting van die siel onbewaak gelaat en afbrekende gedagtes het ingesluip. Dit was die verraaiers binne die mure wat die vestings van beginsels omvergegooi en Israel in die hande van die Satan verraai het. Satan poog steeds om langs hierdie weg beheer oor die siel te verkry. ‘n Lang proses van voorbereiding, waarvan die wêreld nie bewus is nie, vind in die hart plaas voordat die Christen openlik sonde begaan. Die gedagtes beweeg nie eensklaps van reinheid en heiligheid af na verdorwenheid, korrupsie en misdadigheid nie. Dit neem tyd om diegene wat na die beeld van God geskape is, tot die brutale of sataniese af te takel. Deur te aanskou, word ons verander. Deur toegewing aan onrein gedagtes, kan ‘n mens sy verstand so rig, PeP 438.2

dat die sonde wat hy eers verafsku het, vir hom aangenaam word. PeP 439.1

Die Satan maak van elke middel gebruik om misdadigheid en verlagende ondeug gewild te maak. Mens kan nêrens op straat in ons stede loop, sonder om flikkerende kennisgewings van misdaad wat in een of ander roman verskyn, te sien of wat in een of ander teater uitgevoer word nie. Die verstand word geleer om aan sonde gewoond te raak. Die optrede van die goddeloses, word in die tydskrifte van die dag voor mense gehou en alles wat hartstog kan laat opvlam word aan hulle in opwindende verhale gebied. Hulle lees en hoor soveel aangaande verlagende misdade, dat die eens gevoelige gewete wat met afsku van sulke tonele sou teruggedeins het, verhard word en hulle met gretige belangstelling daaroor mymer. PeP 439.2

Baie van die gewilde vermaak in die wêreld van vandag, selfs vir diegene wat beweer dat hulle Christene is, neig na dieselfde uiteinde as die van die heidene. Daar is werklik min tussen hulle wat Satan nie kan aanwend om siele te vernietig nie. Deur middel van die drama, werk hy al vir eeue om hartstogte te laat opvlam en onsedelikheid te verheerlik. Die opera, met sy bekoorlike vertoon en verwarrende musiek, die maskerade, die dans en die kaarttafel word deur Satan gebruik om die verskansings van beginsels af te breek en die weg tot sensuele toegewings oop te stel. In elke byeenkoms vir plesier waar hoogmoed gekoester of aan eetlus toegegee word, waar ‘n mens gelei word om van God te vergeet en ewige belange uit die oog te verloor, daar bind Satan sy kettings om die siel. PeP 439.3

Die wyse man se raad is: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” (Spreuke 4:23). “Soos ‘n mens in sy siel bereken, so is hy.” (Spreuke 23:7). Die hart moet deur die genade van God hernuwe word, of dit sal nodeloos wees om te strewe na die reinheid van die lewe. Hy wat daarna streef om ‘n edele, deugsame karakter, sonder die genade van Christus op te bou, bou sy huis op dryfsand. In die geweldige storms van versoeking sal dit sekerlik omvergewerp word. Dawid se gebed behoort die bede van elke siel te wees: “Skep vir my ‘n rein hart, O God en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.” (Psalm 51:12). En wanneer ons deelgenote van die hemelse gawe geword het, PeP 439.4

moet ons tot volmaaktheid oorgaan “...in die krag van God bewaar ... deur die geloof.'”(1 Petrus 1:5). PeP 440.1

Nogtans het ons ‘n taak om te verrig om versoeking te weerstaan. Wie nie ‘n prooi van Satan se lis wil word nie moet die toegang tot die siel deeglik bewaak; hulle moet vermy om dinge te lees, te sien of te hoor wat onrein gedagtes sal aanwakker. Mense moet hulle gedagtes nie na willekeur laat dwaal na elke onderwerp wat die vyand van siele mag voorstel nie. Die apostel Petrus sê: “Omgord die lendene van julle verstand, wees nugter ... julle [moet] nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word.” (1 Petrus 1:13-15). Paulus sê: “Alles wat waar is, alles wat eerbaar: is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is-watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Filippense 4:8). Dit sal voortdurende gebed en onophoudelike waaksaamheid vereis. Ons moet deur die inwonende invloed van die Heilige Gees bygestaan word, wat die verstand opwaarts sal rig en dit gewoond sal maak om rein en heilige dinge te bedink. Ons moet die Woord van God ywerig bestudeer. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U woord.” Die psalmdigter sê: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:9,11). PeP 440.2

Israel se sonde by Baal-Peor, het God se oordele oor die nasie gebring en hoewel dieselfde sondes nie tans so spoedig gestraf mag word nie, sal dit gewis vergeld word. “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend.” (1 Korinthiërs 3:17). Die natuur het swaar strawwe vir hierdie misdade opgelê, strawwe wat elke oortreder vroeër of later sal tref. Dit is hierdie sondes wat, meer as enige ander sonde, die vreesaanjaende ontaarding van ons mensdom en die las van siekte en ellende waarmee die wêreld vervloek is, veroorsaak het. Mense kan moontlik daarin slaag om hulle oortredinge van hulle medemense te verberg, maar hulle sal nietemin verseker die gevolge daarvan dra in lyding, siekte, swaksinnigheid of die dood. En na hierdie lewe kom die tribunaal van die oordeel, met die toekenning van ewige straf. “Die wat sulke dinge doen, [sal] die koninkryk van God nie ... beërwe nie...” maar hulle sal saam PeP 440.3

met die Satan en sy bose engele hulle deel hê in daardie “...poel van vuur...” wat “...die tweede dood...” is (Galasiërs 5:21; Openbaring 20:14). PeP 441.1

“Die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wildeals, soos ‘n swaard aan weerskante skerp.” (Spreuke 5:3,4). “Hou jou weg ver van haar af en kom nie naby die deur van haar huis nie, sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie; sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van ‘n uitlander kom nie en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is.” (Verse 8-11). “Haar huis sink weg na die dood. Almal wat by haar ingaan, kom nie terug nie.” (Spreuke 2:18,19). “Haar genooides is in die dieptes van die doderyk.” (Spreuke 9:18). PeP 441.2