Patriarge en Profete

42/75

Hoofstuk 40—Bileam

(Hierdie hoofstuk berus op Numeri 22 tot 24) PeP 418.1

Met hulle terugkeer na die Jordaan na die verowering van Basan, het die Israeliete, ter voorbereiding vir hulle onmiddellike inval in Kanaan, langs die rivier, bokant sy ingang na die Dooie See en reg oorkant die vlakte van Jerigo, kamp opgeslaan. Hulle was op die grens van Moab en die Moabiete was vreesbevange oor die nabyheid van die indringers. PeP 418.2

Die Moabiete is nie deur Israel gemolesteer nie, tog het hulle met onrustige voorgevoelens alles wat in die omliggende lande plaasgevind het dopgehou. Die Amoriete voor wie hulle verplig was om terug te val, is deur die Hebreërs verslaan en die grondgebied wat die Amoriete van die Moabiete afgeneem het, was nou in die besit van Israel. Die leërs van Basan het gewyk voor die geheimsinnige mag van die wolkkolom en die reuse vestings is deur die Hebreërs beset. Die Moabiete kon dit nie waag om hulle aan te val nie; om op wapens staat te maak was vergeefs in die aangesig van die bonatuurlike magte wat namens hulle gewerk het. Maar, soos Farao, het hulle besluit om die krag van die toorkuns in te span om die werk van God teë te werk. Hulle sou ‘n vloek oor Israel bring. PeP 418.3

Die Moabiete was in noue verbinding met die Midianiete, beide deur hulle burgerskap en hulle godsdiens. En Balak, die koning van die Moabiete, het die vrees van sy stamgenote aangevuur en hulle samewerking met sy planne teen Israel verkry met die boodskap: “Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ‘n bees die groenigheid van die veld opeet.” Bileam, ‘n inwoner van Mesopotamië, het volgens berigte oor bonatuurlike magte beskik en sy roem het die land Moab bereik. Daar is besluit om sy hulp in te roep. Gevolglik het die oudstes van Moab en die oudstes van Midian boodskappers gestuur om sy waarsêery en towerspreuke teen Israel te verkry. PeP 418.4

Die gesante het dadelik hulle lang reis oor die berge en deur woestyne na Mesopotamië begin en toe hulle Bileam opspoor, het hulle die boodskap van hulle koning afgelewer: “Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. Kom dan tog nou, PeP 418.5

vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.” PeP 419.1

Bileam was vantevore ‘n goeie mens en ‘n profeet van God; maar hy het afvallig geword en hom aan hebsug oorgegee. Hy het egter steeds beweer dat hy ‘n dienaar van die Allerhoogste was. Hy was nie onkundig aangaande God se werk namens Israel nie; en toe die boodskappers hulle opdrag bekend maak, het hy wel geweet dat dit sy plig was om die vergoeding van Balak te weier en die gesante weg te stuur. Maar hy het dit gewaag om met versoeking te dobbel en by die boodskappers aangedring om by hom te oornag, deur te verklaar dat hy hulle geen beslissende antwoord kan gee voordat hy die raad van die Here gevra het nie. Bileam het geweet dat sy vloek Israel nie skade kon aandoen nie. God was aan hulle kant en solank hulle aan Hom getrou was, kon geen vyandige mag op aarde of in die hel teen hulle staan nie. Maar die woorde van die gesante het sy hoogmoed gestreel. “Die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.” Die ryke beloning en die voorgenome verheffing het sy hebsug aangewakker. Hy het die aangebode skatte gretiglik aangeneem en toe, terwyl hy voorgee dat hy die wil van God stiptelik gehoorsaam, het hy probeer om aan Balak se begeertes te voldoen. PeP 419.2

In die nag het die engel van die Here na Bileam gekom met die boodskap: “Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.” PeP 419.3

In die oggend het Bileam die gesante teësinnig weggestuur, maar hy het hulle nie vertel wat die Here gesê het nie. Kwaad omdat sy uitsig op eer en eiegewin plotseling verlore was, het hy iesegrimmig verklaar: “Gaan na julle land, want die Here het geweier om my saam met julle te laat gaan.” PeP 419.4

Bileam “...het die loon van ongeregtigheid liefgehad.” (2 Petrus 2:15). Die sonde van gierigheid, waarvan God sê dat dit afgodediens is, het hom onbestendig gemaak en deur daardie een swakheid het Satan ten volle die oorhand oor hom gekry. Dit het sy ondergang veroorsaak. Die versoeker hou gedurig wêreldse gewin en eer aan mense voor om hulle van die diens van God weg te lok. Hy vertel hulle dat dit hulle oordadige PeP 419.5

pligsgetrouheid is wat hulle van voorspoed terughou. So word baie oorgehaal om af te dwaal van die pad van streng eerbaarheid. Een misstap maak die volgende een makliker en hulle raak meer en meer aanmatigend. Wanneer hulle eers aan die beheer van gierigheid en magsug oorgegee is sal hulle die mees verskriklike dinge waag en doen. Baie vlei hulleself dat hulle, ter wille van een of wêreldse gewin, tydelik van streng eerbaarheid kan afwyk en sodra hulle hul doel bereik het, na willekeur van koers verander. Sulke mense raak verstrengel in die Satan se strikke en dit is selde wat hulle daaruit kan ontsnap. PeP 420.1

Toe die boodskappers aan Balak vertel van die profeet se weiering om hulle te begelei, het hulle nie te kenne gegee dat God hom dit belet het nie. Met die veronderstelling dat Balak se vertraging slegs ‘n manier was om ‘n ryker beloning te verkry, het die koning vorste, meer in getal en meer eerbaar as die eerstes, met beloftes van hoër eerbewyse en gesag gestuur om toe te gee aan enige voorwaardes waarop Bileam mag aandring. Balak se dringende boodskap aan die profeet het gelui: “Laat jou tog nie terughou om na my te kom nie. Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen; daarom kom tog, vervloek hierdie volk vir my. ” PeP 420.2

Bileam is vir die tweede keer op die proef gestel. In antwoord op die versoeke van die gesante, het hy voorgegee dat hy baie pligsgetrou en eerbaar is en hulle verseker dat geen hoeveelheid goud of silwer hom kon oorhaal om teen die wil van God te handel nie. Maar hy wou baie graag aan die koning se versoek voldoen en hoewel die wil van God reeds baie duidelik aan hom bekend gemaak is, het hy die boodskappers oorreed om te vertoef sodat hy verder van God kan verneem; asof die Oneindige Een ‘n mens was wat oorreed kon word. PeP 420.3

In die nagwaak het die Here aan Bileam verskyn en gesê: “As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen.” Tot dusver het die Here Bileam toegelaat om sy eie kop te volg, omdat hy hom dit voorgeneem het. Hy was nie van plan om die wil van God te doen nie, maar het sy eie koers ingeslaan en toe gepoog om die goedkeuring van die Here te verkry. PeP 420.4

Daar is deesdae duisende wat dieselfde rigting inslaan. Indien dit in ooreenstemming met hulle neigings was, sou hulle PeP 420.5

geen probleem ervaar om te begryp wat hulle plig is nie. Dit word duidelik in die Bybel vir hulle uiteengesit of aangedui deur omstandighede en rede. Maar omdat hierdie bewyse teenstrydig met hulle begeertes en neigings is, stel hulle dit dikwels ter syde, terwyl hulle hulself aanmatig om van God te verneem wat hulle plig is. Met skynbare toegewyde pligsgetrouheid, bid hulle lank en ernstig om lig. Maar God laat nie met Hom speel nie. Hy laat sulke mense dikwels toe om hulle eie begeertes te volg en die gevolge te ly. “My volk het na my stem nie geluister nie ... Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.” (Psalm 81:12,13). Wanneer iemand duidelik besef wat sy plig is, moet hy hom nie aanmatig om na God te gaan met die bede dat hy daarvan vrygestel moet word nie. Hy moet liewer met ‘n nederige, onderdanige gees vir Goddelike krag en wysheid vra om die vereistes na te kom. PeP 421.1

Die Moabiete was ‘n vervalle, afgodiese volk, maar tog was hulle skuld in vergelyking met die lig wat hulle ontvang het, nie so groot in die oë van die Hemel soos die van Bileam nie. Omdat hy voorgegee het dat hy ‘n profeet van God was, was die verwagting dat alles wat hy sou sê, met die gesag van God gesê was. Gevolglik is hy nie toegelaat om te spreek soos hy wou nie, maar moes die boodskap wat God aan hom gegee het lewer. Die Goddelike bevel was: “Net wat Ek jou sê, dit moet jy doen.” PeP 421.2

Bileam het verlof gekry om saam met die gesante van Moab te gaan indien hulle hom in die oggend sou roep, maar, ontevrede oor die vertraging en omdat hulle verwag het dat hy weer sou weier, het hulle na hulle land vertrek sonder verdere oorleg met hom. Elke verskoning om aan Balak se versoek te voldoen, was dus uit die weg geruim. Maar Bileam was vasbeslote om die beloning te kry; en op die dier waarop hy gewoonlik gery het, het hy op die reis vertrek. Hy was bevrees dat God se toestemming selfs nou teruggetrek kan word en hy het gretiglik vorentoe gebeur, ongeduldig indien hy dalk op een of ander wyse nie die begeerde beloning sou verkry nie. PeP 421.3

Maar “...die Engel van die Here het gaan staan in die pad as sy teëparty.” Die dier het die boodskapper van God wat nie deur die man gewaar is nie, gesien en het van die grootpad in die veld afgedraai. Met wrede slae het Bileam die dier op die pad teruggedwing; maar by ‘n nou plek in die pad, deur mure omsluit, PeP 421.4

het die Engel weer verskyn en in haar poging om die dreigende wese te ontwyk, het die esel haar baas se voet teen die muur vasgedruk. Bileam was blind vir hierdie hemelse tussentrede en het nie geweet dat God sy weg versper het nie. Die man het kwaad geword en sy dier genadeloos geslaan en gedwing om verder te gaan. PeP 422.1

By “...'n nou plek, waar geen pad was om regs of links uit te draai nie...” het die Engel weer soos vantevore verskyn en dreigende gebare gemaak en die arme dier, vreesbevange en bewend, het tot stilstand gekom en onder die ruiter neergesak. Daar was geen perke aan Bileam se woede nie en hy het die dier nog wreder as voorheen met sy stok geslaan. Nou het God die dier se mond oopgemaak en “...die stom lasdier het met die stem van ‘n mens gepraat en die waansinnigheid van die profeet verhinder.” (2 Petrus 2:16). “Wat het ek jou gedoen...” het die dier gesê, “...dat jy my nou al drie maal geslaan het?” PeP 422.2

Woedend omdat sy reis so vertraag is, het Bileam die dier geantwoord asof hy ‘n intelligente wese aanspreek: “Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ‘n swaard in my hand dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.” Hier was ‘n beweerde towenaar, op pad om ‘n vloek oor ‘n hele nasie uit te spreek met die doel om hulle krag te verbreek, terwyl hy nie eers die mag gehad het om die dier waarop hy gery het dood te maak nie! PeP 422.3

Die oë van Bileam is nou geopen en hy het die Engel van die Here, wat met ‘n swaard in Sy hand gereed gestaan het om hom dood te maak, gesien. Vreesbevange het hy “...gebuig en op sy aangesig neergeval.'‘ Die Engel het aan hom gesê: “Waarom het jy jou esel nou al drie maal geslaan? Kyk, Ek self het uitgegaan as ‘n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog! Maar die esel het My gesien en het nou al drie maal voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie dan het Ek jou alte seker gedood en haar laat lewe.” PeP 422.4

Bileam was die behoud van sy lewe aan die arme dier wat hy so mishandel het verskuldig. Die man wat beweer het dat hy ‘n profeet van die Here was, wat beweer het dat sy oë oop was en dat hy “...die gesigte van die Allerhoogste...” gesien het, was so verblind deur sy gierigheid en eersug dat hy nie die Engel van God wat vir ‘n dier sigbaar was kon sien nie. Die god van hierdie wêreld verblind die sinne van die ongelowiges. (2 Korinthiërs 4:4). PeP 422.5

Hoe baie word so verblind! Hulle haas hulle op verbode paaie heen en oortree die Wet van God en kan nie insien dat God en Sy engele teen hulle is nie. Soos Bileam, is hulle kwaad vir diegene wat hulle van ondergang probeer red. PeP 423.1

Bileam het van die gees wat hom beheer het getuig deur die wyse waarop hy sy dier behandel het. “Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed.” (Spreuke 12:10). Min mense besef hoe sondig dit is om diere te mishandel, of om hulle weens verwaarlosing te laat ly. Hy wat die mens geskape het, het ook die diere geskape en “...Sy barmhartighede is oor al Sy werke.” (Psalm 145:9). Die diere is geskape om die mens te dien, maar hy het geen reg om hulle pyn aan te doen deur mishandeling of wrede eise nie. PeP 423.2

Dit is as gevolg van die mens se sonde dat “...die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is.” (Romeine 8:22). Dit het lyding en die dood behels, nie net vir die menseras nie, maar ook vir die diere. Sekerlik is dit dan gepas vir die mens om te strewe om die las van lyding, wat as gevolg van oortreding oor God se kreature gekom het te verlig, in stede van dit te vererger. Hy wat diere mishandel omdat hulle in sy mag is, is beide ‘n lafaard en ‘n tiran. ‘n Neiging om pyn vir mens of dier te veroorsaak, is satanies. Baie besef nie dat hulle wreedheid bekend sal word nie, want die arme stomme diere kan dit nie openbaar nie. Maar as die oë van daardie mense kon oopgaan, soos Bileam se oë oopgegaan het, sou hulle ‘n Engel van God as getuie sien bystaan om in die howe daarbo teen hulle te getuig. ‘n Verslag gaan op na die hemel en daar sal ‘n dag aanbreek wanneer ‘n vonnis oor diegene wat God se skepsels mishandel, uitgespreek sal word. PeP 423.3

Toe hy die Here se boodskapper sien, het Bileam vreesbevange uitgeroep: “Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan.” Die Here het hom toegelaat om sy reis verder voort te sit, maar Hy het hom laat verstaan dat sy woorde deur Goddelike Mag beheer sou word. God sou aan Moab bewys dat die Hebreërs deur die Hemel beskerm word en dit het Hy baie doeltreffend gedoen toe Hy aan hulle getoon het hoe magteloos Bileam was om selfs ‘n vloek oor hulle uit te spreek sonder die toestemming van God. PeP 423.4

Toe die koning van Moab verneem dat Bileam aankom, het hy met ‘n groot aanhang uitgegaan om hom op die grens van sy koninkryk te verwelkom. Toe hy sy verbasing oor Bileam se vertraging uitgespreek het, met in agneming van die ryke belonings wat op hom gewag het, was die profeet se antwoord: “Hier het ek na jou gekom. Is ek nou wel in staat om iets te spreek? Die woord wat God in my mond lê, dit sal ek spreek.” Bileam het sy beperking betreur; hy het gevrees dat hy nie sy voornemens sou kon uitvoer nie omdat die beherende krag van die Here op hom was. PeP 424.1

Met groot vertoon het die koning en sy vernaamste waardigheidsbekleërs Bileam na “...die hoogtes van Baal...” vergesel, van waar hy die vergadering van Israel kon sien. Aanskou die profeet waar hy op die hoogte staan en afkyk oor die kamp van God se uitverkore volk. Hoe min weet die Israeliete van wat hier naby hulle plaasvind! Hoe min weet hulle van die sorg van God wat dag en nag oor hulle uitreik! Hoe dof is die begrip van God se volk! Hoe traag is hulle, in elke eeu, om Sy groot liefde en genade te begryp! As hulle die wonderbaarlike mag wat God voortdurend om hulle onthalwe uitoefen kon onderskei, sou hulle harte dan nie met dankbaarheid gevul gewees het vir Sy liefde en met ontsag aan die gedagte van Sy majesteit en mag nie? PeP 424.2

Bileam het ‘n bietjie kennis gehad van die offerstelsel van die Hebreërs en hy het gehoop om, deur hulle te oortref in duursame geskenke, hy die seën van God sou verkry en die vervulling van sy sondige projekte verseker. Dis die mate waartoe die sienswyses van die Moabiete beheer oor sy gedagtes gekry het. Sy wysheid het dwaasheid geword; sy geestelike insig was beneweld; hy het blindheid oor homself gebring deur toe te gee aan die mag van Satan. PeP 424.3

Onder Bileam se opdrag is sewe altare opgerig en op elk het hy ‘n dier geoffer. Daarna het hy hom na “...“n kaal heuwel...” onttrek om God te ontmoet en het belowe om aan Balak alles wat die Here aan hom sou openbaar, bekend te maak. PeP 424.4

Die koning, saam met die adel en vorste van Moab het by die offer gestaan terwyl ‘n gretige skare rondom hulle vergader het en uitgekyk het vir die terugkoms van die profeet. Uiteindelik het hy gekom en die mense het gewag op die woorde wat vir ewig PeP 424.5

die vreemde krag, wat namens die Israeliete uitgeoefen word, sou verbreek.. Bileam het gesê: PeP 425.1

“Uit Aram laat Balak my haal, PeP 425.2

die koning van Moab uit die berge van die Ooste: PeP 425.3

Kom vervloek Jakob vir my, PeP 425.4

en kom, verwens Israel. PeP 425.5

Hoe sal ek vloek wie God nie vloek nie? PeP 425.6

En hoe sal ek verwens vir wie die Here nie verwens nie? PeP 425.7

Want van die top van die rotse af sien ek hom, PeP 425.8

en van die heuwels af aanskou ek hom. PeP 425.9

Kyk, “n volk wat afgesonderd woon PeP 425.10

en hom nie tot die nasies reken nie. PeP 425.11

Wie het die stof van Jakob getel? PeP 425.12

En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel? PeP 425.13

Laat my sterwe die dood van die opregtes, PeP 425.14

en laat my einde soos syne wees!” PeP 425.15

Bileam het erken dat hy gekom het met die doel om Israel te vervloek, maar die woorde wat hy geuiter het, was in direkte teenstelling met die gevoelens in sy hart. Hy was gedwing om seëninge uit te spreek, terwyl sy hele siel vol vloeke was. PeP 425.16

Soos Bileam oor die kamp van die Israeliete gekyk het, het hy met verbasing die bewyse van hulle voorspoed aanskou. Hulle is aan hom verteenwoordig as ‘n onbeleefde, ongeorganiseerde menigte, wat die land met hulle rondloper bendes, wat ‘n verpesting en skrikbewind vir die omliggende nasies was, infiltreer; maar wat hy aanskou het, was presies die teenoorgestelde. Hy het die groot omvang en volmaakte orde van hulle kamp gesien, wat alles van deeglike dissipline en orde getuig het. Hy het die guns wat God aan Israel getoon het en hulle kenmerkende aard as Sy uitverkore volk gesien. Hulle moes nie op gelyke voet met ander volke staan nie, maar moes bokant hulle almal verhef word, “...'n Volk wat afgesonderd woon en hom nie tot die nasies reken nie.” Toe hierdie woorde gespreek is, het die Israeliete geen vaste woonplek gehad nie en Bileam was nie bekend met hulle kenmerkende aard, hulle optredes of gewoontes nie. Maar hoe treffend is hierdie profesie in die opvolgende geskiedenis van Israel vervul! Deur al die jare van hulle ballingskap en deur al die jare sedert hulle onder die PeP 425.17

nasies verstrooi is, het hulle ‘n afsonderlike volk gebly. Ook so is die volk van God, die ware Israel, hoewel hulle onder die nasies verstrooi is, vreemdelinge op aarde, wie se burgerskap in die hemel is. PeP 426.1

Nie alleenlik is die geskiedenis van die Hebreeuse volk as ‘n nasie aan Bileam getoon nie, maar hy het die toename in voorspoed van die ware Israel van God tot aan die einde van tyd aanskou. Hy het die besondere guns van die Allerhoogste aan diegene wat Hom lief het en vrees gesien. Hy het gesien hoe Sy arm hulle ondersteun wanneer hulle die donker dal van doodskaduwee binnegaan. En hy het gesien hoe hulle uit hul grafte, bekroon met heerlikheid en eer en onsterflikheid uitkom. Hy het gesien hoe die verlostes hulle oor die onverwelklike heerlikhede van die nuwe aarde verheug. Terwyl hy die toneel aanskou het, het hy uitgeroep: “Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel?” En toe hy elkeen met die kroon van heerlikheid op sy hoof sien staan, met vreugde wat op elke gelaat skyn en vooruit gekyk het na daardie oneindige lewe van onvervalste geluk, het hy die plegtige gebed geuiter: “Laat my sterwe die dood van die opregtes en laat my einde soos syne wees!” PeP 426.2

Indien Bileam ‘n ingesteldheid gehad het om die lig wat God aan hom gegee het aan te neem, sou hy nou sy woorde waar gemaak het; hy sou onmiddellik alle verbindinge met Moab verbreek het. Hy sou homself nie langer die genade van God aangematig het nie, maar met diepe berou na Hom toe teruggekeer het. Maar Bileam het die loon van ongeregtigheid liefgehad en was vasbeslote om dit te verkry. PeP 426.3

Balak het vol vertroue gewag dat ‘n vloek soos ‘n skroeiende roes op Israel sou val en toe hy die profeet se woorde hoor, het hy driftig uitgeroep: “Wat het jy my aangedoen? Ek het jou laat haal om my vyande te vloek en kyk, jy het net geseën!” In ‘n poging om van ‘n nood ‘n deug te maak, het Bileam voorgegee dat hy uit agting vir God se wil die woorde gespreek het wat deur die krag van God uit sy lippe gedwing is. Hy het geantwoord: “Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat die Here in my mond lê nie?” PeP 426.4

Selfs toe kon Balak nie van sy voorneme afsien nie. Hy het gemeen dat die grootse vertoon van Israel se uitgestrekte laer PeP 426.5

Bileam in so ‘n mate geïntimideer het dat hy dit nie wou waag om sy besweringe teen hulle uit te spreek nie. Die koning het besluit om die profeet na ‘n plek te neem waar net ‘n klein gedeeltetjie van die menigte gesien kon word. As Bileam beweeg kon word om hulle stuksgewyse te vervloek, sou die hele laer binnekort aan vernietiging oorgelewer word. Op die kruin van ‘n hoogte wat Pisga heet, het hulle weer probeer. Weer is daar sewe altare opgerig en dieselfde offerdiere as voorheen is daarop gelê. Die koning en sy vorste het by die offers gebly terwyl Bileam hom afgesonder het om God te ontmoet. Weer het God ‘n boodskap, wat hy nie kon verander of verswyg nie, aan die profeet toevertrou. PeP 427.1

Toe hy by die bekommerde, afwagtende groep terugkom, vra hulle hom: “Wat het die Here gespreek?” Die antwoord, soos voorheen, het die harte van die koning en sy vorste met vrees gevul:: PeP 427.2

“God is geen man dat Hy sou lieg nie; PeP 427.3

Of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. PeP 427.4

Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, PeP 427.5

of spreek en dit nie waar maak nie? PeP 427.6

Kyk, ek het ontvang om te seën; PeP 427.7

en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie. PeP 427.8

“n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob PeP 427.9

en sien geen onheil in Israel nie. PeP 427.10

Die Here sy God is met hom PeP 427.11

en die gejubel tot eer van die Koning is by hom.” PeP 427.12

Verstom oor hierdie openbarings het Bileam uitgeroep: “Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie.” Die groot towenaar het sy towerkrag probeer aanwend volgens die begeertes van die Moabiete; maar aangaande hierdie selfde gebeurtenis, moet daar van Israel gesê word: “Wat het God gedoen!” Terwyl hulle onder die beskerming van God was, kon geen volk of nasie, alhoewel hulle deur die mag van Satan bygestaan was, Israel oorweldig nie. Die hele wêreld behoort verwonderd te wees oor die wonderbaarlike werk van God ten behoewe van Sy volk; dat ‘n man, vasbeslote om ‘n sondige weg te volg, so onder die beheer van Goddelike Mag was dat hy, in stede van vervloekinge, die rykste en mees PeP 427.13

kosbare beloftes, in ‘n taal van verhewe en passievolle poësie, uitgespreek het. En die guns van God wat gedurende hierdie tyd aan Israel geopenbaar is, moes dien as versekering van Sy beskermende sorg vir Sy gehoorsame, getroue kinders van alle ouderdomme. Wanneer die Satan bose mense inspireer om ‘n wanvoorstelling van God se volk te gee en hulle te teister en te vernietig, sal hulle hierdie selfde gebeurtenis onthou en sal dit hulle moed en geloof in God versterk. PeP 428.1

Die koning van Moab het, moedeloos en benoud, uitgeroep: “Jy moet hulle glad nie vloek nie en jy moet hulle glad nie seën nie.” Tog was daar egter nog ‘n flou glinstering van hoop in sy hart en hy het besluit om nog een keer te probeer. Hy het Bileam nou na die berg Peor geneem, waar ‘n tempel was wat aan die losbandige aanbidding van hulle afgod, Baal, gewy is. Hier is weer dieselfde aantal altare as voorheen opgerig en dieselfde aantal offers gebring; maar hierdie keer het Bileam nie soos voorheen alleen gegaan om die wil van God te verneem nie. Hy het geen voorwendsel van towery beoefen nie, maar het by die altare gestaan en oor die tente van Israel uitgekyk. Die Gees van God het weer op hom gerus en die Goddelike boodskap het oor sy lippe gekom: PeP 428.2

“Hoe mooi is jou tente, o Jakob, PeP 428.3

jou wonings, o Israel! PeP 428.4

Soos dale met waterlope, PeP 428.5

wat hulle ver uitstrek, PeP 428.6

soos tuine by “n rivier, PeP 428.7

soos alewees wat die Here geplant het, PeP 428.8

soos seders by die water. PeP 428.9

Water vloei uit sy emmers en sy saad is by baie waters. PeP 428.10

En laat sy koning hoër wees as Agag PeP 428.11

en sy koninkryk hom verhef!” PeP 428.12

“Hy buig hom, hy gaan lê soos “n leeu en soos “n leeuin: PeP 428.13

wie sal hom opjaag? PeP 428.14

Geseënd is hulle wat jou seen PeP 428.15

en vervloek is hulle wat jou vervloek! ” PeP 428.16

Die voorspoed van God se volk word hier deur van die treffendste beelde uit die natuur beskryf. Die profeet vergelyk PeP 428.17

Israel met vrugbare valleie wat met ryk oeste bedek is; met weelderige tuine wat deur nimmereindigende fonteine besproei word; met die welriekende alewee en die statige seder. Laasgenoemde beeld is een van die mees treffendste en gepaste wat in die ingegewe Woord gevind kan word. Die seder van Libanon is deur alle mense van die Ooste vereer. Hierdie boomsoort word oral waar mense hulle al op aarde begeef het, aangetref. Vanaf die Arktiese gebiede tot in die tropiese sone tref mens hulle aan, waar hulle in die hitte floreer en ook die koue trotseer. Hulle skiet hulle wortels diep tussen die rotse van die berge in en staan moediglik in weerwil van ‘n storm. Hulle blare is vars en groen wanneer al die ander deur die asem van die winter verdor het. Bo alle ander bome word die seder van die Libanon gekenmerk vir sy taaiheid, fermheid en onverwelklike lewenskrag; en dit word gebruik as ‘n simbool van diegene wie se lewe “...saam met Christus...” in God verborge is. (Kolossense 3:3). Die Skrif sê: “Die regverdige sal groei ... soos ‘n seder op die Libanon.” (Psalm 92:13). Die hand van God het die seder as koning oor die woud verhef. “Sipresse was nie soos sy takke nie en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk nie.” (Esegiël 31:8). Die seder dien herhaaldelik as embleem van koninklikes en die gebruik daarvan in die Skrif om die regverdiges te verteenwoordig, dui aan hoe die hemel diegene wat die wil van God doen, beskou. PeP 429.1

Bileam het geprofeteer dat Israel se Koning groter en magtiger as Agag sou wees. Dit was die naam wat aan die konings van die Amalekiete gegee is wat destyds ‘n baie magtige nasie was; maar indien Israel getrou aan God bly, sou hulle al hul vyande verslaan. Die Koning van Israel was die Seun van God; en Sy troon sou eendag op aarde gevestig word en Sy krag sou bo alle aardse koninkryke verhef word. PeP 429.2

Terwyl hy na die profeet se woorde geluister het, is Balak deur teleurgestelde hoop, met vrees en woede oorweldig. Hy was verontwaardig omdat Bileam hom selfs die geringste bemoediging vir ‘n gunstige uitslag gegee het, terwyl alles teen hom gedraai het. Hy het die profeet se swak, misleidende optrede geminag. Die koning het woedend uitgeroep: “Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer; maar kyk, die Here het jou van verering teruggehou.” Die PeP 429.3

antwoord was dat die koning vooraf gewaarsku was dat Bileam slegs die boodskap kon spreek wat deur God aan hom gegee is. PeP 430.1

Voordat hy na sy volk terug gekeer het, het Bileam die mooiste en mees verhewe profesie van die wêreld se Verlosser en die finale vernietiging van die vyande van God uitgespreek: PeP 430.2

“Ek sien Hom, maar nie nou nie, PeP 430.3

ek aanskou Hom, maar nie naby nie: PeP 430.4

“n ster kom te voorskyn uit Jakob PeP 430.5

en “n septer kom uit Israel op PeP 430.6

en Hy verbrysel die slape van die hoof van Moab PeP 430.7

en werp al die oorlogsugtiges omver. ” PeP 430.8

Hy het geëindig met ‘n voorspelling van die algehele verdelging van Moab en Edom, van Amalek en die Keniete, sodat daar vir die koning van Moab geen enkele ligstraaltjie oorgebly het nie. PeP 430.9

Teleurgestel in sy hoop op rykdom en bevordering, in onguns by die koning en bewus dat hy die misnoeë van God op die hals gehaal het, het Bileam van sy selfgekose sending teruggekeer. Nadat hy sy huis bereik het, het die beherende krag van die Heilige Gees hom verlaat en het sy hebsug, wat net in toom gehou was, die oorhand gekry. Hy was bereid om alles in werking te stel om die beloning wat Balak belowe het te verkry. Bileam het goed geweet dat Israel se voorspoed van hulle gehoorsaamheid aan God afgehang het en dat daar geen ander manier was om hulle te oorwin, as om hulle tot sonde te verlei nie. Hy het dus besluit om in die guns van Balak te kom deur die Moabiete raad te gee oor hoe hulle ‘n vloek oor Israel kon bring. PeP 430.10

Hy het onmiddellik na die land Moab teruggekeer en sy planne aan die koning voorgelê. Die Moabiete was self daarvan oortuig dat vir so lank as wat die Israeliete aan God getrou gebly het, Hy hulle Skild sou wees. Bileam se plan was om hulle van God te skei deur hulle tot afgodery te verlei. As hulle oorreed kon word om aan die losbandige aanbidding van Baal en Astarot deel te neem, sou hulle alomteenwoordige Beskermer hulle vyand word en sou hulle spoedig die wrede, oorlogsugtige nasies van die omgewing ten prooi val. Die plan is geredelik PeP 430.11

deur die koning aanvaar en Bileam het self gebly om te help om dit uit te voer. PeP 431.1

Bileam het die welslae van sy duiwelse plan aanskou. Hy het gesien dat die vloek van God Sy volk tref en dat duisende onder Sy oordeel val, maar die geregtigheid van God wat die sondaars in Israel gestraf het, het die verleiers nie toegelaat om vry te kom nie. In Israel se stryd teen die Midianiete het Bileam ook gesneuwel. Hy het ‘n voorgevoel gehad dat sy einde naby was toe hy uitgeroep het: “Laat my sterwe die dood van die opregtes en laat my einde soos syne wees!” Maar hy het gekies om nie die lewe van die opregtes te lei nie en sy lot is saam met die vyande van God bepaal. PeP 431.2

Die lot van Bileam kom ooreen met die van Judas en daar is ‘n merkbare ooreenkoms in hulle karakters. Albei hierdie manne het probeer om die diens van God en Mammon te verenig en albei het grootliks misluk. Bileam het die ware God erken en voorgegee om Hom te dien; Judas het geglo dat Jesus die Messias was en het by Sy volgelinge aangesluit. Maar Bileam het gehoop om die diens van Jehova as ‘n trap na rykdom en wêreldse eer te gebruik; en omdat hy nie hierin geslaag het nie, het hy gestruikel, geval en verbrokkel. Judas het verwag dat hy deur sy verhouding met Jesus rykdom en bevordering in ‘n wêreldse koninkryk wat, soos hy geglo het, die Messias binnekort sou oprig, sou verkry. Die mislukking van sy hoop het hom tot afvalligheid en ondergang gedryf. Beide Bileam en Judas het groot lig ontvang en besondere voorregte geniet, maar een gekoesterde sonde het hulle hele karakter vergiftig en hulle ondergang veroorsaak. PeP 431.3

Dis gevaarlik om toe te laat dat ‘n onchristelike neiging in die hart leef. Een gekoesterde sonde sal die karakter bietjie vir bietjie afkraak en alle edele vermoëns aan sondige begeerte onderwerp. Die wegdoen met een beskerming van die gewete, die toegee aan een sondige gewoonte, een versuim van die hoë eise van plig, breek die verdediging van die siel af en open die weg vir Satan om ons op ‘n dwaalspoor te lei. Die enigste veilige koers is om elke dag met ‘n opregte hart te bid soos Dawid gebid het: “Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels.” (Psalm 17:8). PeP 431.4