Patriarge en Profete
Hoofstuk 39—Die Verowering van Basan
(Hierdie hoofstuk berus op Deuteronomium 2;3:1-11) PeP 412.1
Nadat hulle om die suidpunt van Edom getrek het, het die Israeliete weer noordwaarts in die rigting van die Beloofde Land begin reis. Hulle pad het nou oor ‘n uitgestrekte hoë vlakte, met koel fris briese van die berge, gegaan. Dit was ‘n aangename verandering na die verskroeide vallei waardeur hulle gereis het en hulle het lewenslustig en vol hoop voortgegaan. Nadat hulle deur die spruit Sered getrek het, het hulle oos van die land Moab verbygetrek, want die bevel was: “Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ‘n besitting gegee het.” En dieselfde bevel is aangaande die Ammoniete gegee, want hulle was ook nakomelinge van Lot. PeP 412.2
Steeds aan die beweeg noordwaarts, het die menigtes van Israel spoedig die land van die Amoriete bereik. Hierdie sterk en oorlogsugtige volk het oorspronklik in die suide van Kanaan gewoon; maar hulle getalle het toegeneem en hulle het deur die Jordaan getrek, met die Moabiete oorlog gevoer en ‘n deel van hulle landgebied verower. Hulle het hulle daar gevestig en onbestrede oor die hele land van die Arnon tot by die Jabbok geheers. Die weg waarlangs die Israeliete na die Jordaan wou reis, het direk deur hierdie streek gegaan en Moses het ‘n vriendelike boodskap aan Sihon, die Amoritiese koning, in sy hoofstad gestuur: “Laat my deur jou land gaan; ek sal net padlangs trek; ek sal nie regs of links uitdraai nie. Voedsel moet jy my verkoop vir geld, dat ek kan eet; en water moet jy my gee vir geld, dat ek kan drink; laat my net te voet deurtrek.” Die antwoord was ‘n besliste weiering en die hele skare van die Amoriete is opgeroep om die vooruitgang van die indringers te stuit. Hierdie gedugte leër het die Israeliete, wat swak voorbereid was vir ‘n ontmoeting met goed gewapende en gedissiplineerde magte, met vrees vervul. Sover dit krygskuns aangaan, het hulle vyande die voordeel gehad. Uit ‘n menslike oogpunt beskou, sou hulle spoedig met Israel afreken. PeP 412.3
Maar Moses het sy oog op die wolkkolom gevestig en hy het die volk bemoedig met die gedagte dat die teken van God se teenwoordigheid steeds by hulle was. Terselfdertyd het hy hulle aangemoedig om alles wat menslik moontlik was, te doen om hulle vir ‘oorlog gereed te maak. Hulle vyande was gretig vir oorlog en vol vertroue dat hulle die onvoorbereide Israeliete uit die land sou uitdelg. Maar van die Besitter van alle lande is die mandaat aan die leier van Israel gegee: “Maak julle klaar, breek op en trek deur die Arnonrivier. Kyk, Ek gee Sihon, die koning van Hesbon, die Amoriet en sy land in jou hand; begin om in besit te neem en begeef jou in die oorlog teen hom. Vandag sal Ek begin om die skrik en die vrees vir jou op die volke onder die hele hemel te lê, sodat hulle, as hulle die tyding aangaande jou hoor, voor jou sal sidder en bewe van angs.” PeP 413.1
Hierdie nasies aan die grense van Kanaan sou gespaar gewees het as hulle nie die woord van God weerstaan het deur die vooruitgang van Israel teen te staan nie. Toe Abraham in ‘n gesig gewys is dat sy saad, die kinders van Israel, vir vierhonderd jaar vreemdelinge in ‘n vreemde land sou wees, het die Here aan hom die belofte gegee: “En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.” (Genesis 15:16). Hoewel die Amoriete afgodedienaars was wat hulle lewens weens hulle groot goddeloosheid verbeur het, het God hulle vierhonderd jaar lank gespaar om aan hulle onmiskenbare bewyse te gee dat Hy die enigste ware God, die Maker van die hemel en die aarde was. Hulle het geweet van al die wonderwerke waardeur Hy Israel uit Egipte gebring het. Daar is genoeg bewyse aan hulle gegee; hulle kon die waarheid geken het indien hulle gewillig was om weg te draai van hulle afgodery en losbandigheid. Maar hulle het die lig verwerp en aan hulle afgode vasgeklou. PeP 413.2
Toe die Here Sy volk ‘n tweede keer by die grens van Kanaan bring, het Hy Sy krag opnuut aan die heidense nasies geopenbaar. Hulle het gesien dat God saam met Israel was, deur die oorwinning oor koning Arad en die Kanaaniete en in die wonderwerk wat in werking gestel was om diegene wat besig was om van die byt van die slange te sterf, te red. Hoewel die Israeliete toegang deur die land van Edom geweier is en sodoende verplig was om die lang en moeilike ompad by die Rooi See te volg, het hulle, in al hulle swerftogte en kampering PeP 413.3
verby die land van Edom, Moab en Ammon, geen vyandskap betoon of skade aan die mense en hulle besittings veroorsaak nie. Toe hulle by die grense van die land van die Amoriete gekom het, het die Israeliete slegs verlof gevra om reguit deur die land te reis en belowe om dieselfde reëls, wat hulle in hulle omgang met ander nasies gegeld het, na te kom. Toe die koning van die Amoriete hierdie hoflike versoek geweier en uitdagend sy leër vir oorlog vergader het, was hulle beker van ongeregtigheid vol en God sou nou Sy krag gebruik om hulle omver te werp. PeP 414.1
Die Israeliete het deur die Arnonrivier getrek en teen die vyand opgetrek. ‘n Slag het plaasgevind waarin die leërs van Israel die oorwinning behaal het; en, deur die voordeel wat hulle geniet het op te volg, was hulle spoedig in besit van die land van die Amoriete. Dit was die Leërowerste van die Here se leërskare wat Sy volk se vyande verslaan het; en agt-en-dertig jaar vantevore sou Hy dieselfde gedoen het indien Israel Hom vertrou het. PeP 414.2
Vol hoop en moed het die leër van Israel gretiglik vorentoe gebeur en steeds noordwaarts in hulle reis, spoedig ‘n land bereik wat hulle moed en geloof in God deeglik sou toets. Voor hulle was die magtige en digbevolkte koninkryk van Basan, oorvol van groot stede van klip, wat tot vandag toe nog die bewondering van die wêreld afdwing “...sestig stede met hoë mure, poorte en grendels, behalwe ‘n groot menigte onbemuurde stede.” (Deuteronomium 3:1-11). Die huise was van groot swart klippe gebou, so ontsaglik groot dat dit ondeurdringbaar vir enige mag was wat destyds teen hulle sou wou optrek. Dit was ‘n land gevul met spelonke, hoë kranse, gapende klowe en rotsvestings. Die inwoners van die land, nakomelinge van ‘n ras van reuse, was self verbasend groot en sterk en was so bekend vir hulle geweld en wreedheid, dat hulle die skrik van al die omliggende nasies was; en Og, die koning van die land, het selfs in ‘n nasie van reuse, uitgestaan vir sy grootte en vaardigheid. PeP 414.3
Maar die wolkkolom het voortbeweeg en die Hebreërs wat Sy leiding gevolg het, het tot by Edreï gevorder, waar die reuse-koning met sy magte hulle aankoms ingewag het. Og het sy slagveld goed gekies. Die stad Edreï was op die rand van ‘n PeP 414.4
tafelland wat skielik uit die vlakte verrys het en met ruwe vulkaniese rotse besaai was. Dit kon alleen deur nou, steil en moeilik begaanbare paaie bereik word. Ingeval van ‘n nederlaag, kon hulle tussen die rotse skuil en sou dit onmoontlik vir vreemdelinge wees om hulle te volg. PeP 415.1
Verseker van sy sukses, het die koning met ‘n enorme leër op die oop vlakte gekom, terwyl oorlogskrete van die tafelland daarbo gehoor kon word, waar die swaarde van duisende, gretig vir die geveg, gesien kon word. Toe die Hebreërs die reus der reuse aan die spits van sy leër sien uittroon en toe hulle die leër sien wat hom omring en die skynbaar oninneembare vestings aanskou waaragter nog onsigbare duisende geskuil het, het die harte van baie in Israel van vrees gebewe. Maar Moses was kalm en ferm. Aangaande die koning van Basan het die Here gesê: “Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek gee hom en sy hele volk en sy land in jou hand; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.” PeP 415.2
Hulle leier se kalme geloof het die volk met vertroue in God besiel. Hulle het alles aan Sy almagtige arm toevertrou en Hy het hulle nie in die steek gelaat nie. Geen reuse of ommuurde stede, gewapende magte of rotsvestings kon voor die Leërowerste van die Here staan nie. Die Here het die leër aangevoer; die Here het die vyand verslaan; die Here het vir Israel die oorwinning behaal. Die reuse koning en sy leër is verslaan en die Israeliete het spoedig die hele land in besit geneem. So is daardie vreemde volk wat hulle aan sonde en afskuwelike afgodery oorgegee het, van die aarde uitgewis. PeP 415.3
In die verowering van Gilead en Basan was daar baie wat teruggedink het aan die gebeurtenisse te Kades van byna veertig jaar tevore, wat Israel verdoem het om lank in die woestyn rond te swerf. Hulle het gesien dat die verkenners se verslag aangaande die Beloofde Land in baie opsigte korrek was. Die stede was ommuur en baie groot en is deur reuse bewoon en in vergelyking met hulle, was die Hebreërs dwergies. Maar nou het hulle ingesien dat hulle vaders se dodelike fout , ‘n gebrek aan vertroue in God was. Alleenlik dit, het hulle verhoed om in die mooi land in te gaan. PeP 415.4
Toe hulle hulle die eerste keer gereed gemaak het om die land in te neem, was die onderneming baie minder moeite as nou. God het beloof dat indien Sy volk Sy stem gehoorsaam Hy voor hulle uit sou trek en namens hulle sou veg; en Hy sou ook perdebye stuur om die inwoners van die land uit te dryf. Die vrees van die volke was in die algemeen nog nie aangewakker nie en min voorbereiding is getref om hulle teen te staan. Maar toe die Here Israel hierdie keer beveel het om op te trek, moes hulle teen bedugte en magtige vyande optrek en teen groot en goedopgeleide leërs veg, wat deeglik voorberei was om hulle aanval af te weer. PeP 416.1
In hulle stryd teen Og en Sihon is die volk onder dieselfde toets geplaas waarin hulle vaders so daadwerklik misluk het. Maar die beproewing was nou baie hewiger as toe God Israel beveel het om voort te beweeg. Die probleme op hulle pad het grootliks vermeerder vandat hulle geweier het om, toe hulle so beveel was, in die Naam van die Here voort te beweeg. So beproef God steeds Sy volk. En as hulle die beproewing nie deurstaan nie, bring Hy hulle weer na dieselfde punt terug en die tweede keer sal die beproewing meer intens en meer ernstig as die vorige wees. So is daarmee volgehou totdat hulle die beproewing verduur, of, indien hulle steeds opstandig was, God Sy lig van hulle onttrek en hulle in duisternis gelaat het. PeP 416.2
Nou het die Hebreërs onthou hoe eenkeer vantevore, hulle in ‘n stryd verslaan is en hoe duisende gesterf het. Maar toe het hulle direk teen God se bevel gegaan. Hulle het sonder Moses, die leier wat God aangestel het, uitgetrek sonder die wolkkolom, die simbool van die Teenwoordigheid van God en sonder die verbondsark. Maar nou was Moses by hulle om hulle harte met woorde van hoop en geloof te bemoedig; die Seun van God, versluier in die wolkkolom, het die pad aangewys; en die heilige verbondsark het die vergadering vergesel. Hierdie ondervinding bevat ‘n les vir ons. Die magtige God van Israel is ons God. Ons kan op Hom vertrou en as ons Sy voorskrifte nakom, sal Hy net so daadwerklik vir ons werk as wat Hy vir Sy volk van ouds gewerk het. Elkeen wat strewe om die weg van plig te bewandel, sal soms deur twyfel en ongeloof oorval word. Die weg sal soms tot so ‘n mate deur hinderlae wat onbegaanbaar skyn te wees versper word, dat dit diegene wat toegee aan ontmoediging, mismoedig sal maak; maar God sê aan hulle: Gaan voort. Doen PeP 416.3
julle plig ten alle koste! Die moeilikhede wat so onoorkomelik skyn te wees, wat jou siel met vrees vervul, sal verdwyn wanneer jy op die weg van gehoorsaamheid voortbeweeg en nederig op God vertrou. PeP 417.1