Patriarge en Profete

40/75

Hoofstuk 38—Die Reis om Edom

(Hierdie hoofstuk berus op Numeri 20:14-29; 21:1-9) PeP 400.1

Die laer van Israel by Kades was net ‘n kort entjie van die grense van Edom en beide Moses en die volk het grootliks begeer om deur daardie land na die Beloofde Land te reis; gevolglik het hulle, soos God beveel het, ‘n boodskap aan die koning van Edom gestuur: PeP 400.2

“So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het. Ons vaders het na Egipte afgetrek en ons het baie dae in Egipte gewoon en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel. Toe het ons die Here aangeroep en Hy het ons stem gehoor: Hy het ‘n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, ‘n stad op die grens van jou grondgebied. Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het. ” PeP 400.3

Op hierdie hoflike versoek het hulle ‘n dreigende weiering terug ontvang: “Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoet trek.” PeP 400.4

Verbaas oor hierdie weiering het die leiers van Israel ‘n tweede versoek gestuur met die belofte: “Ons sal met die grootpad trek en as ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te voet deurtrek verder niks nie.” PeP 400.5

Die antwoord was: “Jy sal nie deurtrek nie.” Groepe gewapende Edomiete was reeds by die moeilike passe gestasioneer, sodat enige vreedsame optog in daardie rigting onmoontlik was en die Hebreërs is belet om geweld te gebruik. Hulle moes die lang tog om Edom aanpak. PeP 400.6

Indien die volk tydens hulle beproewing op God vertrou het, sou die Leërowerste van die Here hulle deur Edom gelei het en vrees vir hulle sou oor die bewoners van die land gekom het sodat, in stede van vyandskap te openbaar, hulle aan hulle guns sou bewys het. Maar die Israeliete het nie onmiddellik op God se bevel gereageer nie en terwyl hulle gekla en gemurmureer PeP 400.7

het, het die gulde geleentheid verbygegaan. Toe hulle uiteindelik gereed was om hulle versoek aan die koning voor te lê, is dit geweier. Vandat hulle uit Egipte weggetrek het, was Satan voortdurend aan die werk om hinderlae en versoekings oor hulle pad te bring, sodat hulle Kanaan nie kon beërwe nie. En deur hulle eie ongeloof het hulle die deur herhaaldelik vir hom oopgemaak om die planne van God te teë te werk. PeP 401.1

Dis belangrik om God se woord te glo en onmiddellik, terwyl Sy engele wag om vir ons te werk, daarop te reageer. Bose engele staan gereed om elke voorwaartse stap teë te gaan. En as God se voorsienigheid Sy kinders beveel om voort te gaan, wanneer Hy gereed is om groot dinge vir hulle te doen, dan verlei die Satan hulle om die Here, deur huiwering en vertraging, te mishaag; hy strewe om ‘n gees van onmin of ontevredenheid aan te wakker en hulle sodoende van die seëninge wat God begeer het om aan hulle te skenk, te ontneem. Die diensknegte van God moet altyd minuut-mense wees om so vinnig as wat Sy voorsienigheid die weg open, op te tree. Enige huiwering van hulle kant af, skenk aan die Satan die tyd om hulle neerlaag te bewerkstellig. PeP 401.2

In die bevele wat Moses eerste ontvang het in verband met hulle deurtog deur Edom, het die Here, nadat Hy verklaar het dat die Edomiete bang vir hulle sou wees, Sy volk belet om hierdie voordeel teen hulle te gebruik. Omdat die krag van God aan Israel se kant was en die vrese van die Edomiete van hulle ‘n maklike prooi sou maak, moes die Hebreërs hulle nie vir daardie rede uitbuit nie. Die bevel wat aan hulle gegee is, was: “Pas dan goed op; begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee (Deuteronomium 2:4,5). Die Edomiete was afstammelinge van Abraham en Isak en om die ontwil van hierdie diensknegte van Hom het God die kinders van Esau begunstig. Hy het die gebergte van Seïr as besitting aan hulle gegee en hulle moes nie gesteur word, tensy hulle, deur hulle sonde, hulleself buite die bereik van Sy genade sou plaas nie. Die Hebreërs moes die bewoners van Kanaan, wat die maat van hulle ongeregtigheid gevul het, onteien en totaal vernietig, maar die Edomiete was nog in hulle proeftydperk en moes as sulks, genadiglik behandel word. God verlustig Hom in genade en Hy openbaar Sy deernis PeP 401.3

voordat Hy Sy oordele vel. Hy leer Israel om die Edomiete te spaar voordat Hy hulle beveel om die bewoners van Kanaan te vernietig. PeP 402.1

Die voorouers van Israel en Edom was broers en daar behoort broederlike toegeneentheid en hoflikheid tussen hulle te wees. Die Israeliete is belet om op daardie stadium of enige ander tyd in die toekoms, wraak te neem vir die belediging wat hulle aangedoen is in die weiering om hulle deur die land te laat trek. Hulle moes nie die verwagting koester dat hulle enige deel van die land Edom in besit sou neem nie. Terwyl die Israeliete die uitverkore en begunstigde volk van God was, moes hulle ag slaan op die beperkinge wat Hy op hulle geplaas het. God het hulle ‘n goeie erfnis beloof; maar hulle moes nie onder die indruk verkeer dat hulle die alleenreg op die aarde het en daarna strewe om alle andere te verdring nie. Hulle is beveel om in al hulle omgang daarteen te waak om hulle onreg aan te doen. Hulle moes met hulle handel dryf, die nodige aankoop en dadelik betaal vir wat hulle ontvang het. Om Israel aan te moedig om op God te vertrou en Sy woord te gehoorsaam, is hulle herinner: “Die Here jou God het jou geseën ... geen ding het jou ontbreek nie.” (Deuteronomium 2:7). Hulle was nie van die Edomiete afhanklik nie, want hulle God was ryk aan hulpbronne. Hulle moes nie deur geweld of bedrog poog om enigiets wat aan hulle behoort, af te neem nie; maar in al hulle omgang moes hulle ‘n toonbeeld wees van die beginsel van God se wet: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” PeP 402.2

As hulle op hierdie wyse, soos dit God se bedoeling was, deur Edom gegaan het, sou hulle deurtog nie net vir hulle nie, maar ook vir die bewoners van die land ‘n seën gewees het; want dit sou aan hulle die geleentheid gegee het om met God se volk en Sy aanbidding bekend te raak en te sien hoe die God van Jakob diegene wat Hom liefhet en vrees, voorspoedig gemaak het. Maar Israel se ongeloof het dit alles verhoed. God het aan die mense, in antwoord op hulle geroep, water gegee, maar Hy het toegelaat dat ongeloof sy eie straf bewerk. Hulle moes weer deur die woestyn trek en hulle dors uit die wonderbaarlike fontein les, waaraan hulle, indien hulle Hom net vertrou het, geen verdere behoefte sou gehad het nie. PeP 402.3

Gevolglik het die menigtes van Israel weer na die suide getrek en deur die onvrugbare woestyn gereis, wat nog meer PeP 402.4

somber gelyk het ná hulle blik op die groen kolle tussen die berge van Edom. Vanuit die bergreeks wat oor hierdie sombere woestyn uitgekyk het, styg die berg Hor, waar Aaron op die spits daarvan sou sterf en begrawe word. Toe die Israeliete by hierdie berg aankom, is die Goddelike bevel tot Moses gerig: PeP 403.1

“Neem Aaron en sy seun Eleasar en laat hulle op die berg Hor opklim; en trek Aaron se klere uit en trek dit sy seun Eleasar aan; en Aaron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe. ” PeP 403.2

Saam het hierdie twee bejaarde manne en die jonger man die berg bestyg. Moses en Aaron se hare was wit met die sneeu, van honderd-en-twintig winters. Hulle lang en gebeurtenisvolle lewens is gekenmerk deur die diepste beproewings en die grootste eer wat ooit die lot van ‘n mens te beurt geval het. Hulle was manne met groot natuurlike begaafdhede en al hulle talente is ontwikkel, veredel en met waardigheid deur gemeenskap met die Oneindige, bekroon. Hulle het hulle lewens in onselfsugtige diens vir God en hulle medemense deurgebring; hulle gelaat het van groot verstandelike vermoëns, vasberadenheid, edele doelstellings en sterk toe geneenthede getuig. PeP 403.3

Vir baie jare het Moses en Aaron sy-aan-sy in hulle sorge en arbeid gestaan. Saam het hulle tallose gevare getrotseer en besondere seëninge van God geniet; maar die tyd het aangebreek dat hulle moes skei. Hulle het baie stadig voortbeweeg, want elke oomblik in mekaar se geselskap was kosbaar. Die klim was steil en moeisaam; en dikwels wanneer hulle gerus het, het hulle oor die verlede en oor die toekoms gepraat. So ver as wat die oog kon sien, het die toneel van hulle omswerwinge in die woestyn voor hulle uitgestrek. Op die vlakte onder hulle was die laer van die vergadering van Israel in wie se diens hierdie gekose manne die grootste gedeelte van hulle lewens deurgebring het; vir wie se welsyn hulle so diep belangstelling gehad het en so baie opgeoffer het. Êrens agter die berge van Edom was die pad na die Beloofde Land, die seëninge van die land waarvan Moses en Aaron nie sou geniet nie. Daar was geen opstandigheid in hulle harte nie, geen uiting van murmurering het oor hulle lippe gekom nie; nogtans was daar ‘n sombere droefheid op hulle gelaat toe hulle onthou wat PeP 403.4

dit was wat hulle belet het om die erfnis van hulle vaders te ontvang. PeP 404.1

Aaron se werk vir Israel was afgehandel. Veertig jaar tevore, toe hy drie-en-tagtig jaar oud was, het God hom geroep om hierdie groot en belangrike sending saam met Moses aan te pak. Hy het saam met sy broer gewerk om die Israeliete uit Egipte uit te lei. Hy het die groot leier se hande omhoog gehou toe die Hebreërs teen Amalek geveg het. Hy is toegelaat om Sinai op te klim, om in die teenwoordigheid van God te kom en Sy heerlikheid te aanskou. Die Here het die priesterskap aan Aaron se huisgesin opgedra en hom met die heilige inwyding van hoëpriester vereer. Hy het hom in die heilige amp bevestig deur die vreesagtige openbaring van die oordeel van God in die vernietiging van Korag en sy bondgenote. Dit was deur die bemiddeling van Aaron dat die plaag gekeer is. Toe sy twee seuns gedood is omdat hulle God se uitdruklike bevel verontagsaam het, het hy nie opstandig geword of gekla nie. Nogtans is die rekord van sy edele lewe geskend. Aaron het ‘n ernstige sonde begaan toe hy aan die eise van die volk toegegee en by Sinai ‘n goue kalf gemaak het; en weer toe hy saam met Mirjam, jaloers op Moses was en teen hom gemurmureer het. En saam met Moses, het Hy die Here by Kades te na gekom toe hulle nie die Here se bevel om die rots aan te spreek sodat dit water sou gee, gehoorsaam het nie. PeP 404.2

Dit was God se bedoeling dat hierdie groot leiers van Sy volk verteenwoordigers van Christus moes wees. Aaron het die name van Israel op sy bors gedra. Hy het die wil van God aan die volk oorgedra. Op die Versoendag het hy, “...nie sonder bloed nie...”, as middelaar vir Israel in die allerheiligste plek ingegaan. Daarna het hy weer na buite gekom om die vergadering te seën, soos wat Christus sal uitkom om Sy wagtende volk te seën wanneer Sy versoeningswerk vir hulle voleindig is. Dit was die aard van daardie verhewe amp as verteenwoordiger van ons Hoëpriester wat Aaron se sonde te Kades so groot gemaak het. PeP 404.3

Diep bedroef het Moses die heilige gewaad van Aaron uitgetrek en dit vir Eleasar aangetrek, wat nou, deur Goddelike aanstelling, sy opvolger geword het. Weens sy sonde te Kades is Aaron die voorreg ontsê om in Kanaan as hoëpriester van God te dien-om die eerste offer in die mooi land te offer en so PeP 404.4

Israel se erfnis in te wy. Moses moes voortgaan om sy las te dra en die mense na die grense van Kanaan te lei. Hy sou binne sig van die Beloofde Land kom, maar kon nie daar ingaan nie. Indien hierdie dienaars van God, toe hulle by die rots by Kades gestaan het, die toets wat aan hulle gestel is geslaag het en sonder klagte verduur het, hoe anders sou hulle toekoms nie gewees het nie! ‘n Verkeerde daad kan nooit ongedaan gemaak word nie. Dit mag wees dat die werk van ‘n leeftyd nie kan herwin wat in een oomblik van versoeking en onbedagsaamheid verlore gegaan het nie. PeP 405.1

Die afwesigheid uit die kamp van die twee groot leiers en die feit dat hulle vergesel was van Eleasar en dat die mense geweet het dat hy Aaron in die heilige amp sou opvolg, het die volk onrustig gestem en hulle het bekommerd op hulle terugkoms gewag. Soos die mense om hulle oor die groot vergadering gekyk het, het hulle opgelet dat byna al die volwassenes wat Egipte verlaat het, in die woestyn omgekom het. Almal het ‘n voorgevoel van onheil gehad toe hulle onthou het van die vonnis wat oor Moses en Aaron uitgespreek is. Sommige was bewus van die doel van daardie geheimsinnige tog na die kruin van die berg Hor en hulle besorgdheid vir hulle leiers is verhoog deur bittere herinneringe en selfverwyt. PeP 405.2

Uiteindelik kon die buitelyne van Moses en Eleasar, wat stadig die berg afgekom het onderskei word, maar Aaron was nie tussen hulle nie. Eleasar het die priesterlike gewaad gedra as teken dat hy sy vader in die heilige amp opgevolg het. Toe die volk met beswaarde gemoed rondom hulle leier saamdrom, het Moses aan hulle gesê dat Aaron op die berg Hor in sy arms gesterf het en dat hulle hom daar begrawe het. Hierop het die vergadering begin ween en rouklaag, want hulle het Aaron liefgehad, al het hulle hom so dikwels bedroef. “En toe ... het die hele huis van Israel Aaron beween dertig dae lank. ” PeP 405.3

Aangaande die begrafnis van Israel se hoëpriester sê die Skrifte net: “Daar het Aaron gesterwe en daar is hy begrawe.” (Deuteronomium 10:6). Wat se treffende kontras is daar nie tussen die hedendaagse gebruik en hierdie begrafnis, wat volgens die uitdruklike bevel van God uitgevoer is nie. In hierdie moderne tye word die begrafnis van mense met hoë aansien in ‘n spoggerige en buitensporige geleentheid omskep. Toe Aaron, een van die roemrykste manne wat ooit geleef het, oorlede is, PeP 405.4

was daar net twee van sy intiemste vriende by om sy dood te aanskou en hom te begrawe. En daardie eensame graf op die berg Hor is vir ewig vir die aangesig van Israel verberg. God word nie vereer deur die groot ophef wat so dikwels oor oorledenes gemaak word en die onnodige koste wat aangegaan word om hulle liggame ter aarde te bestel nie. PeP 406.1

Die hele vergadering het oor Aaron gerou, maar het die verlies nie so diep soos Moses ervaar nie. Aaron se dood het Moses noodwendig daaraan herinner dat sy eie einde naby was; maar hoe kort sy verblyf op aarde ook was, het hy die verlies van sy konstante metgesel diep ervaar-die een wat vir soveel jare in sy lief en leed, sy hoop en sy vrese gedeel het. Nou moes Moses die werk alleen voortsit; maar hy het geweet dat God sy vriend was en hy het swaarder op Hom geleun. PeP 406.2

Kort nadat die Israeliete van die berg Hor weggetrek het, is hulle in ‘n geveg met Arad, een van die Kanaanitiese konings, verslaan. Maar nadat hulle die Here ernstig om hulp gevra het, is Goddelike hulp aan hulle verleen en hulle vyande het op die vlug geslaan. Hierdie oorwinning, in stede dat dit die mense tot dankbaarheid gelei het en om hulle afhanklikheid van God te besef, het dit hulle aanmatigend en selfvoldaan gemaak. Hulle het oudergewoonte weer begin kla. Hulle was nou ontevrede omdat die leër van die Israeliete nie toegelaat was om, onmiddellik na die rebellie oor die verslag van die spioene byna veertig jaar gelede, na Kanaan op te mars nie. Hulle het hulle omswerwinge in die woestyn as ‘n onnodige vertraging verklaar en aangevoer dat hulle hul vyande net so maklik kon oorwin soos wat hulle so pas kon gedoen het. PeP 406.3

Soos hulle verder na die suide gereis het, het hulle roete deur ‘n warm, sanderige vallei gegaan, sonder skaduwee of plantegroei. Die pad het lank en moeilik gelyk en hulle was uitgeput en dors. Hulle het weer misluk om die toets van hulle geloof en geduld te deurstaan. Deur voortdurend te tob oor die donker sy van hulle ervarings, het hulle hulself verder en verder van God geskei. Hulle het uit die oog verloor dat, as dit nie vir hulle murmureringe was toe die water by Kades opgedroog het nie, hulle die reis om Edom gespaar sou gewees het. God het beter dinge vir hulle beplan. Hulle harte moes eintlik met dankbaarheid teenoor Hom gevul gewees het, omdat Hy hulle PeP 406.4

sonde so lig gestraf het. Maar, in stede hiervan, het hulle hulself gevlei dat, indien God en Moses nie ingemeng het nie, hulle nou in besit van die Beloofde Land sou gewees het. Nadat hulle vir hulleself probleme op die hals gehaal en hulle lot baie moeiliker gemaak het as wat God beplan het, het hulle al hulle terugslae op Hom gelê. So het hulle bitter gedagtes aangaande Sy optrede teenoor hulle gekoester en uiteindelik was hulle met alles ontevrede. Egipte het vir hulle beter en meer begeerlik, as die vryheid in die land waarheen God hulle gelei het, gelyk. PeP 407.1

Namate die Israeliete hierdie gees van ontevredenheid gekoester het, was hulle geneig om selfs fout met hulle seëninge te vind. “En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie en ons siel walg van die ellendige kos.” PeP 407.2

Moses het die volk getrou op hulle groot sonde gewys. Dit was alleenlik die krag van God wat hulle bewaar het “...deur die groot en vreeslike woestyn ... deur giftige slange en skerpioene en ‘n dorsland sonder water.” (Deuteronomium 8:15). Elke dag van hulle reis is hulle deur ‘n wonderwerk deur die genade van God bewaar. Oral waar God hulle gelei het, het hulle water gevind om die dorstiges te verkwik, brood uit die hemel om hulle honger te stil en vrede en veiligheid onder die skaduwee van die wolkkolom bedags en onder die vuurkolom snags. Engele het hulle gedien terwyl hulle die rotsagtige hoogtes uitgeklim of op die ruwe paaie van die woestyn gereis het. Nieteenstaande die ontberings wat hulle ervaar het, was daar nie een onder hulle geledere wat verswak was nie. Hulle voete het nie gedurende hulle lang reise opgeswel nie en hulle klere het nie verslyt nie. God het die wilde roofdiere en die giftige slange van die woud en die woestyn voor hulle onderwerp. Indien die volk steeds, na al hierdie tekens van Sy liefde sou kla, sou die Here Sy beskerming onttrek totdat hulle gelei kon word om Sy genadige sorg te waardeer en met berou en nederigheid na Hom terug te draai. PeP 407.3

Omdat hulle deur die krag van God beskerm was, het hulle geen besef van die tallose gevare waarmee hulle voortdurend omring was, gehad nie. In hulle ondankbaarheid en ongeloof het hulle die dood verwag en nou het die Here toegelaat dat die PeP 407.4

dood hulle oorval. Die giftige slange wat in die woestyn gewemel het, is vurige slange genoem as gevolg van die vreesaanjaende effek wat deur hulle byt veroorsaak is, wat geweldige ontsteking en ‘n spoedige dood meegebring het. Toe God Sy beskermende hand van Israel onttrek, is groot getalle mense deur hierdie giftige kreature aangeval. PeP 408.1

Daar was nou vrees en verwarring regdeur die kamp. In byna elke tent was iemand sterwend of dood. Niemand was veilig nie. Dikwels is die stilte van die nag verstoor deur deurdringende krete wat nuwe slagoffers aangekondig het. Almal was besig om die lydendes te versorg of met pynlike sorgsaamheid diegene te beskerm wat nog nie gebyt is nie. Geen murmureringe het meer oor hulle lippe gekom nie. In vergelyking met hulle huidige lyding was hulle vorige probleme en beproewings nie ‘n gedagte werd nie. PeP 408.2

Die volk het hulle nou voor God verneder. Hulle het met hulle belydenisse en versoeke na Moses gekom. “Ons het gesondig...” het hulle gesê, “...dat ons teen die Here en teen u gespreek het.” Net kort tevore het hulle hom as hul grootste vyand beskuldig, die oorsaak van al hulle nood en lyding. Maar terwyl die woorde nog op hulle lippe was, het hulle geweet dat hulle beskuldigings vals was en toe werklike probleme oor hulle pad kom, het hulle na hom gevlug as die enigste een wie namens hulle by God kon intree. “Bid tot die Here...” het hulle gesoebat, “...dat Hy die slange van ons wegneem.” PeP 408.3

God het Moses beveel om ‘n koperslang, wat ooreenstem met die beeld van die lewende slange, te maak en dit tussen die volk op te rig. Almal wat gebyt was, moes daarna kyk en hulle sou verligting vind. Hy het dit gedoen en die blye tyding is oral deur die laer verkondig dat almal wat gebyt is, na die koperslang kon kyk en leef. Baie van hulle het reeds gesterf en toe Moses die koperslang aan ‘n paal ophang, wou sommige nie glo dat hulle genees kon word deur eenvoudig na daardie metaal beeld te kyk nie; hulle het in hulle ongeloof gesterf. Tog was daar baie wat in die voorsienigheid van God geglo het. Vaders, moeders, broers en susters het alles in hulle vermoë gedoen om hulle lydende, sterwende vriende te help om hulle verswakte oë op die slang te rig. Indien hierdie mense, al was hulle swak en sterwend, net eenmaal kon kyk, was hulle volkome genees. PeP 408.4

Die mense het goed geweet dat daar geen mag in die koperslang was om vir diegene wat daarna gekyk het, so ‘n verandering teweeg te bring nie. Die helende krag was van God alleen. In Sy wysheid het Hy hierdie metode gekies om Sy krag te openbaar. Op hierdie eenvoudige wyse is die volk tot die besef gebring dat hierdie ellende deur hulle eie sondes oor hulle gebring is. Hulle is ook verseker dat, terwyl hulle God gehoorsaam het, hulle geen rede vir vrees gehad het nie, want Hy sou hulle beskerm. PeP 409.1

Die oplig van die koperslang moes aan Israel ‘n belangrike les leer. Hulle kon nie hulleself van die dodelike uitwerking van die gif in hulle wonde red nie. Net God kon hulle genees. Hulle moes egter hulle geloof betoon in die voorsiening wat Hy gemaak het. Hulle moes kyk om te kan leef. Dit was hulle geloof wat vir God aanneemlik was en deur na die slang te kyk, het hulle hul geloof betoon. Hulle het geweet dat daar geen genesende krag in die slang self was nie, maar dat dit ‘n simbool van Christus was; en die noodsaaklikheid van geloof in Sy meriete is op hierdie wyse aan hulle tuisgebring. Voorheen het baie van hulle hul offers na God gebring en gemeen dat hulle sodoende voldoende versoening vir hulle sondes gedoen het. Hulle het hulle nie op die komende Verlosser, van Wie hierdie offers slegs ‘n tipe was, verlaat nie. Die Here wou hulle leer dat hulle offerandes op sigself, nie méér mag of deugde as die koperslang gehad het nie, maar sou hierdeur hulle gedagtes na Christus, die groot Sondoffer lei. PeP 409.2

“Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het...” so is ook die Seun van die mens “...verhoog sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:14,15). Almal wat nog op aarde geleef het, het die dodelike byt van “...die ou slang wat genoem word duiwel en Satan...” (Openbaring 12:9) gevoel. Die dodelike gevolge van sonde kan alleenlik deur die voorsiening wat God gemaak het, verwyder word. Die Israeliete se lewens is gered deur na die verhoogde slang te kyk. Daardie blik het van geloof gespreek. Hulle het geleef omdat hulle God se woord geglo en op die middel wat vir hulle genesing voorsien is, vertrou het. So kan die sondaar na Christus kyk en leef. Hy ontvang vergifnis deur sy geloof in die Soenoffer. Anders as die beweginglose en PeP 409.3

lewelose simbool, het Christus in Homself die krag en die verdienstelikheid om die boetvaardige sondaar te genees. PeP 410.1

Ofskoon die sondaar hom nie self kan red nie, is daar steeds iets wat hy moet doen om sy saligheid te verseker. Christus sê: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37). Ons moet na Hom toe kom; en wanneer ons ons van ons sondes bekeer, moet ons glo dat Hy ons aanneem en vergewe. Geloof is ‘n gawe van God, maar die krag om dit uit te oefen behoort aan ons. Geloof is die hand waardeur die siel beslag lê op die Goddelike offers van genade. PeP 410.2

Niks anders as die geregtigheid van Christus kan ons die reg gee op enige van die seëninge van die genadeverbond nie. Daar is baie mense wat hierdie seëninge al vir lank begeer en dit probeer verkry het, maar het dit nie ontvang nie, omdat hulle onder die indruk was dat hulle self iets kon doen om hulself waardig te maak om dit te ontvang. Hulle het nie hulle oë van hulself afgewend en geglo dat Jesus ‘n algenoegsame Saligmaker is nie. Ons moenie dink dat ons eie verdienstelikhede ons sal red nie; Christus is ons enigste hoop vir saligheid. “Want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Handelinge 4:12). PeP 410.3

Wanneer ons God ten volle vertrou, wanneer ons ons op die verdienstelikheid van Jesus verlaat as die Verlosser wat sondes vergewe, sal ons al die hulp wat ons begeer ontvang. Laat niemand na homself kyk asof hy die mag het om homself te red nie. Jesus het vir ons gesterf omdat ons hulpeloos was om dit self te doen. Hy is ons hoop, ons regverdiging, ons geregtigheid. Wanneer ons ons sondigheid insien, moet ons nie mismoedig raak en vrees dat ons geen Saligmaker het of dat Hy geen gedagtes van genade vir ons het nie. Hy nooi ons juis om in ons hulpeloosheid na Hom te kom om gered te word. PeP 410.4

Baie van die Israeliete het geen hulp in die genesing wat deur die Hemel in werking gestel is, gesien nie. Die dooies en sterwendes was oral om hulle en hulle het geweet dat, sonder Goddelike hulp, is hulle eie lot beslis; maar hulle het aangehou om hulle wonde, hulle pyn en hulle gewisse dood te betreur totdat hulle geen krag meer gehad het nie en hulle oë verdof het, terwyl hulle onmiddellike genesing kon verkry het. Wanneer PeP 410.5

ons ons hulpelose toestand sonder Christus besef, moet ons nie toegee aan moedeloosheid nie, maar op die verdienste van ‘n gekruisigde en opgestane Verlosser staatmaak. Jesus het Sy woord gegee; Hy sal almal red wat na Hom toe kom. Hoewel miljoene wat ‘n behoefte aan genesing het Sy aangebode genade sal verwerp, sal Hy niemand wat op Sy verdienstelikheid vertrou, laat vergaan nie. PeP 411.1

Baie is onwillig om Christus aan te neem, totdat die hele verborgenheid van die verlossingsplan vir hulle duidelik gemaak word. Hulle weier die kyk van geloof, hoewel hulle sien dat duisende gekyk het en die effektiwiteit van te kyk na die kruis van Christus ervaar het. Baie dwaal in die doolhowe van filosofie op soek na redes en bewyse wat hulle nooit sal vind nie, terwyl hulle die getuienis verwerp wat God goed geag het om te gee. Hulle weier om in die lig van die Son van Geregtigheid te wandel, totdat die rede vir die lig daarvan verduidelik word. Almal wat hiermee volhard, sal nie tot die kennis van die waarheid kom nie. God sal nooit alle rede vir twyfel verwyder nie. Hy gee genoeg bewyse waarop geloof gegrond kan word en as dit nie aanvaar word nie, word die verstand in die duister gelaat. As diegene wat deur die slange gebyt is, eers getwyfel en vrae gestel het voordat hulle ingestem het om te kyk, sou hulle gesterf het. Dit is ons plig om eers te kyk; en die kyk van geloof sal aan ons lewe gee. PeP 411.2