Patriarge en Profete

39/75

Hoofstuk 37—Die Rots Geslaan

(Hierdie hoofstuk berus op Numeri 20:1-13) PeP 390.1

Uit die geslaande rots in Horeb het die eerste lewende stroom gevloei wat Israel in die woestyn verkwik het. Gedurende hulle omswerwinge in die woestyn, waar daar ook gebrek was, is hulle deur ‘n wonderwerk van God se genade van water voorsien. Die water het egter nie aangehou om van Horeb af te vloei nie. Waar hulle ook gereis het en ‘n behoefte aan water gehad het, het dit uit die rotsklowe langs hulle laer gestroom. PeP 390.2

Dit was Christus, deur die mag van Sy woord, wat die verkwikkende stroom vir Israel laat vloei het. “Hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het en die rots was Christus.” (1 Korinthiërs 10:4). Hy was die bron van alle tydelike, sowel as geestelike seëninge. Christus, die ware Rots, was in al hulle omswerwinge saam met hulle. “Hulle het geen dors gehad nie, in die woesteny het Hy hulle gelei; Hy het water uit die rots vir hulle laat stroom en die rots geklowe, sodat die waters weggevloei het.” “Dit het geloop deur die dor plekke ‘n rivier!” (Jesaja 48:21; Psalm 105:41). PeP 390.3

Die geslaande rots was ‘n beeld van Christus en deur hierdie simbool word die mees kosbaarste geestelike waarhede verkondig. Soos die lewegewende waters uit die geslaande rots gevloei het, so vloei die stroom van verlossing vir ‘n verlore geslag uit Christus wat “...deur God geslaan...” ” ...ter wille van ons oortredinge deurboor en ter wille van ons ongeregtighede verbrysel” is. (Jesaja 53:4,5). Soos die rots een maal geslaan is, so moes Christus “...een maal geoffer...” word “...om die sondes Van baie weg te neem.” (Hebreërs 9:28). Ons Verlosser sou nie ‘n tweede keer geoffer word nie en vir diegene wat die seëninge van Sy genade soek, is dit slegs nodig om in die Naam van Jesus te vra en die begeertes van die hart in berouvolle gebed uit te stort. Sulke gebede sal die wonde van Jesus voor die Here bring en dan sal die lewe-gewende bloed opnuut vloei, gesimboliseer deur die vloei van lewende water vir Israel. PeP 390.4

Die vloei van die water uit die rots in die woestyn, is deur die Israeliete gevier na hulle vestiging in Kanaan, met ‘n vertoon van groot gejubel. In Christus se tyd het hierdie fees ‘n baie PeP 390.5

indrukwekkende seremonie geword. Dit het tydens die Huttefees plaasgevind, wanneer die volk uit die hele land in Jerusalem vergader het. Op elk van die sewe dae van die fees het die priesters, vergesel van musiek asook die Leviete-koor, uitgegaan om met ‘n goue vat uit die fontein van Siloam water te skep. Hulle is deur ‘n menigte skare aanbidders gevolg en soveel van hulle as wat by die stroom kon kom, het daaruit gedrink onder vreugdesang: “Julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” (Jesaja 12:3). Daarna is die water wat die priesters geskep het onder trompet geklank en met plegtige koorsang, “Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem!” (Psalm 122:2), na die tempel gedra. Daar is dit op die brandofferaltaar uitgegiet terwyl lofsange opgeklink het en die menigtes met triomferende koorsang ingeval het, tesame met die musiekinstrumente en die diepluidende trompette. PeP 391.1

Die Verlosser het van hierdie simboliese diens gebruik gemaak om die gedagtes van die volk te vestig op die seëninge wat Hy gekom het om aan hulle te bring. “Op die laaste dag, die groot dag van die fees...” het Sy stem deur die tempelhowe geklink: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” “En dit...” sê Johannes “...het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo.” (Johannes 7:37-39). Die verkwikkende water wat uit ‘n dorre land opwel en die woestyn laat blom en uitvloei om lewe te gee aan diegene wat vergaan, is ‘n embleem van die genade van God wat Christus alleen kan gee en wat die lewende water is wat reinig, verkwik en die siel verfris. Hy in wie Christus woon, het ‘n nimmereindigende fontein van genade en krag in hom. Jesus verbly die lewe en verlig die pad van almal wat Hom waarlik soek. Sy liefde, in die hart ontvang, sal goeie werke tot die ewige lewe voortbring. En dit seën nie net die siel waaruit dit ontspring nie, maar die lewende stroom sal in woorde en dade van geregtigheid uitvloei om die dorstiges om hom te verkwik. PeP 391.2

In Sy gesprek met die vrou van Samaria by Jakob se put het Christus van dieselfde beeld gebruik gemaak: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes PeP 391.3

4:14). Christus bind die twee tipes saam. Hy is die rots; Hy is die lewende water. PeP 392.1

Dieselfde skoonheid en beeldende simbole kom oral in die Bybel voor. Honderde jare voor die koms van Christus het Moses na Hom verwys as die Rots van Israel se heil. (Deuteronomium 32:15). Die psalm digter het van Hom gesing as “...my verlosser...” “...die rots van my sterkte...” “...“n rots wat vir my te hoog is...” “...“n rots om in te woon...” “...die rots van my hart...” “...die rots van my toevlug.” In Dawid se sang word Sy genade geskilder as koel “...waters waar rus is...” te midde van groen weivelde waarlangs die hemelse Herder Sy kudde lei. Dan sê hy weer: “U laat hulle drink uit die stroom van U genietinge. Want by U is die fontein van die lewe.” (Psalms 19:15;62:8;61:3;71:3;73:26;94:22;23:2;36:9,10). En die wyse man sê: ” ...“n stroom wat bruis [is] ‘n fontein van wysheid.” (Spreuke 18:4). Jeremia sien Christus as “...die fontein van lewende water...” (Jeremia 2:13) en Sagaria beskou Hom as “...“n geopende fontein ... teen sonde en onreinheid” (Sagaria 13:1). PeP 392.2

Jesaja beskryf Hom as “...“n ewige rots...” en “...die skaduwee van ‘n swaar rots in ‘n land wat versmag.” (Jesaja 26:4;32:2). En hy teken die kosbare belofte op en roep die lewende stroom wat vir Israel gevloei het helder voor die gees: “Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.” “Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond;” “...in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis...” (Jesaja 41:17;44:3;35:6). Die uitnodiging word gerig: “O Almal wat dors het, kom na die waters...” (Jesaja 55:1). En in die laaste bladsye van die heilige Woord word hierdie uitnodiging weerklink. Die rivier van die water van die lewe “...helder soos kristal...” stroom uit die troon van God en van die Lam uit; en die genadige uitnodiging weerklink deur die eeue: “Laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openbaring 22:17). PeP 392.3

Kort voordat die Hebreërs by Kades aangekom het, het die lewende stroom wat deur al die jare by hulle laer uit die rots gestroom het, opgedroog. Dit was die Here se doel om Sy volk PeP 392.4

weer te toets. Hy sou bewys of hulle in Sy voorsienigheid vertrou en of hulle die ongeloof van hulle vaders sou nadoen. PeP 393.1

Hulle was nou binne sig van die heuwels van Kanaan. ‘n Paar dae se reis sou hulle tot by die grense van die Beloofde Land bring. Hulle was slegs ‘n kort afstand van Edom, wat aan die nageslag van Esau behoort het en waardeur die aangewese pad na Kanaan gegaan het. Die opdrag is aan Moses gegee: “Draai noordwaarts weg en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers, die kinders van Esau, wat in Seïr woon en hulle sal vir julle vrees ...Voedsel moet julle van hulle vir geld koop, dat julle kan eet; en julle moet ook water van hulle vir geld koop, dat julle kan drink.” (Deuteronomium 2:3-6). Hierdie opdragte moes voldoende gewees het om aan hulle te verduidelik waarom hulle waterbron opgedroog het; hulle was op die punt om deur ‘n waterryke, vrugbare land te trek op ‘n reguit pad na Kanaan. God het hulle ‘n onverstoorde deurgang deur Edom belowe en ‘n geleentheid om voedsel en ook water te koop, genoeg om die skare te voorsien. Die opdroog van die wonderbaarlike vloei van water moes daarom ‘n rede vir blydskap gewees het, ‘n teken dat hulle omswerwinge op ‘n einde was. As hulle nie so deur ongeloof verblind was nie, sou hulle dit begryp het. Maar wat vir hulle ‘n bewys van die vervulling van God se belofte moes gewees het, is in ‘n geleentheid vir twyfel en murmurering omskep. Die volk het skynbaar alle hoop dat God hulle in besit van Kanaan sou bring verloor en hulle het om die seëninge van die woestyn geskreeu. PeP 393.2

Voordat God hulle toegelaat het om in Kanaan in te gaan, moes hulle bewys dat hulle in Sy belofte glo. Die water het opgedroog voordat hulle Edom bereik het. Hier was vir hulle ‘n geleentheid om vir ‘n kort tydperk in geloof in stede van op sig te loop. Maar die eerste beproewing het dieselfde weerspannige, ondankbare gees laat opvlam as dit wat hulle vaders aan die dag gelê het. Skaars nadat die uitroep na water in die kamp geuiter is, het hulle die Hand vergeet, wat vir soveel jare in hulle behoeftes voorsien het en in stede van hulle na God te wend vir hulp, het hulle teen Hom gemurmureer en in hulle desperaatheid uitgeroep: “Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die Here gesterf het!” (Numeri 20:1-13); met PeP 393.3

ander woorde, hulle het gewens dat hulle onder die groep was wat tydens Korag se opstand gesterf het. PeP 394.1

Hulle uitroepe was teen Moses en Aaron gerig: “Waarom het julle die vergadering van die Here in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe? En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.” PeP 394.2

Die leiers het na die ingang van die tabernakel gegaan en op hulle aangesigte neergeval. Weer het die heerlikheid van die Here verskyn en Moses het die bevel ontvang: “Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aaron en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei.” PeP 394.3

Die twee broers het voor die vergadering uitgeloop, Moses met die staf van die Here in sy hand. Hulle was nou bejaarde manne. Hulle het Israel se opstandigheid en hardnekkigheid lank verdra; maar nou, uiteindelik, het selfs Moses se geduld opgeraak. “Hoor tog, julle wederstrewiges...” het hy uitgeroep, “...moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?” en in stede dat Moses die rots aanspreek soos God beveel het, slaan hy dit twee keer met die staf. PeP 394.4

Daar het ‘n oorvloed van water uitgestort om die vergadering te versadig. Maar ‘n groot sonde is begaan. Moses het met ‘n gevoel van irritasie gepraat; sy woorde het meer van menslike drif as van heilige verontwaardiging omdat God onteer was, getuig. Hy het gesê: “Hoor tog, julle wederstrewiges...” Die beskuldiging was waar, maar selfs die waarheid moenie met drif of ongeduld geuiter word nie. Toe God Moses beveel het om Israel weens hulle opstandigheid te bestraf, was die woorde vir hom pynlik en vir hulle was dit moeilik om dit aan te hoor, nogtans het God hom die krag gegee om die boodskap oor te dra. Maar toe hy dit op homself neem om hulle te beskuldig, het hy die Gees van God bedroef en die volk slegs kwaad berokken. Sy gebrek aan geduld en selfbeheersing was duidelik. Sodoende het hy aan die volk rede gegee om daaraan te twyfel of hy voorheen onder leiding van God gehandel het en om hulle eie sondes goed te praat. Moses, asook hulle, het God mishaag. Hulle het gesê dat sy optrede uit die staanspoor oop was vir PeP 394.5

kritiek en afkeur. Hulle het nou die voorwendsel gevind wat hulle begeer het om al die bestraffings wat God deur Sy dienskneg gestuur het, te verwerp. PeP 395.1

Moses het ongeloof in God aan die dag gelê. “Moet ons ... water ... laat vloei?” het hy gevra, asof die Here nie Sy belofte sou nakom nie. Die Here het aan die twee broers gesê: Julle het “...in My nie geglo ... om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie.” Toe die water opdroog, is hulle eie geloof in die vervulling van die beloftes, deur die klagtes en rebellie van die volk verswak. Die eerste geslag is as gevolg van hulle ongeloof gevonnis om in die woestyn om te kom, maar ten spyte daarvan, is dieselfde gees in hulle kinders geopenbaar. Sou hulle ook onsuksesvol wees om die belofte te verkry? Uitgeput en ontmoedig het Moses en Aaron geen poging aangewend om die stortvloed van algemene gevoelens te keer nie. Indien hulle self onwankelbare geloof in God getoon het, kon hulle die saak moontlik op so wyse voor die volk gestel het, wat hulle in staat sou kon stel om die toets te deurstaan. Deur onmiddellike en besliste handhawing van gesag, wat in hulle as owerstes gesetel was, sou hulle moontlik die murmurerings kon onderdruk het. Dit was hulle plig om alles in hulle vermoë te doen om ‘n beter toedrag van sake te bewerkstellig voordat hulle God gevra het om die werk namens hulle te doen. Het hulle die klagtes te Kades dadelik onder beheer gebring, kon ‘n geweldige nasleep van kwaad afgewend gewees het! PeP 395.2

Deur sy onbesonne daad het Moses die krag van die les wat God hulle wou leer verswak. Die rots, wat ‘n simbool was van Christus, was reeds een keer geslaan, soos Christus een keer geoffer sou word. Die tweede keer was dit slegs nodig om die rots aan te spreek, soos wat ons slegs nodig het om in die Naam van Jesus vir seëninge te vra. Deur die rots die tweede keer te slaan, het hulle die betekenis van die mooi beeld van Christus vernietig. PeP 395.3

Boonop het Moses en Aaron krag vir hulleself toegeëien wat alleenlik aan God behoort. Die noodsaaklikheid vir Goddelike Bemiddeling het dit ‘n baie plegtige geleentheid gemaak en die leiers van Israel moes daarop verbeter het om die volk met eerbied vir God te beïndruk en hulle geloof in Sy krag en goedheid te versterk. Toe hulle toornig vra: “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?” het hulle hulself in die plek van PeP 395.4

God gestel asof die mag in hulleself was; manne met menslike swakhede en drifte. Afgemat deur die aanhoudende murmurering en rebellie van die volk, het Moses sy Almagtige Helper uit die oog verloor en is sonder die krag van God gelaat om sy rekord, deur ‘n vertoning van menslike swakheid, te skend. Die man wat suiwer, ferm en onselfsugtig tot aan die einde van sy werk kon gewees het, is uiteindelik oorwin. God is voor die vergadering van Israel onteer toe Hy verhoog en opgehef moes word. PeP 396.1

God het nie by hierdie geleentheid oordele oor diegene wie se bose optrede Moses en Aaron so uitgelok het, uitgespreek nie. Al die teregwysings het op die leiers geval. Hy het die leiers self bestraf. Hulle wat as die verteenwoordigers van God gestaan het, het Hom nie vereer nie. Moses en Aaron was gegrief en het uit die oog verloor dat die murmureringe van die volk nie teen hulle gemik was nie, maar teen God. Dit was omdat hulle na hulself met bejammering gekyk het, dat hulle onbewustelik gesondig en gefaal het om die ernstige sondigheid van die volk voor God, aan hulle uit te wys. PeP 396.2

Die oordeel wat dadelik gevel was, was bitter en diep vernederend. “Toe sê die Here vir Moses en Aaron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.” Hulle moes, voordat hulle oor die Jordaan gaan, saam met die opstandige Israel sterf. Indien Moses en Aaron ‘n hoë selfbeeld gekoester het, of toegegee het aan ‘n passievolle gees in die aangesig van die waarskuwing van God en bestraffing, sou hulle skuld veel groter gewees het. Maar hulle kon nie van opsetlike of moedswillige sonde beskuldig word nie; hulle is deur ‘n skielike versoeking oorval en hulle het dadelik van harte berou daaroor gehad. Die Here het hulle berou aanvaar, maar weens die kwaad wat die sonde onder die volk kon veroorsaak, kon Hy dit nie ongestraf laat nie. PeP 396.3

Moses het nie sy vonnis vir die volk weggesteek nie, maar het aan hulle gesê dat aangesien hy gefaal het om die heerlikheid aan God te gee, kon hy hulle nie in die Beloofde Land inlei nie. Hy het hulle beveel om ag te slaan op die ernstige straf wat hom opgelê is en in te sien hoe hulle klagtes vir God moet voorkom, deur ‘n blote mens die skuld te gee vir die oordele PeP 396.4

wat hulle, as gevolg van hulle sonde, oor hulleself gebring het. Hy het hulle vertel hoe hy by God gepleit het vir versagting van die vonnis, maar dat Hy geweier het. Hy het gesê: “Die Here het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie.” (Deuteronomium 3:26). PeP 397.1

By elke geleentheid van moeilikheid of beproewinge, was die Israeliete gereed om Moses daarvan te beskuldig dat hy hulle uit Egipte uitgelei het, asof God daar geen aandeel aan gehad het nie. Oral op hulle reise, wanneer hulle oor die moeitevolle roete gekla en teen hulle leiers gemurmureer het, het Moses aan hulle gesê: “Julle klagtes is teen God. Dis nie ek nie, maar God, wat julle verlossing bewerkstellig het.” Maar sy ongeduldige woorde by die rots: “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat loop?” was ‘n feitelike erkenning van die beskuldiging en sou hulle dus in hulle ongeloof versterk en hulle klagtes regverdig. Die Here sou daardie indruk vir ewig uit hulle gedagtes uitwis deur Moses te verbied om in die Beloofde Land in te gaan. Hier was onmiskenbare bewys van die feit dat hulle leier nie Moses was nie, maar wel die magtige Engel van Wie die Here gesê het: “Kyk, Ek stuur ‘n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereed gemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; ... want my Naam is in Hom.” (Exodus 23:20,21). PeP 397.2

Moses het gesê: “Die Here het toornig op my geword om julle ontwil.” Die oë van die ganse Israel was op Moses gevestig en sy sonde het God, wat hom as leier van Sy volk gekies het, in ‘n slegte lig gestel. Die oortreding was aan die hele vergadering bekend en indien dit ligtelik afgemaak was, sou die indruk geskep word dat ongeloof en ongeduld onder ernstige provokasie verskoon kon word in diegene in verantwoordelike posisies. Maar toe daar verklaar is dat Moses en Aaron as gevolg van daardie een sonde Kanaan nie sou binnegaan nie, het die volk geweet dat daar by God geen aanneming van die persoon is nie en dat Hy die oortreder sekerlik sal straf. PeP 397.3

Die geskiedenis van Israel moes op rekord geplaas word vir onderrig en waarskuwing aan toekomstige geslagte. Mense van alle toekomstige eeue moet God as ‘n onpartydige Heerser sien wat onder geen omstandighede sonde regverdig nie. Maar min besef die skreiende sondigheid van sonde. Mense vlei hulleself PeP 397.4

dat God te goed is om die oortreder te straf. Maar in die lig van Bybelse geskiedenis, is dit duidelik dat God se goedheid en Sy liefde Hom noop om sonde as boosheid, noodlottig vir die vrede en geluk van die heelal, te hanteer. PeP 398.1

Nie eens Moses se eerbaarheid en getrouheid kon die straf van sy sonde afweer nie. God het groter oortredings as dit van die volk vergewe, maar Hy kon sonde in die leiers nie op dieselfde wyse hanteer as die sonde van diegene wat gelei word nie. Hy het Moses hoër as enige ander mens op aarde vereer. Hy het Sy heerlikheid aan hom geopenbaar en deur hom Sy insettinge aan Israel oorgedra. Die feit dat Moses sulke groot lig en kennis geniet het, het sy sonde meer ernstig gemaak. Getrouheid in die verlede sal nie versoening doen vir een verkeerde daad nie. Hoe groter die lig en voorregte wat aan ‘n mens geskenk word, hoe groter is sy verantwoordelikheid, hoe erger sy mislukking en hoe swaarder sy straf. PeP 398.2

Soos mense dit sou insien, was Moses nie aan ‘n groot misdaad skuldig nie; sy sonde was ‘n alledaagse verskynsel. Die psalmdigter sê dat hy “...onverskillig gepraat het met sy lippe...” (Psalm 106:33). Vir menslike oordeel, mag dit gering voorkom; maar as God hierdie sonde in Sy getrouste en mees geëerde dienskneg so swaar besoek het, sal Hy dit nie in ander verskoon nie. Die gees van selfverheffing, die neiging om ons broeders te veroordeel, is onaanvaarbaar vir God. Diegene wat aan hierdie euwels toegee, bring twyfel oor die werk van God en gee aan die skeptiese ‘n verskoning vir ongeloof. Hoe belangriker iemand se posisie en hoe groter sy invloed, hoe groter is die noodsaaklikheid dat hy geduld en nederigheid moet aankweek. PeP 398.3

As die kinders van God, veral diegene wat verantwoordelike posisies beklee, gelei word om die heerlikheid wat God toekom vir hulleself aan te neem, is Satan verheug. Dan het hy ‘n oorwinning behaal. Dis hoe hy tot ‘n val gekom het. So slaag hy met sukses om ander tot ondergang te verlei. Dit is om ons op ons hoede teen sy praktyke te plaas, dat God ons in Sy woord so baie lesse leer aangaande die gevaar van selfverheffing. Daar is geen impuls in ons natuur, geen fakulteit van die verstand, of ‘n neiging van die hart wat nie, oomblik vir oomblik, onder die beheer van die Gees van God moet wees nie. Daar is nie ‘n seëning wat God aan die mens skenk of beproewing wat PeP 398.4

Hy toelaat om oor hom te kom, wat die Satan nie kan en sal uitbuit om die siel te versoek, te teister en te vernietig, as ons aan hom die geringste geleentheid skenk nie. Daarom, hoe groot iemand se geestelike lig ook mag wees, hoeveel hy die guns van God en seëning mag geniet, behoort hy altyd nederig voor die Here te wandel en in geloof te pleit dat God elke gedagte moet lei en elke impuls moet beheer. PeP 399.1

Almal wat voorgee om godvrugtig te wees, staan onder die heiligste verpligting om oor hulle gees te waak en om streng selfbeheersing onder die grootste provokasie toe te pas. Die laste wat op Moses gelê is, was baie groot; min mense sal ooit so swaar beproef word soos hy; nogtans was dit nie as verskoning vir sy sonde aanvaarbaar nie. God het ruim voorsiening vir Sv volk gemaak; en as hulle op Sy krag staatmaak, sal hulle nooit deur omstandighede oorrompel word nie. Die kwaaiste versoeking kan sonde nie verskoon nie. Hoe groot die druk wat op die siel geplaas word ook is, oortreding is ons eie daad. Dit is nie in die mag van die aarde of die hel om enigiemand te dwing om sonde te doen nie. Satan val ons op ons swak punte aan maar ons hoef nie te swig nie. Hoe ernstig of onverwags die aanval, God het ons van hulp voorsien en in Sy krag kan ons oorwin. PeP 399.2