Patriarge en Profete
Hoofstuk 3—Die Versoeking en Sondeval
NOUDAT die Satan nie langer vry was om opstand in die hemel op te stook nie, het sy vyandskap teen God ‘n nuwe veld, in ‘n sameswering vir die ondergang van die mensdom, gevind. In die geluk en vrede van die heilige egpaar het hy ‘n toneel van die saligheid, wat vir ewig vir hom verlore was, aanskou. Deur jaloesie aangedryf, was hy vasbeslote om hulle tot ongehoorsaamheid aan te hits en die skuld en die straf van sonde oor hulle te bring. Hy sou hulle liefde in wantroue verander en hulle lofliedere in verwyte teenoor hulle Maker. Sodoende sou hy hierdie onskuldige wesens nie net in dieselfde ellende stort as dié waarin hy verkeer het nie, maar sou hy oneer oor God bring en droefheid in die hemel veroorsaak. PeP 22.1
Ons stamouers is nie sonder waarskuwing teen die gevaar wat hulle bedreig het gelaat nie. Hemelse gesante het die val van Satan en sy planne vir hulle ondergang aan hulle geopenbaar en meer volledig aan hulle die aard van die Heerskappy van God, wat die prins van boosheid probeer omverwerp, ontvou. Dit was as gevolg van ongehoorsaamheid aan die regverdige gebooie van God dat Satan en sy leërskare geval het. Hoe belangrik was dit dus dat Adam en Eva daardie wet sou eerbiedig, wat die enigste moontlike wyse was waarop orde en geregtigheid gehandhaaf kon word. PeP 22.2
Die wet van God is net so heilig soos Hyself. Dit is ‘n openbaring van Sy wil, ‘n transkripsie van Sy karakter, die uitdrukking van Goddelike liefde en wysheid. Die harmonie van die skepping berus op die volmaakte onderwerping van alle wesens, van elke ding, lewend sowel as nie lewend, aan die wet van die Skepper. God het wette vir die beheer van, nie slegs lewende wesens nie, maar van al die werkinge van die natuur, georden. Alles staan onder vasgestelde wette wat nie verontagsaam mag word nie. Maar terwyl alles in die natuur deur natuurwette beheer word, is, van al die wesens op aarde, alleenlik die mens aan ‘n sedewet onderwerp. Aan die mens, die kroonstuk van Sy skepping, het God die mag geskenk om Sy vereistes te verstaan, om die geregtigheid en heilsaamheid van Sy wet te begryp en die heilige aanspraak wat dit op hom maak, PeP 22.3
te eerbiedig; en van die mens word onwankelbare gehoorsaamheid geëis. PeP 23.1
Soos die engele, is die bewoners van Eden op die proef gestel; hulle voortdurende geluk kon slegs behoue bly op voorwaarde van getrouheid aan die Skepper se wet. Hulle kon gehoorsaam wees en leef, of ongehoorsaam wees en sterf. God het hulle die ontvangers van ryke seëninge gemaak; maar indien hulle Sy wil verontagsaam, sou Hy, wat die engele wat gesondig het nie kon spaar nie, hulle ook nie kon spaar nie; oortreding sou meebring dat hulle Sy seëninge aan hulle verbeur en sou ellende en ondergang oor hulle bring. PeP 23.2
Die engele het hulle gewaarsku om teen die Satan se liste te waak, want hy sou onvermoeid werk om hulle te verstrik. Terwyl hulle aan God gehoorsaam was, kon die Bose hulle nie skade aandoen nie, want, indien nodig, sou elke engel in die hemel gestuur word om hulle te help. Indien hulle sy eerste insinuasies onwrikbaar sou weerstaan, sou hulle net so veilig as die hemelse boodskappers wees. Maar, indien hulle net een keer voor versoeking sou swig, sou hulle natuur so ontaard het, dat hulle in hulself geen krag of ingesteldheid sou hê om die Satan te weerstaan nie. PeP 23.3
Die boom van kennis was ‘n toets vir hulle gehoorsaamheid aan en liefde vir God. Die Here het dit goed geag om net een verbod aan hulle te stel aangaande die gebruik van alles wat in die tuin was; maar indien hulle Sy wil in hierdie een opsig verontagsaam, sou hulle aan oortreding skuldig wees. Satan kon hulle nie met voortdurende versoekings agtervolg nie; hy het slegs by die verbode boom toegang tot hulle gehad. Indien hulle die aard van die boom sou probeer ondersoek, sou hulle aan sy liste blootgestel word. Hulle is vermaan om noukeurig ag te slaan op die waarskuwing wat God aan hulle gegee het en om tevrede te wees met die lesse wat Hy goed gevind het om aan hulle oor te dra. PeP 23.4
Om sy werk ongemerk te verrig, het Satan besluit om die slang as sy medium te gebruik, ‘n vermomming wat goed ingepas het by sy plan om te mislei. Op daardie stadium was die slang een van die slimste en mooiste kreature op aarde. Hy het vlerke gehad en terwyl hy deur die lug gevlieg het, het hy met die kleur en glans van gepoleerde goud, ‘n voorkoms van PeP 23.5
skitterende helderheid uitgestraal. Waar hy tussen die swaarbelaaide takke van die verbode boom gerus het en aan die smaaklike vrugte gesmul het, was hy ‘n voorwerp wat die aandag van die toeskouer vasgevang het en ‘n genot om te aanskou. So het die vernietiger hom in die tuin van vrede skuilgehou en sy prooi ingewag. PeP 24.1
Die engele het Eva gewaarsku om nie van haar eggenoot weg te dwaal terwyl hulle met hul daaglikse pligte in die tuin besig was nie; by hom sou sy in minder gevaar van versoeking verkeer as op haar eie; maar sy was so verdiep in haar aangename taak dat sy onbewustelik van hom af weggedwaal het. Toe sy ontdek dat sy alleen was, het sy eers ‘n gewaarwording van vrees vir gevaar ervaar, maar het haar vrese afgemaak en besluit dat sy oor genoeg wysheid en krag beskik om boosheid te onderskei en te weerstaan. Sonder enige gedagte aan die waarskuwing van die engele, het sy haarself starend by die verbode boom gevind, gemeng met nuuskierigheid en bewondering. Die vrugte was baie mooi en sy het haarself afgevra waarom God dit van hulle weerhou het. Asof die slang in staat was om die werkinge van haar gedagtes te onderskei, het hy haar aangespreek: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Eva was verbaas en verskrik toe dit geblyk het dat sy die weerklank van haar eie gedagtes kon hoor. Maar die slang het met ‘n musikale stem voortgegaan en subtiel haar ongeëwenaarde skoonheid geprys; en sy woorde was nie vir haar onaangenaam nie. In stede daarvan om dadelik van die plek weg te vlug, het sy met verwondering om ‘n slang te hoor praat, daar getalm. Indien sy deur ‘n wese soos ‘n engel aangespreek was, sou sy dadelik bevrees gewees het; maar die idee dat die aanloklike slang die medium van die gevalle vyand kon wees, het nie in haar gedagtes opgekom nie. PeP 24.2
Op die verleier se strikvraag het sy geantwoord: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, PeP 24.3
julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” PeP 25.1
Deur van dié boom te eet het hy verklaar, sou hulle ‘n hoër sfeer van bestaan bereik en ‘n wyer veld van kennis opdoen. Hy het self van die verbode vrugte geëet en as gevolg daarvan kon hy praat. Hy het te kenne gegee dat omdat God jaloers was, het Hy die vrug van hulle weerhou, sodat hulle nie sou styg tot ‘n vlak gelykstaande aan Homself nie. Dit was as gevolg van die boom se wonderbare eienskappe om wysheid en mag oor te dra, dat Hy hulle belet het om daaraan te proe of dit selfs aan te raak. Die verleier het te kenne gegee dat die waarskuwing van God nooit werklik volbring sou word nie, maar dat dit slegs bedoel was om hulle te intimideer. Hoe kon dit vir hulle moontlik wees om te sterf? Het hulle dan nie van die boom van die lewe geëet nie? God was slegs daarop uit om seker te maak dat hulle nie ‘n hoër vlak van ontwikkeling en groter geluk bereik nie. PeP 25.2
So het Satan van Adam se tyd tot nou toe gewerk en dit met groot welslae uitgevoer. Hy verlei mense om die liefde van God te wantrou en aan Sy wysheid te twyfel. Hy strewe voortdurend daarna om ‘n gees van oneerbiedige nuuskierigheid te kweek en om ‘n rustelose, weetgierige verlange om die verborgenhede van geestelike wysheid en krag te deurgrond, aan te wakker. In hulle strewe om dinge uit te vind wat God besluit het om van hulle te weerhou, sien menigtes nie die waarhede wat Hy wel geopenbaar het en wat essensieel vir verlossing is, raak nie. Die Satan verlei mense tot ongehoorsaamheid deur hulle te laat glo dat hulle ‘n wonderbaarlike veld van kennis betree. Maar dit is alles blote bedrog. Opgewonde oor hulle begrip van vooruitgang, betree hulle, deur God se vereistes te vertrap, ‘n pad wat na verval en die dood lei. PeP 25.3
Die Satan het die heilige egpaar wysgemaak dat hulle sou baat vind deur die oortreding van die wet van God. Hoor ons nie vandag dieselfde redenasie nie? Baie praat van die engheid van diegene wat die wet van God gehoorsaam terwyl hulle beweer dat hulle self ruimer van gees is en meer vryheid geniet. Wat is dit anders as ‘n weerklank van die stem uit Eden. “As julle daarvan eet...” (die Vereistes van God oortree), “...sal julle soos God wees.” Die Satan het beweer dat hy baie gebaat het deur die verbode vrugte te eet, maar hy het nagelaat om te noem dat PeP 25.4
hy, as gevolg van oortreding, ‘n uitgeworpene uit die hemel is. Hoewel hy ontdek het dat sonde onberekenbare verlies veroorsaak, het hy sy eie ellende verberg om ander in dieselfde posisie te plaas. So nou strewe die oortreder daarna om sy ware karakter te verbloem; hy mag voorgee dat hy heilig is, maar sy hoë professie maak hom, as bedrieër, des te meer gevaarlik. Hy staan aan die kant van die Satan, vertrap die wet van God en oorreed ander om dieselfde te doen, tot hulle ewige verderf. PeP 26.1
Eva het die Satan se woorde werklik geglo, maar haar geloof het haar nie gevrywaar van die straf van sonde nie. Sy het die woorde van God gewantrou en dit het tot haar val gelei. In die oordeel sal mense nie veroordeel word omdat hulle doelbewus ‘n leuen geglo het nie, maar omdat hulle nie die waarheid geglo het nie, omdat hulle die geleentheid om die waarheid te ken verontagsaam het. Ondanks die misleiding van Satan tot die teendeel, is dit altyd noodlottig om aan God ongehoorsaam te wees. Ons moet ons harte daarop instel om te weet wat die waarheid is. Al die lesse wat God in Sy Woord op rekord geplaas het, is daar vir ons vermaning en lering. Dit is aan ons gegee om ons teen misleiding te beskerm. Die verwaarlosing daarvan sal lei tot ons ondergang. Ons kan daarvan seker wees dat elke weerspreking van God se Woord van Satan afkomstig is. PeP 26.2
Die slang het die vrug van die verbode boom gepluk en dit in die hand van die half huiwerige Eva geplaas. Toe herinner hy haar aan haar eie woorde, dat God hulle verbied het om daaraan te raak, sodat hulle nie sterf nie. Sy sou nie méér skade opdoen deur die vrug te eet, het hy verklaar, as om daaraan te raak nie. Omdat sy geen onheilspellende gevolge kon bespeur as gevolg van haar daad nie, het Eva vrymoediger geword. Toe sy “...sien dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat die mens kan begeer om verstand te kry, het sy van sy vrugte geneem en dit geëet.” Dit het lekker gesmaak en terwyl sy dit geëet het, het dit gevoel asof sy ‘n verkwikkende krag ervaar en sy het haar verbeel dat sy ‘n hoër toestand van bestaan betree. Sonder vrees het sy gepluk en geëet. En nadat sy self oortree het, het sy die werktuig van Satan geword om haar man se ondergang te bewerkstellig. In ‘n toestand van vreemde, onnatuurlike opgewondenheid, met haar hande vol van die verbode vrugte, het sy sy teenwoordigheid opgesoek en hom alles vertel wat gebeur het. PeP 26.3
'n Uitdrukking van droefheid het oor Adam se gesig gekom. Dit was duidelik dat hy verdwaas en ontsteld was. In antwoord op Eva se woorde, het hy gesê dat dit die vyand waarteen hulle gewaarsku is moet wees en dat sy, volgens die Goddelike vonnis, moes sterf. Maar sy het hom, in antwoord daarop, aangemoedig om te eet en die woorde van die slang herhaal dat hulle gewis nie sou sterf nie. Sy het geredeneer dat dit waar moet wees, want sy het geen aanduiding van God se misnoeë ervaar nie, maar inteendeel, het sy ‘n heerlike, verkwikkende invloed ervaar, wat elke sintuig met nuwe opwindende lewe vul, dieselfde gevoel het sy haar verbeel, as wat die hemelse boodskappers besiel het. PeP 27.1
Adam het besef dat sy metgesel die bevel van God en die enigste verbod wat Hy op hulle gelê het om hulle trou en liefde op die proef te stel, oortree het. In sy gemoed het ‘n vreeslike stryd gewoed. Dit het hom berou dat hy Eva toegelaat het om van hom af weg te dwaal. Maar die daad was reeds gepleeg en hy moes nou van haar, wie se gemeenskap vir hom ‘n vreugde was, geskei word. Hoe kon hy dit toelaat? Adam het die omgang met God en die heilige engele geniet. Hy het die heerlikheid van die Skepper aanskou. Hy het die hoë uiteinde van wat op die mensdom gewag het indien hulle aan God getrou sou bly, verstaan. Maar hy het al hierdie seëninge uit die oog verloor uit vrees dat hy daardie een geskenk, wat in sy oë al die ander oortref het, sou verloor. Liefde, dankbaarheid, getrouheid aan die Skepper-alles is deur sy liefde vir Eva oorweldig. Sy was ‘n deel van homself en hy kon die gedagte om van haar geskei te word, nie verdra nie. Hy het nie daaraan gedink dat dieselfde Oneindige Mag wat hom uit die stof van die aarde as lewende, rein wese geskape het en in liefde aan hom ‘n gesellin gegee het, weer haar plek kon vul nie. Hy het besluit om in haar lot te deel; as sy moes sterf, sou hy saam met haar sterf. Per slot van rekening, het hy gewonder, was die woorde van die wyse slang nie dalk waar nie? Eva het voor hom gestaan, net so mooi en skynbaar net so onskuldig soos voor haar daad van ongehoorsaamheid. Sy het groter liefde as ooit tevore teenoor hom betuig. Daar was geen teken van die dood aan haar nie en hy het besluit hy sou die gevolge dra. Hy het die vrug geneem en haastig geëet. PeP 27.2
Nadat hy oortree het, het Adam hom eers verbeel dat hy ‘n hoër vlak van bestaan betree. Maar spoedig het die gedagte aan sy sonde hom met angs vervul. Die lug wat tot dusver egalig en matig van temperatuur was, het skielik vir die skuldige egpaar koud gevoel. Die liefde en vrede wat hulle geken het, was weg en in die plek daarvan was hulle bewus van sonde, ‘n vrees vir die toekoms en van ‘n naaktheid van siel. Die kleed van lig wat hulle omhul het, het verdwyn en hulle het gepoog om vir hulself ‘n bedekking te maak, want hulle kon nie nakend voor die oë van God en die heilige engele verskyn nie. PeP 28.1
Nou het hulle die ware aard van hulle sonde begin besef. Adam het sy gesellin verwyt omdat sy so dwaas was om van hom weg te dwaal en haarself toe te laat om deur die slang mislei te word; maar hulle albei het hulself getroos dat Hy wat soveel bewyse van Sy liefde aan hulle betoon het, hierdie een oortreding sou vergewe, of dat hulle nie so kwaai gestraf sou word soos wat hulle gevrees het nie. PeP 28.2
Die Satan het hom in sy oorwinning verheug. Hy het die vrou oorgehaal om God se liefde te wantrou, om aan Sy wysheid te twyfel en om Sy wet te oortree en deur haar het hy ook Adam se ondergang bewerk. PeP 28.3
Maar die groot Wetgewer was reg om aan Adam en Eva die gevolge van hulle oortreding bekend te maak. Die Teenwoordigheid van God het in die tuin verskyn. In hulle onskuld en heiligheid het hulle die koms van hulle Skepper verwelkom, maar nou het hulle angsbevange gevlug en in die diepste skuilhoeke van die tuin probeer wegkruip. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gesê: “Waar is jy? En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?” PeP 28.4
Adam kon sy sonde nie ontken of goedpraat nie; maar in stede daarvan dat hy hom verootmoedig, het hy probeer om die skuld op sy vrou en dus op God, te plaas. “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee en ek het geëet.” Hy wat, uit liefde vir Eva, doelbewus besluit het om die guns van God, sy woning in die Paradys en die ewige lewe van geluk te verbeur, het nou, na sy val, sy eggenote en die Skepper PeP 28.5
self vir sy oortreding verantwoordelik probeer hou. So verskriklik is die krag van die sonde. PeP 29.1
Toe die vrou gevra is: “Wat het jy nou gedoen?” het sy geantwoord: “Die slang het my bedrieg en ek het geëet.” “Waarom het U die slang geskape? Waarom het U hom in Eden toegelaat?”-dit was die vrae wat in haar verontskuldiging vir haar sonde geïmpliseer is. So het sy, soos Adam, God vir haar sonde verantwoordelik gehou. Die gees van selfregverdiging het by die vader van die leuen ontstaan; ons stamouers het daaraan toegegee toe hulle hul aan die invloed van Satan onderwerp het en dit het sedertdien deur al die seuns en dogters van Adam gemanifesteer. In stede daarvan dat hulle hul sondes in ootmoed bely, het hulle gepoog om hulself te verdedig deur die skuld op ander, of op omstandighede, of op God te plaas-wat selfs Sy seëninge as ‘n geleentheid gebruik het vir klagtes teen Hom. PeP 29.2
Toe het die Here Sy vonnis oor die slang uitgespreek: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.” Omdat die slang die Satan se medium was, moes hy deel in die voltrekking van die Oordeel van God. Van die mees beeldskone, bewonderenswaardigste van God se skepsels, sou hy nou die mees kruiperige en veragte skepsel van almal wees, deur beide mens en dier gehaat. Die daaropvolgende woorde wat tot die slang gerig is, was regstreeks op die Satan self van toepassing en het sy uiteindelike neerlaag en vernietiging voorspel: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal Hom in die hakskeen byt.” PeP 29.3
Aan Eva is die verdriet en smart wat voortaan haar deel sou wees, bekend gemaak. Verder het die Here gesê: “Na jou man sal jou begeerte wees en hy sal oor jou heers.” Met die skepping het God haar aan Adam gelyk gemaak. Indien hulle aan God gehoorsaam en in harmonie met Sy groot wet van liefde gebly het, sou hulle ook in harmonie met mekaar gebly het; maar sonde het onenigheid veroorsaak en nou kon harmonie slegs behoue bly deur onderwerping van die een teenoor die ander. Eva het eerste oortree en sy het in versoeking gekom omdat sy, teenstrydig met die Goddelike bevel, van haar eggenoot PeP 29.4
weggedwaal het. Dit was op haar aandrang dat Adam gesondig het en sy is nou aan haar man onderwerp. Indien die beginsels wat deur die wet van God voorgeskryf word, deur die gevalle ras gekoester was, sou hierdie vonnis, hoewel dit as gevolg van sonde ontstaan het, vir hulle ‘n seën gewees het; maar omdat die man hierdie oppergesag wat aan hom toegesê is misbruik, is die vrou se lot dikwels uiters bitter en haar lewe ‘n las. PeP 30.1
Eva was volkome gelukkig in haar Eden-tuiste aan haar man se sy, maar soos rustelose hedendaagse vroue, het sy haarself gevlei dat sy ‘n hoër sfeer kon bereik as dít wat God aan haar toegesê het. In haar poging om bo haar oorspronklike posisie uit te styg, het sy ver benede dit gedaal. Dieselfde uiteinde wag op almal wat onwillig is om, volgens God se plan, hulle lewenspligte met blymoedigheid op te neem. In hul pogings om te strewe na posisies waarvoor Hy hulle nie toegerus het nie, laat baie die plek waar hulle ‘n seën kon gewees het, leeg. In hulle begeerte na ‘n hoër sfeer, het baie hulle vroulike waardigheid en edele karakter prysgegee en die werk waartoe die Hemel hulle aangestel het, ongedaan gelaat. PeP 30.2
Aan Adam het die Here gesê: “Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie-vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” PeP 30.3
Dit was nie die wil van God dat die sondelose egpaar enige kwaad moes ken nie. Met milde hand het Hy die goeie aan hulle geskenk en die kwade teruggehou. Maar teen Sy gebod in het hulle van die verbode boom geëet en nou sou hulle moes voortgaan om daarvan te eet-hulle sou kennis van die kwaad ken-al die dae van hulle lewe. Vanaf daardie tyd sou hulle deur die Satan se verleidings geteister word. In stede van die vreugdevolle arbeid wat vir hulle bestem was, sou kommer en moeite hulle deel wees. Hulle sou aan teleurstelling, droefheid, pyn en uiteindelik die dood onderworpe wees. PeP 30.4
Onder die vloek van die sonde, sou die hele natuur teenoor die mens getuig van die gevolge van opstand teen God. Toe PeP 30.5
God die mens gemaak het, het Hy hom gemaak om oor die aarde en alle lewende wesens te heers. Solank Adam aan die Hemel getrou gebly het, was die ganse natuur aan hom onderdanig. Maar toe hy teen die Wet van God gerebelleer het, het die minderwaardige skepsels teen sy heerskappy in opstand gekom. So sou die Here, in Sy groot genade, die heiligheid van Sy wet aan die mense toon en hulle deur hul eie ervaring, leer hoe gevaarlik dit is om dit selfs in die geringste mate te verontagsaam. PeP 31.1
Ook die lewe van moeite en sorge wat voortaan die mens se lot sou wees, is met liefde opgelê. Dit was ‘n dissipline wat deur sonde genoodsaak is, om ‘n demper te plaas op die toegee aan luste en hartstogte en om ‘n gewoonte van selfbeheersing te kweek. Dit was deel van die groot plan van God om die mens te herstel van die vernietiging en aftakeling van sonde. PeP 31.2
Die waarskuwing wat aan ons stamouers gegee is: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:17), het nie beteken dat hulle op dieselfde dag toe hulle die verbode vrug geëet het, sou sterf nie. Maar op daardie dag sou die onherroeplike vonnis gevel word. Onsterflikheid is op voorwaarde van gehoorsaamheid aan hulle belowe; deur oortreding sou hulle die ewige lewe verbeur. Op daardie selfde dag sou hulle tot die dood gedoem word. PeP 31.3
Om die ewige lewe te verkry, moet die mens voortgaan om van die boom van die lewe te eet. As hy hiervan ontneem word, sal sy lewenskragte geleidelik afneem totdat die lewe uiteindelik afsterf. Dit was Satan se plan dat Adam en Eva deur hulle ongehoorsaamheid die misnoeë van God op die hals sou haal en dan, wanneer hulle nie daarin geslaag het om vergifnis te ontvang nie, het hy gehoop dat hulle weer van die boom van die lewe sou eet en vir ewig in sonde en ellende sou voortleef. Maar na die sondeval is heilige engele onmiddellik aangestel om die boom te bewaak. Rondom hierdie engele het ligstrale met die voorkoms van skitterende swaarde geflits. Geen lid van Adam se gesin is toegelaat om deur daardie versperring te dring en van die lewegewende vrugte te eet nie; gevolglik is daar geen onsterflike sondaar nie. Die stortvloed van ellende wat weens die oortreding van ons stamouers oor die aarde gekom het, word deur vele as te kras vir so ‘n klein oortredinkie beskou en hulle PeP 31.4
betwyfel die wysheid en regverdigheid van God se omgang met die mensdom. Maar as hulle dieper in die saak sou ingaan, sou hulle die dwaling spoedig onderskei. God het die mens na Sy eie beeld, vry van sonde, geskape. Die aarde moes met wesens wat slegs weinig laer as die engele was, bevolk word, maar hulle gehoorsaamheid moes eers op die proef gestel word; want God sou nie toelaat dat die aarde deur wesens gevul word wat Sy wet verontagsaam nie. Tog, in Sy groot genade het Hy Adam nie aan ‘n swaar toets onderwerp nie. Juis omdat die toets so lig was, was die sonde so geweldig groot. As Adam nie eers die geringste toets kon slaag nie, sou hy ook nie ‘n groter toets kon deurstaan het indien groter verantwoordelikhede aan hom toevertrou was nie. PeP 32.1
Indien Adam aan ‘n groot toets onderwerp was, sou diegene wie se harte tot sonde geneig is hulle probeer verontskuldig het deur te sê: “Dit is ‘n klein sakie en God is nie puntenerig oor klein dingetjies nie.” En daar sou voortdurende oortreding van dinge, wat as gering beskou was en nie deur mense bestraf is nie, plaasgevind het. Maar God het dit duidelik gestel dat sonde in enige graad vir Hom aanstootlik is. PeP 32.2
Om aan God ongehoorsaam te wees deur van die verbode boom te eet en haar man ook tot oortreding uit te lok, het vir Eva geblyk ‘n geringe saak te wees; maar hulle sonde het die sluise van ellende op die aarde geopen. Wie kan in die oomblik van versoeking weet watter verskriklike gevolge een verkeerde stap sal hê? PeP 32.3
Vele wat leer dat die wet van God nie vir die mens verpligtend is nie, beweer dat dit onmoontlik is vir hom om die voorskrifte te gehoorsaam. Indien dit egter waar is, waarom is Adam vir sy oortreding gestraf? Ons stamouers se sonde het skuld en verdriet op die aarde gebring en was dit nie vir die goedheid en genade van God nie sou die hele mensdom in hopelose wanhoop gedompel gewees het. Laat niemand hulself bedrieg nie. “Die loon van die sonde is die dood.” (Romeine 6:23). Die wet van God kan net so min strafloos oortree word as toe die vonnis oor ons stamvader uitgespreek is. PeP 32.4
Ná hulle sonde is Adam en Eva nie meer toegelaat om in die tuin te woon nie. Hulle het gesmeek dat hulle toegelaat mag word om in die woning van hulle onskuld en vreugde te bly. Hulle PeP 32.5
het erken dat hulle alle reg op daardie gelukkige woning verbeur het, maar het beloof om God in die toekoms stiptelik te gehoorsaam. Maar hulle is meegedeel dat hulle natuur deur die sonde ontaard het; hulle het hul weerstand teen sonde verswak en nou, in ‘n staat van sonde bewustheid, het hulle die weg vir Satan oopgemaak om hulle makliker te bereik. In hulle onskuld het hulle voor versoeking geswig en nou in hierdie staat van sonde bewustheid, sou hulle oor minder krag beskik om hul eerbaarheid te handhaaf. PeP 33.1
Met nederigheid en onuitspreeklike droefheid het hulle van hul lieflike woning afskeid geneem en uitgegaan om die aarde, waar die vloek van die sonde gerus het, te bewoon. Die atmosfeer wat voorheen so matig en egalig van temperatuur was, was nou aan merkbare wisselvalligheid onderhewig en in Sy genade het die Here vir hulle ‘n kleed van vel voorsien om hulle teen uiterste hitte en koue te beskerm. PeP 33.2
Soos hulle in die verwelkende blomme en die vallende blare die eerste tekens van verval gewaar het, was Adam en sy metgesel dieper bedroef as wat mense tans oor ‘n sterfgeval is. Die dood van die fyn, tenger blomme was waarlik rede om te treur; maar toe die trotse bome hulle blare afgooi, het die toneel hulle tot die streng oortuiging gebring dat die dood die lot van elke lewende ding is. PeP 33.3
Die tuin van Eden het lank nadat die mens uit sy heerlike omgewing verban is, op die aarde bestaan. Die gevalle geslag is toegelaat om hul blik oor die woning van hulle onskuld te laat gaan, hulle toegang slegs deur die wakende engele versper. Die heerlikheid van God is by die gerub-bewaakte poort van die Paradys geopenbaar. Daarheen het Adam en sy seuns gegaan om God te aanbid. Daar het hulle hul belofte van gehoorsaamheid aan die wet hernu, die oortreding waarvan hul verbanning uit Eden aan toegeskryf kan word. Toe sonde die aarde soos ‘n vloedgolf oorstroom het en die boosheid van die mens die oorsaak was dat dit deur ‘n Vloed uitgedelg is, is die Hand wat Eden geplant het van die aarde onttrek. Maar met die uiteindelike herstel, wanneer daar “...'n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde...” (Openbaring 21:1) sal wees, sal dit meer luisterryk as aan die begin wees. PeP 33.4
Dan sal hulle wat die gebooie van God onderhou het, onsterflike lewenskrag onder die boom van die lewe inasem; en deur die eindelose eeue van die ewigheid sal die bewoners van sondelose wêrelde, in daardie tuin van verlustiging, ‘n voorbeeld van die volmaakte skeppingswerk van God, onaangeraak deur die vloek van sonde, aanskou-'n voorbeeld van hoe die aarde daar sou uitgesien het indien die mens die glorieryke plan van die Skepper volbring het. PeP 34.1