Patriarge en Profete
Hoofstuk 36—In die Woestyn
BYNA veertig jaar lank verdwyn die Israeliete uit die oog in die onbekendheid van die woestyn. “En die dae van ons trek...” sê Moses “...van Kades-Barnea af totdat ons oor die spruit Sered gegaan het, was agt-en-dertig jaar totdat die hele geslag, die krygsmanne, uit die laer omgekom het soos die Here hulle dit gesweer het. So was die hand van die Here dan ook teen hulle om hulle uit die laer te vernietig totdat hulle omgekom het.” (Deuteronomium 2:14,15). PeP 385.1
Gedurende daardie jare is die volk gedurig daaraan herinner dat hulle onder Goddelike teregwysing was. In die opstand in Kades het hulle God verwerp en God het hulle ook gedurende die tyd verwerp. Omdat hulle ontrou was aan die verbond, was hulle nie toegelaat om die teken van die verbond, naamlik die besnydenis, te ontvang nie. Hulle begeerte om na die land van slawerny terug te keer het getoon dat hulle onwaardig was vir vryheid en die viering van die Pasga, wat ingestel was om die vrylating van slawerny te herdenk, is nie waargeneem nie. PeP 385.2
Maar die voortsetting van die tabernakeldiens het getuig dat God Sy volk nie heeltemal verlaat het nie. En Sy voorsienigheid het steeds in al hul behoeftes voorsien. Toe hy die geskiedenis van al hulle omswerwinge repeteer, het Moses gesê: “Die Here jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die Here jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie.” En die loflied van die Leviete soos deur Nehemia opgeteken, gee ‘n duidelike beskrywing van God se sorg oor Israel, selfs gedurende die jare van verwerping en ballingskap. “Selfs toe ... het U in U grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie. En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig en U manna het U nie van hulle mond teruggehou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors. En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; ... hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie.” (Nehemia 9:18-21). PeP 385.3
Die omswerwinge in die woestyn was nie net as ‘n oordeel oor die rebelle en die murmureerders bedoel nie, maar dit moes ook die opkomende generasie dissiplineer ter voorbereiding van hulle intrek in die Beloofde Land. Moses het aan hulle gesê: “Erken dan in jou hart dat die Here jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig...” “...tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. En Hy het ... jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deuteronomium 8:5,2,3). PeP 386.1
“Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos Sy oogappel.” “In al hulle benoudheid was Hy benoud en die Engel van Sy aangesig het hulle verlos; deur Sy liefde en deur Sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.” (Deuteronomium 32:10; Jesaja 63:9). PeP 386.2
En tog, die enigste verslae van hulle lewe in die woestyn, is insidente van rebellie teen die Here. Die opstand van Korag het die vernietiging van veertienduisend Israeliete tot gevolg gehad. En daar was geïsoleerde gevalle wat dieselfde gees van minagting vir die Gesag van God aandui. PeP 386.3
By een geleentheid het die seun van ‘n Israelitiese vrou en ‘n Egiptenaar, een van die gemengde skare wat saam met Israel uit Egipteland opgetrek het, sy eie deel van die kamp verlaat het en in die kamp van die Israeliete gekom en aanspraak gemaak het op die reg gemaak om sy tent daar op te slaan. Die wet van God het hom dit belet omdat die nageslag van die Egiptenare tot die derde geslag uit die vergadering uitgesluit was. ‘n Dispuut het tussen hom en ‘n Israeliet ontstaan en die saak is na die regters verwys, wat teen die oortreder besluit het. PeP 386.4
Woedend oor hierdie beslissing, het hy die regter vervloek en in sy toorn die Naam van God belaster. Hy is dadelik voor Moses gebring. Die gebod: “Hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.” (Exodus 21:17) is gegee, maar geen voorsiening is gemaak vir hierdie geval nie. Die misdaad was so erg, dat hulle gevoel het dit nodig was vir spesiale leiding PeP 386.5
van God. Die man is aangehou totdat die wil van die Here vasgestel kon word. God het self die vonnis uitgespreek en op Sy bevel is die lasteraar uit die laer uitgeneem en gestenig. Diegene wat getuies van die sonde was, het hulle hande op sy hoof gelê en sodoende plegtig getuig van die waarheid van die aanklag teen hom. Daarna het hulle die eerste klippe gegooi en toe het die mense wat bygestaan het, het agterna gehelp om die vonnis te voltrek. PeP 387.1
Dit was opgevolg deur die aankondiging van ‘n wet vir soortgelyke gevalle: “En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra. En wie die Naam van die Here laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdeling net soos die kind van die land-as hy die NAAM laster, moet hy gedood word.”(Levitikus 24:15,16). PeP 387.2
Daar is diegene wat die liefde en regverdigheid van God sal bevraagteken vir so streng straf oor woorde wat in die hitte van die oomblik geuiter is. Maar beide liefde en geregtigheid vereis dat daar aangedui word dat woorde wat in woede teen God geuiter word, ‘n groot sonde is. Die vergelding teenoor die eerste oortreder, sou aan ander dien as waarskuwing, dat God se naam eerbiedig moet word. Maar indien die sonde van hierdie man toegelaat was om ongestraf oorgesien te word, sou ander ontmoedig gewees het; en dit sou tot gevolg gehad het dat baie lewens uiteindelik opgeoffer sou moes word. PeP 387.3
Die gemengde skare wat saam met Israel uit Egipte weggetrek het, was ‘n voortdurende bron van versoeking en moeilikheid. Hulle het voorgegee dat hulle afgodery afgesweer en die ware God aanbid het; maar hulle vroeëre onderrig het hulle gewoontes en karakter gevorm en hulle was in ‘n meerdere of mindere mate afgetakel deur afgodery en oneerbiedigheid vir God. Hulle was meesal diegene wat onenigheid opgewek het en die eerstes om te kla en hulle het die kamp deursuur met hulle afgodiese praktyke en hulle murmureringe teen God. PeP 387.4
Kort nadat hulle na die woestyn teruggekeer het, was daar ‘n voorval van Sabbat-skending onder omstandighede wat dit ‘n saak van spesifieke sondigheid gemaak het. Die Here se aankondiging dat Hy Israel sou onterf, het ‘n gees van opstand opgewek. Een van die mense wat kwaad was omdat hy uit PeP 387.5
Kanaan uitgesluit was en vas van voorneme was om sy minagting vir God se wet te toon, het dit gewaag om die vierde gebod te verontagsaam, deur uit te gaan en hout op die Sabbat bymekaar te maak. Gedurende hulle verblyf in die woestyn is die Israeliete ten strengste belet om op die sewende dag ‘n vuur aan te steek. Hierdie verbod was nie in die land van Kanaan van toepassing waar die intensiteit van die klimaat dikwels die maak van vuur genoodsaak het nie; maar in die woestyn was dit nie nodig om ‘n vuur aan te steek om warm te word nie. Hierdie man se daad was ‘n moedswillige, opsetlike oortreding van die vierde gebod-dit was nie ‘n onbedagte sonde of ‘n sonde van onkunde nie, maar van vermetelheid. PeP 388.1
Hy is op heterdaad betrap en na Moses gebring. Daar is reeds beveel dat Sabbat-skenders met die dood gestraf moes word, maar daar is nie geopenbaar hoe die vonnis voltrek moes word nie. Moses het die geval aan die Here voorgelê en die antwoord was: “Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig” (Numeri 15:35). Die sondes van godslastering en Sabbat-skending is op dieselfde wyse gestraf, omdat albei ‘n uitdrukking van minagting vir die gesag van God was. PeP 388.2
In ons tyd is daar baie mense wat die Sabbat van die skepping as ‘n Joodse instelling verwerp en aandring dat indien dit gehou moet word, die doodstraf vir die oortreding daarvan toegepas moet word; maar ons sien dat godslastering op dieselfde wyse as Sabbat-skending gestraf is. Moet ons dan tot die gevolgtrekking kom dat die derde gebod ook afgeskaf moet word omdat dit net op die Jode van toepassing is? Tog geld die argument aangaande die doodsvonnis net so vir die derde en die vyfde en wat dit betref, vir byna al Tien Gebooie tot dieselfde mate as vir die vierde gebod. Hoewel God die oortreders van Sy wet deesdae nie met die dood straf nie, verklaar Sy Woord tog dat die loon van die sonde die dood is; en wanneer die laaste vonnis voltrek word, sal daar gevind word dat die lot van diegene wat Sy heilige gebooie skend, die dood is. PeP 388.3
Gedurende die volle veertig jaar in die woestyn is die volk elke week deur die wonderwerk van die manna aan hulle heilige verpligting teenoor die Sabbat herinner. Tog het selfs dit hulle nie tot gehoorsaamheid gelei nie. Ofskoon hulle dit nie gewaag het om so oop en bloot te oortree soos die oortreding wat die PeP 388.4
beslissende straf ontvang het nie, was daar groot laksheid in die nakoming van die vierde gebod. “My Sabbatte het hulle baie ontheilig.” (Esegiël 20:13-24). En dit het bygedra tot die redes vir die uitsluiting van die eerste generasie uit die Beloofde Land. Hulle verwaarlosing van die Sabbat gedurende die veertig jaar van rondswerf was van so aard, dat alhoewel God hulle nie verhoed het om Kanaan binne te gaan nie, Hy verklaar het dat hulle, nadat hulle in die Beloofde Land gesetel was, tussen die heidene versprei sou word. PeP 389.1
Van Kades af het die kinders van Israel na die woestyn teruggekeer; en aan die einde van hulle verblyf in die woestyn, kom “...die hele vergadering, in die woestyn van Sin ... in die eerste maand; en die volk het in Kades gebly.” (Numeri 20:1). PeP 389.2
Hier het Mirjam gesterf en is sy begrawe. Om van daardie vreugdevolle toneel aan die oewers van die Rooi See, toe Israel al dansende en singende die sege van Jehova gevier het, ná ‘n lewenslange swerftog in die woestyn, in die graf neer te daal-dit was die lot van miljoene wat met groot verwagtinge uit Egipte weggetrek het. Die sonde het die beker van seëninge voor hulle lippe weggeruk. Sou die volgende geslag die les leer? PeP 389.3
“Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan Sy wonders geglo nie ... Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.” (Psalm 78:32-35). Nogtans het hulle nie met opregtheid hulle tot God gewend nie. Hoewel hulle, wanneer hulle vyande hulle geteister het, by Hom hulp gesoek het, Wie alleen in staat was om hulle te help, was hulle hart nie reg met Hom nie en was hulle nie standvastig aan Sy verbond nie. “Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie en dikwels wend Hy sy toorn af ... En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, ‘n wind wat weggaan en nie terugkom nie.” (verse 37-39). PeP 389.4