Patriarge en Profete

37/75

Hoofstuk 35—Die Rebellie van Korag

Die oordele wat oor die Israeliete besoek was het vir ‘n tyd gedien om hulle murmureringe en opstandigheid te strem, maar die gees van rebellie het steeds in die hart geheers en het uiteindelik die bitterste vrugte voortgebring. Die vorige opstande was slegs populêre onluste wat uit die skielike impulse van die opgewonde menigtes voortgespruit het; maar nou is daar ‘n diepliggende sameswering gevorm, die gevolg van ‘n vasbeslote doelwit om die gesag van die leiers wat deur God self aangestel is, omver te werp. PeP 373.1

Korag, die leidende gees in hierdie beweging, was ‘n Leviet, ‘n afstammeling van Kehat en ‘n neef van Moses; hy was ‘n bekwame en invloedryke man. Hoewel hy aangestel was vir die diens van die tabernakel, het hy ontevredenheid met sy posisie begin ervaar en die waardigheid van die priesterskap begeer. Die toekenning van die priesterlike amp aan Aaron en sy huis, wat voorheen aan die eersgebore seun van elke familie gedelegeer was, het aanleiding gegee tot die jaloesie en ontevredenheid en vir ‘n tyd het Korag die gesag van Moses en Aaron heimlik teëgestaan, alhoewel hy nie gewaag het om openlik te rebelleer nie. Uiteindelik het hy die gewaagde plan beraam om sowel die burgerlike as die godsdienstige gesag omver te werp. Dit het hom nie aan ondersteuners ontbreek nie. Digby die tent van Korag en die Kehatiete, aan die suidekant van die tabernakel, was die kamp van die stam van Ruben en die tente van Datan en Abiram, twee vorste van hierdie stam, naby die tent van Korag. Hierdie twee vorste het geredelik by sy ambisieuse planne aangesluit. Omdat hulle die nageslag van Jakob se oudste seun was, het hulle aangevoer dat die burgerlike gesag hulle toekom en hulle het besluit om die eer van die priesterskap met Korag te deel. PeP 373.2

Die gemoedstemming van die volk was gunstig vir die planne van Korag. In die bitterheid van hulle teleurstelling het hulle vorige twyfel, jaloesie en haat teruggekeer en hulle het weer opnuut teen hulle lankmoedige leier gekla. Die Israeliete het gedurig die feit uit die oog verloor dat hulle onder Die leiding van God is. Hulle het vergeet dat die Verbondsengel hulle onsigbare Leier was, dat die teenwoordigheid van Christus, deur die wolk PeP 373.3

bedek, voor hulle uitgegaan het en dat Moses al sy bevele van Hom ontvang het. PeP 374.1

Hulle was onwillig om hulle aan die verskriklike vonnis, dat hulle almal in die woestyn moes sterf, te onderwerp en daarom was hulle gereed om enige voorwendsel aan te gryp om te glo dat dit nie God nie, maar Moses was wat hulle gelei het en die verskriklike vonnis uitgespreek het. Die beste pogings van die sagmoedigste man op aarde kon die opstandigheid van hierdie volk nie demp nie; en hoewel die merktekens van God se misnoeë oor hulle vorige onreg steeds voor hulle was in die gebroke geledere en ontbrekende getalle, het hulle nie die les ter harte geneem nie. Hulle is weereens deur versoeking oorweldig. PeP 374.2

In sy nederige herderslewe het Moses baie meer vrede en geluk geken as in sy huidige amp as leier van daardie groot oproerige skare. Nogtans kon hy nie waag om te kies nie. In die plek van die herderstaf is daar ‘n staf van gesag aan hom gegee wat hy nie kon neerlê voordat God hom vrygestel het nie. PeP 374.3

Hy wat die geheime van alle harte lees, het reeds kennis geneem van Korag en sy vriende se doelwitte en Hy het aan Sy volk genoeg waarskuwing en teregwysings gegee om hulle in staat te stel om die bedrog van daardie eersugtige manne te vermy. Hulle het gesien hoe die oordeel van God Mirjam getref het omdat sy op Moses jaloers was en teen hom gekla het. Die Here het verklaar dat Moses meer as ‘n profeet was. “Mond tot mond spreek Ek met hom.” En toe voeg Hy daarby: “Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie?” (Numeri 12:8). Hierdie teregwysings was nie net vir Aaron en Mirjam bedoel nie, maar vir die hele Israel. PeP 374.4

Korag en sy mede-samesweerders was manne wat met spesiale openbaringe van die mag van God bevoordeel was. Hulle was onder die groep wat saam met Moses die berg opgeklim het en die heerlikheid van God aanskou het. Maar sedertdien het daar ‘n verandering ingetree. ‘n Versoeking, gering aan die begin, is gekoester en het versterk en is aangehits totdat hulle gedagtes deur Satan beheer is en hulle hul werk van ontevredenheid gewaag het. Deur groot belang in die voorspoed van die mense te beweer, het hulle eers hulle ontevredenheid in mekaar se ore gefluister en toe aan die leiers PeP 374.5

van Israel. Hulle insinuasies is so geredelik aanvaar, dat hulle nog verder gegaan het en uiteindelik het hulle werklik geglo dat hulle deur ywer vir God aangespoor was. PeP 375.1

Hulle het daarin geslaag om tweehonderd-en-vyftig owerstes, manne van roem in die vergadering, te vervreem. Met daardie, sterk, invloedryke ondersteuners was hulle vol vertroue dat hulle ‘n radikale verandering in die heerskappy sou teweegbring en dat hulle grootliks op die bestuur van Moses en Aaron sou verbeter. PeP 375.2

Jaloesie het aanleiding gegee tot afguns en afguns tot opstand. Hulle het Moses se reg op soveel gesag en eer bespreek totdat hulle hom begin beskou het as iemand wat ‘n baie benydenswaardige posisie beklee, wat enigeen van hulle net so goed soos hy kon vul. En hulle het hulleself en mekaar bedrieg dat Moses en Aaron uit hulle eie die posisies wat hulle beklee het aangeneem het. Die wat ontevrede was het gesê dat hierdie leiers hulle bo die vergadering van die Here verhef het deur die priesterskap en die regering op hulle te neem, maar dat hulle stam nie geregtig was op onderskeiding bo die ander in Israel nie. Hulle was niks meer heilig as die volk nie en dit behoort genoeg vir hulle te wees om op dieselfde vlak as hulle broeders, wat net so deur God se spesiale teenwoordigheid en beskerming begunstig was, te verkeer. PeP 375.3

Die volgende taak van die samesweerders was met die volk. Vir mense wat verkeerd is en strafwaardig is, is daar niks meer aangenaam as om medelye en lof te ontvang nie. So het Korag en sy medepligtiges die aandag en ondersteuning van die volk verwerf. Die beskuldiging dat die murmureringe van die volk die misnoeë van God oor hulle gebring het, is as foutief verklaar. Hulle het gesê dat die vergadering nie verkeerd was nie, aangesien hulle op niks meer as hulle regte aanspraak gemaak het nie; maar dat Moses ‘n aanmatigende heerser was; dat hy die volk as sondaars bestraf het, terwyl hulle ‘n heilige volk was en die Here onder hulle gewoon het. PeP 375.4

Korag het die geskiedenis van hulle reise deur die woestyn, toe hulle in die moeilikheid was en talle weens hulle murmurerings en ongehoorsaamheid gesterf het, opgehaal. Sy toehoorders het gedink dat dit duidelik was dat hulle moeilikhede voorkom kon gewees het indien Moses ‘n ander PeP 375.5

koers gevolg het. Hulle het tot die oortuiging gekom dat hy die oorsaak van al hulle onheil was en dat hulle weens die wanbestuur van Moses en Aaron uit Kanaan uitgesluit was; dat indien Korag hulle leier was en hulle aangemoedig het, deur uit te wei oor hulle goeie dade, in stede van hulle oor hulle sondes te bestraf, hulle ‘n baie vreedsame, voorspoedige reis sou hê; in stede daarvan dat hulle in die woestyn sou rondswerf, sou hulle reguit na die Beloofde Land op reis. PeP 376.1

In hierdie ontevredenheid was daar meer eensgesindheid tussen die uiteenlopende elemente as ooit tevore. Korag se welslae met die volk het sy selfvertroue laat toeneem en hom in sy geloof bevestig dat, indien hierdie aanmatiging van gesag deur Moses nie gekeer word nie, dit fataal vir die vryhede van Israel sou wees; hy het ook beweer dat God die saak aan hom geopenbaar en hom gemagtig het om ‘n verandering in die regering te maak voordat dit te laat sou wees. Maar baie was nie gewillig om Korag se beskuldigings teen Moses te aanvaar nie. Die herinnering aan sy geduldige, onbaatsugtige arbeid het by hulle opgekom en dit het hulle gewetes gepla. Dit was daarom nodig om een of ander selfsugtige motief aan sy diep belangstelling in Israel toe te skryf; en die ou beskuldiging is herbevestig, dat hy hulle in die woestyn uitgelei het om om te kom, sodat hy op hulle besittings beslag kon lê. PeP 376.2

Vir ‘n tyd het hierdie werk in die geheim voortgegaan. Maar toe hierdie beweging genoeg steun gekry het om ‘n openlike skeuring te regverdig, het Korag aan die hoof van die faksie verskyn en Moses en Aaron in die openbaar daarvan beskuldig dat hulle hulself die gesag aangematig het waaraan Korag en sy aanhangers ewe geregtig was om te deel. Daar is verder aangevoer dat die volk hulle onafhanklikheid en vryheid ontneem was. Die samesweerders het gesê: “Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die Here is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die Here?” PeP 376.3

Moses het geen vermoede van hierdie diepliggende sameswering gehad nie en toe die ernstige betekenis daarvan tot hom deurdring, het hy in stille gebed op sy aangesig voor die Here neergeval. Toe hy opstaan, was hy wel nog bedroef, maar kalm en sterk. Goddelike Leiding is aan hom gegee. Hy het gesê: “More vroeg, dan sal die Here bekend maak wie Hom PeP 376.4

toebehoort en wie die heilige is, wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.” Die toets is tot die volgende dag uitgestel sodat almal tyd vir oordenking kon hê. Dan moes hulle wat die priesterskap begeer, elkeen met ‘n vuurpan kom en by die tabernakel ten aanskoue van die vergadering wierook offer. Die wet was baie duidelik dat net diegene wat tot die heilige amp georden was, in die heiligdom kon dien. Selfs die priesters Nadab en Abihu is verdelg omdat hulle, ondanks die bevel van God, dit gewaag het om “vreemde vuur” te offer. Tog het Moses sy beskuldigers uitgedaag, indien hulle so ‘n gevaarlike appêl wou waag, om die saak aan God vir beslissing voor te lê. PeP 377.1

Moses het hom tot Korag en sy mede-Leviete gewend en gesê: “Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die Here se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou dat julle nou ook die priestersamp begeer? Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here vergader; want Aaron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer? PeP 377.2

Datan en Abíram het hulle nie so hardnekkig verset soos Korag nie; en met die hoop dat hulle miskien by die sameswering betrokke geraak het sonder om heeltemal verdorwe te wees, het Moses hulle laat roep om voor hom te verskyn sodat hy hulle aanklagte teen hom kon aanhoor. Maar hulle wou nie kom nie en het astrant geweier om sy gesag te erken. Ten aanhore van die vergadering het hulle geantwoord: “Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie? Ook het jy ons nie gebring in ‘n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.” PeP 377.3

So het hulle die land van hulle slawerny met die juiste woorde waarmee God die land van die beloofde erfenis beskryf het, beskryf. Hulle het Moses daarvan beskuldig dat hy voorgee om onder die leiding van God te handel, maar dat hy dit net doen om sy gesag te handhaaf; en hulle het verklaar dat hulle hulle nie langer daaraan sou onderwerp om nou soos blinde mense PeP 377.4

in die rigting van Kanaan en dan terug na die woestyn, rondgelei te word na gelang dit sy eersugtige planne pas nie. Aldus het hulle hom, wat soos ‘n tedere vader, ‘n lankmoedige herder, teenoor hulle opgetree het, as die gemeenste tiran en indringer uitgemaak. Die uitsluiting uit Kanaan as straf vir hulle eie sondes, is aan hom toegedig. PeP 378.1

Dit was duidelik dat die simpatie van die volk by die afvallige party gelê het; maar Moses het geen poging aangewend om homself te verdedig nie. In die teenwoordigheid van die vergadering het hy hom plegtig op God beroep om te getuig dat sy motiewe rein en sy gedrag opreg was en Hom gevra om te oordeel. PeP 378.2

Die volgende oggend het die tweehonderd-en-vyftig vorste, met Korag aan die voorpunt, vuurpanne in hulle hande, hulleself aangemeld. Hulle is in die voorhof van die tabernakel ingelei terwyl die volk buite versamel het om te wag vir die uitslag. Dit was nie Moses wat die vergadering byeengeroep het om die nederlaag van Korag en sy geselskap te aanskou nie, maar in hulle blinde verwaandheid het die opstandelinge hulle daar saamgeroep om hulle oorwinning te aanskou. ‘n Groot gedeelte van die vergadering het hulle openlik aan die kant van Korag geskaar, wat hoë verwagtinge gekoester het om sy saak teen Aaron te handhaaf PeP 378.3

Terwyl hulle aldus voor die Here versamel was, “...verskyn die heerlikheid van die Here aan die hele vergadering.” God het Moses en Aaron gewaarsku: “Skei julle af van hierdie vergadering en Ek sal hulle in ‘n oomblik verteer.” Maar hulle het op hulle aangesigte neergeval en gebid: “O God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?” PeP 378.4

Korag het van die vergadering onttrek om by Datan en Abiram aan te sluit, toe Moses, vergesel van die sewentig oudstes, met ‘n laaste waarskuwing aan die manne wat geweier het om na hom toe te kom gegaan het. Die skare het gevolg en voordat hy sy boodskap afgelewer het, het Moses, op bevel van God, aan die volk gesê: “Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.” Hulle het die waarskuwing gehoorsaam, want ‘n verwagting van PeP 378.5

'n komende oordeel het op almal gerus. Die hoof rebelle het gesien dat die mense wat deur hulle mislei was hulle verlaat het, maar hulle hardnekkigheid was onwankelbaar. Saam met hulle huisgesinne het hulle in die deur van hulle tente gestaan asof in uittarting van die waarskuwing van God. PeP 379.1

In die Naam van die God van Israel het Moses nou, ten aanhore van die vergadering, verklaar: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie: as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die Here my nie gestuur nie. Maar as die Here iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die Here verag het.” PeP 379.2

Die oë van die ganse Israel was op Moses terwyl hulle in vrees en verwagting die gebeurtenis afgewag het. Toe hy klaar gepraat het, het die vaste grond onder die oproermakers oopgegaan en hulle het lewendig in die afgrond neergedaal saam met alles wat aan hulle behoort het, “...en hulle het omgekom uit die vergadering.” Die volk het gevlug, self-veroordelend, as deelnemers aan die sonde. PeP 379.3

Maar dit was nog nie die einde van die oordele nie. Daarna het vuur uit die wolk uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig vorste verteer wat die wierook geoffer het. Omdat daardie manne nie die oorspronklike opstokers was nie, is hulle nie saam met die hoof-samesweerders verdelg nie. Aan hulle is die geleentheid gegee om hulle einde te aanskou en om hulle te bekeer; maar hulle meegevoel was by die oproermakers en hulle het in hulle lot gedeel. PeP 379.4

Toe Moses ‘n beroep op die vergadering gedoen het om van die dreigende oordeel af weg te vlug, kon die oordeel van God afgewend gewees het as Korag en sy geselskap hulle bekeer en om vergifnis gevra het. Maar hulle hardnekkige volharding het hulle lot beklink. Die hele vergadering was saam met hulle skuldig, want almal het tot ‘n meerdere of mindere mate met hulle gesimpatiseer. Nogtans het God in Sy genade ‘n onderskeiding gemaak tussen die leiers van die rebellie en diegene wie deur hulle gelei is. Aan die volk wat hulle laat verlei het, is daar nog geleentheid gegee om hulle te bekeer. Hulle het PeP 379.5

oorweldigende bewyse ontvang dat hulle verkeerd was en dat Moses reg was. Die daadwerklike openbaring van God se mag het alle onsekerheid uit die weg geruim. PeP 380.1

Jesus, die Engel wat voor die Hebreërs uitgetrek het, het hulle van verdelging probeer red. Vergifnis was steeds beskikbaar vir hulle. Die oordeel van God het baie naby gekom en ‘n beroep op hulle gedoen om hulle te bekeer. ‘n Spesiale, onweerstaanbare tussentrede uit die hemel het hulle opstand gekeer. As hulle nou sou toegee aan die bemiddeling van die voorsienigheid van God, kon hulle gered word. Maar terwyl hulle uit vrees vir vernietiging van die oordeel weggevlug het, was hulle opstandigheid nog nie genees nie. Daardie nag het hulle vreesagtig, maar onboetvaardig, na hulle tente teruggekeer. PeP 380.2

Hulle is deur Korag en sy geselskap gevlei totdat hulle geglo het dat hulle baie goeie mense was en deur Moses te na gekom is. Indien hulle erken het dat Korag en sy geselskap verkeerd en Moses reg was, sou hulle ook gedring gewees het om te aanvaar dat die vonnis, dat hulle in die woestyn moes sterf, die woord van God was. Hulle was nie gewillig om hulle hieraan te onderwerp nie en het probeer glo dat Moses hulle bedrieg het. Hulle het die blye verwagting gekoester dat ‘n nuwe toedrag van sake tot stand sou kom waarin bestraffing met lof en angs en konflik met gemak vervang sou word. Die manne wat gesterf het, het vleitaal gespreek en beweer dat hulle groot belangstelling in en liefde vir hulle gehad het en die volk het tot die gevolgtrekking gekom dat Korag en sy metgeselle goeie mense moes gewees het en dat Moses op die een of ander wyse die oorsaak van hulle vernietiging was. PeP 380.3

Dit is skaars moontlik vir mense om God ‘n groter belediging aan te doen, as om die instrumente wat Hy vir hulle verlossing wil gebruik, te verwerp. Die Israeliete het nie slegs dit gedoen nie, maar hulle het hulle ook voorgeneem om Moses en Aaron om die lewe te bring. Nogtans het hulle nie die noodsaaklikheid ingesien om by God om vergifnis vir hulle ernstige sonde te pleit nie. Hulle het daardie nag van beproewing nie aan berou en belydenis bestee nie, maar het planne bedink om teenstand te bied teen die bewyse wat hulle as die grootste sondaars aangewys het. Hulle het steeds haat teenoor die manne wat God aangestel het gekoester en hulself gestaal om hulle teen PeP 380.4

hulle gesag te verset. Die Satan was daar om hulle oordeel te verdorwe en hulle geblinddoek na hulle vernietiging te lei. PeP 381.1

Die hele Israel het in alarm gevlug vir die uitroepe van die gedoemde sondaars toe hulle in die skeur wegval, want hulle het gesê: “Dalk verslind die aarde ons!” “Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aaron gemurmureer en gesê: Julle het die volk van die Here gedood.” En hulle was op die punt om hulle getroue, onbaatsugtige leiers geweld aan te doen. PeP 381.2

'n Manifestasie van die heerlikheid van die Here kon in die wolk bokant die tabernakel gesien word en ‘n stem het uit die wolk tot Moses en Aaron gespreek: “Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in ‘n oomblik kan verteer. ” PeP 381.3

Moses was nie aan sonde skuldig nie en daarom het hy nie vreesbevange gevlug en die vergadering laat omkom nie. Moses het getalm en in die vreesagtige krisis die belangstelling van ‘n ware herder vir die kudde in sy sorg, aan die dag gelê. Hy het gesmeek dat die grimmigheid van God die volk van Sy keuse nie heeltemal moes vernietig nie. Deur sy tussentrede het hy die Hand van wraak gekeer sodat daar nie ‘n volkome einde aan die ongehoorsame, opstandiges gemaak word nie. Maar die gesant van wraak het reeds uitgetrek; die plaag het sy dodelike werk gedoen. Op bevel van sy broer, het Aaron ‘n vuurpan geneem en tussen die vergadering ingehardloop “...en versoening gedoen vir die volk.” Terwyl die wierook opgegaan het, het Moses se gebede in die tabernakel tot God opgegaan en die plaag het opgehou; maar eers nadat veertien-duisend Israeliete as gevolg van hulle klagtes en opstand dood gelê het. PeP 381.4

Maar verdere bewys is gelewer dat die priesterskap in die familie van Aaron gevestig was. Deur Die leiding van God het elke stam ‘n staf berei en die naam van die stam daarop geskryf. Aaron se naam was op Levi se staf. Die stawe is in die tabernakel “...voor die Getuienis...” weggesit. Die staf wat geblom het, sou ‘n teken wees dat die Here daardie stam vir die priesterskap gekies het. Die volgende oggend “...het die staf van Aaron, vir die huis van Levi, gebloei: dit het bloeisels laat uitspruit en blomme laat oopgaan en amandels laat ryp word!” Dit is aan die volk getoon en daarna in die tabernakel bewaar PeP 381.5

as ‘n getuienis vir komende geslagte. Hierdie wonderwerk het uiteindelik die geskil oor die priesterskap bevestig. PeP 382.1

Daar is nou ten volle bevestig dat Moses en Aaron deur Gesag van God gespreek het en die volk is gedwing om die onaangename waarheid te glo dat hulle in die woestyn sou sterf. “Kyk...” het hulle uitgeroep, “...ons sterwe, ons vergaan, ons almal vergaan!” Hulle het erken dat hulle gesondig het deur teen hulle leiers in opstand te kom en dat Korag en sy geselskap regverdiglik deur God gestraf was. PeP 382.2

Die opstandigheid van Korag het, in die kleine, die uitwerking van dieselfde gees aan die dag gelê as die wat Satan in die hemel tot opstand gelei het. Dit was hoogmoed en eersug wat Lucifer aangespoor het om teen die regering van God te kla en te poog om die orde wat in die hemel gevestig was, omver te werp. Sedert sy val was dit sy strewe om dieselfde gees van afguns en ontevredenheid, dieselfde begeerte vir posisie en eer by mense in te boesem. So het hy op die gemoedere van Korag, Datan en Abiram gewerk om die begeerte na selfverheffing, afguns, wantroue en opstandigheid op te wek. Satan het veroorsaak dat hulle God as hulle leier verwerp het, deur die manne wat God aangestel het te verwerp. Terwyl hulle God egter deur hulle klagtes teen Moses en Aaron gelaster het, was hulle so verblind, dat hulle gedink het hulle is regverdig en dat diegene wat hulle getrou teen hulle sondes vermaan het, deur Satan aangehits was. PeP 382.3

Bestaan dieselfde kwaad wat die grondslag vir Korag se verderf gelê het, nie steeds nie? Hoogmoed en ambisie is oral; en wanneer dit gekoester word, word die deur van afguns en ‘n strewe na oorheersing geopen; die siel word van God vervreem en onbewus in die geledere van Satan ingetrek. Net soos Korag en sy metgeselle, dink, beplan en streef baie, selfs van die beweerde volgelinge van Christus, so gretiglik na selfverheffing dat, om die simpatie en ondersteuning van die mense te verkry, hulle bereid is om die waarheid te verdraai, ‘n vervalsing en wanvoorstelling van die Here se dienaars te maak en hulle selfs te beskuldig van die lae en selfsugtige motiewe wat hulle eie hart besiel. Deur onwaarhede voortdurend te herhaal en dít teen alle bewyse in, glo hulle naderhand dat dit die waarheid is. Terwyl hulle poog om die vertroue van die mense, in die manne PeP 382.4

wat God aangestel het, te ondermyn, glo hulle werklik dat hulle ‘n goeie werk doen en dat hulle voorwaar aan God ‘n diens bewys. PeP 383.1

Die Hebreërs was onwillig om hulle aan die bevele en beperkinge van die Here te onderwerp. Hulle was rusteloos onder beperking en onwillig om bestraffing te ontvang. Dit was die geheim van hulle murmureringe teen Moses. Indien hulle vrygelaat is om te doen wat hulle wou, sou daar baie minder klagtes teen hulle leier gewees het. Deur al die eeue van die geskiedenis van die kerk het die dienaars van God met dieselfde gees te doen gehad. PeP 383.2

Dit is deur aan sonde toe te gee, dat mense Satan toegang tot hulle gedagtes gee en hulle beweeg van een boosheid na die volgende. Die verwerping van die lig verduister die verstand en verhard die hart, sodat dit vir hulle makliker is om die volgende stap in sonde te neem en helderder lig te verwerp, totdat hulle sondige gewoontes uiteindelik gevestig is. Sonde hou op om vir hulle sondig voor te kom. Hy wat die Woord van God getrou verkondig en hulle sondes daardeur veroordeel, haal hom dikwels hulle haat op die hals. Omdat hulle nie gewillig is om die pyn te verduur en die opoffering te maak wat vir hervorming nodig is nie, draai hulle teen die dienskneg van God en veroordeel sy bestraffings as ongevraagd en streng. Soos Korag, verklaar hulle dat dit nie die mense se skuld is nie; dit is die bestraffer wat al die moeilikheid veroorsaak. En deur hulle gewetens met hierdie misleiding gerus te stel, span die afgunstiges en onvergenoegdes saam om onenigheid in die kerk te saai en verswak die hande van diegene wat dit wil opbou. PeP 383.3

Elke stap vorentoe wat deur diegene geneem is wie God geroep het om in Sy werk te lei, het agterdog gewek; elke daad was deur die afgunstiges en foutvinders verdraai. So was dit in die tyd van Luther, die Wesleys en die ander hervormers. So is dit steeds vandag. PeP 383.4

Korag sou nie opgetree soos wat hy het, as hy geweet het dat al die voorskrifte en bestraffings wat aan Israel gerig was, van God gekom het nie. Maar hy kon dit geweet het. God het oorweldigende bewyse gegee dat Hy Israel lei. Maar Korag en sy metgeselle het die lig verwerp totdat hulle tot so ‘n mate verblind was dat die treffendste openbaringe van Sy krag nie PeP 383.5

genoeg was om hulle te oortuig nie; hulle het alles aan menslike of sataniese agente toegeskryf. Dieselfde is deur die mense gedoen, wat die dag nadat Korag en sy bondgenote omgekom het, aan Moses en Aaron kom sê het: “Julle het die volk van die Here gedood.” Nieteenstaande die feit dat hulle die mees oortuigendste bewys van God se misnoeë oor hulle optrede gehad het in die vernietiging van die manne wat hulle mislei het nie, het hulle gewaag om Sy oordele aan Satan toe te skryf en te verklaar dat Moses en Aaron die dood van goeie en heilige manne veroorsaak het, deur die mag van die bose een. Dit was hierdie daad wat hulle lot verseël het. Hulle het teen die Heilige Gees gesondig, ‘n sonde waardeur die hart van ‘n mens volkome teen die invloed van die genade van God verhard is. Christus het gesê: “Elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie” (Mattheus 12:32). Ons Verlosser het hierdie woorde gespreek toe die Jode die genadedade wat Hy deur die krag van die Heilige Gees verrig het, aan Beëlsebul toegeskryf het. Dit is deur middel van die Heilige Gees dat God tot die mens spreek; en diegene wat hierdie Middel met opset verwerp en sê dat dit satanies is, het die kanaal tussen hulle eie siel en die hemel afgesny. PeP 384.1

God werk deur die openbaring van Sy Gees om die sondaar te bestraf en te oortuig; en indien die werk van die Gees finaal verwerp word, kan God niks meer vir die siel doen nie. Die laaste hulpbron van die genade van God is in werking gestel. Die oortreder het hom van God afgesny en die sonde het geen middel om self te genees nie. Daar is geen reserwe krag waarmee God kan werk om die sondaar te oortuig en tot inkeer te bring nie. Die Goddelike bevel lui: “Laat hom staan!” (Hosea 4:17). Dan “...bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” (Hebreërs 10:26, 27). PeP 384.2