Patriarge en Profete
Hoofstuk 34—Die Twaalf Spioene
(Hierdie hoofstuk berus op Numeri 13 en 14) PeP 364.1
Elf dae nadat die Hebreërs van die berg Horeb weggetrek het, het hulle by Kades in die woestyn van Paran laer opgeslaan, nie ver van die grens van die Beloofde Land nie. Daar het die volk voorgestel dat spioene uitgestuur moes word om die land te verken. Moses het die saak aan die Here voorgelê en Hy het Sy toestemming gegee, met die opdrag dat een van die leiers uit elke stam vir hierdie doel gekies moes word. Die manne is volgens hierdie opdrag gekies en Moses het hulle beveel om na die land te gaan kyk om uit te vind hoedanig dit was, hoe dit geleë was en wat die natuurlike voordele was en die mense wat daarin gewoon het, of hulle swak of sterk, min of baie was; daarby moes hulle die natuur en vrugbaarheid van die grond waarneem en van die vrugte van die land saambring. PeP 364.2
Hulle het gegaan en die hele land verken, by die suidelike grens ingegaan en na die heel noordelike grens beweeg. Na ‘n afwesigheid van veertig dae het hulle teruggekeer. Die Israeliete het hoë verwagtings gekoester en het hulle gretiglik ingewag. Die berig dat die verkenners teruggekeer het, is van stam tot stam oorgedra en die volk het dit met groot blydskap begroet. Die mense het die boodskappers tegemoet gesnel wat die bedreigings van hulle gevaarlike onderneming veilig ontkom het. Die spioene het monsters van die vrugte saamgebring om aan te dui hoe vrugbaar die grond was. Dit was druiwetyd en hulle het ‘n tros druiwe saamgebring wat so groot was dat twee mans dit moes dra. Ook het hulle van die vye en granate wat volop daar gegroei het, saamgebring. PeP 364.3
Die volk was verheug dat hulle so ‘n goeie land in besit sou neem en het aandagtig geluister terwyl verslag aan Moses gedoen is, sodat hulle nie een woord mis nie. Die verkenners het begin vertel: “Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning en dit is sy vrugte.” Die mense was geesdriftig; hulle sou gretiglik die stem van die Here gehoorsaam en onmiddellik opgaan om besit van die land te neem. Maar nadat hulle die skoonheid en vrugbaarheid van die land beskryf het, het al die spioene PeP 364.4
behalwe twee, uitgewei oor die moeilikhede en gevare waarmee die Israeliete te kampe sou kry indien hulle die verowering van Kanaan onderneem. Hulle het die magtige nasies opgenoem wat in verskillende dele van die land woon en gesê dat die stede ommuur en baie groot was, dat die mense wat daarin woon sterk was en dat dit onmoontlik sou wees om hulle te verslaan. Hulle het ook vertel dat hulle die kinders van die Enakiete daar aangetref het en dat dit nutteloos was om daaraan te dink om die land in besit te neem. PeP 365.1
Die toneel het nou verander. Hoop en moed het plek gemaak vir lafhartige wanhoop terwyl die spioene die menings van hulle eie ongelowige harte, wat met mismoedigheid deur Satan aangehits, gevul was. Hulle ongeloof het ‘n donker skaduwee oor die vergadering gewerp en die magtige krag van God wat so dikwels ten behoewe van die uitverkore volk geopenbaar is, was vergete. Die volk het nie tyd geneem om na te dink nie; hulle het nie geredeneer dat Hy wat hulle tot hier toe gelei het, die land gewis aan hulle sou gee nie; hulle het nie die wonderbaarlike wyse waarop God hulle van hulle onderdrukkers verlos het in herinnering geroep nie, ‘n pad deur die Rooi See gebaan en die agtervolgende leër van die Farao vernietig het nie. Hulle het God heeltemal buite rekening gelaat en het opgetree asof hulle geheel en al op die mag van wapens moes vertrou. PeP 365.2
In hulle ongeloof het hulle die krag van God aan bande gelê en die Hand gewantrou wat hulle veilig tot daar gelei het. En hulle het die vorige oortreding om teen Moses en Aaron te murmureer, herhaal. Hulle het gesê: “Dit is dan die einde van ons groot verwagtinge. Ons het die hele pad van Egipte af gereis om hierdie land in besit te neem en nou lyk dit só.” Hulle het hulle leiers daarvan beskuldig dat hulle die volk mislei het en moeilikheid oor Israel gebring het. PeP 365.3
Die volk was desperaat in hulle teleurstelling en wanhoop. ‘n Kreet van wanhoop het opgestyg en met die verwarde gemurmel van stemme gemeng. Kaleb het begryp wat aangaan en moediglik in die verdediging van die woord van God, het hy alles in sy mag gedoen om die bose invloed van sy ontroue kollegas te weerspreek. Vir ‘n oomblik was die mense stil om na sy woorde van hoop en dapperheid aangaande die goeie land te luister. Hy het nie die dinge wat reeds gesê is, weerlê nie; die PeP 365.4
stadsmure was hoog en die Kanaaniete was sterk. Maar God het die land aan Israel beloof. “Laat ons gerus optrek en dit in besit neem;” het Kaleb aangedring, “want ons kan dit sekerlik oorweldig.” PeP 366.1
Maar die tien het hom in die rede geval en die hindernisse nog donkerder as voorheen geskilder. “Ons kan nie teen die volk optrek nie...” het hulle volgehou, “...want hulle is sterker as ons. Al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë. ” PeP 366.2
Hierdie manne, ingestel op die verkeerde koers, het hulle hardnekkig teen Kaleb en Josua en Moses en teen God verset. Elke voorwaartse tree het hulle meer vasbeslote gemaak. Hulle het hulle voorgeneem om elke poging om Kanaan in besit te neem, te ontmoedig. Hulle het die waarheid verdraai om hulle verderflike invloed te behou. Dit “...is ‘n land...” het hulle gesê, “...wat sy inwoners verteer.” Dit was nie net ‘n boosaardige berig nie, maar ook ‘n leuenagtige een. Dit was opsigself teenstrydig. Die spioene het verklaar dat die land vrugbaar en voorspoedig is en die bewoners reusagtig groot, wat alles onmoontlik sou wees indien die klimaat so ongesond was dat daar gesê kon word dat dit ‘n land is “...wat sy inwoners verteer.” Maar wanneer mense hulle harte aan ongeloof oorgee, plaas hulle hulself onder die beheer van Satan en niemand kan sê tot watter lengtes hy hulle sal lei nie. PeP 366.3
“Toe het die hele vergadering uitgeroep-hulle het hul stem verhef en die volk het dié nag geween.” Opstand en openlike muitery het spoedig gevolg; want Satan was ten volle in beheer en die mense het geblyk van alle rede ontneem te wees. Hulle het Moses en Aaron vervloek en vergeet dat God op hulle bose toesprake gelet het en dat, met die wolkkolom omgewe, het die Engel van Sy teenwoordigheid hulle vreeslike uitbarsting van toorn gadegeslaan. Verbitterd het hulle uitgeroep: “Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!” Toe het hulle gevoelens teen die Here opgeloop: “Waarom bring die Here ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? En PeP 366.4
hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.” Dus het hulle nie net vir Moses beskuldig nie, maar ook vir God self van misleiding beskuldig, deur aan hulle ‘n land te belowe wat hulle nie in staat was om in besit te neem nie. En hulle het so ver gegaan as om ‘n hoof aan te stel om hulle na die land van hulle lyding en slawerny terug te lei, waaruit die sterke hand van die Almagtige hulle verlos het. PeP 367.1
In droefheid en ontsteltenis het “...Moses en Aaron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel...” omdat hulle nie geweet het wat hulle moes doen om hulle van hulle onbesonne en hartstogtelike plan te laat afsien nie. Kaleb en Josua het probeer om die rumoer te demp. Met geskeurde klere as teken van hulle droefheid en verontwaardiging, het hulle tussen die volk in gehaas en hulle luide stemme kon duidelik bo die storm van geweeklaag en opstandige droefheid gehoor word: “Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land. As die Here ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die Here opstandig nie en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!” PeP 367.2
Die Kanaaniete het die maat van hulle ongeregtigheid gevul en die Here sou hulle nie langer verdra nie. Aangesien Hy Sy beskerming van hulle onttrek het, sou hulle ‘n maklike prooi wees. Op grond van God se verbond is die land vir Israel verseker. Maar hulle het die valse verslag van die ontroue verkenners aanvaar en daardeur is die hele vergadering mislei. Die verraaiers het hulle werk gedoen. Al het net twee ‘n slegte verslag gebring en al tien die ander hulle bemoedig om die land in die Naam van die Here in besit te neem, sou hulle nog steeds weens hulle goddelose ongeloof die raad van die twee bo dié van die tien aanvaar het. Maar daar was net twee wat vir die reg gepleit het, terwyl tien aan die kant van rebellie was. PeP 367.3
Die ontroue verkenners het Kaleb en Josua luidkeels veroordeel en daar het ‘n oproep uitgegaan dat hulle gestenig moes word. Die waansinnige skare het werpgoed gegryp om die getroue manne mee te dood. Met ‘n waansinnige geskreeu het PeP 367.4
hulle vorentoe gestorm, toe die klippe eensklaps uit hulle hande geval het, ‘n stilte oor hulle gekom het en hulle van vrees gebewe het. God het self tussenbeide getree om hulle moordaanslag te keer. Die heerlikheid van Sy teenwoordigheid het die tabernakel soos ‘n vlammende lig verlig. Al die mense het die teken van die Here gesien. Een wat magtiger was as hulle was, het Hom geopenbaar en niemand het dit gewaag om voort te gaan met hulle weerstand nie. Die verkenners wat die bose verslag gebring het, het vreesbevange gehurk en met ingehoue asem, hulle tente opgesoek. PeP 368.1
Nou het Moses opgestaan en in die tabernakel binnegegaan. Die Here het aan hom gesê: “Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ‘n groter en sterker nasie maak as hulle.” Maar Moses het weer vir sy volk gepleit. Hy kon nie instem dat hulle uitgewis moes word en dat hy self ‘n magtige nasie gemaak word nie. Hy het hom op die genade van die Here beroep en gesê: “Laat dan nou tog die krag van die Here groot word, soos U gespreek het deur te sê: Die Here is lankmoedig en groot van goedertierenheid ...Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het. ” PeP 368.2
Die Here het beloof om Israel te spaar van onmiddellike vernietiging; maar as gevolg van hulle ongeloof en lafhartigheid, kon Hy nie Sy mag openbaar om hulle vyande te onderdruk nie. Daarom het Hy, in Sy genade hulle, as die enigste veilige roete, beveel om terug te draai na die Rooi See. PeP 368.3
In hulle opstandigheid het die volk uitgeroep: “As ons maar hier in die woestyn gesterf het!” Nou sou daardie gebed verhoor word. Die Here het gesê: “Soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes. volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo ... En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word dié sal Ek inbring en dié sal die land leer ken wat julle verwerp het.” En van Kaleb het Hy gesê: “My kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg-hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het en sy geslag sal dit in besit neem.” Soos die spioene veertig dae op hulle reis was, so sou die skare van Israel veertig jaar lank in die woestyn rondswerf. PeP 368.4
Toe Moses die besluit van God aan die volk bekend maak, is hulle woede in droefheid verander. Hulle het geweet dat die straf geregverdig was. Die tien ontroue spioene is deur die plaag getref en het voor die oë van die ganse Israel gesterf; en in hulle lot het die volk hulle eie verdoemenis gesien. PeP 369.1
Dit het nou gelyk asof hulle opreg berou het oor hulle sondige gedrag; maar hulle het getreur oor die gevolge van hulle bose weë eerder as die besef van hulle ondankbaarheid en ongehoorsaamheid. Toe hulle vind dat die Here nie van besluit gaan verander nie, het hulle eiesinnigheid weer kop uitgesteek en hulle het verklaar dat hulle nie na die woestyn sal terugkeer nie. Deur hulle te beveel om van die land van hulle vyande terug te trek, het die Here hulle oënskynlike onderdanigheid op die proef gestel en bewys dat dit nie opreg was nie. Hulle het geweet dat hulle ‘n groot sonde begaan het deur toe te laat dat hulle deur hulle oorhaastige gevoelens beheer word en te poog om die spioene wat hulle aangemoedig het om God te gehoorsaam te dood; maar hulle was net vreesbevange om te vind dat hulle “‘n vreeslike fout begaan het, die gevolge waarvan rampspoedig vir hulle sou wees. Hulle harte was onveranderd en hulle het net ‘n verskoning nodig gehad vir ‘n soortgelyke uitbarsting. En dit hom voorgedoen toe Moses, deur die gesag van God, hulle beveel het om terug na die woestyn te draai. PeP 369.2
Die bevel dat Israel vir veertig jaar nie in Kanaan sou binnegaan nie, was vir Moses, Aaron, Kaleb en Josua ‘n bittere teleurstelling; tog het hulle die besluit van God sonder om te murmureer aanvaar. Maar diegene wat gekla het oor die wyse waarop God hulle behandel het en verklaar het dat hulle na Egipteland sou teruggaan, het baie geween en gerou toe die seëninge wat hulle geminag het, van hulle weggeneem is. Hulle het sonder rede gekla en nou het God hulle rede gegee om te ween. Indien hulle oor hulle sonde berou gehad het toe dit getrou aan hulle voorgelê was, sou hierdie vonnis nie uitgespreek gewees het nie; maar hulle het oor die oordeel gerou; hulle verdriet was nie berou nie en dit kon nie ‘n hersiening van hulle vonnis teweegbring nie. PeP 369.3
Die nag is in roubeklag deurgebring, maar met dagbreek was daar nuwe hoop. Hulle het besluit om te vergoed vir hulle lafhartigheid. Toe God hulle beveel het om op te trek en die land PeP 369.4
in besit te neem, het hulle geweier; en nou wanneer Hy hulle beveel het om te retireer, was hulle eweneens opstandig. Hulle het hulle voorgeneem om die land te oorrompel en in besit te neem; moontlik sou God hulle werk aanvaar en van besluit verander ten opsigte van Sy doel met hulle. PeP 370.1
God het dit hulle voorreg en plig gemaak om op Sy vasgestelde tyd die land binne te gaan, maar deur hulle moedswillige nalatigheid is daardie verlof teruggetrek. Die Satan het sy doel bereik deur te verhinder dat hulle die land Kanaan binnegaan; en nou het hy hulle aangehits om, in die aangesig van die feit dat dit verbied is, die presiese ding te doen wat hulle voorheen geweier het om te doen. So het die groot misleier die oorwinning behaal, deur hulle vir die tweede keer tot opstand aan te hits. Hulle het die mag van God gehad om hulle in hul pogings by te staan om Kanaan in besit te neem; maar nou het hulle op hulle eie krag staatgemaak om die werk, onafhanklik van Goddelike ondersteuning, te verrig. “Ons het teen die Here gesondig;” het hulle uitgeroep “...ons self sal optrek en veg net soos die Here onse God ons beveel het.'‘ (Deuteronomium 1:41). Tot sulke uiterstes is hulle deur hulle oortreding verblind. Die Here het hulle nooit beveel om op te trek en te veg nie. Dit was nie Sy doel dat hulle die land deur oorlog in besit sou neem nie, maar deur streng gehoorsaamheid aan Sy bevele. PeP 370.2
Hoewel hulle harte onveranderd gebly het, is die volk daartoe gebring om die sondigheid en dwaasheid van hulle rebellie tydens die verslag van die spioene te bely. Hulle het nou die waarde ingesien van die seën wat hulle op so ‘n onbesonne wyse verwerp het. Hulle het erken dat dit hulle eie ongeloof was wat hulle uit Kanaan uitgehou het. Hulle het gesê: “Ons het gesondig...” en erken dat die fout by hulle gelê het en nie by God vir wie hulle so goddelooslik daarvan beskuldig het dat Hy Sy beloftes teenoor hulle nie nagekom het nie. Hoewel hulle belydenis nie uit ware berou ontstaan het nie, het dit tog gedien om God se handeling teenoor hulle te regverdig. PeP 370.3
Die Here werk steeds op dieselfde wyse om Sy Naam te verheerlik en mense te dwing om Sy regverdigheid te erken. Wanneer diegene wat beweer dat hulle Hom liefhet, oor Sy voorsienigheid kla, Sy beloftes minag en aan versoekings PeP 370.4
toegee deur met bose engele saam te werk om God se planne te verydel, bestier die Here die omstandighede dikwels op so ‘n wyse om hierdie persone op ‘n plek te bring waar, al het hulle nie ware berou nie, hulle van hulle sonde oortuig sal wees en gedwing sal word om die goddeloosheid van hulle optrede en die regverdigheid en goedheid van God in Sy handeling met hulle, te erken. So stel God teen magte aan die werk om die werke van die duisternis aan die kaak te stel. En hoewel die gees wat die verkeerde optrede aangehits het, nog nie radikaal verander is nie, word belydenisse gedoen wat die eer van God verdedig en Sy getroue bestraffers, wat teëgestaan en wanvoorgestel was, regverdig. So sal dit wees wanneer die grimmigheid van God uiteindelik uitgestort word. Wanneer die Here “...met sy heilige tienduisendtalle kom om gerig te hou oor almal...” sal Hy “...al die goddelose mense onder hulle...” oortuig van “...al hulle goddelose werke.” (Judas 14,15). Elke sondaar sal gebring word om die reg en geregtigheid van sy veroordeling in te sien. PeP 371.1
Ongeag die Goddelike vonnis, het die Israeliete hulle gereed gemaak vir die besetting van Kanaan. Toegerus met wapenrusting en oorlogswapens, was hulle, in hulle eie oordeel, ten volle toegerus vir konflik; maar in die oë van God en Sy bedroefde dienaars was hulle betreurenswaardig gebrekkig. Toe die Here Israel byna veertig jaar later beveel het om Jerigo in te neem, het Hy beloof om saam met hulle te gaan. Die verbondsark met Sy wet daarin, is voor hulle leërs uit gedra. Sv aangewese leiers moes hulle bewegings onder Sy toesig lei. Met sulke leiding kon geen kwaad oor hulle kom nie. Maar nou, teenstrydig met die bevel van God en die plegtige verbod van hulle leiers, het hulle sonder die verbondsark en sonder Moses uitgetrek om die leërs van hulle vyand te ontmoet. PeP 371.2
Die trompet het ‘n alarm uitgebasuin en Moses het hom agter hulle aan gehaas met die waarskuwing: “Waarom oortree julle tog die bevel van die Here, aangesien dit tog nie sal geluk nie? Moenie optrek nie, want die Here is nie in julle midde nie-anders word julle verslaan voor julle vyande. Want die Amalekiete en die Kanaaniete is daar voor julle en julle sal deur die swaard val.” PeP 371.3
Die Kanaaniete het gehoor van die geheimsinnige mag wat oor hierdie volk gewaak het en van die wonderwerke wat om hulle onthalwe verrig is en hulle het ‘n sterk leër byeengeroep om die invallers af te weer. Die invalsleër het nie ‘n leier gehad nie. Geen gebed dat God hulle die oorwinning moes gee is gerig nie. Hulle het opgetrek met die desperate doel om hulle lot te verander of in die stryd te sterf. Hoewel onopgeleid in oorlogvoering, was hulle ‘n groot menigte van gewapende manne en hulle het gehoop om deur ‘n skielike en verwoede aanval, hulle opposisie neer te vel. Hulle het met vermetelheid die vyand uitgedaag wat dit nie gewaag het om hulle aan te val nie. PeP 372.1
Die Kanaaniete het hulleself op ‘n rotsagtige gelyk veld, wat slegs deur moeilike poorte en gevaarlike steil opdraandes bereik kon word, gestasioneer. Die groot aantal Hebreërs, kon daardie nederlaag net erger maak. Stadig het hulle met die berg paaie opgeklim, blootgestel aan die dodelike werptuie van hulle vyande bokant hulle. Massiewe rotse het op hulle afgerol, wat hulle pad met die bloed van die verslaandes gekenmerk het. Diegene wat die kruin bereik het, uitgeput deur hulle bestyging van die berg, is hewiglik gestuit en met groot verliese teruggedryf. Die slagveld was met die lyke van die dooies besaai. Israel se leër was heeltemal verslaan. Verwoesting en dood was die gevolg van daardie opstandige proefneming. PeP 372.2
Die oorlewendes is gedwing om hulle te onderwerp en “...het teruggekom en voor die aangesig van die Here geween...” maar “...die Here het nie na [hulle] stem geluister nie.” (Deuteronomium 1:45). Deur hulle beduidende oorwinning, het die vyande van Israel, wat vroeër met bewing gewag het vir die aankoms van daardie magtige menigte, is met vertroue besiel om hulle te weerstaan. Al die berigte wat hulle verneem het aangaande die wonderbare dinge wat God vir Sy volk gedoen het, het hulle nou as vals beskou en gevoel daar was geen rede vir vrees nie. Daardie eerste oorwinning oor Israel het die Kanaaniete met moed en vasberadenheid besiel en het die probleme vir verowering grootliks verhoog. Daar het vir Israel niks anders oorgebly as om voor die aangesig van hulle seëvierende vyande na die woestyn terug te val nie en dit met die wete dat die graf van ‘n hele generasie hier lê. PeP 372.3