Patriarge en Profete

35/75

Hoofstuk 33—Van Sinai na Kades

(Hierdie hoofstuk berus op Numeri 11 en 12) PeP 350.1

Daar is eers ‘n lang tydperk nadat Israel in Sinai aangekom het, met die oprigting van die tabernakel begin; en die heilige struktuur is aan die begin van die tweede jaar na die uittog opgerig. Dit is opgevolg met die inwyding van die priesters, die viering van die Pasga, die volkstelling en die voltooiing van verskeie maatreëls wat noodsaaklik was vir die siviele of godsdienstige stelsels, sodat die laer amper ‘n jaar by Sinai vertoef het. Hier het hulle erediens ‘n meer bepaalde vorm aangeneem; verder het hulle wette ontvang vir die regering van die volk en ‘n meer doeltreffende organisasie in werking gestel, met die oog op hulle intog in die land Kanaan. PeP 350.2

Die burgerlike bestuur van Israel is gekenmerk deur die deeglikste organisasie, wat wonderbaarlik, beide vir die volledigheid en die eenvoud daarvan was. Die orde wat so treffend in die volmaaktheid en reëlings van al God se geskape werke is, is gemanifesteer in die Hebreeuse ekonomie. God was die middelpunt van gesag en regering, die Alleenheerser van Israel. Moses was hulle sigbare leier wat deur God aangestel is om die wette in Sy Naam uit te voer. Uit die oudstes van die stamme is later ‘n raad van sewentig gekies om Moses in die algemene belange van die nasie by te staan. Volgende was dit die priesters, wat God in die heiligdom geraadpleeg het. Hoofmanne of vorste het oor die stamme geheers. Onder hulle was “...owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien,” (Deuteronomium 1:15) en naas hulle, amptenare wat vir spesiale dienste aangestel was. PeP 350.3

Die Hebreeuse laer is in ‘n presiese orde gerangskik. Dit is in drie groot afdelings verdeel aan wie elk ‘n aangewese plek in die kamp aangewys is. In die middel was die tabernakel, die woonplek van die onsigbare Koning. Rondom was die priesters en die Leviete gestasioneer en agter hulle het al die ander stamme gekampeer. PeP 350.4

Die Leviete is belas met die diens van die tabernakel en alles wat daarmee gepaardgaan, beide in die laer en tydens hulle PeP 350.5

reistogte. Wanneer die volk weggetrek het, moes hulle die heilige tent afbreek; wanneer hulle ‘n nuwe kampeerplek bereik het, moes hulle dit weer oprig. Geen persoon uit ‘n ander stam kon, op straf van die dood, daar naby kom nie. Die Leviete is in drie afdelings verdeel volgens die nakomelinge van Levi se drie seuns en aan elk is ‘n spesifieke pos en werk opgedra. Voor die tabernakel en naaste daaraan, was Moses en Aaron se tente. Aan die suide was die Kehatiete wat verantwoordelik was vir die versorging van die verbondsark en die ander meubels; aan die noorde was die Merariete wat verantwoordelik was vir die pilare, die voetstukke, die panele, ensovoorts; heel agter was die Gersoniete, wat verantwoordelik was vir die versorging van die gordyne en behangsels van die tent. PeP 351.1

Die plek van elke stam is ook aangewys. Elkeen moes onder sy eie banier in die optog reis en kampeer, soos die Here beveel het: “Die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen by sy vaandel by die veldtekens van hulle families; op ‘n afstand rondom die tent van samekoms moet hulle laer opslaan.” “Soos hulle laer opslaan, so moet hulle opbreek, elkeen op sy plek volgens hulle vaandels.” (Numeri 2:2,17). Die gemengde skare wat Israel uit Egipte vergesel het, is nie toegelaat om saam met die stamme te kampeer nie; hulle moes aan die buitewyke van die laer bly en hulle nageslag moes tot in die derde geslag uit die gemeenskap uitgesluit word. (Deuteronomium 23:7,8). PeP 351.2

Die strengste reinheid, sowel as streng orde regdeur die kamp en sy omgewing is beveel. Deeglike sanitêre regulasies is afgedwing. Elke persoon wat om watter rede ook onrein was, is belet om in die laer in te kom. Hierdie maatreëls was onontbeerlik vir die behoud van gesondheid van so ‘n groot menigte; en dit was ook noodsaaklik dat volkome orde en reinheid gehandhaaf word, sodat Israel die teenwoordigheid van ‘n heilige God kon geniet. Daarom het Hy gesê: “Want die Here jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie. ” PeP 351.3

Op al die reise van Israel, het “...die verbondsark van die Here voor hulle uitgetrek om vir hulle ‘n rusplek uit te soek.” (Numeri 10:33). Die gewyde kis wat God se heilige wet bevat, gedra deur die seuns van Kehat, moes die optog lei. Moses en PeP 351.4

Aaron het voor hulle geloop en die priesters met die silwertrompette was naby gestasioneer. Die priesters het aanwysings van Moses, wat hulle deur trompette aan die mense oorgedra het, ontvang. Dit was die plig van die leiers van elke groep om bepaalde aanwysings aangaande hulle bewegings te gee, soos deur die trompette aangedui. Wie ook nagelaat het om aan die aanwysings te voldoen, is met die dood gestraf. PeP 352.1

God is ‘n God van orde. Alles wat met die hemel verband hou, is in volmaakte orde; onderdanigheid en deeglike dissipline kenmerk die bewegings van die engeleskare. Sukses kan alleenlik deur orde en samehorige optrede bereik word. God vereis tans, geensins minder as in die dae van Israel nie, orde en stelselmatigheid in Sy werk. Almal wat vir Hom werk, moet met intelligensie werk, nie op ‘n nalatige, lukrake wyse nie. Hy wil hê Sy werk moet met getrouheid en presisie gedoen word, sodat Hy die stempel van Sy goedkeuring daarop kan plaas. PeP 352.2

God het Israel self op al hulle reise gelei. Die plek waar hulle moes laer opslaan, is aangedui wanneer die wolkkolom neergedaal en tot rus gekom het; en vir so lank as wat hulle daar moes bly, het die wolk oor die tabernakel gerus. Wanneer hulle verder moes reis, het dit hoog bokant die heilige tent opgestyg. ‘n Plegtige oproep op die Here het beide die aankoms en vertrek gekenmerk. “En as die ark wegtrek, het Moses gesê: Staan op, Here, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug. En as dit rus, het hy gesê: Keer terug, Here, na die tienduisende van die duisende van Israel!” (Numeri 10:35,36). PeP 352.3

Die afstand van Sinai na Kades op die grens van Kanaan, was slegs ‘n reis van elf dae ver; en dit was met die vooruitsig om spoedig die goeie land te betrek, wat die skare van Israel, toe die wolk uiteindelik die finale sein vir verdere beweging gee, hulle reis hervat het. Jehova het wondere verrig om hulle uit Egipte uit te lei en watter seëninge kon hulle nie nou verwag, nadat hulle ‘n plegtige verbond aangegaan het om Hom as hulle Koning aan te neem en as die uitverkore volk van die Allerhoogste erken is nie? PeP 352.4

Tog was dit amper met onwilligheid wat baie van hulle die plek waar hulle vir so lank gekampeer het, verlaat het. Hulle het dit al byna as hulle tuiste beskou. Binne die beskerming van PeP 352.5

daardie graniet mure het God Sy volk van die ander nasies afgesonder om Sy heilige wet aan hulle te herhaal. Hulle het graag opgekyk na die grys pieke en kaal rante van die heilige berg waar die Goddelike Heerlikheid so dikwels geopenbaar is. Die toneel was so intiem verwant aan die teenwoordigheid van God en die heilige engele, dat dit vir hulle voorgekom het asof dit té heilig was om onbedag of selfs met blydskap verlaat te word. PeP 353.1

Toe die trompetblasers egter die sein gee, het die hele laer vertrek, met die tabernakel wat in die middel gedra word en elke stam in sy aangewese plek onder sy eie vaandel. Elke oog het angstig gekyk om te sien in watter rigting die wolk hulle sou lei. Toe dit na die ooste beweeg waar daar net saamgepakte swart en verlate berg massas was, het daar in baie harte ‘n gevoel van hartseer en twyfel ontstaan. PeP 353.2

Hoe verder hulle getrek het, hoe moeiliker het die pad geword. Hulle pad het deur rotsagtige klowe en kaal vlaktes gegaan. Rondom hulle was ‘n groot wildernis, “...“n land van wildernis en kuile, ‘n land van droogte en doodskaduwee, ‘n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie.” (Jeremía 2:6). Die rotsagtige klowe, ver en naby, was verdring met mans, vroue en kinders, met diere en waens en troppe kleinvee en beeste. Hulle vordering was noodwendig stadig en moeisaam; en die menigtes, na hulle lang kampering, was nie gereed om die gevare en ongeriewe van die pad te verduur nie. PeP 353.3

Na ‘n driedaagse reis is openlike klagtes gehoor. Hierdie klagtes het eers van die gemengde skare af gekom, van wie baie hulle nog nie heeltemal met Israel vereenselwig het nie en gedurig op die uitkyk was vir iets om af te keur. Die klaers was ontevrede oor die rigting waarin hulle getrek het en hulle het voortdurend fout gevind met die manier waarop Moses hulle gelei het, alhoewel hulle goed geweet het dat hy, net soos hulle, die leiding van die wolk gevolg het. Ontevredenheid is aansteeklik en dit het spoedig deur die laer getrek. PeP 353.4

Weer het hulle begin aandring op vleis om te eet. Hoewel hulle oorvloediglik van manna voorsien is, was hulle nie tevrede nie. Gedurende hulle slawerny in Egipte was die Israeliete verplig om die eenvoudigste voedsel te nuttig; maar toe het hulle belustigheid, wat deur ontbering en harde arbeid opgewerk is, PeP 353.5

dit smaaklik gemaak. Baie van die Egiptenare wat egter by hulle was, was aan ‘n weelderige dieet gewoond; en hulle was die eerstes wat begin kla het. Met die gee van die manna, net voor Israel Sinai bereik het, het die Here aan hulle, in antwoord op hulle lawaaierige versoeke, vleis ook gegee; maar dit was net vir een dag voorsien. PeP 354.1

Die Here kon hulle net so maklik van vleis as van manna voorsien het, maar vir hulle eie beswil, is ‘n beperking op hulle geplaas. Dit was Sy bedoeling om hulle van voedsel wat meer gepas vir hulle behoeftes was te voorsien, as die koorsagtige dieet waaraan hulle in Egipte gewoond geraak het. Die bedorwe belustigheid moes in ‘n gesonder toestand omskep word, sodat hulle die voedsel wat oorspronklik vir die mens bedoel was, kon geniet-die vrugte van die aarde wat God in Eden aan Adam en Eva gegee het. Dit was om hierdie rede dat Israel in ‘n groot mate dierevoedsel ontsê is. PeP 354.2

Die Satan het hulle in versoeking gebring om hierdie beperking as onregverdig en wreed te beskou. Hy het hulle lus vir die verbode dinge aangewakker omdat hy gesien het dat die onbeteuelde bevrediging van belustigheid geneig sou wees om sensualiteit voort te bring en op hierdie wyse kon die mense makliker onder sy beheer gebring word. Die outeur van siektes en ellende sal mense aanval waar hy die grootste welslae kan behaal. Deur sy versoekings op die belustigheid toe te spits, het hy tot ‘n groot mate daarin geslaag om mense tot sonde te verlei, vanaf die tyd dat hy Eva oorreed het om die verbode vrug te eet. Dit was deur hierdie selfde metode wat hy Israel gelei het om teen God te murmureer. Oormatigheid in voedsel en drank wat, soos dit wel doen, lei tot laer passies, berei die weg voor vir mense om alle morele vereistes te verontagsaam. Wanneer versoekings hulle oorval, het hulle weinig krag om weerstand te bied. PeP 354.3

God het Israel uit Egipte uitgelei sodat Hy hulle as ‘n rein, heilige en gelukkige volk in Kanaan kon vestig. Om daardie doel te bereik, het Hy hulle aan dissipline onderwerp wat vir die beswil van beide hulle en hulle nageslag was. Indien hulle, gehoorsaam aan Sv wyse beperkinge, gewillig was om hulle belustigheid te bedwing, sou swakheid en siekte onder hulle onbekend gewees het. Hulle nageslag sou beide liggaamlik en verstandelik sterk gewees het. Hulle sou duidelike persepsies PeP 354.4

van waarheid en plig, skerp onderskeiding en gesonde oordeel gehad het. Maar hulle onwilligheid om hulle aan die beperkinge en eise van God te onderwerp, het hulle tot ‘n groot mate verhinder om die hoë standaard te bereik wat Hy vir hulle begeer het en om die seëninge te ontvang wat Hy gereed was om aan hulle te skenk. PeP 355.1

Die psalmdigter sê: “En hulle het God versoek in hul hart, deur voedsel te vra na hulle sin. En hulle het teen God gespreek. Hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn? Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het-sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk? Daarom het die Here gehoor en toornig geword en ‘n vuur is aangesteek teen Jakob en toorn het ook opgegaan teen Israel.” (Psalm 78:18-21). Dikwels het daar gedurende die reis van die Rooi See na Sinai, klagtes en opstand ontstaan, maar omdat Hy hulle weens hulle onkunde en blindheid jammer gekry het, het God hulle nie vir hulle sonde gestraf nie. Maar sedertdien het Hy Hom by Horeb aan hulle geopenbaar. Hulle het groot lig ontvang toe hulle die majesteit, krag en genade van God sien; en hulle ongeloof en ontevredenheid het hulle daarom meer strafbaar gemaak. Boonop het hulle ‘n verbond aangegaan om Jehova as hulle Koning te aanvaar en om Sy gesag te eerbiedig. Nou was hulle murmurerings egter rebellie en as sodanig moes dit dadelik en daadwerklik gestraf word indien Israel teen wetteloosheid en ondergang beskerm moes word. “Die vuur van die Here het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer.” Die skuldigste onder die klaers is deur ‘n bliksem uit die wolk gedood. PeP 355.2

Vreesbevange het die volk gesmeek dat Moses vir hulle by die Here moes intree. Hy het dit gedoen en die vuur is geblus. Ter herdenking aan hierdie oordeel het hy die plek Tabera “brand,” of “brandplek” genoem. PeP 355.3

Maar die sonde het weldra toegeneem. In stede daarvan dat dit die oorlewendes tot vernedering en berou gelei het, het hierdie skrikwekkende oordeel hulle klagtes skynbaar net meer laat toeneem. Orals het die mense in die deure van hulle tente gestaan en ween en rou. “Die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons PeP 355.4

dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. Maar nou is ons siel dor; daar is glad niks nie: net die manna is voor ons oë.” Hierdeur het hulle hul misnoeë met die voedsel wat hulle Skepper vir hulle voorsien het, te kenne gegee. Tog het hulle voortdurende bewyse gehad dat dit vir hulle behoeftes aangepas is; want nieteenstaande die ontberings wat hulle moes verduur, was daar nie een onder al die stamme wat verswak was nie. PeP 356.1

Moses se moed het hom begeef. Hy het gesmeek dat Israel nie vernietig moes word nie, selfs al het dit beteken dat sy eie nageslag ‘n groot nasie sou word. Uit liefde vir hulle het hy gebid dat sy eie naam liewer uit die boek van die lewe uitgewis moes word, as wat hulle oorgelaat word om te vergaan. Hy het alles in gevaar vir hulle geplaas en dit was hulle reaksie. Al hulle ontberings, selfs hulle denkbeeldige swaarkry, het hulle op sy skouers geplaas; en hulle negatiewe klagtes het die las en verantwoordelikheid waaronder hy gesteier het, dubbel so swaar gemaak. In sy ontsteltenis was hy in die versoeking om selfs vir God te wantrou. Sy gebed was amper ‘n klagte: “Waarom het U U kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? .. Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet. Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.” PeP 356.2

Die Here het sy gebed verhoor en hom beveel om sewentig manne onder die oudstes van Israel te ontbied, manne wat nie net gevorderd in jare was nie, maar wat waardig was, van gesonde oordeel en ondervinding. Hy het gesê: “Bring hulle by die tent van samekoms, dat hulle daar by jou kan staan. Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie. ” PeP 356.3

Die Here het Moses toegelaat om self die mees getroue en doeltreffendste manne te kies om die verantwoordelikheid met hom te deel. Hulle invloed sou help om die geweld van die volk in toom te hou en ‘n einde te maak aan opstand; tog sou ernstige euwels op hulle bevordering volg. Hulle sou nooit gekies gewees het as Moses se geloof, in verhouding met die bewyse PeP 356.4

wat hy van God se mag en goedheid gehad het, gemanifesteer het nie. Maar hy het sy eie laste en dienste vergroot en byna die feit uit die oog verloor dat hy slegs die instrument was waardeur God gewerk het. Hy was onverskoonbaar deur in die geringste graad toe te gee aan die gees van murmurering wat die vloek van Israel was. As hy ten volle op God vertrou het, sou die Here hom voortdurend gelei en aan hom die krag vir elke noodgeval gegee het. PeP 357.1

Moses is aanbeveel om die volk voor te berei vir wat God op die punt was om vir hulle te doen. “Heilig julle teen more; dan sal julle vleis eet. Want julle het voor die ore van die Here geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet?-want dit was vir ons goed in Egipte. Daarom sal die Here vir julle vleis gee en julle sal eet. Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie-'n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die Here wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?.” PeP 357.2

Moses het uitgeroep: “Seshonderd-duisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee en hulle sal ‘n hele maand lank eet! Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word?” PeP 357.3

Hy is vir sy wantroue bestraf: “Sou die hand van die Here te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie. ” PeP 357.4

Moses het die woorde van die Here aan die volk herhaal en die aanstelling van die sewentig oudstes afgekondig. Die groot leier se opdrag aan hierdie gekose manne mag goed dien as ‘n model vir geregtelike eerbaarheid vir hedendaagse regters en wetgewers: “Neem julle broeders in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God.” (Deuteronomium 1:16,17). PeP 357.5

Moses het nou die sewentig na die tabernakel ontbied. “Daarop het die Here neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle PeP 357.6

rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.” Soos die dissipels op die dag van die Pinksterfees, is hulle toegerus “...met krag uit die hoogte.” Dit het die Here behaag om hulle op hierdie wyse vir hulle werk voor te berei en om hulle in die teenwoordigheid van die vergadering te vereer, sodat daar vertroue in hulle gestel kon word as manne wat deur God gekies is om met Moses verenig in die regering van Israel. PeP 358.1

Weer het die leidsman bewys gelewer van sy verhewe, onbaatsugtige gees. Twee van die sewentig wat nederig hulself as onwaardig beskou het vir so ‘n verantwoordelike posisie, het nie by die broeders by die tabernakel aangesluit nie; maar die Gees van die Here het, waar hulle was, oor hulle gekom en hulle het ook die profetiese gawe ontvang. Toe Josua hiervan in kennis gestel is, het hy besluit om hierdie onreëlmatigheid te keer, omdat hy gevrees het dat dit verdeeldheid mag veroorsaak. Ywerig vir die eer van sy meester, het hy gesê: “My heer Moses, belet hulle dit!” Die antwoord was: “Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die Here maar profete was, dat die Here Sy Gees oor hulle mag gee.” PeP 358.2

“n Sterk wind wat van die see af gewaai het, het nou swerms kwartels aangebring, “...omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.” (Numeri 11:31). Regdeur die dag en deur die nag, het die volk gearbei om voedsel, wat deur ‘n wonderwerk voorsien is, in te samel. Enorme hoeveelhede is ingesamel. “Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel.” Wat nie vir onmiddellike gebruik nodig was nie is gedroog, sodat die voorraad, soos voorspel is, genoeg was vir ‘n volle maand. PeP 358.3

God het aan die volk dít gegee wat nie tot hul beste voordeel was nie, omdat hulle volgehou het om dit te begeer; hulle sou nie tevrede wees met die dinge wat voordelig vir hulle sou wees nie. Hulle opstandige begeertes is bevredig, maar hulle sou die gevolge dra. Hulle het sonder selfbeheersing gesmul en hulle oordadigheid sou spoedig gestraf word. “Die Here het onder die volk ‘n baie groot slagting teweeggebring.” Groot getalle is deur ‘n brandende koors neergevel, terwyl die mees skuldigste getref is sodra hulle aan die voedsel waarna hulle gesmag het, geproe het. PeP 358.4

By Haserot, die volgende kampeerplek nadat hulle Tabera verlaat het, het ‘n meer bittere beproewing op Moses gewag. Aaron en Mirjam het ‘n hoogs eerbare posisie van leierskap in Israel beklee. Albei was bedeeld met die gawe van profesie en albei is Goddelik met Moses verbind in die verlossing van die Hebreërs. “Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aaron en Mirjam...” (Miga 6:4) was die woorde van die Here deur die profeet Miga. Mirjam se sterk karakter is reeds vroeg aan die dag gelê toe sy by die Nyl gewaak het oor die mandjie waarin die baba Moses versteek was. God het haar selfbeheersing en takt gebruik om instrumenteel te wees om die verlosser van Sy volk te bewaar. Ryklik bedeeld met die gawes van poësie en musiek, het Miriam die vroue van Israel in sang en dans gelei op die oewers van die Rooi See. In die toegeneentheid van die volk en die eer van die Hemel, was sy slegs tweede naas Moses en Aaron. Maar dieselfde euwel wat eers onmin in die hemel veroorsaak het, het in die hart van hierdie vrou van Israel ontstaan en dit het haar nie lank geneem om ‘n simpatiseerder met haar ontevredenheid te vind nie. PeP 359.1

Aaron en Mirjam is nie oor die aanstelling van die sewentig oudstes geraadpleeg nie en hulle afguns teenoor Moses het ontvlam. Tydens Jetro se besoek, terwyl die Israeliete onderweg was na Sinai, het Moses se geredelike aanvaarding van die raad van sy skoonvader, die vrees laat ontstaan dat hy ‘n groter invloed as hulle oor die groot leier gehad het. Met die aanstelling van die raad van die oudstes het hulle gevoel dat hulle posisie en gesag verontagsaam is. Mirjam en Aaron het nooit die gewig van die sorg en verantwoordelikheid wat op Moses se skouers gerus het geken nie; en tog, omdat hulle gekies is om hom by te staan, het hulle hulself met die las van leierskap, as gelykstaande aan hom beskou en hulle het die aanstelling van verdere assistente as ongevraagd beskou. PeP 359.2

Moses het die belangrikheid van die groot werk wat aan hom opgedra was soos geen ander mens ervaar nie. Hy was bewus van sy eie swakheid en het God sy Raadgewer gemaak. Aaron het ‘n groter dunk van homself gehad en het minder op God vertrou. Hy het misluk toe verantwoordelikheid aan hom toevertrou is, wat deur sy veragtelike toegewing aan die afgodiese aanbidding by Sinaï, getuig het van die swakheid van sy karakter. Maar deur hulle afguns en eersug verblind, het PeP 359.3

Mirjam en Aaron heeltemal hiervan vergeet. Aaron is hoog deur God vereer deur die aanstelling van sy familie in die gewyde amp van priesterskap; tog het selfs dít nou tot die begeerte vir selfverheffing bygedra. “En hulle het gesê: Het die Here dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie?” Omdat hulle hulself as op gelyke vlak in die guns van God beskou het, het hulle gevoel dat hulle op dieselfde posisie en gesag geregtig was. PeP 360.1

Mirjam het toegegee aan die gees van ontevredenheid en het rede gevind om te kla oor gebeure wat God spesifiek deur God verwerp is. Moses se huwelik was vir haar onaanvaarbaar. Dat hy verkies het om met ‘n vrou van ‘n ander nasie te trou, in stede van ‘n Hebreeuse vrou, was vir haar en haar familie se nasionale trots aanstootlik. Sippora is met swak verbloemde minagting bejeën. PeP 360.2

Hoewel daar na haar as ‘n “Kusitiese vrou” verwys word (Numeri 12:1), was Moses se vrou ‘n Midianiet en daarom ‘n afstammeling van Abraham. Wat haar persoonlike voorkoms betref, was sy anders as die Hebreërs omdat sy ‘n ietwat donkerder gelaatskleur as hulle gehad het. Hoewel sy nie ‘n Israeliet was nie, was sy ‘n aanbidder van die ware God. Sy was skaam en terughoudend van geaardheid, saggeaard en liefdevol en hewiglik ontsteld ten aanskoue van lyding; en dit was om hierdie rede dat Moses, terwyl hy na Egipte onderweg was, ingestem het dat sy na Midian terugkeer. Hy wou haar die pyn om die oordele wat oor die Egiptenare sou kom te aanskou, bespaar. PeP 360.3

Toe Sippora weer in die woestyn by haar man aangesluit het, het sy gesien dat sy laste hom van sy krag ontneem het en sy het haar vrese aan Jetro bekend gemaak, wat maatreëls voorgestel het vir sy verligting. Dit was die hoofrede vir Mirjam se weersin teen Sippora. Gepynig deur die sogenaamde verontagsaming van haarself en Aaron, het sy Moses se vrou beskou as die oorsaak en tot die gevolgtrekking gekom dat haar invloed hom verhoed het om hulle, soos voorheen, by sy beraadslagings te betrek. As Aaron toe opgestaan het vir wat reg was, sou hy moontlik die boosheid kon keer; maar in stede daarvan om Mirjam op die sondigheid van haar optrede te wys, PeP 360.4

het hy meegevoel met haar betoon, na haar klagtes geluister en sodoende in haar jaloesie begin deel. PeP 361.1

Moses het Aaron en Mirjam se beskuldigings, sonder om te kla en in stilte, aangehoor. Dit was die ondervinding wat hy deur die jare van moeite en gewag in Midian opgedoen het-die gees van nederigheid en lankmoedigheid-wat Moses voorberei het om met geduld die ongeloof en murmurering en die trots en jaloesie van hulle, wat sy onwankelbare helpers moes wees, te hanteer. “Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem...” en dit is waarom hy Goddelike wysheid en leiding bo alle ander ontvang het. Die Skrifwoord sê: “Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer.” (Psalm 25:9). Die ootmoediges word deur die Here gelei omdat hulle leergierig en gewillig is om onderrig te word. Hulle het ‘n opregte begeerte om die wil van God te ken en dit te doen. Die Verlosser het beloof: “As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet.” (Johannes 7:17). En deur die apostel Jakobus sê Hy: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt en dit sal aan hom gegee word.” (Jakobus 1:5). Maar Sy belofte is net vir diegene wat gewillig is om die Here ten volle te volg. God dwing niemand nie en daarom kan Hy nie diegene wat te trots is om hom te laat leer, lei nie. Van die dubbelhartige mens, hy wat streef om sy eie wil te volg terwyl hy beweer dat hy die wil van God doen, word daar geskrywe: “Die mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.” (Jakobus 1:7). PeP 361.2

God het Moses gekies en Sy Gees oor hom uitgestort; en Mirjam en Aaron, deur hulle murmureringe, het hulle skuldig aan dislojaliteit gemaak, nie net teenoor hulle aangestelde Ieier nie, maar teenoor God self. Die opruiende fluisteraars is na die tabernakel ontbied om Moses van aangesig tot aangesig te ontmoet. “En die Here het in ‘n wolkkolom neergedaal en by die ingang van die tent gaan staan. Daarna het Hy Aaron en Mirjam geroep.” God het hulle eis dat hulle die gawe van profesie gehad het, nie ontken nie; Hy kon deur visioene en drome tot hulle gespreek het. Maar met Moses, van wie die Here self gesê het: “In my hele huis is hy getrou,” het Hy meer intiem verkeer. Met hom het God mond tot mond gespreek. “Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie? En PeP 361.3

die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en Hy het weggegaan.” Die wolk het verdwyn van die tabernakel as teken van God se misnoeë en Mirjam is getref. Sy was “...melaats, soos sneeu.” Aaron is gespaar, maar Mirjam se straf was vir hom ‘n streng bestraffing. Noudat hulle trots tot in die stof verneder was, het Aaron hulle sonde bely en gesmeek dat sy suster tog nie oorgelaat moes word om van daardie walglike en dodelike plaag te sterf nie. In antwoord op die gebed van Moses is die melaatsheid gereinig. Mirjam was egter sewe dae lank uit die laer verban. Eers nadat sy verban is, het die simbool van God se guns weer op die tabernakel gerus. Uit agting vir haar hoë posisie en in rou oor die slag wat haar getref het, het die hele vergadering in Haserot gebly en gewag op haar terugkeer. PeP 362.1

Die openbaring van God se misnoeë was bedoel om vir die hele Israel ‘n waarskuwing te wees om die toenemende gees van ontevredenheid en opstandigheid te keer. As Mirjam se afguns en ontevredenheid nie daadwerklik bestraf was nie, kon dit ‘n groter kwaad meegebring het. Afguns is een van die mees sataniese eienskappe wat in die mensehart kan bestaan en een van die mees verderflikste in die uitwerking daarvan. Die wyse man sê: “Woede is wreed en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?” (Spreuke 27:4). Dit was afguns wat eerstens onenigheid in die hemel veroorsaak het en toegewing daaraan het ongeëwenaarde kwaad onder die mensdom aangerig. “Waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” (Jakobus 3: 16). PeP 362.2

Om kwaad van ander te praat of om onsself as regters oor hulle motiewe of optrede aan te stel, moenie ligtelik opgeneem word nie. “Die wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ‘n dader van die wet nie, maar ‘n regter.” (Jakobus 4:11). Daar is net een Regter; Hy “...wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak.” (1Korinthiërs 4:5). En wie dit ook al op homself neem om te oordeel en te veroordeel, matig homself die voorregte van die Skepper aan. PeP 362.3

Die Bybel vermaan ons om veral versigtig te wees dat ons nie ligtelik ‘n beskuldiging inbring teen diegene wat God as Sy afgevaardigdes geroep het nie. Die apostel Petrus beskryf ‘n klas wat hulle aan die sonde oorgegee het en sê: “Vermetel en PeP 362.4

aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.” (2 Petrus 2:10,11). En Paulus sê aan diegene wat oor die gemeente aangestel is: “Moenie ‘n beskuldiging teen ‘n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie.” (1 Timotheus 5:19). Hy wat op die leiers en leraars van Sy volk ‘n swaar verantwoordelikheid gelê het, sal die volk verantwoordelik hou vir die manier waarop hulle Sy dienaars behandel. Ons moet hulle wat deur God vereer is, vereer. Die oordeel wat oor Mirjam uitgespreek is, behoort vir almal wat aan jaloesie toegee en murmureer teen diegene op wie God die las van Sy werk gelê het, ‘n bestraffing te wees. PeP 363.1