Patriarge en Profete

33/75

Hoofstuk 31—Die Sonde van Nadab en Abihu

(Hierdie hoofstuk berus op Levitikus 10:1-11) PeP 333.1

NADAT die tabernakel ingewy was, is die priesters in hulle heilige amp ingeseën. Hierdie dienste het sewe dae in beslag geneem, elke dag gekenmerk deur ‘n spesiale seremonie. Op die agtste dag het hulle tot hulle bediening toegetree. Deur sy seuns bygestaan, het Aaron die offers wat God vereis het, geoffer en toe het hy sy hande opgehef en die volk geseën. Alles is volgens die bevel van God gedoen en Hy het die offer aanvaar en Sy heerlikheid op ‘n merkwaardige wyse geopenbaar; vuur het van die Here neergedaal en die offer op die altaar verteer. Die volk het hierdie buitengewone openbaring van Die krag van God met ontsag en diepe belangstelling aanskou. Hulle het dit as ‘n teken van die heerlikheid en guns van God aanvaar en het almal saam gejuig en op hulle aangesigte neergeval asof hulle in die onmiddellike teenwoordigheid van Jehova was. PeP 333.2

Maar kort daarna het ‘n skielike en verskriklike ramp die gesin van die hoëpriester getref. Tydens die uur van aanbidding, terwyl die gebede en lofbetuigings van die volk tot God opgestyg het, het twee van Aaron se seuns elk ‘n wierookbak geneem en daarop wierook gebrand om ‘n soete geur voor die Here op te stuur. Maar hulle het Sy bevel oortree deur “vreemde vuur” te gebruik. Om die wierook te brand het hulle gewone vuur geneem in stede van die heilige vuur wat die Here self aangesteek het en wat Hy beveel het vir daardie doel aangewend moes word. As gevolg van daardie sonde het ‘n vuur van die Here af uitgegaan en hulle voor die oë van die volk verteer. PeP 333.3

Naas Moses en Aaron het Nadab en Abihu die hoogste in Israel gestaan. Die Here het aan hulle ‘n besondere eer bewys deurdat Hy hulle toegelaat het om Sy heerlikheid saam met die sewentig oudstes op die berg te aanskou. Maar daarom kon hulle oortreding nie verskoon of ligtelik opgeneem word nie. Dit het hulle sonde soveel ernstiger gemaak. Omdat die mense groot lig ontvang het, omdat hulle soos die vorste van Israel op die berg geklim en die voorreg gehad het om met God gemeenskap te hou en in die lig van Sy heerlikheid te wandel, PeP 333.4

moes hulle nie hulself vly dat hulle daarna strafloos kon sondig nie en dat, omdat hulle op hierdie wyse vereer is, God hulle nie sou straf vir hulle ongeregtigheid nie. Dit is ‘n noodlottige misleiding. Die groot lig en voorregte wat geskenk is, vereis ‘n vergoeding van deug en heiligheid wat ooreenstem met die lig wat gegee is. Enigiets minder is onaanvaarbaar vir God. Groot seëninge en voorregte moet mens nooit tot so ‘n mate gerusstel dat hy veilig voel of onverskillig word nie. Die ontvanger mag nooit vry voel om te sondig of dink dat God nie streng teenoor hom sal optree nie. Al die voorregte wat God gegee het, is Sy metode om entoesiasme in die gees, ywer in die poging en kragdadigheid in die uitvoer van Sy heilige wil aan te moedig. PeP 334.1

Nadab en Abihu is nooit in hul jeugjare gewoontes van selfbeheersing geleer nie. Hulle vader se toegeeflikheid, sy gebrek aan standvastigheid ten opsigte van wat reg is, het daartoe aanleiding gegee dat hy nie sy seuns gedissiplineer het nie. Sy seuns is toegelaat om hulle eie wil te volg. Gewoontes van selfbevrediging wat lank gekoester is, het so ‘n houvas op hulle gekry dat selfs die verantwoordelikheid van die mees heiligste amp nie die mag daarvan kon verbreek nie. Hulle is nie geleer om hulle vader se gesag te eerbiedig nie en hulle het nie die noodsaaklikheid om die vereistes van God noukeurig te gehoorsaam, in ag geneem nie. Aaron se verkeerdelike toegeeflikheid aan sy seuns het hulle die voorwerpe van die Oordeel van God gemaak. PeP 334.2

God se doel was om die volk te leer dat hulle Hom met eerbied en ontsag moes nader en op die spesifieke wyse wat Hy self voorgeskryf het. Hy kan nie gedeeltelike gehoorsaamheid aanvaar nie. Dit was nie genoeg dat in hierdie plegtige tyd van aanbidding, alles amper gedoen was soos Hy aanbeveel het nie. God het ‘n vloek uitgespreek oor diegene wat van Sy gebooie afwyk en geen onderskeid gemaak tussen gewone en heilige dinge nie. Deur die profeet het Hy gesê: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis ... Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is ... Wee hulle wat vir ‘n omkoop geskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem omdat hulle die wet van die Here van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.” (Jesaja 5:20-24). Laat niemand homself in die geloof PeP 334.3

mislei dat ‘n deel van God se gebooie onsinnig is nie, of dat Hy ‘n plaasvervanger vir Sy vereistes sal aanvaar nie. Die profeet Jeremia het gesê: “Wie spreek daar en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?” (Klaagliedere 3:37). God het geen bevel in Sy Woord gegee wat ‘n mens na willekeur moet of nie moet gehoorsaam nie en nie die gevolge dra nie. As mense enige ander weg as die weg van strenge gehoorsaamheid verkies, sal hulle vind dat “...die einde daarvan is weë van die dood.” (Spreuke 14:12). PeP 335.1

“Daarop sê Moses aan Aaron en sy seuns Eleasar en Itamar: Laat julle hare nie loshang nie en maak geen skeure in julle klere nie, dat julle nie sterwe nie want die salfolie van die Here is op julle.” Die groot leier het sy broer aan die woorde van God herinner: “In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik.” Aaron het nie geantwoord nie. Die dood van sy twee seuns wat sonder waarskuwing neergevel is terwyl hulle so ‘n verskriklike oortreding begaan het, ‘n sonde wat hy nou besef het die gevolg van sy eie pligsversuim was, het die vader se hart met droefheid deurpriem, maar hy het geen uiting aan sy gevoelens gegee nie. Deur geen manifestasie van droefheid kon hy laat blyk dat hy met sonde simpatiseer nie. Die vergadering moes nie gelei word om teen God te murmureer nie. PeP 335.2

God wil Sy volk leer om die geregtigheid van Sy tugtigings te erken sodat ander ook kan vrees. Daar was diegene in Israel wat deur die waarskuwing van hierdie vreeslike oordeel, daarvan weerhou sou kon word om hulle nie met God se lankmoedigheid te misgis nie, sodat hulle nie ook hulle eie lot verseël nie. Die Goddelike bestraffing is op die valse medelye van die sondaar wat poog om sy sonde te verskoon. Dit is die effek van sonde wat die morele persepsies so afstomp, dat die oortreder nie die enormiteit van sy oortreding besef nie en sonder die oortuigende krag van die Heilige Gees, bly hy gedeeltelik blind vir sy sonde. Dit is die plig van Christus se diensknegte, om hierdie dwalende persone op hulle gevaar te wys. Diegene wat die uitwerking van die waarskuwing verontagsaam deur die oë van sondaars vir die ware aard en gevolge van sonde te verblind, vlei hulleself dat dit ‘n bewys is van hulle welwillendheid; maar hulle werk regstreeks teen en verhinder die werk van God se Heilige Gees; hulle stel die PeP 335.3

sondaar, wat op die rand van verwoesting is, gerus; hulle maak hulself deelgenote aan sy skuld en neem op hulself ‘n vreesaanjaende verantwoordelikheid vir sy vermetelheid. Menigtes is as gevolg van sulke valse en misleidende medelye tot die verderf gedoem. PeP 336.1

Nadab en Abihu sou nooit daardie dodelike sonde begaan het as hulle nie gedeeltelik onder die invloed van die vrylike gebruik van wyn was nie. Hulle het geweet dat die mees noukeurige en plegtige voorbereiding nodig was voordat hulle hul by die heiligdom, waar die Heilige Teenwoordigheid gemanifesteer was, kon aanmeld; maar deur oormatigheid was hulle ongeskik vir hulle heilige amp. Hulle sinne was verward en hulle morele persepsies was afgestomp, sodat hulle nie die verskil tussen heilige en gewone dinge kon onderskei nie. Aan Aaron en sy oorlewende seuns is die waarskuwing gegee: “Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die tent van samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; ‘n ewige insetting is dit vir julle geslagte; en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig en tussen wat onrein en wat rein is; en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat die Here deur die diens van Moses aan hulle verkondig het.” Die gebruik van alkoholiese drank verswak die liggaam, verwar die verstand en verlaag die sedes. Dit verhinder mense om die heiligheid van heilige dinge te besef, of die bindende krag van God se vereistes. Almal wat posisies van heilige verantwoordelikhede beklee het, moes mense van streng selfbeheersing wees, sodat hulle verstand helder kon wees om te onderskei tussen reg en verkeerd, dat hulle beginselvas moes wees en wysheid moes hê om geregtigheid toe te pas en genade te betoon. PeP 336.2

Dieselfde verantwoordelikheid rus op elke volgeling van Christus. Die apostel Petrus verklaar: “Julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry.” (1 Petrus 2:9). God vereis van ons dat ons elke bevoegdheid in die beste toestand moontlik moet bewaar, sodat ons aanvaarbare diens aan ons Skepper kan lewer. Wanneer bedwelmende drank gebruik word, sal dit dieselfde tot gevolg hê soos in die geval van daardie priesters van Israel. Die gewete sal sy sensitiwiteit vir sonde verloor en ‘n proses van verhardheid in ongeregtigheid sal gewis plaasvind, totdat die verskil tussen PeP 336.3

die gewone en die heilige dinge alle betekenis verloor. Hoe kan ons dan aan die standaard van die Vereistes van God voldoen? “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Korinthiërs 6:19,20). “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1 Korinthiërs 10:31). Aan die kerk van Christus deur al die eeue, word die volgende plegtige en vreesaanjaende waarskuwing gerig: “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle. ” (1 Korinthiërs 3:17). PeP 337.1