Patriarge en Profete

32/75

Hoofstuk 30—Die Tabernakel en die Dienste

(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 25 tot 40; Levitikus 4 en 16) PeP 318.1

Terwyl Moses by God op die berg was, het die Here hom beveel: “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon;” en volledige voorskrifte is vir die oprigting van die tabernakel aan hom gegee. Deur hulle afvalligheid het die Israeliete die seën van die Teenwoordigheid van God verbeur en vir ‘n tyd was dit onmoontlik om vir God ‘n heiligdom in hulle midde op te rig. Maar nadat hulle weer in die guns van die Hemel herstel was, het die groot leier voortgegaan om die Goddelike bevel uit te voer. PeP 318.2

Gekose manne is deur God met die nodige vaardigheid en wysheid bedeel sodat hulle die heilige gebou kon oprig. God het self die plan vir die struktuur aan Moses gegee, tesame met spesifieke aanwysings ten opsigte van die grootte, die boustowwe wat gebruik moes word en elke meubelstuk wat daarvoor bestem was. Die heilige plekke wat met hande gemaak was, moes “...“n teëbeeld van die ware” wees, “...afbeeldinge van die dinge in die hemele” (Hebreërs 9:24,23) -'n namaaksel in die kleine van die hemelse tempel waar Christus, ons groot Hoëpriester, ten behoewe van sondaars sou dien nadat Hy Sy lewe as offer gegee het. Op die berg het God vir Moses die hemelse heiligdom laat aanskou en hom beveel om alles volgens die patroon wat aan hom getoon is, te maak. Al hierdie aanwysings is versigtig deur Moses opgeteken en aan die leiers van die volk oorgedra. PeP 318.3

Vir die bou van die heiligdom, was grootskaalse en duur voorbereiding nodig; ‘n groot hoeveelheid van die mees kosbaarste en duurste stowwe is vereis; maar die Here het slegs vrywillige offergawes aanvaar. “Van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring...” was die bevel van God wat Moses aan die volk oorgedra het. Toewyding aan God en ‘n gees van opoffering was die eerste vereistes om ‘n woonplek vir die Allerhoogste voor te berei. PeP 318.4

Al die mense het eenstemmig gereageer. “En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die Here gebring vir die PeP 318.5

werk aan die tent van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere; die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was; hulle het gespes en ringe en vingerringe en halssierade, allerhande goue goed, gebring.” PeP 319.1

“En elkeen wat ‘n offer van goud aan die Here gewy het en elkeen wat in besit was van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar en rooi geverfde ramsvelle en robbevelle, het dit gebring. Elkeen wat ‘n offergawe van silwer of koper kon aanbied, het die offergawe van die Here gebring; en elkeen wat akasiahout besit het, wat oral by die werk kon gebruik word, het dit gebring.” PeP 319.2

“En elke vrou wat kunsvaardig was, het met haar eie hande gespin en die spinsel gebring: die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne. En al die vroue wie se hart hulle opgewek het deur kunsvaardigheid, het die bokhaar gespin.” PeP 319.3

“En die owerstes het die oniksstene gebring en die stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas en die speserye en die olie vir die kandelaar en vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye.” (Exodus 35:23-28). PeP 319.4

Die volk, oud en jonk, manne, vroue en kinders, het steeds hulle offergawes gebring terwyl die oprigting van die heiligdom nog aan die gang was, totdat die werksmense bevind het dat daar genoeg was en selfs meer as wat hulle kon gebruik. En Moses het deur die laer laat verkondig: “Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met die offergawe vir die heiligdom nie. Toe het die volk opgehou om te bring.” Die murmurerings van die Israeliete en hoe God hulle weens hulle sondes gestraf het, is as waarskuwing aan die opvolgende geslagte opgeteken. En hulle toewyding, hulle ywer en hulle vrygewigheid is ‘n waardige voorbeeld om na te volg. Almal wat die aanbidding van God en die seën van Sy heilige teenwoordigheid liefhet, sal dieselfde gees van opoffering in die voorbereiding van ‘n huis waar Hy met hulle kan verkeer, aan die dag lê. Hulle sal begeer om van die heel beste wat hulle besit as offergawe aan die Here te bring. ‘n Huis wat vir God gebou word, moenie in skuld stagneer nie, want Hy word daardeur onteer. ‘n Bedrag wat voldoende is om die werk te voltooi moet vrywilliglik geskenk word, sodat die werksmense in staat sal PeP 319.5

wees om, soos die bouers van die tabernakel te kan sê: “Moenie meer offergawes bring nie.” PeP 320.1

Die tabernakel is so opgerig dat dit uitmekaar gemaak kon word, sodat die Israeliete dit maklik in al hulle reise kon vervoer. Daarom was dit klein, nie meer as 16,5 meter in lengte en 5,4 meter in breedte en hoogte nie. Nogtans was dit ‘n manjifieke struktuur. Die akasiahout wat vir die struktuur en die meubels gebruik is, was minder geneig tot verrotting as enige ander hout wat by Sinai verkry kon word. Die mure was van regop panele wat op silwer voetstukke gestaan het en deur pilare en verbindings stawe verstewig is; en alles was met goud oorgetrek, wat aan die struktuur die voorkoms van soliede goud verleen het. Die dak het uit vier stelle gordyne, waarvan die heel binneste van “...fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gerubs as kunstige werk” bestaan; die ander drie was onderskeidelik van bokhaar, rooi gekleurde ramsvelle en robvelle, wat op so ‘n wyse gerangskik is dat dit volkome beskerming gebied het. PeP 320.2

Die gebou is deur ‘n duursame en pragtige gordyn of voorhangsel wat aan vergulde pilare gehang het, in twee eenhede verdeel; en ‘n soortgelyke voorhangsel het die ingang van die eerste eenheid afgesluit. Hierdie, soos die binnenste bedekking, wat ook die plafon was, was van die pragtigste skakerings van blou-pers en purperrooi en bloedrooi, ingeweef met geborduurde gerubs van goud-en silwerdrade, om die engeleskare voor te stel wat by die werk van die hemelse heiligdom betrokke is en wat dienende geeste vir God se volk op aarde is. PeP 320.3

Die heiligdom is deur ‘n oop ruimte, wat die voorhof genoem is, ingesluit en is omsluit met gordyne of skerms van fyn linne wat aan geelkoper-pilare gehang het. Die ingang tot hierdie ruimte was aan die oostekant. Voor die ingang het gordyne van duursame materiaal en pragtige vakmanskap gehang, alhoewel nie van dieselfde kwaliteit as die van die heiligdom nie. Aangesien die gordyne van die voorhof die helfte so hoog was as die mure van die tabernakel, kon dit duidelik deur die mense aan die buitekant gesien word. In die voorhof, naaste aan die ingang, was die koper brandofferaltaar. Op hierdie altaar is al die brandoffers wat aan die Here gebring is verteer en aan die horings is die versoenende bloed gestryk. Tussen die altaar en PeP 320.4

die ingang tot die heiligdom was die waskom van geelkoper, waarvoor die vroue van Israel hulle spieëls as vrywillige offergawe gegee het. In daardie waskom moes die priesters hulle hande en hulle voete was so dikwels as wat hulle in die heiligdom ingegaan, of na die altaar gegaan het om brandoffers aan die Here te offer. PeP 321.1

In die eerste vertrek, of heilige plek, was die tafel met die toonbrode, die kandelaar, of lampstander en die wierookaltaar. Die tafel met die toonbrode het aan die noordekant gestaan. Dit is met suiwer goud oorgetrek en het ‘n sierkrans rondom gehad. Daarop moes die priesters elke Sabbat twaalf brode in twee stapels sit en wierook daarop plaas. Omdat die brode wat verwyder is, as heilig beskou is, moes net die priesters dit eet. Aan die suidekant was die kandelaar met sewe takke met sewe lampe. Die takke is met die pragtigste vergulde blomme in die vorm van lelies versier en die hele kandelaar is van een stuk goud gemaak. Omdat daar geen vensters in die tabernakel was nie, is die lampe nooit almal gelyktydig uitgedoof nie, maar hulle het hulle lig dag en nag gegee. Vlak voor die voorhangsel wat die heilige plek, van die allerheiligste plek en die onmiddellike teenwoordigheid van God geskei het, het die goue wierookaltaar gestaan. Op daardie altaar moes die priesters elke oggend en elke aand wierook brand; die bloed van die sondoffers is aan die horings gestryk en op die groot Versoendag is dit met bloed besprinkel. God het self die vuur op daardie altaar aangesteek en dit is as heilig gekoester. Dag en nag het die aroma van die heilige wierook die heilige vertrekke gevul en kon tot ver buite die tabernakel bespeur word. PeP 321.2

Agter die binnenste voorhangsel was die allerheiligste plek waar die simboliese versoeningsdiens en bemiddeling verrig is en wat die skakel tussen die hemel en aarde was. In daardie vertrek was die verbondsark, ‘n kis van akasiahout wat binne en buite met goud oorgetrek was en bo-op rondom ‘n goue sierkroon gehad het. Dit is as bewaarplek vir die kliptafels waarop God self die Tien Gebooie geskryf het gemaak. Daarom is dit die verbondsark genoem, omdat die Tien Gebooie die grondslag was van die verbond wat tussen God en Israel gesluit is. PeP 321.3

Die deksel van hierdie heilige kis is die versoendeksel genoem. Dit is van een stuk suiwer goud gemaak en weerskante was daar ‘n goue gerub. Een vlerk van elke engel is omhoog gelig en die ander het sy liggaam gedek, (sien Esegiël 1:11) om eerbied en nederigheid aan te dui. Die houding van die gerubs wat met hulle gesigte na mekaar toe gestaan en eerbiedig op die ark neergekyk het, was verteenwoordigend van die eerbied van die hemelinge vir die wet van God en hulle belangstelling in die verlossingsplan. PeP 322.1

Bokant die versoendeksel was die Sjekina, die openbaring van die Teenwoordigheid van God; en van tussen die twee gerubs het God Sy wil bekend gemaak. Boodskappe van God is soms deur die stem uit die wolk aan die hoëpriester meegedeel. Soms het ‘n lig op die regterkantse engel geskyn om goedkeuring of aanneemlikheid aan te dui, of ‘n skaduwee of wolk het die linkerkantse engel bedek om afkeur of verwerping aan te dui. PeP 322.2

Die wet van God wat binne-in die ark was, was die groot wet van geregtigheid en oordeel. Daardie wet het die oortreder tot die dood veroordeel, maar bokant die wet was die versoendeksel waarop die teenwoordigheid van God geopenbaar is en waarvandaan aan die boetvaardige sondaar, op grond van die versoening, vergifnis geskenk is. Deur Christus se verlossingswerk vir ons soos dit deur die diens van die heiligdom gesimboliseer word, waar “...goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; kus geregtigheid en vrede mekaar.” (Psalm 85:11). PeP 322.3

Geen woorde kan die heerlikheid van die toneel binne-in die heiligdom beskryf nie; die vergulde mure wat die lig van die goue kandelaar weerspieël het, die helder kleure van die ryk geborduurde voorhangsels met hulle glansende engele, die tafel en die wierookaltaar van glansende goud; agter die voorhangsel die heilige ark met sy mistieke gerubs en bo dit alles die heilige Sjekina, die sigbare openbaring van die teenwoordigheid van Jehova; alles net ‘n flou weerkaatsing van die heerlikhede van die tempel van God in die hemel, die groot middelpunt van die verlossingswerk vir die mensdom. PeP 322.4

Dit het ongeveer ses maande geneem om die tabernakel te bou. Toe dit klaar was, het Moses al die werk van die bouers PeP 322.5

ondersoek en dit vergelyk met die patroon wat op die berg aan hom getoon is en die aanwysings wat hy van God ontvang het. “Soos die Here beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën.” Met ywerige belangstelling het die Israeliete saamgedrom om die heilige struktuur te kom aanskou. Terwyl hulle met eerbiedige vreugde daarna gestaan en kyk het, het die wolkkolom op die heiligdom gaan rus en dit omhul. “En die heerlikheid van die Here het die tabernakel vervul.” Die majesteit van God is geopenbaar en ‘n tyd lank kon selfs Moses nie daar ingaan nie. Diep aangedaan, het die volk die teken dat die werk van hulle hande aanneemlik was aanskou. Daar was geen luidrugtige uitdrukking van blydskap nie. Plegtige ontsag het almal besiel. Maar die blydskap van hulle harte het in trane van vreugde opgewel en hulle het saggies ernstige woorde van dankbaarheid geuiter omdat God Hom verwerdig het om by hulle te woon. PeP 323.1

Deur Goddelike aanbeveling is die stam van Levi afgesonder vir die diens van die heiligdom. Vroeër was elke man die priester van sy huisgesin. In die dae van Abraham is die priesterskap as die geboortereg van die oudste seun beskou. In die plek van die eersgeborenes van die hele Israel het die Here nou die stam van Levi vir die werk van die heiligdom aanvaar. Deur hulle op hierdie besondere wyse te vereer het die Here Sy goedkeuring betuig vir hulle getrouheid aan Sy diens en hulle voltrekking van Sy oordeel toe Israel afvallig was en die goue kalf aanbid het. Die priesterskap is egter tot Aaron en sy nakomelinge beperk. Slegs Aaron en sy seuns is toegelaat om voor die Here te dien; die ander lede van die stam was verantwoordelik vir die tabernakel en die meubels en hulle moes die priesters in hulle bediening bystaan, maar hulle is nie toegelaat om te offer, wierook te brand of die heilige voorwerpe sonder dat dit bedek was te aanskou s nie. PeP 323.2

In ooreenstemming met hulle amp moes die priesters ‘n spesiale kleed dra. Die opdrag van God aan Moses was: “Jy moet vir jou broer Aaron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad.” Die gewone priester se kleed was van wit linne en is aaneen geweef. Dit het tot byna op die voete gereik en is om die middel gebind met ‘n wit linne gordel wat met pers, purperrooi en bloedrooi drade borduur is. Sy bokleed is afgerond met ‘n linne tulband. By die brandende bos is Moses beveel om sy PeP 323.3

sandale van sy voete af te haal omdat hy op heilige grond gestaan het. So kon ook die priesters nie met skoene aan hulle voete in die heiligdom ingaan nie. Die stofdeeltjies wat daaraan kleef sou die heilige plek ontheilig. Hulle moes hulle skoene in die voorhof laat voordat hulle die heiligdom betree en voordat hulle in die tabernakel of by die brandofferaltaar dien, moes hulle hulle hande en hulle voete was. So is voortdurend geleer dat elkeen wat die teenwoordigheid van die Here wou nader, van alle besoedeling ontslae moes raak. PeP 324.1

Die hoëpriester se klere was van duursame materiaal en pragtige vakmanskap om by sy hoë amp te pas. Behalwe die linnekleed van die gewone priester, het hy ook ‘n blou-pers kleed gedra wat aaneen geweef is. Rondom die soom was dit met goue klokkies en geborduurde granaatjies van pers, purperrooi en bloedrooi versier. Bo-oor moes hy ‘n skouerkleed dra. Dit was ‘n korter kledingstuk van goud, pers, purperrooi en bloedrooi en wit stof. Dit is ook met ‘n pragtige gordel van dieselfde stof om die lyf gebind. Die skouerkleed was sonder moue en op die skouer met die goue borduursel, is twee oniksstene geset met die name van die twaalf stamme van Israel daarop. PeP 324.2

Bo-oor die skouerkleed was die borstas, die heiligste priesterlike kleed. Dit was van dieselfde materiaal as die skouerkleed. Dit was in die vorm van ‘n vierkant wat ‘n span meet en is met ‘n blou-pers tou aan goue ringe geheg. Die soom is versier met ‘n verskeidenheid van kosbare gesteentes, dieselfde as die fondasie van die Stad van God. Binne die soom was twaalf stene wat in goud geset en in rye van vier gerangskik is en soos die skouerstukke, ook met die name van die twaalf stamme van Israel gegraveer. Die Here se opdrag was: “So moet Aaron dan die name van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om hulle in gedagtenis te bring voor die aangesig van die Here gedurigdeur.” (Exodus 28:29). So dra Christus, die groot Hoëpriester, die naam van elke boetvaardige, gelowige siel op Sy hart wanneer Hy, namens sondaars, Sy bloed voor die Vader pleit. Die psalmdigter sê: “Al is ek ellendig en behoeftig-die Here dink aan my.” (Psalm 40:18). PeP 324.3

Aan die regter-en linkerkant van die borstas was twee groot, besonder skitterende stene. Hulle was as die Urim en Tummim PeP 324.4

bekend. Deur hulle was die wil van God aan die hoëpriester bekend gemaak. Wanneer vrae vir beslissing aan die Here voorgelê is, het ‘n ligkrans die steen aan die regterkant omring om die goedkeuring van God aan te dui, maar as die steen aan die linkerkant deur ‘n skaduwee verdonker is, was dit ‘n teken van ontkenning of afkeur. PeP 325.1

Die hoëpriester se tulband was van wit linne waaraan ‘n goue plaatjie met die inskripsie “Heilig aan die Here”, met blou kant vasgeheg was. Alles in verband met die klere en gedrag van die priesters, was bestem om die aanskouer met die heiligheid van God en Sy aanbidding en die reinheid wat vereis word van diegene wat in Sy teenwoordigheid kom, te beïndruk. PeP 325.2

Nie net die heiligdom self nie, maar ook die priesters moes dien as “...“n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge...” (Hebreërs 8:5). Dit was dus uiters belangrik; en die Here het, deur Moses, die mees besliste en duidelikste opdragte ten opsigte van elke aspek van hierdie tipiese diens gegee. Die diens van die heiligdom het uit twee dele bestaan, ‘n daaglikse en ‘n jaarlikse diens. Die daaglikse diens is by die brandofferaltaar in die voorhof van die tabernakel en in die heilige plek verrig; die jaarlikse diens het in die allerheiligste plek geskied. PeP 325.3

Geen menslike oog behalwe die van die hoëpriester mag die binnenste vertrek van die heiligdom aanskou het nie. Die hoëpriester kon net een keer per jaar daar ingaan en slegs nadat die mees versigtige en plegtigste voorbereiding getref is. Hy het met vrees en bewing ingegaan voor God en die volk het sy terugkoms in eerbiedige stilte afgewag, hulle harte opgelig in ernstige gebed vir Goddelike seën. Voor die versoendeksel het die hoëpriester vir Israel versoening gedoen; en in die wolk van heerlikheid het God hom ontmoet. As hy langer as gewoonlik daar gebly het, was hulle bevrees dat die heerlikheid van die Here hom miskien weens hulle sondes of weens sy eie sonde om die lewe gebring het. PeP 325.4

Die daaglikse diens het uit die oggend-en aand-brandoffers bestaan, die offer van welriekende wierook op die goue altaar en die spesiale offers vir individuele sondes. En daar was ook offers vir Sabatte, nuwe mane en spesiale feeste. PeP 325.5

Elke oggend en elke aand is ‘n jaaroud lam, tesame met die bypassende spysoffer op die altaar verbrand om die daaglikse toewyding van die volk aan Jehova en hulle voortdurende afhanklikheid van die bloed van Christus te simboliseer. God het uitdruklik beveel dat elke offer wat vir die diens van die heiligdom aangebied word “...sonder gebrek...” moes wees (Exodus 12:5). Die priesters moes elke dier wat as offer aangebied word ondersoek en moes elkeen wat gebrekkig was, verwerp. Slegs ‘n dier “sonder gebrek” kon ‘n simbool van die volmaakte reinheid van Hom wees, wat Homself as “...“n lam sonder gebrek en vlekkeloos...” (1 Petrus 1:19) sou offer. Die apostel Paulus verwys na hierdie offers as ‘n illustrasie van wat die volgelinge van Christus sal word. Hy sê: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferming van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer-dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1). Ons moet ons aan die diens van God oorgee en ons moet daarna strewe om die offer so na aan volmaak as moontlik te maak. God sal met niks minder as die beste wat ons kan aanbied, tevrede wees nie. Diegene wat Hom met hulle hele hart liefhet, sal begeer om die beste diens van hulle lewe aan Hom te gee en hulle sal voortdurend daarna streef om elke krag van hulle wese in harmonie te bring met die wette wat hulle bevoegdheid om Sy wil te doen, sal bevorder. PeP 326.1

In die offer van wierook, was die priester meer direk in die teenwoordigheid van God as met enige ander daad van die daaglikse bediening. Omdat die binnenste voorhangsel van die tabernakel nie tot bo teenaan gestrek het nie, was die heerlikheid van God, wat bokant die versoendeksel sigbaar was, gedeeltelik vanuit die eerste vertrek sigbaar. Wanneer die priester voor die aangesig van die Here wierook geoffer het, het hy in die rigting van die verbondsark gekyk; en soos die wolk van wierook opgestyg het, het die heerlikheid van God op die versoendeksel neergedaal en die allerheiligste plek gevul en het dikwels beide vertrekke so gevul, dat die priester verplig was om na die ingang tot die tabernakel te onttrek. Net soos die priester in geloof na die versoendeksel, wat hy nie kon sien nie, gekyk het, moet God se volk hulle gebede tot Christus rig, hulle groot Hoëpriester wie, onsigbaar vir die menslike oog, namens hulle in die tabernakel omhoog pleit. PeP 326.2

Die wierook wat saam met die gebede van Israel opgestyg het, is verteenwoordigend van die verdienstelikheid en bemiddeling van Christus en Sy volmaakte geregtigheid wat deur geloof aan Sy volk toegereken word en wat alleenlik die aanbidding van sondige sterwelinge vir God aanneemlik kan maak. Voor die voorhangsel van die allerheiligste plek was ‘n altaar vir voortdurende bemiddeling, voor die heilige plek, ‘n altaar van voortdurende versoening. Deur bloed en deur wierook moes God genader word-simbole van die groot Middelaar deur Wie sondaars tot Jehova kan nader en deur Wie alleen daar vir die boetvaardige, gelowige siel genade en verlossing is. PeP 327.1

Soos die priesters soggens en saans in die heilige plek ingegaan het om wierook te offer, was die daaglikse offer op die altaar in die voorhof gereed om geoffer te word. Dit was ‘n tyd van intense belangstelling vir die aanbidders wat by die tabernakel byeengekom het. Voordat hulle deur die bediening van die priester in die teenwoordigheid van God gekom het, moes hulle die hart deeglik deurgrond en hulle sondes bely. Met hulle aangesig na die heilige plek gerig, het hulle in stilte saam gebid. So het hulle gebede saam met die wierook opgegaan, terwyl geloof die deugde van die Verlosser aangegryp het, wat deur die soenoffer voorafgeskadu is. Die tye wat vir die oggend-en aandoffer aangewys is, is as heilig beskou en die Joodse volk het dit mettertyd as die vasgestelde aanbiddingstyd beskou. Toe die Jode later as ballinge in verafgeleë lande versprei was, het hulle steeds op die vasgestelde tye met die aangesig na Jerusalem tot die God van Israel gebid. Hierdie gewoonte is vir Christene ‘n voorbeeld vir die oggend-en aandgodsdiens. Hoewel God blote seremonies sonder die gees van aanbidding veroordeel, sien Hy met groot welbehae neer op diegene wat Hom liefhet en elke oggend en elke aand neerkniel om vergifnis te vra vir sondes wat gepleeg is en om hulle versoeke vir nodige seëninge te rig. PeP 327.2

Die toonbrode is as voortdurende offer voor die Here gehou. Aldus was dit deel van die daaglikse offer. Dit is toonbrood genoem omdat dit altyd voor die aangesig van die Here was. Dit was ‘n erkenning van die mens se afhanklikheid van God vir beide fisiese en geestelike voedsel en dat dit slegs deur die bemiddeling van Christus verkry word. In die woestyn het God PeP 327.3

Israel met brood uit die hemel gevoed en hulle was steeds van Sy liefdadigheid afhanklik vir beide fisiese voedsel en geestelike seëninge. Die toonbrood en die manna het albei na Christus verwys, die lewende Brood, wat altyd vir ons in die teenwoordigheid van God is. Van Homself het Hy gesê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het...” (Johannes 6:48-51). Wierook was op die brood geplaas. Elke Sabbat wanneer die brood verwyder en deur vars brode vervang is, is die wierook op die altaar as ‘n gedenkteken voor God verbrand. PeP 328.1

Die mees belangrikste deel van die daaglikse bediening was die diens wat namens individue verrig is. Die boetvaardige sondaar het sy offer tot by die ingang van die tabernakel gebring, sy hande op die slagoffer se kop gelê en sy sondes bely en so, figuurlike gesproke, dit van homself op die onskuldige slagoffer oorgedra. Met sy eie hand het hy die dier geslag en die bloed is deur die priester in die heilige plek ingedra en voor die voorhangsel, waaragter die ark was met die wet wat die sondaar oortree het daarin, gesprinkel. Deur hierdie seremonie is die sonde deur die bloed, figuurlik oorgeplaas op die heiligdom. In sommige gevalle is die bloed nie in die heiligdom ingeneem nie,* maar die vleis moes dan deur die priester geëet word, soos Moses vir die seuns van Aaron voorgeskryf het: “Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem.” (Levitikus 10:17). Beide plegtighede het die oorplasing van die sonde van die boetvaardige op die heiligdom gesimboliseer. PeP 328.2

Dit was die werk wat daagliks, jaar in, jaar uit verrig is. Omdat die sondes van Israel op hierdie manier op die heiligdom oorgeplaas is, is die heilige plekke verontreinig en derhalwe moes ‘n besondere werk verrig word om die sondes te verwyder. God het beveel dat daar vir elk van die heilige vertrekke en vir die altaar versoening gedoen moes word om dit te reinig en te heilig “...van die onreinhede van die kinders van Israel.” (Levitikus 16:19). PeP 328.3

Eenkeer per jaar, op die groot Versoendag het die hoëpriester in die allerheiligste plek ingegaan om die heiligdom PeP 328.4

---------------------------------------------------------------------------------------------------- PeP 328.5

* Sien aanhangsel, opmerking 6 PeP 328.6

te reinig. Die werk wat hy daar gedoen het, het die jaarlikse kringloop van bediening voltooi. PeP 329.1

Op die Versoendag is twee boklammers na die ingang van die tabernakel gebring en die lot is oor hulle gewerp, “...een lot vir die Here en een lot vir Asasel.” Die bok waarop die eerste lot geval het, moes as sondoffer vir die volk geslag word en die priester moes sy bloed binnekant die voorhangsel bring en dit op die versoendeksel sprinkel. “So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon.” PeP 329.2

“En Aaron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra.” Eers nadat die bok aldus weggestuur was, het die volk aanvaar dat hulle van die las van hulle sonde verlos was. Terwyl die versoeningswerk aan die gang was, moes elke mens sy siel verootmoedig. Alle sake is eenkant geskuif en die hele volk van Israel het die dag in plegtige verootmoediging met gebed en vas en grondige selfondersoek deurgebring. PeP 329.3

Hierdie jaarlikse vergadering het die volk belangrike waarhede aangaande die versoening geleer. In die sondoffers wat gedurende die jaar gebring is, is ‘n plaasvervanger in die plek van die sondaar ontvang; maar die bloed van die slagoffer het nie ten volle vir die sonde versoen nie. Dit het slegs die middel voorsien waardeur die sonde op die heiligdom oorgeplaas is. Deur die bloed te offer, het die sondaar die gesag van die wet erken, die skuld van sy oortreding bely en getuienis afgelê van sy geloof in Hom wat die sonde van die wêreld sou wegneem; maar hy was nog nie heeltemal van die verdoemenis van die wet verlos nie. Op die Versoendag het die hoëpriester, nadat hy van die volk ‘n offer ontvang het, met die bloed in die allerheiligste plek ingegaan en dit op die versoendeksel bokant die tafels van die wet gesprinkel. So is daar voldoen aan die eise van die wet wat die lewe van die sondaar geëis het. Toe het die PeP 329.4

priester in sy hoedanigheid as bemiddelaar, die sonde op homself geneem en toe hy uit die heiligdom uitkom, het hy die las van Israel se skuld met hom gedra. By die ingang tot die tabernakel het hy sy hande op die kop van die sondebok gelê en oor hom belydenis gedoen “...van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees;” en die het hy op die kop van die bok gelê. En wanneer die bok met die sondelas weggeneem is, is daar aanvaar dat die sondes saam met hom vir ewig van die volk verwyder is. Dit was die diens “...wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge...” (Hebreërs 8: 5) is, wat gelewer was. PeP 330.1

Soos reeds gemeld, het Moses die aardse heiligdom opgerig volgens die voorbeeld wat op die berg aan hom getoon is. “Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word;” die twee heilige plekke was “...afbeeldinge van die dinge in die hemele;” Christus ons groot Hoëpriester is ... ‘n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie.” (Hebreërs 9:9, 23; 8:2). Toe die apostel Johannes toegelaat is om die tempel van God in die hemel te sien, het hy daar “...sewe vuurfakkels voor die troon...” sien brand (Openbaring 4:5). Hy het ook ‘n engel “...met ‘n goue wierookbak...” gesien, “...en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê.” (Openbaring 8:3). Hier is die profeet toegelaat om die eerste vertrek van die heiligdom in die hemel te sien en daarin het hy die “sewe vuurfakkels” en die “goue altaar” gesien wat deur die goue kandelaar en die wierookaltaar in die aardse heiligdom verteenwoordig was. Die tempel van God het weer “oopgegaan” (Openbaring 11:19) en hy het agter die binnenste voorhangsel in die allerheiligste plek gekyk. Daar het hy “Sy verbondsark” gesien (Openbaring 11:19), wat verteenwoordig was deur die heilige kis wat Moses gemaak het om die wet van God te bewaar. PeP 330.2

Moses het die aardse heiligdom gemaak “...volgens die afbeelding wat hy gesien het.” (Handelinge 7 :44). Paulus sê dat die voltooide “...tabernakel en al die gereedskap die afbeeldinge van die dinge in die hemele...” was. (Hebreërs 9:21,23). Johannes vertel dat hy die heiligdom in die hemel gesien het. Daardie heiligdom waar Jesus vir ons intree, is die groot PeP 330.3

oorspronklike, waarvan die heiligdom wat Moses gebou het ‘n namaaksel is. PeP 331.1

Die hemelse tempel, die woonplek van die Koning van die konings, waar “...duisend maal duisende...” Hom gedien en “...tienduisend maal tienduisende... ” voor Hom gestaan het (Daniël 7:10), die tempel wat met die heerlikheid van die onverganklike troon verlig is, waar serafs, die skitterende wagte, hulle aangesigte in aanbidding bedek-geen aardse struktuur kan die heerlikheid en grootheid daarvan voorstel nie. Nogtans moes die aardse heiligdom en die dienste belangrike waarhede leer aangaande die hemelse heiligdom en die werk wat daar tot verlossing van die mens verrig word. PeP 331.2

Na Sy Hemelvaart sou ons Verlosser met Sy werk as ons Hoëpriester begin. Paulus sê: “Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.” (Hebreërs 9:24). Net soos Christus se bediening uit twee groot dele sou bestaan wat elk ‘n tydperk en ‘n vasgestelde plek in die hemelse heiligdom in beslag sou neem, so het die tipiese bediening ook uit twee dele bestaan, naamlik die daaglikse en die jaarlikse diens en aan elk is ‘n afdeling van die tabernakel gewy. PeP 331.3

Soos Christus na Sy Hemelvaart in die teenwoordigheid van God verskyn het om Sy bloed ten behoewe van boetvaardige gelowiges te pleit, so het die priester die offerbloed in die daaglikse bediening ten behoewe van die sondaar in die heilige plek gesprinkel. PeP 331.4

Hoewel die bloed van Christus die sondaar van die veroordeling van die wet vrygespreek het, het dit nie die sonde uitgewis nie; dit sou tot met die uiteindelike versoening in die heiligdom opgeteken staan; so ook het die bloed van die sondoffer, in tipe, die sonde van die boetvaardige verwyder, maar dit het tot met die Versoendag in die heiligdom gebly. PeP 331.5

Op die groot dag van vergelding, sal die dode geoordeel word “...na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (Openbaring 20:12). Dan, op grond van die versoenende bloed van Christus, sal die sondes van die ware boetvaardiges, uit die boeke van die hemel gewis word. So sal die heiligdom PeP 331.6

gevrywaar, of gereinig word van die rekord van sonde. In tipe, was hierdie groot werk van versoening, of uitwissing van sonde, verteenwoordig deur die dienste van die Dag van Versoening-die reiniging van die aardse heiligdom deur die verwydering, op grond van die bloed van die sondoffer, van die sonde waardeur dit besoedel is. PeP 332.1

Soos in die finale versoening, sal die sonde van die ware boetvaardige uit die rekords van die hemel uitgewis word, om nooit weer in herinnering geroep te word of in die gedagtes op te kom nie, so was die sonde in tipe weggevoer na die woestyn, vir ewig van die vergadering verwyder. PeP 332.2

Omdat die Satan die oorsprong van sonde is, die regstreekse aanhitser tot alle sonde, wat die dood van die Seun van God veroorsaak het, vereis regverdigheid dat die Satan die laaste straf moet verduur. Christus se werk vir die verlossing van die mensdom en die reiniging van die heelal van sonde, sal afgesluit word deur die sonde uit die hemelse heiligdom te verwyder en dit oor te plaas op Satan wat die laaste straf daarvoor sal dra. Daarom is die bediening van die jaar in die teëbeeld afgesluit met die reiniging van die heiligdom deurdat die sondes op die kop van die sondebok bely is. PeP 332.3

So het die mens, in die bediening van die tabernakel en van die tempel waarmee dit later vervang is, elke dag geleer van die groot waarhede van die dood en bediening van Christus en een keer elke jaar is hulle gedagtes vooruit gevoer na die eindtonele van die groot stryd tussen Christus en die Satan, naamlik die uiteindelike reiniging van die heelal van sonde en sondaars. PeP 332.4