Patriarge en Profete

31/75

Hoofstuk 29—Satan se Vyandskap Teen die Wet

Dit het vir ‘n tyd lank voorgekom asof die Satan se heel eerste poging om die sondelose hemelinge te oorreed om die wet van God te verwerp, geslaag het. Hy het ‘n groot aantal engele verlei; maar sy skynbare oorwinning het uiteindelik vir hom neerlaag, verlies, skeiding van God en verbanning uit die hemel tot gevolg gehad. PeP 305.1

Toe die stryd op aarde voortgesit is, het Satan weer ‘n skynbare oorwinning behaal. As gevolg van oortreding het die mens sy gevangene geword en die heerskappy is in die hande van die aardsrebel verraai. Dit het nou voorgekom asof niks die Satan verhinder het om ‘n onafhanklike koninkryk te stig en om die gesag van God en Sy Seun te verwerp nie. Maar die verlossingsplan het dit moontlik gemaak om die mens weer in harmonie met God te bring, Sy wet te gehoorsaam en beide die mens en die aarde uiteindelik uit die mag van die Bose te red. PeP 305.2

Die Satan is weer verslaan en weer het hy sy toevlug tot misleiding geneem, met die hoop dat hy sy nederlaag in ‘n oorwinning sou omskep. Ten einde die gevalle mensdom tot opstand aan te hits, het hy God van onregverdigheid beskuldig deur die mens toe te laat om die wet te oortree. “Waarom...” het die listige verleier gevra, “...het God, toe Hy goed geweet het wat die gevolge sou wees, toegelaat dat die mens beproef word, sondig en daardeur ellende en die dood op homself bring?” En die kinders van Adam het vergeet dat God so lankmoedig en genadig was dat Hy hulle nog ‘n kans gegun het, ondanks die ongelooflike en ontsaglike opoffering wat hierdie opstand vir die Koning van die hemel veroorsaak het; hulle het hulle ore aan die influistering van die verleier uitgeleen en teen die enigste Wese wat hulle uit die vernietigende mag van die Satan kon red, gemurmureer. PeP 305.3

Daar is deesdae duisende wat dieselfde opstandige beskuldiging teen God inbring. Hulle besef nie dat indien God die mens sy vrye keuse ontneem, dit hom van sy voorreg as ‘n intelligente wese sal beroof en van hom ‘n blote outomaat sal maak nie. God is nie van plan om die wil te dwing nie. Die mens is as ‘n vrye morele wese geskape. Soos die bewoners van alle PeP 305.4

ander wêrelde moet hy aan die toets van gehoorsaamheid onderwerp word; maar hy word nooit tot die punt gedryf waar hy genoodsaak word om aan die sonde toe te gee nie. Geen versoeking word toegelaat wat hy nie kan weerstaan nie. Die voorsiening wat God gemaak het, is so ruim, dat dit nooit nodig was vir die mens om in die stryd met Satan ‘n nederlaag te ly nie. PeP 306.1

Namate daar meer mense op die aarde gekom het, het byna die hele wêreld hulle by die range van rebellie aangesluit. Weer eens het dit voorgekom asof Satan die oorwinning behaal het. Maar die Almagtige het die uitwerking van die sonde weer kortgeknip en die aarde deur middel van ‘n sondvloed van sy sedelike besoedeling gereinig. PeP 306.2

Die profeet sê: “As u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid. Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; ...en hy sien die hoogheid van die Here nie.” (Jesaja 26:9,10). So was dit na die sondvloed. Sodra die mensdom van die oordele van God bevry was, het die inwoners van die aarde weer teen die Here in opstand gekom. Twee keer is God se verbond en Sy insettinge deur die wêreld verwerp. Beide die mense voor die sondvloed, asook Noag se nageslag het die gesag van God verwerp. Toe het God met Abraham ‘n verbond gesluit en vir Hom’ ‘n volk aangeneem wat die bewaarders van Sy wet moes wees. PeP 306.3

Om daardie volk te verlei en te vernietig, het Satan dadelik begin om sy strikke te stel. Die kinders van Jakob het in die versoeking gekom om met heidene te trou en om hulle afgode te aanbid. Maar Josef was getrou aan God en sy getrouheid was ‘n voortdurende getuienis van die ware geloof. Dit was met die doel om hierdie lig uit te doof dat die Satan deur die afguns van Josef se broers gewerk het en veroorsaak het dat hulle hom as ‘n slaaf aan ‘n heidense land verkoop het. God het hierdie gebeurtenisse egter aan Sy wil onderwerp, sodat die kennis van Homself aan die mense van Egipte bekend gemaak kon word. In beide Potifar se huis en die gevangenis het Josef die geleerdheid en die opleiding ontvang wat hom, met die vrees van die Here, gereed gemaak het vir sy hoë pos as eerste minister van Egipte. Uit die paleis van die Farao’s is sy invloed PeP 306.4

deur die hele land ervaar en is die kennis van God wyd en syd versprei. Die Israeliete in Egipte het ook voorspoedig en ryk geword en die wat aan God getrou gebly het, het ‘n wydverspreide invloed uitgeoefen. Die afgodiese priesters was bekommerd toe hulle gewaar dat die nuwe godsdiens byval vind. Deur die Satan in sy haat teen die God van die hemel aangespoor, het hulle hulself daarop toegelê om die lig uit te doof. Die priesters was verantwoordelik vir die opvoeding van die troonopvolger en dit was ‘n gees van vasberade teenstand teen God en die ywer vir die afgodery wat die karakter van die toekomstige koning gevorm het en tot die wrede onderdrukking van die Hebreërs gelei het. PeP 307.1

Gedurende die veertig jaar nadat Moses uit Egipte weggevlug het, het afgodery skynbaar die oorhand gekry. Jaar na jaar het die hoop van die Israeliete verflou. Beide die koning en die mense het hulle in hulle mag verlustig en die God van Israel bespot. Hierdie gesindheid het toegeneem totdat dit ‘n klimaks bereik het in die Farao wat deur Moses gekonfronteer is. Toe die Hebreeuse leier met ‘n boodskap van “...die Here, die God van Israel...” voor die koning verskyn, was dit nie onkunde aangaande die ware God nie, maar ‘n uitdaging van Sy mag wat die vraag ontlok het: “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister ... ? Ek ken die Here nie.” Van begin tot einde was Farao se verset teen die Goddelike bevel nie die gevolg van onkunde nie, maar van haat en uittarting. PeP 307.2

Howel die Egiptenare die kennis van God vir so lank verwerp het, het die Here steeds aan hulle die geleentheid gegee om hulle te bekeer. In die tyd van Josef was Egipte vir die kinders van Israel ‘n toevlugsoord; God is vereer deur die toegeneentheid wat aan Sy volk bewys is; en nou het die Lankmoedige, stadig om toornig te raak en vol deernis, aan elke oordeel tyd geskenk vir die volle uitwerking daarvan; die Egiptenare, vervloek deur dieselfde voorwerpe wat hulle aanbid het, het bewyse gehad van die mag van Jehova en almal wat wou, kon hulle aan God onderwerp en Sy oordele vryspring. Die koning se dweepsug en hardnekkigheid het daartoe bygedra dat die kennis van God versprei is en dat talle Egiptenare hulle aan Sy diens oorgegee het. PeP 307.3

Dit was omdat die Israeliete so geneig was om met die heidene om te gaan en hulle afgodery na te boots dat God PeP 307.4

toegelaat het dat hulle na Egipte gaan waar Josef se invloed oral ervaar is en waar die omstandighede gunstig vir hulle was om ‘n afsonderlike volk te bly. Ook hier, moes die skaamtelose afgodery van die Egiptenare en hulle wreedheid en onderdrukking gedurende die laaste gedeelte van die verblyf van die Hebreërs in Egipte, hulle met afsku vir die afgodery gevul het en hulle aangemoedig het om vir skuiling na die God van hulle vaders te vlug. Die Satan het juis hierdie voorsienigheid vir sy eie doel aangewend en het die verstand van die Israeliete verduister om hulle te lei om die praktyke van hul heidense meesters na te boots. As gevolg van die feit dat die Egiptenare diere in hulle bygeloof vereer het, is die Israeliete nie gedurende hulle knegskap toegelaat om offers aan die Here te bring nie. Hulle is dus nie deur hierdie diens aan die groot Offerlam herinner nie en daarom het hulle geloof verswak. PeP 308.1

Toe die tyd van Israel se verlossing aanbreek, het die Satan hom dadelik teen die planne van God verset. Hy was vasberade dat daardie groot volk, wat meer as twee miljoen siele getel het onder die juk van onkunde en bygeloof sou bly. Die Satan was daarop uit om die volk, aan wie God beloof het dat Hy hulle sou seën en vermenigvuldig, dat Hy hulle ‘n mag op die aarde sou maak en dat Hy die kennis van Sy wil deur hulle sou openbaar; die volk wat Hy as bewaarders van Sy wet sou aanstel, juis hierdie volk in onbekendheid en slawerny te hou, sodat hy alle herinneringe aan God uit hulle geheue kon uitwis. PeP 308.2

Toe die wonderwerke voor die koning verrig is, was die Satan self daar om die invloed daarvan teë te werk en te verhoed dat Farao die oppermag van God erken en Sy opdrag gehoorsaam. Die Satan het alles in sy mag gedoen om die werk van God te vervals en Sy wil teen te staan. Al wat hy vermag het, was om die weg te berei vir nog groter openbarings van Goddelike mag en heerlikheid en om aan beide die Israeliete en Egiptenare die bestaan van die ware en lewende God, meer duidelik te maak. PeP 308.3

God het Israel met die magtige openbaringe van Sy krag en met Sy oordele oor die gode van Egipte verlos. “Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel ... dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar.” (Psalm 105:43-45). Hy het hulle van hulle knegskap verlos sodat Hy hulle na ‘n goeie land kon bring, ‘n land wat Hy in Sy PeP 308.4

voorsienigheid as skuiling teen hulle vyande berei het, waar hulle in veiligheid onder die skadu van Sy vleuels kon woon. Hy sou hulle na Hom toe bring en met Sy ewige arms omvou; en in erkenning van Sy goedheid en genade moes hulle geen ander gode voor Hom, die lewende God hê nie en hulle moes Sy Naam verhoog en dit op die aarde verheerlik. PeP 309.1

Gedurende hulle knegskap in Egipte het talle van die Israeliete die kennis van God se wet tot ‘n groot mate verloor en hulle het sy insettinge met heidense gewoontes en tradisies vermeng. God het hulle tot by Sinai gebring en daar het Hy Sy wet met Sy eie stem aan hulle verkondig. PeP 309.2

Die Satan en sy bose engele was ook daar. Selfs terwyl God nog besig was om Sy wet te verkondig, het die Satan sy planne beraam om hulle tot sonde te verlei. Hy sou hierdie volk wat deur God uitverkies is, ten aanskoue van die Hemel, wegruk. Deur hulle tot afgodery te lei, sou hy die doeltreffendheid van alle aanbidding vernietig; want hoe ver kan ‘n mens opgehef word deur iets te aanbid wat niks hoër as hyself is nie en wat deur sy eie handewerk gesimboliseer kan word? As die mense so verblind kon word deur die mag, die majesteit en die heerlikheid van die Ewige God dat hulle Hom deur ‘n gesnede beeld of, ‘n dier of selfs ‘n reptiel voorstel; indien hulle, wat na die beeld van hul Maker geskape is, so van hul eie verhouding met God kan vergeet dat hulle voor hierdie walglike, sinnelose voorwerpe kan neerbuig, dan sou die weg vir vuil, losbandighede oop wees; die bose drange van die hart sou onbeteueld wees en die Satan sou volle mag hê. PeP 309.3

By die voet van Sinai self het die Satan al sy planne vir die verydeling van God se wet begin uitvoer en sodoende het hy die werk wat hy in die hemel begin het, voortgesit. Gedurende die veertig dae dat Moses op die berg by God was, was Satan besig om twyfel, afval en opstand te op te wek. Terwyl God Sy wet, wat aan Sy verbondsvolk toevertrou moes word neergeskrywe het, het die Israeliete hulle trou aan Jehova verloën en aangedring op afgode van goud! Toe Moses met die insettinge wat hulle plegtig beloof het om te gehoorsaam, uit die ontsagwekkende teenwoordigheid van die Goddelike Heerlikheid te voorskyn kom, vind hy hulle, in openbare opstand PeP 309.4

teen die gebooie, besig om hulle voor ‘n goue beeld in aanbidding neer te buig. PeP 310.1

Deur Israel tot hierdie waaghalsige belediging en lastering teen God aan te spoor, het die Satan beplan om hulle ondergang te bewerkstellig. Aangesien hulle hulself as so uiters vervalle bewys het, so ontneem van alle besef van die voorregte en seëninge wat God aan hulle gebied het en van hulle eie plegtige beloftes van lojaliteit, sou die Here, het hy geglo, Homself van hulle skei en hulle aan vernietiging oorgee. So sou hy die uitwissing van die saad van Abraham bewerkstellig, die saad van die belofte wat die kennis van die lewende God moes bewaar en deur wie die ware Saad wat die Satan sou oorwin, moes kom. Die groot rebel was van plan om Israel uit te wis en om God se plan sodoende omver te werp. Maar hy is weer verslaan. Sondig soos hulle was, is die volk van Israel nie vernietig nie. Terwyl diegene wat hulle hardnekkig aan die kant van die Satan geskaar het om die lewe gebring is, is die volk wat nederig en berouvol was, genadiglik vergewe. Die geskiedenis van hierdie sonde sou dien as ewige getuienis van die skuld en straf van afgodery en die geregtigheid en lankmoedigheid van God. PeP 310.2

Die ganse heelal het die skouspel by Sinai aanskou. In die uitwerking van die twee heerskappye, kon die verskil tussen die heerskappy van God en die van die Satan duidelik gesien word. Weer het die sondelose bewoners van ander wêrelde die gevolge van die Satan se afvalligheid aanskou en die tipe heerskappy wat in die hemel gevestig sou gewees het indien dit hom veroorloof was. PeP 310.3

Deur te veroorsaak dat mense die tweede gebod oortree, het Satan gemik om hulle begrip van die Goddelike Wese te verdraai. Deur die vierde gebod af te skaf, sou hy veroorsaak dat hulle God heeltemal vergeet. God se aanspraak op ontsag en aanbidding bo al die gode van die heidene, berus op die feit dat Hy die Skepper is en dat elke ander wese sy bestaan aan Hom te danke het. So word dit in die Bybel aangebied. Die profeet Jeremia sê: “Die Here is waarlik God, Hy is die lewende God en ‘n ewige Koning ... Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit-Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, PeP 310.4

wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand...” “Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is ‘n leuen, en daar is geen gees in hulle nie. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet. Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles.” (Jeremia 10:10-12,14-16). Die Sabbat, as gedenkteken van God se skeppende krag, verwys na Hom as die Maker van die hemele en die aarde. Gevolglik is dit ‘n voortdurende getuienis van Sy bestaan en ‘n herinnering aan Sy grootheid, Sy wysheid en Sy liefde. As mense getrou die Sabbat geheilig het, sou daar nooit ‘n ateïs of ‘n afgodedienaar gewees het nie. PeP 311.1

Die instelling van die Sabbat wat in Eden ontstaan het, is so oud soos die wêreld self. Vanaf die skepping het die patriarge dit waargeneem. Gedurende die knegskap in Egipte is die Israeliete deur hulle opsigters gedwing om die Sabbat te oortree en tot ‘n groot mate het hulle die kennis van die heiligheid daarvan verloor. Toe die wet op Sinai afgekondig is, was die eerste woorde van die vierde gebod: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig...” wat getuig dat die Sabbat nie op daardie stadium eers ingestel is nie; ons word na die skepping terugverwys vir die oorsprong daarvan. Ten einde God heeltemal uit die mense se gedagtes uit te wis, het die Satan hom daarop toegelê om hierdie groot gedenkteken te vernietig. As hy kon veroorsaak dat mense hulle Skepper vergeet, sou hulle geen poging aanwend om die mag van die bose te weerstaan nie en dan sou die Satan seker wees van sy prooi. PeP 311.2

Die Satan se vyandskap teen God se wet het hom genoop om teen elke instelling van die Tien Gebooie oorlog te verklaar. Die beginsel van kinderlike liefde en gehoorsaamheid aan God, is baie na verwant aan die groot beginsel van liefde en getrouheid teenoor God, die Vader van almal. Minagting van ouerlike gesag sal spoedig aanleiding gee tot minagting van die gesag van God. Daarom probeer die Satan om die verpligtinge van die vyfde gebod te ondermyn. Die heidene het hulle min aan die beginsel van hierdie gebod gesteur. In baie nasies was ouers verlaat of gedood sodra die ouderdom hulle onbevoeg gemaak het om na hulleself om te sien. In die gesin is die moeder met min respek behandel en met die dood van haar PeP 311.3

eggenoot is daar van haar verwag om haar aan die gesag van haar oudste seun te onderwerp. Kinderlike gehoorsaamheid was ‘n opdrag van Moses; maar soos die Israeliete van die Here weggedwaal het, is die vyfde gebod, saam met ander, later verontagsaam. PeP 312.1

Die Satan “...was ‘n mensemoordenaar van die begin af” (Johannes 8:44) en sodra hy mag oor die mensdom verkry het, het hy hulle nie net aangehits om mekaar te haat en dood te maak nie, maar, om die gesag van God meer openlik te tart, het hy die sesde gebod deel van hulle godsdiens gemaak. PeP 312.2

As gevolg van verwronge begrippe van geestelike eienskappe, is die heidense nasies gelei om te glo dat menslike offers nodig was om die guns van hul afgode te verkry; en die mees afskuwelikste wreedhede is onder die verskeie vorms van afgodery gepleeg. Hieronder was die praktyk om hulle kinders voor die afgode deur vuur te laat gaan. Wanneer een van hulle ongedeerd hierdie vuurproef deurstaan het, het die mense geglo dat hulle offers aanvaar is. Die een wat so verlos was, is beskou as besonder begunstig deur die gode, oorlaai met voordele en vir ewig daarna hoog geag; en hoe sy misdade ook toegeneem het, is hy nooit gestraf nie. Maar indien iemand verbrand terwyl hy deur die vuur gaan, was sy lot verseël; daar is geglo dat die woede van die gode slegs afgekoel sou word deur die lewe van die slagoffer te neem en hy is gevolglik geoffer. In tye van groot afvalligheid, het hierdie gruwels tot ‘n sekere mate ook onder die Israeliete voorgekom. PeP 312.3

Die oortreding van die sewende gebod is reeds vroeg ook in die naam van godsdiens beoefen. Die mees losbandige en gruwelikste rituele het deel van die heidense aanbidding geword. Die gode self is verteenwoordig as onsedelik en hulle aanbidders het vrye teuels aan sedelose passies gegee. Onnatuurlike euwels was algemeen en die godsdiensfeeste is gekenmerk deur algemene en openbare onsedelikheid. PeP 312.4

Veelwywery het vroeg reeds ontstaan. Dit was een van die sondes wat die toorn van God teen die antediluviaanse wêreld laat ontvlam het. Nogtans het dit weer ná die sondvloed algemeen geword. Die Satan het hom daarop toegelê om die huwelik instelling te verdraai, om die verpligtinge daarvan te verswak en die heiligheid daarvan te verminder, want daar was PeP 312.5

geen sekerder wyse waarop die beeld van God in die mens geskend kon word en die weg vir ellende en onsedelikheid oop te stel nie. PeP 313.1

Sedert die aanvang van die groot stryd, het Satan hom daarop toe gelê om ‘n wanvoorstelling van die karakter van God te skep en opstand teen Sy wet aan te hits; en dit wil voorkom asof hierdie werk met welslae bekroon is. Die menigtes gee hulle oor aan Satan se misleidings en verset hulle teen God. Maar te midde van die werkinge van die boosheid word die voornemens van God stadig maar seker tot vervulling uitgevoer; aan alle geskape wesens openbaar Hy Sy geregtigheid en welwillendheid. Deur die versoekinge van Satan het die ganse mensdom oortreders van God se wet geword, maar deur die offer van Sy Seun is ‘n weg oopgestel vir hulle om na God terug te keer. Deur die genade van Christus word hulle in staat gestel om die wet van die Vader te gehoorsaam. So vergader God in elke eeu, te midde van afvalligheid en rebellie, ‘n volk wat aan Hom getrou is; ‘n volk in wie se hart Sy wet is. (Jesaja 51:7). PeP 313.2

Deur misleiding het die Satan die engele verlei; so het hy sy werk deur al die eeue onder die mensdom voortgesit en hy sal hierdie beleid tot die einde toe volg. As hy openlik verklaar het dat hy teen God en Sy wet stry, sou mense op hulle hoede wees; maar hy vermom homself en vermeng waarheid met dwaling. Die mees gevaarlikste dwalinge is die wat met waarheid vermeng word. Daarom word dwalinge wat die siel gevange neem en vernietig aanvaar. Op hierdie wyse neem die Satan die wêreld met hom saam. Maar daar kom ‘n dag wanneer sy oorwinning vir ewig beëindig sal word. PeP 313.3

God se hantering van die rebellie sal die werk, wat lank reeds onder ‘n dekmantel verrig word, ontmasker. Die gevolge van die Satan se heerskappy, die vrugte van die verwerping van die Goddelike insettinge, sal voor die oë van alle geskape wesens blootgelê word. Die wet van God sal ten volle geregverdig word. Daar sal gesien word dat alle handelinge van God uitgevoer is vir die ewige welvaart van Sy volk en al die wêrelde wat geskape is. Satan sal self, in die teenwoordigheid van die heelal as getuies, die geregtigheid van God se heerskappy en die regverdigheid van Sy wet, bely. PeP 313.4

Dit sal nie meer lank wees nie, dan sal God opstaan om Sy gehoonde gesag te handhaaf. “Die Here sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek.” (Jesaja 26:21). “Maar wie kan die dag van Sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?” (Maleagi 3:2). Weens hulle sondigheid is die Israeliete belet om naby die berg, waarop God neergedaal het om Sy wet te verkondig te kom, sodat hulle nie miskien deur die brandende heerlikheid van Sy teenwoordigheid verteer word nie. As Hy Hom dan met soveel mag geopenbaar het op die plek waar Hy Sy wet bekend gemaak het, hoe vreeslik sal dit wees voor Sy regterstoel wanneer Hy kom om die oortreders van Sy heilige insettinge te straf! Hoe sal diegene wat Sy gesag vertrap het Sy heerlikheid op die dag van vergelding verduur? Die verskrikkinge van Sinai moes dien om aan die volk die tonele van die oordeel te gee. Die geklank van ‘n trompet het Israel ontbied om God te ontmoet. Die stem van die aartsengel en die basuin van God sal beide die lewendes en die dooies van die hele aarde oproep om voor hulle Regter te verskyn. Die Vader en die Seun, vergesel van ‘n menigte engeleskare was op die berg teenwoordig. Op die groot oordeelsdag sal Christus “...met sy engele in die heerlikheid van sy Vader...” kom (Mattheus 16:27). Dan sal Hy op die troon van Sy heerlikheid sit en al die nasies sal voor Hom vergader wees. PeP 314.1

Toe die Teenwoordigheid van God op Sinai verskyn het, was die heerlikheid van die Here soos ‘n verterende vuur in die oë van die hele Israel. Maar wanneer Christus met Sy heilige engele in Sy heerlikheid kom, sal die hele aarde met die ontsagwekkende lig van Sy teenwoordigheid vlam. “Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig en rondom Hom storm dit geweldig. Hy roep na die hemel daarbo en na die aarde, om sy volk te oordeel.” (Psalm 50:3,4). ‘n Vurige stroom sal vloei en voor Hom uitgaan wat sal veroorsaak dat die elemente smelt en ook die aarde en die werke wat daarop is, sal deur vuur verteer word. “Die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.” (2 Thessalonicense 1:7,8). PeP 314.2

Daar was nog nooit, sedert die skepping van die mens so ‘n openbaring van die krag van God gesien soos toe die wet op PeP 314.3

Sinai afgekondig is nie. “Die aarde [het] gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel!” (Psalm 68:9). Te midde van geweldige skuddings van die natuur is die stem van God soos ‘n basuin uit die wolk gehoor. Vanaf die voet van die berg tot op die kruin het die berg geskud en die ganse Israel het bleek en bewend van vrees met hulle aangesigte na die aarde gekeer, gelê. Hy Wie se stem die aarde geskud het, het gesê: “Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.” (Hebreërs 12:26). Die Skrif sê: “Die Here sal brul uit die hoogte en Sy stem verhef uit Sy heilige woning!” “...sodat hemel en aarde bewe...” (Jeremia 25:30; Joël 3:16). “Op die groot dag wat kom, sal die hemel self wegwyk, soos ‘n boek wat toegerol word.” (Openbaring 6:14). En elke berg en elke eiland sal uit sy plek verskuif. “Die aarde waggel geheel en al soos ‘n dronkaard en swaai heen en weer soos ‘n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.” (Jesaja 24:20). PeP 315.1

“Daarom word al die hande slap...” en is hulle “...aangesigte in bleekheid verander. En elke mensehart versmelt; en hulle is verskrik, kry krampe en weë.” “En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek...” sê die Here, “...en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.” (Jesaja 13:7,8,11; Jeremia 30:6.) PeP 315.2

Toe Moses vanuit die Teenwoordigheid van God op die berg terugkeer, nadat hy die tafels van die getuienis ontvang het, kon die skuldige Israel nie die lig verdra wat sy aangesig verheerlik het nie. Hoeveel minder sal oortreders in staat wees om die aangesig van die Seun van God te aanskou wanneer Hy in die heerlikheid van Sy Vader verskyn, omring met die ganse hemelse skare, om gerig te hou oor al die oortreders van Sy wet en die verwerpers van Sy versoening. Diegene wat die wet van God verontagsaam en die bloed van Christus met hulle voete vertrap het, “...en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:15-17). PeP 315.3

“In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise; om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.” (Jesaja 2:20,21). PeP 316.1

Dan sal dit blyk dat die Satan se opstand rampspoedig was vir hom en vir almal wat verkies het om sy onderdane te wees. Hy het beoog dat iets goeds uit die oortreding sou kom; maar daar sal gesien word dat die loon van die sonde die dood is. “Want kyk, die dag kom en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.” (Maleagi 4:1). Satan, die wortel van elke sonde en almal wat goddeloosheid bedrywe, wat sy takke is, sal op daardie dag verdelg word. Daar sal ‘n einde aan die sonde gemaak word, met al die weë en verwoesting wat die sonde aangerig het. Die psalmdigter sê: “U het die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd. Die vyande het omgekom-puinhope vir ewig...” (Psalm 9:6,7). PeP 316.2

Maar te midde van die storm van die Oordeel van God het die kinders van God geen rede om te vrees nie. “Die Here sal ‘n toevlug wees vir sy volk en ‘n skuilplek vir die kinders van Israel.” (Joël 3:16). Die dag wat verskrikking en verwoesting vir die oortreders van God se wet bring, bring vir die gehoorsames, “...“n onuitspreeklike en heerlike blydskap”. “Versamel my gunsgenote vir My...” sê die Here, “...hulle wat my verbond by die offer sluit! En die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel!” PeP 316.3

“Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Maleagi 3:18). “Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is!” “Kyk Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, jy sal dit verder nie meer drink nie.” “Ek is dit wat julle troos!” (Jesaja 51:7,22,12.) “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredesverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.” (Jesaja 54:10). PeP 316.4

Die groot verlossingsplan het tot gevolg dat die wêreld weer in die guns van God herstel word. Alles wat as gevolg van sonde verlore was, word herstel. Nie net die mens nie, maar ook die aarde word verlos om vir ewig die woonplek van die gehoorsames te wees. Vir sesduisend jaar het die Satan geworstel om sy heerskappy oor die aarde te behou. Nou is die oorspronklike doel van God met die skepping daarvan verwesenlik. “Die heiliges van die allerhoogste sal die koningskap ontvang en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.” (Daniël 7:18). PeP 317.1

“Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die Here geloof word!” (Psalm 113:3). “In dié dag sal die Here een wees en sy Naam een. En die Here sal koning wees oor die hele aarde.” (Sagaria 14:9). Die Skrif sê: “Vir ewig, O Here, staan u woord vas in die hemele.” “Al sy bevele is betroubaar. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig.” (Psalm 119:89; 111:7,8). Die heilige insettinge wat die Satan gehaat en probeer vernietig het, sal deur ‘n sondelose heelal vereer word. En “Soos die aarde sy plante voortbring en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies” (Jesaja 61:11). PeP 317.2