Patriarge en Profete

30/75

Hoofstuk 28—Afgodery by Sinai

(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 32 tot 34) PeP 289.1

Die tyd wat Moses weg was, was vir die Israeliete ‘n tyd van afwagting en spanning. Die volk het geweet dat hy en Josua die berg bestyg en in die digte, donker wolk ingegaan het, wat van onder op die vlakte bo op die bergspits gesien kon word en wat van tyd tot tyd deur die Teenwoordigheid van God verlig is. Hulle het gretig op sy terugkoms gewag. Omdat hulle in Egipte aan ‘n tasbare verteenwoordiging van die gode gewoond was, was dit vir hulle moeilik om op ‘n onsigbare wese te vertrou en hulle het op Moses begin vertrou om hulle geloof te handhaaf. Nou is hy van hulle weggeneem. Dag na dag, week na week het verbygegaan en nog het hy nie teruggekeer nie. Ondanks die feit dat die wolk steeds sigbaar was, het dit vir baie in die kamp begin voorkom asof hulle leier hulle in die steek gelaat het, of dat hy in die verterende vuur omgekom het. PeP 289.2

Gedurende hierdie tyd van afwagting, het hulle die geleentheid gehad om na te dink oor die wet van God wat hulle gehoor het en om hulle harte voor te berei vir verdere openbaringe wat Hy aan hulle mag gee. Hulle het nie te veel tyd vir hierdie werk gehad nie en indien hulle op hierdie wyse na ‘n duideliker begrip van God se vereistes gesoek het en hulle harte voor Hom verootmoedig het, sou hulle teen versoeking beskerm gewees het. Maar hulle het dit nie gedoen nie en eerlank was hulle onverskillig, onoplettend en wetteloos. Dit was veral die geval met die gemengde skare. Hulle was ongeduldig om na die Beloofde Land te trek-die land wat oorloop van melk en heuning. Dit was slegs op voorwaarde van gehoorsaamheid dat die goeie land aan hulle belowe was, maar hulle het dit uit die oog verloor. Sommige het voorgestel dat hulle na Egipte terugkeer, maar ongeag of dit voorwaarts na Kanaan of terug na Egipte sou wees, die menigte was vasbeslote om nie langer vir Moses te wag nie. PeP 289.3

Omdat hulle in die afwesigheid van hulle leier magteloos begin voel het, het hulle tot hul ou bygelowe teruggekeer. Dit was die gemengde skare wat eerste ongeduldig geword en begin kla het en hulle was die leiers van die afvalligheid wat PeP 289.4

gevolg het. Onder die voorwerpe wat die Egiptenare as simbole van hulle godheid gebruik het, was ‘n bees of ‘n kalf; en dit was op die voorstel van hulle wat in Egipte hierdie soort afgodery beoefen het, dat daar nou ‘n kalf gemaak en aanbid is. Die volk wou ‘n beeld hê om God te verteenwoordig en om in die plek van Moses voor hulle uit te trek. God het op geen wyse ‘n ewebeeld van Homself gegee nie en het enige materiële verteenwoordiging vir hierdie doel belet. Die magtige wonderwerke in Egipte en by die Rooi See is bedoel om geloof in Hom te bevestig as die onsigbare, almagtige Helper van Israel, die enigste ware God. En die begeerte vir ‘n sigbare manifestasie van Sy teenwoordigheid is toegestaan deur die wolk-en vuurkolom wat die menigtes gelei het, asook in die openbaring van Sy heerlikheid op die berg Sinai. Maar met die wolk van die Heilige Teenwoordigheid steeds voor hulle oë, het hulle hul harte teruggedraai tot die afgodery van Egipte en die heerlikheid van die onsigbare God met die afbeelding van ‘n bees voorgestel! PeP 290.1

Gedurende sy afwesigheid het Moses die geregtelike gesag op Aaron oorgedra en ‘n groot skare het voor sy tent saamgekom met die eis: “Maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.”* Die wolk, so het hulle gesê, wat hulle tot dusver gelei het, het nou vir goed op die berg gerus; dit sou hulle nie verder op hulle reis lei nie. In die plek daarvan moes hulle ‘n beeld hê en indien, soos reeds voorgestel, hulle na Egipte terugkeer, sou die Egiptenare hulle goedgunstiglik ontvang as hulle hierdie beeld voor hulle uit dra en dit as hulle god erken. PeP 290.2

“n Krisis van hierdie aard vereis ‘n standvastige, vasbeslote man met onwankelbare moed; een wat die eer van God hoër as die guns van die volk, sy eie veiligheid en die lewe self ag. Maar dit was nie te bespeur in die karakter van die tydelike leier van Israel nie. Aaron het halfhartig beswaar gemaak, maar sy aarselende en bedeesde houding op hierdie kritieke stadium, het hulle net meer vasberade gemaak. Die oproer het toegeneem. ‘n Blinde, onredelike waansin het beheer oor die menigte geneem. Daar was sommige wat aan hulle verbond met PeP 290.3

------------------------------------------------------------ PeP 290.4

* Sien aanhangsel, opmerking 4 PeP 290.5

God getrou gebly het, maar die grootste gedeelte van die volk het hulle by die afvalligheid aangesluit. ‘n Paar wat dit gewaag het om die beeld makery as afgodery te bestempel, is aangerand en rof behandel en in die verwarring en opwinding, het hulle eindelik hul lewens verloor. PeP 291.1

Aaron het vir sy eie lewe gevrees en in stede daarvan dat hy edelmoedig op die eer van God gestaan het, het hy toegegee aan die eise van die menigte. Sy eerste daad was om te beveel dat die goue oorbelle van al die mense bymekaargemaak en na hom gebring word, in die hoop dat trots hulle sou lei om te weier om so ‘n opoffering te maak. Maar hulle het gewilliglik hul ornamente afgestaan; en hiervan het hy ‘n gegote kalf gemaak, ‘n namaaksel van die gode van Egipte. Die volk het verkondig: “Dit is jou gode, O Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” En op ‘n veragtelike wyse het Aaron hierdie belediging van Jehova toegelaat. Hy het verder gegaan. Toe hy sien met wat se tevredenheid die goue god aanvaar is, het hy ‘n altaar voor die beeld opgerig en ‘n aankondiging gedoen: “More is daar fees tot eer van die Here.” Hierdie aankondiging is deur trompetblasers deur die verskillende afdelings van die kamp verkondig. “En hulle het die volgende dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers gebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink en hulle het opgestaan om te speel.” Onder die voorwendsel dat hulle ‘n “...fees tot eer van die Here...” vier, het hulle hulle oorgegee aan belustigheid en losbandige brassery. PeP 291.2

Hoe dikwels word die liefde vir genot in ons tyd as ‘n “gedaante van godsaligheid” vermom! ‘n Godsdiens wat mense toelaat om, terwyl hulle die plegtighede van aanbidding waarneem, hulleself oorgee aan selfsugtige of sensuele bevrediging, wat tans vir hulle net so behaaglik is soos vir die menigtes in die dae van Israel. En daar is steeds buigbare Aarons wat, terwyl hulle verantwoordelike poste in die kerk beklee, sal toegee aan die begeertes van die ongewydes en hulle dus in sonde aanmoedig. PeP 291.3

Dit was slegs enkele dae sedert die Hebreërs ‘n plegtige verbond met God, dat hulle Sy stem sou gehoorsaam, gesluit het. Hulle het bewend van vrees by die berg gestaan en geluister na die woorde van die Here: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” Die heerlikheid van God het nog PeP 291.4

bokant Sinai gehang waar die skare dit kon sien; maar hulle het weggedraai en na ander gode gevra. “Hulle het by Horeb ‘n kalf gemaak en gebuig voor ‘n gegote beeld. En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van ‘n bees wat gras eet.”(Psalm 106:19,20). Is daar enige ander wyse waarop uiterste ondankbaarheid, of ‘n meer uitdagende belediging teenoor Hom, wat Homself aan hulle as ‘n deernisvolle Vader en ‘n almagtige Koning bewys het, betoon kon word? PeP 292.1

Op die berg is Moses gewaarsku aangaande die afvalligheid in die laer en die Here het hom beveel om sonder versuim daarheen terug te keer. “Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel. En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle ‘n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer.” God kon die beweging uit die staanspoor gekeer het, maar Hy het dit toegelaat om sulke afmetings aan te neem, sodat Hy aan almal ‘n les aangaande Sy straf vir verraad en afvalligheid, kon leer. PeP 292.2

God se verbond met Sy volk was nou uitgewis en Hy het aan Moses gesê: “Laat My dan nou begaan, dat My toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak.” Die volk Israel, veral die gemengde skare, sou voortdurend neig om teen God in opstand te kom. Hulle sou ook teen hulle leier murmureer en hom bedroef deur hulle ongeloof en hardkoppigheid en dit sou ‘n moeisame en uitmergelende werk gewees het om hulle na die Beloofde Land te lei. Hulle sonde het reeds die guns van God verbeur en geregtigheid het vereis dat hulle vernietig word. Daarom het die Here Hom voorgeneem dat Hy hulle sou vernietig en van Moses ‘n magtige volk maak. PeP 292.3

“Laat My dan nou begaan, dat ... Ek hulle verteer,” was die woorde van God. As die Here Hom voorgeneem het om Israel te vernietig, wie sou vir hulle intree? Hoe min, sou nie die sondaars aan hulle lot oorlaat nie! Hoe min sou nie die arbeid, die las en die opoffering wat met ondankbaarheid en klagtes beloon word, vir gemak en eer verruil wanneer dit God self was wat die vrystelling aanbied nie? PeP 292.4

Maar Moses het gronde vir hoop onderskei waar daar skynbaar net moedeloosheid en toorn was. Uit die woorde van PeP 292.5

God “Laat My dan nou begaan...” het hy verstaan dat hy nie verbied word om voorspraak te maak nie, maar dat dit eerder aangemoedig word, wat impliseer dat niks anders as die gebede van Moses Israel kon red nie en dat, indien daar op hierdie wyse gepleit word, God Sy volk sou spaar. Hy “...het die Here sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, O Here, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?” PeP 293.1

God het gemaak asof Hy Sy volk verwerp. Hy het gepraat van “...jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het.” Maar Moses het nederig die leierskap van Israel ontken. Hulle het nie aan hom behoort nie, maar aan God. “U volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand ... uitgelei het.” “Waarom...” het hy aangedring, “...sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig?” PeP 293.2

Gedurende die paar maande sedert Israel Egipte verlaat het, het al die omliggende nasies reeds die tyding van hulle wonderbare verlossing gehoor. Vrees en ‘n onheilspellende voorgevoel het op die heidene gerus. Almal het gewag om te sien wat die God van Israel vir Sy volk sou doen. As hulle nou vernietig sou word, sou hulle vyande seëvier en dit sou God oneer aandoen. Die Egiptenare sou eis dat hulle beskuldigings waar was-in stede van Sy volk na die woestyn te lei om te offer, het Hy veroorsaak dat hulle geoffer word. Hulle sou nie aan Israel se sonde dink nie; die vernietiging van die volk wat Hy so daadwerklik vereer het, sou verwyt oor Sy Naam bring. Hoe groot is die verantwoordelikheid van diegene wat hoog deur God vereer is, om Sy Naam lofwaardig op die aarde te maak! Met hoeveel oorleg behoort hulle daarteen te waak om sonde te doen, Sy oordele oor hulle te bring en te veroorsaak dat Sy Naam deur die goddeloses gelaster word! PeP 293.3

Terwyl Moses vir Israel ingetree het, het sy beskroomdheid gewyk voor sy diepe belangstelling in en liefde vir diegene vir wie hy as werktuig van God soveel gedoen het. Die Here het sy smeekbede aangehoor en sy onselfsugtige gebed toegestaan. God het Sy dienskneg beproef; Hy het sy getrouheid en sy liefde vir daardie dwalende, ondankbare volk op die proef gestel en Moses het die toets met edelmoedigheid geslaag. Sy belangstelling in Israel het nie uit ‘n selfsugtige motief ontstaan PeP 293.4

nie. Die voorspoed van God se uitverkore volk was vir hom van groter belang as persoonlike eer, kosbaarder as die voorreg om die stamvader van ‘n magtige volk te word. Sy getrouheid en eenvoud van hart en eerbaarheid was vir God behaaglik en daarom het Hy aan hom, as ‘n getroue herder, die groot verantwoordelikheid opgedra om Israel na die Beloofde Land te lei. PeP 294.1

Toe Moses en Josua van die berg afkom, met Moses wat die “tafels van die getuienis” in sy hande dra, het hulle die gejuig en die opgewonde uitroepe van die oproerige skare gehoor. Vir Josua, die krygsman, was sy eerste gedagte dat hulle deur vyande aangeval word. Hy het gesê: “Daar is oorlogsgeraas in die kamp.” Maar Moses het van beter geweet wat die oorsaak van die rumoer was. Dit was nie die geluid van ‘n geveg nie, maar van joligheid. Hy het gesê: “Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtgesang.” PeP 294.2

Toe hulle naby die laer kom, sien hulle die volk rondom hulle afgod sing en dans. Dit was ‘n toneel van heidense oproerigheid, ‘n nabootsing van die afgodiese feeste van Egipte, maar hoe groot in teenstelling met die plegtige en eerbiedige aanbidding van God! Moses het pas die heerlikheid van God verlaat en hoewel hy gewaarsku was oor wat besig was om daar plaas te vind, was hy onvoorbereid op die afskuwelike vertoning van die verval van Israel. Hy was woedend. Om sy afsku aan hulle misdaad te betoon, het hy die kliptafels neergegooi en dit is voor die oë van die hele volk verbreek om aan te dui dat, net soos hulle hul verbond met God verbreek het, so het God Sy verbond met hulle verbreek. PeP 294.3

Moses het die kamp binnegegaan en tussen die feesgangers deurgeloop tot by die afgod, wat hy geneem en in die vuur gewerp het. Hy het dit agterna fyn gemaal en nadat hy dit in die water van die stroom wat uit die berg vloei gestrooi het, het hy die volk gedwing om daarvan te drink. So het hy die uiterste waardeloosheid van die god wat hulle aanbid het aan hulle getoon. PeP 294.4

Die groot leier het sy skuldige broer ontbied en streng gevra: “Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ‘n groot sonde oor hulle gebring het?” Aaron het hom probeer verdedig deur te PeP 294.5

vertel van die kabaal wat die mense opgeskop het en dat, indien hy nie aan hulle eise toegegee het nie, hulle hom sou doodmaak. Hy het gesê: “Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is. Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat die dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi en hierdie kalf het daaruit gekom.” Hy wou Moses wysmaak dat ‘n wonderwerk gebeur het; dat die goud in die vuur gegooi is en deur bomenslike krag in ‘n kalf verander het. Maar sy verskonings en bontpratery was nodeloos. Hy is geregtelik as die hoof oortreder behandel. PeP 295.1

Dit was as gevolg van die feit dat Aaron so hoog bo die ander geseën en vereer was, wat sy sonde so afskuwelik gemaak het. Dit was Aaron, “die heilige van die Here” (Psalm 106:16), wat die afgod gemaak en die fees aangekondig het. Dit was hy wat as segsman vir Moses aangestel was en aangaande wie God self getuig het, “Ek weet dat hy goed kan praat...” (Exodus 4:14), wat nagelaat het om die afgodedienaars van hulle hemeltergende plan te laat afsien. Hy, deur wie God gewerk het om Sy oordele op beide die Egiptenare en hulle afgode te laat neerkom, het onaangeraak geluister hoe daar voor die gegote beeld uitgeroep is: “Dit is jou gode, O Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” Dit was hy wat saam met Moses op die berg was en daar die heerlikheid van die Here aanskou het, wat gesien het dat daar geen beeld van die openbaring van daardie heerlikheid gemaak kon word nie-dit was hy wat daardie heerlikheid in die beeld van ‘n bees verander het. Hy, aan wie God die heerskappy oor die volk tydens die afwesigheid van Moses toevertrou het, het hulle opstand goedgekeur. “Ook was die Here baie toornig op Aaron sodat Hy hom wou verdelg.” (Deuteronomium 9:20). Maar in antwoord op die ernstige bemiddeling van Moses, is sy lewe gespaar en in berou en vernedering vir sy groot sonde, is hy in die guns van God herstel. PeP 295.2

As Aaron die moed gehad het om, ongeag die gevolge, op te staan vir wat reg is, kon hy daardie afvalligheid voorkom het. As hy onwankelbaar in sy getrouheid aan die Here was en as hy die volk op die gevare van Sinai gewys en hulle herinner het PeP 295.3

aan hulle verbond met God om Sy wet te onderhou, kon hy die boosheid gestuit het. Maar sy toegewing aan die begeertes van die volk en die bedaarde versekering waarmee hy hulle planne uitgevoer het, het hulle aangemoedig om tot groter mate te sondig as wat voorheen in hulle gedagtes was. PeP 296.1

Toe Moses met sy terugkoms in die kamp die opstandelinge gekonfronteer het, het sy ernstige teregwysings en verontwaardiging wat hy in die breek van die heilige tafels van die wet openbaar het, vir die mense ‘n skerp kontras gevorm met sy broer se aangename toespraak en waardige gedrag en hulle was partydig vir Aaron. Om homself te regverdig het Aaron probeer om die volk verantwoordelik te hou vir sy swakheid om toe te gee aan hulle eise; maar desnieteenstaande, is hulle gevul met bewondering vir sy sagmoedigheid en geduld. Maar God sien nie soos ‘n mens nie. Aaron se toegeeflikheid en sy begeerte om te behaag het hom vir die omvang van die misdaad wat hy goedgekeur het, verblind. Sy invloed ten gunste van sonde, het die lewe van duisende gekos. Hoe kontrasterend was die optrede van Moses, wie, terwyl hy getrou God se oordele uitgevoer het, getoon het dat die welsyn van Israel vir hom meer kosbaar was as voorspoed, of eer, of lewe. PeP 296.2

Van al die sondes wat God sal straf, is nie een in Sy oë ernstiger as diegene wat ander aanmoedig om te sondig nie. Dit is God se wil dat Sy diensknegte hulle getrouheid bewys deur oortreding, hoe pynlik dit ook mag wees, getrou te bestraf. Diegene wat met ‘n opdrag van God vereer word, moenie swak en toegeeflike tyd besteders wees nie. Hulle moenie strewe na eiebelang of onaangename pligte vermy nie, maar hulle moet die werk van God met onwankelbare getrouheid verrig. PeP 296.3

Alhoewel God Moses se gebed verhoor het deur Israel van vernietiging te spaar, is hulle afvalligheid, daadwerklik gestraf. Indien die wetteloosheid en ongehoorsaamheid waarin Aaron hulle toegelaat het om te verval, nie onmiddellik onderdruk sou word nie, sou die sonde spoedig handuit ruk en die hele volk in ‘n onherstelbare verderf dompel. Die sonde moes deur ernstige strengheid uitgewis word. Moses het in die poort van die laer gestaan en die volk toegeroep: “Wie vir die Here is, kom na my toe!” Diegene wat geen aandeel in die afvalligheid gehad het nie, moes aan Moses se regterkant staan; die wat skuldig maar boetvaardig was, aan sy linkerkant. Die bevel is gehoorsaam. PeP 296.4

Daar is bevind dat die stam van Levi geen aandeel in die afgodery gehad het nie. Uit die ander stamme was daar groot getalle wat, hoewel hulle gesondig het, nou hulle berou betuig het. Maar ‘n groot gedeelte van die volk, hoofsaaklik die gemengde skare wat aangedring het dat die kalf gemaak moes word, het hardnekkig met hulle opstandigheid volgehou. In die Naam van “...die Here, die God van Israel...” het Moses dié aan sy regterhand, wat geen skuld aan die afgodery gehad het nie, beveel om hulle swaarde aan te gord en almal dood te maak wat in die opstand volhard het. “En daar het van die volk op die dag omtrent drieduisend man geval.” Sonder inagneming van rang, familie of vriendskap, is die leiers van die goddeloosheid om die lewe gebring; maar almal wat berou gehad en hulle verootmoedig het, is gespaar. PeP 297.1

Diegene wat hierdie verskriklike oordeel voltrek het, het deur Gesag van God gewerk en die vonnis van die Koning van die hemel voltrek. Mense moet versigtig wees hoe hulle, in hulle menslike blindheid, hulle medemens oordeel en veroordeel; maar wanneer God hulle beveel om Sy vonnis op die skuldige te voltrek, moet Hy gehoorsaam word. Diegene wat hierdie pynlike daad verrig het, het daardeur hulle weersin in rebellie en afgodery getoon en hulself meer volledig aan die diens van die ware God gewy. Die Here het hulle getrouheid vereer deur ‘n besondere onderskeiding aan die stam van Levi toe te ken. PeP 297.2

Die Israeliete het hulle aan hoogverraad skuldig gemaak en dit teen ‘n Koning wat hulle met weldade oorlaai het en Wie se gesag hulle vrywillig beloof het om te gehoorsaam. Om die Heerskappy van God te handhaaf, moes die verraaiers gestraf word. Maar selfs hier het God Sy genade bewys. Hoewel Hy Sy wet gehandhaaf het, het hy aan almal die vryheid van keuse gegee om te bekeer. Slegs diegene wat in hulle opstand volhard het, het omgekom. PeP 297.3

Dit was nodig om die sonde te straf, as ‘n getuienis van God se misnoeë teen afgodery, aan die omliggende nasies. Deur die skuldiges te straf, moes Moses, as God se instrument, ‘n plegtige en openbare protes teen hulle misdaad aanteken. Wanneer die Israeliete hierna die afgodery van hulle naburige stamme sou veroordeel, sou hulle vyande terugkap met die beskuldiging dat die volk wat beweer het dat Jehova hulle God PeP 297.4

is, ‘n kalf gemaak en dit by Horeb aanbid het. Dan kon Israel, alhoewel hulle noodgedwonge die skandalige waarheid sou moes erken, na die vreeslike lot van die oortreders verwys as bewys dat hulle sonde nie goedgekeur of oorgesien is nie. PeP 298.1

Liefde, geensins minder as regverdigheid nie, het vereis dat hierdie sonde gestraf moes word. God is sowel die Bewaker as die Koning van Sy volk. Diegene wat in hulle opstand volhard, word verdelg sodat hulle nie ander tot ondergang kan lei nie. Deur die lewe van Kain te spaar, het God aan die heelal gedemonstreer wat die gevolge sou wees om sonde toe te laat om ongestraf te bly. Die invloed wat sy lewe en leringe op sy nakomelinge gehad het, het aanleiding gegee tot die toestand van verdorwenheid wat die verwoesting van die hele wêreld deur middel van ‘n sondvloed vereis het. Die geskiedenis van die antediluviane getuig van die feit dat ‘n lang lewe nie vir die sondaar ‘n seën is nie; die verdraagsaamheid van God het hulle goddeloosheid nie onderdruk nie. Hoe langer die mense geleef het, hoe meer korrup het hulle geword. PeP 298.2

So ook met die afval te Sinai. Tensy die oortreders spoedig gestraf word, sou dit dieselfde gevolge gehad het. Die aarde sou net so bedorwe gewees het as in die tyd van Noag. As die oortreders gespaar was, sou groter euwels as die wat as gevolg van die behoud van Kain se lewe gevolg het, ontstaan het. Dit was die genade van God dat duisende moes ly, om te voorkom dat Sy oordele miljoene tref. Om die menigte te red, moes Hy ‘n paar straf. Boonop het die volk, deur hulle nie aan God te onderwerp nie, Sy beskerming verbeur en sonder daardie beskerming is die hele nasie aan die mag van hulle vyande oorgelewer. As die sonde nie dadelik uit die weg geruim was nie, sou hulle spoedig die prooi van hul talryke en magtige vyande geword het. Dit was nodig vir die welvaart van Israel en ook om vir alle daaropvolgende geslagte ‘n les te wees dat die misdaad onmiddellik gestraf moes word. En dit was ook nie minder genadig teenoor die sondaars self, dat hulle sondige lewens beëindig is nie. Indien hulle lewe verleng was, sou dieselfde gees wat hulle teen God opstandig gemaak het, in haat teenoor mekaar gemanifesteer het en hulle sou mekaar uiteindelik uitgeroei het. Dit was in liefde teenoor die wêreld, PeP 298.3

liefde teenoor Israel en liefde selfs teenoor die oortreders dat die misdaad spoedig en uiters streng gestraf is. PeP 299.1

Toe die volk die omvang van hulle skuld besef, het vrees deur die hele laer getrek. Hulle het gevrees dat elke oortreder uitgeroei sou word. Moses het hulle in hulle nood jammer gekry en het beloof om weereens by God vir hulle te pleit. PeP 299.2

Hy het gesê: “Julle het ‘n groot sonde begaan; maar nou sal ek na die Here opklim; miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.” Hy het gegaan en in sy belydenis aan God gesê: “Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!” Die antwoord was: “Wie teen My gesondig het, die sal Ek uitdelg uit my boek. Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, My engel sal voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor hulle besoek. ” PeP 299.3

Moses se gebed herinner ons aan die hemelse rekords waarin die name van alle mense opgeskryf word en hulle dade, goed of sleg, getrou opgeteken word. Die boek van die lewe bevat die name van almal wat hulle aan die diens van die Here gewy het. Indien enigeen van hulle van Hom afdwaal en deur hardkoppige volharding in die sonde uiteindelik teen die invloede van Sy Heilige Gees verhard word, sal hulle name in die oordeel uit die boek van die lewe uitgewis word en hulle sal aan vernietiging oorgegee word. Moses het besef watter vreeslike lot die sondaar sou tref; tog, indien die Here van voorneme was om Israel te verwerp, het hy begeer dat sy naam saam met hulle s'n uitgewis word. Hy kon dit nie verdra om te sien dat die oordele van God diegene tref wat so genadiglik verlos was nie. Moses se bemiddeling vir Israel illustreer vir ons Christus se bemiddeling vir die sondige mensdom. Maar die Here het nie toegelaat dat Moses, soos Jesus, die skuld van die oortreders dra nie. Hy het gesê: “Wie teen My gesondig het, die sal Ek uitdelg uit my boek.” PeP 299.4

Diep bedroef het die volk hulle dode begrawe. Drieduisend is met die swaard gedood; kort daarna het ‘n plaag die laer getref; en toe het hulle die boodskap ontvang dat die Teenwoordigheid van God hulle nie verder op hulle reis sou vergesel nie. Jehova het verklaar: “Ek sal in jou midde nie optrek PeP 299.5

nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word.” Verder is hulle gelas: “Haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen.” Daar was roubeklag regdeur het die hele laer. Nederig en berouvol het die “...kinders van Israel hulleself beroof van hul versiersels, van die berg Horeb af.” PeP 300.1

Op Goddelike aanbeveling is die tent wat as tydelike plek van aanbidding gedien het, “...ver van die laer af... ” opgeslaan. Dit was ‘n verdere bewys dat God Sy teenwoordigheid van hulle onttrek het. Hy sou Homself aan Moses openbaar, maar nie aan hierdie volk nie. Die bestraffing is terdeë gevoel en vir die gewete-gekwelde menigte, het dit geblyk ‘n voorbode van ‘n groter ramp te wees. Het die Here nie miskien vir Moses van die kamp afgeskei sodat Hy hulle totaal kon uitwis nie? Maar hulle is nie sonder hoop gelaat nie. Die tent is buite die laer opgeslaan en Moses het dit “die tent van samekoms” genoem. Almal wat waarlik boetvaardig was en begeer het om na die Here terug te keer, is genooi om daarheen te gaan, hulle sondes te bely en om Sy genade te smeek. Nadat hulle na hulle tente teruggekeer het, het Moses in die tabernakel ingegaan. Met angstige belangstelling het die volk gekyk vir een of ander teken dat sy voorspraak vir hulle aanvaar is. As God sou inwillig om hom daar te ontmoet, was daar hoop dat hulle nie heeltemal vernietig sou word nie. Toe die wolkkolom neergedaal en by die ingang van die tabernakel gaan staan het, het die volk van blydskap geween en die hele volk het opgestaan en “...elkeen aan die ingang van sy tent... ” neergebuig. PeP 300.2

Moses was terdeë bewus van die perversiteit en blindheid van die volk wat aan sy sorg toevertrou was; hy was bewus van die moeilikhede waarmee hy te kampe sou kry. Maar hy het geleer dat ten einde sy invloed op die volk te laat geld, hy die hulp van God moes hê. Hy het vir ‘n duideliker openbaring van God se wil en die versekering van Sy teenwoordigheid gepleit: “U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam en jy het ook genade in my oë gevind. As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.” PeP 300.3

Die antwoord was: “Ek sal met jou saamgaan om jou die rusplek te gee.” Maar Moses was nog nie tevrede nie. Hy was diep in sy gemoed bewus van die verskriklike gevolge as God Israel aan sy verharding en onboetvaardigheid sou oorlaat. Hy kon dit nie verduur dat sy belange van die van sy broeders geskei moet word nie en hy het gebid dat die guns van God teenoor Sy volk herstel word en dat die teken van Sy teenwoordigheid moes voortgaan om hulle die weg aan te wys. “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.” PeP 301.1

En die Here het geantwoord: “Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë en Ek ken jou by die naam.” Maar die profeet het nog nie opgehou om te pleit nie. Op elke gebed was daar ‘n antwoord, maar hy het na nog groter bewyse van God se genade gesmag. Hy het nou ‘n versoek gerig wat geen mens ooit voorheen gedoen het nie: “Laat my tog u heerlikheid sien.” PeP 301.2

God het nie sy versoek as vermetelheid bestraf nie; maar die genadige antwoord was: “Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan.” Geen sterflike mens kan die onbedekte heerlikheid van God aanskou en bly leef nie; maar aan Moses is die belofte gegee dat hy soveel van die heerlikheid van God sou aanskou as wat hy kon verdra. Weer is hy na die bergspits ontbied; daar het die Hand wat die wêreld gemaak het, die Hand wat “...berge versit sonder dat hulle dit merk...” (Job 9:5), daardie skepsel van die stof, daardie geloofsman, geneem en hom in ‘n rotsskeur geplaas terwyl die heerlikheid van God en al Sy majesteit voor hom verbygegaan het. PeP 301.3

Hierdie ondervinding, bowenal die belofte dat die Teenwoordigheid van God met hom sou saamgaan, was vir Moses ‘n versekering van die welslae van die werk wat vir hom voorgelê het; en hy het dit van veel meer waarde geag as al die geleerdheid van Egipte of al sy prestasies as staatsman of militêre leier. Geen aardse mag of vernuf of geleerdheid kan die blywende teenwoordigheid van God vervang nie. PeP 301.4

Vir die oortreder is dit ‘n vreeslike ding om in die hande van die lewende God te val, maar Moses het alleen in die teenwoordigheid van die Ewige God gestaan en hy was nie bevrees nie, want sy siel was in volkome harmonie met die wil van sy Maker. Die psalmdigter sê: “As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.” (Psalm 66:18). Maar “...die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees en Sy verbond om hulle dit bekend te maak.” (Psalm 25:14). PeP 302.1

Die Here het Homself aangekondig as: “Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” PeP 302.2

“Toe het Moses hom gou na die aarde toe neergebuig en neergeval.” Weer het hy gepleit dat God die sonde van Sy volk moes vergewe en hulle moet aanneem as Sy erfgename. Sy gebede is toegestaan. Die Here het genadiglik belowe om Sy guns teenoor Israel te vernuwe en om vir hulle wondere te verrig “...soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie.” PeP 302.3

Veertig dae en nagte het Moses in die berg gebly; en soos die vorige keer is hy weer wonderbaarlik onderhou. Geen mens is toegelaat om saam met hom op te klim nie en gedurende sy afwesigheid is niemand toegelaat om naby die berg te kom nie. Op bevel van God het hy twee kliptafels gemaak en saam met hom na die bergkruin geneem en weer het die Here “...op die tafels die woorde van die verbond, die tien woorde, geskrywe.”* PeP 302.4

Gedurende daardie lang tydperk waartydens Moses in gemeenskap met God was, het sy gesig die heerlikheid van die Teenwoordigheid van God weerspieël; sonder dat hy dit geweet het, het sy gesig met ‘n verblindende lig gestraal toe hy van die berg afklim. Dieselfde lig het Stefanus se aangesig opgehelder toe hy voor sy regters gebring is; “En terwyl almal wat in die raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” (Handelinge 6:15). Sowel Aaron as die volk het van Moses teruggedeins en hulle was “...bevrees om naby hom te kom.” Hy het hulle verwarring en vrees gewaar, maar PeP 302.5

---------------------------------------------------- PeP 302.6

* Sien aanhangsel, opmerking 5 PeP 302.7

was nie bewus van die oorsaak nie en het hulle aangemoedig om nader te kom. Hy het die pand van die versoening van God aan hulle getoon en hulle verseker dat hulle in Sy guns herstel was. In sy stem kon hulle niks behalwe liefde en smeking gewaar nie en uiteindelik het een dit gewaag om nader aan hom te kom. Te oorweldig om te praat, het hy stilweg na Moses se aangesig en na die hemel gewys. Die groot leier het sy bedoeling gesnap. In hulle besef van skuld en dat hulle hul steeds onder Goddelike ontevredenheid bevind het, kon hulle nie die hemelse lig wat, indien hulle aan God gehoorsaam was, hulle met vreugde sou gevul het, verduur nie. Daar is vrees in sonde. Die siel wat vry van sonde is, sal nie begeer om van die lig van die hemel te skuil nie. PeP 303.1

Moses het baie gehad om aan hulle te vertel; en met meegevoel vir hulle vrees het hy sy gesig met ‘n sluier bedek en dit elke keer gedoen wanneer hy ná gemeenskap met God na die kamp teruggekeer het. PeP 303.2

Deur die helderheid van hierdie glans, wou God Israel onder die indruk bring van die heilige, verhewe aard van Sy wet en die heerlikheid van die evangelie wat deur Jesus Christus geopenbaar word. Terwyl Moses op die berg was, het God nie net die tafels van die wet aan hom gegee nie, maar ook die verlossingsplan verduidelik. Hy het gesien dat die offer van Christus, deur al die tipes en simbole van die Joodse era, vooruitgewys is; dit was die hemelse lig wat vanaf Golgota uitgestraal het en niks minder as die heerlikheid van die wet van God, wat so ‘n glans op Moses se aangesig laat skyn het. Daardie Goddelike Lig was die simbool van die heerlikheid van die bedeling waarvan Moses die sigbare bemiddelaar was; ‘n verteenwoordiger van die enigste ware Middelaar. PeP 303.3

Die heerlikheid wat in die aangesig van Moses weerspieël is, toon aan ons die seëninge wat God se wetsgehoorsame volk deur die bemiddeling van Christus sal ontvang. Dit getuig dat hoe meer intiem ons gemeenskap met God en hoe duideliker ons kennis van Sy vereistes, hoe meer volkome sal ons gelykvormig aan die Beeld van God kom en hoe meer geredelik sal ons deelagtig aan die Goddelike natuur word. PeP 303.4

Moses was ‘n tipe van Christus. Soos Israel se middelaar sy aangesig bedek het omdat die volk dit nie kon verduur om sy PeP 303.5

heerlikheid te aanskou nie, so het Christus, die Goddelike Middelaar, Sy Godheid met mensheid bedek toe Hy na die aarde gekom het. As Hy met die glans van die hemel geklee gekom het, sou Hy nie toegang tot die mens in sy sondige toestand kon verkry het nie. Hulle sou die heerlikheid van Sy teenwoordigheid nie kon verduur het nie. Daarom het Hy Hom verneder en is Hy “...in die gelykheid van sondige vlees...” gemaak. (Romeine 8:3), sodat Hy die sondige mensdom kon bereik en hulle kon ophef. PeP 304.1