Patriarge en Profete

29/75

Hoofstuk 27—Die Wet Aan Israel Gegee

(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 19 tot 24) PeP 275.1

KORT nadat hulle by Sinai kamp opgeslaan het, is Moses na die berg ontbied om God daar te ontmoet. Alleen het hy met die steil, ruwe voetpad opgeklim en die wolk wat die teenwoordigheid van Jehova se teenwoordigheid aangedui het, genader. Israel sou in ‘n intieme en besondere verhouding met die Allerhoogste gebring word-om as ‘n kerk en ‘n nasie onder die regering van God ingelyf te word. Die boodskap aan Moses vir die volk was: PeP 275.2

“Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.” PeP 275.3

Moses het na die laer teruggekeer en nadat hy die oudstes byeengeroep het, het hy die boodskap van God aan hulle oorgedra. Die antwoord was: “Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen.” So het hulle met God ‘n plegtige verbond gesluit en trou gesweer om Hom as hulle Heerser aan te neem sodat hulle, in ‘n besondere sin, die onderdane van Sy gesag geword het. PeP 275.4

Weer het die leier die berg bestyg en die Here het aan hom gesê: “Kyk, Ek sal in ‘n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek en hulle ook vir altyd aan jou kan glo.” Wanneer hulle moeilikhede op die pad teëgekom het, was die volk geneig om teen Moses en Aaron te murmureer en hulle daarvan te beskuldig dat hulle die Israeliete uit Egipte uitgelei het om hulle te vernietig. Die Here sou Moses voor hulle vereer sodat hulle kon leer om sy opdragte te vertrou. PeP 275.5

God het beplan om die afkondiging van Sy wet ‘n toneel van ontsagwekkende magsvertoon te maak, in ooreenstemming met die verhewe karakter daarvan. Die mense moes beïndruk word met die feit dat alles wat aan die diens van God verbonde was, met die grootste eerbied bejeën moes word. Die Here het PeP 275.6

aan Moses gesê: “Gaan na die volk en heilig hulle vandag en more en laat hulle hul klere was en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die Here voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal.” Intussen moes almal die tyd vir plegtige voorbereiding gebruik om voor God te verskyn. Hulle persoon en hulle klere moes van alle onreinheid gereinig word. En soos Moses hulle sondes uitwys, moes hulle hul aan nederigheid, vas en gebed wy sodat hul harte van onreinheid gereinig kon word. PeP 276.1

Die voorbereidings is volgens die bevel getref; en in gehoorsaamheid aan ‘n verdere opdrag, het Moses beveel dat ‘n versperring om die berg opgerig word sodat geen mens of dier die heilige gebied sou betree nie. Indien enigeen dit net sou aanraak, sou hulle onmiddellik gedood gewees het. PeP 276.2

In die oggend van die derde dag, terwyl almal se oë op die berg gevestig was, is die kruin met ‘n dik wolk bedek wat al hoe donkerder en digter geraak en neergedaal het, totdat die hele berg met donkerte en ontsagwekkende geheimsinnigheid omhul was. Toe is ‘n geluid soos van ‘n trompet gehoor wat die mense geroep het om voor God te verskyn; en Moses het hulle na die voet van die berg gelei. Uit die digte duisternis het weerligte geblits en donderslae het tussen die omliggende kranse opgeklink en weerklink. “En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in ‘n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond en die hele berg het hewiglik gesidder. En die verskyning van die Here se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.” Toe het “...die geluid van die basuin sterker en sterker geword.” So vreesaanjaend was die tekens van Jehova se teenwoordigheid dat die hele volk van Israel van vrees gebewe en op hulle aangesigte voor die Here neergeval het. Selfs Moses het uitgeroep: “Ek is verskrik en ek sidder.” (Hebreërs 12:21). PeP 276.3

Eindelik het die gedonder opgehou; die geluid van die basuin is nie langer gehoor nie; die aarde het stil geword. Daar was ‘n periode van plegtige stilte en toe is die stem van God gehoor. Omring met ‘n gevolg van engele het die Here uit die digte duisternis wat Hom omvou het terwyl Hy op die berg gestaan het, gespreek en Sy wet bekend gemaak. In sy beskrywing van die toneel sê Moses: “Die Here het gekom van Sinai en vir hulle PeP 276.4

opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tienduisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle. Ja, Hy het die stamme lief. Al sy heiliges-hulle is in u hand; en hulle was gelaer by u voet; elkeen ontvang iets van u uitsprake.” (Deuteronomium 33:2,3). PeP 277.1

Jehova het Hom nie net in die ontsagwekkende majesteit van Regter en Wetgewer geopenbaar nie, maar as die barmhartige Beskermer van Sy volk: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland. uit die slawehuis, uitgelei het.” Hy vir Wie hulle reeds as Leidsman en Verlosser geken het, wat hulle uit Egipteland uitgelei en deur die see vir hulle ‘n weg gebaan het, wat Farao en sy leërmagte verslaan het en sodoende bewys het dat Hy sterker as die gode van Egipte is, dit was Hy wat nou Sy wet verkondig het. PeP 277.2

Die wet is nie op hierdie stadium uitsluitlik tot voordeel van die Hebreërs verkondig nie. God het hulle vereer deur hulle as die bewaarders van Sy wet aan te stel, maar hulle moes dit as heilige pand vir die hele wêreld bewaar. Die voorskrifte van die Dekaloog is op alle mense van toepassing en is gegee tot lering en leiding van almal. Tien kort, omvattende, gesaghebbende bevele beskryf die plig van die mens teenoor God en sy medemens; en almal is op die groot grondbeginsel van liefde gegrond: “Jy moet die Here jou God lief hê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” (Lukas 10:27). (Kyk ook Deuteronomium 6:4,5 en Levitikus 19:18). In die Tien Gebooie word hierdie beginsels uiteengesit en is van toepassing op alle menslike toestande en omstandighede. PeP 277.3

“Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.” PeP 277.4

Jehova, die Ewige, die Selfbestaande, Ongeskape Een, Hyself die Bron en Onderhouer van alles, is alleen geregtig op die allerhoogste eerbied en aanbidding. Die mens word belet om aan enige ander voorwerp die eerste plek van sy liefde en diens te bied. Wat ons ook koester wat neig om ons liefde vir God te laat kwyn, of wat inmeng met diens wat aan Hom verskuldig is, daarvan maak ons ‘n afgod. PeP 277.5

“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.” PeP 278.1

Die tweede gebod verbied die aanbidding van die ware God deur middel van beelde of gelykenisse. Baie van die heidense nasies het beweer dat hulle beelde slegs figure of simbole was waardeur die Godheid aanbid word, maar God het sulke aanbidding as sonde verklaar. Die poging om die Ewige God deur materiële voorwerpe te verteenwoordig, verlaag die mens se begrip van God. Die verstand wat weggedraai is van die oneindige volmaaktheid van Jehova, sal tot die skepsel in stede van die Skepper aangetrek word. En namate sy begrippe van God verlaag word, sal ook die mens self vervalle raak. PeP 278.2

“Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God.” Die intieme en heilige verhouding tussen God en Sy volk word met die huwelik vergelyk. Omdat afgodery geestelike owerspel is, word God se ontevredenheid daarvan paslik jaloesie genoem. PeP 278.3

“Wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat.” Dit is onvermydelik dat die kinders onder die gevolge van hulle ouers se wandade sal ly, maar hulle word nie vir die ouers se skuld gestraf nie, tensy hulle self aan daardie sonde meedoen. Dit is egter gewoonlik die geval dat kinders in die voetspore van hulle ouers volg. Deur oorerflikheid en voorbeeld doen die seuns aan hulle vaders se sonde mee. Verkeerde neigings, verdorwe luste en verlaagde sedes, asook liggaamlike siektes en ontaarding word as ‘n erfnis van vader aan seun oorgedra tot in die derde en vierde geslag. Hierdie vreesaanjaende waarheid behoort ‘n kragtige oortuiging te wees om mense van ‘n sondige lewenswyse te weerhou. PeP 278.4

“En Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.” Deur die aanbidding van valse gode te verbied, gelas die tweede gebod, deur implikasie, die aanbidding van die ware God. En aan diegene wat getrou in Sy diens is, word genade belowe, nie slegs tot die derde en die vierde geslag soos wat met die grimmigheid teenoor diegene wat Hom haat, gedreig word nie, maar tot in duisende geslagte. PeP 278.5

“Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.” PeP 279.1

Hierdie gebod belet nie net die aflê van ‘n valse eed en algemene vloekwoorde nie, maar dit belet die gebruik van die Naam van God op ‘n ligsinnige of onverskillige wyse, sonder in agneming van die ontsagwekkende betekenis daarvan. Deur die ondeurdagte gebruik van die Naam van God in algemene gesprek, deur ‘n beroep op Hom te doen vir onsinnige dingetjies en die gereelde en onbedagsame herhaling van Sy naam, doen ons Hom oneer aan. “Sy Naam is heilig en vreeslik.” (Psalm 111:9). Almal behoort Sy majesteit, Sy reinheid en heiligheid, in gedagte te hou, sodat die hart beïndruk kan word met ‘n sin van Sy verhewe karakter; en Sy heilige Naam moet met plegtigheid en eerbied geuiter word. PeP 279.2

“Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie-jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.” PeP 279.3

Die Sabbat word nie as ‘n nuwe instelling bekendgestel nie, maar was reeds met die skepping gegrondves. Dit moet onthou en waargeneem word ter herdenking van die Skepper se werk. Dit wys na God as die Skepper van die hemele en die aarde en dit onderskei die ware God van alle valse gode. Almal wat die sewende dag onderhou toon hierdeur dat hulle aanbidders van Jehova is. Die Sabbat is dus ‘n teken van die mens se getrouheid aan God vir solank as wat daar mense op aarde is wat Hom dien. Die vierde gebod is die enigste van al tien waarin beide die Naam asook die titel van die Wetgewer gevind word. Dit is die enigste gebod wat aantoon deur Wie se gesag die wet gegee word. Daarom bevat dit die seël van God wat in Sy wet aangebring word as bewys van die egtheid en bindende krag daarvan. PeP 279.4

God het aan die mens ses dae gegee waarin hy sy werk moet verrig en Hy eis dat hulle werk in die ses werksdae PeP 279.5

gedoen moet word. Noodsaaklike werke en genadedade word op die Sabbat toegelaat, want die siekes en lydendes moet te alle tye versorg word; maar onnodige arbeid moet ten strengste vermy word. “As jy jou voet terughou van die Sabbat om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die Sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek... (Jesaja 58:13). En die gebod eindig ook nie hier nie. Die profeet sê: “...of ydele taal spreek nie.” Diegene wat op die Sabbat besigheidsake bespreek of planne beraam, word deur God beskou asof hulle met werklike besigheidstransaksies besig is. Om die Sabbat waarlik heilig te hou, moet ons nie eens ons gedagtes toelaat om aan dinge van die wêreld te dink nie. En die gebod sluit almal in wat binne ons poorte is. Die bewoners van die huis moet alle wêreldse aangeleenthede gedurende die gewyde ure opsysit. Almal moet saam verenig om God met gewillige diens op Sy heilige dag te vereer. PeP 280.1

“Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.” PeP 280.2

Ouers is geregtig op ‘n graad van liefde en agting wat geen ander persoon toekom nie. God self, wat ‘n verantwoordelikheid op hulle geplaas het vir die siele wat aan hulle toevertrou is, het georden dat gedurende die vroeëre lewensjare, ouers in die plek van God vir hulle kinders sal instaan. En hy wat die regmatige gesag van sy ouers verwerp, verwerp die gesag van God. Die vyfde gebod vereis nie slegs dat kinders respek, onderdanigheid en gehoorsaamheid teenoor hul ouers moet betoon nie, maar ook liefde en teerheid om hulle sorge ligter te maak, oor hulle aansien te waak en om hulle op hul oudag te versorg en te vertroos. Dit gelas ook respek vir predikante en regeerders en almal wie God met gesag beklee het. PeP 280.3

Die apostel sê: “Dit is die eerste gebod met ‘n belofte.” (Efesiërs 6:2). Vir die Israeliete wat op die punt gestaan het om in die land van Kanaan in te trek, was dit vir die gehoorsames ‘n belofte van ‘n lang lewe in daardie goeie land; maar die betekenis het ‘n wyer betekenis, wat die ganse Israel van God insluit en ewige lewe op die aarde belowe wanneer dit van die vloek van sonde bevry is. PeP 280.4

“Jy mag nie doodslaan nie. ” PeP 281.1

Elke onregverdige daad wat neig om die lewe te verkort; ‘n gees van haat en wraaksug of toegewing aan enige drif wat lei tot skadelike optrede teenoor ander; of selfs net veroorsaak dat ons hulle die slegste toewens; want “...elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar...”; ‘n selfsugtige nalatigheid in die versorging van hulpbehoewendes of lydendes; elke daad van selfbevrediging of onnodige onthouding; of oormatige arbeid wat die gesondheid kan benadeel; al hierdie dinge is in ‘n mindere of meerdere mate ‘n oortreding van die sesde gebod. PeP 281.2

“Jy mag nie egbreek nie.” PeP 281.3

Hierdie gebod belet nie net dade van onkuisheid nie, maar ook wellustige gedagtes en begeertes, of enige gebruik wat dit aanwakker. Reinheid word nie net vir die uiterlike lewe vereis nie, maar ook vir die geheime intensies en emosies van die hart. Christus wat geleer het hoe verreikend die verpligtinge van die wet van God is, het verklaar dat ‘n bose gedagte of blik net so sondig is as die onwettige daad. PeP 281.4

“Jy mag nie steel nie. ” PeP 281.5

Beide openbare en privaat sondes word by hierdie gebod ingesluit. Die agtste gebod belet mense diefstal en slawehandel en dit belet ook roofsugtige oorloë. Dit veroordeel diefstal en rowery. Dit vereis streng eerlikheid in die kleinste besonderheid van die lewe. Dit belet oneerlikheid in die handel en vereis dat regmatige skulde en lone betaal word. Dit deel ons mee dat elke poging om voordeel uit onkunde, swakheid of die teëspoed van ‘n ander te trek, in die boeke van die hemel as bedrog opgeteken word. PeP 281.6

“Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.” PeP 281.7

“n Valse voorstelling van enige saak, elke poging om ‘n ander om die bos te lei, word hierby ingesluit. Valsheid beteken die bedoeling om te mislei. Deur die blik van ‘n oog, beweging van die hand of ‘n uitdrukking op die gesig kan ‘n leuen net so effektief vertel word soos met woorde. Elke opsetlike oordrywing, elke wenk of aantyging wat bedoel is om ‘n verkeerde of oordrewe indruk te maak, selfs as mens die waarheid vertel met die doel om te mislei, al hierdie dinge is PeP 281.8

leuens. Hierdie gebod belet elke poging om ‘n ander se goeie naam te skend deur wanvoorstelling of kwade vermoedens, deur laster of skinderstories. Selfs doelbewuste onderdrukking van die waarheid, wat ander tot nadeel kan strek, is ‘n oortreding van die negende gebod. PeP 282.1

“Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” PeP 282.2

Die tiende gebod raak die wortel van alle sonde deur die selfsugtige begeerte waaruit ‘n sondige daad gebore word, te belet. Hy wat gehoorsaam aan die wet van God is, waak teen die sondige begeerte na iets wat aan ‘n ander behoort en sal hom nie skuldig maak aan ‘n verkeerde daad teenoor sy medemens nie. PeP 282.3

Dit was dan die heilige bevele van die Dekaloog wat, te midde van donder en vuur en met ‘n wonderbaarlike vertoning van krag en majesteit, deur die groot Wetgewer verkondig is. God het die afkondiging van Sy wet vergesel met Sy krag en heerlikheid sodat Sy volk die toneel nooit moes vergeet nie en dat hulle met diepgaande eerbied vir die Wetgewer, die Skepper van die hemel en die aarde beïndruk sou word. Hy wou ook aan alle mense die heiligheid, die belangrikheid en die onverganklikheid van Sy wet betoon. PeP 282.4

Die volk van Israel was met vrees oorweldig. Die ontsagwekkende mag wat God geopenbaar het, was meer as wat hulle bewende harte kon verdra. Want soos God se oppergesag van geregtigheid aan hulle verkondig is, het hulle, soos nooit tevore, die aanstootlike aard van sonde besef asook hulle eie skuld in die aangesig van ‘n heilige God. Met vrees en ontsag het hulle van die berg teruggedeins. Die skare het tot Moses uitgeroep: “Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.” Die leier het geantwoord: “Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat Sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie.” Die volk het egter op ‘n afstand gebly en die toneel met vrees aanskou terwyl Moses “...nader gegaan het, na die wolkedonkerheid waar God was.” PeP 282.5

Die gedagtes van die volk wat as gevolg van slawerny en heidenisme verblind en vervalle was, was nog nie gereed om die verreikende beginsels van God se Tien Gebooie ten volle te waardeer nie. Sodat die verpligtinge van die Dekaloog beter verstaan en toegepas kon word, is verdere wette aan hulle gegee om die beginsels van die Tien Gebooie te illustreer en dit toe te pas. Hierdie wette word verordeninge genoem, beide omdat dit oneindige wysheid en regverdigheid omraam en sodat regters hulle regspraak daarvolgens moes lewer. Anders as die Tien Gebooie, is hulle afsonderlik aan Moses gegee en hy moes dit aan die volk oordra. PeP 283.1

Die eerste van hierdie wette het betrekking gehad op diensknegte. In die antieke tyd het die regters misdadigers soms as slawe verkoop; in sommige gevalle is skuldenaars deur hul skuldeisers verkoop; en armoede het mense selfs gelei om hulself en hul kinders te verkoop. Maar ‘n Hebreër kon nie as lewenslange slaaf verkoop word nie. Sy dienstydperk is tot ses jaar beperk; die sewende jaar moes hy vrygestel word. Menseroof, doelbewuste moord en opstand teen ouerlike gesag was met die dood strafbaar. Dit was die Israeliet geoorloof om slawe aan te hou wat nie Israeliete was nie, maar hulle lewe en persoon is streng bewaak. Die moord op ‘n slaaf was strafbaar; as sy heer hom beseer het, al het hy net ‘n tand gebreek, was hy op sy vryheid geregtig. PeP 283.2

Die Israeliete was self kort tevore slawe en noudat hulle diensknegte kon aanhou, moes hulle daarteen waak om nie dieselfde gees van wreedheid en onderdrukking aan die dag te lê wat hulle onder hul Egiptiese opsigters gely het nie. Die herinnering aan hulle eie bittere slawerny moes hulle in staat stel om hulself in die plek van die dienskneg te plaas en om hulle te lei om bedagsaam en medelydend te wees, om ander te behandel soos hulle self behandel sou wou word. PeP 283.3

Die regte van veral weduwees en wese, was in die besonder beskerm en ‘n tere medelye vir hulle hulpelose toestand moes aan die dag gelê word. “As jy hulle op enige manier verdruk...” het die Here verklaar, “...waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor en my toorn sal ontvlam en Ek sal julle met die swaard ombring, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word.” Vreemdelinge wat hulle by Israel PeP 283.4

aangesluit het, moes teen onreg en verdrukking beskerm word. “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.” PeP 284.1

Dit was onwettig om rente van armes in te vorder. ‘n Arm man se kleed of sy kombers wat as pand geneem is, moes voor sononder aan hom teruggegee word. Hy wat hom aan diefstal skuldig gemaak het, moes dubbel die hoeveelheid terugbetaal. Daar moes ontsag wees vir die owerstes en vir die regters en regters is gewaarsku om nie die reg te verdraai, ‘n valse saak te ondersteun of omkoopgeld aan te neem nie. ‘n Geskinder en laster is belet, maar weldadige optrede, selfs teenoor persoonlike vyande, is aanbeveel. PeP 284.2

Die volk is weer aan die heilige verpligting van die Sabbat herinner. Jaarlikse feesdae is ingestel waarby al die manne van die nasie voor die Here moes bymekaarkom en aan Hom dankoffers en die eerste vrugte van Sy milddadigheid bring. Die rede vir hierdie wette was duidelik uitgelê: Dit was nie die gevolg van willekeurige soewereiniteit nie; alles was ten goede van Israel. Die Here het gesê: “Julle moet vir My heilige mense wees”-waardig om deur ‘n heilige God erken te word. PeP 284.3

Moses moes hierdie wette opteken en sorgvuldig bewaar as die grondslag van die volkswet, tesame met die Tien Gebooie wat aan hulle gegee is, om die voorwaarde vir die vervulling van God se beloftes aan Israel te illustreer. PeP 284.4

Toe is die volgende boodskap deur Jehova aan hulle gegee: “Kyk, Ek stuur ‘n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereed gemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.” Gedurende al die omswerwinge van Israel was Christus, in die wolk-en vuurkolom, hulle Leidsman. Terwyl daar tiperings was wat vooruitgewys het na die komende Verlosser, was daar ook ‘n teenwoordige Verlosser wat aan Moses bevele vir die volk PeP 284.5

gegee het en wat aan hulle voorgehou is as die enigste kanaal van seëning. PeP 285.1

Toe hy van die berg af terugkeer, het Moses “...aan die volk al die woorde van die Here en al die verordeninge vertel en daarop het die volk eenstemmig geantwoord: Al die woorde wat die Here gespreek het, sal ons doen.” Moses het hierdie belofte, saam met die woorde van die Here wat hulle daartoe verbind het om te gehoorsaam, in ‘n boek opgeteken. PeP 285.2

Daarna is die verbond bekragtig. Aan die voet van die berg is ‘n altaar opgerig en langs die altaar twaalf gedenkstene geplaas ‘‘...volgens die twaalf stamme van Israel...” tot getuienis dat hulle die verbond aanvaar het. Toe het die jongmanne wat vir hierdie diens uitgekies was, die offers aangebied. PeP 285.3

Nadat hy die altaar met die bloed van die offerdiere besprinkel het, het Moses “...die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees.” So is die verbondsvoorwaardes plegtig herhaal en almal het die vryheid van keuse gehad of hulle daaraan sou voldoen of nie. Eerstens het hulle beloof om die stem van God te gehoorsaam; daarna het hulle gehoor hoedat Sy wet verkondig word; toe is die beginsels uiteengesit, sodat hulle kon besef wat hierdie verbond behels. Weer het die volk eenstemmig geantwoord: “Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen en daarna luister.” “Toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed geneem ... en die boek self en die hele volk besprinkel en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het.” (Hebreërs 9:19,20). PeP 285.4

Nou moes daar reëlings getref word vir die volkome vestiging van die uitverkore volk onder Jehova as hulle koning. Die Here het Moses beveel: “Klim na die Here toe op, jy en Aaron, Nadab en Abihu en sewentig van die oudstes van Israel en buig julle neer van ver af. En laat Moses alleen nader kom na die Here toe.” Terwyl die volk aan die voet van die berg aanbid het, is hierdie uitgekose manne geroep om die berg te bestyg. Die sewentig oudstes moes Moses help om Israel te regeer en God het Sy Gees oor hulle laat kom en het hulle vereer met ‘n aansig van Sy krag en grootheid. “En hulle het die God van Israel gesien en onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene PeP 285.5

en so helder soos die hemel self.” Hulle het nie die Godheid self aanskou nie, maar hulle het die heerlikheid van Sy teenwoordigheid gesien. Vantevore sou hulle nie in staat gewees het om so ‘n toneel te aanskou nie; maar die vertoon van die mag van God het hulle met ontsag tot bekering gebring; hulle het Sy heerlikheid, reinheid en genade oordink totdat hulle nader aan Hom, wat die onderwerp van hulle bepeinsinge was, kon kom. PeP 286.1

Moses en “Josua, sy dienaar,” was nou ontbied om die Here te ontmoet. En omdat hulle ‘n geruime tyd uit die kamp sou wees, het die leier vir Aaron en Hur, bygestaan deur die sewentig oudstes, aangestel om waar te neem. “Toe Moses die berg opklim, het ‘n wolk die berg oordek. En die heerlikheid van die Here het op die berg Sinai gebly.” Ses dae lank het die wolk die berg bedek as bewys van God se besondere teenwoordigheid; tog was daar geen openbaring van Homself of kommunikasie van Sy wil nie. Gedurende daardie tyd het Moses gewag op die bevel om voor die Here te verskyn. Hy is aangesê: “Klim op die berg na My toe en vertoef daar...” en hoewel sy geduld en gehoorsaamheid op die proef gestel is, het hy nie moeg geword om te wag en sy pos verlaat nie. Hierdie periode van afwagting was vir hom ‘n tyd van voorbereiding en selfondersoek. Selfs hierdie begunstigde dienaar van God kon nie onmiddellik in die teenwoordigheid van God verkeer en die aanskoulikheid van Sy heerlikheid verduur nie. Ses dae moes aangewend word om homself deur ‘n hartsondersoek, bepeinsing en gebed aan God te wy voordat hy gereed kon wees vir direkte kommunikasie met sy Maker. PeP 286.2

Op die sewende dag, wat die Sabbat was, is Moses in die wolk ontbied. Die digte wolk het, ten aanskoue van die hele Israel, oopgegaan en die heerlikheid van die Here het soos ‘n verterende vuur deurgebreek. “En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.” Die veertig dae op die berg het nie die ses dae van voorbereiding ingesluit nie. Gedurende die ses dae was Josua saam met Moses en hulle het saam manna geëet en gedrink uit die stroom “...wat van die berg af kom.” Maar Josua het nie saam met Moses in die wolk ingegaan nie. Hy het buite gebly en daagliks voortgegaan om te eet en drink PeP 286.3

terwyl hy gewag het dat Moses moes terugkom, terwyl Moses die hele veertig dae lank gevas het. PeP 287.1

Gedurende sy verblyf op die berg het Moses voorskrifte ontvang vir die oprigting van ‘n heiligdom waarin die Teenwoordigheid van God duidelik geopenbaar sou word. “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon” (Exodus 25:8), was die bevel van die Here. Vir die derde keer is die viering van die Sabbat beveel. “Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken...” het die Here gesê, “...sodat die mense kan weet dat Ek die Here is wat julle heilig. Onderhou dan die Sabbat, want dit moet vir julle heilig wees ... Elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit.” (Exodus 31:17,13,14). Aanwysings was kort tevore gegee vir die onmiddellike oprigting van ‘n tabernakel vir die diens van God; en dit kon die volk moontlik laat besluit het dat, aangesien die doel daarmee die verheerliking van God was en omdat hulle groot behoefte gehad het aan ‘n plek van aanbidding, hulle geregverdig sou wees om op die Sabbat daaraan te werk. Om hulle teen hierdie dwaling te beskerm, is hulle gewaarsku. Selfs die heiligheid en dringendheid van daardie spesiale werk vir God moes hulle nie daartoe lei om op Sy heilige rusdag inbreuk te maak nie. PeP 287.2

Voortaan sou die volk vereer word met die blywende teenwoordigheid van hulle Koning. “Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees” ... “en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word...” (Exodus 29:45,43), is die versekering wat aan Moses gegee is. As ‘n simbool van die gesag van God en die beliggaming van Sy wil, is daar aan Moses ‘n afskrif van die Tien Gebooie gegee wat God self met Sy eie vinger op twee kliptafels geskryf het (Deuteronomium 9:10; Exodus 32:15,16), om heilig in die heiligdom bewaar te word, wat, wanneer dit voltooi was, ‘n sigbare middelpunt vir die volk se aanbidding sou wees. PeP 287.3

Van ‘n nasie van slawe, is die Israeliete bo alle nasies verhef om ‘n besondere skat vir die Koning van konings te wees. God het hulle van die wêreld afgesonder sodat Hy ‘n heilige pand aan hulle kon toevertrou. Hy het hulle as die bewaarders van Sy wet aangestel en dit was Sy plan om die kennis van Homself, deur hulle, onder die mensdom te bewaar. Op hierdie wyse sou die PeP 287.4

lig van die hemel op ‘n wêreld, wat in duisternis gehul is, skyn en alle volke sou ‘n Stem hoor pleit dat hulle hul van afgodery moes bekeer tot aanbidding van die lewende God. As die Israeliete getrou aan hulle toevertroude pand sou bly, sou hulle ‘n mag in die wêreld word. God sou hulle Beskermer wees en Hy sou hulle bo al die ander nasies verhef. Sy lig en waarheid sou deur hulle geopenbaar word en hulle sou onder Sy wyse en heilige regering uitstaan as ‘n voorbeeld van die voortreflikheid van aanbidding vir Hom bo alle vorms van afgodediens. PeP 288.1