Patriarge en Profete

4/75

Hoofstuk 2—Die Skepping

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 1 en 2) PeP 13.1

“DEUR die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” “Want Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan.” (Psalm 33:6,9). “Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.” (Psalm 104:5). PeP 13.2

Die aarde was ‘n lus vir die oog soos dit uit die hand van die Maker te voorskyn gekom het. Die oppervlakte het bestaan uit ‘n verskeidenheid van berge, heuwels en vlaktes, afgewissel met statige riviere en pragtige mere; en die heuwels en berge was nie steil met geweldige hoë ruwe kranse en vreesaanjaende klowe soos vandag nie. Die skerp, ruwe rante van die aarde was bedek met vrugbare grond waarop groen plante weelderig gegroei het. Daar was geen vreesaanjaende moerasse of dor woestyne nie. Orals het die oog op sierlike struike en keurige blomme gerus. In die hoogtes het bome uitgetroon, meer majestueus as enige bome wat tans bestaan. Die onbesoedelde lug was helder en heilsaam. Die totale landskap was mooier as enige versierde tuin van die pragtigste paleis. Die engeleskare het alles met verrukking aanskou en hulle oor die wonderlike werke van God verheug. PeP 13.3

Nadat die aarde, met die krioelende diere-en plantelewe, tot stand gebring is, het God die kroonstuk van Sy skepping, vir wie die pragtige aarde toegerus was, voortgebring. Aan hom is die heerskappy oor alles wat sy oog kon sien gegee, want “God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis en laat hulle heers oor ... die hele aarde ... En God het die mens geskape na sy beeld; ... man en vrou het Hy hulle geskape.” Hier word die oorsprong van die mensdom duidelik beskryf; en die Goddelike verhaal is só duidelik beskryf, dat daar geen moontlikheid vir verkeerde gevolgtrekkings kan wees nie. God het die mens na Sy eie beeld geskape. Dit is geen verborgenheid nie. Hier is geen rede om te veronderstel dat die mens geleidelik uit laer lewensvorme van diere of plantelewe geëvolueer het nie. So ‘n leerstelling verlaag die grootse werk van die Skepper tot die peil van die mens se enge, aardse PeP 13.4

begrip. Mense is so vasbeslote om die oppergesag van God uit die heelal uit te skakel dat hulle die mens verlaag en hom van die waardigheid van sy oorsprong beroof. Hy, wat die sterre aan die hemelgewelf gehang en die blomme van die veld liefderyk met vaardigheid gekleur het, wat hemel en aarde met die wondere van Sy almag vervul het toe Hy die kroon op Sy heerlike werk gespan het, deur een op die lieflike aarde aan te stel om daaroor te heers, het nie gefaal om ‘n wese te skep wat die Hand wat lewe aan hom gegee het, waardig te wees nie. Ons geslagslyn, soos deur Ingewing deurgegee, speur ons oorsprong nie na ‘n lyn van ontwikkelende kieme, weekdiere en viervoetige diere nie, maar na die almagtige Skepper. Hoewel Adam uit stof gevorm is, was hy “...die seun van God.” PeP 14.1

Hy is as God se verteenwoordiger aangestel om oor die laer bestaan orde te heers. Hulle kan die opperheerskappy van God nie verstaan of erken nie, tog is hulle in staat gestel om die mens lief te hê en te dien. Die psalmdigter sê: “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en ... wat trek deur die paaie van die see. ” (Psalm 8:7-9). PeP 14.2

In beide sy uiterlike voorkoms en sy karakter moes die mens die beeld van God uitbeeld. Slegs Christus is “die afdruksel” (Hebreërs 1:3) van die Vader, maar die mens is na God se beeld geskape. Sy aard was in ooreenstemming met die wil van God. Met sy geestesvermoë kon hy die Geestelike dinge begryp. Sy geneenthede was suiwer; sy luste en drange was onder beheer van sy rede. Hy was heilig en gelukkig omdat hy die beeld van God gedra het en volkome aan Sy wil gehoorsaam was. PeP 14.3

Soos die mens uit die hand van sy Skepper voortgekom het, was hy groot van gestalte en in perfekte simmetriese vorm. Sy voorkoms was bloesend met blakende gesondheid en hy het gegloei van die lig van lewe en vreugde. Adam was baie langer as die mense wat die aarde tans bewoon. Eva was ietwat korter van gestalte, maar haar voorkoms was edel en beeldskoon. Die sondelose egpaar het geen kunsmatige klere gedra nie; hulle was beklee met ‘n gewaad van lig en heerlikheid soos die wat die engele dra. Hierdie kleed van lig het hulle omvou, vir solank as wat hulle in gehoorsaamheid aan God geleef het. PeP 14.4

Nadat Adam geskape was, is elke lewende dier na hom toe gebring om vernoem te word; hy het opgemerk dat daar aan elkeen ‘n maat gegee was, maar onder hulle “...het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.” Onder al die diere wat God op die aarde gemaak het, was daar nie een gelykstaande aan die mens nie. En God het gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.” Die mens is nie gemaak om sy lewe in eensaamheid deur te bring nie; hy moes ‘n sosiale wese wees. Sonder ‘n metgesel sou al die skoonheid en aangename bedrywighede van Eden geen volkome geluk vir hom ingehou het nie. Selfs gemeenskap met die engele sou die verlange na meegevoel en kameraadskap nie bevredig het nie. Daar was niemand met dieselfde natuur wie hy kon liefhê en wie hom kon liefhê nie. PeP 15.1

God Self het aan Adam ‘n metgesel gegee. Hy het ‘n “...hulp wat by hom pas...” wat met hom ooreenstem, voorsien-een wat geskik was om sy metgesel te wees en om in liefde en meegevoel een met hom te wees. Eva is geskape uit ‘n rib wat die Here uit Adam se sy gehaal het, om aan te toon dat sy nie as hoof oor hom moes heers nie en ook nie as minderwaardige onder sy voete vertrap moes word nie, maar as gelyke aan sy sy moes staan om deur hom bemin en beskerm te word. As deel van die mens, been van sy been en vlees van sy vlees was sy sy wederhelf, om die intieme eenheid en liefdevolle band wat in hierdie verhouding moes bestaan, te toon. “Want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit.” “Daarom moet die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.” (Efesiërs 5:29,31). PeP 15.2

God het die eerste huwelik ingestel. Hierdie instelling het dus by die Skepper van die heelal ontstaan. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees...” (Hebreërs 13:4); dit is een van die eerste geskenke van God aan die mens en dit is een van die twee instellings wat Adam ná die sondeval saam met hom uit die Paradys geneem het. Wanneer die Geestelike beginsels in hierdie verhouding erken en gehoorsaam word, is die huwelik ‘n seën; dit bevorder die reinheid en geluk van die mensdom, dit voorsien in die mensdom se maatskaplike behoeftes en dit veredel sy liggaamlike, verstandelike en sedelike natuur. PeP 15.3

“Ook het die Here God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.” Alles wat God geskape het was volmaak in skoonheid en daar het niks ontbreek wat tot die geluk van die heilige egpaar kon bydra nie; maar die Skepper het nog ‘n verdere bewys van Sy liefde aan hulle gegee deur ‘n tuin as spesiale woning vir hulle te skep. In hierdie tuin was daar bome van elke soort waarvan baie met geurige, smaaklike vrugte belaai was. Daar was lieflike wynstokke wat regop gegroei het, maar tog ‘n grasieuse voorkoms geskep het en hulle takke wat swaar onder die lading van die aanloklike vrugte gehang het, met die rykste en grootste verskeidenheid skakerings. Dit was Adam en Eva se werk om die ranke van die wingerd te lei om ‘n soort somerhuisie te vorm en sodoende vir hulle ‘n woning van lewende bome, bedek met lower en vrugte, te skep. Daar was ‘n oorvloed van allerlei kleurvolle en geurige blomme. In die middel van die tuin was die boom van die lewe wat alle ander bome in heerlikheid oortref het. Sy vrugte het soos appels van silwer en goud gelyk en het die krag gehad om die lewe te verewig. PeP 16.1

Hierdie skeppingswerk was nou voltooi. “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.” “Toe sien God alles wat Hy gemaak het en-dit was baie goed.” Eden het op aarde gebloei. Adam en Eva het vrye toegang tot die boom van die lewe gehad. Geen smet van sonde of skadu van die dood het die pragtige skepping geskend nie. “Toe die moresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het...” (Job 38:7). PeP 16.2

Die magtige Jehova het die fondamente van die aarde gelê; Hy het die hele wêreld in ‘n kleed van skoonheid geklee en dit gevul met alles wat vir die mens tot nut is; Hy het al die wonders van die land en die see geskape. In ses dae het Hy die groot skeppingswerk voltooi. En God het “...op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al Sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” God het die werk van Sy hande met tevredenheid aanskou. Alles was volmaak en die Goddelike Outeur waardig en Hy het gerus, nie omdat Hy moeg was nie, maar omdat Hy ten volle tevrede was met die vrugte van Sy wysheid en goedheid en die openbaringe van Sy heerlikheid. PeP 16.3

Nadat God op die sewende dag gerus het, het Hy dit geheilig, of as rusdag vir die mens afgesonder. In navolging van die voorbeeld van sy Skepper, moes die mens op hierdie heilige dag rus, sodat, wanneer hy die hemele en die aarde aanskou, hy kon nadink oor God se groot skeppingswerk; en soos hy die bewyse van God se wysheid en goedheid aanskou, sy hart met liefde en eerbied vir sy Maker gevul mag word. PeP 17.1

In Eden het God die gedenkteken van Sy skeppingswerk opgerig deur die sewende dag te seën. Die Sabbat is aan Adam, die stamvader en verteenwoordiger van die ganse mensdom, toevertrou. Die handhawing daarvan moes ‘n daad van dankbare erkenning deur almal wat op die aarde woon wees, dat God hulle Skepper en regmatige Heerser is, dat hulle Sy handewerk en die onderdane van Sy heerskappy is. Derhalwe is hierdie instelling in sy geheel ‘n gedenkteken wat aan die ganse mensdom gegee is. Daar was niks daarin wat skaduagtig of beperkend op enige volk was nie. PeP 17.2

God het gesien dat die Sabbat, selfs in die Paradys, noodsaaklik vir die mens was. Dit was vir hom nodig om een dag van die sewe van sy eie belange en werksaamhede af te sien sodat hy kon nadink oor die werke van God en oor Sy krag en goedheid. Hy het ‘n Sabbat benodig om hom meer helderder aan God te herinner en dankbaarheid te verwek, omdat alles wat hy geniet en besit het uit die weldadige hand van sy Skepper gekom het. PeP 17.3

God se bedoeling was dat die Sabbat moes dien om mense se gedagtes tot die bepeinsing van Sy geskape werke te lei. Die natuur spreek tot sy sintuie en getuig dat daar ‘n lewende God, die Skepper en Opperheerser van alles is. “Die hemele vertel die eer van God en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit en die een nag kondig vir die ander kennis aan.” (Psalm 19:2,3). Die skoonheid wat die aarde beklee, is ‘n teken van die liefde van God. Ons sien dit in die ewige gebergtes, in die statige bome, in die ontluikende knoppe en in die tenger blomme. Alles getuig van God. Die Sabbat wat immer na Hom, wat alles geskape het wys, gebied die mensdom om die groot boek van die natuur oop te maak en daarin die wysheid, die krag en die liefde van die Skepper na te speur. PeP 17.4

Ofskoon ons stamouers onskuldig en heilig geskape was, was hulle nie onvatbaar vir die moontlikheid om te sondig nie. God het hulle vrye, morele agente gemaak, in staat daartoe om die welwillendheid van Sy karakter en die geregtigheid van Sy vereistes te waardeer en met volkome vryheid gehoorsaam te wees, of toe te gee aan ongehoorsaamheid. Hulle kon gemeenskap met God en die heilige engele geniet; maar voordat hulle vir ewig beveilig kon word, moes hulle trou eers op die proef gestel word. Aan die heel begin van die menslike bestaan, was die mens se begeerte na selfbevrediging onder beheer, die dodelike hartstog wat die fondasie van Satan se val was. Die boom van kennis, wat naby die boom van die lewe in die middel van die tuin gestaan het, sou die toets vir gehoorsaamheid, geloof en liefde van ons stamouers wees. Hoewel hulle toegelaat is om vrylik van die vrugte van elke ander boom te eet, is hulle verbied om, op straf van die dood, van die boom van kennis te eet. Hulle sou ook aan die versoekinge van Satan blootgestel word; maar indien hulle hierdie proef kon deurstaan, sou hulle uiteindelik buite bereik van sy mag gestel word om die ewigdurende guns van God te geniet. PeP 18.1

As ‘n onontbeerlike voorwaarde vir sy hele bestaan het God die mens onder die wet geplaas. Hy was ‘n onderdaan van die Heerskappy van God en sonder wetgewing kon daar geen regering wees nie. God kon die mens sonder die mag om Sy wet te oortree gemaak het; Hy kon die hand van Adam teruggehou het om aan die verbode vrug te raak; maar in daardie geval sou die mens nie ‘n vrye morele agent gewees het nie, maar slegs a outomaat. Sonder die vryheid van keuse, sou sy gehoorsaamheid nie vrywillig gewees het nie, maar gedwonge. Dan sou daar geen ontwikkeling van karakter gewees het nie. Dit sou teenstrydig wees met God se plan in Sy omgang met die bewoners van ander wêrelde. Dit sou benede die waardigheid van die mens as ‘n intelligente wese gewees het en sou die Satan se beskuldiging dat God na willekeur regeer, onderskraag het. PeP 18.2

God het die mens foutloos geskape; Hy het edel karaktertrekke aan hom gegee, sonder enige voorkeur tot sonde. Hy het hom met groot verstandelike vermoëns bedeel en het aan hom die sterkste moontlike aansporings tot getroue onderdanigheid voorgehou. Volmaakte, voortdurende PeP 18.3

gehoorsaamheid was die voorwaarde vir ewige geluk. Op hierdie voorwaarde kon hy toegang tot die boom van die lewe verkry. PeP 19.1

Soos hulle kinders sou uitbeweeg om die aarde te bewoon, moes die huis van ons stamouers die patroon wees vir ander huise. Daardie huis wat deur die hand van God self versier is, was nie ‘n manjifieke paleis nie. In hulle hoogmoed skep mense behae in manjifieke, duur geboue en roem hulle op die werk van hulle eie hande; maar God het Adam in ‘n tuin geplaas. Dit was sy woning. Die blou hemel was sy koepel; die aarde met sy tenger blomme en lewende groen tapyt was die vloer; die lowerryke takke van die mooi bome was sy dak. Die mure was met die mooiste versiersels behang, die handewerk van die Meester Kunstenaar. In die omgewing van die heilige egpaar was daar ‘n voortdurende les vir alle tye, dat ware geluk nie in die toegee aan hoogmoed en luukshede bestaan nie, maar in gemeenskap met God deur Sy geskape werke. As mense minder aandag aan die kunsmatige sou skenk en groter eenvoud aankweek, sou hulle nader aan die doel kom waarvoor God hulle geskape het. Hoogmoed en selfsug word nooit bevredig nie, maar diegene wat waarlik wys is, sal wesenlike en veredelende genot in die dinge wat God vir die geluk van almal bestem het, vind. PeP 19.2

Aan die bewoners van Eden is die versorging van die tuin, om dit te “bewerk en te bewaak” opgedra. Hulle beroep was nie vermoeiend nie, maar aangenaam en verfrissend. God het aan die mens werk as ‘n seëning gegee om sy gedagtes besig te hou, om sy liggaam te versterk en om sy vermoëns te ontwikkel. Adam het een van die grootste genietinge van sy heilige bestaan in sy verstandelike en liggaamlike bedrywighede gevind. En nadat hy, as gevolg van sy ongehoorsaamheid uit sy pragtige woning verdryf is en noodgedwonge met die onversetlike grond moes worstel om sy daaglikse brood te verkry, was daardie arbeid, alhoewel baie verskillend van sy aangename werksaamhede in die tuin, ‘n beskerming teen versoeking en ‘n bron van geluk. Diegene wat werk as ‘n vloek beskou, al gaan dit ook gepaard met vermoeienis en pyn, koester ‘n ernstige wanbegrip. Dikwels sien die rykes met minagting neer op die werkende klasse; maar dit is geheel en al in stryd met God se doel in die skepping van die mens. Wat is die besittings van selfs PeP 19.3

die mees rykste mens in vergelyking met die erfenis van die adellike Adam? Nogtans moes Adam nooit ledig wees nie. Ons Skepper, wat weet wat vir die mens se geluk noodsaaklik is, het aan Adam sy werk gegee. Net werkende manne en vroue ken ware lewensvreugde. Die engele is vlytige werkers; hulle is die bedienaars van God aan die mens. Die Skepper het geen plek vir stagnante praktyke van traagheid geskep nie. PeP 20.1

Terwyl Adam aan God getrou gebly het, sou hy en sy metgesel oor die aarde heers. Onbeperkte beheer oor elke lewende ding is aan hulle toevertrou. Die leeu en die lam het in vrede rondom hulle gespeel of in vrede saam by hulle voete gelê. Die gelukkige voëls het sonder vrees om hulle heen gevlieg en wanneer hulle opgeruimde lofsange tot hulle Skepper opgestyg het, het Adam en Eva in danksegging aan die Vader en die Seun met hulle verenig. PeP 20.2

Die heilige egpaar was nie net kinders onder die vaderlike sorg van God nie, maar ook studente wat hulle onderrig van die alwyse Skepper ontvang het. Hulle is deur Engele besoek en het gemeenskap met hulle Maker gehad sonder enige verduisterende sluier tussenin. Hulle was vol lewenskrag wat van die boom van die lewe afkomstig was en hulle intellektuele vermoë was weinig minder as die van die engele. Die geheimenisse van die sigbare heelal-“...die wonders van die Volmaakte in kennis...” (Job 37:16)-het aan hulle ‘n onuitputlike bron van onderrig en genot verskaf. Die wette en werkinge van die natuur wat al vir sesduisend jaar deur die mens bestudeer word, is aan hulle verstand geopenbaar deur die oneindige Formeerder en Onderhouer van alles. Hulle het met blaar, blom en boom omgegaan en van elk inligting aangaande die geheime van die lewe daarvan versamel. Met elke lewende skepsel, van die magtige leviatan wat in die waters speel, tot die kleinste insek stipseltjie wat in die sonstraal sweef, was Adam bekend. Hy het aan elkeen sy naam gegee en hy was bekend met die aard en gewoontes van alles. God se heerlikheid in die hemele en die tallose wêrelde in hulle ordelike omwentelinge, “...die gesweef van die wolke...,” die verborgenhede van lig en klank, van dag en nag-alles was oop vir bestudering deur ons stamvaders. Op elke blaar in die bos, of klip teen die berge, in elke skitterende ster, op die aarde en in die lug, is die Naam van God geskryf. Die orde en harmonie van die skepping het van PeP 20.3

oneindige wysheid en krag getuig. Hulle het voortdurend een of ander aantrekkingskrag ontdek wat hulle harte met dieper liefde gevul het en nuwe dankbetuiginge ontlok het. PeP 21.1

Solank hulle die Wet van God getrou nagekom het, sou hulle vermoë om meer te weet, te geniet en lief te hê steeds toeneem. Hulle sou voortdurend nuwe skatte van kennis inwin, nuwe bronne van geluk ontdek en al duideliker begrippe van die onmeetlike, onfeilbare liefde van God opdoen. PeP 21.2