Patriarge en Profete
Hoofstuk 26—Van die Rooi See na Sinai
(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 15:22-27;16 tot 18) PeP 263.1
Van die Rooi See af het die Israeliete hulle reis onder begeleiding van die wolkkolom voortgesit. Die natuurtoneel rondom hulle was uiters somber-kaal, verlate berge, onvrugbare vlaktes en ver weg die see, met die strand bestrooi met die lyke van hulle vyande; tog was hulle vol van vreugde met die besef van vryheid en elke gedagte aan ontevredenheid gestil. PeP 263.2
Maar vir drie dae lank het hulle voort gereis sonder om water te vind. Die voorraad wat hulle saamgeneem het, was uitgeput. Daar was niks om hul brandende dors te les terwyl hulle hul moeë voete oor die skroeiende vlaktes voortgesleep het nie. Moses, wat daardie streek geken het, het geweet wat die ander nie weet nie, dat die water by Mara, die naaste plek waar waterfonteine te vinde was, onbruikbaar was. Met groot kommer het hy die begeleidende wolkkolom dopgehou en met ‘n sinkende hart het hy die blye uitroep “water! water!” wat in die lyn afgegaan het, gehoor. Manne, vroue en kinders het met vreugdevolle haas by die fonteine saamgedrom, maar ‘n kreet van uiterste teleurstelling het van die skare opgegaan-die water was bitter. PeP 263.3
In hulle ontsetting en wanhoop het hulle Moses verwyt omdat hy hulle hulle daarlangs gelei het, sonder om daaraan te dink dat dit die Teenwoordigheid van God in daardie geheimsinnige wolkkolom was wat vir Moses, sowel as hulle gelei het. In sy leed oor hulle ontsteltenis het Moses gedoen wat hulle vergeet het om te doen: hy het die Here ernstig om hulp gebid. “En die Here het aan hom ‘n stuk hout gewys; dit het hy in die water gegooi en die water het soet geword.” Daar het die Here Israel deur Moses beloof: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak.” PeP 263.4
Van Mara af het die volk na Elim gereis en daar het hulle “...twaalf waterfonteine en sewentig palmbome...” gevind. Hier het hulle etlike dae vertoef voordat hulle die woestyn Sin binnegegaan het. ‘n Maand nadat hulle uit Egipte vertrek het, het hulle hul eerste laer in die woestyn opgeslaan. Hulle voedselvoorrade was nou PeP 263.5
byna uitgeput. Die weiding in die woestyn was skaars en hulle kuddes het begin uitteer. Hoe sou daar vir hierdie groot skare voedsel voorsien word? Twyfel het weer hulle harte gevul en hulle het begin kla. Selfs die owerstes en die oudstes van die volk het saam met die ander teen die leiers wat deur God aangestel is begin kla: “Het ons maar in Egipteland deur die hand van die Here gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe. ” PeP 264.1
Tot nog toe het hulle nie honger gely nie; daar is in al hulle huidige behoeftes voorsien, maar hulle het vir die toekoms gevrees. Hulle kon nie verstaan hoe hierdie groot menigtes op hulle reise deur die woestyn ‘n bestaan kon maak nie en in hulle verbeelding het hulle hul kinders van die honger sien omkom. Die Here het toegelaat dat hulle moeilikhede ervaar en dat hulle voedselvoorraad verminder, sodat hulle hul harte tot Hom, wat tot dusver hulle Redder was, kon wend. As hulle Hom vir hul behoeftes sou aanroep, sou Hy steeds duidelike bewyse van Sy liefde en sorg aan hulle openbaar. Hy het beloof dat as hulle Sy gebooie gehoorsaam, hulle nie sou siek word nie en dit was sonde van ongeloof van hulle kant om hulle vooruit te bekommer dat hulle kinders van die honger sou omkom. PeP 264.2
God het beloof om hulle God te wees, om hulle as Sy volk aan te neem en om hulle na ‘n groot en vrugbare land te lei; maar hulle was gereed om met elke hindernis wat op pad na daardie land oor hulle pad kom, moedeloos te word. Hy het hulle op wonderbaarlike wyse uit hul slawerny in Egipte verlos om hulle te verhef en te veredel en lofwaardig op die aarde te maak. Maar dit was nodig dat hulle moeilikhede moes teëkom en ontberinge moes verduur. God het hulle uit ‘n staat van verval opgehef en geskik gemaak om ‘n ereplek tussen die nasies in te neem en om belangrike en heilige vertroue te wen. As hulle, met in agneming van alles wat Hy vir hulle gedoen het, vertroue in Hom gehad het, sou hulle gewilliglik ongerief, ontberinge en selfs ware lyding verduur het; maar hulle was onwillig om die Here enigsins verder te vertrou as wat hulle die aanhoudende bewyse van Sy mag kon sien. Hulle het van hul swaar lyding in Egipte vergeet. Hulle het vergeet van die goedheid en krag van God wat Hy, namens hulle, vir hul verlossing van slawerny openbaar het. Hulle het vergeet hoe hulle kinders gespaar was toe die doodsengel al die eersgeborenes in Egipte PeP 264.3
laat sterf het. Hulle het vergeet van die groot magsvertoon van die krag van God by die Rooi See. Hulle het vergeet dat, terwyl hulle veilig op die pad wat deur die Rooi See vir hulle oopgegaan het gegaan het, die leërs van die vyande wat gepoog het om hulle te volg, deur die water van die see verswelg is. Hulle was slegs bewus van hul huidige ongeriewe en beproewings; en in stede van te sê: “God het vir ons as slawe volk groot dinge verrig,” het hulle oor die moeilike tog gepraat en gewonder wanneer hierdie vermoeiende pelgrimstog sou eindig. PeP 265.1
Die geskiedenis van die lewe van Israel in die woestyn is opgeteken tot voordeel van die Israel van God tot aan die einde van tyd. Die rekord van God se omgang met die swerwers in die woestyn, met al hulle heen-en-weer togte, hulle blootstelling aan honger en dors en moegheid en die indrukwekkende openbaringe van Sy mag vir hulle verlossing, is vol van waarskuwings en lesse vir Sy volk deur alle eeue. Die afwisselende wedervaringe van die Hebreërs was ‘n skool van voorbereiding vir hulle beloofde tuiste in Kanaan. In hierdie dae wil God hê dat Sy volk die beproewinge wat die antieke Israel getref het, met ‘n nederige hart en ‘n ontvanklike gees oorweeg, sodat hulle ingelig kan wees ten opsigte van hul voorbereiding vir die hemelse Kanaan. PeP 265.2
Baie kyk terug na die Israeliete en verwonder hulle oor die ongeloof en murmureringe en meen dat hulle nie so ondankbaar sou wees nie; maar wanneer hulle geloof getoets word, selfs deur geringe beproewinge, openbaar hulle niks meer geloof of geduld as antieke Israel nie. Wanneer hulle in moeilike situasies verkeer, kla hulle oor die proses waardeur God hulle reinig. Hoewel daar in hulle huidige behoeftes voorsien word, is baie onwillig om God vir die toekoms te vertrou en hulle is voortdurend bekommerd dat armoede oor hulle pad sal kom en hulle kinders daaronder sal ly. Sommige verwag altyd onheil of hulle vergroot die reeds bestaande moeilikhede tot so ‘n mate dat hulle oë verblind raak vir die baie seëninge waarvoor hulle hul dankbaarheid moet getuig. In stede daarvan dat die hindernisse wat oor hulle pad kom hulle na God toe lei vir hulp, die enigste Bron van krag, skei dit hulle van Hom omdat dit onrus en kommer veroorsaak. PeP 265.3
Tree ons reg op om so ongelowig te wees? Waarom sou ons ondankbaar en wantrouig wees? Jesus is ons Vriend; die ganse hemel stel in ons welsyn belang en ons kommer en vrees bedroef die Heilige Gees. Ons moenie toegee aan bekommernis wat net PeP 265.4
knaag en vermoei en niks daartoe bydra om die beproewinge te dra nie. Daar behoort geen plek vir wantroue in God, wat daartoe lei dat voorsorg vir moontlike toekomstige tekorte die hoofdoel van ons lewe word, asof ons geluk uit hierdie aardse dinge bestaan, toegelaat te word nie. Dit is nie die wil van God dat Sy volk onder sorge gebuk moet gaan nie. Maar die Here sê ook nie dat daar geen gevaar oor ons pad gaan kom nie. Dit is nie Sy voorneme om Sy volk uit die wêreld van sonde en boosheid weg te neem nie, maar Hy wys ons na ‘n onfeilbare toevlugsoord. Hy nooi die wat vermoeid en belas is: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.” Gooi af die juk van bekommernis en wêreldse sorge wat julle op jul nek geplaas het en “...neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele.” (Mattheus 11:28,29.) In God kan ons rus en vrede vind as ons al ons bekommernis op Hom werp, want Hy sorg vir ons. (Kyk 1 Petrus 5:7). PeP 266.1
Die apostel Paulus sê: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.” (Hebreërs 3:12). Met in agneming van alles wat God vir ons gedoen het, behoort ons geloof sterk, aktief en blywend te wees. In stede van te murmureer en te kla, behoort die taal van ons harte te wees: “Loof die Here, O my siel en alles wat binne-in my is, Sy heilige Naam! Loof die Here, O my siel en vergeet geeneen van Sy weldade nie!” (Psalm 103:1,2). PeP 266.2
God het Israel se behoeftes nie verontagsaam nie. Aan hulle leier het Hy gesê: “Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën.” En die volk het opdragte ontvang om elke dag genoeg vir die dag se behoeftes in te samel en ‘n dubbele hoeveelheid op die sesde dag, sodat hulle die Sabbat kon onderhou. PeP 266.3
Moses het die vergadering verseker dat daar in hulle behoeftes voorsien sou word. Dit sal gebeur dat “...die Here julle in die aand vleis gee om te eet en in die more volop brood.” En toe voeg hy by: “Wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie, maar teen die Here.” Verder het hy Aaron beveel om aan hulle te sê: “Kom nader voor die aangesig van die Here, want Hy het julle murmureringe gehoor.” “Terwyl Aaron nog met hulle gepraat het draai hulle na die woestyn toe en meteens verskyn die heerlikheid van die Here in die wolk...” ‘n heerlikheid soos hulle nog nooit tevore aanskou het nie, as simbool van die Teenwoordigheid van God. PeP 266.4
Deur middel van openbaringe wat vir hulle sinne waarneembaar was, moes hulle ‘n kennis van God opdoen. Hulle moes geleer word dat die Allerhoogste en nie net die man Moses nie, hulle leier was, sodat hulle Sy Naam kon vrees en Sy stem kon gehoorsaam. PeP 267.1
Daardie aand was die laer met groot swerms kwartels omgewe-genoeg om in almal se behoeftes te voorsien. In die oggend het daar klein ronde korrels op die grond gelê, fyn soos ryp op die grond. “Dit was wit soos koljandersaad.” Die volk het dit “manna” genoem. Moses het gesê: “Dit is die brood wat die Here julle gee om te eet.” “Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in panne gebak en daarvan roosterkoeke gemaak. En dit het gesmaak soos heuningkoek.” (Numeri 11:8). Hulle is beveel om daagliks vir elke persoon ‘n gomer in te samel; en niks moes tot die volgende dag oorgehou word nie. Sommige het probeer om daarvan vir die volgende dag oor te hou, maar dit was oneetbaar. Die voorraad vir die dag moes in die oggend versamel word, want alles wat op die grond agtergebly het, het in die son gesmelt. PeP 267.2
Met die insameling van die manna is daar ontdek dat sommige meer en ander minder as die benodigde hoeveelheid ingesamel het: “Maar toe hulle dit met die gomer meet, het hy wat baie ingesamel het, niks oorgehad nie; en hy wat min ingesamel het, nie te min nie.” In sy tweede sendbrief aan die Korinthiërs gee die apostel Paulus ‘n verduideliking van hierdie Skrifgedeelte en ‘n praktiese les wat daaruit geleer kan word. “Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd van hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.” (2 Korinthiërs 8:13-15). PeP 267.3
Op die sesde dag het die mense twee gomer vir elke persoon opgetel. Die owerstes het gehaas om Moses hieroor in te lig. Hy het geantwoord: “Dit is wat die Here gespreek het. More is dit ‘n rusdag, ‘n heilige Sabbat van die Here. Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook, kook dit; en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die more toe.” Hulle het dit gedoen en ontdek dat dit nie sleg geword het nie. “Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die Sabbat van die Here. Vandag sal julle dit nie in die veld PeP 267.4
kry nie. Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit Sabbat; dan sal dit daar nie wees nie. ” PeP 268.1
God vereis dat Sy heilige dag tans, net soos in die tyd van Israel, heilig bewaar moet word. Die bevel wat aan die Hebreërs gegee is, behoort deur alle Christene as ‘n opdrag van Jehova aan hulle beskou te word. Die dag voor die Sabbat moet ‘n dag van voorbereiding wees, sodat alles gereed kan wees vir die heilige ure van die Sabbat. Onder geen omstandighede mag ons eie sake toegelaat word om inbreuk op heilige tyd te maak nie. God het voorgeskryf dat daar na die siekes en lydendes omgesien moet word; die werk wat gedoen moet word om hulle gemaklik te maak is ‘n genade taak en geen oortreding van die Sabbat nie; maar alle onnodige werk moet vermy word. Daar is baie mense wat nalatig is en klein dingetjies, wat reeds op die voorbereidingsdag gedoen kon gewees het, tot die begin van die Sabbat uitstel. Dit behoort nie so te wees nie. Werk wat verwaarloos was totdat die Sabbat aanbreek, moet gelaat word totdat die Sabbat verby is. Hierdie optrede mag dalk die geheue van die onbedagsames aanhelp en hulle versigtig maak om hul eie werk in die ses werksdae te doen. PeP 268.2
Gedurende hulle lang verblyf in die woestyn het die Israeliete elke week ‘n drievoudige wonderwerk aanskou met die bedoeling om hulle te laat besef dat die Sabbat heilig is: op die sesde dag het daar ‘n dubbele hoeveelheid manna geval, maar op die Sabbat was daar niks. Boonop het die deel wat vir die Sabbatdag oorgehou is, vars en suiwer gebly in teenstelling met die wat op ‘n ander dag oorgehou is en onbruikbaar geword het. PeP 268.3
Die omstandighede wat met die gee van die manna gepaardgegaan het, gee aan ons afdoende getuienis dat die Sabbat nie, soos so baie beweer, ingestel is toe die wet op Sinai gegee is nie. Nog voordat die Israeliete by Sinai gekom het, het hulle al verstaan dat die Sabbat verpligtend was. Omdat hulle verplig was om elke Vrydag ‘n dubbele hoeveelheid manna in te samel om voorsiening vir die Sabbat te maak wanneer daar niks sou wees nie, is hulle voortdurend attent gemaak op die heiligheid van die dag. En toe sommige van die volk op die Sabbat uitgegaan het om manna in te samel, het die Here gevra: “Hoe lank weier julle om my gebooie en my wette te onderhou?” PeP 268.4
“En die kinders van Israel het die manna veertig jaar lank geëet, totdat hulle in ‘n bewoonde land gekom het. Die manna het hulle PeP 268.5
geëet totdat hulle by die grens van die land Kanaan gekom het.” Veertig jaar lank is hulle elke dag deur hierdie wonderwerk aan die onfeilbare sorg en tere liefde van God herinner. Soos die psalmdigter dit gestel het: God het “...koring van die hemel aan hulle gegee. Mense het die brood van die engele geëet.” (Psalm 78:24,25)-dit wil sê, brood wat die engele vir hulle voorsien het. Met die “koring van die hemel” gevoed, het hulle elke dag die les geleer dat, deur God se belofte aan hulle, was hulle net so bestand teen ‘n tekort, asof hulle omring was deur velde van wuiwende graan op die vrugbare vlaktes van Kanaan. PeP 269.1
Die manna wat vanuit die hemel geval het om Israel te voed, was ‘n tipe van Hom wat van God af neergedaal het om aan die wêreld lewe te gee. Jesus het gesê: “Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dit is die brood wat uit die hemel neerdaal... As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” (Johannes 6:48-51). En in die beloftes aan God se volk in die toekomstige lewe staan daar geskryf: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna.” (Openbaring 2:17). PeP 269.2
Nadat hulle uit die woestyn Sin vertrek het, het die Israeliete na Rafidim gegaan. Hier was geen water nie en weer het hulle die voorsienigheid van God gewantrou. In hulle blindheid en vermetelheid het die mense na Moses gekom en van hom geëis: “Gee julle vir ons water om te drink.” Maar, sonder om ongeduldig te raak, het hy gesê: “Wat twis julle met my? Waarom versoek julle die Here?” Woedend het hulle uitgeroep: “Waarom het u ons dan uit Egipte laat optrek om my en my kinders en my vee van dors te laat omkom?” PeP 269.3
Toe die Here hulle so oorvloedig van voedsel voorsien het, het hulle met skaamte aan hulle ongeloof en klagtes gedink en hulle het beloof om die Here in die toekoms te vertrou; maar hulle het hulle belofte spoedig vergeet en het in die eerste toets van hulle geloof gefaal. Die wolkkolom wat hulle gelei het, het geblyk asof dit ‘n vreesaanjaende geheim verberg. En Moses, wie was hy, wou hulle weet en wat sou sy doel wees om hulle Egipte uit te bring? Agterdog en wantroue het hulle harte gevul en hulle het hom prontuit daarvan beskuldig dat hy hulle en hul kinders deur ontberings en swaarkry wou doodmaak, sodat hy homself met PeP 269.4
hulle besittings kon verryk. In die oproer van woede en verontwaardiging was hulle op die punt om hom te stenig. PeP 270.1
Moedeloos het Moses die Here aangeroep: “Wat moet ek met hierdie volk doen?” Die Here het hom beveel om die oudstes van die volk te roep en om die staf te neem waarmee hy in Egipte wondere verrig het en om dan voor die volk uit te stap. En die Here het aan hom gesê: “Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink.” Hy het gehoorsaam en die water het in ‘n lewende stroom daar uitgebars wat die laer oorvloediglik van water voorsien het. In stede daarvan dat Hy Moses beveel het om sy staf op te lig en ‘n vreeslike plaag soos dié van Egipte op die leiers van hierdie goddelose klaers neer te roep, het die Here in Sy groot genade hierdie staf Sy instrument van hulle verlossing gemaak. PeP 270.2
“Hy het die rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede. En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere.” (Psalm 78:15,16). Moses het die rots geslaan, maar dit was die Seun van God wat, verskuil in die wolkkolom, langs Moses was en die lewegewende water laat vloei het. Dit was nie net Moses en die oudstes nie, maar ook die ganse volk wat ver weg gestaan het, wat die heerlikheid van die Here gesien het; maar indien die wolk verwyder sou word, sou hulle, as gevolg van die verblindende helderheid van Hom wat daarin gewoon het, gesterf het. PeP 270.3
In hulle dors het die volk God versoek deur te vra: “Is die Here in ons midde of nie?” “As God ons dan hierheen gebring het, waarom gee Hy nie sowel water as brood aan ons nie?” Die ongeloof wat hierdeur geopenbaar is, was krimineel en Moses het gevrees dat die oordeel van God hulle sou tref. En hy het daardie plek “Massa” “versoeking” en “Meriba”, “berisping” genoem as herdenking aan hulle sonde. PeP 270.4
'n Nuwe gevaar het hulle nou bedreig. Omdat hulle teen Hom gemurmureer het, het die Here toegelaat dat hulle deur hul vyande aangeval word. Die Amalekiete, ‘n wrede, oorlogsugtige stam wat in die gebied gewoon het, het teen hulle opgetrek en diegene, wat as gevolg van vermoeienis agter geraak het, aangeval. Moses, wat geweet het dat die massa van die volk onvoorbereid vir oorlog was, het Josua aangesê om uit die verskillende stamme ‘n groep krygsmanne te kies en die volgende dag met hulle teen die vyand PeP 270.5
uit te trek terwyl hy op ‘n hoogte met die staf van God in sy hand sou stelling inneem. Gevolglik het Josua en sy groep die vyand die volgende dag aangeval, terwyl Moses en Aaron en Hur op ‘n hoogte gestaan het vanwaar hulle die slagveld kon sien. Met sy arms hemelwaarts uitgestrek en die staf van die Here in sy regterhand, het Moses vir die sukses van die leër van Israel gebid. Soos die stryd voortgeduur het, is daar waargeneem dat terwyl Moses sy arms omhoog gehou het, Israel oorwin het, maar sodra hy dit laat sak het, het die vyand geseëvier. Toe Moses begin moeg word, het Aaron en Hur sy hande omhoog gehou totdat die son ondergegaan en die vyand op die vlug geslaan het. PeP 271.1
Deur Moses se hande te ondersteun het Aaron en Hur die volk op hulle plig gewys om hom in sy swaar werk te ondersteun, terwyl hy van God boodskappe wat aan hulle oorgedra moes word, ontvang het. En Moses se daad was ook betekenisvol deurdat dit getoon het dat God oor hulle lot beskik het; vir solank as wat hulle op Hom vertrou het, sou Hy vir hulle veg en hulle vyande verslaan; maar sodra hulle hul houvas op Hom laat vaar en op hulle eie krag staatgemaak het, sou hulle selfs swakker wees as diegene wat geen kennis van God gehad het nie en deur hulle vyand verslaan word. PeP 271.2
Soos die Hebreërs geseëvier het terwyl Moses sy hande na die hemel opgehef en vir hulle ingetree het, so behaal die Israel van God ook die oorwinning wanneer hulle deur geloof die krag van hulle magtige Helper vasgryp. Tog, Die krag van God moet met menslike inspanning verenig word. Moses het nie geglo dat God hulle vyande sou verslaan terwyl Israel onaktief gebly het nie. Terwyl die groot leier ernstig tot God gebid het, het Josua en sy dapper volgelinge hulle kragte tot die uiterste toe ingespan om die vyande van Israel en van God terug te dryf. PeP 271.3
Nadat die Amalekiete verslaan was, het God Moses beveel: “Skrywe dit as ‘n aandenking in ‘n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg.” Kort voor sy dood het die groot leier hierdie plegtige opdrag aan sy volk gegee: “Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was en hy God nie gevrees het nie ... Dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.” (Deuteronomium 25:17-19). Aangaande daardie goddelose PeP 271.4
volk het die Here verklaar: “Waarlik, die hand [van Amalek is] op die troon van die Here!” (Exodus 17:16). PeP 272.1
Die Amalekiete was nie onbekend met God se karakter of Sy soewereiniteit nie, maar in stede daarvan dat hulle Hom gevrees het, het hulle hul teen Sy mag verset. Die wonderwerke wat Moses voor die Egiptenare gedoen het, is ‘n onderwerp van bespotting deur die mense van Amalek gemaak en die vrese wat die omliggende nasies omring het, is as belaglik afgemaak. Hulle het ‘n eed by hulle gode afgelê dat hulle die Hebreërs sou vernietig sodat nie een sou ontsnap nie en hulle het gespog dat die God van Israel magteloos sou wees om hulle te weerstaan. Hulle is nie deur die Israeliete benadeel of bedreig nie. Hulle aanval was geheel en al sonder aanleiding. Dit was om hulle haat en veragting vir God te manifesteer dat hulle Sy volk wou vernietig. Die Amalekiete is lank reeds eiegeregtige sondaars en hulle misdade het tot God om wraak geroep, maar in Sy genade het Hy hulle steeds tot inkeer geroep; maar toe die Amalekiete die moeë, weerlose Israeliete aangeval het, het dit hulle volk se lot voltrek. God waak oor Sy swakste kinders. Geen daad van wreedheid of onderdrukking teenoor hulle word nie in die Hemel opgemerk nie. Hy hou Sy hande soos ‘n skild oor almal wat Hom liefhet en vrees; mense moet daarteen waak om nie daardie hand weg te slaan nie; want dit swaai die swaard van geregtigheid. PeP 272.2
Nie ver van die plek waar die Israeliete nou gekampeer het nie, het Jetro, Moses se skoonvader, gewoon. Jetro het van die verlossing van die Hebreërs gehoor en hy het daarheen vertrek om ‘n besoek aan hulle te bring en om Moses se vrou en twee seuns aan hom terug te besorg. Die groot leier is deur boodskappers in kennis gestel dat hulle in aantog was en hy het met groot blydskap uitgegaan om hulle te ontmoet en, nadat die eerste vreugdevolle ontmoeting verby was, het hy hulle na sy tent begelei. Terwyl hy op pad was na die gevare om Israel uit Egipte uit te lei, het hy sy familie teruggestuur, maar nou kon hy weer die verligting en gemak van hulle samesyn geniet. Aan Jetro het hy vertel hoe wonderbaarlik God met Israel gehandel het en die patriarg het hom verheug en die Here geloof en saam met Moses en die oudstes het hulle ‘n offer gebring en ‘n plegtige fees gehou om die genade van God te gedenk. PeP 272.3
Gedurende sy verblyf in die laer het Jetro spoedig ontdek hoe swaar die laste was wat op Moses se skouers gerus het. Om orde en dissipline tussen die groot en onopgeleide menigte te bewaar, was gewis ‘n ontsaglike taak. Moses was hulle erkende leier en regter en hy moes nie net na die gewone belange en pligte van die volk omsien nie, maar ook al hulle geskille is na hom verwys. Hy het dit toegelaat omdat dit hom die geleentheid gegee het om hulle te onderrig, soos hy gesê het: “...om hulle die insettinge van God en sy wette bekend te maak.” Maar Jetro het beswaar gemaak en gesê: “Die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. Jy sal heeltemal uitgeput raak.” Toe raai hy Moses aan om geskikte persone aan te stel as owerstes oor duisend en ander as owerstes oor honderd en ander as owerstes oor tien. Hulle moes “bekwame manne” wees “wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat.” Hulle moes die geringe sake beoordeel en net die moeilikste en belangrikste sake na Moses verwys. Jetro het aan Moses gesê: “Wees jy die verteenwoordiger van die volk by God en bring jy die sake voor God en onderrig hulle in die insettinge en die wette en maak hulle die weg bekend waarop hulle moet gaan en die werk wat hulle moet doen. ” Moses het die raad aangeneem en dit het nie net sy werk ligter gemaak nie, maar die gevolg was dat beter orde onder die volk gehandhaaf is. PeP 273.1
Die Here het Moses hoog vereer en het wondere deur sy hand verrig, maar die feit dat hy ander moes onderrig, het hom nie laat dink dat hy nie self onderrig nodig gehad het nie. Die gekose leier van Israel het gewillig na die raad van die geestelike priester van Midian geluister en sy plan en verstandige reëling aanvaar. PeP 273.2
Van Rafidim het die volk hulle reis voortgesit en die wolkkolom gevolg. Hulle weg het oor barre vlaktes, steil hoogtes en rotsagtige klowe gegaan. Dikwels wanneer hulle die sanderige woestyn deurkruis het, het ruwe berge, soos groot verskansings, wat gelyk het asof dit enige verdere vooruitgang blokkeer het, voor hulle opgedoem. Maar namate hulle nader beweeg het, is daar hier en daar openinge in die bergwande gesien en daaragter is daar weer ‘n groot oop plein gesien. Hulle is tans deur een van hierdie diep gruis bedekte poorte gelei. Dit was ‘n grootse en indrukwekkende toneel. Tussen die rotsmure wat aan weerskante honderde meters die lug in gestyg het, het ‘n lewende optog beweeg, so ver soos die oog kon sien, die menigtes Israeliete met hulle vee en kleinvee. En nou het Sinai, in al sy plegtige majesteit voor hulle verrys. Die PeP 273.3
wolkkolom het op sy kruin tot rus gekom en die volk het hulle tente op die vlakte daaronder opgeslaan. Hier sou hulle byna ‘n jaar lank woon. Snags het die vuurkolom hulle van die Beskerming van God verseker en terwyl hulle veilig geslaap het, het die brood van die hemel saggies op die kamp neergedaal. PeP 274.1
Met dagbreek is die donker berg riwwe verguld en het die goue strale van die son tot in die diepste klowe deurgedring wat vir die uitgeputte reisigers gelyk het soos strale van genade vanaf die troon van God. Aan alle kante was dit asof die skurwe kranse in hulle eensame grootsheid, van ewigdurende majesteit getuig het. Hier is die gemoed met erns en ontsag beïndruk. Die mens was gedwing om sy onkunde en swakheid te besef in die teenwoordigheid van Hom wat “...die berge met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal...” geweeg het. (Jesaja 40:12). Hier sou Israel die wonderlikste openbaring ontvang wat God nog ooit aan die mensdom gemaak het. Hier het die Here Sy volk versamel sodat Hy die heiligheid van Sy vereistes by hulle kon tuisbring deur Sy heilige wet met Sy eie stem te verkondig. Groot en radikale veranderinge moes in hulle plaasvind; want die aftakelende invloede van hulle slawerny en die lang omgang met afgodery het sy stempel op hulle gewoontes en karakters afgedruk. God het gewerk om hulle tot ‘n hoër sedelike peil op te hef deur Homself aan hulle bekend te maak. PeP 274.2