Patriarge en Profete

27/75

Hoofstuk 25—Die Eksodus

(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 12:34-51;13-15) PeP 254.1

Met hulle heupe omgord, met sandale aan hulle voete en hulle staf in die hand het Israel stilweg, met ontsag, maar tog met verwagting, gewag op die koning se bevel dat hulle moes trek. Voor dagbreek was hulle op pad. Gedurende die plae, terwyl die openbaringe van God se mag geloof in die slawe se harte laat ontvlam het en hulle verdrukkers met vrees gevul het, het die Israeliete geleidelik in die land Gosen saamgekom; en nieteenstaande die skielikheid van hulle vertrek, is daar reeds voorsiening vir die nodige organisering en beheer van die bewegende skare gemaak, deur hulle in groepe te verdeel onder aangestelde leiers. PeP 254.2

En hulle het uitbeweeg, “...omtrent seshonderd-duisend te voet, die manne buiten die kinders. En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek.” Onder die skare was nie net diegene wat deur hulle geloof in die God van Israel beweeg is nie, maar ook ‘n veel groter aantal wat net begeer het om van die plae weg te kom, of wat uit blote nuuskierigheid of opgewondenheid die vertrekkende Israeliete gevolg het. Hierdie klas was sou voortdurend vir Israel ‘n struikelblok en ‘n strik wees. PeP 254.3

Die volk het ook “...kleinvee en beeste-'n groot hoeveelheid vee...” met hulle saamgeneem. Dit was die eiendom van die Israeliete wat nooit, soos die Egiptenare, hulle besittings aan die koning verkoop het nie. Jakob en sy seuns het hulle beeste en hulle kleinvee saam met hulle na Egipte geneem en daar het hulle grootliks vermeerder. Voordat hulle uit Egipte weggetrek het, het die volk, op bevel van Moses, beloning vir hul onbetaalde arbeid geëis; en die Egiptenare, wat maar te gretig was om van hulle ontslae te raak, het nie geweier nie. Die slawe is daar weg, belaai met die buit van hulle verdrukkers. PeP 254.4

Op daardie dag is die geskiedenis wat honderde jare vantevore in profetiese gesig aan Abraham geopenbaar was, volbring. “Weet vir seker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle PeP 254.5

diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees en daarna sal hulle uittrek met baie goed.” (Genesis 15:13,14).* Die vierhonderd jaar was nou verstreke “...en op daardie selfde dag het die Here die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.” ‘n Kosbare erfnis wat die Israeliete met hulle saam uit Egipte weggeneem het, was die gebeente van Josef wat so lank op die vervulling van die belofte van God gewag het en wat Israel gedurende daardie donker jare van slawerny herinner het aan hulle komende verlossing. PeP 255.1

In stede van die direkte roete wat deur die land van die Filistyne na Kanaan gegaan het, het die Here hulle suidwaarts na die oewers van die Rooi See gelei. “Want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien en teruggaan na Egipte.” As hulle probeer het om deur die land van die Filistyne te trek, sou hulle teenstand ondervind het; want die Filistyne sou hulle vir slawe wat van hulle meesters weggevlug aangesien het en hulle sou nie geaarsel het om teen hulle oorlog te maak nie. Die Israeliete was swak toegerus vir ‘n ontmoeting met daardie magtige en oorlogsugtige volk. Hulle het min kennis van God gehad en hulle geloof in Hom was nog maar swak en hulle sou verskrik en moedeloos geword het. Hulle was ongewapen en nie gewoond aan oorlog nie, hulle gees was gedemp deur die lang tydperk van slawerny en hulle was belas met vroue en kinders, kleinvee en beeste. Deur hulle via die Rooi See te lei, het die Here Homself openbaar as beide ‘n God van deernis, asook veroordeling. PeP 255.2

“So het hulle dan van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die kant van die woestyn. En die Here het voor hulle uit getrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom nie snags voor die volk gewyk nie.” Die Psalmdigter sê: “Hy het ‘n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.” (Psalm 105:39). Kyk ook 1 Korinthiërs 10:1,2. Die vaandel van hulle onsigbare Leidsman was altyd met hulle. Bedags het die wolk hulle op hul reis gelei, of soos ‘n gewelf oor die skare gesprei. Dit het as beskerming teen die brandende hitte gedien PeP 255.3

------------------------------------------------------------------- PeP 255.4

* Sien aanhangsel, opmerking 3 PeP 255.5

en deur sy koelte en vog welkome verkwikking in die dorre woestyn gebied. Snags het dit ‘n vuurkolom geword wat hulle kamp verlig en hulle voortdurend aan die Teenwoordigheid van God herinner het. PeP 256.1

In een van die mooiste en mees vertroostende gedeeltes van Jesaja word daar na die wolk-en vuurkolom verwys om God se sorg vir Sy volk in die finale stryd met die magte van die bose, uit te beeld. “Dan skep die Here oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees. En daar sal ‘n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.” (Jesaja 4:5,6). PeP 256.2

Hulle het deur ‘n somber woestynagtige uitgestrektheid gereis. Hulle het reeds begin wonder waarheen hierdie weg hulle sou lei; hulle het moeg geword vir die moeilike pad en in sommige harte het vrees vir agtervolging deur die Egiptenare ontstaan. Maar die wolk het voortbeweeg en hulle het gevolg. En nou het die Here Moses beveel om in ‘n nou kloof af te draai en langs die see laer op te slaan. Daar is aan hom geopenbaar dat Farao hulle sou agtervolg, maar dat God, deur hulle redding, vereer sou word. PeP 256.3

In Egipte het dit rugbaar geword dat die Israeliete nie in die woestyn vertoef het om te aanbid nie, maar dat hulle in die rigting van die Rooi See getrek het. Farao se raadgewers het aan die koning gesê dat hulle slawe gevlug het om nooit weer terug te keer nie. Die mense het die feit betreur dat hulle so dwaas was om die dood van hulle eersgeborenes aan die mag van God toe te skryf. Nadat die wyse manne van hulle vrees herstel het, het hulle die plae aan natuurlike oorsake toegeskryf. Hulle het gesê: “Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie?” PeP 256.4

Farao het sy strydmagte versamel, “...seshonderd uitgesoekte strydwaens ... en al die ander strydwaens van Egipte...” ruiters en aanvoerders en voetsoldate. Die koning self, vergesel van die groot manne van sy ryk, was aan die hoof van sy aanvalsleër. Om die goedkeuring van die gode te verkry en die welslae van die onderneming te verseker, het die priesters hulle begelei. Die koning was van voorneme om die Israeliete PeP 256.5

bang te maak met ‘n groot vertoon van mag. Die Egiptenare was bang dat hulle gedwonge onderwerping aan die God van Israel hulle in die oë van die ander nasies belaglik sou maak; maar as hulle nou met ‘n groot vertoon van mag uitgaan en die vlugtelinge terugbring, sou hulle in hul eer herstel wees en ook die dienste van hulle slawe herwin. PeP 257.1

Die Hebreërs het langs die see, waarvan die waters ‘n skynbare onoorkomelike versperring voor hulle gevorm het, kamp opgeslaan, terwyl ruwe berge aan die suidekant hulle vordering versper het. Skielik het hulle in die verte die glinsterende pantsers en bewegende strydwaens, wat die aantog van ‘n groot leër verraai, opgemerk. Soos die mag nader gekom het, het hulle opgemerk dat dit die Egiptenare se leër is wat hulle agtervolg. Vrees het die harte van Israel gevul. Sommige het tot die Here gebid, maar die groter meerderheid het hulle na Moses gewend met hulle klagtes: “Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipte uitgelei het? Is dit nie die woord wat ons u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.” PeP 257.2

Moses was baie ontsteld omdat sy volk so min vertroue in God aan die dag gelê het, ondanks die feit dat hulle herhaaldelik die openbaring van Sy mag tot hulle voordeel aanskou het. Hoe kon hulle die skuld vir hulle moeilikhede en gevare op hom pak terwyl hy die duidelike bevel van God gehoorsaam het? Dit was waar dat daar geen moontlikheid vir hulle bevryding was nie, tensy God self sou intree nie, maar omdat hy deur gehoorsaamheid aan die leiding van God in hierdie moeilike omstandighede beland het, het Moses die gevolge nie gevrees nie. Sy kalme en gerusstellende antwoord aan die volk was: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die Here sal vir julle stry en julle moet stil wees.” PeP 257.3

Dit was nie ‘n maklike taak om die leërskare van Israel op die Here te laat wag nie. As gevolg van ‘n tekort aan dissipline en selfbeheersing, het hulle gewelddadig en onredelik geword. Hulle het verwag om spoedig weer in die hande van hulle PeP 257.4

verdrukkers te val en hulle klaagliedere was luid en diepgaande. Hulle het die wonderbaarlike wolkkolom gevolg as ‘n teken van God dat hulle voort moet gaan; maar nou het hulle hulself afgevra of dit nie dalk die voorteken van ‘n groot ramp was nie, want het dit hulle nie gelei na die verkeerde kant van die berg op ‘n onbegaanbare weg nie? Daarom het die Engel van God in hulle misleide gedagtes, gelyk soos die voorbode van ‘n ramp. PeP 258.1

Maar toe die Egiptiese leër hulle nader en verwag dat hulle ‘n maklike prooi sou wees, het die wolkkolom majestueus in die hemel opgetrek, oor die Israeliete beweeg en tussen hulle en die leërs van Egipte neergedaal. ‘n Muur van donkerte was tussen die agtervolgdes en hulle vervolgers. Die Egiptenare kon nie meer die kamp van die Hebreërs onderskei nie en was verplig om tot stilstand te kom. Maar namate die donker van die nag verdiep het, het die wolk ‘n groot lig vir die Hebreërs geword, wat die hele laer met die helderheid van daglig opgehelder het. PeP 258.2

Toe het daar weer hoop in die harte van die Israeliete gekom. En Moses het die Here aangeroep: “Toe vra die Here vir Moses: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek. ” PeP 258.3

Die psalmdigter beskryf in sy lied hoe Israel deur die see gegaan het: “U weg was in die see en u paaie in groot waters en u spore was nie te beken nie. U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aaron.” (Psalm 77:20,21). Toe Moses sy staf uitstrek, gaan die waters oop en Israel loop op droë grond deur die see terwyl die water aan weerskante soos ‘n muur gestaan het. Die lig van God se vuurpilaar het op die skuimende golwe geskyn en op die pad wat soos ‘n wye kloof deur die waters van die see oopgekloof is en in die duisternis op die oorkantste oewer verdwyn het. PeP 258.4

“Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek-al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters-die see in. En in die more waak het die Here, in die vuur-en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.” Die geheimsinnige wolk het voor hulle oë in ‘n vuurkolom verander. Die donder het gedreun en die weerlig het geblits. “Die wolke het water PeP 258.5

uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg. U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe.” (Psalm 77:18,19). PeP 259.1

Die Egiptenare was verward en ontsteld. Te midde van die toorn van die elemente waarin hulle die stem van ‘n vertoornde God kon hoor, het hulle probeer om op hulle spore terug te draai na die oewer wat hulle verlaat het. Maar Moses het sy staf uitgestrek en die opgehoopte waters het skuimend en bruisend, gretig vir die prooi, saamgevloei en die Egiptiese leër in die swart dieptes verswelg. PeP 259.2

Toe die oggend aanbreek, het die Israeliete die oorblyfsels van hulle magtige vyande, die onbedekte liggame wat op die oewer uitgespoel het, gesien. Een nag het volkome uitkoms uit die mees skrikwekkende gevaar gebring. Die groot hulpelose skare-slawe wat ongewoon aan oorlog was, vroue, kinders en vee, met die see voor hulle en die magtige Egiptiese leër op hulle hakke-het gesien hoe hulle weg deur die water oopgegaan het en hoe hulle vyande in die oomblik van verwagte oorwinning, vernietig is. Jehova alleen het hulle verlos en tot Hom het hulle harte met dankbaarheid en geloof opgegaan. Hulle gevoelens het in lofliedere uiting gevind. Die Gees van God het op Moses gerus en Hy het die volk voorgegaan in ‘n segelied van danksegging, die vroegste en een van die mees verhewene wat aan die mens bekend is: PeP 259.3

“Ek wil sing tot eer van die Here, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. PeP 259.4

Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. PeP 259.5

Die Here is “n krygsman; Here is sy naam. Hy het Farao se strydwaens en sy leërmagte in die see gewerp. PeP 259.6

En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink. Die watervloede het hulle oordek. Hulle het in die kolke gesink soos ‘n klip. o Here, u regterhand is verheerlik deur krag. PeP 259.7

U regterhand, O Here, verpletter die vyand .... O Here, wie is oor U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? .. PeP 260.1

U het deur U guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na U heilige woning gevoer. PeP 260.2

Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder.... Verskrikking en vrees het op hulle geval; PeP 260.3

deur die grootheid van U arm was hulle stom soos “n klip, terwyl U volk deurtrek, Here, PeP 260.4

terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het. U bring hulle in en plant hulle op die bergland van U erfnis, PeP 260.5

die plek, O Here, wat vas vaste woonplek vir U berei het.” PeP 260.6

(Exodus 15:1-17) PeP 260.7

Soos die stem van die grootse diepte het die verhewe hulde van die groot skare van Israel opgegaan. Dit is deur die vroue van Israel, begelei deur Miriam, die suster van Moses, verder gelei met tamboeryne en danse. Ver oor die woestynsand en die see het die woorde van hulle vreugdevolle woorde van lof weerklink-“Sing tot eer van die Here, want Hy is hoog verhewe.” PeP 260.8

Hierdie lied en die verlossing wat daardeur herdenk word, het op die geheue van die Hebreërs ‘n indruk gelaat wat nooit uitgewis kon word nie. Eeu na eeu het die profete en sangers van Israel dit oorvertel en getuig dat Jehova die krag en die verlossing is van diegene wat op Hom vertrou. Daardie lied behoort nie uitsluitlik aan die Joodse volk nie. Dit wys ook vooruit na die vernietiging van al die vyande van geregtigheid en die finale oorwinning van die Israel van God. Die profeet van Patmos het die wit geklede skare wat “oorwinnaars” is, op die “...see van glas, gemeng met vuur...” sien staan “...met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God en die lied van die Lam.” (Openbaring 15:2,3). PeP 260.9

“Nie aan ons, O Here, nie aan ons nie, maar aan U Naam gee eer, om U goedertierenheid, om U trou ontwil.” (Psalm PeP 260.10

115:1). Dit was die gees wat Israel se lied van verlossing deurdrenk het en dit is die gees wat in die harte van almal wat God lief het en vrees, moet wees. Deur ons van die slawerny van sonde te bevry, het God vir ons ‘n groter verlossing bewerkstellig as dié van die Hebreërs by die Skelfsee. Soos die Hebreër menigtes, behoort ons die Here met hart, siel en stem te prys vir Sy “wonderdade aan die mensekinders.” Diegene wat by die groot genade dade van God stilstaan en ook Sy kleinere genadegawes nie uit die oog verloor nie, sal hulle met vreugde omgord en in hulle harte tot die Here sing. Die daaglikse seëninge wat ons uit die hand van God ontvang en bo alles, die dood van Jesus om geluk en die hemel binne ons bereik te plaas, behoort die tema vir voortdurende dankbaarheid te wees. Watter medelyde, watter ongeëwenaarde liefde het God teenoor ons, verlore sondaars betoon, deur ons aan Homself te bind om vir Hom ‘n besondere skat te wees! Wat ‘n offer is deur ons Verlosser gebring, sodat ons kinders van God genoem kan word! Ons behoort God te loof vir die salige hoop wat deur die groot verlossingsplan aan ons voorgehou word; ons behoort Hom te loof vir die hemelse erfnis en vir Sy ryke beloftes; loof Hom omdat Jesus leef om vir ons in te tree. PeP 261.1

Die Skepper sê: “Die een wat dank offer, eer My.” (Psalm 50:23). Al die bewoners van die hemel verenig om God te loof. Laat ons dan nou die engelelied leer sodat ons dit saam met hulle kan sing wanneer ons ons by hulle skitterende geledere aansluit. Laat ons soos die psalmdigter sê: “Ek wil die Here prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog daar is.” “Die volke sal U loof, O God, die volke almal saam sal U loof.” (Psalm 146:2;67:4). PeP 261.2

God het in Sy voorsienigheid die Hebreërs tussen die engheid van die berge en die see gebring, sodat Hy Sy krag deur hulle verlossing kon openbaar en daadwerklik die trots van hulle verdrukkers kon verneder. Hy kon hulle op enige ander wyse gered het, maar Hy het hierdie metode verkies om hulle geloof op die proef te stel en om hulle vertroue in Hom te versterk. Die volk was moeg en verskrik, maar as hulle gehuiwer het toe Moses hulle beveel om voorwaarts te trek, sou God nooit vir hulle ‘n pad oopgemaak het nie. Dit was “...deur die geloof ...” dat hulle “...soos oor droë grond...” deur die Skelfsee getrek het. (Hebreërs 11:29). Deurdat hulle tot by die water getrek het, het PeP 261.3

hulle bewys dat hulle die woord van God, soos deur Moses gespreek, geglo het. Hulle het alles gedoen wat binne hulle vermoë was om te doen en daarna het die Magtige Een van Israel die see oopgekloof om vir hulle voete ‘n weg te baan. PeP 262.1

Dit was ‘n groot les vir tyd en ewigheid. Die Christen se lewe word dikwels deur gevare bedreig en dit blyk dikwels moeilik om ons plig te doen. Die verbeelding skilder vir ons dreigende ondergang van voor en slawerny of die dood van agter. Tog spreek die stem van God duidelik: “Voorwaarts!” Ons behoort hierdie bevel te gehoorsaam al kan ons oë nie die duisternis penetreer nie en al voel ons die koue golwe om ons voete. Die struikelblokke wat ons vordering belemmer, sal nooit voor ‘n aarselende, twyfelende gees wyk nie. Diegene wat gehoorsaamheid uitstel totdat elke sweem van onsekerheid verdwyn het en daar geen risiko van mislukking of neerlaag is nie, sal geensins gehoorsaam nie. Ongeloof fluister: “Kom ons wag totdat alle struikelblokke verwyder is en ons die pad duidelik kan sien;” maar geloof gaan moedig voorwaarts en hoop alles en glo alles. PeP 262.2

Die wolk wat vir die Egiptenare ‘n muur van duisternis was, was vir die Hebreërs ‘n groot lig wat die hele laer verlig en die pad voor hulle opgehelder het. Op dieselfde wyse bring die voorsienigheid van God vir die ongelowiges duisternis en wanhoop terwyl dit vir die vertrouende siel vol lig en vrede is. Die pad wat God aandui, mag deur die woestyn of deur die see gaan, maar dit is ‘n veilige pad. PeP 262.3