Patriarge en Profete
Hoofstuk 24—Die Pasga
(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 11;12:1 -32) PeP 248.1
Toe Moses die koning van Egipte die eerste keer gevra het om Israel vry te stel, het hy hom gewaarsku teen die verskriklikste plaag van almal. “So spreek die Here: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.” (Exodus 4:22,23). Hoewel die Israeliete deur die Egiptenare verag is, is hulle deur God vereer deurdat Hy hulle uitgesonder het om die bewaarders van Sy wet te wees. As gevolg van die besondere seëninge en voorregte wat aan hulle verleen is, het hulle voorrang onder die nasies geniet, soos ‘n die oudste seun tussen sy broers. PeP 248.2
Die oordeel waarteen Egipte eerste gewaarsku is, sou die laaste wees om hulle te tref. God is lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy het ‘n tere besorgdheid vir die skepsele wat na Sy beeld gevorm is. As die verlies van hulle oeste en kuddes die Egiptenare tot inkeer gebring het, sou die kinders nie getref gewees het nie; maar die volk het die bevel van God hardnekkig weerstaan en nou sou die laaste slag hulle tref. PeP 248.3
Op straf van die dood is Moses belet om weer voor Farao te verskyn, maar ‘n laaste boodskap van God moes nog aan die opstandige koning gebring word en Moses het weer voor hom verskyn, hierdie keer met die skrikwekkende aankondiging: “So het die Here gespreek: Omtrent middernag trek Ek uit dwarsdeur Egipte; dan sal al die eersgeborenes in Egipteland sterwe, van Farao se eersgeborene wat op sy troon sit, tot die eersgeborene van die slavin agter die handmeul en al die eersgeborenes van die vee. En daar sal ‘n groot gejammer in die hele Egipteland wees soos daar nie gewees het en soos daar nie weer sal wees nie. Maar teen geeneen van die kinders van Israel sal ‘n hond sy tong verroer nie, van die mense tot die diere, dat julle kan weet dat die Here ‘n onderskeid maak tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Dan sal al hierdie dienaars van u na my toe afkom en voor my neerbuig en sê: Trek uit, jy en die hele volk wat jou volg. En daarna sal ek uittrek.” PeP 248.4
Voordat Hy hierdie vonnis voltrek het, het die Here deur Moses aan die kinders van Israel opdrag gegee aangaande hulle uittog uit Egipte en veral aangaande hulle behoud gedurende die komende oordeel. Elke gesin moes alleen of gesamentlik met ‘n ander gesin, ‘n skaaplam of ‘n boklam “sonder gebrek” slag en die bloed met ‘n bossie hisop “...aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel...” van die huis stryk sodat die vernietigende engel nie in die nag in daardie huis ingaan nie. Hulle moes die vleis braai en dit met ongesuurde brood en bitter kruie eet. Dit moes in die nag geskied volgens die bevel van Moses: “Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die Here is dit.” PeP 249.1
Die Here het verklaar: “Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte .... Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie” PeP 249.2
Ter herdenking aan hierdie groot verlossing, moes alle toekomstige generasies van die volk van Israel ‘n jaarliks ‘n fees vier. “En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die Here vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier.” Wanneer hulle in die toekoms die fees vier, moes hulle, soos Moses beveel het, aan hulle kinders die verhaal van die groot verlossing vertel. “Dan moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan die Here, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het.” PeP 249.3
Verder het die Here die eersgeborene van elke mens en dier as Sy eie geëis en dit kon net deur ‘n losprys teruggekoop word, in erkenning dat God die eersgeborenes van die Israeliete, toe die eersgeborenes van die Egiptenare gesterf het, genadiglik gespaar het, ondanks die feit dat die Israeliete geregtelik aan dieselfde vonnis blootgestel was, maar genadiglik deur die soenoffer gespaar is. “Al die eersgeborenes is myne,” het die Here gesê, “...op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir PeP 249.4
My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet myne wees.” (Numeri 3:13). Nadat Hy die tabernakeldiens ingestel het, het die Here die stam van Levi vir die werk van die heiligdom gekies in stede van die eersgeborenes van die volk. “Hulle is heeltemal aan My gegee onder die kinders van Israel uit...” het Hy gesê, “...in die plek van al die eersgeborenes uit die kinders van Israel-het Ek hulle vir My geneem.” (Numeri 8:16). Al die Israeliete moes die genade van God erken deur vir die eersgebore seun ‘n losprys te betaal. (Numeri 18:15,16). PeP 250.1
Die Pasga sou beide ‘n herdenking en tipe wees, wat nie net terugwys na die verlossing uit Egipte nie, maar vooruit wys na die groter verlossing, wat Christus sou bewerkstellig om Sy volk van die slawerny van sonde te verlos. Die offerlam verteenwoordig “die Lam van God” in wie ons enigste hoop op verlossing is. Die apostel het gesê: “Ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7). Dit was nie genoeg dat die paaslam net geslag is nie; sy bloed moes aan die deurposte gestryk word; so moet die verdienste van Christus se bloed op die siel toegepas word. Ons moet glo dat Hy nie alleenlik vir die wêreld gesterf het nie, maar dat Hy vir elkeen van ons individueel gesterf het. Ons moet die verdienste van die soenoffer vir onsself toe-eien. PeP 250.2
Die hisop wat gebruik is om die bloed aan te stryk, was ‘n simbool van reiniging en was aangewend vir die reiniging van ‘n melaatse en diegene wat as gevolg van kontak met die dode besoedel is. Die betekenis daarvan blyk ook uit die psalmdigter se bede: PeP 250.3
“Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.” (Psalm 51:9). PeP 250.4
Die lam moes heel gebraai word sonder dat ‘n been daarvan gebreek word; so moes geen been van die Lam van God wat vir ons sou sterf, gebreek word nie. (Johannes 19:36). So is ook die volledigheid van Christus se offerande uitgebeeld. PeP 250.5
Die vlees moes geëet word. Dis nie genoeg dat ons net in Christus glo vir die vergifnis van ons sondes nie; deur geloof moet ons voortdurend uit Sy Woord krag en voeding van Hom ontvang. Christus het gesê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in PeP 250.6
julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe.” (Johannes 6:53,54.) En om Sy bedoeling te verduidelik, het Hy bygevoeg: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” (vers 63). Jesus het Sy Vader se wet aanvaar, die beginsels daarvan in Sy lewe toegepas, die gees daarvan geopenbaar en die heilsame uitwerking daarvan op die hart getoon. Johannes sê: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon-en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eersgeborene wat van die Vader kom-vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:14). Die navolgers van Christus moet deel in Sy ondervinding . Hulle moet die Woord van God ontvang en dit inneem sodat dit die dryfkrag van hulle lewe en dade word. Deur die krag van Christus moet hulle na Sy beeld verander word en die Goddelike eienskappe weerspieël. Hulle moet die vlees van die Seun van God eet en Sy bloed drink, anders is daar geen lewe in hulle nie. Die gees en werk van Christus moet die gees en werk van Sy dissipels word. PeP 251.1
Die lam moes met bitter kruie geëet word om terug te wys na die bitterheid van die slawerny in Egipte. So ook wanneer ons die vlees van Christus eet, moet ons dit met ‘n berouvolle hart oor ons sonde doen. Die gebruik van ongesuurde brood was ook betekenisvol. Dit is duidelik in die wet van die Pasga beveel en net so streng deur die Jode in die praktyk nagekom, dat geen suurdeeg gedurende die fees in hulle huise gevind mag word nie. Op dieselfde wyse moet die suurdeeg van sonde, deur almal wat lewe en voeding van Christus wil ontvang, afgelê word. Daarom het Paulus aan die gemeente in Korinthe geskryf: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees ... want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.” (1 Korinthiërs 5:7,8). PeP 251.2
Voordat die slawe bevry kon word, moes hulle eers hulle geloof in die groot verlossing wat sou plaasvind bewys. Hulle moes die teken van die bloed aan hulle huise stryk en hulle moes hulleself en hul gesinne van die Egiptenare afsonder en in hulle eie wonings saamkom. As die Israeliete hierdie bevele in een besonderheid verontagsaam het; as hulle nagelaat het PeP 251.3
om hulle kinders van die Egiptenare af te sonder; as hulle die lam geslag het maar nagelaat het om die bloed aan die deurposte te stryk; of as hulle uit hulle huise uitgegaan het, sou hulle nie veilig gewees het nie. Hulle mag miskien eerlik geglo het dat hulle alles gedoen het wat nodig was, maar hulle opregtheid sou hulle nie gered het nie. Almal wat nagelaat het om die bevele van die Here te gehoorsaam, sou hulle eersgeborene aan die hand van die verderwer moes afstaan. PeP 252.1
Die volk moes deur gehoorsaamheid van hulle geloof getuig. So moet almal wat hoop om deur die verdienste van Christus se bloed gered te word, besef dat daar iets was wat hulle self moes doen om hulle verlossing te verseker. Hoewel net Christus ons van die straf van oortreding kan red, moet ons van sonde wegdraai na gehoorsaamheid. Die mens word deur geloof gered, nie deur werke nie; maar sy geloof moet uit sy werke blyk. God het Sy Seun gegee om te sterf om vir ons sonde versoening te doen, Hy het die lig van die waarheid, die weg van die lewe, geopenbaar, Hy het geriewe, insettinge en voorregte gegee en nou moet die mens met hierdie reddende middele saamwerk; hy moet die hulpmiddels wat God voorsien het, waardeer-hy moet glo en al die Vereistes van God nakom. PeP 252.2
Soos Moses Israel alles wat God vir hulle verlossing voorsien het, herhaal het, “...het die volk in aanbidding neergebuig.” Die verblydende hoop op vryheid, die skrikwekkende kennis van die komende oordeel wat hulle verdrukkers sou tref, die sorge en arbeid wat met hulle haastige vertrek gepaard sou gaan, alles is in daardie oomblik oorweldig deur dankbaarheid teenoor hulle genadige Verlosser. Baie van die Egiptenare is gelei om die God van die Hebreërs as die enigste ware God te erken en hulle het gepleit om toegelaat te word om skuiling in die huise van Israel vind wanneer die verwoestende engel deur die land sou trek. Hulle is hartlik verwelkom en het beloof om die God van Jakob voortaan te aanbid en om saam met Sy volk uit Egipte weg te trek. PeP 252.3
Die Israeliete het die opdragte wat God gegee het, gehoorsaam. Spoedig, maar in die geheim, het hulle hul gereed gemaak om te vertrek. Hulle gesinne is versamel, die paaslam is geslag, die vleis is oor die vuur gebraai en die ongesuurde brood en die bitter kruie is berei. Die vader en priester van die huisgesin, het die bloed aan die deurposte gestryk en saam met PeP 252.4
sy gesin in die huis ingegaan. Die paaslam is haastig en in stilte geëet. Met ontsag het die mense gebid en gewag en die hart van die eersgeborene, van sterk man tot jong kind, het met onbeskryflike vrees geklop. Vaders en moeders het hulle geliefde eersgeborenes in hulle arms vasgehou by die gedagte aan die vreeslike slagting wat daardie nag sou plaasvind. Maar geen woning in Israel is deur die doodsengel besoek nie. Die teken van die bloed-die teken van ‘n Verlosser se beskerming-was aan hulle deure en die verderwer het nie ingegaan nie. PeP 253.1
Om middernag was daar “...“n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.” Al die eersgeborenes van die land, “...van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene wat in die gevangenis was en al die eersgeborenes van die diere...” is deur die verderwer geslaan. Regdeur die groot reik van Egipte was die trots van elke huisgesin neergeslaan. Orals is die gille en geweeklaag van die rouklaers gehoor. Koning en howelinge het met bleek aangesigte en bewende bene, verslae gestaan voor die oorweldigende gruwel. Farao het onthou hoe hy eenkeer uitgeroep het: “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nié en ek sal Israel ook nie laat trek nie.” Met sy hemel-tartende trots nou tot in die stof verneder, laat hy Moses en Aaron in die nag roep en hy sê: “Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel en gaan dien die Here soos julle gespreek het. Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het en gaan weg en seën my ook. ” Ook die koninklike raadgewers en die volk het die Israeliete gesmeek om gou uit die land weg te gaan, “...want, het hulle gesê: Ons is almal dood!” PeP 253.2