Patriarge en Profete
Hoofstuk 23—Die Plae van Egipte
(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 5 tot 10) PeP 232.1
Aaron, deur engele beveel, het uitgegaan om die broer van wie hy so lank geskei was, te ontmoet en hulle het mekaar in die eensaamheid van die woestyn naby Horeb gevind. Hier het hulle saam verkeer en toe “...vertel Moses aan Aaron al die woorde van die Here waarmee Hy hom gestuur het.” (Exodus 4:28). Hulle het saam na Egipte gereis en toe hulle die land Gosen bereik, het hulle al die oudstes byeengeroep. Aaron het al die onderhandelinge van God met Moses herhaal en toe is die tekens wat God aan Moses gegee het, aan hulle getoon. “En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die Here op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.” (Vers 31). PeP 232.2
Moses is ook gelas om aan die koning ‘n boodskap te gee. As ambassadeurs van die Koning van die konings het die twee broers na die paleis van die Farao’s gegaan en hulle het in Sy Naam gespreek: “So spreek die Here, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ‘n fees kan hou in die woestyn.” PeP 232.3
“Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek?” wou die koning weet. “Ek ken die Here nie en ek sal Israel ook nie laat trek nie.” PeP 232.4
Hulle het geantwoord: “Die God van die Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die Here onse God offer, sodat Hy ons nie tref met die pes en die swaard nie.” PeP 232.5
Die koning het reeds van hulle en van die belangstelling wat hulle onder die Israeliete gaande gemaak het, gehoor. Sy woede het opgevlam: “Moses en Aaron, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Loop na julle werk toe.” Hierdie vreemdelinge se inmenging het die koninkryk reeds skade berokken. Gedagtig hieraan, sê hy verder: “Kyk, die volk van die land is alreeds baie; en julle wil hulle laat ophou met hulle werk?” PeP 232.6
Gedurende hulle slawerny het die Israeliete tot ‘n mate reeds van God se wet vergeet en hulle het van Sy insettinge afgedwaal. Hulle het die Sabbat oor die algemeen PeP 232.7
verontagsaam en die strenge eise van hulle opsigters het dit blykbaar onmoontlik gemaak om dit te onderhou. Moses het die volk egter daarop gewys dat gehoorsaamheid aan God die eerste vereiste van verlossing was en hulle pogings om die viering van die Sabbat weer in te stel, is deur hulle onderdrukkers opgemerk.* PeP 233.1
Die koning, nou erg ontstoke, het die Israeliete daarvan verdink dat hulle teen sy diens in opstand wou kom. Ontevredenheid was die gevolg van ledigheid; hy sou sorg dat hulle geen tyd het om gevaarlike sameswerings te smee nie. Onmiddellik het hy maatreëls getref om die strop stywer te trek en hulle onafhanklike gees te blus. Daardie selfde dag is bevele uitgereik wat die omstandighede van hulle arbeid nog wreder en meer onderdrukkend sou maak. Die gewone boumateriaal van die land was songedroogde bakstene; die mure van die mooiste geboue is daarmee opgerig en dan met klip versier; en die vervaardiging van bakstene het groot getalle van die diensknegte aan die werk gehou. Strooi is met die klei gemeng om die stene te bind en daarvoor is groot hoeveelhede strooi benodig. Die koning het nou beveel dat geen verdere strooi meer voorsien sou word nie; die arbeiders moes self die strooi soek, sonder dat daar ‘n afname in die aantal stene was. PeP 233.2
Hierdie bevel het groot ellende vir die Israeliete dwarsdeur die land veroorsaak. Die Egiptiese opsigters het Hebreeuse offisiere aangestel om oor die werk van die volk toesig te hou en hierdie offisiere was verantwoordelik vir die arbeid van diegene onder hulle beheer. Toe die koning se bevel van krag word, het die volk oral in die land stoppels in stede van strooi versamel; maar dit was vir hulle onmoontlik om dieselfde hoeveelheid werk te lewer. As gevolg van hierdie versuim is die Hebreeuse offisiere wreed geslaan. PeP 233.3
Hierdie offisiere was onder die indruk dat die verdrukking van die opsigters self en nie van die koning afkomstig was nie; en hulle het hulle griewe by hom gaan bekla. Hulle klag is met ‘n verwyt beantwoord: “Lui is julle, lui! Daarom sê julle: Laat ons gaan, laat ons aan die Here offer.” Hulle is beveel om na hulle werk terug te keer, met die verklaring dat hulle las geensins PeP 233.4
----------------------------------------------------------------------------------- PeP 233.5
*Sien aanhangsel, opmerking 1 PeP 233.6
ligter gemaak sou word nie. Onderweg het hulle Moses en Aaron ontmoet en uitgeroep: “Mag die Here op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ‘n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.” PeP 234.1
Terwyl Moses na hulle klagtes luister, was hy baie mismoedig. Die lyding van die volk het baie erger geword. Oral in die land het oud en jonk wanhopig gekla en almal het verenig om die skuld vir die rampspoedige verandering op hom te pak. Met ‘n beswaarde hart het hy na die Here gegaan en gebid: “Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur? Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel en U het U volk glad nie verlos nie.” Die antwoord was: “Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur ‘n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur ‘n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe.” Weer is hy na die verbond verwys wat God met die vaders aangegaan het en die versekering is gegee dat dit vervul sou word. PeP 234.2
Gedurende die jare van diens in Egipte was daar sommige van die Israeliete wat Jehova aanbid het. Dit het hulle gegrief om te sien hoedat hulle kinders daagliks die gruwels van die heidene moes aanskou en selfs voor hulle valse gode neerbuig. In hulle benoudheid het hulle tot die Here geroep om verlossing uit die Egiptiese juk sodat hulle bevry mag word van die verderflike invloed van afgodery. Hulle het hulle geloof nie bedek nie, maar het openlik teenoor die Egiptenare verklaar dat die voorwerp van hulle aanbidding die Skepper van die hemel en die aarde is, die enigste ware en lewende God. Hulle het die getuienis van Sy bestaan en mag vanaf die skepping tot in die dae van Jakob herhaal. Die Egiptenare het dus die geleentheid gehad om bekend te raak met die godsdiens van die Hebreërs; maar om deur hulle slawe onderrig te word was benede hul waardigheid en hulle het gepoog om die aanbidders van God met beloftes van beloning, en indien dit nie werk nie, deur dreigemente en wreedheid, te verlei. PeP 234.3
Die oudstes van Israel het gepoog om die verswakkende geloof van hulle broeders te onderskraag, deur die beloftes wat aan hulle vaders gemaak is en die profetiese woorde van Josef PeP 234.4
voor sy dood wat hulle verlossing uit Egipte voorspel het, te herhaal. Sommige het geluister en geglo. Ander het na hulle omstandighede gekyk en geweier om te hoop. Die Egiptenare wat bewus was van waaroor hulle slawe gepraat het, het met hulle verwagtinge gespot en met minagting die mag van hulle God ontken. Hulle het na hulle toestand as ‘n nasie van slawe verwys en honend gesê: “As julle God regverdig en genadig is en meer krag het as die Egiptiese gode, waarom stel Hy julle dan nie vry nie?” Hulle het die aandag op hulle eie toestand gevestig. Hulle het afgode aanbid wat deur die Israeliete as valse gode afgemaak is en tog was hulle ‘n ryk en magtige nasie. Hulle het verklaar dat hulle gode hulle met voorspoed geseën het en die Israeliete aan hulle gegee om hulle slawe te wees en hulle het hulle verlustig in hulle mag om die aanbidders van Jehova te onderdruk en te vernietig. Farao het selfs gespog dat die God van die Hebreërs hulle nie uit sy hand kon verlos nie. PeP 235.1
Sulke woorde het die hoop van talle Israeliete vernietig. Die saak het vir hulle geblyk ooreen te stem met wat die Egiptenare voorgestel het. Dit was waar dat hulle slawe was en alles moes verduur wat hulle wrede opsigters hulle ook wou aandoen. Hulle kinders is gejag en gedood en hulle eie lewens was vir hulle ‘n las. Nogtans het hulle die God van die hemel aanbid. As Jehova dan waarlik bo alle gode was, sou Hy hulle sekerlik nie in slawerny aan afgodedienaars oorlaat nie. Maar diegene wat getrou aan God was, het verstaan dat dit was omdat Israel van Hom afgedwaal het; dat as gevolg van hulle geneigdheid om met heidene te ondertrou en so tot afgodediens gelei is, die Here toegelaat het dat hulle slawe word; en hulle het hulle broers met vertroue verseker dat Hy die juk van die onderdrukker spoedig sou breek. PeP 235.2
Die Hebreërs het verwag om hulle vryheid te bekom sonder dat hulle geloof op enige besondere wyse beproef sou word of dat hulle enige werklike lyding sou moes verduur. Maar hulle was nog nie gereed vir verlossing nie. Hulle geloof in God was swak en hulle was nog nie gewillig om hulle verdrukking geduldig te verdra totdat Hy dit goed sou ag om vir hulle in te tree nie. Baie was tevrede om in slawerny te bly eerder as wat hulle kans gesien het vir die moeite wat met die verhuising na ‘n vreemde land gepaard gegaan het; en die gewoontes van sommige het tot so mate dieselfde soos die van die Egiptenare PeP 235.3
geword, dat hulle verkies het om in Egipte te bly. Daarom het die Here hulle nie met die eerste vertoning van Sy mag van Farao verlos nie. Hy het die gebeure meer volledig laat verloop, om die tiranniese gees van Farao te ontwikkel en ook om Homself aan sy volk te openbaar. Nadat hulle Sy regverdigheid, Sy mag en Sy liefde aanskou het, sou hulle verkies om Egipte te verlaat en hulle aan Sy diens oor te gee. Moses se taak sou baie makliker gewees het as baie van die Israeliete nie so korrup geraak het dat hulle onwillig was om Egipte te verlaat nie. PeP 236.1
Die Here het Moses beveel om weer na die volk te gaan en die belofte van die verlossing te herhaal met ‘n nuwe versekering van die guns van God. Hy het gegaan soos hy beveel was, maar hulle het geweier om te luister. Die Skrif sê: “Maar hulle het nie ... geluister nie, uit die ongeduldigheid en weens die harde diens.” Weer het God tot Moses gespreek: “Gaan spreek met Farao, die koning van Egipte, dat hy die kinders van Israel uit sy land moet laat uittrek.” Mismoedig het hy geantwoord: “As die kinders van Israel nie na my geluister het nie, hoe sal Farao dan na my luister?” Daarop het die Here hom gelas om Aaron saam te neem en na Farao te gaan en weer van hom te eis dat “...hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.” PeP 236.2
Hy is ingelig dat die koning nie sou toegee nie, totdat God sy oordele oor Egipte sou uitstort en Israel, deur ‘n buitengewone teken van die openbaring van Sy mag, sou uitbring. Voor die besoeking van elke plaag, moes Moses die aard en uitwerking daarvan haarfyn aan die koning beskryf sodat hy dit kon vermy as hy wou. Elke bestrawwing wat verwerp word, sou deur ‘n swaarder straf opgevolg word, totdat sy trotse hart verneder sou wees en hy die Skepper van hemel en aarde as die ware en lewende God sou erken. Die Here sou aan die Egiptenare die geleentheid gee om te sien hoe tevergeefs die wysheid van hulle edelmanne was en hoe swak hulle gode teenoor die bevele van Jehova was. Hy sou die volk van Egipte weens hulle afgodery straf en ‘n einde maak aan hulle grootpratery oor die seëninge wat hulle van hul sinnelose gode ontvang. God sou Sy eie Naam verheerlik sodat ander nasies van Sy krag te hore sou kom en voor Sy magtige dade bewe, sodat Sy volk gelei sou word om weg te draai van hulle afgodery en suiwer aanbidding aan Hom bring. PeP 236.3
Weer het Moses en Aaron die deftige paleis van die koning van Egipte betree. Daar, omring van hoë pilare en skitterende versiersels, duursame skilderye en beelde van heidense gode, het die twee verteenwoordigers van ‘n volk in slawerny, voor die koning van die magtigste ryk van sy tyd gestaan, om die bevel van God te herhaal dat Israel vrygelaat moes word. Die koning het ‘n wonderwerk geëis as bewys van hulle opdrag van God. Moses en Aaron het vooraf bevele gekry oor hoe hulle moes optree indien so ‘n eis aan hulle gestel word en Aaron het nou die staf geneem en dit voor Farao neergegooi. Dit het ‘n slang geword. Farao het sy “...wyse manne en die towenaars...” laat roep en “...elkeen gooi sy staf neer en hulle word slange! maar Aaron se staf het hulle stawe verslind.” Daarop het die koning, meer vasberade as ooit, verklaar dat sy towenaars net so sterk soos Moses en Aaron was; daarom het hy die diensknegte van God as indringers verklaar en homself veilig in sy weerstand teen hulle eise gevoel. Tog, terwyl hy hulle boodskap geminag het, is hy deur Goddelike mag weerhou om hulle kwaad aan te doen. PeP 237.1
Dit was die hand van God en geen menslike krag van Moses en Aaron nie, wat die wonderwerke wat hulle voor Farao se oë gedoen het, vermag het. Daardie tekens en wonders was bedoel om Farao te oortuig dat die groot “EK IS” Moses gestuur het en dat dit die koning se plig was om Israel te laat gaan, sodat hulle die lewende God kon dien. Die towenaars het ook tekens en wonders verrig, want hulle het dit nie alleen deur hulle eie vernuf gedoen nie, maar deur die krag van hulle god, Satan, wat hulle gehelp het om die dade van God te na te doen. PeP 237.2
Die towenaars het nie regtig veroorsaak dat hulle stawe in slange verander nie; maar deur hulle toorkuns en met behulp van die groot bedrieër, was dit vir hulle moontlik hierdie verskynsel te laat voorkom. Satan het nie die mag gehad om die stawe in lewende slange te verander nie. Die prins van die bose, hoewel hy al die wysheid en mag van ‘n gevalle engel het, het nie die mag om te skep, of lewe te gee nie; dit is die voorreg van God alleen. Maar alles wat in die Satan se mag was om te doen, het hy gedoen; hy het ‘n nabootsing voortgebring. Vir die menslike oog is die stawe in slange verander. En Farao en sy howelinge het geglo dat dit slange was. Daar was niks in hulle voorkoms om hulle te onderskei van die slang wat Moses PeP 237.3
voortgebring het nie. Alhoewel God veroorsaak het dat die regte slang die bedrieglikes insluk, het Farao selfs dit nie as die werk van God se mag beskou nie, maar wel toorkuns wat beter as dié van sy towenaars was. PeP 238.1
Farao het begeer om sy hardkoppigheid teen die bevele van God te regverdig en daarom het hy na die een of ander voorwendsel gesoek om die wonderwerke wat Moses verrig het, te verontagsaam. Satan het hom presies gegee wat hy wou gehad het. Deur die werk wat hy deur die towenaars gedoen het, het hy dit vir die Egiptenare laat voorkom asof Moses en Aaron net towenaars was en dat daar geen sprake was dat die boodskap wat hulle gebring het, kon aanspraak maak op die respek dat dit van ‘n Opperwese afkomstig is nie. So het Satan se namaaksel sy doel bereik om die Egiptenaars aan te moedig in hulle opstand en veroorsaak dat Farao sy hart teen alle oortuiging verhard het. Satan het ook gehoop om Moses en Aaron se geloof in die Goddelike Oorsprong van hulle boodskap te laat wankel, sodat sy handlangers die oorhand kon kry. Hy was onwillig dat die kinders van Israel uit hulle slawerny bevry moes word om die lewende God te dien. PeP 238.2
Maar die vors van boosheid het ‘n diepsinniger doel gehad met die wonders wat hy deur die towenaars verrig het. Hy het goed geweet dat Moses, wat die slawejuk van die kinders van Israel sou breek, ‘n voorafskaduwing was van Christus, wat die heerskappy van sonde oor die menslike geslag sou breek. Hy het geweet dat wanneer Christus sou verskyn, magtige wonderwerke verrig sou word as bewys aan die wêreld dat God Hom gestuur het. Satan was bevrees vir sy mag. Deur die werk wat God deur Moses verrig het na te maak, wou hy nie net die bevryding van Israel voorkom nie, maar om in die toekomstige eeue, ‘n invloed uit te oefen om geloof in die wonderwerke van Christus te vernietig. Die Satan streef altyd om die werk van Christus te vervals en om sodoende sy eie gesag en aansprake te bevestig. Hy lei mense om die wonderwerke van Christus te verklaar op ‘n wyse wat dit laat voorkom asof dit die gevolg van menslike vaardigheid en krag is. So vernietig hy in baie mense se verstand die geloof van Christus as die Seun van God en lei hulle om die liefdevolle offers van genade deur die plan van verlossing te verwerp. PeP 238.3
Moses en Aaron is gelas om die volgende oggend na die rivier, waarheen die koning gewoonlik gegaan het, te gaan. Omdat die oorstroming van die Nyl die bron van voedsel en rykdom vir die hele Egipteland was, het die Egiptenare die rivier as ‘n god aanbid en die koning het elke dag daarheen gegaan om hulde te bring. Daar het die twee broers weer hulle boodskap herhaal en toe het hulle die staf uitgesteek en op die water geslaan. Die heilige stroom het in bloed verander, die visse het doodgegaan en die rivier het gestink. Die water in die huise, die voorrade in hulle reënbakke, het ook in bloed verander. “Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste...” en “...Farao het omgedraai en huis toe gegaan en dit ook nie ter harte geneem nie.” Sewe dae lank het die plaag aangehou, maar sonder enige effek. PeP 239.1
Die staf is weer oor die water uitgesteek en daar het paddas uit die rivier gekom en deur die land getrek. Hulle het die huise ingeneem, die slaapkamers in besit geneem en selfs die oonde en bakskottels. Die paddas is deur die Egiptenare as heilig beskou en hulle sou dit nie vernietig nie, maar die slymerige lasposte het nou ondraaglik geword. Hulle het selfs in die Farao se paleis gewemel en die koning was ongeduldig om van hulle ontslae te raak. Oënskynlik het die towenaars ook paddas voortgebring, maar hulle kon dit nie verwyder nie. Toe hy dit sien, was Farao ietwat nederig. Hy het Moses en Aaron laat roep en het aan hulle gesê: “Bid tot die Here, dat Hy die paddas van my en my volk wegneem. Dan sal ek die volk laat trek, dat hulle aan die Here kan offer.” Nadat hulle die koning aan sy vroeëre grootpratery herinner het, het hulle gevra dat hy ‘n tyd moes vasstel wanneer hulle moes bid vir die verwydering van die plaag. Hy het dit vir die volgende dag bepaal, maar heimlik gehoop dat die paddas intussen self sou verdwyn en hom die bittere vernedering sou spaar om hom aan die God van Israel te onderwerp. Die plaag het egter tot op die bepaalde tyd aangehou en toe gaan al die paddas in die hele Egipte dood, maar hulle verrotte liggame het daar bly lê en die lug besoedel. PeP 239.2
Die Here kon hulle in ‘n oomblik in stof verander het, maar Hy het dit nie gedoen nie, sodat die koning en sy volk nie daarop kon aanspraak maak dat dit die gevolg van toorkuns was soos dié van sy die towenaars nie. Die paddas het doodgegaan en is in hope versamel. Hier was vir die koning en vir die ganse Egipte PeP 239.3
'n getuienis wat hulle nie met hulle verwaande filosofie kon weerlê nie; dat hierdie daad nie deur towery veroorsaak is nie, maar ‘n oordeel van die God van die hemel. PeP 240.1
“Toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard.” Op bevel van God het Aaron sy hand uitgesteek en die stof van die aarde het oor die hele land muskiete geword. Farao het die towenaars beveel om dit ook te doen, maar hulle kon nie. So is daar bewys dat God groter wonders as die Satan kon doen. Die towenaars het self erken: “Dit is die vinger van God.” Maar Farao was steeds onbeweeglik. PeP 240.2
Versoeke en waarskuwings was vrugteloos en nog ‘n plaag is toegedien. Die tyd van hierdie gebeurtenis is voorspel sodat daar nie gesê kon word dat dit blote toeval was nie. Steekvlieë het die huise gevul en op die grond geswerm. “Die land is deur die steekvlieë verwoes.” Hierdie steekvlieë was groot en giftig en hulle byt was vir mens en dier uiters pynlik. Soos voorspel, het die plaag nie na die land Gosen uitgebrei nie. PeP 240.3
Farao het nou aangebied dat die Israeliete in Egipte kon offer, maar hulle het geweier om sulke voorwaardes aan te neem. Moses het gesê: “Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die Here onse God offer, is ‘n gruwel vir die Egiptenaars. As ons iets wat ‘n gruwel is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie?” Die diere wat die Hebreërs moes offer, is deur die Egiptenare as heilig beskou en hulle agting vir hierdie diere was so groot dat mense tot die dood veroordeel was indien hulle selfs een per ongeluk sou doodmaak. Dit sou onmoontlik gewees het vir die Israeliete om in Egipte te offer sonder om hulle meesters aanstoot te gee. Moses het weer voorgestel dat hulle drie dagreise die woestyn ingaan. Farao het ingewillig en gepleit dat die diensknegte van God moes bid dat die plaag verwyder word. Hulle het beloof om dit te doen, maar het hom gewaarsku om hulle nie te bedrieg nie. Die plaag is weggeneem, maar die koning se hart het as gevolg van volgehoue opstand verhard en hy het steeds geweier om toe te gee. PeP 240.4
'n Meer gedugte slag het gevolg. ‘n Pes het al die diere van Egipte wat op die veld gewei het, getref. Die heilige diere sowel as die lasdiere-beeste en skape, perde, kamele en esels-is vernietig. Moses het uitdruklik verklaar dat die Israeliete PeP 240.5
vrygestel sou wees; en Farao wat boodskappers na die huise van die Israeliete gestuur het, het bevestiging hiervan gekry. “Van die vee van die kinders van Israel is nie een dood nie.” Maar, die koning was nog steeds onversetlik. PeP 241.1
Daarna is Moses gelas om roet uit die oond te neem en dit voor die oë van Farao na die hemel uit te strooi. Hierdie daad was baie betekenisvol. Vierhonderd jaar vantevore het God met die beeld van ‘n rokende oond en ‘n brandende fakkel aan Abraham die verdrukking van sy volk laat sien. Hy het verklaar dat Hy hulle verdrukkers sou straf en die gevangenes met baie besittings sou uitlei. In Egipte het Israel lank in die oond van ellende gely. Hierdie daad van Moses was vir hulle ‘n versekering dat God Sy verbond in herinnering geroep het en dat die tyd van hulle verlossing aangebreek het. PeP 241.2
Toe die roet na die hemel gestrooi is, het die fyn deeltjies deur die hele Egipteland versprei en waar dit tot rus gekom het, het dit swere veroorsaak-swere wat in blase uitbreek aan mense en diere. Tot dusver het die priesters en die towenaars Farao in sy verset gesteun, maar nou het daar ‘n oordeel gekom wat hulle persoonlik geraak het. Besmet met ‘n walglike en pynlike siekte en hulle geroemde mag wat hulle slegs veragtelik gemaak het, was hulle nie langer in staat om hulle teen die God van Israel te verset nie. Die ganse nasie is gedwing om die dwaasheid om op die towenaars te vertrou, wat nie eers in staat was om hulleself te beskerm nie, in te sien. PeP 241.3
Steeds het Farao se hart net meer verhard. En nou het die Here ‘n boodskap aan hom gestuur en verklaar: “Hierdie keer sal Ek my plae in jou hart stuur en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie ... Juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon.” Nie dat God hom vir daardie doel laat bestaan het nie, maar Sy voorsienigheid het sake so bestier dat hy op die troon sou wees op die presiese tyd wat vir Israel se verlossing vasgestel is. Hoewel die trotse tiran die genade van God weens sy misdade verbeur het, is sy lewe gespaar sodat die Here, deur sy hardnekkigheid, Sy wonderwerke in die land van Egipte kon laat manifesteer. Die beskikking van gebeurtenisse geskied volgens die voorsienigheid van God. Hy kon ‘n genadiger koning op die troon geplaas het, een wat dit nie sou gewaag het om die PeP 241.4
magtige openbaringe van Goddelike mag te weerstaan nie. Maar in daardie geval sou die Here nie Sy doel bereik het nie. Hy het toegelaat dat Sy volk die maalklip van Egiptiese wreedheid ervaar sodat hulle nie mislei moes word aangaande die verderflike invloed van afgodery nie. In Sy hantering van Farao, het die Here Sy afkeer van afgodery en Sy vasberadenheid om wreedheid en verdrukking te straf, geopenbaar. PeP 242.1
Aangaande Farao het God gesê: “Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.” (Exodus 4:21). Geen bonatuurlike krag is uitgeoefen om Farao se hart te verhard nie. God het aan Farao die treffendste getuienis van Goddelike mag gegee, maar die koning het hardnekkig geweier om die lig aan te neem. Elke vertoning van oneindige mag wat deur hom verwerp is, het hom meer vasbeslote in sy verset gemaak. Die saad van rebellie wat hy met sy verwerping van die eerste wonderwerk gesaai het, het sy oes gelewer. Namate hy verder sy eie gang gegaan het en van die een graad van hardnekkigheid tot die volgende gevorder het, het sy hart al meer verhard geraak, totdat hy uiteindelik moes neerkyk op die koue, dooie aangesigte van die eersgeborenes. PeP 242.2
God spreek tot mense deur Sy diensknegte en vermaan en waarsku en bestraf sonde. Aan elkeen gee Hy die geleentheid om sy foute reg te stel voordat dit onveranderlik in die karakter vasgevang word; maar as ‘n mens weier om hom te laat tugtig, sal Goddelike mag nie tussenbeide tree om die neiging van sy eie optrede teen te werk nie. Hy vind dit makliker om dieselfde optrede te herhaal. Hy verhard sy hart teen die invloed van die Heilige Gees. Verdere verwerping van lig bring hom op ‘n plek waar ‘n veel sterker invloed onvoldoende sal wees om ‘n blywende indruk te maak. PeP 242.3
Hy wat eenkeer aan versoeking toegegee het, sal die volgende keer meer geredelik toegee. Elke herhaling van die sonde verminder sy vermoë om dit te weerstaan, verblind sy oë en demp sy oortuiging. Elke saadjie van toegeeflikheid wat gesaai word, sal vrugte voortbring. God verrig geen wonderwerk om die oes te voorkom nie. “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” (Galasiërs 6:7). Hy wat in ongeloof volhard, wat onverskillig staan teenoor die Goddelike waarheid, maai net wat PeP 242.4
hy gesaai het. Daarom is dit so dat talle mense met koue onverskilligheid na waarhede luister wat hulle voorheen diep geraak het. Hulle het nalatigheid en verset teen die waarheid gesaai en dit is die oes wat hulle maai. PeP 243.1
Diegene wat ‘n skuldige gewete sus met die gedagte dat hulle te eniger tyd wanneer hulle dit verkies, ‘n ander rigting kan inslaan, dat hulle die aanbod van genade ligtelik kan opneem en dan herhaaldelik weer vir die heilige indrukke vatbaar sal wees, verkeer in groot gevaar. Hulle dink dat hulle, nadat hulle hul invloed aan die kant van die groot rebel geskaar het, hulle in ‘n oomblik van uiterste nood, wanneer groot gevaar dreig, van leiers sal verander. Maar dit is nie so maklik om te doen nie. Die ervaring, die opleiding, die dissipline van ‘n leeftyd van toegeeflikheid aan sonde het die karakter so deeglik gevorm dat hulle nie die beeld van Jesus kan aanneem nie. Indien geen lig hulle weg bestraal het nie, sou die saak anders gewees het. Genade sou miskien vir hulle in die bres tree en aan hulle die geleentheid gee om Sy uitnodiging aan te neem; maar nadat lig lank verwerp en verag is, sal dit uiteindelik onttrek word. PeP 243.2
Daarna is Farao met ‘n plaag van hael bedreig, met die waarskuwing: “Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word en wat nie binnekant gebring is nie-op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.” Reën en hael was ongewoon in Egipte en so ‘n storm soos dit wat voorspel is, was nooit voorheen gesien nie. Die tyding het spoedig deur die land getrek en almal wat die woord van die Here geglo het, het hulle vee ingebring, terwyl die wat die waarskuwing verag het, hulle in die veld gelaat het. So is die genade van God te midde van die oordeel ook geopenbaar, die volk is op die proef gestel en daar is bewys hoeveel, deur die openbaring van Sy krag, geleer het om God te vrees. PeP 243.3
Soos voorspel, het die storm losgebars-donder en hael met vuur gemeng “...baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ‘n volk behoort het nie. En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek.” Verwoesting en verlatenheid het die pad van die vernietigende engel gekenmerk. Net die land Gosen is gespaar. Daar is aan die PeP 243.4
Egiptenare gedemonstreer dat die aarde onder die beheer van die lewende God is, dat die elemente Sy stem gehoorsaam en dat die enigste veiligheid in gehoorsaamheid aan Hom is. PeP 244.1
Die hele Egipteland het gesidder voor hierdie uitstorting van die Oordeel van God. Farao het die twee broers haastig laat roep en uitgeroep: “Ek het dié keer sonde gedoen. Die Here is reg, maar ek en my volk het ongelyk. Bid tot die Here, want daar is oorgenoeg donder van God en hael gewees; dan sal ek julle laat trek en julle hoef nie langer te bly nie.” Die antwoord was: “So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die Here uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie; sodat u kan weet dat die aarde aan die Here behoort. Maar wat u en u dienaars betref-ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die Here God nie.” PeP 244.2
Moses het geweet dat die stryd nog nie verby was nie. Farao se belydenis en sy beloftes was nie die gevolg van ‘n radikale verandering in sy gemoed of hart nie, maar dit is uit vrees en angs afgedwing. Moses het egter beloof om toe te gee aan sy versoek, want hy wou hom geen rede tot verdere hardkoppigheid gee nie. Die profeet het uitgegaan sonder om hom aan die woede van die storm te steur en Farao en al sy howelinge was getuies van die mag van God om Sy boodskapper te beskerm. Toe hy buitekant die stad kom, het Moses “...sy hande tot die Here uitgebrei. En die donder en hael het opgehou en die reën het nie meer op die aarde gegiet nie.” Maar die koning het skaars sy vrees oorkom, of sy hart het opnuut na sy verhardheid teruggekeer. PeP 244.3
Toe sê die Here weer aan Moses: “Gaan na Farao toe, want Ek het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, dat julle kan weet dat Ek die Here is.” Die Here het Sy mag geopenbaar om die geloof van Israel in Hom as die enigste ware en lewende God te bevestig. Hy sou onmiskenbare bewyse lewer van die verskil wat Hy tussen hulle en die Egiptenare gemaak het en sou al die nasies laat besef dat die Hebreërs, wat hulle verag en verdruk het, onder die beskerming van die God van die hemel was. PeP 244.4
Moses het die koning gewaarsku dat indien hy met sy hardnekkigheid sou volhou, ‘n sprinkaanplaag gestuur sou word, wat die aarde sou oordek en elke groen spruitjie wat nog oorgebly het, sou opvreet; hulle sou die huise, ja, selfs die paleis vul. Hy het gesê dit sou ‘n plaag wees “...soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde gewees het tot vandag toe nie.” PeP 245.1
Farao se raadgewers was geskok. Die nasie het reeds groot verliese deur die dood van hulle vee gely. Baie van die mense is deur die hael doodgeslaan. Die woude was verwoes en die oeste vernietig. Hulle was besig om alles wat deur die arbeid van die Hebreërs gewin is, te verloor. Die hele land is met hongersnood bedreig. Prinse en howelinge het rondom die koning saamgedrom en woedend gevra: “Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die Here hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie?” PeP 245.2
Die koning het Moses en Aaron weer ontbied en aan hulle gesê: “Gaan heen, dien die Here julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan?” PeP 245.3
Die antwoord was: “Ons wil gaan met ons jong mense en met ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir die Here hou.” PeP 245.4
Die koning was woedend. “Mag die Here só met julle wees...” het hy uitgeroep, “...as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë. Nie so nie! Gaan dan, julle manne en dien die Here, want dit het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe.” Farao het probeer om die Israeliete met harde werk te vernietig, maar nou het hy voorgegee dat hy ‘n diepe belangstelling in hulle welsyn het en dat hy veral besorg was oor hulle kinders. Sy ware motief was om die vroue en kinders daar te hou as waarborg dat die manne sou terugkeer. PeP 245.5
Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek en ‘n oostewind het begin waai en die sprinkane gebring, “...“n baie groot menigte-tevore was daar so ‘n sprinkaanswerm nie gewees nie en daarna sal so iets nie weer voorkom nie.” Hulle het die lug PeP 245.6
gevul totdat die land donker geword het en hulle het elke oorblywende groenigheid opgevreet. Farao het die profete haastig ontbied en gesê: “Ek het gesondig teen die Here julle God en teen julle. Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde en bid tot die Here julle God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem.” Hulle het dit gedoen en ‘n sterk westewind het die sprinkane in die rigting van die Skelfsee weggevoer. Maar steeds het die koning volgehou met sy hardkoppigheid. PeP 246.1
Die Egiptiese volk het gewanhoop. Die plae wat hulle reeds getref het, was vir hulle byna ondraaglik en hulle het vir die toekoms gevrees. Die volk het Farao as verteenwoordiger van hulle god aanbid, maar nou was baie van hulle oortuig dat hy hom teen Iemand verset het wat al die magte van die natuur aan Homself diensbaar stel. Die Hebreeuse slawe wat so wonderbaarlik begunstig was, het meer vertroue gehad dat hulle verlos sou word. Hulle opsigters het dit nie meer gewaag om hulle soos voorheen te verdruk nie. Deur die hele Egipte was daar ‘n heimlike vrees dat die slawe sou opstaan om wraak te neem vir al die onreg wat hulle aangedoen is. Oral het mense met ingehoue asem gevra: Wat is volgende? PeP 246.2
Skielik het daar ‘n duisternis oor die land toegesak, so dig en so swart dat “...“n mens die duisternis kan gryp.” Die mense is nie net van hulle lig ontneem nie, maar die atmosfeer self was baie bedompig sodat dit moeilik was om asem te haal. “Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.” Die Egiptenare het die son en die maan aanbid; deur hierdie geheimsinnige duisternis is volk en afgode eweneens getref deur die Mag wat die saak van hulle slawe onderneem het.* Maar vreesagtig soos dit was, was hierdie oordeel ‘n bewys van God se deernis en Sy onwilligheid om te vernietig. Hy sou die mense tyd gee om na te dink en hulle te bekeer voordat Hy die laaste en mees skrikwekkendste van alle plae oor hulle sou bring. PeP 246.3
Vrees het Farao eindelik tot nog ‘n toegewing gedwing. Aan die einde van die derde dag van duisternis het hy Moses ontbied en ingestem dat die mense almal kon gaan as hulle net die vee PeP 246.4
--------------------------------------------------- PeP 246.5
*Sien aanhangsel, opmerking 2 PeP 246.6
laat agterbly. “Daar mag geen klou agterbly nie!” het die vasberade Hebreër geantwoord. “Ons weet nie waarmee ons die Here onse God sal dien voordat ons daar kom nie.” Daarop het die koning se woede buite beheer geraak. Hy het uitgeroep: “Gaan weg van my af! Pas op dat jy my aangesig nie weer sien nie; want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterwe.” PeP 247.1
Die antwoord was: “U het reg gepraat. Ek sal u aangesig nie weer sien nie.” PeP 247.2
“Ook was die man Moses baie groot in Egipteland, in die oë van Farao se dienaars en in die oë van die volk.” Moses is met ontsag deur die Egiptenaars gadegeslaan. Die koning kon dit nie waag om Moses dood te maak nie, want die Egiptenare het hom as die enigste persoon beskou wat die mag gehad het om die plae te verwyder. Hulle het begeer dat die Israeliete toegelaat moes word om Egipte te verlaat. Dit was die koning en die priesters wat tot op die laaste die eise van Moses teëgestaan het. PeP 247.3