Patriarge en Profete

3/75

Hoofstuk 1—Waarom is Sonde Toegelaat?

“God is liefde.” (1 Johannes 4:16). Sy aard, Sy wet, is liefde.Dit was nog altyd so en dit sal altyd so wees. “Die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon...” aan wie die “...paaie van die ou tyd...” behoort, verander nie. By Hom is daar “...geen verandering of skaduwee van omkering...” nie. (Jesaja 57:15; Habakuk 3:6; Jakobus 1:17). PeP 1.1

Elke openbaring van skeppende krag is ‘n uiting van oneindige liefde. Die soewereiniteit van God bring oorvloedige seëninge vir alle geskape wesens mee. Die psalmdigter sê: PeP 1.2

“U het ‘n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe. Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit. Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; PeP 1.3

O Here, hulle wandel in die lig van u aangesig. In u Naam juig hulle die hele dag en deur u geregtigheid word hulle verhef. Want U is hulle magtige sieraad... PeP 1.4

Want aan die Here behoort ons skild en ons koning aan die Heilige van Israel.” PeP 1.5

(Psalm 89:14-19) PeP 1.6

Die geskiedenis van die groot stryd tussen goed en kwaad, vanaf die tyd toe dit in die hemel begin het, totdat die opstand eindelik onderdruk en die sonde uitgeroei sal word, is ook ‘n uitbeelding van die onveranderlike liefde van God. PeP 1.7

Die Opperheerser van die heelal het Sy liefdeswerk nie alleen gedoen nie. Hy het ‘n Deelgenoot gehad, ‘n Medewerker wat Sy planne kon waardeer en kon deel in die vreugde om aan geskape wesens geluk te bring. “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God. Hy was in die begin by God.” (Johannes 1:1,2). Christus, die Woord, die Eniggeborene van God, was een met die ewige Vader, een van aard, een van karakter, een van doel. Hy was die enigste Wese wat kon meedoen aan die raadsbesluite en planne van God. “Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige PeP 1.8

Vader, Vredevors.” (Jesaja 9:5). “Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” (Miga 5:1). PeP 2.1

En die Seun van God sê van Homself: “Die Here het my berei as eersteling van Sy weg, voor Sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af ... Toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het-toe was ek ‘n kunstenaar naas Hom en Ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor Sy aangesig altyd.” (Spreuke 8:22-30). PeP 2.2

Die Vader het deur Sy Seun die skepping van al die hemelse wesens bewerkstellig. “In Hom is alle dinge geskape ... trone sowel as heerskappye en owerhede en magte; alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” (Kolossense 1:16). Die engele is God se gesante wat, omstraal met die lig wat gedurig van Sy teenwoordigheid uitgaan, op snelle wieke haas om Sy wil uit te voer. Maar die Seun, die gesalfde van God, “...die afdruksel van Sy wese ... die afskynsel van Sy heerlikheid ... wat alle dinge dra deur die woord van Sy krag...”, besit die heerskappy oor hulle almal. (Hebreërs 1:3). PeP 2.3

” ‘n Troon van heerlikheid, verhewe van die begin af...” was die plek van Sy heiligdom” (Jeremia 17:12); “...“n regverdige septer ... die septer van Sy koninkryk.” (Hebreërs 1:8). “Majesteit en heerlikheid is voor Sy aangesig, sterkte en sieraad in Sy heiligdom.” (Psalm 96:6). “Goedertierenheid en trou gaan voor Sy aangesig uit.” (Psalm 89:15). PeP 2.4

Omdat liefde die grondslag van die heerskappy van God is, hang die geluk van redelike wesens daarvan af dat hulle volkome instem tot die beginsels van geregtigheid. God verlang van al Sy skepsele liefdediens-diens wat voortvloei uit waardering van Sy karakter. Gedwonge gehoorsaamheid behaag Hom nie; en Hy skenk aan almal ‘n vrye wil sodat hulle Hom vrywilliglik kan dien. PeP 2.5

Solank alle geskape wesens die getrouheid van liefde erken het, was daar volmaakte eensgesindheid regdeur die heelal van God. Om die doel van hul Skepper te volbring, was die vreugde van die hemelskare. Hulle het hulle daarin verlustig om Sy heerlikheid te weerkaats en om Sy roem te verkondig. En terwyl liefde vir God bo alles verhewe was, was hulle liefde vir mekaar PeP 2.6

vol vertroue en onselfsugtig. Daar was geen wanklank om die hemelse harmonie te “versteur” nie. Maar daar het ‘n verandering in hierdie gelukkige staat gekom. Daar was een wat misbruik gemaak het van die vryheid wat God aan Sy skepsele gegee het. Sonde het by hom, wat naas Christus die mees geërde van God was en die hoogste in mag en heerlikheid onder die hemelinge, ontstaan. Lucifer, “...seun van die daeraad...” was die vernaamste van die beskuttende gerubs, heilig en onbevlek. Hy het in die teenwoordigheid van die groot Skepper gestaan en die voortdurende strale van die heerlike glans wat die ewige God omhul, het op hom geskyn. “So spreek die Here Here: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God;allerhande edelgesteentes was jou bedekking Jy was ‘n gerub met uitgespreide vlerke wat beskut en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen die vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.” (Esegiël 28:12-15). PeP 3.1

Geleidelik het Lucifer begin toegee aan die begeerte na selfverheffing. Die Skrifte sê: ” Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans.” (Esegiël 28:17). “Jy het in jou hart gesê: Ek wil my troon verhef bo die sterre van God ... Ek wil my gelykstel met die Allerhoogste!” Jesaja (14:13,14). Alhoewel hy al sy heerlikheid van God ontvang het, het hierdie magtige engel dit as iets in homself begin beskou. Nie tevrede met sy status nie, hoewel hy bo die hemelskare vereer was, het hy dit gewaag om die eer te begeer wat God alleen toekom. In stede daarvan dat hy daarna gestrewe het om God eerste te stel in die liefde en trou van alle geskape wesens, het hy gepoog om hulle diens en trou vir homself te verseker. En omdat hy die heerlikheid waarmee die Vader Sy Seun beklee het begeer het, het hierdie vors van die engele die mag nagestreef wat Christus alleen toegekom het. PeP 3.2

Die volmaakte eensgesindheid van die hemel was nou ontwrig. Lucifer se neiging om sy eie belange in stede van die Skepper te dien het, toe dit opgemerk is deur diegene wat die heerlikheid van God as allesoorheersend beskou het, ‘n gevoel van besorgdheid opgewek. In die hemelse raad het die engele met Lucifer gepleit. Die Seun van God het hom op die grootheid, PeP 3.3

die goedheid en die regverdigheid van die Skepper gewys en op die heilige, onveranderlike aard van Sy wet. God het self die orde van die hemel ingestel en deur daarvan af te wyk, sou Lucifer sy Skepper onteer en homself vernietig. Maar die waarskuwing wat in oneindige liefde en genade gegee is, het net ‘n gees van weerstand opgewek. Lucifer het toegelaat dat sy jaloesie teenoor Christus seëvier en hy het meer vasberade geword. PeP 4.1

Om die oppermag van die Seun van God te betwis en so die wysheid en liefde van die Skepper verdag te maak, was die doel van hierdie prins van engele. Om hierdie doel te bereik, was hy op die punt om die vermoëns van hierdie meesterbrein wat, naas dié van Christus, die bekwaamste onder die leërskare van God was, in te span. Maar Hy, wat ‘n vrye wil vir al Sy skepsele begeer het, het niemand onbewaak gelaat teen die verwarrende drogredes waardeur die rebellie homself sou probeer regverdig nie. Voor die aanvang van die groot stryd, sou elkeen ‘n duidelike begrip hê van Sy wil, Wie se wysheid en goedheid die bron van al hulle vreugde was. PeP 4.2

Die Koning van die heelal het die ganse hemelse skare voor Hom ontbied sodat Hy, in hulle teenwoordigheid, die ware posisie van Sy Seun aan hulle kon uiteensit en Sy verhouding met alle geskape wesens kon toon. Die Seun van God het die Vader se troon gedeel en die heerlikheid van die ewige, selfbestaande Een het beide van hulle omhul. Die engele het rondom die troon saamgekom, ‘n groot, tallose skare, “...tienduisende van tienduisende en duisende van duisende... ” (Openbaring 5:11), sowel as die mees verhewe engele, as diensknegte en onderdane, wat hulle verheug het in die lig van die teenwoordigheid van die Godheid wat oor hulle geskyn het. In die teenwoordigheid van die versamelde bewoners van die hemel, het die Koning verklaar dat niemand behalwe Christus, die Eniggeborene van God, volle insae in Sy doelwitte kon hê nie en aan Hom is die uitvoering van die magtige raadsbesluite van Sy wil opgedra. Die Seun van God het die wil van die Vader volbring in die skepping van die hele leërskare van die hemel en hulle eerbetoon en trou was aan Hom, sowel as aan God verskuldig. Christus sou nog Sy Goddelike mag in die skepping van die aarde en sy bewoners uitoefen. Maar met dit alles sou Hy geen mag of verheerliking van Homself, teenstrydig met God PeP 4.3

se plan nastreef nie, maar Hy sou die heerlikheid van die Vader verhef en Sy doelwitte van liefdadigheid en liefde uitvoer. PeP 5.1

Die engele het met vreugde die oppermag van Christus erken, hulle voor Hom neergebuig en hulle liefde en aanbidding vir Hom uitgestort. Lucifer het saam met hulle neergebuig, maar in sy hart was daar ‘n vreemde, felle stryd. Waarheid, regverdigheid en trou het teen afguns en jaloesie gestry. Die invloed van die heilige engele het geblyk hom vir ‘n tyd lank mee te voer. Toe die lofliedere melodieus opstyg en aangevul word deur duisende vreugdevolle stemme, het dit geblyk asof die bose gees verslaan is; onuitspreeklike liefde het sy hele wese met ekstase gevul; sy siel het, in harmonie met die sondelose aanbidders, in liefde uitgegaan na die Vader en die Seun. Maar hy is weereens met hoogmoed oor sy eie heerlikheid gevul. Sy begeerte vir oppermag het teruggekeer en hy het weereens toegegee aan sy afguns jeens Christus. Lucifer het die hoë eer wat aan homself toegeken is, nie as God se spesiale gawe aan hom waardeer nie en daarom het dit geen dankbaarheid jeens sy Skepper ontlok nie. Hy het hom op sy glansrykheid en verheffing beroem en gestrewe daarna om aan God gelyk te wees. Hy was geliefd en is eerbiedig deur die hemelse skare; engele was verheug om sy bevele uit te voer en hy was met meer wysheid en heerlikheid as hulle almal beklee. Nogtans was die Seun van God bo hom verhewe as een in mag en gesag met die Vader. Hy het in die raadsbesluite van die Vader gedeel terwyl Lucifer nie dieselfde toegang tot die doelwitte van God gehad het nie. “Waarom...” het hierdie magtige engel gevra, “...moet Christus die oppermag hê? Waarom word Hy bo Lucifer vereer?” PeP 5.2

Lucifer het sy plek in die teenwoordigheid van God verlaat en uitgegaan om die gees van ontevredenheid onder die engele te versprei. Hy het met duistere geheimhouding te werk gegaan en ‘n tyd lank het hy sy ware doel onder ‘n kleed van eerbied vir God bedek. Hy het begin om twyfel, deur insinuasies oor die wette wat oor die hemelse wesens regeer, te saai en het geskimp dat hoewel die wette miskien geskik is vir die bewoners van die wêreld, engele wat meer verhewe was, geen beperkinge van daardie aard nodig gehad het nie, want hulle eie wysheid was genoegsame leiding. Hulle was nie wesens wat God oneer kon aandoen nie; al hulle gedagtes was heilig; dit was vir hulle net PeP 5.3

so min moontlik om te sondig, as vir God self. Die verheffing van die Seun van God as gelyk met die Vader, is voorgehou as ‘n onreg teenoor Lucifer, wat beweer het dat hy ook geregtig was op ontsag en eer. Indien hierdie prins van engele die verheerliking van sy ware verhewe posisie kon bereik, sou die ganse hemelskare groot baat daarby vind, want sy doel was om vryheid vir almal te verkry. Maar nou het selfs die vryheid wat hulle tot op hede geniet het, tot ‘n einde gekom, want ‘n absolute Heerser is oor hulle aangestel en almal moes hulle aan Sy gesag onderwerp. Dit was die subtiele misleidings wat spoedig deur die liste van Lucifer in die hemelhowe versprei het. PeP 6.1

Daar was geen verandering in die posisie of gesag van Christus nie. Lucifer se afguns en wanvoorstelling en sy aanspraak op gelykheid met Christus het ‘n verklaring van die ware posisie van die Seun van God genoodsaak; maar dit was van die begin af onveranderd. Talle engele is egter deur Lucifer se misleidings verblind. PeP 6.2

Lucifer het die liefdevolle, lojale vertroue van die heilige wesens onder sy bevel misbruik om sy eie wantroue en ontevredenheid op so ‘n slinkse wyse in hulle gedagtes te plant, dat sy werke nie bespeur is nie. Hy het die planne van God in ‘n valse lig voorgestel deur hulle op so ‘n wyse uit te lê en te verdraai dat dit teenstand en ontevredenheid verwek het. Met lis het hy sy hoorders aangespoor om hulle gevoelens uit te spreek; dan het hy daardie gedagtes later herhaal wanneer dit hom gepas het, om te bewys dat die engele nie ten volle tevrede was met die heerskappy van God nie. Alhoewel hy beweer het dat hy volkome getrou aan God was, het hy daarop aangedring dat dit noodsaaklik was om die orde en wette van die hemel te verander om die stabiliteit van God se bewind te verseker. Terwyl hy dus daarop uit was om teenstand teen die wet van God op te sweep en om sy eie ontevredenheid in die gemoedere van die engele onder hom aan te hits, het hy oënskynlik daarna gestreef om ontevredenheid te verwyder en om die misnoegde engele met die reëlings van die hemel te versoen. Terwyl hy in die geheim onenigheid en opstand aangeblaas het, het hy dit met die uiterste geslepenheid laat voorkom asof dit sy uitsluitlike doel was om lojaliteit te bevorder en om harmonie en vrede te bewerkstellig. PeP 6.3

Die gees van ontevredenheid wat op hierdie wyse ontvlam het, se onheilspellende werk is gedoen. Hoewel daar geen openlike uitbarsting was nie, het daar ongemerk verdeeldheid onder die engele ontstaan. Daar was sommige wat Lucifer se insinuasies teen die heerskappy van God gunstig bejeën het. Alhoewel hulle tot op hede in perfekte harmonie was met die orde wat God ingestel het, was hulle nou ontevrede en ongelukkig omdat hulle Sy onnaspeurlike raadsbesluite nie kon penetreer nie; hulle was ontevrede met Sy doel om Christus te verhef. Hulle was gereed om Lucifer se eis, dat hy met die Seun van God gelykgestel word, te ondersteun. PeP 7.1

Maar die engele wat lojaal en getrou was, het die wysheid en regverdigheid van die Goddelike bevel ondersteun en hulle het gepoog om hierdie afvallige wese met die wil van God te versoen. Christus was die Seun van God; Hy was een met Hom voordat die engele ontstaan het. Hy het vir ewig aan die regterhand van die Vader gestaan; Sy oppermag wat so heilsaam vir almal wat onder die welwillende heerskappy daarvan gekom het was, is nooit tevore in twyfel getrek nie. Die harmonie van die hemel is nooit tevore ontwrig nie; waarom moes daar nou onenigheid wees? Die getroue engele kon slegs verskriklike gevolge in hierdie onenigheid sien en hulle het die ontevredenes met alle erns gesmeek en aangeraai om van hulle plan af te sien en hulleself getrou aan God te bewys, deur getrouheid aan Sy heerskappy. PeP 7.2

In groot genade, in ooreenstemming met Sy Goddelike aard, het God Lucifer lank verdra. Ontevredenheid en misnoeë is nooit tevore in die hemel geken nie. Dit was ‘n nuwe beginsel, vreemd, duister, onverklaarbaar. Aanvanklik was selfs Lucifer nie bekend met die ware aard van sy gevoelens nie; ‘n tyd lank was hy bang om aan die werkinge en denke van sy gemoed uiting te gee; nogtans het hy hulle nie verwerp nie. Hy het nie gesien waarheen hy op pad was nie. Maar pogings wat slegs deur oneindige liefde en wysheid bedink kon word, is aangewend om hom van sy dwaling te oortuig. Sy ontevredenheid is getoon sonder rede te wees en hy is daarop gewys wat die gevolg van voortgesette opstand sou wees. Lucifer was oortuig dat hy ‘n fout begaan het. Hy het besef “...die Here is vir almal goed en Sy barmhartigheid is oor al Sy werke” (Psalm 145:9); dat die verordeninge van God regverdig is en dat hy dit as sulks voor al PeP 7.3

die hemelinge behoort te erken. Indien hy dit gedoen het, kon hy homself en baie engele gered het. Op hierdie stadium het hy nog nie sy trou aan God geheel en al verwerp nie. Hoewel hy sy amp as beskuttende gerub verlaat het, sou hy steeds, indien hy gewillig was om tot God terug te keer, die wysheid van die Skepper te erken en tevrede wees om die posisie te vul wat deur God se groot plan aan hom toegeken is, in daardie amp herstel gewees het. Die tyd vir ‘n finale besluit het aangebreek; hy moes homself geheel en al aan die oppermag van God onderwerp, óf hy moes homself aan openlike rebellie toegee. Hy het amper tot die besluit gekom om terug te keer, maar hoogmoed het hom gekeer. Dit was ‘n te groot opoffering vir iemand wat so hoog geëerd was, om te bely dat hy gesondig het, dat sy bedenkinge vals was en om hom aan die gesag wat hy as onregverdig probeer bewys het, te onderwerp. PeP 8.1

Met innige deernis jeens Lucifer en sy volgelinge het ‘n barmhartige Skepper gepoog om hulle terug te trek uit die afgrond van ondergang waarin hulle gereed was om af te stort. Maar Sy genade is verkeerd vertolk. Lucifer het die lankmoedigheid van God uitgewys as ‘n bewys van sy eie meerderwaardigheid, ‘n aanduiding dat die Koning van die heelal tog sou toegee aan sy voorwaardes. As die engele pal by hom sou staan, het hy gesê, kon hulle nog alles verkry wat hulle begeer het. Hy het volgehou om sy optrede te verdedig en hom ten volle tot die groot stryd teen sy Skepper verbind. So het dit gekom dat Lucifer, “die ligdraer”, die deelgenoot in die heerlikheid van God, die dienaar by Sy troon, deur oortreding, die Satan geword het-die “teëstander” van God en heilige wesens en die vernietiger van hulle wat die Hemel aan sy leiding en sorg toevertrou het. PeP 8.2

Hy het die betoë en die smekinge van die getroue engele met minagting verwerp en hulle as misleide slawe veroordeel. Die voorkeur wat aan Christus betoon is, het hy as ‘n onreg teenoor hom en die hemelse skare verklaar en hy het aangekondig dat hy hierdie oortreding van sy-en hulle regte nie langer sou duld nie. Hy sal nooit weer die opperheerskappy van Christus erken nie. Hy het hom voorgeneem om die eer wat hom toekom op te eis en om die bevel oor te neem oor almal wat sy volgelinge sou word; en aan diegene wat hulle by sy geledere sou aansluit, het hy ‘n nuwe en beter regering belowe waaronder almal vryheid PeP 8.3

sou geniet. Groot getalle engele het hulle voorneme om hom as leier te aanvaar aangedui. Gevlei deur die guns waarmee sy toenadering ontvang is, het hy gehoop om al die engele na sy kant toe oor te haal, sodat hy aan God Self gelyk sou word en deur die ganse hemelse skare gehoorsaam sou word. PeP 9.1

Nog het die getroue engele hom en sy ondersteuners aangemoedig om hulle aan God te onderwerp en het aan hulle verduidelik wat die onvermydelike uiteinde sou wees indien hulle weier: Hy wat hulle geskape het, kon hulle mag omverwerp en hulle vermetele opstand daadwerklik straf. Geen engel kan die wet van God, wat net so heilig soos Hy is, teenstaan nie. Hulle het almal gewaarsku om hulle ore vir Lucifer se misleidende betoog te sluit en hulle het by hom en sy volgelinge aangedring om sonder versuim die teenwoordigheid van God op te soek en die dwaling om Sy wysheid en gesag te betwyfel, te bely. PeP 9.2

Baie van hulle was geneig om hierdie raad te volg, om hulle te bekeer van hul ontevredenheid en weer daarna te strewe om gunstig deur die Vader en Sy Seun ontvang te word. Maar Lucifer het nog ‘n misleiding gereed gehad. Die magtige opstandeling het nou verklaar dat die engele wat hulle by hom geskaar het, reeds te ver gegaan het om terug te keer; dat hy die wet van God ken en weet dat God nie sou vergewe nie. Hy het verklaar dat almal wat hulle aan die gesag van die Hemel sou onderwerp, van hulle eer ontneem en hulle posisie gedegradeer sou word. Sover dit homself aangaan was hy vasbeslote om nooit weer die gesag van Christus te erken nie. Die enigste weg wat vir hom en sy volgelinge oorbly, het hy gesê, was om vryheid te handhaaf en met geweld die regte wat nie vrywilliglik aan hulle toegestaan is nie, te verkry. PeP 9.3

Wat die Satan self betref, is dit waar dat hy reeds te ver gegaan het om terug te keer. Maar dit was nie die geval met hulle wat deur sy misleidings verblind was nie. Vir hulle het die raad en die smekinge van die getroue engele ‘n deur van hoop geopen; en as hulle op die waarskuwing ag geslaan het, kon hulle nog uit die valstrik van Satan weggebreek het. Maar hoogmoed, liefde vir hulle leier en die begeerte vir onbeperkte vryheid is toegelaat om te seëvier en die smeekbede van die liefde en genade van God is finaal verwerp. PeP 9.4

God het die Satan toegelaat om sy werk voort te sit totdat die gees van ontevredenheid tot daadwerklike opstand oorgegaan het. Dit was noodsaaklik dat sy planne ten volle ontplooi word, sodat die ware aard en neiging daarvan deur almal gesien kon word. Lucifer, die gesalfde gerub, was hoog verhef; die hemelinge het hom baie liefgehad en sy invloed op hulle was sterk. Die heerskappy van God het nie net die bewoners van die hemel ingesluit nie, maar ook dié van die wêrelde wat Hy geskape het; en Lucifer het tot die gevolgtrekking gekom dat indien hy daarin kon slaag om die engele van die hemel saam met hom in opstand te bring, hy al die wêrelde ook kon meevoer. Hy het sy kant van die saak op ‘n slinkse wyse gestel deur van drogredenasies en misleiding gebruik te maak om sy doel te bereik. Sy vermoë om te bedrieg was baie groot. Hy het hom met ‘n kleed van leuens vermom en het sodoende ‘n voorsprong verkry. Al sy dade was tot so ‘n mate in geheimsinnigheid gehul, dat dit moeilik was om die ware aard van sy werk aan die engele bloot te lê. Voordat dit ten volle ontwikkel het, kon dit nie as die bose ding wat dit was, ontmasker word nie; sy ontevredenheid sou nie as opstand gesien word nie. Selfs die getroue engele kon sy karakter nie ten volle onderskei of sien waarheen sy werke lei nie. PeP 10.1

Lucifer het sy versoekings in die begin so uitgevoer dat hy nie self betrokke was nie. Hy het die engele wat hy nie ten volle na sy kant toe kon oorhaal nie, daarvan beskuldig dat hulle onverskillig was teenoor die belange van hemelse wesens. Hy het die getroue engele van die einste dinge waarmee hy besig was, beskuldig. Dit was sy beleid om verwarring te skep deur die gebruik van listige argumente oor die voornemens van God. Alles wat eenvoudig was, het hy met geheimsinnigheid omhul en deur slinkse verdraaiing het hy twyfel oor die duidelikste verklaringe van Jehova gesaai. En sy hoë pos, so nou verbind met die heerskappy van God, het aan sy bewerings krag verleen. PeP 10.2

God kon slegs middele wat konsekwent met waarheid en geregtigheid was, gebruik. Satan kon gebruik maak van dit wat God nie kon nie-vleiery en bedrog. Hy het gepoog om die woord van God te vervals en die plan van Sy heerskappy verkeerd voor te stel, deur te beweer dat God onregverdig gehandel het deur vir die engele wette op te lê; dat Hy slegs PeP 10.3

verheffing vir Homself wou toeëien, deur onderdanigheid en gehoorsaamheid van Sy skepsele te vereis. Dit was daarom noodsaaklik om aan die bewoners van die hemel en al die wêrelde te demonstreer dat God se regering regverdig is, Sy wet volmaak. Satan het dit laat voorkom asof hy self daarna gestrewe het om alles ten goede van die heelal te bevorder. Die ware karakter van die opstoker en sy werklike motief moes deur almal verstaan word. Hy moes tyd hê om homself deur sy bose werke aan die kaak te stel. PeP 11.1

Die onmin wat sy eie optrede in die hemel veroorsaak het, het Satan aan die heerskappy van God toegedig. Hy het verklaar dat alle onheil aan die administrasie van God toegeskryf kon word. Hy het beweer dat dit sy eie doel was om op die verordeninge van Jehova te verbeter. Daarom het God toegelaat dat hy die aard van sy beweringe demonstreer, sodat die gevolge van sy voorgestelde veranderinge aan die Wet van God gesien kon word. Sy eie werk moet hom veroordeel. Satan het uit die staanspoor beweer dat hy nie in opstand was nie. Die ganse heelal moes die ontmaskering van die bedrieër aanskou. PeP 11.2

Selfs toe hy uit die hemel gewerp is, het Oneindige Wysheid die Satan nie verdelg nie. Omdat slegs liefdesdiens vir God aanneemlik is, moet die trou van Sy skepsele op die oortuiging van Sy regverdigheid en welwillendheid berus. Omdat die bewoners van die hemel en die wêrelde onvoorbereid was om die aard en gevolge van sonde te begryp, sou hulle die regverdigheid van God in die verdelging van Satan nie toe kon begryp nie. Indien die Satan onmiddellik vernietig was, sou sommige God uit vrees eerder as uit liefde gedien het. Die invloed van die bedrieër sou nie ten volle uitgewis gewees het nie en ook sou die gees van opstandigheid nie heeltemal verdelg gewees het nie. Tot voordeel van die heelal deur die eindelose eeue heen, moes hy sy beginsels ten volle ontwikkel sodat sy beskuldigings teen die Heerskappy van God deur alle wesens in hulle ware lig gesien kon word en sodat die geregtigheid en genade van God en die onveranderlikheid van Sy wet vir ewig bo alle twyfel geplaas kon word. PeP 11.3

Die opstand van die Satan moes vir die heelal deur al die toekomstige eeue ‘n les wees-'n ewigdurende getuienis van die aard van die sonde en die verskriklike gevolge daarvan. Die uitwerking van die Satan se heerskappy en die effek daarvan op PeP 11.4

beide die mens en engele sou toon wat die vrug sou wees van die Gesag van God opsy te skuif. Dit sou daarvan getuig dat die bestaan van God se regering met die welsyn van al die kreature wat Hy geskape het, verbind is. Derhalwe moes die geskiedenis van hierdie verskriklike ervaring van opstand as ‘n voortdurende beskerming vir alle heilige wesens dien, om hulle te verhoed om mislei te word aangaande die aard van oortreding en om hulle te beskerm teen die pleeg van sonde en die gevolglike straf te verduur. PeP 12.1

Hy wat in die hemel regeer, is die Een wat die einde van die begin af sien-die Een voor Wie die verborgenhede van die verlede en die toekoms bloot lê en Wie, buiten die ellende en duisternis en verderf wat die sonde veroorsaak, die vervulling van Sy eie liefdesvoornemens en seëninge aanskou. Hoewel “...wolke en donkerheid rondom Hom is; geregtigheid en reg die grondslag van Sy troon is.” (Psalm 97:2). En die inwoners van die heelal, beide die getroues en ontroues, sal dit eendag verstaan. “Volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte. ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.” (Deuteronomium 32:4). PeP 12.2