Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 11—Protes van die Vorste
Een van die edelste getuienisse vir die hervorming ooit, was die protes van die Christelike vorste van Duitsland in die Ryksdag te Speyer in 1529. Die moed, geloof en standvastigheid van hierdie manne van God het vir die daaropvolgende eeue vryheid van denke en gewete verkry. Hulle protes het aan die hervormde kerk die naam van Protestant gegee; die beginsels daarvan was “...die kern van Protestantisme.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 6. GS 196.1
'n Donker en dreigende dag het vir die hervorming aangebreek. Ondanks die Edik van Worms, wat Luther voëlvry verklaar en die leer van en geloof in sy leerstellings verbied het, het godsdienstige verdraagsaamheid tot dusver in die ryk geheers. God se voorsienigheid het die magte wat die waarheid teëgestaan het, in toom gehou. Karel V was ingestel om die hervorming te verpletter, maar dikwels wanneer hy sy hand vir die slag gelig het, moes hy die slag afweer. Die onmiddellike vernietiging van almal wat dit gewaag het om hulself teen Rome te verset, het telkens onvermydelik voorgekom; maar elke keer op die kritieke oomblik, het die leërs van die Turk aan die oostelike grens verskyn, of die koning van Frankryk, of soms selfs die pous, jaloers op die toenemende mag van die keiser, teen hom oorlog gevoer; en dus, te midde van die stryd en oproer van die nasies, is die hervorming gelaat om te versterk en uit te brei. GS 196.2
Uiteindelik het die Katolieke soewereine egter hul vete in die kiem gesmoor om ‘n algemene saak teen die hervormers te maak. Die Ryksdag van Speyer in 1526 het aan elke staat volle vryheid in godsdienstelike sake gegee tot met die vergadering van ‘n algemene raad; maar die gevare wat aanleiding gegee het tot hierdie toegewing, was nog skaars verby, of die keiser het ‘n tweede Ryksdag byeengeroep wat te Speyer in 1529 sou plaasvind met die doel om kettery te onderdruk. Die vorste moes, indien moontlik op vreedsame wyse teen die hervorming oorgehaal word; maar ingeval dit sou misluk, was Karel bereid om die swaard aan te wend. GS 196.3
Die Roomsgesindes was verheug. Hulle het in groot getalle na Speyer gekom en openlik hul vyandigheid teenoor die hervormers en almal wat hulle ondersteun het te betoon. Melanchthon het gesê: “Ons is die uitvaagsels en vullis van die wêreld; maar Christus sal op sy arme mense neersien en hulle bewaar.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. Die evangeliese vorste wat die Ryksdag bygewoon het, was verbied om die evangelie selfs in hulle huise te laat verkondig. Maar die mense van Speyer het na die Woord van God gesmag en ondanks die verbod, het duisende na die dienste in die kapel van die keurvors van Sakse gestroom. GS 197.1
Dit het die krisis verhaas. ‘n Keiserlike boodskap het aan die Ryksdag aangekondig, dat aangesien die besluit wat vryheid van gewete gegee het, tot groot wanordelikheid aanleiding gegee het, die keiser versoek het dat dit herroep moet word. Hierdie willekeurige daad het verontwaardiging en kommer by die evangeliese Christene opgewek. Een het gesê: “Christus het weer in die hande van Kajafas en Pilatus geval.” Die Roomsgesindes het meer gewelddadiger geword. Een Roomse dweper het verklaar: “Die Turke is beter as die Lutherane, want die Turke onderhou vasdae, maar die Lutherane oortree dit. As ons moet kies tussen die Heilige Skrifte van God en die ou dwalinge van die kerk, sou ons eersgenoemde verwerp.” Melanchthon het gesê: “Elke dag, in die volle vergadering, gooi Faber ons evangelie-gesindes met ‘n nuwe klip.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. GS 197.2
Godsdienstige verdraagsaamheid is wettiglik ingestel en die evangeliese state het hulle voorgeneem om die skending van hul regte teë te gaan. Luther, nog steeds onder die verbod wat deur die Edik van Worms ingestel is, was nie by Speyer toegelaat nie, maar sy plek is deur sy medewerkers en die vorste wat God opgewek het om sy saak in hierdie tyd van nood te verdedig, ingeneem. Die edele, Frederik van Sakse, Luther se voormalige beskermer, is deur die dood weggeneem; maar Johannes, sy broer en opvolger, het die hervorming met blymoedigheid verwelkom en hoewel hy vredeliewend was, het hy groot ywer en moed in alle aangeleenthede rakende die belange vir die geloof aan die dag gelê. GS 197.3
Die priesters het geëis dat state wat die hervorming aanvaar het, hulle onvoorwaardelik aan die Roomse jurisdiksie moes onderwerp. Die hervormers, daarenteen, het aanspraak op die vryheid wat voorheen toegestaan is gemaak. Hulle kon nie toestem dat Rome die state wat die Woord van God met sulke groot vreugde ontvang het, weer onder haar beheer moes bring nie. GS 198.1
As ‘n kompromis is uiteindelik voorgestel dat die Edik van Worms streng toegepas moes word, op plekke waar die hervorming nog nie gevestig was nie en dat “...op daardie plekke waar die volk daarvan afgewyk het en waar hulle nie sonder gevaar van opstand, daaraan voldoen het nie, hulle geen nuwe hervorming moes inbring nie, geen strydpunte moes aanroer nie, die viering van die mis nie moes teëstaan nie en dat hulle geen Rooms-Katoliek sou toelaat om die leer van Luther aan te neem nie.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. Hierdie maatreël is, tot groot vreugde van die pousgesinde priesters en prelate deur die Ryksdag goedgekeur. GS 198.2
Indien hierdie edik afgedwing sou word, “...kon die hervorming nie uitgebrei word nie ... waar dit tot nog toe onbekend was en ook nie op vaste fondasies gevestig word ... waar dit reeds bestaan het nie.” — Id vol 13, hfst 5. Vryheid van spraak sou verbied word. Geen bekering sou toegelaat word nie. En die vriende van die hervorming moes hulle onmiddellik aan hierdie beperkings en vereistes van die verbod onderwerp. Dit het geblyk asof die hoop van die wêreld uitgewis sou word. “Die herbevestiging van die Roomse hiërargie ... sou gewis weer die ou misbruike terugbring;” en daar sou maklik weer geleentheid gevind kon word om “...die vernietiging van ‘n werk wat reeds so hewiglik...” deur fanatisme en verdeeldheid “...geskud is...” te voltooi. — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. GS 198.3
Terwyl die evangeliese gesindes vir beraadslaging vergader het, het hulle ontsteld na mekaar gekyk: “Wat staan ons te doen?” het hulle gevra. Magtige sake van wêreldbelang was op die spel. “Moet die owerstes van die hervorming hulle aan die edik onderwerp en dit aanvaar? Hoe maklik sou die hervormers tydens hierdie krisis, wat werklik geweldig was, hulself in ‘n verkeerde rigting beredeneer! Hoeveel waarskynlike voorwendsels en billike redes sou hulle nie kon vind om aan te voer nie! Die Lutherse vorste is vrye beoefening van hulle godsdiens gewaarborg. Dieselfde voorreg is uitgebrei na al die onderdane wat voor die aanvaarding van die maatreël, die sienings van die hervorming aangeneem het. Moet dit hulle nie tevrede te stel nie? Hoeveel gevare sou hulle deur onderwerping vermy! Aan watter onbekende gevare en konflik sou weerstand hulle blootstel! Wie weet watter geleenthede die toekoms kan bied? Laat ons vrede omhels; laat ons die olyftak wat Rome aanbied aanneem en die wonde van Duitsland heel. Met argumente soos hierdie kon die hervormers hul aanvaarding van ‘n weg wat verseker binnekort hulle saak omver sou werp, geregverdig het. GS 199.1
“Gelukkig het hulle die beginsel waarop hierdie reëling gegrond is besef en in geloof opgetree. Wat was hierdie beginsel? Dit was die reg van Rome om die gewete te dwing en vrye ondersoek te verbied. Maar sou hulle en hul Protestantse onderdane dan nie godsdiensvryheid geniet nie? Ja hulle sou, maar as ‘n guns wat spesiaal in die reëling bepaal is, maar nie as ‘n reg nie. Alles buite daardie ooreenkoms, was die groot beginsel van gesag om te heers; gewete het buite die hof gestaan; Rome was die onfeilbare regter en moes gehoorsaam word. Die aanvaarding van die voorgestelde reëling sou ‘n feitelike erkenning gewees het dat godsdiensvryheid tot die hervormers van Sakse beperk moes word; en wat die res van die Christendom betref, sou vrye ondersoek en belydenis van die hervormde geloof ‘n misdaad wees, strafbaar tot die kerker en die brandstapel. Kon hulle instem om godsdiensvryheid te lokaliseer; om te laat verkondig dat die hervorming sy laaste bekering gemaak het, sy laaste akker onderwerp het en dat oral waar Rome haar op hierdie uur gewend het, haar heerskappy verewig sou word? Kon die hervormers gepleit het dat hulle onskuldig was aan die bloed van die honderde en duisende, wat as gevolg van hierdie reëling, hul lewens in pousgesinde lande sou moes opoffer? Dit sou wees om in hierdie gewigtige uur, die saak van die evangelie en die vryhede van die Christendom te verraai.” — Wylie, vol 9, hfst 15. Inteendeel, hulle sou eerder “...alles opoffer, hulle state, hulle krone en hulle lewens.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. GS 199.2
“Laat ons hierdie dekreet verwerp...” het die vorste gesê. “Sover dit die gewete aangaan, het die meerderheid geen mag nie.” Die afgevaardigdes het verklaar: “Die vrede wat die ryk geniet is te danke aan die dekreet van 1526: die afskaffing daarvan sal Duitsland met probleme en verdeeldheid vul. Die Ryksdag is onbevoeg om meer te doen as om godsdiensvryheid te bewaar totdat die raad vergader.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. Om vryheid van gewete te beskerm, is die staat se plig en dit is die perk van sy gesag in godsdienssake. Elke sekulêre regering wat poog om die beoefening van godsdiens deur burgerlike gesag te reguleer of af te dwing, offer die beginsel waarvoor die evangeliese Christen so edelmoedig gestry het op. GS 200.1
Die Roomsgesindes was vasbeslote om, wat hulle as “waaghalsige hardnekkigheid” beskou het, te onderdruk. Hulle het begin om verdeeldheid onder die ondersteuners van die hervorming te saai en almal wat nie openlik ten gunste daarvan was nie, te intimideer. Die verteenwoordigers van die vrystede is uiteindelik voor die Ryksdag gedaag om te verklaar of hulle die bepalings van die voorstel sou aanvaar. Hulle het vir uitstel gepleit, maar tevergeefs. Toe hulle op die proef gestel is, het byna helfte van die getal hulle by die hervormers geskaar. Diegene wat aldus geweier het om gewetensvryheid en die reg van persoonlike oordeel op te offer, het goed geweet dat hulle gebrandmerk is vir toekomstige kritiek, veroordeling en vervolging. Een van die afgevaardigdes het gesê: “Ons moet die Woord van God verloën, of verbrand word.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. GS 200.2
Koning Ferdinand, die keiser se verteenwoordiger by die Ryksdag, het besef dat die dekreet ernstige verdeeldheid sou veroorsaak, tensy die vorste oorgehaal kon word om dit aanvaar en te handhaaf. Daarom het hy die kuns van oortuiging probeer, omdat hy goed besef het dat om sulke manne met geweld te oorreed, hulle net meer vasbeslote sou maak. “Hy het die vorste gesmeek om die dekreet te aanvaar en hulle verseker dat die keiser uitermate tevrede met hulle sou wees.” GS 201.1
Maar hierdie getroue manne het ‘n Gesag hoër as die van aardse heersers erken en hulle het kalm geantwoord: “Ons sal die keiser in alles wat kan bydra tot die behoud van vrede en die eer van God, gehoorsaam.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. GS 201.2
Uiteindelik het die koning, in die teenwoordigheid van die Ryksdag, aan die keurvors en sy vriende aangekondig dat die edik “...op die punt was om opgestel te word in die vorm van ‘n keiserlike besluit...” en dat “...die enigste weg wat vir hulle oorgebly het, was om hulle aan die meerderheid te onderwerp.” Nadat hy dit gesê het, het hy hom aan die vergadering onttrek en die hervormers geen geleentheid gebied het om dit te bespreek of daarop te antwoord nie. “Tevergeefs het hulle ‘n afvaardiging gestuur wat die koning versoek het om terug te keer.” Op hul betogings het hy slegs geantwoord: “Die saak is afgehandel; onderwerping is al wat oorbly.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 5. GS 201.3
Die keiserlike party was daarvan oortuig dat die Christelike vorste die Heilige Skrifte sou gehoorsaam bo menslike leerstellings en vereistes; en hulle het geweet dat oral waar hierdie beginsel aanvaar word, die pousdom uiteindelik omvergewerp sou word. Maar, soos duisende na hulle, het hulle hul oë slegs op sigbare dinge gevestig het en hulself gevlei dat die saak van die keiser en die pous sterk was en dié van die hervormers swak. Indien die hervormers van menslike hulp alleen afhanklik was, sou hulle net so magteloos gewees het as wat die Roomsgesindes gemeen het. Maar hoewel hulle gering in getal in teenstelling met Rome was en met hulle verskil het, het hulle hul krag gehad. “Teen die bevinding van die Ryksdag, het hulle hul op die Woord van God beroep en teen die keiser Charles, op Jesus Christus, Koning van die konings en Here van die here.” — Id, deel 13, hfst 6. GS 201.4
Aangesien Ferdinand geweier het om hul gewetensbesware in ag te neem, het die vorste besluit om hulle nie aan sy afwesigheid te steur nie, maar om sonder versuim hulle protes voor die nasionale raad te lê. ‘n Plegtige verklaring is dus opgestel en aan die Ryksdag voorgelê: GS 202.1
“Ons betoog met hierdie voorleggings, voor God, ons enigste Skepper, Beskermer, Saligmaker en Verlosser, die Een wat eendag ons Regter sal wees, sowel as voor alle mense en skepsels, dat ons, vir ons en ons volk die voorgestelde dekreet nie goedkeur of op geen enkele wyse aanvaar, in enigiets wat teenstrydig is met God, met Sy Heilige Woord, ons vrye gewete en die redding van ons siele nie. GS 202.2
“Wat! Hierdie dekreet bekragtig! Moet ons beweer dat wanneer die Almagtige God ‘n mens volgens Sy kennis roep, dat hierdie man desnieteenstaande nie die kennis van God kan ontvang nie! ... Daar is geen betroubare leerstelling behalwe wat ooreenkomstig die Woord van God is nie ... Die Here verbied die leer van enige ander leerstelling ... Die Heilige Skrif moet deur ander en duideliker tekste verklaar word ... Hierdie heilige Boek is, in alle dinge wat vir die Christen nodig is, maklik om te verstaan en bedoel om die duisternis te verdryf. Ons is vasbeslote om deur die genade van God, die suiwer en uitsluitlike prediking van Sy Woord alleen, soos dit in die Bybelse boeke van die Ou en Nuwe Testamente vervat is, te handhaaf, sonder dat daar enigiets wat in stryd daarmee is bygevoeg word. Hierdie Woord is die enigste waarheid; dit is die betroubare reël van alle leerstellings en van alle lewe en kan ons nooit begewe of mislei nie. Hy wat op hierdie fondament bou, sal teen al die magte van die hel staande bly, terwyl alle menslike nietighede wat daarteen opgerig word, voor die aangesig van God sal val.” GS 202.3
“Om hierdie rede verwerp ons die juk wat ons opgelê is. Terselfdertyd verwag ons dat sy keiserlike majesteit teenoor ons sal optree soos ‘n Christen-vors wat God bo alles liefhet; en ons verklaar ons bereid om aan hom, sowel as aan u, genadige here, alle liefde en gehoorsaamheid volgens ons regverdige en wettige plig te bewys.” — D'Aubigne, deel 13, hfst. 6. GS 203.1
Dit het ‘n diep indruk op die Ryksdag gemaak. Die meerderheid was met verbasing en ontsteltenis oor die stoutmoedigheid van die protesteerders vervul. Die toekoms het vir hulle stormagtig en onseker gelyk. Onmin, stryd en bloedvergieting het vir hulle onvermydelik gelyk. Maar die hervormers, verseker van die regverdigheid van hul saak en met vertroue op die Arm van die Almagtige, was “...vol moed en standvastigheid.” GS 203.2
“Die beginsels vervat in hierdie gevierde protes ... vorm die kern van Protestantisme. Hierdie protes het twee misbruike van die mens in geloofsake weerstaan: Die eerste was die inmenging van die burgerlike landdros; en die tweede die arbitrêre gesag van die kerk. In plaas van hierdie misbruike het Protestantisme die mag van die gewete bo die mag van die landdros gestel en die gesag van die Woord van God bo die sigbare kerk. In die eerste plek verwerp dit die burgerlike mag in godsdienstige sake en verklaar saam met die profete en apostels: “Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense.” In die teenwoordigheid van die kroon van Karel V, het dit die kroon van Jesus Christus verhef. Maar dit gaan verder: GS 203.3
Dit lê die beginsel neer dat alle menslike leerstellings aan die Woord van God ondergeskik moet wees.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 6. Die protesteerders het ook hulle reg om hul oortuigings van die waarheid vryelik uit te spreek, bevestig. Hulle sou nie slegs glo en gehoorsaam nie, maar ook leer wat die Woord van God voorstel en hulle het die reg van priester of landdros om tussenbeide te tree, ontken. Die Protes van Speyer was ‘n plegtige getuienis teen godsdienstige onverdraagsaamheid en ‘n verklaring van die reg van alle mense om God volgens die voorskrifte van hul eie gewete te aanbid. GS 204.1
Die verklaring is gedoen. Dit is in die geheue van duisende geskryf en in die boeke van die hemel opgeteken waar geen poging van die mens dit kan uitwis nie. Die hele evangeliesgesinde Duitsland het die protes as ‘n uitdrukking van hulle geloof aangeneem. Oral het mense in hierdie verklaring die belofte van ‘n nuwe en beter era gesien. Een van die vorste het aan die Protestante in Speyer gesê: “Mag die Almagtige wat julle genade gegee het om op so ‘n kragdadige, vrye en vreeslose wyse te getuig, julle in daardie Christelike standvastigheid tot in ewigheid bewaar.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 6. GS 204.2
Indien die hervorming, nadat dit ‘n mate van sukses behaal het, ingestem het om tyd te wen om guns by die wêreld te verseker, sou dit ontrou aan God en hulself gewees het en sou dit sy eie vernietiging verseker het. Die ervaring van hierdie edele hervormers bevat ‘n les vir alle daaropvolgende eeue. GS 204.3
Satan se wyse van optrede teen God en Sy Woord het nie verander nie; hy is nog steeds net so teen die Skrif as gids vir die lewe gekant, as wat hy in die sestiende eeu was. In ons tyd is daar ‘n groot afwyking van die leerstellings en voorskrifte van die Skrif en daar moet na die Protestantse beginsel, naamlik die Bybel en die Bybel alleen, as die reël van geloof en plig, teruggekeer word. Satan werk steeds met alle middele tot sy beskikking om godsdiensvryheid te vernietig. Die antichristelike mag wat deur die protesteerders van Speyer verwerp is, is nou met hernude ywer besig om sy verlore oppergesag te herstel. Dieselfde onwrikbare handhawing van die Woord van God wat tydens die krisis van die hervorming geopenbaar is, is die enigste hoop op hervorming vir vandag. GS 204.4
Daar was tekens van gevaar vir die Protestante; daar was ook tekens dat die Goddelike Hand uitgesteek is om die gelowiges te beskerm. Dit was ongeveer hierdie tyd dat “Melanchthon haastig sy vriend, Simon Grynaeus, deur die strate van Speyer na die Ryn vergesel het en by hom aangedring om dringend die rivier oor te steek. Laasgenoemde was verbaas oor sulke haastige optrede. ‘'n Ou man met ‘n ernstige en plegtige houding, maar wat vir my onbekend is...’ het Melanchthon gesê, ‘...het voor my verskyn en gesê: binne ‘n minuut sal geregsdienaars deur Ferdinand gestuur word om Grynaeus in hegtenis te neem.’” GS 205.1
Gedurende daardie dag, is Grynaeus in ‘n preek deur Faber, ‘n vooraanstaande pousgesinde doktor, belaster; na afloop daarvan het hy hom skerp berispe omdat hy “...sekere verfoeilike dwalings...” verdedig het. “Faber het sy toorn verberg, maar het onmiddellik daarna na die koning gegaan van wie hy ‘n bevel teen hierdie opdringerige professor van Heidelberg verkry het. Melanchthon het nie daaraan getwyfel dat God sy vriend, deur een van Sy heilige engele te stuur om hom te waarsku, gered het nie. GS 205.2
“Roerloos het hy aan die oewer van die Ryn gewag totdat die water van die stroom Grynaeus van sy vervolgers gered het. ‘Uiteindelik...’ het Melanchthon uitgeroep toe hy hom aan die oorkant sien, ‘...eindelik is hy weggeskeur uit die wrede kake van diegene wat dors na onskuldige bloed.’ Toe Melanchthon na sy huis teruggekeer het, is hy meegedeel dat beamptes wat op soek na Grynaeus was, sy hele huis van bo tot onder geplunder het.” — D'Aubigne, vol 13, hfst 6. GS 205.3
Die hervorming sou nog groter prominensie voor die magtiges van die aarde verwerf. Die vorste is ‘n verhoor deur koning Ferdinand geweier, maar hulle is ‘n geleentheid gebied om hul saak in die teenwoordigheid van die keiser en die saamgestelde hooggeplaastes van kerk en staat voor te lê. Om die verdeeldheid wat die ryk versteur het te onderdruk, het Karel V in die jaar ná die Protes van Speyer, die Ryksdag by Augsburg byeengeroep waar hy aangekondig het dat hy self as voorsitter sou optree. Die Protestantse leiers is daarheen ontbied. GS 206.1
Groot gevare het die hervorming bedreig, maar die voorstanders daarvan het steeds hulle saak aan God toevertrou en hulle verbind om vas te staan vir die evangelie. Die keurvors van Sakse is deur sy raadslede versoek om nie by die Ryksdag te verskyn nie. Die keiser, het hulle gesê, het die teenwoordigheid van die vorste verlang om hulle in ‘n strik te lei. “Is dit nie ‘n groot risiko om jouself saam met ‘n magtige vyand binne die mure van ‘n stad op te sluit nie?” Maar ander het edelmoedig verklaar: “Laat die vorste hulle slegs moedig gedra en die saak van God sal gered wees ... God is getrou; Hy sal ons nie verlaat nie” was Luther se kommentaar. — D'Aubigne, vol 14, hfst 2. Die keurvors het met sy gevolg na Augsburg vertrek. Almal was bekend met die gevare wat hom bedreig het en baie het met ‘n sombere gelaat en ‘n besorgde hart daarheen gegaan. Maar Luther, wat hulle tot by Coburg vergesel het, het hulle weifelende geloof versterk deur die lied wat op die reis geskryf is, te sing: “‘n Vaste Burg is Onse God.” Menige angstige voorgevoelens is verdryf en menige beswaarde hart is onder die klank van die inspirerende sang verlig. GS 206.2
Die hervormde prinse het besluit om ‘n verklaring van hul standpunte in sistematiese vorm, met bewyse uit die Skrif aan Ryksdag voor te lê; en die werk van voorbereiding is aan Luther, Melanchthon en hulle medewerkers opgedra. Hierdie belydenis is deur die Protestante as ‘n uiteensetting van hul geloof aanvaar en hulle het byeengekom om hulle handtekening op hierdie belangrike dokument aan te bring. Dit was ‘n plegtige en beproewende tyd. Die hervormers was begerig dat hulle saak nie met politieke vrae verwar moes word nie; hulle was van mening dat die hervorming geen ander invloed moes uitoefen as wat van die Woord van God uitgaan nie. GS 206.3
Toe die Christelike vorste na vore kom om die belydenis te onderteken, het Melanchthon tussenbeide getree en gesê: “Dit is vir die teoloë en predikante om hierdie dinge voor te stel; laat ons die gesag van die magtiges van die aarde vir ander sake bewaar.” “God verhoed...” het Johannes van Sakse geantwoord, “...dat julle my sal uitsluit. Ek is vasbeslote om te doen wat reg is, sonder om my oor my kroon te bekommer. Ek wil die Here bely. My keurvorstelike hoed en kleed is nie vir my so kosbaar soos die kruis van Jesus Christus nie.” Nadat hy dit gesê het, het hy sy naam geteken. Een van die ander vorste het, terwyl hy die pen opgeneem het, gesê: “As die eer van my Here Jesus Christus dit vereis, is ek gereed ... om my besittings en lewe agter te laat.” Hy het voortgegaan: “Ek sal liewer van my onderdane en my state afstand doen, eerder my vaderland met ‘n staf in die hand verlaat, as om enige ander leerstelling wat nie in hierdie belydenis vervat is nie, aan te neem.” — D'Aubigne, vol 14, hfst 6. Dit was die geloof en durf van hierdie manne van God. GS 207.1
Die aangewese tyd om voor die keiser te verskyn het aangebreek. Karel V, wat op sy troon gesit het, omring deur keurvorste en prinse, het ‘n oudisie aan die Protestantse hervormers toegestaan. Die belydenis van hulle geloof is gelees. Op daardie deurlugtige vergadering is die waarhede van die evangelie duidelik uiteengesit en die dwaalleer van die pouslike kerk geopenbaar. Tereg word daardie dag “...die grootste dag van die hervorming en een van die glorierykste dae in die geskiedenis van die Christendom en die mensdom” genoem. — Id, vol 14, hfst 7. GS 207.2
Slegs ‘n paar jaar het verloop sedert die tyd toe die monnik van Wittenberg alleen voor die nasionale raad in Worms gestaan het. Nou het die edelste en magtigste vorste van die ryk in sy plek gestaan. Luther was belet om in Augsburg te verskyn, maar hy was teenwoordig deur sy woorde en gebede. GS 208.1
“Ek is verheug...” het hy geskryf, “...dat ek tot hierdie uur gespaar is, waarin Christus in die openbaar deur sulke roemryke belyers en in so ‘n glorieryke vergadering verhoog is.” — Id, vol 14, hfst 7. So is die Skrif vervul wat lui: “Ook wil ek voor konings van U getuienisse spreek.” (Ps 119:46). GS 208.2
In die dae van Paulus is die evangelie waarvoor hy gevange geneem is, op hierdie wyse voor die vorste en adel van die keiserlike stad gebring. Dit wat die keiser verbied het om van die preekstoel af gepreek te word, is aldus by hierdie geleentheid vanuit die paleis verkondig; wat baie as ongeskik beskou het om na te luister, selfs vir bediendes, is met verbasing deur die meesters en here van die ryk gehoor. Konings en vername manne het die gehoor uitgemaak; bekroonde vorste was die predikers en die preek was die bekroonde waarheid van God. “Sedert die apostolies era...” het ‘n skrywer gesê, “...was daar nog nooit ‘n groter werk of ‘n meer manjifieke belydenis nie.” — D'Aubigne, vol 14, hfst 7. GS 208.3
“Alles wat die Lutherane gesê het, is waar; ons kan dit nie ontken nie” het ‘n pouslike biskop verklaar. “Kan u met grondige rede, die Belydenis wat deur die keurvors en sy bondgenote gemaak is, weerlê?” het ‘n ander van dr Eck gevra. Die antwoord was: “Met die geskrifte van die apostels en profete — nee! Maar met dié van die Vaders en die rade, ja!” “Ek verstaan...” het die vraer daarop gesê, “...dat die Lutherane, volgens u, binne die Skrifte staan en ons is buite.” — Id, vol 14, hfst 8. GS 208.4
Sommige van die vorste van Duitsland is tot die hervormde geloof gewen. Die keiser het self verklaar dat die Protestantse artikels maar net die waarheid was. Die Belydenis is in baie tale vertaal en deur die hele Europa versprei en is deur miljoene in die daaropvolgende geslagte as die uitdrukking van hul geloof aanvaar. GS 208.5
Die getroue diensknegte van God het nie alleen geswoeg nie. Terwyl “...owerhede en magte en bose geeste...” teen hulle saamgestaan het, het die Here sy volk nie verlaat nie. Indien hulle oë kon oopgaan, sou hulle die duidelike bewys van die Goddelike teenwoordigheid en hulp gesien het soos wat aan ‘n profeet van ouds verleen is. Toe Elisa se dienskneg sy meester op die vyandige leër wat hulle omsingel het en hulle van alle geleenthede vir ontsnapping afgesny het gewys het, het die profeet gebid: “Here open tog sy oë dat hy kan sien.” (2 Kon 6:17). En meteens was die berg omring met strydwaens en perde van vuur; die leër van die hemel was gereed om die man van God te beskerm. So het engele ook die werkers van die hervorming beskerm. GS 209.1
Een van die beginsels wat die sterkste deur Luther gehandhaaf is, was dat daar geen beroep op ‘n sekulêre mag gedoen moes word om die hervorming te ondersteun nie en geen beroep op wapens vir die verdediging daarvan nie. Hy was verheug dat die evangelie deur die vorste van die ryk bely is; maar toe hulle voorgestel het om ‘n bondgenootskap aan te gaan, het hy verklaar dat “...die doktrine van die evangelie deur God alleen verdedig moes word... Hoe minder die mens in die werk ingemeng het, hoe meer opvallend sou God se ingryping ten behoewe daarvan wees. Al die politieke voorsorgmaatreëls wat voorgestel is, was na sy mening, toe te skryf aan onwaardige vrees en sondige wantroue.” — D'Aubigne, vol 10, hfst 14, Londense uitgawe. GS 209.2
Toe magtige vyande saamgespan het om die hervormde geloof omver te werp en dit gelyk het of duisende swaarde daarteen ontbloot word, het Luther geskryf: “Satan se woede is ontketen; goddelose priesterhoofde het saamgesweer en ons word met oorlog bedreig. Vermaan die volk om heldhaftig voor die troon van God met geloof en gebed te stry, sodat ons vyande, oorwin deur die Gees van God, tot vrede gedwing kan word. Ons grootste behoefte, ons grootste werk, is gebed; laat die volk verstaan dat hulle nou aan die skerpte van die swaard en aan die woede van Satan blootgestel word en laat hulle bid.” — D'Aubigne, vol 10, hfst 14. GS 209.3
Weer, op ‘n later stadium, met verwysing na die verbond wat die hervormde vorste beoog het, het Luther weer verklaar dat die enigste wapen wat in hierdie oorlog gebruik mag word, “...die swaard van die Gees...” moet wees. Hy het aan die keurvors van Sakse geskryf: “Ons kan nie met ‘n rein gewete die voorgestelde alliansie goedkeur nie. Ons sal eerder tien keer sterf as om toe te laat dat die evangelie een druppel bloed vergiet. Ons deel is om soos lammers ter slagting te wees. Die kruis van Christus moet gedra word. Laat u hoogheid sonder vrees wees. Ons sal meer deur ons gebede doen as al ons vyande met hulle grootpratery. Laat u hande net nie met die bloed van u broers bevlek word nie. As die keiser versoek dat ons aan sy tribunale oorgegee moet word, is ons gereed om te verskyn. U kan nie ons geloof verdedig nie; elkeen moet op sy eie risiko en gevaar glo.” — Id, vol 14, hfst 1. GS 210.1
Vanuit die heimlike plek van gebed, het die krag wat die wêreld in die groot hervorming geskud het, gekom. Daar, met heilige kalmte, het die diensknegte van die Here hul voete op die rots van Sy beloftes geplaas. Gedurende die stryd in Augsburg “...het Luther nie ‘n dag deurgebring sonder om minstens drie uur aan gebed te wy nie en dit was ure wat in die mees gunstigste tyd vir studie afgestaan is.” In die privaatheid van sy kamer kon daar gehoor word hoe hy sy siel voor God uitstort in woorde “...vol aanbidding, vrees en hoop soos wanneer ‘n mens met ‘n vriend praat.” “Ek weet dat U onse Vader en ons God is...” het hy gesê, “...en dat U die vervolgers van U kinders sal verstrooi; want Uself is saam met ons in gevaar. Al hierdie aangeleenthede is van U en dit is slegs deur U aandrang dat ons ons hande daarop gelê het. Verdedig ons dan, o Vader!” — D'Aubigne, vol 14, hfst 6. GS 210.2
Aan Melanchthon, wat verpletter was onder die las van angs en vrees, het hy geskryf: “Genade en vrede in Christus — in Christus sê ek en nie in die wêreld nie. Amen. Ek haat uitermate daardie oorweldigende sorge wat jou verteer. As die saak onregverdig is, laat dit vaar; as die saak regverdig is, waarom moet ons dan die beloftes van Hom wat ons beveel om sonder vrees te gaan slaap ontken? ... Christus sal ons nie in die werk van geregtigheid en waarheid begewe nie. Hy leef, Hy regeer; watter vrees kan ons dan hê?” — D'Aubigne, vol 14, hfst 6. GS 211.1
God het wel na die geroep van Sy dienaars geluister. Hy het aan die vorste en predikante genade en moed geskenk om die waarheid teen die heersers van die duisternis van hierdie wêreld te handhaaf. Die Here het gesê: “Kyk, Ek Iê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” (1 Pet 2:6). Die Protestantse hervormers het op Christus voortgebou en die poorte van die hel kon hulle nie oorweldig nie. GS 211.2