Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 10—Vooruitgang van die Hervorming in Duitsland
Luther se misterieuse verdwyning het ontsteltenis regdeur Duitsland veroorsaak. Navrae aangaande hom is oral gehoor. Die wildste gerugte was in omloop en baie het geglo dat hy vermoor is. Daar was groot geweeklaag, nie slegs deur sy erkende vriende nie, maar ook deur duisende wat nie openlik standpunt vir die hervorming ingeneem het nie. Baie is deur ‘n plegtige eed verbind om sy dood te wreek. GS 183.1
Die Roomse leiers het met vrees aanskou hoe hoog die gevoelens teen hulle opgeloop het. Alhoewel hulle aanvanklik verheug oor die vermeende dood van Luther was, het hulle spoedig begeer om van die woede van die volk weg te kruip. Sy vyande was nie so bekommerd oor sy moedige dade terwyl hy onder hulle was, soos wat hulle deur sy verdwyning was nie. Diegene wat in hulle woede die onverskrokke hervormer wou vernietig was, noudat hy ‘n hulpelose gevangene geword het, met vrees gevul. “Die enigste manier wat oorbly om onsself te red...” het een gesê, “...is om fakkels aan te steek en die hele wêreld vir Luther te deursoek sodat ons hom aan die nasie wat na hom roep, kan teruggee.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 1. Dit het gelyk asof die dekreet van die keiser kragteloos was. Die pouslike legate is met verontwaardiging gevul toe hulle sien dat dit veel minder aandag as die lot van Luther geniet. GS 183.2
Die tyding dat hy veilig was, hoewel ‘n gevangene, het die vrese van die mense laat bedaar, terwyl dit die entoesiasme in sy guns steeds laat toeneem het. Sy geskrifte is met groter gretigheid as ooit tevore gelees. Toenemende getalle het hulle by die saak van hierdie heldhaftige man, wat teen sulke onwaarskynlike omstandighede die Woord van God verdedig het, gevoeg. Die hervorming het voortdurend in krag toegeneem. Die saad wat Luther gesaai het, het oral ontkiem. Sy afwesigheid het ‘n werk verrig wat sy teenwoordigheid nie sou kon doen nie. Ander arbeiders het, noudat hul groot leier verwyder was, ‘n nuwe verantwoordelikheidsbesef ervaar. Met nuwe geloof en erns is hulle gedring om alles in hulle mag te doen, sodat die werk wat so edel begin is, nie verhinder sou word nie. GS 183.3
Maar Satan was nie ledig nie. Hy het nou probeer wat hy in elke ander hervormings-bewegings probeer het, naamlik om die mense te mislei en te vernietig deur die valse in die plek van die ware werk op hulle af te palm. Net soos daar valse Christusse in die eerste eeu van die Christelike kerk was, het daar in die sestiende eeu valse profete ontstaan. GS 184.1
'n Paar manne, diep geraak deur die opwinding in die godsdienstige wêreld, het hulle verbeel dat hulle spesiale openbarings uit die hemel ontvang het en beweer dat hulle Goddelike opdrag gekry het om die hervorming wat, volgens hulle verklaring, swak deur Luther begin is, te voltooi. In werklikheid het hulle die werk wat hy verrig het, ongedaan gemaak. Hulle het die groot beginsel dat die Woord van God die enigste maatstaf van die geloof en lewe is, wat die grondslag van die hervorming was, verwerp; en in die plek van hierdie onfeilbare gids, het hulle die verraderlike, onsekere maatstaf van hulle eie gevoelens en indrukke gestel. Deur hierdie daad van die groot aanwyser van dwaalleer en leuens ter syde te stel, is die weg vir Satan oopgestel om die verstand van mense te beheer soos dit hom die meeste behaag. GS 184.2
Een van die profete het beweer dat hy ‘n opdrag deur die engel Gabriël ontvang het. ‘n Student wat by hom aangesluit het, het sy studies laat vaar en verklaar dat hy van God self wysheid ontvang het om Sy Woord te verklaar. Ander wat van nature tot fanatisme geneig was, het by hulle aangesluit. GS 184.3
Die optredes van hierdie dwepers het groot opwinding veroorsaak. Die prediking van Luther het die volk oral aangespoor om die noodsaaklikheid van hervorming te besef en nou is sommige eerlike persone deur die valse bewerings van die nuwe profete mislei. GS 184.4
Die leiers van die beweging het na Wittenberg gegaan om Melanchthon en sy medewerkers van hulle aansprake te oortuig. Hulle het gesê: “Ons is deur God gestuur om die volk te onderrig. Ons het ‘n persoonlike gesprekke met die Here gehad; ons weet wat gaan gebeur; met ander woorde, ons is apostels en profete en ons beroep ons op Doktor Luther.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 7. GS 185.1
Die hervormers was verbaas en verward. Dit was ‘n element wat hulle nooit voorheen teëgekom het nie en hulle het nie geweet watter weg om in te slaan nie. Melanchthon het gesê: GS 185.2
“Daar is voorwaar buitengewone geeste in hierdie manne; maar watter geeste? ... Laat ons enersyds daarop let om nie die Gees van God te blus nie en andersyds, om nie deur die gees van Satan gelei te word om af te dwaal nie.” — Id. GS 185.3
Die vrugte van hierdie nuwe leer het spoedig duidelik geword. Die mense is gelei om die Bybel te verwaarloos of dit heeltemal opsy te sit. Die skole is in verwarring gebring. Studente wat alle selfbeheersing oorboord gegooi het, het hul studies laat vaar en die universiteite verlaat. Die manne wat hulself bekwaam geag het om die werk van die hervorming te laat herleef en te beheer, het slegs daarin geslaag om dit tot op die rand van ondergang te bring. Die Roomsgesindes het weer hul vertroue herwin en het verheug uitgeroep, “Een laaste stryd en alles sal aan ons behoort.” — Id. GS 185.4
Toe Luther in Wartburg hoor wat gebeur het, het hy met diep kommer gesê: “Ek het altyd verwag dat Satan hierdie plaag vir ons sou stuur.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 7. Hy het die ware karakter van daardie gewaande profete raakgesien, asook die gevaar wat die saak van die waarheid bedreig het. Die teëstand van die pous en die keiser het hom nie soveel onthuts en ontstel soos wat hy nou ervaar het nie. Van die grootste vyande van die hervorming het nou vanuit die beweerde vriende van die hervorming ontstaan. Dieselfde waarhede wat vir hom sulke groot vreugde en troos besorg het, is nou aangewend om twis te ontketen en verwarring in die kerk te skep. GS 185.5
In die hervormingswerk is Luther deur die Gees van God geïnspireer en buite homself weggevoer. Hy het nie beplan om sulke posisies in te neem soos hy het nie, of om sulke radikale veranderinge aan te bring nie. Hy was slegs die instrument in die hand van Oneindige Mag. Tog het hy gereeld vir die gevolge van sy werk gesidder. Op ‘n keer het hy gesê: “As ek geweet het dat my leer een man, slegs een enkele man, hoe nederig of onbekend, sou seermaak - wat dit nie kan doen nie, want dit is die evangelie self - sou ek eerder tien keer sterf as om dit nie te herroep nie.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 7. GS 186.1
En nou het selfs Wittenberg, die middelpunt van die hervorming, vinnig onder die mag van fanatisme en wetteloosheid verval. Hierdie haglike toestand was nie die gevolg van die leer van Luther nie; maar regdeur Duitsland het sy vyande die skuld op hom geplaas. In bitterheid van siel het hy soms gevra: “Kan dit dan die einde van hierdie groot hervormingswerk wees?” — Id. Maar nadat hy weer met God in gebed geworstel het, het daar vrede in sy hart gekom. “Hierdie werk is nie myne nie, maar U werk;” het hy gebid; “U sal nie toelaat dat dit deur bygeloof of fanatisme bederf word nie.” Maar die gedagte om langer uit die stryd van hierdie krisis weg te bly, het ondraaglik geword. Hy het besluit om na Wittenberg terug te keer. GS 186.2
Sonder verwyl, het hy op hierdie gevaarlike reis vertrek. Hy was nog steeds onder die verbod van die ryk. Vyande was vry om sy lewe te neem; vriende is verbied om hom te help of skuiling aan hom te bied. Die keiserlike regering het die strengste maatreëls teen sy aanhangers getref. Maar hy het gesien dat die werk van die evangelie in gevaar verkeer het en in die Naam van die Here het hy vreesloos uitgegaan om vir die waarheid te veg. GS 186.3
Luther het in ‘n brief aan die keurvors, nadat hy gesê het dat hy van plan was om Wartburg te verlaat, gesê: “Laat dit aan u hoogheid bekend wees dat ek na Wittenberg gaan onder Beskerming wat veel hoër as prinse en keurvorste is. Ek dink nie daaraan om u hoogheid se steun te verwerf nie en ver is dit van my om beskerming van u te verlang, maar ek sal u eerder self wil beskerm. As ek weet dat u hoogheid my kan of wil beskerm, sal ek glad nie na Wittenberg gaan nie. Daar is geen swaard wat hierdie saak kan bevorder nie. God alleen moet alles sonder die hulp of goedkeuring van mense doen. Hy wat die sterkste geloof het, is die een wat die meeste in staat is om te beskerm.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 8. GS 187.1
In ‘n tweede brief, geskryf op pad na Wittenberg, het Luther toegevoeg: “Ek is bereid om die misnoeë van u hoogheid en die woede van die hele wêreld op my te neem. Is die Wittenbergers nie my skape nie? Het God hulle nie aan my toevertrou nie? En moet ek my nie, indien nodig, ter wille van hulle aan die dood blootstel nie? Buitendien vrees ek om ‘n verskriklike uitbraak, waardeur God ons volk sal straf, in Duitsland te sien.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 7. GS 187.2
Met groot omsigtigheid en nederigheid, maar tog beslis en ferm, het hy sy werk betree. “Deur die Woord...” het hy gesê, “...moet ons dit wat deur geweld ingestel is, omverwerp en vernietig. Ek sal nie geweld teen die bygelowiges en ongelowiges gebruik nie ... Niemand mag ingeperk word nie. Vryheid is die kern van geloof.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 8. GS 187.3
Dit het spoedig in Wittenberg rugbaar geword dat Luther teruggekom het en dat hy sou preek. Uit alle rigtings het die mense ingestroom en die kerk was tot oorlopens toe vol. Hy het die kansel bestyg en met groot wysheid en sagmoedigheid die mense onderrig, vermaan en bestraf. Aangaande sommige wat geweld gebruik het om die mis af te skaf, het hy gesê: GS 187.4
“Die mis is ‘n slegte ding; God is daarteen gekant; dit moet 190 afgeskaf te word; en ek sou wou hê dat dit deur die hele wêreld met die nagmaal van die evangelie vervang word. Laat niemand egter deur geweld daarvan losgeskeur word nie. Ons moet die saak in God se hande laat. Sy Woord moet optree en nie ons nie. En hoekom so, sal jy vra? Omdat ek nie die harte van mense in my hand hou soos die pottebakker die klei nie. Ons het die reg om te praat; maar ons het nie die reg om op te tree nie. Laat ons preek; die res moet aan God oorgelaat word. Wat sou ek wen indien ek geweld sou gebruik? ‘n Grynslag, formaliteit, na-apery, menslike verordeninge en huigelary ... Maar daar sou geen opregtheid van hart of geloof of liefde wees nie. Waar hierdie drie dinge ontbreek, ontbreek alles en ek sal nie die stam van ‘n peer gee vir so ‘n resultaat nie ... God kan meer deur Sy Woord alleen vermag, as wat jy en ek en die hele wêreld deur ons gesamentlik krag kan vermag. God lê beslag, op die hart; en wanneer die hart gewen is, is alles gewen... GS 187.5
“Ek sal preek, bespreek en skryf; maar ek sal niemand beperk nie, want geloof is ‘n vrywillige daad. Let op wat ek gedoen het. Ek het teen die pous, aflate en Roomsgesindes opgestaan, maar sonder geweld of oproer. Ek het God se Woord voorgehou; ek het gepreek en geskryf — dit was al wat ek gedoen het. En tog, terwyl ek geslaap het ... het die Woord wat ek verkondig het, die pouslike mag omvergewerp sodat geen vors of ‘n keiser dit veel skade kon berokken nie. As ek my op geweld beroep het, sou die hele Duitsland miskien in ‘n bloedbad omskep gewees het. Maar wat sou die gevolge gewees het? Vernietiging en verlatenheid van beide liggaam en siel. Daarom het ek stilgebly en die Woord alleen toegelaat om deur die wêreld te versprei.” — D'Aubigne , vol 9, hfst 8. GS 188.1
Dag na dag, vir ‘n hele week, het Luther voortgegaan om vir gretige skares te preek. Die Woord van God het die betowering van fanatiese opwinding verbreek. Die krag van die evangelie het die misleide mense weer op die weg van waarheid gebring. GS 188.2
Luther het geen begeerte gehad om die fanatici, wat soveel onheil veroorsaak het, teë te kom nie. Hy het geweet dat hulle manne van ongesonde oordeel en ongedissiplineerde drifte was wat, hoewel hulle beweer het dat hulle deur spesiale lig uit die hemel verlig is, nie die geringste weerspreking of selfs die vriendelikste teregwysing of raad sou gedoog nie. Op verwaande wyse, het hulle op oppergesag aanspraak gemaak en vereis dat almal, sonder enige vrae, hulle aansprake moes erken. Maar aangesien hulle op ‘n onderhoud met hom aangedring het, het hy ingestem om hulle te ontmoet; en hy het hulle aanmatigings so suksesvol blootgelê, dat die bedrieërs onmiddellik uit Wittenberg vertrek het. GS 189.1
Die fanatisme is vir ‘n tyd aan bande gelê; maar ‘n paar jaar later het dit weer met hernude geweld en verskriklike gevolge uitgebreek. Luther het aangaande die leiers van hierdie beweging gesê: “Vir hulle was die Heilige Skrif slegs ‘n dooie woord en hulle het almal begin uitroep: ‘Die Gees! Die Gees! Maar verseker sal ek nie volg waarheen hulle gees lei nie. Mag God in Sy genade my van ‘n kerk behoed waarin daar niemand anders as heiliges is nie. Ek begeer om by die nederiges, swakkes en siekes te woon, wat hulle sondes ken en voel en wat voortdurend by God sug en pleit vir Sy vertroosting en ondersteuning.” — D'Aubigne, vol 10, hfst 10. GS 189.2
Thomas Munzer, die aktiefste van die fanatici, was ‘n man met aansienlike vermoëns wat hom, tereg gelei, in staat sou stel om goed te doen; maar hy het nie die eerste beginsels van ware godsdiens geken nie. “Hy was besiel met ‘n begeerte om die hele wêreld te hervorm en het, soos alle dwepers, vergeet dat die hervorming by homself moes begin.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 8. Hy was ambisieus vir posisie en invloed en was nie bereid om tweede te wees nie, selfs nie vir Luther nie. Hy het verklaar dat die hervormers, deur die gesag van die pous met die gesag van die Skrif te vervang, slegs ‘n ander vorm van pousdom bewerkstellig het. Hy homself, so het hy geëis, het Goddelike opdrag ontvang om die ware hervorming in te stel. “Hy wie hierdie die gees besit...” het Munzer gesê, “...besit die ware geloof, al sou hy nooit in sy lewe die Skrif sien nie.” — D'Aubigne, vol 10, hfst 10. GS 189.3
Die fanatiese leraars het hulself oorgegee om deur indrukke beheer te word en hulle het elke gedagte en impuls as die stem van God beskou; gevolglik het hulle tot uiterstes oorgegaan. Sommige van hulle het selfs hul Bybels verbrand en uitgeroep: “Die letter maak dood maar die Gees gee lewe.” Munzer se leer het ‘n beroep op mense se begeerte na die buitengewone gedoen, terwyl dit hul trots bevredig het deur menslike idees en opinies bo die Woord van God te plaas. Sy leer is deur duisende aangeneem. Hy het spoedig alle orde in die openbare erediens veroordeel en verklaar dat om vorste te gehoorsaam, was om te probeer om beide God en Belial te dien. GS 190.1
Die gemoedere van die mense, wat reeds die juk van die pousdom begin afgooi het, het ook ongeduldig onder die beperkings van die burgerlike owerheid geraak. Munzer se rewolusionêre leerstellings wat aanspraak op Goddelike goedkeuring gemaak het, het daartoe gelei dat hulle van alle beheer weggebreek en vrye teuels aan hulle vooroordele en drifte gegee het. Die verskriklikste tonele van aanhitsing tot oproer en opstand het gevolg en die velde van Duitsland is met bloed deurdrenk. GS 190.2
Die sieleangs wat Luther so lank tevore in Erfurt ervaar het, het nou met verdubbelde krag op hom gedruk toe hy die gevolge van fanatisme sien wat aan die hervorming toegeskryf word. Die pousgesinde vorste het verklaar — en baie was bereid om dit te aanvaar — dat die opstand die onmiskenbare vrugte van Luther se leerstellings was. Alhoewel hierdie beskuldiging sonder die minste grondslag was, kon dit nie anders as om groot ontsteltenis vir die hervormer te veroorsaak nie. Dat die saak van die waarheid so beskaam kon word deur dit op gelyke voet met die laagste soort fanatisme te plaas, was meer as wat hy kon verduur. Aan die ander kant, het die leiers van die opstand Luther gehaat omdat hy nie slegs hul leerstellings teëgestaan het en hul aansprake op Goddelike inspirasie ontken het nie, maar hulle ook as rebelle teen die burgerlike owerheid bestempel het. As vergelding het hulle hom as ‘n lae bedrieër veroordeel. Dit het geblyk asof hy die vyandigheid van beide vorste en mense oor homself gebring het. GS 190.3
Die Roomsgesindes het gejuig en verwag om die spoedige ondergang van die hervorming te sien; hulle het Luther die skuld gegee, selfs vir die dwalings wat hy ywerig probeer regstel het. Deur valslik te beweer dat hulle met groot onreg behandel is, het die fanatici daarin geslaag om die medelye van ‘n groot groep mense te verkry en soos dikwels gebeur, is diegene wat aan die verkeerde kant staan, as martelaars beskou. Diegene wat al hul kragte in stryd met die hervorming ingespan het, is dus bejammer en geprys as slagoffers van wreedheid en verdrukking. Dit was die werk van Satan, aangevoer deur dieselfde gees van opstand wat die eerste keer in die hemel geopenbaar is. GS 191.1
Satan strewe voortdurend om mense te mislei en lei hulle om sonde geregtigheid en geregtigheid sonde te noem. Hoe suksesvol was sy werk nie! Hoe dikwels word sensuur en smaad op God se getroue dienaars gewerp omdat hulle vreesloos staan om die waarheid te verdedig! Mense wat slegs werkkragte van Satan is word geprys en gevlei en selfs as martelare beskou, terwyl diegene wat weens hul getrouheid aan God gerespekteer en ondersteun moet word, dikwels gelaat word om alleen onder verdenking en wantroue te staan. GS 191.2
Vervalste heiligheid en voorgee-heiligmaking verrig vandag steeds die werk van misleiding. In verskillende vorms openbaar dit dieselfde gees as in die dae van Luther, wat die aandag van die Skrif weglei en mense mislei om hul eie gevoelens en indrukke te volg, eerder as om gehoorsaam aan die wet van God te wees. Dit is een van Satan se suksesvolste liste om reinheid en waarheid onder verdenking te plaas. GS 191.3
Luther het die evangelie vreesloos teen die aanslae wat vanaf alle kante gekom het, verdedig. Die Woord van God het getuig ‘n magtige wapen in elke konflik te wees. Met hierdie Woord het hy die stryd teen die gesag wat die pous homself aangematig het en die rasionalistiese filosofie van die geleerdes gewen, terwyl hy ook rotsvas gestaan het teen die fanatisme wat gepoog het om met die hervorming verbind te word. GS 192.1
Elkeen van hierdie teenstrydige elemente het die Heilige Skrif op sy eie manier probeer ter syde stel en menslike wysheid as die bron van geloofwaardige waarheid en wysheid te verhef. Rasionalisme verafgod die rede en maak dit die maatstaf van godsdiens. Romanisme, wat namens haar soewereine pous aanspraak maak op inspirasie wat in ‘n ononderbroke lyn van die apostels afkomstig is en deur alle eeue onveranderlik is, bied genoeg geleentheid om elke soort uitspattigheid en korrupsie onder die heiligheid van die apostoliese opdrag te verberg. Die ingewing waarop Munzer en sy aanhangers aanspraak gemaak het, het uit geen hoër bron as die vaaghede van die verbeelding gekom nie en die invloed daarvan was ondermynend vir alle gesag, menslik of Goddelik.. Ware Christendom neem die Woord van God as die groot skatkamer van ingegewe waarheid aan en die toets van alle ingewing. GS 192.2
Met sy terugkeer uit Wartburg het Luther sy vertaling van die Nuwe Testament voltooi en die evangelie is kort daarna aan die Duitse volk in hul eie taal gegee. Hierdie vertaling is met groot vreugde deur almal wat die waarheid liefgehad het ontvang; maar dit is met minagting deur diegene wat menslike tradisies en die gebooie van mense verkies het, verwerp. GS 192.3
Die priesters was ontstel deur die gedagte dat die gewone mense nou in staat sou wees om die voorskrifte van God se Woord met hulle te bespreek en dat hulle eie onkunde aan die kaak gestel sou word. Die wapens van hulle vleeslike redenasie was magteloos teen die swaard van die Gees. Rome het haar kragte ingespan om die verspreiding van die Skrif te voorkom, maar dekrete, vervloeking en marteling was alles tevergeefs. GS 192.4
Hoe meer Rome die Bybel veroordeel en verbied het, hoe groter was die begeerte van die volk om te weet wat dit werklik geleer het. Almal wat kon lees, was gretig om die Woord van God self te bestudeer. Hulle het dit met hulle saamgedra, gelees en herlees en hulle was nie tevrede voordat hulle groot gedeeltes van die Skrif gememoriseer het nie. Toe Luther sien hoe gunstig die Nuwe Testament ontvang is, het hy dadelik begin met die vertaling van die Ou Testament en gedeeltes daarvan en sodra dit voltooi was, gepubliseer. GS 193.1
Luther se geskrifte is in die stede sowel as in die klein dorpies verwelkom. “Wat Luther en sy vriende saamgestel het, het ander versprei. Monnike, oortuig van die onwettigheid van klooster-verpligtinge wat ‘n lang lewe van ledigheid wou verruil vir daadwerklike inspanning, maar te onkundig was om die woord van God te verkondig, het deur die provinsies gereis en klein dorpies en wonings besoek, waar hulle die boeke van Luther en sy vriende verkoop het. Duitsland het spoedig gewemel van hierdie waagmoedige kolporteurs.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 11. GS 193.2
Hierdie geskrifte is met groot belangstelling deur rykes en armes, geleerdes en onkundiges bestudeer. Saans het die onderwysers van die dorpskole dit aan groepies voor die kaggelvuur voorgelees. Met elke poging is siele van die waarheid oortuig en het hulle die Woord met blydskap ontvang, om die goeie nuus weer op hulle beurt aan ander oor te dra. GS 193.3
Die woorde van Inspirasie is geverifieer: “Die opening van U woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig” (Ps 119:130). Die bestudering van die Skrif het ‘n groot verandering in die denke en harte van die mense teweeggebring. Die pouslike bewind het ‘n yster juk op die skouers van sy onderdane geplaas wat hulle in onkunde en agterlikheid vasgehou het. Die bygelowige nakoming van vormgodsdiens is noukeurig gehandhaaf; maar in al hulle dienste het die hart en verstand ‘n geringe aandeel gehad. Die prediking van Luther, wat die duidelike waarhede van God se Woord uiteengesit het en die Woord self wat in die hande van die gewone mense geplaas is, het hulle sluimerende kragte opgewek om nie slegs die geestelike karakter te suiwer en te veredel nie, maar om ook nuwe lewenskrag en energie aan die intellek te verleen. GS 193.4
Persone uit alle geledere was met die Bybel in hulle hande gesien, besig om die leerstellings van die hervorming te verdedig. Die Roomsgesindes wat die ondersoek van die Skrifte aan priesters en monnike oorgelaat het, het hulle nou opgeroep om na vore te tree en die nuwe leerstellings te weerlê. Maar, onkundig aangaande die Skrif en krag van God, is die priesters en monnike totaal deur diegene wat deur hulle as ongeleerde ketters veroordeel is, verslaan. “Ongelukkig...” het ‘n Katolieke skrywer gesê, “...het Luther sy navolgers oorgehaal om geen ander orakel as die Heilige Skrif te vertrou nie.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 11. Menigtes het byeengekom om die waarheid van manne met min opleiding te hoor en selfs deur hulle bespreek te word met geleerde en welsprekende teoloë. Die skandelike onkunde van hierdie vername manne het duidelik geblyk wanneer hulle argumente deur die eenvoudige leer van God se Woord beantwoord is. Arbeiders, soldate, vroue en selfs kinders was beter bekend met die leringe van die Bybel as die priesters en die geleerde doktore. GS 194.1
Die kontras tussen die dissipels van die evangelie en die voorstanders van pouslike bygeloof was nie minder sigbaar in die geledere van die geleerdes as onder die gewone mense nie. “Teenoor die ou kampvegters van die hiërargie, wat die studie van tale en die ontwikkeling van literatuur verwaarloos het, was vrygewige jeugdiges, toegewy aan studie, die ondersoek van die Skrif en vertroud met die meesterwerke van die antieke tyd. Hierdie jongmense het ‘n aktiewe verstand, verhewe siel en ‘n vreeslose hart gehad en het spoedig sodanige kennis opgedoen dat, vir ‘n lang tyd, niemand met hulle kon meeding nie. Gevolglik, toe hierdie jeugdige verdedigers van die hervorming die Romeinse doktore in enige vergadering teëgekom het, het hulle hul met soveel gemak en vertroue aangeval, dat hierdie onkundige manne gehuiwer het, verleë geraak het en is met minagting, wat in die oë van almal verdien is, bejeën.” — D'Aubigne, vol 9, hfst 11. GS 194.2
Toe die Katolieke geestelikes opmerk hoe die ledetal in gemeentes afneem, het hulle die hulp van die magistrate ingeroep en op alle maniere gepoog om hul toehoorders terug te bring. Maar die mense het bevind dat die nuwe leringe in die behoeftes van hul siele voorsien en hulle het van diegene wat hulle vir so lank met die waardelose doppe van bygelowige rituele en menslike tradisies gevoed het, weggedraai. GS 195.1
Toe die vervolging teen die leraars van die waarheid ontketen is, het hulle die woorde van Christus gehoorsaam: “Wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe.” (Mat 10:23). Die lig het oral deurgedring. Die vlugtelinge sou êrens ‘n gasvrye deur vind en terwyl hulle daar gebly het, sou hulle Christus preek, soms in die kerk of, indien hulle daardie voorreg ontneem is, in privaat huise of in die buitelug. Waar hulle ook al ‘n gehoor bymekaar kon bring, was ‘n heilige tempel. Die waarheid, verkondig met sulke ywer en vertroue, het met onweerstaanbare krag versprei. GS 195.2
Tevergeefs is beide kerklike en burgerlike owerhede opgeroep om die dwaalleer te vernietig. Tevergeefs het hulle van gevangenisstraf, marteling, vuur en swaard gebruik gemaak. Duisende gelowiges het hul geloof met hul bloed verseël en steeds het die werk voortgegaan. Vervolging het slegs gedien om die waarheid te versprei en die fanatisme wat Satan daarmee probeer vereenselwig het, het tot gevolg gehad dat die kontras tussen die werk van Satan en die werk van God duideliker onderskei is. GS 195.3