Die Groot Stryd (1911)

14/44

Hoofstuk 12—Die Franse Hervorming

Die Protes van Speyer en die Belydenis van Augsburg wat die oorwinning van die hervorming in Duitsland gekenmerk het, is deur jare van konflik en duisternis gevolg. Verswak deur verdeeldheid onder sy ondersteuners en aangeval deur magtige vyande, het dit gelyk asof Protestantisme heeltemal vernietig sou word. Duisende het hulle belydenis met hulle bloed verseël. Burgeroorlog het uitgebreek; die Protestantse saak is deur een van die voorste aanhangers daarvan verraai; die edelste van die gereformeerde prinse, het as gevangenes in die hande van die keiser geval en hulle is van stad tot stad gesleep. Maar op die oomblik van sy oënskynlike oorwinning is die keiser met ‘n nederlaag geslaan. Hy het gesien hoe sy slagoffers uit sy hande geruk word en eindelik is hy gedwing om verdraagsaamheid teenoor die leerstellings wat hy so graag wou vernietig te betoon. Hy het sy koninkryk, sy skatte en die lewe self in die skaal gewerp om die kettery uit te roei. Nou het hy gesien hoedat sy leërs in gevegte vernietig word, sy skatkamers leegloop en sy veelvuldige koninkryke met opstand bedreig word, terwyl die geloof wat hy tevergeefs probeer onderdruk het, oral uitgebrei het. Karel V was besig om teen die Almagtige te veg. God het gesê: “Laat daar lig wees...” maar die keiser het gepoog om die duisternis ononderbroke te hou. Hy het nie in sy doelwit geslaag nie; en op voortydige ouderdom, uitgeput as gevolg van die lang stryd, het hy afstand van die troon gedoen en homself in ‘n klooster begrawe. GS 212.1

In Switserland, soos in Duitsland, het daar donker dae vir die hervorming aangebreek. Terwyl baie van die distrikte die hervormde geloof aangeneem het, het ander blindelings aan die geloofsbelydenis van Rome vasgehou. Hulle vervolging van diegene wat die waarheid voorgestaan het, het eindelik tot burgeroorlog aanleiding gegee. Zwingli en baie wat met hom in die hervorming verenig het, het op die bloedige slagveld van Kappel geval. Oecolampadius, oorweldig deur die verskriklike rampe, is kort daarna oorlede. Rome was triomfantlik en op baie plekke het dit gelyk asof sy alles wat sy verloor het sou herwin. Maar Hy, wie se raadsbesluite ewig is, het nie Sy saak of Sy volk verlaat nie. Sy hand sou vir hulle bevryding bring. Hy het in ander lande werkers opgerig om die hervorming voort te sit. In Frankryk het die dag reeds begin breek, nog voor die naam van Luther as hervormer gehoor is. Een van die eerstes wat die lig gesien het, was die bejaarde Lefevre, ‘n geleerde, ‘n professor aan die Universiteit van Parys en ‘n opregte en ywerige Katoliek. In sy navorsing oor antieke literatuur, is sy aandag op die Bybel gevestig en hy het die studie daarvan aan sy studente bekendgestel. GS 212.2

Lefevre was ‘n geesdriftige aanbidder van die heiliges en hy het onderneem om die geskiedenis van die heiliges en die martelare, soos in die legendes van die kerk uiteengesit, op te stel. Dit was ‘n veeleisende taak; hy het reeds aansienlike vordering daarmee gemaak, toe hy gedink het dat hy nuttige inligting uit die Bybel sou bekom en met hierdie doel voor oë, het hy begin om ‘n studie daarvan te maak. Hier het hy inderwaarheid heiliges aangetref, maar nie soos dié wat in die Roomse kalender voorgekom het nie. ‘n Vloed van Goddelike lig het sy verstand verlig en het hom van sy selfopgelegde taak laat wegdraai om hom aan die Woord van God te wy. Die kosbare waarhede wat hy daarin ontdek het, het hy spoedig begin verkondig. GS 213.1

In 1512, nog voordat Luther of Zwingli met die werk van die hervorming begin het, het Lefevre geskryf: “Dit is God wat aan ons, deur geloof, die geregtigheid gee wat deur genade alleen die ewige lewe regverdig.” — Wylie, vol 13, hfst 1. Terwyl hy die verborgenhede van die verlossing oorpeins het, het hy uitgeroep: “O, die onuitspreeklike grootheid van daardie verwisseling — die sondelose Een is veroordeel en hy wat skuldig is, gaan vry; die Geseënde dra die vloek en die vervloekte ontvang die seën; die Lewe sterf en die dooies lewe; die Heerlikheid word met duisternis omhul en diegene wat niks behalwe verwarring geken het nie, word met heerlikheid beklee.” — D'Aubigne vol 12, hfst 2, Londense uitgawe. GS 213.2

En terwyl hy geleer het dat die heerlikheid van die saligheid aan God alleen behoort, het hy ook verklaar dat die plig van gehoorsaamheid by die mens berus. “As jy ‘n lid van die kerk van Christus is...” het hy gesê, “...is jy ‘n lid van Sy liggaam; as jy ‘n lid van Sy liggaam is, dan is jy vol van die Goddelike natuur... O, as mense maar net die volle begrip van hierdie voorreg kon begryp, hoe rein, kuis en heilig sou hulle nie lewe nie en hoe veragtelik, in vergelyking met die heerlikheid binne hulle - daardie heerlikheid wat die vleeslike oog nie kan sien nie - sou hulle die heerlikheid van hierdie wêreld nie beskou nie.” — Id vol 12, hfst 2. GS 214.1

Daar was sommige onder Lefevre se studente, wat gretig na sy woorde geluister het en wat lank ná die leraar se stem stil was, sou voortgaan om die waarheid te verkondig. Een van hulle was William Farel. Die seun van vroom ouers en wat geleer is om die leerstellings van die kerk met implisiete geloof te aanvaar, kon hy, saam met die apostel Paulus, oor homself verklaar het dat ek: “...volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het.” (Hand 26:5). Hy was ‘n toegewyde Katoliek het met ywer gebrand om almal wat dit sou waag om die kerk te opponeer te vernietig. “Ek het my tande soos ‘n woedende wolf gekners...” het hy later met verwysing na hierdie tydperk van sy lewe gesê, “...as ek enigeen teen die pous hoor praat het.” — Wylie, vol 13, hfst 2. Hy was onvermoeid in sy aanbidding van die heiliges en het saam met Lefevre ‘n rondte by al die kerke van Parys gedoen, voor hulle altare aanbid en die beelde van die heiliges met geskenke versier. Maar hierdie gebruike kon nie vir hom sielerus bring nie. ‘n Oortuiging van sonde het van hom besit geneem wat al sy boetedoening nie in staat was om te verdryf nie. Soos na ‘n stem uit die hemel, het hy na die hervormer se woorde geluister: “Die saligheid is uit genade ... Die Onskuldige is veroordeel en die misdadiger vrygespreek ... Dit is die kruis van Christus alleen wat die poorte van die hemel oopmaak en die poorte van die hel sluit.” — Wylie, vol 13, hfst 2. GS 214.2

Farel het die waarheid met blydskap aanvaar. Deur ‘n bekering soos dié van Paulus, is hy uit die slawerny van tradisie tot die vryheid van die seuns van God verlos. “In stede van die moordlustige hart van ‘n verskeurende wolf, het hy teruggekom...” het hy gesê, “...stil, soos ‘n sagmoedige en skadelose lam, met ‘n hart heeltemal van die pous afgewend en aan Jesus Christus oorgegee.” — D'Aubigne, vol 12, hfst 3. GS 215.1

Terwyl Lefevre voortgegaan het om die waarheid onder sy studente te versprei, het Farel, nou net so ywerig vir die saak van Christus as wat hy vir dié van die pous was, voortgegaan om die waarheid in die openbaar te verkondig. ‘n Hoogwaardigheidsbekleër van die kerk, die biskop van Meaux, het kort daarna by hulle aangesluit. Ander leraars wat hoog aangeskrewe vir hulle bekwaamheid en geleerdheid was, het ook die evangelie begin verkondig en daar is aanhangers vanuit alle geledere, uit die huise van ambagsmanne en arbeiders en selfs die paleis van die koning, gewerf. Die suster van Francis I, die heersende vors, het die hervormde geloof aangeneem. Die koning self en die koningin-moeder het die geloof vir ‘n tyd gunstig bejeën en met groot hoop het die hervormers uitgesien na die tyd wanneer Frankryk vir die evangelie gewen sou word. GS 215.2

Maar hulle hoop sou nie verwesenlik word nie. Beproewing en vervolging het op die dissipels van Christus gewag. Dit was egter genadiglik vir hulle oë verberg. ‘n Tyd van vrede het intussen aangebreek sodat hulle kragte versterk kon word om die storm te trotseer en die hervorming het vinnig vooruitgang gemaak. Die biskop van Meaux het ywerig in sy eie bisdom gearbei om geestelikes sowel as leke te onderrig. Onkundige en onsedelike priesters is verwyder en, sovêr moontlik, met mense van geleerdheid en vroomheid vervang. Die biskop was baie begerig dat sy mense vir hulleself toegang tot die Woord van God moes hê en dit is spoedig volbring. Lefevre het onderneem om die Nuwe Testament te vertaal; en op dieselfde tydstip toe Luther se Duitse Bybel deur die pers in Wittenberg uitgegee is, is die Franse Nuwe Testament in Meaux uitgegee. Die biskop het geen arbeid of onkoste ontsien om die Bybel in sy gemeentes te versprei nie en die kleinboere van Meaux was weldra in besit van die Heilige Skrifte. GS 215.3

Soos reisigers, wat besig was om te vergaan van die dors, ‘n lewende fontein van water met vreugde verwelkom, so het hierdie siele die hemelse boodskap ontvang. Die arbeiders op die lande en die ambagsmanne in die werkswinkels, het hulle daaglikse arbeid met vreugde verlig deur oor die heerlike waarhede van die Bybel te praat. Saans, in plaas van na die kroeë te gaan, het hulle in mekaar se huise vergader om die Woord van God te lees en in gebed en lofsange te verenig. ‘n Groot verandering het spoedig in hierdie gemeenskappe gemanifesteer. Hoewel hulle aan die nederigste klas behoort het, ‘n ongeletterde maar hardwerkende boerestand, is die hervormende, opheffende krag van Goddelike genade in hulle lewens te sien. Nederig, liefdevol en heilig het hulle as getuies van wat die evangelie kan vermag vir diegene wat dit in opregtheid aanneem, gestaan. GS 216.1

Die lig wat in Meaux aangesteek is, het sy strale ver uitgeskiet. Die getal bekeerlinge het daagliks toegeneem. Die woede van die hiërargie is vir ‘n tyd in bedwang gehou deur die koning, wat die enge dwepery van die monnike verag het, maar die pouslike leiers het uiteindelik die oorhand verkry. Die brandstapel is opgerig. Die biskop van Meaux, gedwing om tussen die brandstapel en herroeping te kies, het die makliker uitweg gekies; maar ten spyte van die val van hul leier, het sy volgelinge onwrikbaar gestaan. Baie het vir die waarheid in die vlamme getuig. Deur hulle moed en getrouheid op die brandstapel, het hierdie nederige Christene tot duisende, wat in die dae van vrede nooit hulle getuienis gehoor het nie, gespreek. GS 216.2

Dit was nie alleen die nederiges en armes wat te midde van lyding en veragting vir Christus getuig het nie. In die pragtige sale van die kasteel en die paleis was daar koninklike siele wat die waarheid bo rykdom, stand of selfs die lewe gekoester het. Koninklike wapenrusting het ‘n edeler en getrouer gees bedek as die biskop se kleed en mus. Lodewyk de Berquin was van adellike afkoms. ‘n Dapper en hoflike ridder, was hy toegewy aan studie, beskaafd en van onbesproke sedes. “Hy was...” het ‘n outeur gesê, “...'n ywerige volgeling van die pouslike instellings en ‘n getroue bywoner van die mis en die preke; ... en hy het al sy ander deugde bekroon deur ‘n besondere afsku vir Lutheranisme.” Maar soos soveel ander wat deur die Voorsienigheid na die Bybel gelei is, was hy verbaas om daar te vind “...nie die leerstellings van Rome nie, maar die leerstellings van Luther.” — Wylie, vol 13, hfst 9. Voortaan het hy homself volkome aan die saak van die evangelie toegewy. GS 217.1

“As een van die geleerdste adellikes van Frankryk...” het sy genialiteit, welsprekendheid, onwrikbare moed, heroïese ywer en sy invloed aan die koninklike hof — want hy was ‘n gunsteling van die koning — veroorsaak dat hy deur baie as een wat bestem was om die hervormer van sy land te wees, beskou. GS 217.2

Van hom het Beza gesê: “Berquin sou ‘n tweede Luther gewees het as hy in Francis I ‘n tweede keurvors gevind het ... Hy is erger as Luther...” het die Roomsgesindes uitgeroep. — Id vol 13, hfst 9. Hy is inderdaad meer deur die Roomsgesindes van Frankryk gevrees. Hulle het hom as ‘n ketter in die gevangenis gewerp, maar hy is deur die koning vrygelaat. Vir jare het die stryd voortgeduur. Francis, wat tussen Rome en die hervorming gewankel het, het alternatiewelik die vurige ywer van die monnike geduld en teruggehou. Berquin is drie keer deur die pouslike owerhede in die gevangenis gewerp om net weer deur die koning vrygelaat te word, wat sy genialiteit en edel karakter bewonder het en geweier het om hom aan die kwaadwilligheid van die hiërargie oor te lewer. GS 217.3

Berquin is herhaaldelik teen die gevaar wat hom in Frankryk bedreig het gewaarsku en daar is by hom aangedring om diegene wat veiligheid in vrywillige ballingskap verkry het, te volg. Die skugter en besluitelose Erasmus wat met al die luister van sy geleerdheid tekort geskiet het aan daardie morele grootsheid wat lewe en eer ondergeskik aan waarheid hou, het aan Berquin geskryf: “Vra om as ambassadeur na ‘n vreemde land gestuur te word; gaan reis in Duitsland. Jy ken vir Beda en ander soos hy — hy is ‘n duisend-koppige monster wat gif in alle rigtings uitskiet. Jou vyande is legio. Al was jou saak beter as die van Jesus Christus, sal hulle jou nie laat gaan totdat hulle jou ellendiglik vernietig het nie. Moenie te veel op die beskerming van die koning vertrou nie. In alle geval, moet my nie by die fakulteit van teologie in gevaar bring nie” — Wylie, vol 13, hfst 9. GS 218.1

Maar namate die gevare toegeneem het, het Berquin se ywer net sterker geword. Inteendeel, ver van die politiese en selfsugtige raad van Erasmus aan te neem, het hy op nog meer blatante maatreëls besluit. Nie alleen sou hy die waarheid verdedig nie, maar hy sou dwaalleer aanval. Die beskuldiging van kettery wat die Roomsgesindes gepoog het om teen hom te bring, sou hy op hulle vaspen. Sy mees bedrywige en bitterste opponente, was die geleerde doktore en monnike van die teologiese afdeling aan die Universiteit van Parys, een van die gesaghebbendste kerklike beheerliggame, beide in die stad en die volk. Uit die geskrifte van hierdie doktore het Berquin twaalf stellings gehaal wat hy in die openbaar verklaar het as “...teenstrydig met die Bybel en ketters...” en hy het ‘n beroep op die koning gedoen om in hierdie teenstrydige saak as regter op te tree. GS 218.2

Die koning wat nie ongeneë was om die krag en skranderheid van die strydende partye teenoor mekaar te stel nie en ook bly was vir die geleentheid om die trots en hoogmoed van die monnike te verneder, het die Roomsgesindes beveel om hulle saak met die Bybel te verdedig. Hulle het goed geweet dat hierdie wapen hulle weinig sou baat; gevangenisstraf, marteling en die brandstapel was wapens wat hulle baie beter verstaan het om te hanteer. Nou was die skoen aan die ander voet en hulle het hulself gesien val in die put waarin hulle gehoop het om Berquin te gooi. Met ontsteltenis het hulle na ‘n uitweg gesoek. GS 218.3

“Juis in daardie tyd is ‘n beeld van die Maagd op een van die straathoeke beskadig.” Daar was groot opgewondenheid in die stad. Menigtes het na die plek gestroom met uitinge van roubetoon en verontwaardiging. Die koning was ook diep geroer. Hier was ‘n voordeel wat die monnike tot goeie voordeel kon aanwend en hulle was vinnig om dit te benut. “Dit is die vrugte van die leerstellings van Berquin...” het hulle uitgeroep. “Alles is besig om omver gewerp te word - godsdiens, die wette, selfs die troon - deur hierdie Lutheraanse sameswering.” — Wylie, vol 13, hfst 9. GS 219.1

Weereens is Berquin aangekeer. Die koning het Parys verlaat en die monnike was sodoende toegelaat om hul eie wil te volg. Die hervormer is verhoor en tot die dood veroordeel; en om te verhoed dat Francis weer tussenbeide tree om hom te red, is die vonnis op dieselfde dag wat dit uitgespreek is voltrek. Op die middaguur is Berquin na die plek van veroordeling gelei. ‘n Geweldige skare het vergader om die toneel te aanskou en daar was baie wat met verbystering en wantroue gesien het dat die slagoffer uit een van die beste en dapperste adellike families van Frankryk geneem is. Verbasing, verontwaardiging, minagting en bittere haat het die harte van daardie saamgedromde menigte gevul; maar daar was een gesig waarop geen skaduwee gerus het nie. Die martelaar se gedagtes was ver van hierdie oproerige toneel verwyderd; hy was alleenlik bewus van die teenwoordigheid van sy Here. GS 219.2

Die lamlendige kar waarop hy gery het, die fronsende gesigte van sy vervolgers, die verskriklike dood wat hy tegemoetgegaan het — hierop het hy geen ag geslaan nie; Hy wat dood was en lewe, wat tot in alle ewigheid sal lewe en wat die sleutels van die dood en die hel het, was aan sy sy. Berquin se gelaat het gestraal van die lig en vrede van die hemel. Hy het homself goed geklee, met “...'n mantel van fluweel, ‘n onderbaadjie van satyn en damas en met goudgeel kouse.” — D'Aubigne, History of the Reformation in the Time of Calvin, vol 2, hfst 16. Hy sou voor die Koning van die konings en die getuigende heelal vir sy geloof getuig en geen teken van rou sou sy vreugde weerspreek nie. GS 220.1

Terwyl die stoet stadig deur die besige strate beweeg het, het die mense met verwondering die rustige vrede en vreugdevolle triomf van sy uitdrukking en houding opgemerk. “Hy is...” het hulle gesê, “...soos een wat in ‘n tempel sit en oor heilige dinge peins.” — Wylie, vol 13, hfst 9. GS 220.2

Op die brandstapel het Berquin probeer om die mense met ‘n paar woorde toe te spreek; maar die monnike, bevrees vir die gevolge, het begin skreeu en die soldate het hulle wapens laat kletter en hulle lawaai het die martelaar se stem uitgedoof. So het in 1529, die hoogste letterkundige en geestelike gesag van beskaafde Parys, “...aan die volk van 1793 die lae voorbeeld om op die skavot die heilige woorde van sterwendes stil te maak, gestel.” — Wylie, vol 13, hfst 9. GS 220.3

Berquin is verwurg en sy liggaam is deur die vlamme verteer. Die tyding van sy dood het deur die hele Frankryk groot verdriet onder die vriende van die hervorming veroorsaak. Maar sy voorbeeld was nie tevergeefs nie. “Ons is ook gereed...” het die getuies van die waarheid gesê, “...om die dood met blymoedigheid tegemoet te gaan, met ons oë op die hiernamaals gevestig.” — D'Aubigne, History of the Reformation in the Time of Calvin, vol 2, hfst 16. GS 220.4

Tydens die vervolging in Meaux, is die leraars van die hervormde geloof van hulle lisensie om te preek ontneem en hulle het na ander arbeidsvelde vertrek. Lefevre het na ‘n tyd na Duitsland gegaan, Farel het na sy geboortedorp in OosFrankryk teruggekeer om die lig van die waarheid in die plek van sy kinderdae te versprei. Tyding van wat in Meaux gebeur het is reeds daar ontvang en die waarheid wat hy met vreeslose ywer geleer het, het luisteraars bygekry. Die owerheid is spoedig opgewek om hom stil te maak en hy is uit die stad verban. Hoewel hy nie langer in die openbaar kon arbei nie, het hy die vlaktes en dorpe deurkruis, onderrig in privaat wonings gegee en skuiling in die woude en tussen die rotsagtige grotte wat hy in sy kinderjare opgesoek het, gevind. God was besig om hom op groter beproewings voor te berei. “Die kruise, vervolgings en bedrog van Satan waarteen ek gewaarsku is, het nie uitgebly nie...” het hy gesê; “...hulle is selfs erger as wat ek uit my eie sou kon verduur; maar God is my Vader; Hy het voorsien en sal my altyd van die krag wat ek nodig het voorsien.” — D'Aubigne, vol 12, hfst 9. GS 221.1

Net soos in die dae van die apostels, het vervolging “...eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop.” (Fil 1:12). Verdryf uit Parys en Meaux, het “...die wat verstrooi was, die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” (Han 8:4). Sodoende het die lig tot in baie van die afgeleë provinsies van Frankryk deurgedring. GS 221.2

God was steeds besig om arbeiders voor te berei om Sy saak uit te brei. In een van die skole van Parys was daar ‘n bedagsame, stil jeugdige, wat reeds blyke van ‘n kragtige en ondersoekende gees getuig het en nie minder vir die onbesprokenheid van sy lewe as vir sy intellektuele ywer en godsdienstige toewyding gekenmerk is nie. Sy genialiteit en toepassing het hom spoedig die trots van die skool gemaak en met vertroue is daar verwag dat Johannes Calvyn een van die bekwaamste en mees geërde verdedigers van die kerk sou word. Maar ‘n straal van Goddelike hoop het selfs deur die mure van die skolastiek en bygeloof wat Calvyn omsluit het, gedring. Met ‘n siddering het hy van die nuwe leerstellings gehoor en nie daaraan getwyfel dat die ketters die vuur waarvan hulle die slagoffers geword het verdien het nie. Maar, onwetend is hy van aangesig tot aangesig met kettery gebring en gedwing om die mag van die Roomse teologie, om die Protestantse lering te bestry, te toets. GS 221.3

'n Neef van Calvyn wat by die hervormers aangesluit het, was in Parys. Hierdie twee bloedverwante het mekaar dikwels ontmoet en die dinge wat die Christelike geloof in beroering gebring het, bespreek. “Daar is slegs twee godsdienste in die wêreld...” het Olivétan, die Protestant, gesê: “...die een is die godsdiens wat deur mense uitgedink is, waardeur die mens homself red deur seremonies en goeie werke; die ander is die godsdiens wat in die Bybel geopenbaar is en wat die mens leer om alleenlik in die vrye genade van God na redding te soek.” GS 222.1

“Ek wil niks van jou nuwe leerstellings weet nie...” het Calvyn uitgeroep; “...dink jy dat ek al my dae in dwaling deurgebring het?” — Wylie, vol 13, hfst 7. GS 222.2

Maar gedagtes is in hom ontketen wat hy nie so maklik kon afskud nie. Alleen in sy kamer, het hy oor sy neef se woorde gepeins. Hy was oortuig van sonde; hy het homself gesien, sonder ‘n bemiddelaar, voor die heilige en regverdige Regter. Die bemiddeling van heiliges, goeie werke, die seremonies van die kerk, al hierdie dinge was magteloos om versoening vir sonde te doen. Voor hom kon hy niks anders as net die duisternis van ewige wanhoop sien nie. Tevergeefs het die doktore van die kerk probeer om sy wee te verlig. Vergeefs het hy hom tot belydenis en boetedoening gewend; dit kan nie die siel met God versoen nie. GS 222.3

Terwyl hy nog in hierdie vrugtelose stryd gewikkel was, het Calvyn, wat op ‘n dag besluit het om een van die openbare pleine te besoek, gesien het hoedat ‘n ketter verbrand word. Hy was met verwondering vervul oor die uitdrukking van vrede wat op die martelaar se aangesig gerus het. Te midde van die foltering van daardie skrikwekkende dood en onder die meer skrikwekkende veroordeling van die kerk, het hy ‘n geloof en heldhaftigheid gemanifesteer wat die jong student pynlik met die smart van sy eie wanhoop en duisternis, terwyl hy in die strengste gehoorsaamheid aan die kerk geleef het, vergelyk het. Hy het geweet dat die ketters hulle geloof op die Bybel gegrond het. Hy het besluit om dit te bestudeer en indien moontlik, die geheim van hul vreugde te ontdek. GS 222.4

In die Bybel het hy Christus gevind. “O Vader...” het hy uitgeroep, “...Sy offer het U toorn bevredig; Sy bloed het my onreinheid afgewas; Sy kruis het my vloek gedra; Sy dood het vir my versoening gedoen. Ons het vir onsself baie nuttelose dwaashede uitgedink, maar U het U Woord soos ‘n fakkel voor my geplaas en U het my hart aangeraak, sodat ek alle verdienstes, behalwe die van Jesus, verafsku.” — Martyn, vol 3, hfst 13. GS 223.1

Calvyn is as priester opgelei. Toe hy slegs twaalf jaar oud was, het hy die kapelaan van ‘n klein kerkie geword en sy hoof is deur die biskop, ooreenkomstig die wet van die kerk, kaal geskeer. Hy is nie georden nie en het ook nie die pligte van ‘n priester vervul nie, maar hy het ‘n lid van die geestelikes geword, die titel van sy amp gedra en ‘n toelaag uit hoofde daarvan, ontvang. GS 223.2

Aangesien hy nou gevoel het dat hy nooit ‘n priester kan word nie, het hy in die regte begin studeer; maar uiteindelik het hy hierdie doel laat vaar en besluit om sy lewe aan die evangelie te wy. Maar hy het gehuiwer om ‘n openbare leraar te word. Hy was van nature skugter en belas met ‘n sin vir die gewigtige verantwoordelikheid van die posisie en besluit om homself steeds aan sy studies te wy. Op ernstige aandrang van sy vriende het hy egter toegegee. “Dit is wonderlik...” het hy gesê, “...dat iemand van so ‘n nederige afkoms tot sulke groot waardigheid verhef kan word.” — Wylie, vol 13, hfst 9. GS 223.3

Stil het Calvyn sy werk aanvaar en sy woorde was soos vars doudruppels wat die aarde verfris. Hy het Parys verlaat en was in een van die provinsiale dorpe onder beskerming van Prinses Margaretha wat, omdat sy die evangelie liefgehad het, die dissipels daarvan beskerm het. Calvyn was nog ‘n jeugdige met ‘n sagmoedige, onpretensieuse voorkoms. Sy werk het met die mense by hulle huise begin. Omring deur die lede van die huisgesin, het hy die Bybel gelees en die waarhede van die saligheid verduidelik. Diegene wat die boodskap gehoor het, het die goeie tyding aan ander gebring en eerlank het die leraar buite die stad na afgeleë en klein dorpies gegaan. Hy het toegang tot beide die kasteel en die hut ontvang en het voortgegaan en die fondasie van kerke gelê wat vreeslose getuies vir die waarheid sou voortbring. GS 224.1

Na slegs ‘n paar maande later, was hy weer terug in Parys. Daar was ‘n ongewone oproer onder die geleerdes. Die studie van antieke tale het mense na die Bybel gelei en baie wie se harte onaangeraak deur die waarhede daarvan was, het dit gretig bespreek en selfs ‘n stryd met die kampvegters van die Roomse geloof gevoer. Hoewel Calvyn ‘n bekwame vegter in teologiese geskille was, het hy ‘n hoër roeping gehad om te vervul as dié van die luidrugtige geleerdes. Die denke van die mense is aangewakker en dit was nou die tyd om die waarheid vir hulle oop te stel. Terwyl die sale van die universiteite met die geraas van teologiese dispute weerklink het, het Calvyn van huis tot huis gegaan, die Bybel vir die mense oopgestel en met hulle oor Christus en Hy gekruisig, gepraat. GS 224.2

In die voorsienigheid van God, sou Parys weer ‘n uitnodiging ontvang om die evangelie aan te neem. Die oproep van Lefevre en Farel is verwerp, maar weer sou die boodskap deur alle klasse in daardie hoofstad gehoor word. Die koning, deur politiese oorwegings beïnvloed, het nog nie homself volkome aan die kant van Rome teen die hervorming geskaar nie. Margaretha het steeds aan die hoop bly vaskleef dat Protestantisme in Frankryk sou seëvier. Sy het haar voorgeneem dat die hervormde geloof in Parys gepreek moes word. In die afwesigheid van die koning, het sy ‘n Protestantse predikant beveel om in die kerke van die stad te preek. Maar aangesien dit deur die pouslike hoogwaardigheidsbekleërs verbied is, het die prinses die paleisdeure oopgegooi en daar is aangekondig dat daar elke dag op ‘n spesifieke uur, ‘n preek gepreek sal word en dat mense van alle range en geledere genooi is om dit by te woon. Skares het die dienste bygewoon. Nie slegs die kapel nie, maar ook die sykamers en sale is toegestroom. Elke dag het duisende byeengekom — adellikes, staatsmanne, wetgeleerdes, handelaars en ambagsmanne. Die koning, in plaas van die byeenkomste te verbied, het beveel dat twee van die kerke in Parys geopen moes word. Nooit voorheen was die stad so deur die Woord van God aangeroer nie. Dit het geblyk asof die Gees van die lewe uit die hemel op die mense neergedaal het. Matigheid, reinheid, ordelikheid en arbeid het die plek van dronkenskap, ontug, oproer en ledigheid ingeneem. GS 224.3

Maar die hiërargie het nie stilgesit nie. Die koning het steeds geweier om in te meng om die prediking te verbied en hulle het hulle na die volk gewend. Geen moeite is ontsien om die vrees, vooroordele en fanatisme van die onkundiges en bygelowiges op te wek nie. Deur ‘n blindelingse oorgawe aan valse leraars het Parys, net soos Jerusalem van ouds, nie die tyd van hul besoeking of die dinge wat tot hul vrede gedien het, herken nie. Vir twee jaar is die Woord van God in die hoofstad verkondig; maar terwyl daar baie was wat die evangelie aangeneem het, het die meerderheid van die volk dit verwerp. Francis het ‘n vertoon van verdraagsaamheid gelewer, slegs om sy eie belange te bevorder en die Roomsgesindes het daarin geslaag om die opkoms te herwin. Weer is die kerke gesluit en brandstapels opgerig. GS 225.1

Calvyn was nog steeds in Parys, besig om homself deur studie, oorpeinsing en gebed vir sy toekomstige lewenstaak voor te berei en hy het steeds die lig versprei. Uiteindelik het hy egter onder verdenking gekom. Die owerhede het besluit om hom aan die vlamme oor te gee. Omdat hy homself veilig in sy afsondering beskou het, het hy geen besef van gevaar gehad totdat vriende na sy kamer gehaas het met die berig dat geregsdienaars op pad was om hom te arresteer nie. Op daardie selfde oomblik is daar ‘n harde geklop by die buitenste ingang gehoor. Daar was nie ‘n oomblik om te verkwis nie. Sommige van sy vriende het die dienaars by die deur besig gehou, terwyl ander die hervormer gehelp het om deur ‘n venster af te sak en hy het na die buitewyke van die stad gehaas. Hy het skuiling in die woning van ‘n arbeider wat die hervorming goedgesind was gevind, die klere van sy gasheer aangetrek en met ‘n skoffel op sy skouer sy reis voortgesit. Hy het suidwaarts gereis en in die gebied van Margaretha skuiling gevind. (Sien D'Aubigne se History of the Reformation in the Time of Calvin, vol 2, hfst 30). GS 225.2

Hier het hy vir ‘n paar maande onder beskerming van invloedryke vriende gebly waar hy sy vorige studies voortgesit het. Maar sy hart was ingestel op die evangelisasie van Frankryk en hy kon nie lank onaktief bly nie. Nadat die storm effens bedaar het, het hy ‘n nuwe arbeidsveld in Poitiers gesoek, waar daar ‘n universiteit was en waar die nuwe leer reeds met guns bejeën is. Persone van alle stande het blymoedig na die evangelie geluister. Daar was geen openbare dienste gehou nie, maar in die huis van die hoof landdros, in sy eie herberg en soms in ‘n openbare tuin, het Calvyn die woorde van die ewige lewe aan diegene wat dit graag wou hoor, verkondig. Na ‘n tyd het die getal hoorders toegeneem en hulle het dit veiliger geag om buite die stad bymekaar te kom. In ‘n spelonk aan die kant van ‘n diep en nou kloof, waar bome en oorhangende rotse dit nog meer afgesonder het, is byeenkomste gehou. Klein groepies wat die stad met verskillende paaie verlaat het, het hulle weg soontoe gevind. In hierdie afgeleë plek is die Bybel hardop gelees en verduidelik. Hier is die Here se Avondmaal vir die eerste keer deur die Protestante van Frankryk gevier. Van hierdie klein kerkie is verskeie getroue evangeliste uitgestuur. GS 226.1

Weereens het Calvyn na Parys teruggekeer. Selfs toe kon hy nie die hoop laat vaar dat Frankryk, as ‘n nasie, die hervorming sou aanvaar nie. Maar hy het byna elke deur teen hom gesluit gevind. Om die evangelie te verkondig, was om die direkte roete na die brandstapel te volg en uiteindelik het hy besluit om na Duitsland te vertrek. Hy het Frankryk skaars agtergelaat toe ‘n storm oor die Protestante losgebars het wat, indien hy daar gebly het, gewis sy ondergang saam met die res sou beteken het. GS 227.1

Die Franse hervormers, gretig om te sien dat hulle land tred met Duitsland en Switserland hou, het besluit om die bygeloof van Rome ‘n blatante slag toe te dien wat die hele volk sou wakker skud. Gevolglik is daar een nag oor die hele Frankryk plakkate aangebring waarin die mis aangeval is. In plaas daarvan dat dit die hervorming aangehelp het, het hierdie ywerige, maar onverstandige daad, die ondergang van nie alleen die leiers nie, maar ook van al die vriende van die hervormde geloof in Frankryk beteken. Dit het aan die Roomsgesindes die kans gegee waarop hulle lank reeds gewag het — ‘n voorwendsel om die totale uitroeiing van alle ketters as oproermakers te eis wat gevaarlik vir die bestendigheid van die troon en die vrede van die land was. GS 227.2

Deur ‘n onbekende hand — of dit dié van ‘n listige vyand of ‘n onverstandige vriend was, is nooit vasgestel nie — is een van die plakkate aan die deur van die koning se private kamer geplak. Die koning was met afsku vervul. In hierdie dokument is bygelowe wat vir eeue lank vereer is, ongenadiglik aangeval. En die ongeëwenaarde blatantheid om hierdie duidelike en ontsettende uitinge aan die aandag van die koning op te dring, het sy toorn opgewek. In sy verbasing het hy vir ‘n kort tyd bewend en sprakeloos gestaan. Toe het sy woede uiting in die volgende verskriklike woorde gevind: “Laat almal wat van Luther se kettery verdink word, sonder onderskeid, in hegtenis geneem word. Ek sal hulle almal verdelg.” — D'Aubigne, History of the Reformation in the Time of Calvin, vol 4, hfst 10. Hulle lot was verseël. Die koning het besluit om homself geheel en al aan die kant van Rome te skaar. GS 227.3

Stappe is onmiddellik geneem om alle Lutherane in Parys te arresteer. ‘n Arm ambagsman, ‘n aanhanger van die hervormde geloof, wat gewoond daaraan was om die gelowiges na hul geheime byeenkomste te ontbied, is aangekeer en met ‘n dreigement van dood op die brandstapel, is hy beveel om elke pouslike gesant na die huis van elke Protestant in die stad te begelei. Hy het met afsku van hierdie lae opdrag teruggedeins, maar uiteindelik het die vrees vir die vlamme die deurslag gegee en hy het ingestem om die verraaier van sy broeders te word. Voorafgegaan deur die hostie en omring deur ‘n stoet van priesters, wierookdraers, monnike en soldate, het Morin, die koninklike speurder, saam met die verraaier langsaam en swygend deur die strate van die stad gestap. Die demonstrasie was oënskynlik ter ere van die “heilige sakrament,” en ‘n versoening vir die belediging wat deur die plakkate aan die mis gedoen is. Maar agter die prag en praal van hierdie optog was daar ‘n dodelike doel verberg. Toe hulle voor die huis van ‘n Lutheraan gekom het, het die verraaier ‘n teken gegee sonder om ‘n woord te uiter. Die optog het tot stilstand gekom, die huis binnegegaan, die gesin uitgesleep en geketting en daarna het die vreesaanjaende optog voortgegaan op soek na verdere slagoffers. “Geen huis, groot of klein, selfs nie die kolleges van die Universiteit van Parys is oorgeslaan nie... Morin het die stad laat sidder... Dit was inderdaad ‘n skrikbewind.” — Id, vol 4, hfst 10. GS 228.1

Die slagoffers is deur wrede marteling om die lewe gebring, omdat daar spesifiek beveel is dat die vuur stadiger moes brand om hulle foltering uit te rek. Maar hulle het soos oorwinnaars gesterf. Hulle getrouheid was onverskrokke, hulle vrede onbewolk. Hulle vervolgers was magteloos om hulle onbeweeglike standvastigheid te laat wankel en het hulself oorwonne gevoel. “Die skavotte is oor al die kwartiere van Parys versprei en die verbrandings, met die doel om die verskrikking van kettery deur die teregstellings te versprei het op elke opeenvolgende dag geskied. Die voordeel was egter op die ou einde aan die kant van die evangelie. Die hele Parys is in staat gestel om te sien watter tipe mense die nuwe geloof kon oplewer. Daar was geen preekstoel soos die martelaar se brandstapel nie. Die rustige vreugde wat die aangesigte van hierdie mense, op pad na die plek van teregstelling verlig het, hulle heldhaftigheid terwyl hulle te midde van die vlamme gestaan het, hulle sagmoedige vergifnis vir die leed wat hulle aangedoen is, het in baie gevalle die toorn in meegevoel en die haat in liefde verander en met onweerstaanbare welsprekendheid namens die evangelie gepleit.” — Wylie; vol 13, hfst 20. GS 228.2

Die priesters was daarop uit om die woede van die volk op ‘n hoogtepunt te hou en het die verskriklikste beskuldigings teen die Protestante gesirkuleer. Hulle is beskuldig van sameswering om die Katolieke in ‘n bloedbad te verdelg, die regering omver te werp en om die koning te vermoor. Nie die geringste bewys kon aangevoer word om hierdie bewerings te staaf nie. Tog sou hierdie bose profesieë onder heelwat ander omstandighede en as gevolg van oorsake van ‘n heel ander aard, vervul word. Die wreedhede wat teenoor onskuldige Protestante deur die Katolieke gepleeg is, het in ‘n gewig van vergelding opgehoop en eeue daarna is dieselfde naderende ondergang van die koning, sy regering en sy onderdane wat deur hulle voorspel is, oor hulle gebring; maar dit was deur ongelowiges en deur die Roomsgesindes self bewerkstellig. Dit was nie die vestiging nie, maar die onderdrukking van Protestantisme wat driehonderd jaar later hierdie vreeslike rampe oor Frankryk sou bring. GS 229.1

Agterdog, wantroue en vrees het nou tot alle klasse deurgedring. Te midde van algemene onrus, kon die sterk houvas van die Lutherse leer op die gemoedere van mense wat bekend was vir hulle geleerdheid, invloed en voortreflike karakter, gesien word. Posisies van vertroue en eerbaarheid was skielik vakant. Ambagsmanne, drukkers, studente, professore aan universiteite, skrywers en selfs howelinge het verdwyn. Honderde het uit Parys gevlug; selfgemaakte bannelinge uit hulle geboorteland, in baie gevalle die eerste aanduiding dat hulle ten gunste van die hervormde geloof was. Die Roomsgesindes het om hulle gekyk en was verbaas oor die onverdagte ketters wat in hulle midde gedoog is. Hulle woede is op die menigte nederiger slagoffers wat binne hulle bereik was afgekoel. Die tronke was oorvol en dit het gelyk asof die lug deur die rook van die brandstapels, wat vir die belyers van die evangelie aangesteek is, verduister is. GS 229.2

Francis I het hom verlustig in die feit dat hy ‘n leier in die groot beweging vir die herlewing van geleerdheid was, wat die begin van die sestiende eeu gekenmerk het. Hy was verheug om manne van geletterdheid uit alle lande in sy hof te versamel. Sy verdraagsaamheid teenoor die hervorming, was ten minste gedeeltelik te danke aan sy liefde vir geleerdheid en sy minagting van die onkunde en bygeloof van die monnike. Maar, besiel met ‘n ywer om kettery uit te delg, het hierdie beskermer van geleerdheid, ‘n edik uitgereik wat die drukkuns oor die hele Frankryk afgeskaf het! Francis I bied een van die vele voorbeelde, wat toon dat intellektuele kultuur geen beskerming teen godsdienstige onverdraagsaamheid en vervolging is nie. GS 230.1

Frankryk sou, tydens ‘n plegtige en openbare seremonie haar ten volle verbind tot die vernietiging van Protestantisme. Die priesters het geëis dat die belediging wat aan die Hemel deur die veroordeling van die mis gebring is, deur bloed versoen moes word en dat die koning, namens sy volk, sy goedkeuring in die openbaar vir hierdie verskriklike daad moes gee. GS 230.2

21 Januarie 1535 is vasgestel vir hierdie gruwelike plegtigheid. Die bygelowige vrese en die dweepsieke haat van die hele nasie is opgewek. Parys was oorvol van die menigtes wat uit alle dele van die omliggende streke in haar strate saamgedrom het. Die verrigtinge van die dag sou met ‘n groot en imposante optog ‘n aanvang neem. “Die huise in die strate waarlangs die optog sou beweeg, is met rou-drapering behang en altare is met tussenposes opgerig.” Voor elke deur was ‘n brandende fakkel ter ere van die “heilige sakrament.” Die optog het voor dagbreek ‘n aanvang by die paleis van die koning geneem. “Eerste was die baniere en kruise van die verskillende bisdomme; daarna was die burgers, wat twee-twee met brandende fakkels geloop het. Die vier monnik-ordes het gevolg, elke orde in hul spesifieke drag. Daarna het ‘n groot versameling van beroemde relikwieë gevolg. Hierna het adellike geestelikes in hulle purper en skarlaken klere, versier met juwele, gevolg, ‘n aanskoulike en skitterende vertoning. GS 231.1

“Die hostie is deur die biskop van Parys onder ‘n sierlike gewelf gedra ... deur vier bloedverwante vorste ondersteun.... Agter die hostie het die koning geloop... Francis I het op daardie dag geen kroon of koninklike kleed gedra nie.” Met “...ontblote hoof, sy oë op die grond gerig en met ‘n brandende kers in sy hand...” het die koning van Frankryk “...in die hoedanigheid van ‘n boetvaardige...” verskyn. — Wylie, vol 13, hfst 21. By elke altaar het hy in verootmoediging neergebuig, nie vir die sondes wat sy siel verontreinig het nie, ook nie vir die onskuldige bloed wat sy hande bevlek het nie, maar vir die dodelike sonde van sy onderdane wat dit gewaag het om die mis te veroordeel. Na hom het die koningin en die hoogwaardigheidsbekleërs van die staat gevolg wat ook twee-twee geloop het, elk met ‘n brandende fakkel. GS 231.2

As deel van die verrigtinge van die dag, het die monarg self die hoë beamptes van die ryk in die groot saal van die biskop se paleis toegespreek. Met ‘n droewige gelaat, het hy voor hulle verskyn en in woorde van aangrypende welsprekendheid, het hy “...die misdaad, die godslastering en die dag van droefheid en skande...” wat oor die volk gekom het, betreur. En hy het ‘n beroep op elke getroue onderdaan gedoen om met die uitwissing van die verpestelike kettery wat Frankryk met ondergang bedreig het, te help. “Sowaar as wat ek julle koning is here...” het hy gesê, “...as ek weet dat een van my eie ledemate besmet of met hierdie verfoeilike verdorwenheid aangesteek is, sou ek dit aan julle gee om af te sny ... En verder, as ek sou opmerk dat een van my kinders daarmee besoedel is, sou ek hom nie spaar nie ... Ek sou hom self uitlewer en aan God offer.” Trane het hom in sy woorde laat stik en die hele vergadering het saam met hom geween en eendragtig uitgeroep: “Ons sal lewe en sterwe vir die Katolieke godsdiens.” — D'Aubigne, History of the Reformation in the Time of Calvin, vol 4, hfst 12. GS 231.3

Verskriklik was die duisternis van die nasie wat die lig van die waarheid verwerp het. Die genade wat redding bring het, het verskyn; maar Frankryk, nadat hy die krag en heiligheid daarvan aanskou het, nadat duisende deur die Goddelike skoonheid daarvan getrek is, nadat stede en dorpe deur die strale daarvan verlig is, het hom daarvan weggedraai en het die duisternis eerder as die lig verkies. Hulle het die hemelse gawe verwerp toe dit aan hulle gebied is. Hulle het kwaad goed en goed kwaad genoem, totdat hulle die slagoffers van hulle eie moedswillige selfbedrog geword het. En al sou hulle werklik geglo het dat hulle ‘n diens aan God bewys het deur Sy volk te vervolg, sou hulle opregtheid hulle nie verontskuldig het nie. Die lig wat hulle van die misleiding om hul siele met bloedskuld te bevlek sou red, het hulle opsetlik verwerp. GS 232.1

'n Plegtige eed om kettery uit te roei, is in die groot katedraal, waar die godin van rede byna drie eeue later deur ‘n volk wat die lewende God vergeet het bekroon sou word, afgelê. Weereens is die optog gevorm en die verteenwoordigers van Frankryk het begin met die werk wat hulle ‘n eed afgelê het om te verrig. “Op kort afstande is daar skavotte opgerig waarop sekere Protestantse Christene lewendig verbrand sou word en daar is gereël dat die brandstapels aan die brand gesteek sou word sodra die koning die plek genader het en dat die optog daar sou stilhou om die teregstelling te aanskou.” — Wylie, vol 13, hfst 21. Die besonderhede van die marteling wat hierdie getuies vir Christus verduur het, is te ontstellend om te beskryf; maar daar was geen wankeling aan die kant van die slagoffers nie. Iemand by wie daar aangedring is om te herroep, het geantwoord: “Ek glo slegs wat die profete en die apostels vroeër verkondig het en wat die hele gemeenskap van die heiliges geglo het. My geloof het ‘n vertroue in God wat al die magte van die hel sal weerstaan.” — D'Aubigne, History of the Reformation in the Time of Calvin, vol 4, hfst 12. GS 232.2

Telkens het die optog by die plekke van marteling tot stilstand gekom. Nadat hulle weer die beginpunt by die koninklike paleis bereik het, het die skare uiteengegaan en die koning en die prelate het hulle onttrek, baie tevrede met die dag se verrigtinge en hulself gelukgewens dat die werk wat nou begin is, tot met die algehele vernietiging van kettery sou voortgaan. GS 233.1

Die evangelie van vrede, wat Frankryk verwerp het, sou sekerlik uitgeroei word en die gevolge sou verskriklik wees. Op 21 Januarie 1793, presies tweehonderd-agt-en-vyftig jaar vanaf die dag waarop Frankryk hom ten volle aan die vervolging van die hervormers verbind het, het ‘n ander optog, met ‘n heel ander doel, deur die strate van Parys beweeg. “Weer was die koning die hooffiguur; weer was daar oproer en geskree; weer is die uitroep na nog slagoffers gehoor; weer was daar swart skavotte; en weer is die tonele van die dag afgesluit met afskuwelike teregstellings. Lodewyk XVI, in ‘n handgemene stryd met sy tronkbewaarders en laksmanne gewikkel, is na die blok gesleep en daar is hy vasgedruk totdat die byl geval het en sy kop op die skavot gerol het.” — Wylie, vol 13, hfst 21. Die koning was ook nie die enigste slagoffer nie; op dieselfde plek het tweeduisend-agthonderd mense deur die guillotine gedurende die bloedige tydperk van die Skrikbewind omgekom. GS 233.2

Die hervorming het ‘n oop Bybel aan die wêreld, wat die voorskrifte van die wet van God ongedaan gemaak het en Sy aansprake op die gewete van die volk aangespoor het, voorgehou. Oneindige Liefde het die insettinge en beginsels van die hemel aan mense ontvou. God het gesê: “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.” (Deut 4:6). Toe Frankryk die gawe van die hemel verwerp het, het hy die saad van anargie en ondergang gesaai; en die onvermydelike uitwerking van oorsaak en gevolg, het die rewolusie en die skrikbewind tot gevolg gehad. GS 234.1

Lank voor die vervolging wat deur die plakkate opgewek is, moes die waaghalsige en ywerige Farel noodgedwonge uit sy geboorteland vlug. Hy het na Switserland gegaan en deur sy arbeid wat die werk van Zwingly gesekondeer het, het hy gehelp om die skaal ten gunste van die hervorming te draai. Sy latere jare sou hier deurgebring word, maar hy het tog ‘n besliste invloed op die hervorming uitgeoefen. Gedurende die eerste jare van sy ballingskap was sy pogings veral op die verspreiding van die evangelie in sy geboorteland gerig. Hy het baie tyd aan die prediking onder sy landgenote naby die grens deurgebring, vanwaar hy met onvermoeide waaksaamheid die konflik gadegeslaan en deur woorde van bemoediging en raadgewing aangehelp het. Met die hulp van ander bannelinge is die geskrifte van die Duitse hervormers in Frans vertaal en saam met die Franse Bybel in groot hoeveelhede gedruk. Hierdie werk is deur kolporteurs in Frankryk op groot skaal verkoop. Hulle is teen ‘n lae prys aan die kolporteurs voorsien en die opbrengs daarvan het hulle in staat gestel om die werk voort te sit. GS 234.2

Farel het sy werk in Switserland in die nederige gedaante van ‘n skoolmeester aangepak. Hy het hom na ‘n afgesonderde gemeente begeef en hom aan die onderrig van die kinders gewy. Behalwe vir die gewone vakke, het hy ook met versigtigheid Bybelse waarhede geleer, met die hoop dat die ouers deur die kinders bereik sou word. Daar was sommige wat geglo het, maar die priesters het na vore getree om die werk te staak en die bygelowige, plattelandse bevolking is opgestook om hulle daarteen te verset. “Dit kan nie die evangelie van Christus wees nie...” het die priesters gesê, “...aangesien die prediking daarvan nie vrede bring nie, maar oorlog.” — Wylie, vol 14, hfst 3. Net soos die eerste dissipels, het hy, wanneer hy in een stad vervolg is, na ‘n ander stad gevlug. Van dorp tot dorp en stad tot stad, het hy te voet gereis en honger, koue en moegheid verduur en was oral in gevaar van sy lewe. Hy het op die markpleine gepreek, in die kerke en soms vanaf die kansels van die katedrale. Soms het hy ‘n leë kerk teëgekom; soms is sy prediking deur uitroepe en bespotting onderbreek; en ander kere is hy met geweld uit die preekstoel geruk. Meer as een keer, het die gepeupel hom toegetakel en byna doodgeslaan. Maar hy het deurgedruk. Hoewel hy dikwels teëgestaan is, het hy met onvermoeide volharding weer na die aanval teruggekeer en een na die ander het hy gesien hoe dorpe en stede, wat die vestings van die pousdom was, hulle poorte vir die evangelie oopstel. Die klein gemeente waar hy eerste begin werk het, het die hervormde geloof spoedig aanvaar. Die stede Morat en Neufchatel het ook van die Roomse rituele afstand gedoen en die afgodsbeelde uit hulle kerke verwyder. GS 235.1

Farel het lank reeds ‘n begeerte gehad om die Protestantse vaandel in Geneve te plant. As hierdie stad gewen kon word, sou dit die sentrum vir die hervorming in Frankryk, Switserland en Italië word. Met hierdie doel voor oë, het hy sy werk voortgesit, totdat baie van die omliggende dorpe en nedersettings gewen is. Daarna is hy met ‘n enkele metgesel na Geneve. Maar daar was hy slegs toegelaat om twee preke te lewer. Nadat die priesters tevergeefs probeer het om deur die burgerlike owerhede sy veroordeling te bewerkstellig, het hulle hom voor ‘n kerklike raad ontbied, waarheen hulle met wapens onder hulle klere verberg gekom het, vasbeslote om hom om die lewe te bring. Buite die saal het ‘n woedende skare met knuppels en swaarde saamgedrom om seker te maak van sy dood indien hy daarin sou slaag om van die raad te ontsnap. Die teenwoordigheid van magistrate en ‘n gewapende mag het egter sy lewe gered. Vroeg die volgende oggend is hy en sy metgesel oor die meer na ‘n veilige plek gelei. En so het sy eerste poging om die Geneve te evangeliseer, geëindig. GS 235.2

Vir die volgende beproewing is ‘n nederiger instrument gekies — ‘n jongman, so nederig van voorkoms, dat hy selfs deur die bekende vriende van die hervorming koel behandel is. Maar wat kon so iemand kon doen waar Farel verwerp is? Hoe kon iemand met min moed en ervaring die storm trotseer waarvoor die sterkste en die dapperste gedwing was om te vlug? “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My gees, sê die Here van die leërskare.” (Sag 4:6). “Wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam ... Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.” (1 Kor 1:27,25). GS 236.1

Froment het sy werk as ‘n skoolmeester begin. Die waarhede wat hy aan die kinders op skool geleer het, het hulle by hulle huise herhaal. Baie gou het die ouers na die verduideliking van die Bybel kom luister, totdat die klaskamer vol aandagtige toehoorders was. Nuwe Testamente en traktate is vryelik uitgedeel en hulle het baie mense wat dit nie durf waag het om openlik na die nuwe leerstellings te kom luister nie bereik. Na ‘n tyd, is hierdie arbeider ook gedwing om te vlug, maar die waarhede wat hy geleer het, het die gemoedere van die mense aangegryp. Die hervorming is geplant en het voortgegaan om te groei en uit te brei. Die predikers het teruggekeer en deur hulle arbeid, is die Protestantse godsdiens uiteindelik in Geneve gevestig. GS 236.2

Die stad het hom reeds ten gunste van die hervorming verklaar toe Calvyn, na verskeie omswerwinge en wisselvalligheid, die stad se poorte binnegegaan het. Terug van ‘n laaste besoek aan sy geboorteplek, was hy op pad na Basel, toe hy gevind het dat die direkte pad deur die leërs van Karel V beset is en hy genoodsaak was om met ‘n ompad deur Geneve te reis. GS 237.1

Tydens hierdie besoek het Farel die hand van God erken. Hoewel Geneve die hervormde geloof aanvaar het, moes daar nog ‘n groot werk verrig word. Dit was nie as gemeenskappe nie, maar as individue, dat mense hulle tot God bekeer het; die werk van wedergeboorte moet in die hart en die gewete deur die krag van die Heilige Gees verrig word en nie deur verordeninge van die rade nie. Terwyl die inwoners van Geneve, die gesag van Rome verwerp het, was hulle nie so gereed om van die ondeugde wat onder haar heerskappy gefloreer het, afstand te doen nie. Om die suiwer beginsels van die evangelie hier te vestig en hierdie mense voor te berei om die posisie waartoe die Voorsienigheid hulle geroep het met waardigheid te vul, was geen ligte taak nie. GS 237.2

Farel was vol vertroue dat hy in Calvyn iemand gevind het wat hy met homself in hierdie werk kon verenig. In die Naam van God het hy die jong evangelis plegtig aangeraai om hier te bly en te werk. Calvyn het hiervoor teruggedeins. Bedeesd en vredeliewend het hy van kontak met die waaghalsige, onafhanklike en selfs gewelddadige gees van die inwoners van Geneve weggedeins. Sy swak gesondheid, tesame met sy leergierige gewoontes, het hom beweeg om na afsondering te soek. Omdat hy geglo het dat hy die hervorming die beste met sy pen sou kon dien, wou hy ‘n stil toevlug vir sy studies vind en daar, deur middel van die pers, die kerke onderrig en opbou. Maar Farel se plegtige vermaning, het soos ‘n roepstem uit die hemel tot hom gekom en hy het dit nie durf weier nie. Dit het vir hom gelyk, het hy gesê, “...asof die hand van God uit die hemel uitgestrek het, hom beetgekry het en hom onherroeplik op die plek wat hy so ongeduldig wou agterlaat, gevestig het.” — D'Aubigne, History of the Reformation, in the Time of Calvin, vol 9, hfst 17. GS 237.3

In hierdie tyd het groot gevare die Protestantse saak bedreig. Die vervloekings van die pous is soos donderslae teen Geneve gewerp en magtige nasies het dit met vernietiging gedreig. Hoe sou hierdie klein stadjie die magtige hiërargie, wat so dikwels konings en keisers tot onderwerping gedwing het, weerstaan? Hoe kon dit teen die leërs van die wêreld se magtige oorwinnaars staan? GS 238.1

Dwarsdeur die Christendom was Protestantisme deur formidabele vyande bedreig. In die eerste oorwinnings van die hervorming van die verlede, het Rome ‘n nuwe mag byeengebring in die hoop om die vernietiging daarvan te bewerkstellig. In hierdie tyd is die orde van die Jesuïete geskep, die wreedste, mees gewetenlose en kragtigste van al die kampvegters van die pousdom. Afgesny van aardse bande en menslike belange, dood vir die aansprake van natuurlike liefde, met rede en gewete wat heeltemal afgestomp was, het hulle geen reël geken nie, geen band gehad nie en geen plig behalwe om die mag van hulle orde uit te brei nie. [Sien bylaag]. Die evangelie van Christus, het Sy aanhangers in staat gestel om gevaar en lyding, koue, honger, geswoeg en armoede te verduur en om die vaandel van die waarheid in die aangesig van die rekbank, die selle en die brandstapel, omhoog te hou. Om hierdie magte te bestry, het die Jesuïete hulle aanhangers geïnspireer met ‘n fanatisme wat hulle in staat gestel het om dergelike gevare te verduur en met al die wapens van misleiding die krag van die waarheid teë te staan. Geen misdaad was te groot vir hulle om te pleeg nie, geen bedrog te laag vir hulle om uit te oefen nie en geen vermomming te moeilik om aan te neem nie. Met ‘n gelofte tot voortdurende armoede en nederigheid, was dit hulle listige doel om rykdom en mag te verkry, wat aan die omverwerping van Protestantisme en die hervestiging van die pouslike heerskappy toegewy is. GS 238.2

Wanneer hulle as lede van hulle orde verskyn het, was hulle in ‘n gewaad van heiligheid geklee en het gevangenisse en hospitale besoek, siekes en armes bedien en beweer dat hulle die wêreld versaak het en die heilige naam van Jesus, wat rondgegaan en goed gedoen het, gedra het. Maar onder hierdie onberispelike uiterlike, is die mees kriminele en dodelike doeleindes dikwels verberg. Dit was ‘n fundamentele beginsel van die orde dat die doel die middele regverdig. Volgens hierdie kode was leuens, diefstal, meineed en sluipmoord nie slegs verskoonbaar nie, maar wanneer dit die kerk se belange dien, prysenswaardig. Onder verskillende vermommings, het die Jesuïete hulself in staatsampte ingewerk, raadslede van konings geword en die staatsbeleid van nasies gevorm. Hulle het as diensknegte gewerk om as spioene teen hulle meesters op te tree. Hulle het kolleges vir die seuns van vorste en adellikes gestig en skole vir gewone mense; en die kinders van Protestantse ouers is in die nakoming van Roomse rituele ingetrek. Al die uiterlike praal en vertoon van die Roomse geloof is aangewend om die verstand te verwar en die verbeelding te verblind en te boei en so is die vryheid waarvoor die vaders geswoeg en gebloei het, deur die seuns verraai. Die Jesuïete het vinnig deur Europa versprei en waar hulle hul ook al begeef het, het ‘n herlewing van die pousdom gevolg. GS 239.1

Om groter mag aan hulle te verleen, is ‘n bevelskrif uitgereik wat die inkwisisie hervestig het. [Sien bylaag]. Ondanks die algemene afsku waarmee dit bejeën is, selfs in Katolieke lande, is hierdie skrikwekkende tribunaal weer deur die pouslike heersers ingestel en gruweldade wat te verskriklik was om die daglig te verduur, is in geheime kerkers herhaal. In baie lande is duisende en duisende van die fleur van die land, die reinste en edelste, die mees intellektuele en hoogs opgeleide, vroom en toegewyde leraars, vlytige en vaderlandse burgers, briljante geleerdes, talentvolle kunstenaars, bekwame ambagsmanne, gedood of gedwing om na ander lande te vlug. GS 239.2

Dit was die middele wat deur Rome aangewend is om die lig van die hervorming te blus, die Bybel van die mense te ontneem en die onkunde en bygeloof van die Donker Eeue te herstel. Maar met die seën van God en die arbeid van daardie edele manne wat Hy opgewek het om Luther op te volg, is Protestantisme nie omvergewerp nie. Die krag daarvan was nie aan die guns en wapens van vorste te danke nie. Die kleinste lande en die nederigste en swakste nasies, het die vestings daarvan geword. Dit was die klein Geneve, te midde van magtige vyande, wat haar vernietiging beplan het; dit was Holland, op haar sandbanke langs die noordelike see, wat teen die tirannie van Spanje geworstel het toe dit die grootste en weelderigste koninkryk was; dit was somber, steriele Swede wat oorwinnings vir die hervorming behaal het. GS 240.1

Vir byna dertig jaar het Calvyn in Geneve gewerk om eers ‘n kerk daar te vestig wat die sedeleer van die Bybel gehoorsaam het en daarna vir die bevordering van die hervorming in die hele Europa. Sy optrede as openbare leier, was nie foutloos nie en sy leerstellings ook nie vry van dwaling nie. Maar hy was instrumenteel in die bekendmaking van waarhede, wat in sy tyd van besondere belang was in die handhawing van die beginsels van Protestantisme teen die vinnig-terugkerende gety van die pousdom en om eenvoud en reinheid van lewe in die hervormde kerke te bevorder, in plaas van die trots en korrupsie van die Roomse leer. GS 240.2

Vanaf Geneve het publikasies en leraars uitgegaan om die hervormde leerstellings te versprei. Tot op hierdie stadium, was die vervolgdes van alle lande op soek na onderrig, raad en bemoediging. Die stad van Calvyn het ‘n toevlugsoord vir die vervolgde hervormers van die hele Wes-Europa geword. Vlugtend voor die vreeslike storms wat eeue lank voortgeduur het, het die vlugtelinge na die poorte van Geneve gekom. Uitgehonger, gewond, sonder huis en familie, is hulle hartlik verwelkom en teer versorg; en toe hulle hier ‘n tuiste vind, het hulle die stad wat hulle aanvaar het geseën met hul vaardighede, geleerdheid en vroomheid. Baie wat hier ‘n toevlug gesoek het, het na hul tuisland teruggekeer om die tirannie van Rome te weerstaan. John Knox, die dapper Skotse hervormer, ‘n aantal Engelse puriteine, die Protestante van Holland en Spanje en die Hugenote van Frankryk, het die fakkel van die waarheid uit Geneve geneem om die duisternis van hul geboorteland te verlig. GS 240.3