Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 9—Die Switserse hervormer
In die keuse van instrumente vir die hervorming van die kerk, word dieselfde Goddelike plan soos met die stigting van die kerk gesien. Die hemelse Leraar het die groot manne van die aarde, die getiteldes en die rykes wat gewoond was om lof en eerbetoon as leiers van die volk te ontvang, oorgeslaan. Hulle was so trots en selfversekerd in hul spoggerige meerderwaardigheid, dat hulle nie gevorm kon word om medelye met hul medemens te hê en om medewerkers van die nederige Man van Nasaret te word nie. Die oproep is aan die ongeleerde, swoegende vissers van Galilea gerig: “Kom hier agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak.” (Matt 4:19). Hierdie dissipels was nederig en leerbaar. Hoe minder hulle deur die valse leer van hulle tyd beïnvloed is, hoe meer suksesvol kon Christus hulle onderrig en oplei vir Sy diens. So ook in die dae van die groot hervorming. Die voorste hervormers was nederige mense - mense wat oor die algemeen vry van die trots van rang en van die invloed en dweepsug van die priesterskap was. Dit is God se plan om nederige instrumente te gebruik om groot resultate te behaal. Dan sal die eer nie aan mense gegee word nie, maar aan Hom wat deur hulle werk om na Sy eie welbehae te wil en te doen. GS 168.1
Enkele weke ná die geboorte van Luther, in ‘n mynwerkershut in Sakse, is Ulrich Zwingli in ‘n herders-huisie in die Alpe gebore. Die omgewing van Zwingli se kinderjare en sy vroeë opleiding, sou hom vir sy toekomstige sending voorberei. Opgevoed te midde van natuurtonele van ontsagwekkende grootsheid, skoonheid en verhewenheid, was hy vroeg reeds onder die indruk van die grootheid, die mag en die majesteit van God. Die geskiedenis van die heldhaftige dade in die berge van sy geboorteland, het sy jeugdige lewe besiel. En aan die sy van sy vroom grootmoeder, het hy na die paar kosbare Bybelverhale wat sy uit die legendes en tradisies van die kerk opgediep het, geluister. Hy het met gretige belangstelling gehoor van die groot dade van die patriarge en profete, van herders wat hulle kleinvee op die heuwels van Palestina opgepas het, waar engele met hulle gepraat het van die Baba van Betlehem en die Man van Golgota. GS 168.2
Soos Johannes Luther, wou Zwingli se vader ‘n opleiding vir sy seun hê en die seun is reeds vroeg uit die vallei van sy geboorteplek weggestuur. Sy verstand het vinnig ontwikkel en die vraag het spoedig ontstaan oor waar bekwame onderwysers was om hom te onderrig. Op dertienjarige ouderdom is hy na Bern, wat op daardie stadium oor die mees vooraanstaande skool in Switserland gespog het. Hier het egter ‘n gevaar ontstaan wat sy veelbelowende lewe bedreig het. Die monnike het vasberade pogings aangewend om hom na ‘n klooster te lok. Dominikaanse en Franciskaanse monnike het met mekaar om gewilde guns gewedywer. Dit het hulle probeer verkry deur die aanskoulike versierings van hul kerke, die luisterrykheid van hul seremonies en die aantrekkingskrag van beroemde relikwieë en wonderwerkende beelde. GS 169.1
Die Dominikaners van Bern het gesien dat indien hulle hierdie talentvolle jong leerling kon wen, dit vir hulle ‘n aanwins sowel as ‘n eer sou wees. Die jonkheid van sy jeug en sy natuurlike begaafdheid as spreker en skrywer, sy aanleg vir musiek en die digkuns, sou meer doeltreffend as al hul prag en vertoon wees om die mense na hulle dienste te lok en die inkomste van hul orde aan te vul. Deur bedrog en vleiery, het hulle gepoog om Zwingli oor te haal om na hulle klooster te kom. Terwyl Luther ‘n student op skool was, het hy homself in ‘n kloostersel opgesluit en hy sou verlore vir die wêreld gewees het as hy nie deur die Voorsienigheid van God bevry is nie. Zwingli was nie toegelaat om aan dieselfde gevaar blootgestel te word nie. Sy vader het inligting aangaande die voornemens van die monnike ontvang. Hy was nie van plan om sy seun toe te laat om die ledige en waardelose lewe van die monnike te ly nie. Hy het gesien dat sy toekomstige bruikbaarheid op die spel was en het hom opdrag gegee om sonder versuim terug te keer huis toe. GS 169.2
Die opdrag is gehoorsaam, maar die jeugdige was nie lank tevrede in sy geboorte vallei nie en hy het gou weer sy studies voortgesit en na ‘n tyd na Basel vertrek. Dit was hier waar Zwingli vir die eerste keer van die vrye genade van God gehoor het. Wittenbach, ‘n dosent in antieke tale, is tydens die bestudering van Grieks en Hebreeus na die Heilige Skrif gelei en sodoende is strale van Goddelike lig in die gedagtes van die studente onder sy onderrig gestort. Hy het verklaar dat hier ‘n waarheid was, wat ouer en van oneindig meer waarde as die teorieë wat die geleerdes en filosowe geleer het was. Hierdie antieke waarheid was, dat die dood van Christus die enigste losprys vir die sondaar was. Vir Zwingli was hierdie woorde die eerste ligstraal wat die dagbreek voorafgegaan het. GS 170.1
Zwingli is spoedig van Basel beroep om sy lewenstaak te onderneem. Sy eerste arbeidsveld was in ‘n Alpynse gemeente nie ver van die vallei van sy geboorteplek nie. Nadat hy as priester georden is, “...het hy hom met sy hele siel aan die soektog na Goddelike waarheid gewy; want hy was deeglik bewus...” het ‘n mede-hervormer gesê, “...hoeveel kennis hy, aan wie ‘n kudde van Christus toevertrou is, moet dra.” — Wylie, vol 8, hfst 5. Hoe meer hy die Skrif deursoek het, hoe duideliker was die kontras tussen hierdie waarhede en die dwaalleer van Rome. Hy het homself aan die Bybel, as die Woord van God en enigste onfeilbare reël, onderwerp. Hy het besef dat die Bybel homself moet vertolk. Hy het dit nie durf waag om die Skrif te verklaar om ‘n vooropgestelde teorie of leerstelling te handhaaf nie, maar het dit as sy plig beskou om te leer wat die direkte en voor-die-hand-liggende lering daarvan is. Hy het gepoog om van alle hulp gebruik te maak om ‘n volledige en korrekte begrip van die betekenis daarvan te verkry en hy het hom op die hulp van die Heilige Gees beroep wat, volgens sy verklaring, dit in opregtheid en deur gebed aan almal sou openbaar. GS 170.2
“Die Skrif...” het Zwingli gesê, “...is van God afkomstig en nie van die mens nie en dieselfde God wat lig gee, sal jou help om die woorde wat van God kom, te verstaan. Die Woord van God ... kan nie faal nie; dit skyn helder, dit leer homself, dit openbaar homself en dit verlig die siel met alle saligheid en genade, vertroos die siel in God, verneder dit, sodat dit van homself vergeet en selfs verbeur en God omhels.” — Wylie, vol 8, hfst 6. Zwingli het self die waarheid van hierdie woorde bewys. Toe hy oor sy eie ervaring in hierdie tyd gepraat het, het hy agterna geskryf: “Toe ... ek myself heeltemal aan die Heilige Skrif oorgegee het, het filosofie en teologie (skolastiese) altyd strydvrae aan my voorgehou. Uiteindelik het ek tot die gevolgtrekking gekom dat, ‘...ek alles moet laat vaar en die bedoeling van God, suiwer uit Sy eenvoudige Woord, moet leer ken.’ Toe het ek begin om God om Sy lig te vra en die Skrif het begin om veel makliker verstaanbaar vir my te word.” — Wylie, vol 8, hfst 6. GS 171.1
Die leerstellings wat Zwingli verkondig het, het hy nie van Luther ontvang nie. Dit was die leer van Christus. “As Luther Christus verkondig...” het die Switserse hervormer gesê, “...doen hy wat ek doen. Diegene wat hy na Christus gebring het, is meer as diegene wat ek gelei het. Maar dit maak nie saak nie. Ek sal geen ander naam as die van Christus bely nie, wie se soldaat ek is en wie alleen my Opperhoof is. Daar is nog nooit een woord deur my aan Luther geskryf nie en ook nie deur Luther aan my nie. En waarom? ... Dat aangetoon kan word hoeveel die Gees van God in harmonie met Homself is, aangesien albei van ons, sonder enige samespanning, die leer van Christus met sulke eenvormigheid leer.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 9. GS 171.2
In 1516 is Zwingli as predikant na die klooster van Einsiedeln beroep. Hier sou hy die korrupsie van Rome van naderby aanskou en sou hy ‘n invloed as hervormer uitoefen, wat veel verder as sy geboorteland in die Alpe gevoel sou word. Een van die belangrikste trekpleisters van Einsiedeln, was ‘n beeld van die maagd, wat na bewering oor die mag beskik het om wonderwerke te verrig. Bokant die poort van die klooster was die opskrif: “Hier kan volkome vergifnis van sondes verkry word.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 5. Pelgrims het te alle tye hul toevlug tot die beeld van die heilige maagd geneem, maar tydens die jaarlikse fees van die wyding daarvan, het menigtes uit alle dele van Switserland en selfs uit Frankryk en Duitsland gekom. Zwingli, grootliks gekwel deur hierdie gesig, het die geleentheid aangegryp om vryheid deur die evangelie aan hierdie slawe van bygeloof te verkondig. GS 171.3
“Moet u nie verbeel...” het hy gesê, “...dat God meer in hierdie tempel as in enige ander deel van Sy skepping is nie. Hoe dit ook al sy in die land waar jy woon, God is om jou en hoor jou ... Kan nuttelose werke, lang pelgrimsreise, offers, beelde, die aanroep van die maagd of die heiliges, vir julle die genade van God verseker? ... Wat baat ‘n vloed van woorde waarmee ons ons gebede aanbied? Wat se voordeel is daar in ‘n blink monnik-kap, ‘n glad geskeerde hoof, ‘n lang en vloeiende kleed, of goud-geborduurde pantoffels? ... God sien die hart en ons harte is ver van Hom af ... Christus...” het hy gesê, “...wat eenmaal aan die kruis geoffer is, is die offer en slagoffer wat tot in alle ewigheid versoening vir die sondes van die gelowiges gedoen het.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 5. GS 172.1
Vir baie luisteraars was hierdie leer onwelkom. Dit was vir hulle ‘n bittere teleurstelling om te hoor dat hulle moeisame reis tevergeefs was. Hulle kon nie die vryspraak wat vrylik deur Christus aan hulle gebied is begryp nie. Hulle was tevrede met die ou pad na die hemel wat deur Rome vir hulle aangedui is. Hulle het van die verwarring om na iets beter te soek teruggedeins. Dit was vir hulle makliker om vir hulle saligheid op die priesters en die pous te vertrou as om na reinheid van hart te soek. GS 172.2
Maar ‘n ander klas het die boodskap van verlossing deur Christus, met blydskap ontvang. Die vieringe wat deur Rome voorgeskryf is, het nie daarin geslaag om rus vir die siel te bring nie en in geloof het hulle die bloed van die Heiland as hul versoening aangeneem. Hulle het na hul huise teruggekeer om die kosbare lig wat hulle ontvang het, aan ander mee te deel. Op hierdie wyse is die waarheid van dorpie tot dorpie en van stad tot stad oorgedra en die aantal pelgrims na die heiligdom van die maagd, het afgeneem. Daar was ook ‘n afname in die offergawes en gevolglik ook Zwingli se salaris. Maar dit het hom slegs met vreugde vervul toe hy sien dat die mag van fanatisme en bygeloof verbreek word. GS 173.1
Die owerhede van die kerk was nie blind vir die werk wat Zwingli verrig het nie; maar vir die oomblik het hulle hul weerhou om in te meng. In die hoop om hom steeds vir hul saak oor te wen, het hulle gepoog om hom met vleitaal te oorreed; en intussen het die waarheid ‘n stewige houvas op die harte van die volk verkry. GS 173.2
Zwingli se arbeid in Einsiedeln het hom vir ‘n wyer veld voorberei en dit sou hy binnekort betree. Na drie jaar hier, is hy tot predikant van die katedraal in Zurich beroep. Dit was op daardie stadium die belangrikste stad van die Switserse konfederasie en die invloed wat daar uitgeoefen is, sou wyd gevoel word. Die geestelikes deur wie hy na Zurich beroep is, wou egter enige vernuwings voorkom en hulle het hom gevolglik opdrag aangaande sy pligte gegee. GS 173.3
“Jy moet alles inspan...” het hulle gesê, “...om die inkomste van die gemeente in te vorder sonder om die geringste oor die hoof te sien. Jy moet die gelowiges vanaf die kansel en die biegstoel aanmoedig om alle tiendes en gelde te betaal en om deur hul offergawes hulle liefde vir die kerk te betoon. Jy moet jou beywer om die inkomste wat van die siekes en die misse verkry word en oor die algemeen van alle geestelike verordeninge, te verhoog ... Wat die bediening van die sakramente betref, die prediking en die versorging van die kudde...” het sy instrukteurs bygevoeg, “...is dit ook die pligte van die kapelaan. Maar jy kan ‘n plaasvervanger hiervoor gebruik, veral vir die prediking. Jy moet die sakramente slegs aan vooraanstaande persone bedien en dit alleen op versoek; jy word verbied om dit sonder aansien van persoon te doen.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 6. GS 173.4
Zwingli het in stilte na hierdie opdrag geluister en in antwoord, nadat hy sy dank vir die eer van die beroep na hierdie belangrike plek betuig het, het hy hulle aangaande die weg wat hy van plan was om te volg, toegelig. “Die lewe van Christus...” het hy gesê, “...is te lank vir die mense verberg. Ek sal oor die hele evangelie van Mattheus preek ... en slegs uit die fontein van die Skrif put, die diepte daarvan laat peil, die een gedeelte met die ander vergelyk en deur voortdurende en ernstige gebed, na begrip soek. Ek sal my bediening tot eer van God, tot lof van Sy enigste Seun, tot die ware redding van siele en tot hulle opbou in die ware geloof, heilig.”— D'Aubigne, vol 8, hfst 6. Alhoewel sommige van die geestelikes sy plan nie goedgekeur het nie en probeer het om hom daarvan af te raai, het Zwingli vasgestaan. Hy het verklaar dat hy nie van voorneme was om ‘n nuwe metode in te bring nie, maar slegs die ou metode wat vroeër met suiwerheid deur die kerk beoefen is, te volg. GS 174.1
Belangstelling in die waarhede wat hy verkondig het was reeds opgewek en die volk het in groot getalle gekom om na sy preke te luister. Baie van diegene wat lankal nie meer die dienste bygewoon het nie, was nou onder sy gehoor. Hy het sy bediening begin deur die Evangelies te open en die geïnspireerde verhaal van die lewe, leringe en dood van Christus aan sy toehoorders voor te lees en te verduidelik. Hier, soos in Einsiedeln, het hy die Woord van God as die enigste onfeilbare gesag voorgehou en die dood van Christus as die enigste volledige offer. “Dit is na Christus...” het hy gesê, “...wat ek julle wil lei — na Christus, die ware Bron van verlossing.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 6. Mense uit alle geledere het om die prediker saamgedrom, vanaf staatsmanne en geleerdes, tot ambagsmanne en gewone arbeiders. Met innige belangstelling het hulle na sy woorde geluister. Hy het nie alleen die aanbod van vrye saligheid verkondig nie, maar ook die euwels en korrupsie van die tyd vreesloos bestraf. GS 174.2
Baie het van die katedraal teruggekeer en God geprys. “Hierdie man...” het hulle gesê, “...is ‘n prediker van die waarheid. Hy sal ons Moses wees om ons uit hierdie Egiptiese duisternis te lei.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 6. GS 175.1
Maar hoewel sy arbeid aanvanklik met groot geesdrif ontvang is, het daar na ‘n tyd teenstand ontstaan. Die monnike was daarop ingestel om sy werk te belemmer en sy leringe te veroordeel. Baie het hom gehoon en bespot; ander het hulle tot onbeskoftheid en dreigemente gewend. Maar Zwingli het alles geduldig verdra en gesê: “As ons die goddelose vir Jesus Christus wil wen, moet ons ons oë vir baie dinge sluit.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 6. GS 175.2
Omstreeks hierdie tyd, het ‘n nuwe werkkrag om die hervormingswerk te bevorder op die toneel verskyn. Ene Lucian is met sommige van Luther se geskrifte, deur ‘n vriend van die hervormde geloof in Basel na Zurich gestuur, wat voorgestel het dat die verkoop van hierdie boeke ‘n kragtige manier sou wees om die lig te versprei. “Maak seker...” het hy aan Zwingli geskryf, “...of hierdie man oor voldoende omsigtigheid en vaardigheid beskik; indien wel, laat hy van stad tot stad, van dorp tot dorp en selfs van huis tot huis, die werke van Luther en veral sy uiteensetting van die Onse Vader wat vir die leke geskryf is, onder die Switsers versprei. Hoe meer hulle bekend raak, hoe meer sal hulle verkoop word.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 6. Op hierdie wyse het die lig ingang gevind. GS 175.3
Op die stadium wanneer God hom voorberei om die boeie van onkunde en bygeloof te verbreek, is dit dan wanneer Satan met sy grootste krag werk om mense met duisternis te omhul en die bande nog stewiger vas te bind. Terwyl manne in verskillende lande opgestaan het om vergifnis en regverdiging deur die bloed van Christus aan die mense voor te lê, het Rome met nuwe krag voortgegaan om haar handelsmark in die hele Christendom te open en vergifnis vir geld aan te bied. GS 176.1
Elke sonde het sy prys gehad en solank die skatkis van die kerk goed gevul was, het mense ‘n gratis vergunning vir misdaad verkry. So het die twee bewegings voortgegaan - een wat vergifnis van sonde vir geld aangebied het en die ander vergifnis deur Christus - Rome, wat vergunning van sonde verleen het en dit haar bron van inkomste gemaak het; en die hervormers wat sonde veroordeel het en die mense na Christus vir versoening en as Verlosser gewys het. GS 176.2
In Duitsland is die verkoop van aflate aan die Dominikaanse broeders toevertrou en is dit deur die berugte Tetzel verkoop. In Switserland was hierdie handel in die hande van die Fransiskane onder toesig van Samson, ‘n Italiaanse monnik, geplaas. Samson het reeds goeie dienste vir die kerk gelewer, nadat hy groot bedrae uit Duitsland en Switserland ingesamel het om die pousdom se skatkis te vul. Hy het nou deur Switserland gereis, waar hy groot menigtes gelok het, die arme boere van hulle karige inkomste beroof het en kosbare geskenke van die gegoede klasse geëis het. Maar die invloed van die hervorming het hom reeds in die afname van hierdie handel laat geld, hoewel dit nie heeltemal gestaak kon word nie. Zwingli was nog op Einsiedeln toe Samson, kort nadat hy Switserland binnegekom het, op ‘n naburige dorp met sy ware daar aangekom het. Verwittig van sy sending, het die hervormer dadelik daarheen gegaan om hom teë te staan. Die twee het mekaar nie ontmoet nie, maar Zwingli het die valse voorwendsels van die monnik so goed aan die kaak gestel dat hy verplig was om na ander kwartiere te vertrek. GS 176.3
In Zurich het Zwingli ywerig teen die aflaat-verkopers gepreek en toe Samson die plek nader, is hy deur ‘n boodskapper van die stadsraad ontmoet wat hom meegedeel het dat hy verby moes hou. Hy het uiteindelik geslaag om deur strategie die stad binne te kom, maar hy is weggestuur sonder om ‘n enkele aflaat te verkoop en kort daarna het hy Switserland verlaat. GS 177.1
Die hervorming het ‘n kragtige hupstoot gekry deur die uitbreek van die pes, of die “Swart Dood,” wat in die jaar 1519 deur Switserland versprei het. Toe die mense die dood in die aangesig staar, het baie ervaar hoe nutteloos die aflate wat hulle so pas gekoop het was en hulle het na ‘n sekerder fondament vir hulle geloof gesmag. In Zurich is Zwingli deur die pes neergevel; hy was so ernstig siek, dat alle hoop op sy herstel laat vaar is en die gerug dat hy dood is het wyd versprei. In daardie uur van beproewing, was sy hoop en moed onwrikbaar. Hy het in geloof na die kruis van Golgota gekyk en op die algehele versoening vir sonde vertrou. Toe hy uit die poorte van die dood terugkeer, was dit om die evangelie met groter ywer as ooit tevore te verkondig en sy woorde het ‘n ongeëwenaarde mag uitgeoefen. Die volk het hul geliefde predikant wat van die randjie van die graf na hulle teruggekom het, met vreugde verwelkom. Hulle het self van die versorging van siekes en sterwendes teruggekeer en meer as ooit tevore die waarde van die evangelie besef. GS 177.2
Zwingli het tot ‘n duideliker begrip van die waarhede van die evangelie gekom en het meer volledig die vernuwende krag daarvan in homself ervaar. Die val van die mens en die verlossingsplan was die onderwerpe waarby hy stilgestaan het. “In Adam...” het hy gesê, “...is ons almal dood, versink in verderf en veroordeling. Christus ... het vir ons ‘n ewige verlossing verkry ... Sy dood is ‘n ewige offer om vir ewig te genees; dit bevredig vir ewig die Goddelike regverdigheid ten behoewe van almal wat met ‘n onwankelbare geloof daarop vertrou.” — Wylie, vol 8, hfst 9. “Waar ook al geloof in God is, daar is God; en oral waar God woon, is daar ‘n ywer wat die mense tot goeie werke aanspoor en dring.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 9. GS 177.3
Die belangstelling in die prediking van Zwingli was van so aard, dat die katedraal tot oorlopens toe gevul was met die skare wat na hom kom luister het. Namate hulle dit kon verdra, het hy die waarheid aan sy toehoorders oopgestel. Hy was versigtig om nie aanvanklik punte aan te roer wat hulle kon afskrik of wat vooroordeel sou verwek nie. Sy werk was om harte vir die leer van Christus te wen, om hulle te versag deur Sy liefde en Sy voorbeeld aan hulle voor te hou; en soos hulle die beginsels van die evangelie ontvang, sou hulle bygelowige oortuigings en praktyke noodwendig omvergewerp word. GS 178.1
Stap vir stap het die hervorming in Zurich gevorder. In alarm is sy vyande tot daadwerklike teëstand opgewek. ‘n Jaar tevore het die monnik van Wittenberg aan die pous en aan die keiser in Worms “nee” gesê; en nou het dit geblyk asof alles gedui het op ‘n soortgelyke weerstand teen die pouslike aansprake in Zurich. Herhaalde aanvalle is teen Zwingli geloods. In die pouslike distrik is dissipels van die evangelie van tyd tot tyd na die brandstapel gebring; maar dit was nie genoeg nie; die verkondiger van kettery moes stilgemaak word. Gevolglik het die biskop van Konstanz drie afgevaardigdes na die Raad van Zurich gestuur wat Zwingli daarvan beskuldig het dat hy die volk geleer het om die wette van die kerk te oortree en sodoende die vrede en die goeie orde van die samelewing in gevaar gestel het. Daar is aangevoer dat as die gesag van die kerk tersyde gestel word, dit universele anargie tot gevolg sou hê. Zwingli het geantwoord dat hy vier jaar reeds die evangelie in Zurich verkondig het en “...dat hierdie stad stiller en vreedsamer is as enige ander stad in die konfederasie. Is die Christelike geloof dan nie...” het hy gesê, “...die beste waarborg vir algemene veiligheid nie?” — Wylie, vol 8, hfst 11. GS 178.2
Die afgevaardigdes het die raadslede gemaan om in die kerk voort te gaan, waarbuite, volgens hulle, daar geen verlossing was nie. Zwingli het geantwoord: “Moenie dat hierdie beskuldiging julle in beroering bring nie. Die fondament van die kerk is dieselfde Rots, dieselfde Christus, wat aan Petrus sy naam gegee het omdat hy getrouheid aan Hom bely het. In elke nasie word elkeen wat met sy hele hart in die Here Jesus glo, deur God aangeneem. Dit is waarlik die kerk waarbuite niemand gered kan word nie.” — D'Aubigne, vol 8, hfst 11. As gevolg van hierdie konferensie, het een van die afgevaardigdes van die biskop die hervormde geloof aangeneem. GS 179.1
Die Raad het geweier om teen Zwingli op te tree en Rome het gereed gemaak vir ‘n nuwe aanval. Toe die hervormer van die sameswerings van sy vyande kennis neem, het hy uitgeroep: “Laat hulle maar kom; ek vrees hulle net so min as wat die oorhangende krans die golwe wat aan sy voete woed, vrees.” — Wylie, vol 8, hfst 11. Die pogings van die geestelikes het die saak wat hulle omver wou werp, slegs bevorder. Die waarheid het steeds uitgebrei. In Duitsland het die aanhangers, wat deur die verdwyning van Luther neergewerp is, weer moed geskep toe hulle die vordering van die evangelie in Switserland sien. GS 179.2
Namate die hervorming in Zurich gevestig is, is die vrugte daarvan meer duidelik in die onderdrukking van ondeug en die bevordering van orde en eensgesindheid gesien. “Vrede woon in ons stad...” het Zwingli geskryf; “...daar is geen twis, geen huigelary, geen nyd en geen stryd nie. Vanwaar kan sulke eenheid kom, behalwe van die Here en van ons leer wat ons met die vrugte van vrede en vroomheid vervul?” — Wylie, vol 8, hfst 15. GS 179.3
Die oorwinnings wat deur die hervorming behaal is, het die Roomsgesindes tot meer vasberade pogings vir die omverwerping daarvan aangespoor. Toe hulle sien hoe min deur vervolging en onderdrukking bereik is om Luther se werk in Duitsland te onderdruk, het hulle besluit om die hervorming met sy eie wapens te bestry. Hulle sou ‘n redetwis met Zwingli voer en aangesien die reëling van sake in hulle eie hande was, sou hulle seker maak van die oorwinning, deur nie alleen die plek te kies nie, maar ook die regters wat tussen die partye moes beslis. En as hulle Zwingli eenkeer in hulle mag kon kry, sou hulle seker maak dat hy hulle nie ontsnap nie. As hulle die leier kon stilmaak sou die beweging spoedig verpletter word. Hierdie doel is egter sorgvuldig verberg. GS 179.4
Die redetwis is beplan om in Baden plaas te vind; maar Zwingli was nie teenwoordig nie. Die Konsilie van Zurich, wat ‘n vermoede gehad het aangaande die planne van die Roomsgesindes en wat deur die brandstapels wat in die pousgesinde provinsies vir die belyers van die evangelie aan die brand gesteek is gewaarsku is, het hulle predikant verbied om homself aan hierdie gevaar bloot te stel. In Zurich was hy gereed om al die aanhangers wat Rome mag stuur te konfronteer, maar om na Baden te gaan, waar die bloed van die martelare vir die waarheid pas gestort is, sou ‘n gewisse dood beteken. Oecolampadius en Haller is gekies om die hervormers te verteenwoordig, terwyl die beroemde Dr Eck, bygestaan deur ‘n magdom geleerde doktore en prelate, die saak van Rome sou verdedig. GS 180.1
Hoewel Zwingli nie by die konferensie teenwoordig was nie, is sy invloed gevoel. Die sekretariaat is almal deur die pouslike party gekies en ander is verbied om aantekeninge, op straf van die dood, te maak. Desnieteenstaande, het Zwingli daagliks ‘n getroue verslag van wat in Baden gesê is ontvang. ‘n Student wat die dispuut bygewoon het, het elke aand ‘n opsomming van die argumente wat deur die dag aangevoer is, gemaak. Hierdie dokumente is deur twee ander studente aan Zwingli in Zurich afgelewer, tesame met daaglikse briewe van Oecolampadius. Die hervormer het daarop geantwoord met raadgewing en voorstelle. Sy briewe is snags geskryf en die studente het dit in die oggend met hulle terugkeer na Baden, saam met hulle geneem. Om die waaksaamheid van die wag by die stadspoorte te ontduik, het hierdie boodskappers mandjies met pluimvee op hulle koppe gedra en hulle is toegelaat om die stad ongehinderd binne te gaan. GS 180.2
So het Zwingli die stryd teen sy slinkse antagoniste gehandhaaf. “Hy het meer gedoen...” het Myconius gesê, “...deur sy oorpeinsings, sy slapelose nagte en die raad wat hy na Baden gestuur het, as wat hy deur ‘n persoonlike bespreking te midde van sy vyande sou gedoen het.” — D'Aubigne, vol 11, hfst 13. GS 181.1
Die Roomsgesindes, met verwagtinge van oorwinning gevul, het in hul rykste gewade en glinsterende juwele na Baden gekom. Hulle het weelderig gelewe, hulle tafels met die geurigste voedsel en die kieskeurigste wyne gedek. Die las van hul kerklike pligte is deur vrolikheid en swelgpartye verlig. Daar was ‘n duidelike kontras tussen hulle en die hervormers, wat deur die volk as weinig beter as bedelaars beskou is en wie se maaltye deur hul spaarsaamheid van korte duur was. Die verhuurder van Oecolampadius, wat van hierdie geleentheid gebruik gemaak het om Zwingli in sy kamer dop te hou, was baie verwonderd om te vind dat hy gedurigdeur besig was om te studeer of in gebed en het berig dat die ketter ten minste baie vroom was. GS 181.2
By die konferensie “...het Eck trots ‘n kansel wat pragtig versier was bestyg, terwyl die nederige Oecolampadius, armoedig geklee, verplig was om voor sy teëstander op ‘n ruwe ou stoel te sit.” — D'Aubigne, vol 11, hfst 13. Eck se forse stem en onbegrensde selfvertroue het hom nooit in die steek gelaat nie. Sy ywer is deur die hoop op goud sowel as beroemdheid aangevuur; want die verdediger van die geloof sou goed beloon word. Waar sy argumente tekortgeskiet het, het hy sy toevlug tot beledigings en selfs besweringe geneem. GS 181.3
Oecolampadius, beskeie en sonder selfvertroue, het aanvanklik van die stryd weggekrimp , maar nou het hy dit met die plegtige verklaring betree: “Ek erken geen ander maatstaf as die oordeel van die Woord van God nie.” — D'Aubigne, vol 11, hfst 13. Hoewel hy saggeaard en hoflik was, het hy homself as bekwaam en onbevrees bewys. Terwyl die Katolieke, volgens hulle gewoonte, ‘n beroep op die gesag van die kerk gedoen het, het die hervormer die Heilige Skrif onwrikbaar aangehang. “Gewoonte...” het hy gesê, “...het geen krag in ons Switserland nie, tensy dit volgens die grondwet is; nou, in geloofsake, is die Bybel ons grondwet.” — D'Aubigne, vol 11, hfst 13. GS 182.1
Die kontras tussen die twee disputante was nie sonder effek nie. Die kalm, duidelike redenasie van die hervormer, so sagmoedig en beskeie gelewer, het ‘n indruk op die denke van diegene wat Eck se spoggerige en lawaaierige aanmatigings verafsku het, gemaak. GS 182.2
Die bespreking het agtien dae voortgeduur. Na afsluiting daarvan, het die pouslike afvaardiging met groot vertroue die oorwinning opgeëis. Die meeste van die afgevaardigdes was aan die kant van Rome en die Ryksdag het die uitspraak gelewer dat die hervormers verslaan is en verklaar dat hulle, saam met, Zwingli, hulle leier, van die kerk afgesny is. Maar die vrugte van die konferensie het getoon aan watter kant die voordeel gelê het. Die stryd het ‘n sterk stukrag aan die Protestante verleen en belangrike stede soos Bern en Basel het nie lank daarna nie, hulleself ten gunste van die hervorming verklaar. GS 182.3