Die Groot Stryd (1911)

10/44

Hoofstuk 8—Luther Voor die Ryksdag

'n Nuwe keiser, Karel V, het die troon van Duitsland bestyg en die afgevaardigdes van Rome het hulle na die monarge gehaas met gelukwensinge en om hom te oorreed om sy mag teen die hervorming aan te wend. Aan die anderkant, het die keurvors van Sakse, aan wie Karel baie dank vir sy kroon verskuldig was, hom versoek om geen stappe teen Luther te neem voordat ‘n verhoor aan hom toegestaan is nie. Dit het die keiser in ‘n posisie van groot verwarring en verleentheid geplaas. Die Roomsgesindes sou met niks minder as ‘n keiserlike edik wat Luther ter dood veroordeel tevrede wees nie. Die keurvors het beslis verklaar “... nie sy vorstelike majesteit of enige ander persoon het getoon dat Luther se geskrifte weerlê is nie...” daarom het hy versoek “...dat Doktor Luther van ‘n geleibrief voorsien moes word, sodat hy voor ‘n tribunaal van geleerde, vroom en onpartydige regters kon verskyn.” — D'Aubigne, vol 6, hfst 11. GS 140.1

Die aandag van alle partye was nou op die vergadering van die Duitse state gevestig, wat kort na die toetrede van Karel tot die ryk in Worms sou plaasvind. Daar was belangrike politieke vrae en belange wat deur die nasionale raad oorweeg moes word; die vorste van Duitsland sou vir die eerste keer hul jeugdige monarg op ‘n raadsvergadering ontmoet. GS 140.2

Hoogwaardigheidsbekleërs van kerk en staat het uit alle dele van die vaderland gekom. Sekulêre here uit die adelstand, magtig en jaloers op hul oorgeërfde regte; vorstelike geestelikes ingestel op hul hoë rang en gesag; ridders van die hof en hul gewapende geleide; en ambassadeurs uit vreemde en verre lande, het almal in Worms byeengekom. Maar die saak wat die grootste belangstelling in hierdie groot vergadering opgewek het, was die saak van die Saksiese hervormer. GS 140.3

Karel het die keurvors vroeër die opdrag gegee om Luther saam met hom na die Ryksdag te bring, om hom van beskerming te verseker en ‘n vrye bespreking met bekwame persone aangaande die vrae in geskil te belowe. Luther was gretig om voor die keiser te verskyn. Sy gesondheid was op daardie stadium verswak, maar tog het hy aan die keurvors geskryf: “As ek nie in goeie gesondheid na Worms kan gaan nie, sal ek my daarheen laat dra, siek soos ek is. Want as die keiser my roep, kan ek nie betwyfel dat dit die roepstem van God self is nie. As hulle geweld teen my wil gebruik en dit is heelwaarskynlik so, (want dit is nie vir hulle voorligting dat hulle my gelas het om te verskyn nie), dan plaas ek die saak in die Here se hande. Hy wat die drie jong mans in die brandende vuuroond bewaar het, lewe en regeer steeds. As Hy my nie red nie, is my lewe min werd. Laat ons slegs voorkom dat die evangelie aan die smaad van die goddelose blootgestel word en laat ons ons bloed daarvoor vergiet uit vrees dat hulle mag seëvier. Dit is nie vir my om te besluit of my lewe, oftewel my dood, die meeste sal bydra tot die redding van almal nie ... U kan alles van my verwag ... behalwe om te vlug en om te herroep. Vlug kan ek nie, en herroep nog minder.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 1. GS 141.1

Toe dit in Worms rugbaar word dat Luther voor die Ryksdag sou verskyn, het dit algemene opgewondenheid veroorsaak. Aleander, die pouslike legaat aan wie die saak spesiaal toevertrou is, was verontrus en woedend. Hy het gesien dat die gevolge rampspoedig vir die pouslike saak sou wees. Om weer ‘n saak te ondersoek waaroor die pous reeds ‘n vonnis van veroordeling uitgespreek het, was om minagting op die gesag van die soewereine pous te werp. Verder was hy bang dat die welsprekende en kragtige argumente van hierdie man baie van die vorste van die saak van die pous sou laat wegdraai. Hy het derhalwe dringend by Karel beswaar aangeteken teen Luther se verskyning in Worms. Omstreeks hierdie tyd is die bevelskrif wat Luther se ekskommunikasie verklaar het, gepubliseer; en dit, tesame met die vertoë van die gesant, het die keiser beweeg om toe te gee. Hy het aan die keurvors geskrywe dat indien Luther nie herroep nie, hy in Wittenberg moes bly. GS 141.2

Geensins tevrede met hierdie oorwinning nie, het Aleander met al die mag en lis waaroor hy beskik het, hom beywer om Luther se veroordeling te verseker. Met volharding wat ‘n beter saak waardig was, het hy die saak onder die aandag van die vorste, prelate en ander lede van die vergadering gebring en die hervormer beskuldig van “...opruiing, rebellie, goddeloosheid en godslastering.” Maar die heftigheid en passie wat deur die legaat geopenbaar is, het die gees waardeur hy aangedryf is, te duidelik geopenbaar. “Hy is met haat en wraak besiel...” was die algemene opmerking, “...veel meer as deur ywer en vroomheid.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 1. Die meerderheid van die Ryksdag was nou meer as ooit tevore geneig om Luther se saak in ‘n gunstige lig te beskou. GS 142.1

Met verdubbelde ywer het Aleander die keiser op sy plig gewys om die pouslike dekrete uit te voer. Maar onder die wetgewing van Duitsland kon dit nie sonder die instemming van die vorste gedoen word nie en uiteindelik deur die opdringerigheid van die legaat oorwin, het Karel hom gelas om sy saak voor die Ryksdag te lê. “Dit was ‘n trotse dag vir die legaat. Dit was ‘n belangrike vergadering; maar hierdie saak was nog belangriker. Aleander sou vir Rome pleit ... die moeder en meesteres van alle kerke.” Hy sou die vorstelike mag van Petrus voor die vergaderde prinsdom van die Christendom regverdig. “Hy het oor die gawe van welsprekendheid beskik en die belangrikheid van die geleentheid het hom besiel. Voorsienigheid het bestem dat Rome deur die beste van haar sprekers in die teenwoordigheid van die mees verhewe tribunaal verdedig sou word voordat sy veroordeel word.” — Wylie, vol 6, hfst 4. Met ‘n mate van bedenkinge, het diegene wat ten gunste van die hervormer was, uitgesien na die uitwerking van Aleander se toespraak. Die keurvors van Sakse was nie teenwoordig nie, maar op sy bevel het sommige van sy raadslede dit bygewoon om aantekeninge van die legaat se toespraak te maak. GS 142.2

Met al die mag van geleerdheid en welsprekendheid, was Aleander ingestel om die waarheid omver te werp. Hy het beskuldiging op beskuldiging teen Luther, as ‘n vyand van die kerk en staat, die lewendes en die dooies, geestelikes en leke, rade en privaat Christene ingebring. “In Luther se dwalinge...” het hy verklaar, “...is daar genoeg regverdiging om ‘honderde duisende ketters’ te verbrand. GS 143.1

Ten slotte het hy gepoog om minagting op die aanhangers van die hervormde geloof te plaas. “Wat is al hierdie Lutherane? ‘n Bemanning van domastrante opvoedkundiges, korrupte priesters, bandelose monnike, onkundige wetsgeleerdes en ontaarde adellikes, tesame met die gewone mense wat hulle mislei en gekorrupteer het. Hoe ver bo hulle is die Katolieke Kerk wat getal, bekwaamheid en mag betref! ‘n Eenparige besluit van hierdie gesaghebbende vergadering sal die eenvoudiges verlig, die onverstandiges waarsku, die twyfelaars tot beslissing bring en die swakkes versterk.” — D'Aubigne, Vol 7, hfst 3. GS 143.2

Met sulke wapens is die voorstanders van die waarheid in alle eeue aangeval. Dieselfde argumente word steeds aangevoer teen almal wat dit waag om die duidelike leerstellings van God se Woord in direkte teenstelling met gevestigde dwalinge aan te bied. “Wie is hierdie verkondigers van nuwe leerstellings?” word deur diegene wat ‘n populêre godsdiens begeer uitgeroep. “Hulle is ongeleerd, gering in getal en van die arm klas. Tog beweer hulle dat hulle die waarheid het en dat hulle die uitverkore volk van God is. Hulle is onkundig en mislei. Hoe superieur is ons kerk nie bo hulle wat ledetal en invloed betref nie! Hoeveel groter en geleerde manne is daar nie onder ons nie! Hoeveel mag is daar steeds aan ons kant!” GS 143.3

Dit is die argumente wat ‘n sprekende invloed op die wêreld het; maar hulle is tans nie minder afdoende as in die dae van die hervormer nie. GS 143.4

Die hervorming het nie, soos baie dink, met Luther geëindig nie. Dit moet tot aan die einde van hierdie wêreld se geskiedenis voortduur. Luther het ‘n groot werk gehad om te verrig, om die lig wat God toegelaat het om op hom te skyn, aan ander weer te gee; tog het hy nie al die lig wat aan die wêreld gegee sou word ontvang nie. Van toe af tot nou skyn daar voortdurend nuwe lig op die Skrif en nuwe waarhede word voortdurend ontvou. GS 144.1

Die legaat se toespraak het ‘n diep indruk op die Ryksdag gemaak. Luther met sy duidelike en oortuigende waarhede van God se Woord, was nie teenwoordig om die pouslike kampvegter te verslaan nie. Geen poging is aangewend om die hervormer te verdedig nie. Daar was ‘n algemene ingesteldheid om nie slegs die leerstellings wat hy geleer het te veroordeel nie, maar ook die kettery te ontwortel. Rome het die mees gunstigste geleentheid gehad om haar saak te verdedig. Alles wat sy tot haar eie regverdiging kon sê, is gesê. Maar hierdie skynbare oorwinning was die teken van ‘n nederlaag. Die kontras tussen waarheid en dwaling sou voortaan duideliker onderskei word, aangesien hulle mekaar openlik die stryd sou aansê. Rome sou nooit weer vanaf daardie dag, so sterk staan soos wat sy voorheen gestaan het nie. GS 144.2

Terwyl die meeste lede van die Ryksdag nie sou aarsel om Luther aan die wraak van Rome oor te lewer nie, het baie van hulle die heersende verdorwenheid in die kerk gesien en betreur en verlang na ‘n onderdrukking van die misbruike waaronder die Duitse volk as gevolg van die korrupsie en gierigheid van die hiërargie gely het. Die legaat het die pouslike heerskappy in die mees gunstigste lig gestel. Maar die Here het nou ‘n lid van die Ryksdag beweeg om ‘n ware omskrywing van die gevolge van pouslike tirannie te gee. Met edele fermheid het die Hertog Georg van Sakse in daardie vorstelike byeenkoms opgestaan en met treffende akkuraatheid die misleidings en gruwels van die pousdom en die haglike gevolge daarvan gespesifiseer. Ter afsluiting het hy gesê: GS 144.3

“Hierdie is sommige van die misbruike wat uitskree teen Rome. Alle skaamte is ter syde gestel en hulle enigste doelwit is ... geld, geld, geld ... sodat die predikers wat die waarheid moet verkondig, niks anders as valshede uiter nie en nie alleen word hulle gedoog nie, maar beloon, want hoe groter hulle leuens, hoe groter is hulle wins. Dit is uit hierdie verderflike bron waaruit sulke besoedelde water vloei. Losbandigheid steek die hand na gierigheid uit ... Helaas, dit is die skande van die geestelikes wat so baie arme siele in die verderf stort. ‘n Algemene hervorming moet geskied.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 4. GS 145.1

Selfs Luther kon nie ‘n meer bekwame en dwingende veroordeling van die pouslike misbruike aangebied het nie en die feit dat die spreker ‘n vasberade vyand van die hervormer was, het nog groter invloed aan sy woorde verleen. GS 145.2

Indien die oë van die vergadering geopen was, sou hulle engele van God in hul midde gewaar het, wat ligstrale deur die duisternis van dwaling laat skyn het en die verstand en harte vir die ontvangs van die waarheid oopgemaak het. Dit was die mag van die God van waarheid en wysheid wat selfs die teëstanders van die hervorming beheer het en sodoende die weg vir die groot werk wat sou plaasvind voorberei het. Martin Luther was nie teenwoordig nie; maar die stem van Een groter as Luther is in daardie vergadering gehoor. GS 145.3

Daar is dadelik ‘n komitee deur die Ryksdag aangestel om ‘n opsomming van al die pouslike onderdrukkings wat so swaar op die Duitse volk geweeg het, op te stel. Hierdie lys wat honderden-een spesifikasies bevat het is aan die keiser voorgelê met die versoek dat hy onmiddellike maatreëls sou tref om hierdie misbruike reg te stel. “Wat ‘n verlies aan Christen siele...” het die ondertekenaars gesê, “...watter ontberinge, watter afpersing weens die skandale waardeur die geestelike hoof van die Christendom omring word! Dit is ons plig om die ondergang en oneer van ons volk te voorkom. Om hierdie rede versoek ons u nederig, maar dringend, om ‘n algemene hervorming te beveel en die uitvoering daarvan te onderneem.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 4. GS 145.4

Die raad het nou geëis dat die hervormer voor hulle moet verskyn. Ondanks die versoekings, betogings en dreigemente van Aleander, het die keiser uiteindelik ingestem en Luther is opgeroep om voor die Ryksdag te verskyn. Met die dagvaarding is ‘n geleibrief gegee wat verseker het dat hy na ‘n plek van veiligheid sou terugkeer. Dit is deur ‘n boodskapper na Wittenberg geneem, wat die opdrag ontvang het om Luther na Worms te begelei. GS 146.1

Die vriende van Luther was angsbevange en bekommerd. Bewus van die vooroordeel en vyandigheid teenoor hom, was hulle bevrees dat selfs sy geleibrief nie gerespekteer sou word nie en hulle het by hom gepleit om nie sy lewe in gevaar te stel nie. Sy antwoord was: “Die Roomsgesindes begeer nie dat ek na Worms moet kom nie, maar verlang my veroordeling en my dood. Dit maak nie saak nie; moenie vir my bid nie, maar vir die Woord van God ... Christus sal my Sy Gees gee om hierdie bedienaars van dwaling te oorwin. Ek verag hulle gedurende my leeftyd; deur my dood sal ek oor hulle seëvier. In Worms is hulle besig om my te dwing om te herroep; en dit sal my herroeping wees: Ek het vroeër gesê dat die pous die plaasvervanger van Christus was; nou beaam ek dat hy die teëstander van ons Here is en die apostel van die duiwel.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 6. GS 146.2

Luther sou nie sy gevaarlike reis alleen onderneem nie. Behalwe die keiserlike boodskapper, was drie van sy getrouste vriende vasbeslote om hom te vergesel. Melanchthon wou graag by hulle aansluit. Sy hart was aan Luther s'n gebonde en hy was het daarna gesmag om hom, indien nodig, na die tronk of die dood te volg. Maar sy smekinge is geweier. Indien Luther sou omkom, sou die hoop op die hervorming op sy jeugdige medewerker gefokus wees. Toe die hervormer van Melanchthon afskeid neem, het hy aan hom gesê: “As ek nie terugkom nie en my vyande my om die lewe bring, moet jy aanhou om te onderrig en vasstaan in die waarheid. Werk in my plek ... As jy oorleef, sal my dood weinige gevolge hê.” — Id, hfst 7. Die studente en burgers wat byeengekom het om Luther af te sien, was diep ontroer. ‘n Menigte, wie se harte deur die evangelie aangeraak is, het met ‘n geween van hom afskeid geneem. Sodoende het die hervormer en sy metgeselle van Wittenberg vertrek. GS 146.3

Onderweg het hulle opgemerk dat die gedagtes van die volk deur somber gevoelens verdruk was. Op sommige dorpe is daar geen eerbewyse aan hulle gebied nie. Terwyl hulle vir die nag stilgehou het, het ‘n vriendelike priester sy vrees uitgespreek deur ‘n portret van ‘n Italiaanse hervormer wat martelaarskap gely het, voor te hou. Die volgende dag het hulle verneem dat Luther se geskrifte in Worms veroordeel is. Imperiale boodskappers het die keiser se dekreet verkondig en ‘n beroep op die mense gedoen om die verbode geskrifte aan die magistrate oor te lewer. Die bode van die keiser, wat Luther begelei het en vir sy veiligheid by die raad gevrees het, het gedink dat sy voorneme begin wankel het en gevra of hy steeds wil voortgaan. Hy het geantwoord: “Alhoewel ek in elke stad verbied is, sal ek voortgaan.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 7. GS 147.1

In Erfurt is Luther met eerbetoon ontvang. Omring deur bewonderende skares, het hy deur die strate wat hy dikwels met sy bedelaarsbeurs deurkruis het, gegaan. Hy het sy kloostersel besoek en besin oor die stryd waardeur die lig, wat Duitsland nou oorstroom, in sy siel gewoed het. Daar is by hom aangedring om te preek. Dít was hom verbied, maar die bode van die koning wat hom begelei het, het sy toestemming gegee en toe het die monnik wat eenmaal die werkesel van die klooster was, die kansel bestyg. GS 147.2

Aan ‘n stampvol vergadering, het hy die woorde van Christus gepreek: “Vrede vir julle.” “Filosowe, doktore en skrywers...” het hy gesê, “...het probeer om die mense die weg tot die ewige lewe te leer en nie daarin geslaag nie. Ek sal dit nou aan julle verduidelik: God het een Man uit die dood opgewek, die Here Jesus Christus, sodat Hy die dood sou vernietig, die sonde sou uitwis en die poorte van die hel sou sluit. Dit is die werk van verlossing ... Christus het oorwin! Dit is die blye tyding; en ons word gered deur Sy werk en nie deur ons eie nie ... Ons Here Jesus Christus het gesê: ‘Vrede vir julle! ... Kyk na my hande.’ GS 148.1

Dit wil sê, Kyk, o mens! Dit is Ek alleen wat jou sonde weggeneem het en jou losgekoop het; en nou het jy vrede, spreek die Here.” GS 148.2

Hy het voortgegaan en daarop gewys dat ware geloof deur ‘n heilige lewe geopenbaar sal word. “Aangesien God ons gered het, laat ons ons werke so rig dat dit vir Hom aanneemlik is. Is julle ryk? Laat julle besittings in die behoeftes van die armes voorsien. Is julle arm? Laat julle dienste vir die rykes welgevallig wees. Maar as julle net vir julleself van nut is, is die diens wat julle voorgee om aan God te lewer, ‘n leuen.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 7. GS 148.3

Die volk het vasgenael geluister. Die brood van die lewe is vir daardie honger siele gebreek. Christus is voor hulle bo die pous, legate, keisers en konings verhef. Luther het geen verwysing na sy eie gevaarlike situasie gemaak nie. Hy het nie probeer om homself die voorwerp van gedagtes of medelye te maak nie. In die oordenking van Christus, het hy die eie-ek uit die oog verloor. Hy het agter die Man van Golgota geskuil en slegs gepoog om Jesus as die Verlosser van die sondaar aan te bied. GS 148.4

Soos die hervormer verder gegaan het, is hy met groot belangstelling begroet. ‘n Gretige skare het om hom saamgedrom en vriendelike stemme het hom aangaande die doel van die Roomsgesindes gewaarsku. “Hulle sal jou verbrand...” het sommige gesê; “...en jou liggaam tot as reduseer, net soos hulle met Johannes Huss gemaak het.” Hierop het Luther geantwoord, “Al sou hulle ‘n vuur vanaf Worms tot in Wittenberg aansteek, waarvan die vlamme tot aan die hemel reik, sou ek in die Naam van die Here daardeur loop; ek sal voor hulle verskyn; ek sal in die kake van hierdie behemot inloop, sy tande breek en die Here Jesus Christus bely.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 7. GS 148.5

Die tyding dat hy Worms nader, het groot opspraak verwek. Sy vriende het vir sy veiligheid gesidder; sy vyande het vir die sukses van hulle saak gevrees. Daar is ernstige pogings aangewend om hom te ontmoedig om die stad binne te kom. Op aandrang van die Roomsgesindes is hy aangespoor om na die kasteel van ‘n goedgesinde ridder te gaan waar, volgens hulle verklaring, hulle alle probleme op ‘n vriendskaplike wyse kon oplos. Vriende het probeer om sy vrese te wek deur die gevare wat hom bedreig aan hom te beskryf. Maar al hul pogings het misluk. Luther, steeds onwrikbaar, het verklaar: “Al was daar soveel duiwels in Worms soos teëls op die huise se dakke, sou ek dit steeds binnegaan.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 7. GS 149.1

Met sy aankoms by Worms het ‘n groot menigte na die poorte gestroom om hom te verwelkom. Selfs met die aankoms van die keiser was daar nie so ‘n groot samekoms van mense om hom te begroet nie. Die opgewondenheid was groot en te midde van die skare het ‘n deurdringende, klaerige stem ‘n begrafnislied gesing as waarskuwing aan Luther oor die lot wat hom gewag het. “God sal my beskerming wees...” het hy, terwyl hy van sy wa afklim, gesê. GS 149.2

Die Roomsgesindes het nie geglo dat Luther werklik dit sou waag om in Worms te verskyn nie en sy aankoms het hulle met ontsteltenis gevul. Die keiser het dadelik sy raadslede ontbied om te oorweeg watter weg gevolg moet word. Een van die biskoppe, ‘n streng katoliek, het verklaar: “Ons het al lank oor hierdie saak beraadslaag. Laat u keiserlike majesteit dadelik van hierdie man ontslae raak. Het Sigismund nie veroorsaak dat Johannes Huss verbrand word nie? Ons is nie verplig om veilige geleide aan ‘n ketter te gee of te eer nie. “Nee...” het die keiser gesê, “...ons moet ons belofte nakom.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. Daar is dus besluit dat die hervormer aangehoor moes word. GS 149.3

Die hele stad was gretig om hierdie merkwaardige man te sien en ‘n menigte besoekers het spoedig sy herberg gevul. Luther het nog nie behoorlik van sy siekte herstel nie; hy was uitgeput deur die reis wat twee volle weke geduur het. Hy moes vir die belangrike gebeure van die volgende dag voorberei en het stilte en rus nodig gehad. Maar die begeerte om hom te sien was so groot, dat hy slegs ‘n paar uur se rus geniet het toe edeles, ridders, priesters en burgers gretig om hom vergader het. Hieronder was baie van die adellikes wat so blatant van die keiser ‘n hervorming ten opsigte van kerklike mishandeling geëis het en wat volgens Luther, “...almal deur my evangelie bevry is.”— Martyn, The Life and Times of Luther, bI 393. Vyande, sowel as vriende het gekom om die onverskrokke monnik te sien; maar hy het hulle met onverstoorde kalmte ontvang en almal met waardigheid en wysheid geantwoord. Sy houding was standvastig en moedig. Sy bleek, maer gesig, gekenmerk deur die spore van swoeg en siekte, het ‘n vriendelike en selfs vreugdevolle uitdrukking gehad. Die plegtigheid en diepe erns van sy woorde het aan hom ‘n krag gegee wat selfs sy vyande nie volkome kon weerstaan nie. Beide vriende en vyande was verwonderd. Sommige was daarvan oortuig dat ‘n Goddelike invloed hom bygestaan het; ander het, net soos die Fariseërs van Christus gesê het, gesê: “Hy het ‘n duiwel.” GS 150.1

Die volgende dag is Luther voor die Ryksdag gedaag. ‘n Keiserlike offisier is aangestel om hom na die geregsaal te begelei; tog was dit moeilik vir hom om die plek te bereik. Elke straat was vol toeskouers wat gretig was om die monnik, wat die gesag van die pous uitgedaag het te sien. GS 150.2

Toe hy op die punt was om in die teenwoordigheid van sy regters te verskyn, het ‘n ou generaal, die held van baie gevegte, vriendelik aan hom gesê: “Arme monnik, arme monnik, jy gaan nou ‘n edeler standpunt inneem as wat ek of enige ander kaptein in die bloedigste van ons gevegte ingeneem het. Maar as jou saak regverdig is en jy daarvan seker is, gaan dan voort in die Naam van God en wees vir niks bevrees nie! God sal jou nie verlaat nie.” — D'Aubigne, deel 7, hfst. 8. GS 151.1

Uiteindelik het Luther voor die raad gestaan. Die keiser het die troon beset. Hy was omring deur die roemrykste persone in die ryk. Nog nooit het iemand voor ‘n meer imposante vergadering verskyn as waarvoor Luther vir sy geloof sou antwoord nie. “Hierdie verskyning was op sigself ‘n sinvolle oorwinning oor die pousdom. Die pous het hierdie man reeds veroordeel en nou het hy voor ‘n tribunaal wat, deur hierdie juiste daad hom bo die pous gestel het, gestaan. Die pous het ‘n interdik teen hom ingebring en hom van die hele samelewing afgesny; en tog is hy met respekvolle taal ontbied en voor die grootste vergadering in die wêreld ontvang. Die pous het hom tot ewige stilswye veroordeel en nou was hy op die punt om voor duisende aandagtige toehoorders, wat uit die vêrste uithoeke van die Christendom saamgetrek het, te praat. ‘n Ontsaglike omwenteling is dus deur die toedoen van Luther teweeggebring. Rome was reeds besig om van haar troon af te kom en dit was die stem van ‘n monnik wat hierdie vernedering veroorsaak het.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. GS 151.2

In die teenwoordigheid van hierdie magtige en getitelde vergadering, het die nederige hervormer oorbluf en verleë gelyk. Verskeie van die vorste wat sy ontroering opgemerk het, het hom genader en een van hulle het gefluister, “Moenie hulle vrees wat die liggaam kan dood, maar die siel nie kan dood nie.” GS 151.3

'n Ander het een het gesê: “Wanneer hulle julle voor goewerneurs en konings bring om my ontwil, sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek.” So is die woorde van Christus deur die wêreld se hoëlui aangehaal om Sy dienskneg in die uur van beproewing te versterk. GS 151.4

Luther is na ‘n plek direk voor die keiser se troon gelei. ‘n Doodse stilte het oor die oorvol vergadering gedaal. Toe het ‘n keiserlike offisier opgestaan, na ‘n versameling van Luther se geskrifte gewys en geëis dat die hervormer twee vrae moet beantwoord: Of hy die geskrifte as syne erken; en of hy van plan was om die menings wat dit bevat het te herroep. Nadat die titels van die boeke voorgelees is, het Luther geantwoord dat aangaande die eerste vraag, hy erken het dat dit sy boeke was. “Wat die tweede vraag betref...” het hy gesê, “...aangesien dit ‘n vraag is wat betrekking het op geloof en die verlossing van siele en waarby die Woord van God, die grootste en kosbaarste skat in hemel en op aarde, betrokke is, sou ek onverstandig optree as ek sonder om te besin sou antwoord. Ek sou moontlik minder bevestig as wat die omstandighede vereis, of meer as wat die waarheid vereis en so teen hierdie woorde van Christus sondig: ‘Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemele is’. (Matt 10:33). Om hierdie rede pleit ek by u keiserlike majesteit, in alle nederigheid, om my tyd te gee sodat ek kan antwoord sonder om teen die Woord van God te sondig.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. GS 152.1

Met hierdie versoek het Luther verstandig opgetree. Sy handelswyse het die vergadering oortuig dat hy nie uit hartstog of impulsief opgetree het nie. Sy kalmte en selfbeheersing wat nie van iemand wat homself as vrymoedig en onwrikbaar getoon het verwag is nie, het tot sy krag bygedra en hom in staat gestel om met omsigtigheid, vasbeslotenheid, wysheid en waardigheid te antwoord, wat sy teëstanders verras en teleurgestel het en wat ‘n teregwysing vir hul hovaardigheid en hoogmoed was. GS 152.2

Hy moes die volgende dag verskyn om sy finale antwoord te gee. Vir ‘n tyd het sy moed hom begewe terwyl hy oor die kragte wat teen die waarheid verenig was, nagedink het. Sy geloof het gewankel; vrees en bewing het oor hom gekom en verskrikking het hom oorweldig. Gevare het voor hom vermenigvuldig; dit het geblyk asof sy vyande op die punt was om te seëvier en dat die magte van duisternis sou oorwin. Wolke het om hom saamgepak en dit het gelyk of hy van God geskei was. Hy het gesmag na die versekering dat die Here van die leërskare by hom sou wees. In angs van gees het hy homself op die vloer neergewerp en gebroke, hartverskeurende uitroepe geuiter wat niemand anders as God ten volle kon verstaan nie. GS 152.3

“O Almagtige en Ewige God...” het hy gepleit, “...hoe verskriklik is hierdie wêreld! Kyk, dit maak sy mond oop om my te verswelg en my geloof in U is so swak ... As ek slegs die krag van hierdie wêreld moet vertrou, is alles verlore ... My laaste uur het gekom, die oordeel is oor my uitgespreek ... O God, help U my teen al die wysheid van die wêreld. Doen U dit ... U alleen; ... want dit is nie my werk nie, maar U werk. Ek het niks om hier te doen nie, niks om met hierdie magtiges van die wêreld mee te ding nie ... Maar dit is U saak ... en dit is ‘n regverdige en ewige saak. O Here, help my! Getroue en onveranderlike God, ek plaas my vertroue in geen mens nie ... Alles wat van die mens is, is onseker; alles wat van die mens kom, misluk ... U het my gekies vir hierdie werk ... Staan aan my sy, ter wille van U geliefde Jesus Christus, wat my verdediging, my skild en my sterk toring is. ” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. GS 153.1

'n Alwyse Voorsienigheid het Luther in staat gestel om sy gevaar te besef, dat hy nie op sy eie krag sou vertrou en aanmatigend in gevaar sou instorm nie. Tog was dit nie ‘n vrees vir persoonlike lyding, marteling, of die dood wat hom onmiddellik bedreig het, wat hom met skrik oorweldig het nie. GS 153.2

Hy het die krisis bereik en hy het sy onwaardigheid om dit te konfronteer besef. Die waarheid kan, as gevolg van sy swakheid, verlies ly. Hy het met God geworstel, nie vir sy eie veiligheid nie, maar vir die oorwinning van die evangelie. Soos Israel in sy nagstryd langs die eensame stroom, was die angs en konflik van sy siel. Soos Israel het hy geseëvier. In sy algehele hulpeloosheid het hy sy geloof in Christus, die magtige Verlosser, gevestig. Hy is versterk met die versekering dat hy nie alleen voor die raad sou verskyn nie. Die vrede het na sy siel teruggekeer en hy was verheug dat hy toegelaat was om die woord van God voor die heersers van die nasies te verhef. GS 153.3

Met sy gedagtes op God gerig, het Luther hom op die stryd voor hom voorberei. Hy het gedink oor die antwoord wat hy beplan het, gedeeltes in sy eie geskrifte ondersoek en geskikte bewyse uit die Heilige Skrif getrek om sy stellings te handhaaf. Toe, met sy linkerhand op die Heilige Skrif wat voor hom oop was het, het hy sy regterhand na die hemel opgehef en ‘n eed geneem om “...getrou aan die evangelie te bly en om sy geloof met vrymoedigheid te bely, selfs al sou hy sy getuienis met sy bloed verseël.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. GS 154.1

Toe hy weer in die teenwoordigheid van die Ryksdag ingelei is, was daar geen teken van vrees of verleentheid op sy gelaat nie. Rustig en vreedsaam, maar tog dapper en edel, het hy as getuie van God te midde van die grotes van die aarde gestaan. Die keiserlike offisier het nou van hom geëis of hy sy leerstellings wil herroep. In ‘n gedempte en nederige toon, sonder geweld of drif, het Luther sy antwoord gegee. Sy houding was beskeie en respekvol; tog het hy ‘n vertroue en vreugde geopenbaar wat die vergadering verras het. GS 154.2

“Deurlugtige keiser, roemryke vorste, genadige here...” het Luther gesê, “...ek verskyn vandag voor julle, ooreenkomstig die bevel wat gister aan my gegee is en deur die genade van God doen ek ‘n beroep op u majesteit en u vooraanstaande hoogwaardiges om goedgunstiglik te luister na die verdediging van ‘n saak waarvan ek oortuig is dat dit regverdig en waar is. GS 154.3

As ek, as gevolg van onkunde, die gebruike en korrektheid van die hof oortree het, versoek ek u om my te vergewe; want ek is nie in die paleise van konings grootgemaak nie, maar in die afsondering van ‘n klooster.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. GS 154.4

Vervolgens, aangaande die vraag aan hom gestel, het hy verklaar dat sy gepubliseerde werke nie almal van dieselfde aard was nie. In sommige het hy geloof en goeie werke behandel en selfs sy vyande het dit nie slegs as skadeloos nie, maar ook nuttig verklaar. Om dit te herroep, sou wees om die waarhede wat deur alle partye erken word, te veroordeel. Die tweede klas het bestaan uit geskrifte wat die korrupsie en misbruik van die pousdom blootgelê het. Die herroeping van hierdie werke sou die tirannie van Rome versterk en die deur wyer oopmaak vir baie en groter goddeloosheid. In die derde klas van sy boeke het hy individue aangeval wat die huidige euwels verdedig het. Aangaande hierdie dinge het hy vryelik erken dat hy meer heftiger opgetree het as wat gepas was. Hy het nie beweer dat hy vry van skuld was nie; maar selfs hierdie boeke kon hy nie herroep nie, want dit sou die vyande van die waarheid aanmoedig en hulle sou dan van die geleentheid gebruik maak om God se volk met nog groter wreedheid te verdruk. GS 155.1

“Maar ek is maar net ‘n mens en nie God nie...” het hy voortgegaan; “...ek sal my dus verdedig soos Christus gedoen het: ‘As ek kwaad gespreek het, getuig van die kwaad.’ ... Deur die genade van God versoek ek u, deurlugtige keiser en u hoogwaardige vorste en alle mense uit alle geledere, om uit die Geskrifte van die profete en die apostels te bewys dat ek gedwaal het. Sodra ek hiervan oortuig is, sal ek elke dwaling terugtrek en die eerste wees om my boeke te neem en in die vuur te gooi. GS 155.2

“Wat ek so pas gesê het, toon duidelik dat ek die gevare waaraan ek myself blootstel noukeurig oorweeg en heroorweeg het; maar ver van verslaentheid, is ek verheug om te sien dat die evangelie nou, soos vroeër, ‘n oorsaak van moeilikheid en onenigheid is. Dit is die karakter en die bestemming van die Woord van God. ‘Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard,’ het Jesus Christus gesê. God is wonderlik en vreeslik is Sy raad; wees versigtig dat u nie, deur aan te neem dat u onenigheid blus, die heilige Woord van God vervolg en ‘n skrikwekkende stortvloed van onoorkomelike gevare, huidige rampe en ewige verwoesting oor u bring nie ... Ek kan baie voorbeelde uit die Woord van God aanhaal: Ek kan praat van die Farao’s, die konings van Babilon en dié van Israel, wie se arbeid nooit meer daadwerklik tot hul eie vernietiging bygedra het nie, as toe hulle gepoog het om hul heerskappy te versterk deur raadgewinge wat in alle waarskynlikheid baie wys was, te volg nie. God ‘...versit berge, sonder dat hulle dit merk.’” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. GS 155.3

Luther het Duits gepraat; nou is hy versoek om dieselfde woorde in Latyn te herhaal. Hoewel hy uitgeput deur sy vorige poging was, het hy gehoor gegee en weer sy toespraak met dieselfde helderheid en kragdadigheid as die eerste keer herhaal. God se voorsienigheid het in hierdie saak die leiding gegee. Die verstand van baie van die vorste was so verblind deur dwaling en bygeloof, dat hulle met die eerste toespraak nie die krag van Luther se redenasie ingesien het nie; maar die herhaling het hulle in staat gestel om die voorgestelde punte duidelik in te sien. GS 156.1

Diegene wat hulle oë hardnekkig vir die lig gesluit het en geen voorneme gehad het om deur die waarheid oortuig te word nie, was woedend oor die krag van Luther se woorde. Toe hy ophou praat, het die woordvoerder van die Ryksdag woedend gesê: “Jy het nie die vraag beantwoord wat aan jou gestel is nie ... Jy word versoek om ‘n duidelike en presiese antwoord te gee ... Sal jy, of sal jy nie herroep nie?” GS 156.2

Die hervormer het geantwoord: “Aangesien u deurlugtige majesteit en u hoogedeles van my ‘n duidelike, eenvoudige en presiese antwoord vereis, sal ek u een gee en dit is soos volg: GS 156.3

Ek kan nie my geloof aan die pous óf aan die konsilies onderwerp nie, want dit is so duidelik soos daglig dat hulle dikwels gedwaal en mekaar weerspreek het. Tensy ek dus deur die getuienis van die Skrif of deur die duidelikste redenasie, oortuig word en tensy ek deur die skrifgedeeltes wat ek aangehaal het oorreed kan word en my gewete aldus deur die Woord van God gebonde is, kan ek nie en sal ek nie herroep nie, want dit is onveilig vir ‘n Christen om teen sy gewete te spreek. Hier staan ek, ek kan nie anders nie; mag God my help. Amen.” — Id, vol 7, hfst 8. GS 156.4

So het hierdie regverdige man op die vaste fondament van die Woord van God gestaan. Die lig van die hemel het sy aangesig verlig. Sy grootheid en reinheid van karakter, sy vrede en vreugde van hart was duidelik vir almal toe hy teen die krag van die dwaling getuig het en van die voortreflikheid van die geloof wat die wêreld oorwin. GS 157.1

Die hele vergadering was vir ‘n tyd sprakeloos van verbasing. Met sy eerste antwoord het Luther op ‘n lae toon gepraat, met ‘n respekvolle, byna onderdanige houding. Die Katolieke het dit vertolk as ‘n bewys dat sy moed hom begin begewe het. Hulle het die versoek vir ‘n vertraging as bloot die aanloop tot sy herroeping beskou. Karel self het, toe hy half minagtend die monnik se verslete gedaante, sy gewone kleredrag en die eenvoud van sy toespraak opmerk, verklaar dat “...hierdie monnik nooit ‘n ketter van my sal maak nie.” Die moed en standvastigheid wat hy nou aan die dag gelê het, asook die krag en helderheid van sy redenasie, het al die partye met verbasing gevul. Die keiser, met bewondering gevul, het uitgeroep: “Hierdie monnik spreek met ‘n onverskrokke hart en onwrikbare moed.” Baie van die Duitse vorste het met trots en vreugde na hierdie verteenwoordiger van hulle land gekyk. GS 157.2

Die ondersteuners van Rome het aan die kortste ent getrek; hulle saak het nou in ‘n baie ongunstige lig verskyn. Hulle het gepoog om hulle mag te handhaaf, nie deur op die Skrif aanspraak te maak nie, maar deur hulle toevlug na dreigemente -Rome se onfeilbare argument - te neem. Die woordvoerder van die Ryksdag het gesê, “As jy nie herroep nie, sal die keiser en die state van die ryk beraadslaag watter weg teen ‘n onverbeterlike ketter gevolg moet word.” GS 157.3

Luther se vriend, wat met groot vreugde na sy edele verdediging geluister het, het vir hierdie woorde gesidder; maar die doktor self het kalm gesê: “Mag God my help, want ek kan niks herroep nie.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 8. GS 158.1

Hy is gelas om die Ryksdag te verlaat terwyl die vorste saam beraadslaag het. Daar is gevoel dat ‘n groot krisis aangebreek het. Luther se volgehoue weiering om hom te onderwerp, kan die geskiedenis van die kerk vir eeue in die toekoms beïnvloed. Daar is besluit om hom nog ‘n geleentheid te bied om te herroep. Vir die laaste keer is hy voor die vergadering gebring. Weereens is die vraag gestel of hy van sy leerstellings afstand sou doen. “Ek het geen ander antwoord nie...” het hy gesê, “...as die wat ek reeds gegee het.” Dit was duidelik dat hy, nie deur beloftes of dreigemente, oorgehaal kon word om aan die mandaat van Rome toe te gee nie. GS 158.2

Die pouslike leiers was vertoornd dat hulle mag, wat konings en edeles laat sidder het, aldus deur ‘n nederige monnik verag is; hulle het daarna verlang om hom hul toorn te laat ervaar deur sy lewe uit hom te martel. Maar Luther, wat ten volle die gevaar waarin hy verkeer besef het, het almal met Christelike waardigheid en kalmte aangespreek. Sy woorde was vry van hoogmoed, drif en wanvoorstelling. Hy het van homself en die invloedryke manne om hom vergeet en slegs die teenwoordigheid van Een, oneindig hoër as die pous, prelate, konings en keisers, ervaar. Christus het deur Luther se getuienis met ‘n mag en grootsheid gespreek wat beide vriende en vyande van daardie tyd met ontsag en verwondering geïnspireer het. Die Gees van God was in die raad teenwoordig en het die harte van die hoofde van die ryk beïndruk. Verskeie van die vorste het met vrymoedigheid die regverdigheid van Luther se saak erken. Baie was oortuig van die waarheid; maar by sommige was die indrukke wat ontvang is, nie blywend nie. Daar was ‘n ander klas wat nie op daardie stadium hulle oortuigings uitgespreek het nie, maar wat, nadat hulle die Skrifte self deursoek het, onverskrokke aanhangers van die hervorming geword het. GS 158.3

Die keurvors Frederik, het angstig na Luther se verskyning voor die Ryksdag uitgesien en met groot aandoening het hy na sy toespraak geluister. Met vreugde en trots het hy die doktor se moed, fermheid, selfbeheersing en vasbeslotenheid gesien en hy het besluit om meer vas in sy verdediging te staan. Hy het die partye in die stryd vergelyk en gesien dat die wysheid van pous, konings en prelate deur die krag van die waarheid tot niet gemaak is. Die pousdom het ‘n nederlaag gely wat onder alle nasies in alle eeue gevoel sou word. GS 159.1

Terwyl die legaat die effek van Luther se toespraak waargeneem het, het hy, soos nog nooit tevore nie, vir die veiligheid van die Romeinse mag gevrees en besluit om alle middels tot sy beskikking aan te wend om die omverwerping van die hervormer te bewerkstellig. Met al die welsprekendheid en diplomatieke vaardigheid waarvoor hy so by uitstek onderskei is, het hy die jeugdige keiser op die dwaasheid en gevaar gewys om die vriendskap en ondersteuning van die magtige stoel van Rome op te offer vir die saak van ‘n niksbeduidende monnik. GS 159.2

Sy woorde was nie sonder effek nie. Die dag na Luther se repliek, het Karel ‘n boodskap aan die Ryksdag laat voorlê, waarin hy sy voorneme aangekondig het om die beleid van sy voorgangers uit te voer om die Katolieke godsdiens te handhaaf en te beskerm. Aangesien Luther geweier het om sy dwalings te herroep, moes die kragtigste maatreëls teen hom en die dwaalleer wat hy geleer het, toegepas word. “Een enkele monnik, mislei deur sy eie dwaasheid, het teen die geloof van die Christendom opgestaan. Om sulke goddeloosheid te staak, sal ek my koninkryke, my skatte, my vriende, my liggaam, my bloed, my siel en my lewe opoffer. Ek staan op die punt om hierdie Augustynse Luther te laat gaan en hom te verbied om die geringste oproer onder die volk te veroorsaak. Ek sal dan teen hom en teen sy aanhangers as aanstootlike ketters optree, deur ekskommunikasie, deur interdik en op alle maniere om hulle te vernietig. Ek doen ‘n beroep op die lede van die state om hulle soos getroue Christene te gedra.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 9. Nietemin het die keiser verklaar dat Luther se geleibrief gerespekteer word en dat hy toegelaat moes word om sy huis veilig te bereik alvorens stappe teen hom geneem word. GS 159.3

Twee teenstrydige menings is nou onder die lede van die Ryksdag afgedwing. Die afgevaardigdes en verteenwoordigers van die pous het weer daarop aangedring dat die geleibrief van die hervormer verontagsaam moes word. “Die Ryn...” het hulle gesê, “...moet sy as ontvang net soos dié van Johannes Huss ‘n honderd jaar gelede.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 9. Maar die vorste van Duitsland, hoewel self papiste en vyande van Luther, het teen so ‘n skending van openbare vertroue geprotesteer as ‘n vlek op die eer van die nasie. Hulle het op die rampspoed wat op die dood van Huss gevolg het gewys en verklaar dat hulle nie durf ‘n herhaling van die verskriklike euwels wat oor Duitsland gekom het op die hoof van hul jeugdige keiser durf bring nie. GS 160.1

In antwoord op hierdie grondige voorstel het Karel self gesê: “Al sou eer en vertroue uit die hele wêreld verban word, moet hulle ‘n toevlug in die harte van vorste vind.”— Id vol 7, hfst 9. Hy is nog verder deur sommige van Luther se bitterste vyande aangespoor om met die hervormer te handel soos Sigismund met Huss gehandel het, naamlik om hom aan die genade van die kerk oor te lewer; maar gedagtig aan die toneel toe Huss in die openbare vergadering na sy kettings gewys het en die keiser aan sy troubreuk herinner het, het Karel V verklaar: “Ek wil nie graag soos Sigismund bloos nie.” (Sien Lenfant se History of the Council of Constance, vol 1, bl 422). GS 160.2

Tog het Karel die waarhede wat Luther aangebied het, doelbewus verwerp. “Ek is vasbeslote om die voorbeeld van my voorouers na te volg” het die vors geskrywe. — D'Aubigne, vol 7, hfst 9. Hy het besluit om nie die weg van gewoonte te verlaat om in die weë van waarheid en geregtigheid te wandel nie. Omdat sy vaders dit gedoen het, sou hy die pousdom, met al sy wreedheid en korrupsie, beskerm. Dit is die standpunt wat hy ingeneem het en geweier om enige lig wat sy vaders nie ontvang het te aanvaar, of om enige plig te vervul wat hulle nie vervul het nie. GS 161.1

Daar is tans baie mense wat op dieselfde wyse aan die gebruike en tradisies van hulle vaders vashou. Wanneer die Here aan hulle addisionele lig stuur, weier hulle om dit te aanvaar, omdat dit nie aan hulle vaders gegee is nie en dus ook nie deur hulle aanvaar word nie. Ons word nie geplaas waar ons vaders was nie; gevolglik is ons pligte en verantwoordelikhede nie dieselfde as hulle s'n nie. Ons sal God nie behaag deur na die voorbeeld van ons vaders te kyk om ons plig te bepaal nie, in plaas daarvan om self die woord van die waarheid te ondersoek nie. Ons verantwoordelikheid is groter as dié van ons voorouers. Ons is verantwoordelik vir die lig wat hulle ontvang het en wat vir ons as ‘n erfenis oorgelewer is en ons is ook verantwoordelik vir die bykomende lig wat nou uit die Woord van God oor ons skyn. GS 161.2

Van die ongelowige Jode het Christus gesê: “As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie.” (Joh 15:22). Dieselfde Goddelike mag het deur Luther tot die keiser en vorste van Duitsland gespreek. En toe die lig uit God se Woord geskyn het, het sy Gees vir die laaste keer met baie in daardie vergadering gepleit. Soos Pilatus eeue tevore trots en gewildheid toegelaat het om sy hart teen die Verlosser van die wêreld te sluit; soos die bewende Felix aan die boodskapper van die waarheid gesê het: “Gaan vir hierdie keer heen en as ek geleentheid vind, sal ek jou laat roep”; en soos die trotse Agrippa erken het: “Jy beweeg my amper om ‘n Christen te word...” (Hand 24:25;26:28) en hom nogtans van die hemelse boodskap weggedraai het, so ook het Karel V wat aan die stem van hoogmoed en wêreldse beleid toegegee het, besluit om die lig van die waarheid te verwerp. GS 161.3

Gerugte aangaande die planne teen Luther was wyd verspreid en het groot opgewondenheid in die stad veroorsaak. Die hervormer het baie vriende gemaak wat, omdat hulle die verraderlike wreedheid van Rome teenoor almal wat haar korrupsie uitgedaag het geken het, het besluit dat Luther nie geoffer sou word nie. Honderde edelmanne het hulself verbind om hom te beskerm. Baie van hulle het die koninklike boodskap, wat ‘n swak onderwerping aan die beherende mag van Rome ontbloot het, veroordeel. Aan die hekke van huise, en op openbare plekke is plakkate aangebring, waarvan sommige Luther veroordeel het, terwyl ander hom ondersteun het. Op een van hierdie plakkate was die volgende betekenisvolle woorde van ‘n wyse geskryf: “Wee jou, o land, as jou koning ‘n kind is.” (Pred 10:16). Die gewilde geesdrif ten gunste van Luther in die hele Duitsland, het sowel die keiser as die Ryksdag oortuig dat enige onreg wat teenoor hom gepleeg sou word, die vrede van die ryk en selfs die stabiliteit van die troon in gevaar sou stel. GS 162.1

Frederik van Sakse het ‘n beheerde terughoudendheid gehandhaaf en sy werklike gevoelens jeens die hervormer versigtig verberg, terwyl hy hom terselfdertyd met onvermoeide waaksaamheid bewaak en al sy bewegings en die van sy vyande dopgehou het. Maar daar was baie wat geen poging aangewend het om hul simpatie met Luther te verberg nie. Hy is deur vorste, grawe, baronne en ander persone van onderskeiding, leke sowel as kerklikes besoek. “Die kamertjie van die doktor...” het Spalatinus geskryf, “...kon nie al die besoekers wat hulself aangemeld het huisves nie.” — Martyn, deel 1, bl 404. Die mense het hom aangestaar asof hy iets bomenslik was. Selfs diegene wat geen vertroue in sy leerstellings gehad het nie, kon nie anders as om die verhewe integriteit wat hom daartoe gelei het om die dood aan te durf eerder as om sy gewete te skend, te bewonder nie. GS 162.2

Ernstige pogings is aangewend om Luther se toestemming tot ‘n kompromie met Rome te verkry. Adellikes en vorste het hom daarop gewys dat indien hy sou volhard met die veroordeling van die kerk en die konsilies, hy binnekort uit die ryk verban sou word en geen verdediging sou hê nie. Hierop het Luther geantwoord: “Die evangelie van Christus kan nie sonder aanstoot verkondig word nie ... Waarom sou vrees of die vrees vir gevaar my dan van die Here skei en van die Goddelike Woord wat alleen die waarheid is? Nee; ek sal eerder my liggaam, my bloed en my lewe prysgee.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 10. GS 163.1

Weer is daar by hom aangedring om hom aan die oordeel van die keiser te onderwerp en dan sou hy niks te vrees hê nie. ldquo;Met my hele hart stem ek in...” het hy gesê, “...dat die keiser, die vorste en selfs die gemeenste Christen my werke moet ondersoek en oordeel; maar op een voorwaarde, dat hulle die Woord van God as maatstaf gebruik. ‘n Mens hoef niks anders te doen as om dit te gehoorsaam nie. Moenie my gewete, wat aan die Heilige Skrif gebind en vasgeketting is, geweld aandoen nie.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 10. GS 163.2

Op ‘n ander versoek het hy geantwoord: “Ek is gereed om my geleibrief te verloën. Ek plaas my persoon en my lewe in die keiser se hande, maar die Woord van God — nooit!” — Id vol 7, hfst 10. Hy het verklaar dat hy gewillig was om hom aan die besluit van ‘n algemene raad te onderwerp, maar slegs op voorwaarde dat die raad volgens die Skrif moes besluit. “Wat die Woord van God en die geloof betref...” het hy gesê, “...kan elke Christen net so ‘n goeie regter soos die pous vir hom wees, al word dié ook deur ‘n miljoen konsilies ondersteun.” — Martyn, vol 1, bl 410. Beide vriende en vyande was uiteindelik oortuig dat verdere pogings tot versoening nutteloos sou wees. GS 163.3

As die hervormer aan een enkele punt toegegee het, sou Satan en sy leërskare die oorwinning behaal het. Maar sy onwrikbare standvastigheid was die manier waarop die kerk bevry is en ‘n nuwe en beter era begin is. Die invloed van hierdie een man wat dit durf waag het om vir homself te dink en in godsdienstige aangeleenthede op te tree, het die kerk en die hele wêreld beïnvloed, nie net in sy eie tyd nie, maar ook in alle toekomstige geslagte. Sy standvastigheid en getrouheid sou, tot aan die einde van tyd, almal wat ‘n soortgelyke ervaring sou deurmaak, versterk. Die mag en majesteit van God het bo die raad van mense en die mag van Satan uitgestaan. GS 164.1

Luther is spoedig op gesag van die keiser beveel om terug te keer huis toe en hy het geweet dat hierdie kennisgewing vinnig deur sy veroordeling opgevolg sou word. Dreigende wolke het oor sy pad saamgepak; maar met sy vertrek uit Worms, was sy hart vol lof en blydskap. “Die duiwel self...” het hy gesê, “...het die pous se vesting bewaak; maar Christus het ‘n wye deurbraak daarin gemaak en Satan was gedwing om te bely dat die Here magtiger as hy is.” — D'Aubigne, vol 7, hfst 11. GS 164.2

Na sy vertrek, nog steeds begerig dat sy fermheid nie as rebellie vertolk moes word nie, het Luther aan die keiser geskryf: “God, wat die harte deursoek, is my getuie dat ek opreg bereid is om u majesteit te gehoorsaam, in eer of oneer, in lewe of in dood en sonder enige uitsondering, behalwe die Woord van God, waardeur die mens lewe. In al die aangeleenthede van hierdie huidige lewe, sal my getrouheid onwankelbaar wees, want hierin is geen verlies of verlossing nie. Maar wat ewige belange betref, wil God nie dat die mens hom aan ‘n mens moet onderwerp nie, want sulke onderwerping in geestelike aangeleenthede is ware aanbidding en moet slegs aan die Skepper gegee word.” — Id, vol 7, hfst 11. GS 164.3

Op sy terugreis vanaf Worms, was Luther se ontvangs nog meer vleiend as tydens sy reis daarheen. Vorstelike geestelikes het die geëkskommunikeerde monnik verwelkom en burgerlike owerhede het die man wat die keiser aan die kaak gestel het, vereer. Hy is aangespoor om te preek en ondanks die keiserlike verbod, het hy weer die preekstoel bestyg. “Ek het nooit my woord gegee om die Woord van God vas te ketting nie en ek sal ook nie” het hy gesê. — Martyn, vol 1, bI 420. GS 164.4

Hy was nie lank uit Worms weg nie toe die Roomsgesindes die keiser oorgehaal het om ‘n edik teen hom uit te reik. In hierdie dekreet is Luther as “Satan self in die vorm van ‘n mens en geklee in ‘n monnikskleed” veroordeel. — D'Aubigne, vol 7, hfst 11. Daar is beveel dat, sodra sy geleibrief verstryk het, maatreëls ingestel moes word om sy werk te beëindig. Alle mense is verbied om hom te huisves, hom van voedsel of drank te voorsien, of deur ‘n woord of daad, in die openbaar of privaat, hom te help of by te staan. Waar hy hom ook al mag bevind, moes hy gevange geneem en aan die owerheid oorgelewer word. Sy aanhangers moes ook gevange geneem word en beslag op hulle eiendom gelê word. Sy geskrifte moes vernietig word en uiteindelik moes almal wat teen hierdie dekreet sou optree, by die veroordeling daarvan ingesluit word. GS 165.1

Die keurvors van Sakse en die vorste wat Luther goedgesind was, het Worms kort na Luther se vertrek verlaat en die keiser se dekreet het die goedkeuring van die Ryksdag weggedra. Die Roomsgesindes was nou verheug. Hulle het die lot van die hervorming as verseël beskou. GS 165.2

In hierdie uur van gevaar het God vir sy dienaar ‘n uitweg voorsien. ‘n Waaksame oog het Luther se bewegings gevolg en ‘n opregte en edele hart het besluit om hom te red. Dit was duidelik dat Rome met niks minder as sy dood tevrede sou wees nie; slegs deur hom te versteek kon hy uit die bek van die leeu gered word. God het wysheid aan Frederik van Sakse verleen om ‘n plan vir die behoud van die hervormer te beraam. Met die samewerking van troue vriende is die keurvors se planne uitgevoer en is Luther vir vriend en vyand weggesteek. Op sy reis huiswaarts, is hy gevang, van sy medereisigers geskei en vinnig deur die woud na die kasteel van Wartburg, ‘n afgeleë bergvesting, ontvoer. Beide sy beslaglegging en verberging, het op so ‘n geheimsinnige wyse geskied, dat selfs Frederik vir ‘n lang tyd nie geweet het waar hy was nie. Hierdie onkunde was nie sonder doel nie, want solank die keurvors nie geweet het waar Luther was nie, kon hy niks verklap nie. Hy het homself tevrede gestel dat die hervormer veilig was en met hierdie kennis was hy tevrede. GS 165.3

Die lente, somer en herfs het verbygegaan en die winter het aangebreek en Luther was steeds ‘n gevangene. Aleander en sy ondersteuners was verheug toe dit geblyk het dat die lig van die evangelie geblus was. Maar in plaas hiervan, het die hervormer sy lamp uit die voorraadkamer van die waarheid gevul; en die lig daarvan sou met helderder strale voortskyn. GS 166.1

In die vriendelike veiligheid van Wartburg, was Luther vir ‘n tyd lank verheug oor sy ontkoming van die hitte en beroering van die stryd. Maar hy kon nie lank tevredenheid in stilte en rus vind nie. Gewoond aan ‘n lewe van aktiwiteit en streng konflik, kon hy die onaktiwiteit nie verduur nie. In daardie eensame dae het die toestand van die kerk voor sy gees opgedoem en hy het moedeloos uitgeroep: “Helaas! daar is niemand in hierdie laaste dae van Sy toorn om soos ‘n muur voor die Here te staan en Israel te red nie!” — D'Aubigne, vol 9, hfst 2. Weereens het sy gedagtes na homself teruggekeer en hy het gevrees dat hy van lafhartigheid beskuldig sou word omdat hy hom van die stryd onttrek het. Toe het hy homself oor sy traagheid en selfgenoegsaamheid verwyt. Maar terselfdertyd het hy daagliks meer bereik as wat vir een mens moontlik was om te doen. Sy pen was nooit ledig nie. Terwyl sy vyande hulself gevlei het dat hy die swye opgelê is, was hulle verbaas en verward deur die tasbare bewys dat hy steeds aktief was. ‘n Hele aantal traktate wat deur sy pen uitgereik is, het dwarsdeur Duitsland versprei. Ook het hy ‘n belangrike diens vir sy landgenote verrig deur die Nuwe Testament in Duits te vertaal. Vanuit sy rotsagtige Patmos, het hy vir byna ‘n hele jaar lank die evangelie verkondig en die sondes en dwalinge van die tyd bestraf. GS 166.2

Maar dit was nie slegs om Luther van die toorn van sy vyande te bewaar, of vir hom ‘n rustige tyd vir hierdie belangrike werk te skenk, dat God sy dienaar uit die openbare lewe onttrek het nie. Daar was baie meer kosbare resultate wat verkry moes word. In die eensaamheid en geborgenheid van sy skuilplek in die berg, was Luther van sy aardse steun verwyder en van menslike lof uitgesluit. Op hierdie wyse is hy van die hoogmoed en selfvertroue wat so dikwels deur sukses veroorsaak word, gered. Deur lyding en vernedering was hy weer voorberei om veilig op die duiselige hoogtes waartoe hy so skielik verhef is, te wandel. GS 167.1

Soos mense hulle oor die vryheid wat die waarheid bied verheug, is hulle geneig om diegene wat God gebruik het om die kettings van dwaling en bygeloof te verbreek, te verhoog. Satan poog altyd om mense se gedagtes en geneenthede van God weg te lei en dit op menslike instrumente te vestig; hy lei hulle om die blote instrument te vereer en die Hand wat al die gebeure van voorsienigheid rig, te ignoreer. Te dikwels verloor godsdienstige leiers wat op hierdie wyse geprys en vereer word, hulle afhanklikheid van God uit die oog en word tot vertroue in hulleself gelei. As gevolg hiervan, poog hulle om die gedagtes en gewetes van die mense, wat geneig is om na hulle vir leiding te kyk in plaas daarvan om na die Woord van God te kyk, te beheer. Dikwels word die werk van hervorming vertraag as gevolg van hierdie gees van sy ondersteuners. Dit was van hierdie gevaar dat God die saak van die hervorming wou bewaak. Hy wou nie hê dat die werk die stempel van die mens in plaas van dié van God moes dra nie. Die oë van die mense was op Luther as die verklaarder van die waarheid gerig; en nou is hy verwyder sodat alle oë op die ewige Outeur van die waarheid gerig kon word. GS 167.2