Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 7—Luther se Skeiding van Rome
Op die voorgrond van diegene wat geroep is om die kerk uit die duisternis van die pousdom na die lig van ‘n suiwerder geloof te lei, was Martin Luther. Ywerig, vurig en toegewyd, met geen vrees behalwe die vrees van God en wat geen grondslag vir godsdienstige geloof erken het nie, behalwe die Heilige Skrif, was Luther ‘n man vir sy tyd; deur hom het God ‘n groot werk vir die hervorming van die kerk en die verligting van die wêreld volbring. GS 112.1
Soos die eerste verkondigers van die evangelie, het Luther uit die geledere van armoede ontstaan. Sy vroeë jare is in die nederige huis van ‘n Duitse landbewoner deurgebring. Deur sy daaglikse geswoeg as mynwerker, het sy vader die middele vir sy opleiding verdien. Hy was bedoel om vir ‘n regsgeleerde te studeer, maar dit was God se doel om hom ‘n bouer van die groot tempel wat deur die eeue so stadig verrys het, te maak. Swaarkry, ontbering en streng dissipline was die skool waarin Oneindige Wysheid Luther vir die belangrike sending van sy lewe voorberei het. GS 112.2
Luther se vader was ‘n man met ‘n sterk, aktiewe verstand, forse krag van karakter, eerlik, vasberade en reguit. Hy was getrou aan sy pligsbesef, wat die gevolge daarvan ook al sou wees. Sy uitnemende goeie verstand het daartoe gelei dat hy die klooster-stelsel met wantroue bejeën het. Hy was baie ontevrede toe Luther, sonder sy toestemming, tot ‘n klooster toegetree het en dit het twee jaar geneem voordat die vader met sy seun versoen is; en selfs toe het hy nie van sienswyse verander nie. GS 112.3
Luther se ouers het groot sorg aan die opvoeding van hulle kinders bestee. Hulle het gepoog om hulle in die kennis van God en in die beoefening van Christelike deugde te onderrig. Die vader se gebede het dikwels ten aanhore van sy seun opgegaan, sodat die kind die naam van die Here sou onthou en dat dit hom eendag sou help vir die bevordering van Sy waarheid. Hierdie ouers het van elke geleentheid vir morele of intellektuele kultuur wat hul swaar lewe toegelaat het, gebruik gemaak om hulle kinders te bevoordeel. Hulle het ernstig en volhardend gepoog om hulle vir ‘n lewe van vroomheid en bruikbaarheid voor te berei. In hul fermheid en sterkte van karakter, was hulle soms te streng; maar die hervormer self, hoewel hy daarvan bewus was dat hulle in sommige opsigte gefouteer het, het meer in hul dissipline gevind om goed te keur as om te veroordeel. GS 112.4
Op skool, waarheen hy op ‘n vroeë ouderdom gestuur is, is Luther hardhandig en selfs met geweld behandel. Die armoede van sy ouers was van so aard, dat hy van die skool wat in ‘n ander dorp geleë was, op pad huis toe vir ‘n tyd lank verplig was om van deur tot deur vir sy voedsel te sing en hy het dikwels honger gely. Die somber, bygelowige idees aangaande godsdiens wat toe geheers het, het hom met vrees gevul. Hy sou in die nag met hartseer gaan lê en met bewing vooruitsien na ‘n donker toekoms en ‘n voortdurende vrees aan die gedagte van God as ‘n streng, onverbiddelike regter, ‘n wrede tiran, eerder as ‘n liefdevolle Vader. GS 113.1
Tog, onder soveel en sulke groot ontmoedigings, het Luther vasberade voortgebeur na die hoë standaard van morele en intellektuele uitnemendheid wat sy siel aangetrek het. Hy het gedors na kennis en die ernstige en praktiese aard van sy verstand het by hom ‘n begeerte gewek vir die vaste en deugsame, eerder as pronkerigheid en oppervlakkigheid. GS 113.2
Toe hy op agtienjarige ouderdom die Universiteit van Erfurt betree, was sy situasie en vooruitsigte gunstiger as in sy vroeëre jare. Sy ouers, wat deur hul bekwame vaardigheid nou beter daaraan toe was, kon alle nodige hulp aan hom verleen. En die invloed van oordeelkundige vriende het die somber effekte van sy vorige opleiding ietwat verminder. Hy het hom toegelê op die bestudering van die beste outeurs en ywerig hul waardevolste idees en die wysheid van die wyse sy eie gemaak. Selfs onder die streng dissipline van sy voormalige leermeesters het hy vroeg reeds blyke van skranderheid getoon en onder die gunstige invloede het sy verstand vinnig ontwikkel. ‘n Goeie geheue, lewendige verbeelding, sterk redenasievermoë en onvermoeide ywer het hom spoedig in die voorste rang van sy medestudente geplaas. Intellektuele dissipline het sy begripsvermoë versterk en dit het in hom ‘n vaardigheid van gees en ‘n skerp waarnemingsvermoë gekweek wat hom op die konflikte in sy lewe voorberei het. GS 113.3
Die vrees van die Here was blywend in die hart van Luther, wat hom in staat gestel het om sy standvastigheid van voorneme te handhaaf en hom tot diepe nederigheid voor God te lei. Hy het ‘n diepe besef van sy afhanklikheid van Goddelike hulp gehad en hy het nooit nagelaat om elke dag met gebed te begin nie, terwyl sy hart voortdurend ‘n gebed om leiding en ondersteuning geuiter het. “Om goed te kan bid...” het hy dikwels gesê, “...is die beste deel van die studie.” — D'Aubigne, History of the Reformation of the Sixteenth Century, vol 2, hfst 2. GS 114.1
Onderwyl hy eendag in die biblioteek van die universiteit besig was om boeke deur te kyk, het Luther ‘n Latynse Bybel ontdek. Nog nooit tevore het hy ‘n boek soos hierdie gesien nie. Hy was selfs onkundig oor die bestaan daarvan. Hy het gedeeltes van die evangelies en sendbriewe wat tydens openbare aanbidding aan die mense voorgelees is gehoor en hy was onder die indruk dat dit die hele Bybel was. Nou het hy vir die eerste keer die hele Woord van God voor hom gesien. Met gemengde gevoelens van ontsag en verwondering, het hy deur die heilige bladsye geblaai; met ‘n vinnige pols en ‘n kloppende hart het hy vir homself die woorde van die lewe gelees en kortkort verpoos en uitgeroep: “O, dat God vir my so ‘n boek vir myself sou gee!” — D'Aubigne vol 2, hfst 2. Engele van die hemel was aan sy sy en ligstrale vanaf die troon van God het die skatte van die waarheid vir sy begrip geopenbaar. Hy was altyd bevrees om God te mishaag, maar nou het die diep oortuiging van sy toestand as sondaar, hom soos nog nooit tevore nie, aangegryp. GS 114.2
'n Opregte begeerte om vry van sonde te wees en vrede by God te vind, het hom uiteindelik daartoe gelei om ‘n klooster te betree en homself aan ‘n kloosterlewe te wy. Hier moes hy die laagste sleurwerk verrig en van huis tot huis bedel. Hy was op ‘n ouderdom wanneer daar gretiglik gesmag word na respek en waardering en hierdie slaafse take was diep vernederend vir sy natuurlike gevoelens; maar hy het sy vernedering geduldig verduur en geglo dat dit vanweë sy sondes, noodsaaklik was. GS 115.1
Elke oomblik wat hy van sy daaglikse pligte onthef was het hy vir studie aangewend, homself van slaap beroof en selfs die tyd wat hy aan sy karige maaltye bestee het, misgun. Bo alles het hy homself in die bestudering van die Woord van God verlustig. Hy het ‘n Bybel wat aan die muur van die klooster vasgeketting was ontdek en dikwels daarna verwys. Namate sy oortuiging van sonde verdiep het, het hy gepoog om deur sy eie werke vergifnis en vrede te verkry. Hy het ‘n baie streng lewe gely en deur te vas, waaksaamheid en met ‘n geswoeg probeer om die euwels van sy natuur, waarvan die kloosterlewe hom nie kon bevry nie, te onderwerp. Geen opoffering, waardeur hy die suiwerheid van hart sou bereik wat hom in staat sou stel om die goedkeuring van God te bekom nie, was vir hom te veel nie. “Ek was inderwaarheid ‘n vrome monnik...” het hy later gesê, “...en het die reëls van my orde strenger nagevolg as wat ek kan uitdruk. As ‘n monnik ooit die hemel sou kon verwerf deur sy werke as monnik, sou ek beslis daarop geregtig gewees het ... As dit langer sou voortgaan, sou ek my selfkastyding tot die dood toe gedra het.” — D’ Aubigne, vol 2, hfst 3. As gevolg van hierdie streng dissipline het sy kragte afgeneem en hy het aan spasmas van floutes gely, waarvan hy nooit weer heeltemal herstel het nie. Maar met al sy pogings het sy beswaarde siel geen verligting gevind nie. Hy is uiteindelik tot die punt van wanhoop gedryf. GS 115.2
Toe dit vir Luther voorgekom het asof alles verlore was, het God vir hom ‘n vriend en helper verwek. Die vrome Staupitz het die Woord van God vir Luther se denke oopgestel en hom weg van homself laat kyk, hom te laat staak met die bepeinsing van oneindige straf vir die oortreding van God se wet en na Jesus, Sy sonde-vergewende Verlosser, te kyk. “In plaas van jouself te martel as gevolg van jou sondes, werp jouself in die arms van die Verlosser. Vertrou op Hom, op die geregtigheid van Sy lewe, op die versoening van sy dood... Luister na die Seun van God. Hy het mens geword om jou die versekering van Goddelike guns te gee. Wees lief vir Hom wat jou eerste liefgehad het.” — D'Aubigne, vol 2, hfst 4. So het hierdie boodskapper van genade gepraat. Sy woorde het ‘n diep indruk op Luther gemaak. Na vele worsteling met sy lank-gekoesterde dwalings, was hy in staat om die waarheid in te neem en het hy vrede vir sy ontstelde siel gevind. GS 116.1
Luther is as priester georden en is vanuit die klooster tot ‘n professoraat aan die Universiteit van Wittenberg geroep. Hier het hy homself op ‘n studie van die Skrif in die oorspronklike tale toegelê. Hy het die Bybel begin doseer; en die Psalms, die Evangelies en die Sendbriewe is vir die begrip van menige verheugde luisteraars oopgestel. Staupitz, sy vriend en meerdere, het hom aangespoor om die kansel te bestyg en die Woord van God te verkondig. Luther het geaarsel omdat hy onwaardig gevoel het om namens Christus met die mense te praat. Eers na ‘n lang stryd het hy aan die versoeke van sy vriende toegegee. Hy was alreeds goed met die Skrif bemagtig en die genade van God het op hom gerus. Sy welsprekendheid het sy toehoorders geboei; die duidelikheid en krag waarmee hy die waarheid voorgehou het, het hulle oortuig en sy ywer het hulle harte aangeraak. GS 116.2
Tot dusver was Luther ‘n getroue volgeling van die Roomse Kerk en hy het nie gedink dat hy ooit iets anders sou wees nie. In die voorsienigheid van God is hy gelei om Rome te besoek. Hy het die reis te voet afgelê en onderweg by die kloosters tuisgegaan. In ‘n klooster in Italië was hy verwonderd oor die rykdom, prag en weelde wat hy gesien het. Die monnike is met ‘n vorstelike inkomste bedeel en het in pragtige wooneenhede gewoon, geklee in die rykste en mees duursaamste klere en het aan ‘n weelderige tafel gesmul. Met pynlike bedenkinge het Luther hierdie toneel met die selfverloëning en ontbering van sy eie lewe vergelyk. Sy gemoed was verward. GS 117.1
Uiteindelik het hy die stad op die sewe heuwels in die verte gesien. Diep ontroerd het hy op die grond neergeval en uitgeroep: “Heilige Rome, ek groet jou!” — D'Aubigne, vol 2, hfst 6. Hy het die stad binnegegaan, die kerke besoek, na die wonderlike verhale van priesters en monnike geluister en aan al die vereiste seremonies deelgeneem. Oral waar hy gekyk het, het hy tonele aanskou wat hom met verbasing en afsku vervul het. Hy het gesien dat daar verdorwenheid onder alle klasse van die geestelikes bestaan het. Hy het onwelvoeglike grappies van prelate gehoor en was met afgryse gevul oor hul vreeslike godslastering, selfs tydens die mis. Soos hy met die monnike en burgers gemeng het, het hy oral losbandigheid en onmatigheid gesien. Waar hy hom ook gedraai het, het hy in die plek van heiligheid, lastering gevind. “Niemand kan hom voorstel nie...” het hy geskryf, “...watter sondes en berugte dade in Rome gepleeg word nie; dit moet gesien en gehoor word om geglo te word. Dit is hoekom daar gesê word: As daar ‘n hel is, is Rome daarvoor gebou; dit is ‘n afgrond waaruit elke soort sonde voortkom.”. — D'Aubigne, vol 2, hfst 6. GS 117.2
Deur ‘n onlangse dekreet is ‘n aflaat deur die pous aan almal belowe wat op hul knieë “Pilatus se trap” sou bestyg, waarvan gesê word dat dit die trap was waarmee die Verlosser afgekom het nadat Hy die Romeinse geregsaal verlaat het en dat dit deur ‘n wonderwerk van Jerusalem na Rome “oorgeplaas” is. Luther het op ‘n dag hierdie trappies met volle toegewydheid bestyg, toe dit skielik geklink het asof ‘n stem wat soos donderweer klink aan hom sê: “Die regverdige sal uit die geloof lewe.” (Rom 1:17). Hy het opgestaan en in skaamte en met afgryse van die plek af weggehaas. Daardie teks het nooit sy mag oor sy siel verloor nie. Van toe af het hy duideliker as ooit tevore die dwaling om op mense vir verlossing te vertrou gesien en die noodsaaklikheid van voortdurende geloof in die verdienste van Christus. Sy oë is geopen en sou nooit weer vir die dwalinge van die pousdom gesluit word nie. Toe hy sy aangesig van Rome afgewend het, het hy ook sy hart afgewend en van toe af het die skeiding steeds wyer geword totdat hy alle verbintenisse met die Roomse Kerk verbreek het. GS 117.3
Na sy terugkeer uit Rome het Luther van die Universiteit van Wittenberg ‘n Doktoraat in Teologie verwerf. Hy was nou vry om, soos nooit tevore nie, homself aan die Skrifte wat hy liefgehad het te wy. Hy het ‘n plegtige gelofte afgelê om al die dae van sy lewe die Woord van God sorgvuldig te bestudeer en getrou te verkondig en nie die woorde en leerstellings van die pous nie. Hy was nie langer slegs ‘n monnik of professor nie, maar die gemagtigde verkondiger van die Bybel. Hy is as herder geroep om die kudde van God wat honger en dors na die waarheid, te voed. Hy het vasbeslote verklaar dat Christene geen ander leerstellings moes aanvaar as dit wat op die gesag van die Heilige Skrif berus nie. Hierdie woorde het die fondament van die pouslike oorheersing getref. Dit het die belangrikste beginsel van die hervorming bevat. GS 118.1
Luther het die gevaar om menslike teorieë bo die Woord van God te verhef ingesien. Onverskrokke het hy die spekulatiewe ontrouheid van die geletterdes aangeval en die filosofie en teologie wat vir so lank ‘n invloed op die volk gehad het, teëgestaan. Hy het sulke studies as nie slegs waardeloos nie, maar verderflik aan die kaak gestel en gepoog om die gedagtes van sy toehoorders weg van die misleiding van filosowe en teoloë te lei na die ewige waarhede wat deur die apostels en profete verkondig is. GS 118.2
Die boodskap wat hy aan die gretige skares wat aan sy woorde gehang het, oorgedra het, was kosbaar. Nog nooit het hulle sulke leringe aangehoor nie. Die blye boodskap van ‘n Verlosser se liefde en die versekering van vergifnis en vrede deur Sy versoenende bloed, het hulle harte verbly en hulle met ‘n onsterflike hoop besiel. In Wittenberg is daar ‘n lig aangesteek waarvan die strale tot aan die uiterste dele van die aarde sou reik en wat tot die einde van tyd in helderheid sou toeneem. GS 119.1
Maar lig en duisternis kan nie harmonieer nie. Tussen waarheid en dwaling is daar ‘n onversoenbare konflik. Om die een te handhaaf en te verdedig, is om die ander aan te val en omver te werp. Ons Verlosser het self verklaar: “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” (Matt 10:34). Enkele jare na die aanvang van die hervorming, het Luther gesê: “God lei my nie, Hy stoot my vorentoe, Hy dra my weg. Ek is nie meester van myself nie. Ek begeer om in rus te lewe; maar ek is in die middel van oproer en omwentelinge gewerp.” — D'Aubigne, vol 5, hfst 2. Hy was nou op die punt om tot die stryd aangespoor te word. GS 119.2
Die Roomse Kerk het handelsware van die genade van God gemaak. Die tafels van die geldwisselaars (sien Matt 21:12), is langs haar altare opgeslaan en die lug het weergalm van die geskree van kopers en verkopers. Onder voorwendsel dat daar geld vir die oprigting van die St Peters-kerk in Rome ingesamel word, is aflate vir sonde, op gesag van die pous, in die openbaar te koop aangebied. Met die prys van misdaad sou ‘n tempel vir die aanbidding van God opgerig word — die hoeksteen sou met die loon van ongeregtigheid gelê word! Maar juis die middels wat vir Rome se verheerliking aangewend is, het die dodelikste slag vir haar mag en grootsheid uitgelok. Hierdeur was die mees vasberade en suksesvolste vyande van die pousdom opgewek en dit het aanleiding gegee tot die stryd wat die pouslike troon geskud en die trippel-kroon van die pous se hoof laat tuimel het. GS 119.3
Die amptenaar wat amptelik aangestel is om aflate in Duitsland te verkoop, naamlik Tetzel, is skuldig aan een van die grootste oortredings teen die samelewing en teen die wet van God bevind; maar, nadat hy die straf vir sy misdade vrygespring het, is hy in diens geneem om die pous se huursoldaat te wees en sy gewetenlose projekte te bevorder. Met die grootste vermetelheid het hy die mees opvallendste leuens en verwante wonderbaarlikste verhale verkondig, om ‘n onkundige, goedgelowige en bygelowige volk te mislei. Indien hulle die Woord van God besit het, sou hulle nie so mislei gewees het nie. Dit was om hulle onder die beheer van die pousdom te hou, om die mag en rykdom van haar ambisieuse leiers aan te vul, dat die Bybel van hulle weerhou is. (Sien John C Gieseler, Ecclesiastical History, per 4, art 1, par 5). GS 120.1
Wanneer Tetzel ‘n dorp binnegekom het, het ‘n boodskapper voor hom uitgegaan en aangekondig: “Die genade van God en van die heilige vader is by julle poorte.” - D'Aubigne, vol 3, hfst 1. En die volk het hierdie godslasterlike huigelaar verwelkom asof hy God self was wat uit die hemel na hulle neergedaal het. Hierdie berugte handel het in die kerk plaasgevind en Tetzel, wat die kansel bestyg het, het die aflate as die kosbaarste gawe van God opgevyl. Hy het verklaar dat op grond van sy sertifikate van vergifnis, enige sonde wat ‘n koper agterna sou pleeg hom vergewe sou word en dat “berou nie eens nodig was nie.” — D'Aubigne, vol 3, hfst 1. Meer nog, het hy sy toehoorders verseker dat die aflate die mag gehad het om nie net die lewendes nie, maar ook die dooies te red; dat op dieselfde oomblik wat die geld onder op die bodem van sy kis klink, die siel vir wie dit betaal is, uit die vagevuur sou ontsnap en sy weg na die hemel vind. (Sien K R Hagenbach se History of the Reformation, vol 1, bI 96). GS 120.2
Toe Simon Magus aangebied het om die mag om wonderwerke te verrig van die apostels te koop, het Petrus aan hom gesê: “Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.” (Hand 8:20). Maar Tetzel se aanbod is gretiglik deur duisende aangeneem. Goud en silwer het in sy skatkis ingestroom. ‘n Verlossing wat met geld gekoop kon word, was makliker verkrygbaar as dit wat berou, geloof en ywerige inspanning geverg het om sonde te weerstaan en te oorwin. [Sien bylaag nota vir bl 59]. GS 121.1
Die leer van aflate is in die Roomse Kerk deur mense met geleerdheid en vroomheid teëgestaan en daar was baie wat geen vertroue in voorgee gehad het nie, wat in stryd was met rede en die openbaring. Geen prelaat het dit gewaag om sy stem teen hierdie verderflike handel te verhef nie, maar die gemoedere van die mense was verontrus en ongemaklik en baie het gretig verneem of God nie deur een of ander bemiddeling die suiwering van Sy kerk sou bewerkstellig nie. GS 121.2
Luther, hoewel hy steeds ‘n Katoliek van die strengste soort was, is met afgryse gevul deur die godslasterlike aannames van die aflaathandelaars. Baie van sy eie gemeentelede het aflaatbriewe gekoop en eerlank het hulle na hul predikant begin kom, hulle verskillende sondes bely en kwytskelding verwag, nie omdat hulle berou gehad en wou hervorm nie, maar op grond van die aflate. Luther het hulle kwytskelding geweier en hulle gewaarsku dat tensy hulle tot bekering kom en hul lewens hervorm, hulle in hul sondes sou vergaan. In groot verwarring het hulle hul na Tetzel gewend en gekla dat hulle biegvader sy sertifikate geweier het en sommige het summier hulle geld teruggeëis. Die monnik het woedend geword. Hy het die verskriklikste vloeke uitgespreek, brande op die openbare pleine laat aansteek en verklaar dat hy “... ‘n opdrag van die pous gehad het om alle ketters wat vermoedelik sy allerheiligste aflate teëstaan, te verbrand.” — D'Aubigne, vol 3, hfst 4. GS 121.3
Luther het nou met vrymoedigheid as voorstander van die waarheid begin optree. Sy stem is in ‘n ernstige, plegtige waarskuwing vanaf die kansel gehoor. Hy het aan die mense die afstootlike aard van sonde voorgehou en hulle geleer dat dit onmoontlik vir ‘n mens was om deur sy eie werke die skuld daarvan te verminder of die straf daarvan te ontduik. Niks anders as berou teenoor God en geloof in Christus kan die sondaar red nie. Die genade van Christus kan nie gekoop word nie; dit is ‘n gratis geskenk. Hy het die mense aangeraai om nie aflate te koop nie, maar in geloof na ‘n gekruisigde Verlosser te kyk. Hy het van sy eie pynlike ervaring vertel, toe hy tevergeefs gepoog het om deur vernedering en boetedoening saligheid te verkry; en hy het sy toehoorders verseker dat hy vrede en vreugde gevind het deur weg van homself te kyk en in Christus te glo. GS 122.1
Terwyl Tetzel sy handel en goddelose bedrog voortgesit het, het Luther op ‘n meer doeltreffende protes teen hierdie gruwelike misbruike besluit. Baie gou het die geleentheid hom voorgedoen. Die kasteelkerk van Wittenberg het baie relikwieë besit wat op sekere heilige dae aan die mense ten toon gestel is en volle vergifnis van sondes is aan almal wat op daardie stadium die kerk besoek en belydenis gedoen het verleen. Gevolglik het die mense op hierdie dae in groot getalle daarheen gereis. Een van die belangrikste van hierdie geleenthede, naamlik “die Fees van alle Heiliges,” het nader gekom. Op die voorafgaande dag het Luther, saam met die skare wat reeds na die kerk op pad was, ‘n referaat op die deur geplaas wat vyf-en-negentig stellings teen die leer van aflate bevat het. Hy het verklaar dat hy bereid was om hierdie stellings die volgende dag by die universiteit, teen almal wat dit nodig geag het om dit aan te val, te verdedig. GS 122.2
Sy voorstelle het universele aandag getrek. Hulle is gelees en herlees en in alle rigtings herhaal. Groot opgewondenheid het in die universiteit sowel as in die hele stad geheers. Deur hierdie tesisse is aangetoon dat die mag om sonde te vergewe en die straf daarvoor kwyt te skeld, nooit aan die pous of aan enige ander man verleen is nie. Die hele plan was ‘n klug, ‘n misleiding om geld af te pers deur die bygelowe van mense uit te buit, ‘n hulpmiddel van Satan om die siele van almal wat op sy leuenagtige aanmatigings vertrou te vernietig. Daar is ook duidelik getoon dat die evangelie van Christus die waardevolste skat van die kerk is en dat die genade van God wat daarin geopenbaar word, vryelik aan almal wat dit deur berou en geloof soek, toegeken word. GS 123.1
Luther se tesisse het bespreking uitgelok, maar niemand het die uitdaging durf aanvaar nie. Die vrae wat hy geopper het, het binne ‘n paar dae deur die hele Duitsland versprei en binne ‘n paar weke het dit deur die ganse Christendom weerklink. Baie toegewyde Roomsgesindes, wat die verskriklike goddeloosheid wat in die kerk geheers het, gesien en betreur het, maar nie geweet het hoe om die vordering daarvan te stuit nie, het die stellings met groot vreugde gelees en die stem van God daarin herken. Hulle het gevoel dat die Here genadiglik Sy hand uitgestrek het om die vinnig stygende vloedgolf van korrupsie wat vanuit die stoel van Rome gevloei het, te stuit. Vorste en magistrate het hulle heimlik verbly dat daar ‘n beperking op hierdie arrogante mag geplaas sou word, wat die reg van appel teen sy uitsprake ontken. GS 123.2
Maar die sonde-liefhebbende en bygelowige skare was verskrik toe die misleidings wat hulle vrese gestil het, weggevee is. Listige geestelikes, wat in hul werk om misdade te bedryf verstoor is en gesien het dat hul winste in gevaar verkeer het, was woedend en het saamgedrom om hul voorwendsels te handhaaf. Die hervormer het teen bitter beskuldigers te staan gekom. Sommige het hom daarvan beskuldig dat hy oorhaastig en impulsief opgetree het. Ander het hom van aannames beskuldig en verklaar dat hy nie deur God gelei is nie, maar uit hoogmoed en voortvarendheid optree. “Wie weet nie...” het hy geantwoord, “...dat ‘n mens selde enige nuwe idee voortbring, sonder die skyn van trots en sonder om die beskuldiging dat hy twis uitlok nie? ... Waarom is Christus en al die martelare gedood? Omdat dit gelyk het asof hulle trotse vervolgers van die wysheid van die tyd was en omdat hulle nuwighede bevorder het sonder om eers met nederigheid die orakels van die antieke menings te raadpleeg.” GS 123.3
Weer het hy gesê: “Wat ek ook al doen, sal nie deur die wysheid van mense nie, maar deur die raad van God geskied. En as dit die werk van God is, wie sal dit beëindig? As dit nie is nie, wie kan dit bevorder? Nie my wil nie en ook nie hulle s'n nie; maar U wil o Heilige Vader wat in die hemel is.” — D'Aubigne, vol 3, hfst 6. GS 124.1
Alhoewel Luther deur die Gees van God beweeg is om met sy werk te begin, sou hy dit nie sonder ernstige konflik voortsit nie. Die verwyte van sy vyande, hulle wanvoorstelling van sy voornemens en hulle onregverdige en kwaadwillige refleksies op sy karakter en motiewe, het soos ‘n oorweldigende vloed gekom; en hulle was nie sonder gevolge nie. Hy was vol vertroue dat die leiers van die volk, beide van die kerk en die skole, met hom in sy pogings vir hervorming sou verenig. Woorde van aanmoediging van diegene in hoë posisies het hom met vreugde en hoop besiel. Hy het reeds in afwagting ‘n helder dag vir die kerk sien aanbreek. Maar aanmoediging het verander in verwyt en veroordeling. Baie hooggeplaastes, van beide die kerk en staat, was oortuig van die waarheid van sy tesisse; maar hulle het gou ontdek dat die aanvaarding van hierdie waarhede groot verandering sou behels. Om die volk te verlig en te hervorm, sou feitlik op die ondermyning van die gesag van Rome neerkom, wat duisende kanale wat tans in haar skatkis gevloei het sou weglei en sodoende die uitspattigheid en weelde van die pouslike leiers beperk. Verder sou die volk die troon van die pous omvêrwerp en uiteindelik hul eie gesag vernietig, deur die volk te leer om soos verantwoordelike mense te dink en op te tree en slegs na Christus vir hul verlossing te kyk. Om hierdie rede het hulle die kennis wat van God aan hulle gebied is geweier en hulle teen Christus en die waarheid geskaar deur hulle teëstand teen die man wat Hy gestuur het om hulle te verlig. GS 124.2
Luther het gesidder toe hy na homself kyk - een man teen die magtigste magte op aarde. Hy het soms getwyfel of hy werklik deur God gelei is om hom teen die gesag van die kerk te verset. “Wie is ek...” het hy geskryf, “...om die majesteit van die pous teë te staan, voor wie ... die konings van die aarde en die hele wêreld sidder? ... Niemand sal ooit weet wat my hart gedurende die eerste twee jaar gely het nie en in watter moedeloosheid — ek mag sê wanhoop — ek weggesink het nie.” — D'Aubigne, vol 3, hfst 6. Maar hy is nie aan totale moedeloosheid oorgelaat nie. Toe menslike ondersteuning hom in die steek gelaat het, het hy na God alleen opgekyk en geleer dat hy in volkome veiligheid op daardie almagtige Arm kon steun. GS 125.1
Aan ‘n vriend van die hervorming het Luther geskryf: “Ons kan nie die verstaan van die Skrif deur studie of intellek bereik nie. Jou eerste plig is om met gebed te begin. Smeek die Here om, in Sy genade, aan jou ‘n ware begrip van Sy Woord te gee. Daar is geen ander vertolker van die Woord van God as die Outeur van hierdie woorde nie, soos Hy self gesê het: ‘Hulle sal almal deur God geleer word.’ Hoop op niks van jou eie werke of van jou eie verstand nie; vertrou op God alleen en op die invloed van Sy Gees. Neem dit aan van ‘n man wat hierdie ervaring deurgemaak het.” — D'Aubigne, vol 3, hfst 7. Hier is ‘n belangrike les vir diegene wat voel dat God hulle geroep het om die plegtige waarhede vir hierdie tyd aan ander aan te bied. Hierdie waarhede sal die vyandigheid van Satan en mense wat die versinsels wat hy uitgedink het liefhet, opwek. In die konflik met die magte van die bose, word meer as die krag van intellek en die wysheid van die mens benodig. GS 125.2
Wanneer sy vyande hulle op gebruike en tradisie beroep het, of op die bewerings en gesag van die pous, het Luther hulle met die Bybel en die Bybel alleen geantwoord. Hier was argumente wat hulle nie kon weerlê nie; daarom het die slawe van formalisme en bygeloof uitgeroep vir sy bloed, soos die Jode uitgeroep het vir die bloed van Christus. “Hy is ‘n ketter,” het die Roomse yweraars uitgeroep. “Dit is hoogverraad teen die kerk om so ‘n afskuwelike ketter ‘n uur langer te laat lewe. GS 126.1
Laat die steier onmiddellik vir hom opgerig word!” — D'Aubigne, vol 3, hfst 9. Maar Luther het nie hul woede ten prooi geval nie. God het ‘n werk vir hom gehad om te verrig en engele van die hemel is gestuur om hom te beskerm. Baie wat egter die kosbare lig van Luther ontvang het, het die voorwerpe van Satan se toorn geword en ter wille van die waarheid, het hulle onbevrees marteling en die dood verduur. GS 126.2
Luther se leerstellings het die aandag van denkende mense deur die hele Duitsland getrek. Uit sy preke en geskrifte het daar ligstrale geskyn wat duisende wakker gemaak en verlig het. ‘n Lewende geloof het die plek van die dooie formalisme, waarin die kerk vir so lank vasgevang is, ingeneem. Die mense het daagliks hul vertroue in die bygelowe van Romanisme verloor. Die hindernisse van vooroordeel het begin wyk. Die Woord van God, waaraan Luther elke leerstelling en elke bewering getoets het, was soos ‘n tweesnydende swaard, wat sy weg na die harte van die volk oopgesny het. Oral was daar ‘n ontwakende begeerte na geestelike vooruitgang. Oral was daar so ‘n honger en dors na geregtigheid soos wat eeue lank nie geken is nie. Die oë van die mense wat vir so lank op menslike rituele en aardse bemiddelaars gerig was, het nou in berou en geloof na Christus en Hom gekruisig, gedraai. GS 126.3
Hierdie wydverspreide belangstelling het die vrese van die pouslike owerheid nog verder opgewek. Luther is gelas om in Rome op aanklag van kettery te verskyn. Die opdrag het sy vriende met vrees vervul. Hulle was baie bewus van die gevaar wat hom in daardie korrupte stad bedreig het, wat reeds dronk met die bloed van die martelare van Jesus was. Hulle het teen die feit dat hy na Rome moes gaan beswaar aangeteken en gevra dat hy in Duitsland verhoor moes word. GS 126.4
Hierdie reëling is uiteindelik in werking gestel en die pous se legaat is aangestel om die saak aan te hoor. In die opdragte wat die pous aan hierdie amptenaar gegee het, is daar verklaar dat Luther reeds tot ketter verklaar is. Die legaat is dus aangesê “...om hom sonder enige vertraging te vervolg en gevange te neem .” Indien hy standvastig sou bly en die legaat versuim om hom as persoon gevange te neem, was hy gemagtig om “...hom in elke deel van Duitsland voëlvry te verklaar; om almal wat hom aanhang, te verban, te vervloek en te ekskommunikeer.” — D'Aubigne, vol 4, hfst 2. Verder het die pous sy legaat aangesê ten einde die verpestelike kettery wortel en tak uit te roei, om almal, ongeag hulle waardigheid in die kerk of staat, te ekskommunikeer, behalwe die keiser, wat sou versuim om Luther en sy aanhangers te gryp en hulle aan die wraak van Rome oor te lewer. GS 127.1
Hier is die ware gees van pousdom vertoon. Geen spoor van Christelike beginsels of selfs van gemeenskaplike geregtigheid is in die hele dokument te vinde nie. Luther was ‘n lang afstand van Rome; hy het geen geleentheid gehad om sy standpunt te stel of te verdedig nie; nog voordat sy saak ondersoek is, is hy summier as ketter verklaar en op dieselfde dag vermaan, beskuldig en veroordeel; en dit alles deur die selfgemaakte heilige vader, die enigste en hoogste, onfeilbare gesag in die kerk en staat! GS 127.2
In hierdie tyd, toe Luther soveel medelye en raad van ‘n ware vriend nodig gehad het, is Melanchthon deur die voorsienigheid van God, na Wittenberg gestuur. Jonk in jare, beskeie en bedees van houding, het Melanchthon se gesonde oordeel, uitgebreide kennis, en oorredende welsprekendheid, gekombineer met die suiwerheid en opregtheid van sy karakter, universele bewondering en agting afgedwing. Sy uitstekende talente was nie meer opvallend as sy sagmoedige geaardheid nie. Hy het gou ‘n ernstige dissipel van die evangelie geword, asook Luther se mees betroubare vriend en gewaardeerde ondersteuner. Sy sagmoedigheid, versigtigheid en deeglikheid het as aanvulling vir Luther se moed en ywer gedien. Hulle samewerking het krag aan die hervorming verleen en dit was vir Luther ‘n groot bron van bemoediging. GS 127.3
Augsburg was die plek wat vir die verhoor aangewys is en die hervormer het per voet daarheen gereis. Ernstige vrese vir sy veiligheid is gekoester. Daar is openlik gedreig dat hy onderweg na Augsburg onderskep en vermoor sou word en sy vriende het by hom gepleit om dit nie te waag nie. Hulle het hom selfs gesmeek om Wittenberg ‘n tyd lank te verlaat en skuiling by diegene wat hom graag wou beskerm te soek. Maar hy sou nie die posisie waar God hom geplaas het verlaat nie. Hy moes getrou voortgaan om die waarheid te handhaaf, ongeag die storms wat teen hom gewoed het. Hy het gesê: “Ek is soos Jeremia, ‘n man van stryd en twis; hoe meer hulle dreigemente toeneem, hoe meer neem my vreugde toe ... Hulle het reeds my eer en reputasie vernietig. Nog net een ding bly oor; dit is my ellendige liggaam; laat hulle dit neem; hulle sal slegs my lewe met ‘n paar uur verkort. Maar wat my siel betref, dit kan hulle nie neem nie. Hy wat die Woord van Christus aan die wêreld wil verkondig, moet elke oomblik die dood verwag.” — D'Aubigne, vol 4, hfst 4. GS 128.1
Die tyding van Luther se aankoms in Augsburg het groot tevredenheid aan die pouslike legaat verskaf. Die lastige ketter wat die aandag van die hele wêreld aangewakker het, was nou in die mag van Rome en die legaat was vasbeslote dat hy nie moes ontsnap nie. Die hervormer het nagelaat om ‘n geleibrief te verkry. Sy vriende het by hom aangedring om nie daarsonder voor die pouslike legaat te verskyn nie en hulle het self onderneem om dit vanaf die keiser te verkry. Die legaat was van plan om Luther, indien moontlik, te dwing om te herroep, of, indien hy daarin misluk het, hom na Rome te laat vervoer om dieselfde lot as Huss en Hieronymus te deel. Daarom het hy deur sy agente gepoog om Luther aan te spoor om sonder ‘n geleibrief te verskyn en op sy genade te vertrou. Dit het die hervormer beslis geweier om te doen. Eers nadat hy die dokument wat hom van die beskerming van die keiser verseker het, het hy in die teenwoordigheid van die pouslike ambassadeur verskyn. GS 128.2
As ‘n saak van beleid het die Katolieke besluit om Luther deur ‘n skyn van sagmoedigheid oor te wen. Die legaat het in sy onderhoude met hom groot vriendelikheid betoon; maar hy het daarop aangedring dat Luther hom implisiet aan die gesag van die kerk onderwerp en elke punt sonder teëstribbeling of vraag moes toegee. Hy het nie die karakter van die man met wie hy te doen gehad het na regte geskat nie. Luther het as antwoord, sy agting vir die kerk uitgespreek, sy begeerte na die waarheid, sy bereidheid om alle besware teen sy leer te beantwoord en om sy leerstellings aan die beslissing van sekere vooraanstaande universiteite te onderwerp. Maar terselfdertyd het hy beswaar gemaak teen die kardinaal se optrede wat hom versoek het om te herroep sonder om hom verkeerd te bewys. GS 129.1
Die enigste antwoord was: “Herroep, herroep!” Die hervormer het daarop gewys dat sy stellings deur die Skrif onderskraag word en hy het vasbeslote verklaar dat hy nie die waarheid kan verloën nie. Die legaat, wat nie in staat was om Luther se argumente te weerlê nie, het hom met ‘n vloed van verwyte, bespotting en vleiery oorweldig, afgewissel met aanhalings uit die oorlewerings en die woorde van die vaders, wat aan die hervormer geen geleentheid gebied het om te praat nie. Toe dit geblyk het dat die konferensie, indien dit so voortgaan, heeltemal nutteloos sou wees, het Luther uiteindelik teësinnig toestemming gekry om sy repliek skriftelik voor te lê. GS 129.2
“Sodoende...” het hy in ‘n brief aan ‘n vriend geskryf, “...vind die onderdruktes dubbele gewin; eerstens, kan dit wat geskrywe is vir ander se oordeel voorgelê word; en tweedens, het ‘n mens ‘n groter kans om te werk aan die vrese, indien nie die gewete nie, van ‘n arrogante en babbelende despoot, wat ‘n mens andersins deur sy hooghartige taal sal oorweldig.”— Martyn, The Life and Times of Luther, bl 271, 272. GS 130.1
Met die volgende onderhoud, het Luther ‘n duidelike, bondige en kragtige uiteensetting van sy sienswyses aangebied, volledig deur baie aanhalings uit die Skrif ondersteun. Nadat hy hierdie dokument hardop gelees het, het hy dit aan die kardinaal oorhandig, wat dit egter minagtend opsy gesit het, met die verklaring dat dit ‘n massa ledige woorde en irrelevante aanhalings was. Luther, nou ten volle opgewerk, het die hoogmoedige prelaat op sy eie grond ontmoet — die tradisies en die leerstellings van die kerk — en sy aannames totaal omvergewerp. GS 130.2
Toe die prelaat sien dat Luther se argumente onweerlegbaar is, het hy alle selfbeheersing verloor en woedend uitgeroep: “Herroep, of ek sal jou na Rome stuur om daar voor die regters wat opdrag ontvang het om jou saak te ondersoek, te verskyn. Ek sal jou en al jou aanhangers ekskommunikeer, asook almal wat jou te eniger tyd gedoog en hulle uit die kerk werp.” En uiteindelik het hy in ‘n hooghartige en woedende toon bygevoeg: “Herroep of keer nooit weer terug nie.” — D'Aubigne, Londen uitgawe, vol 4, hfst 8. GS 130.3
Die hervormer het dadelik saam met sy vriende onttrek en sodoende duidelik te kenne gegee dat geen herroeping van hom verwag kon word nie. Dit was nie wat die kardinaal in gedagte gehad het nie. Hy het homself gevlei dat hy Luther deur geweld tot onderwerping sou dwing. En nou, alleen agtergelaat met sy ondersteuners, het hy uiters vererg oor die onverwagse mislukking van sy planne, van die een na die ander gekyk. GS 130.4
Luther se pogings by hierdie geleentheid was nie sonder goeie resultate nie. Die groot skare wat teenwoordig was, het die geleentheid gehad om die twee mans met mekaar te vergelyk en self oor die gees wat deur hulle geopenbaar is, asook die krag en waarheid van hulle stellings te oordeel. Hoe kenmerkend was die kontras! Die hervormer, eenvoudig, nederig, standvastig, het in die krag van God gestaan met waarheid aan sy kant; die pous se verteenwoordiger, vol eiebelang, aanmatigend, hoogmoedig en onredelik, was sonder ‘n enkele argument uit die Skrif, maar het nogtans heftig uitgeroep: “Herroep, of word na Rome gestuur vir straf.” GS 131.1
Ondanks die feit dat Luther van ‘n veilige geleide verseker was, het die Roomsgesindes beplan om hom te gryp en gevange te neem. Sy vriende het by hom aangedring dat dit nutteloos was om sy verblyf te verleng, dat hy sonder versuim na Wittenberg moes terugkeer en dat die uiterste versigtigheid aan die dag gelê moes word om sy voorneme te verberg. Hy het Augsburg gevolglik te perd voor dagbreek verlaat, vergesel slegs van ‘n gids wat die landdros tot sy beskikking gestel het. GS 131.2
Met talle voorgevoelens het hy in die geheim deur die donker strate van die stad beweeg. Vyande, waaksaam en wreed, het sy dood beplan. Sou hy van die strikke wat vir hom gestel is ontsnap? Dit was oomblikke van angs en ernstige gebed. Hy het ‘n klein hekkie in die stadsmuur bereik. Dit is vir hom oopgemaak en met sy gids is hy sonder hindernis daardeur. Toe hulle veilig buitekant die stad was, het die vlugtelinge hul vlug verhaas en voordat die legaat van Luther se vertrek verneem het, was hy buite die bereik van sy vervolgers. Satan en sy handlangers is verslaan. Die man wat hulle gedink het in hulle mag is, was weg. Hy het soos ‘n voël uit die strik van die voëlvanger ontsnap. GS 131.3
By die aanhoor van Luther se ontsnapping, is die gesant met verbasing en woede oorweldig. Hy het verwag dat hy groot eer vir sy wysheid en standvastigheid in sy hantering van hierdie kerkversteurder sou ontvang; maar sy hoop is verydel. In ‘n brief aan Frederick, die keurvors van Sakse, het hy uitdrukking aan sy woede gegee, Luther bitterlik veroordeel en geëis dat Frederick die hervormer na Rome moet stuur of uit Sakse verban. GS 132.1
Ter verdediging het Luther dringend daarop aangedring dat die legaat of die pous sy dwalings aan hom uit die Skrif moes toon en plegtig belowe dat hy sy leerstellings sou herroep as dit sou blyk dat dit die teenstrydig met die Woord van God was. En hy het sy dank aan God uitgespreek dat hy waardig geag was om vir so ‘n heilige saak te ly. GS 132.2
Tot dusver het die keurvors min kennis van die hervormde leerstellings gehad, maar die openhartigheid, kragdadigheid en duidelikheid van Luther se woorde het ‘n diep indruk op hom gemaak; en totdat bewys kon word dat die hervormer verkeerd was, het Frederik besluit om as Luther se beskermer op te tree. In antwoord op die eis van die gesant, het hy geskryf: “‘Aangesien Doktor Martin voor jou in Augsburg verskyn het, moet jy tevrede te wees. Ons het nie verwag dat jy hom sou probeer dwing om te herroep sonder om hom van sy dwalinge te oortuig nie. Nie een van die geleerde manne in ons prinsdom het my meegedeel dat Martin se leerstellings goddeloos, antichristelik of ketters is nie.’ Die vors het boonop geweier om Luther na Rome te stuur of hom uit sy state te verban.” — D'Aubigne, vol 4, hfst 10. GS 132.3
Die keurvors het besef dat daar ‘n algemene agteruitgang in die morele beperkings van die samelewing was. Daar was behoefte aan ‘n groot hervormingswerk. Die ingewikkelde en duur reëlings om misdaad te bekamp en te straf, sou onnodig wees indien mense die vereistes van God en die voorskrifte van ‘n verligte gewete sou erken en gehoorsaam. Hy het gesien dat Luther homself bearbei het om hierdie doelwit te bereik en was heimlik verheug dat ‘n beter invloed in die kerk sigbaar was. GS 132.4
Hy het ook gesien dat Luther as professor aan die universiteit by uitstek suksesvol was. Slegs ‘n jaar het verloop sedert Luther sy proefskrifte op die deur van die kasteelkerk geplaas het en reeds was daar ‘n groot afname in die aantal pelgrims wat die kerk tydens die Fees van Alle Heiliges besoek het. Rome is van aanbidders en offergawes ontneem, maar hulle plek is deur ‘n ander klas wat nou na Wittenberg gekom het ingeneem, nie as pelgrims om die relikwieë te aanbid nie, maar as studente om haar sale van geleerdheid te vul. Die geskrifte van Luther het oral nuwe belangstelling in die Heilige Skrif laat opvlam en nie alleen uit alle dele van Duitsland nie, maar ook vanuit ander lande het studente na die universiteit gestroom. Jong mans wat Wittenberg vir die eerste keer gesien het, “...het hulle hande na die hemel opgehef en God geprys omdat Hy die lig van die waarheid uit hierdie stad laat skyn het, soos uit Sion van ouds waarvandaan dit selfs na die verste lande versprei het.” — D'Aubigne, vol 4, hfst 10. GS 133.1
Luther was tot dusver slegs gedeeltelik van die dwalinge van Katolisisme bekeer. Maar toe hy die Heilige Orakels met die pouslike verordeninge en grondwette vergelyk, was hy met verbasing vervul. “Ek lees...” het hy geskryf, “...die verordeninge van die biskoppe en ... ek weet nie of die pous self die Antichris is, of sy apostel nie, so verkeerdelik word Christus daarin voorgestel en gekruisig.” - D'Aubigne vol 5, hfst 1. Op hierdie stadium was Luther nog ‘n voorstander van die Katolieke Kerk en hy het nie gedink dat hy ooit van sy gemeenskap met haar sou skei nie. GS 133.2
Die hervormer se geskrifte en sy leerstellings het na elke nasie in die Christendom uitgebrei. Die werk het na Switserland en Holland versprei. Eksemplare van sy geskrifte het hul weg na Frankryk en Spanje gevind. In Engeland is sy leerstellings as die woord van die lewe ontvang. Ook het die waarheid na België en Italië uitgebrei. Duisende het uit hul dodelike bedwelming ontwaak tot die vreugde en hoop van ‘n lewe in geloof. GS 133.3
Rome het as al hoe meer vertoornd deur die aanvalle van Luther geraak en sommige van sy fanatiese teëstanders, selfs doktore in Katolieke universiteite, het verklaar dat die een wat hierdie opstandige monnik doodmaak, sonder sonde sou wees. Op ‘n dag het ‘n vreemdeling, met ‘n pistool onder sy mantel versteek, die hervormer genader en gevra waarom hy so alleen rondloop. “Ek is in God se hande...” het Luther geantwoord. “Hy is my krag en my skild. Wat kan ‘n mens aan my doen?” — D'Aubigne, vol 6, hfst 2. Toe die vreemdeling hierdie woorde hoor, het hy bleek geword en gevlug asof hy uit die teenwoordigheid van die engele van die hemel wegvlug. GS 134.1
Rome was vasbeslote om Luther te vernietig, maar God was sy beskutting. Sy leerstellings is oral gehoor — “...in huise en kloosters ... in die kastele van die edeles, in die universiteite en paleise van konings...” en edele mense van alle kante het opgestaan om hom in sy pogings te onderskraag. — Id vol 6, hfst 2. GS 134.2
Dit was ongeveer hierdie tyd dat Luther, deur die werke van Huss te lees, ontdek het dat die groot waarheid van regverdiging deur die geloof wat hy self wou handhaaf en onderrig, deur die Boheemse hervormer gehandhaaf is. “Ons almal...” het hy gesê, “...ek, Paulus en Augustinus, was Hussiete sonder om dit te weet! ... God sal dít sekerlik aan die wêreld besoek...” het hy voortgegaan, “...naamlik dat die waarheid reeds ‘n eeu gelede verkondig en verbrand is!” — Wylie, vol 6, hfst 1. GS 134.3
In ‘n beroep op die keiser en adel van Duitsland ten behoewe van die hervorming van die Christendom, het Luther aangaande die pous geskryf: “Dit is vreeslik om die man wat homself in Christus se plek stel, ‘n manjifieke vertoon te sien lewer wat geen keiser hom kan nadoen nie. Is dit om soos die arm Jesus, of die nederige Petrus te wees? Hy is, sê hulle, die heer van die wêreld! Maar Christus, wie se plaasvervanger hy beweer om te wees, het gesê: ‘My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.’ Kan die gesag van ‘n plaasvervanger die van sy meerdere oortref?” — D'Aubigne, vol 6, hfst 3. GS 134.4
Hy het soos volg aangaande die universiteite geskryf: “Ek is bevrees dat die universiteite sal getuig die groot poorte van die hel te wees, tensy hulle ywerig werk om die Heilige Skrif te verduidelik en dit op die harte van die jeug te graveer. Ek raai niemand aan om sy kind te plaas waar die Skrif nie die belangrikste plek inneem nie. Elke instelling waarin mense nie onophoudelik met die studie van God se Woord besig is nie moet korrup word.” — D'Aubigne, vol 6, hfst 3. GS 135.1
Hierdie oproep is vinnig deur die hele Duitsland versprei en dit het ‘n kragtige invloed op die volk uitgeoefen. Die hele nasie was in beroering en menigtes is opgewek om onder die vaandel van hervorming saam te trek. Luther se teenstanders, deur wraaksug aangevuur, het by die pous aangedring om beslissende maatreëls teen hom te neem. Daar is besluit dat sy leerstellings onmiddellik veroordeel moet word. Sestig dae is aan die hervormer en sy aanhangers toegestaan, waarna hulle almal, indien hulle nie herroep nie, geëkskommunikeer sou word. GS 135.2
Dit was ‘n verskriklike krisis vir die hervorming. Eeue lank het Rome se vonnis van ekskommunikasie vrees in die harte van magtige monarge ontketen; dit het magtige ryke met ellende en verwoesting gevul. Diegene wat onder die oordeel daarvan gekom het, is universeel met vrees en afgryse bejeën; hulle is van gemeenskap met hulle medemens afgesny en is voëlvry verklaar om vir uitwissing gejag te word. Luther was nie blind vir die storm wat oor hom sou losbars nie; maar hy het onwrikbaar gestaan en op Christus as sy steun en skild vertrou. Met die geloof en moed van ‘n martelaar het hy geskryf: “Wat gaan gebeur weet ek nie en ek gee nie om om te weet nie ... Laat gebeur wat moet, ek is nie bevrees nie. Nie een blaar sal val sonder die wil van onse Vader nie. Hoeveel te meer sal Hy vir ons sorg! Dit is ‘n geringe ding om vir die Woord te sterf, aangesien die Woord wat vlees geword het, self gesterf het. As ons met Hom sterf, sal ons met Hom lewe; en om dit te deurstaan wat Hy vir ons deurstaan het, sal ons wees waar Hy is en vir ewig by Hom woon.” — D'Aubigne, 3de Londense uitgawe, Walther, 1840, vol 6, hfst 9. GS 135.3
Toe die pouslike bevelskrif Luther bereik, het hy gesê: “Ek verag dit en val dit aan as goddeloos, vals ... Dit is Christus self wat daarin veroordeel word ... Ek is verheug dat ek hierdie onregte moet verduur vir die beste van redes. Ek ervaar al groter vryheid in my hart; want uiteindelik weet ek dat die pous die Antichris is en dat sy troon die troon van Satan self is.” — D'Aubigne, vol 6, hfst 9. GS 136.1
Die mandaat van Rome was egter nie sonder effek nie. Die gevangenis, marteling en die swaard was magtige wapens om gehoorsaamheid af te dwing. Die swakkes en bygelowiges het voor die besluit van die pous gesidder; en hoewel daar algemene simpatie met Luther was, het baie mense gevoel dat die lewe te kosbaar was om vir die saak van hervorming in gevaar te stel. Alles het geblyk daarop te dui dat die hervormer se werk binnekort beëindig sou word. GS 136.2
Maar Luther was steeds onbevrees. Rome het haar vloeke oor hom uitgespreek en die wêreld het toegekyk en nie daaraan getwyfel dat hy sou vergaan of gedwing sou word om toe te gee nie. Maar met bomenslike krag het hy die vonnis van veroordeling teen Rome teruggewerp en in die openbaar sy vasberadenheid om haar vir altyd te laat vaar verklaar. In die teenwoordigheid van ‘n skare studente, doktore en burgers van alle geledere, het Luther die pous se bevelskrif, saam met die kanonieke, die dekrete en sekere geskrifte wat die pouslike gesag onderskraag het, verbrand. Hy het gesê: “My vyande het daarin geslaag om my boeke te verbrand om die saak van die waarheid in die gemoed van gewone mense te benadeel en hul siele te vernietig; om hierdie rede verbrand ek hulle boeke in ruil daarvoor. ‘n Ernstige stryd het pas begin. Tot dusver het ek net met die pous gespeel. Ek het hierdie werk in God se Naam begin; dit sal sonder my en deur Sy mag beëindig word.” — D'Aubigne, vol 6, hfst 10. GS 136.3
Op die beskuldigings van sy vyande wat hom oor die swakheid van sy saak getart het, het Luther geantwoord: “Wie weet of God my nie uitverkies en geroep het nie en of hulle nie behoort te vrees dat hulle, deur my te verag, God self verag nie? Moses was alleen met die uittog uit Egipte; Elia was alleen tydens die regering van koning Agab; Jesaja was alleen in Jerusalem; Eségiël was alleen in Babilon ... God het nooit die hoëpriester of ‘n ander belangrike persoon as profeet gekies nie; maar Hy het gewoonlik nederige en veragte mense gekies en eenkeer selfs ‘n veewagter, Amos. In elke eeu moes die heiliges, in lewensgevaar, die grootstes, konings, vorste, priesters en wyse manne teregwys ... Ek sê nie dat ek ‘n profeet is nie; maar ek sê dat hulle juis bevrees behoort te wees omdat ek alleen is en hulle baie is. Hiervan is ek seker, dat die Woord van God met my en nie met hulle is nie.” — D'Aubigne vol 6, hfst 10. GS 137.1
Tog was dit nie sonder ‘n verskriklike stryd met homself dat Luther besluit het om finaal van die kerk te skei nie. Dit was in gedurende hierdie tyd dat hy geskryf het: “Ek voel elke dag meer en meer hoe moeilik dit is om van die gewetensbesware wat vanaf jou kinderjare by jou ingeboesem is, ontslae te raak. O, hoeveel pyn het dit my nie veroorsaak nie, al het ek ook die Skrif aan my kant, om dit vir myself te regverdig om te waag om alleen teen die pous te staan te kom en hom as die Antichris voor te hou! Hoeveel keer het ek myself nie met bitterheid die vraag wat so dikwels op die lippe van die Roomsgesindes was, gevra nie: ‘Is jy alleen wys?’ Kan al die ander verkeerd wees? Hoe sou dit was indien, na alles, dit jy self is wat verkeerd is en soveel siele in jou dwaling betrek het, wat dan vir ewig verdoem sal wees? Dit was hoe ek met myself en met Satan geveg het, totdat Christus, deur Sy onfeilbare woord, my teen hierdie twyfel versterk het.” — Martyn, Life and Times of Luther, bI 372, 373. GS 137.2
Die pous het Luther met ekskommunikasie gedreig as hy sou weier om te herroep en die dreigement is nou vervul. ‘n Nuwe bevelskrif is uitgevaardig wat die hervormer se finale skeiding van die Roomse Kerk verklaar het en hom as die vervloekte van die hemel veroordeel het en almal wat sy leerstellings aanvaar het by dieselfde oordeel ingesluit het. Die groot stryd het nou met alle erns ‘n aanvang geneem. GS 138.1
Teëstand is die lot van almal wat God gebruik om waarhede wat spesifiek op hulle tyd van toepassing is, aan te bied. Daar was ‘n huidige waarheid in die dae van Luther, ‘n waarheid wat vir daardie tyd van besondere belang was; daar is ‘n huidige waarheid vir die kerk vandag. Dit behaag Hom wat alles volgens die raadsbesluite van Sy wil doen, om mense in verskillende omstandighede te plaas en pligte wat eie is aan die tye en die omstandighede waaronder hulle leef, aan hulle op te lê. Indien hulle die lig wat aan hulle gegee is sou waardeer, sou breër beskouings van die waarheid aan hulle oopgestel word. Maar die waarheid is nie méér begeerlik vandag as wat dit vir die Roomsgesindes wat Luther teengestaan was nie. Daar is dieselfde ingesteldheid, soos in vorige eeue, om die teorieë en tradisies van mense in plaas van die Woord van God te aanvaar. Diegene wat die waarheid vir hierdie tyd voorhou, moet nie verwag om met groter guns ontvang te word as wat die vroeëre hervormers was nie. Die groot stryd tussen waarheid en dwaling tussen Christus en Satan, sal in intensiteit toeneem tot aan die einde van hierdie wêreld se geskiedenis. GS 138.2
Jesus het aan Sy dissipels gesê: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle My woord bewaar het, sal hulle julle woord ook bewaar.” (Joh 15:19, 20). En aan die ander kant het ons Here duidelik verklaar: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.” (Luk 6:26). Die gees van die wêreld is vandag net so min in harmonie met die Gees van Christus as vroeër en diegene wat die Woord van God in die suiwerheid daarvan verkondig, sal nie met groter guns as destyds ontvang word nie. Die vorms van teëstand teen die waarheid mag verander, die vyandigheid mag minder openlik wees, omdat dit meer subtiel is; maar dieselfde vyandigheid bestaan steeds en sal tot die einde van tyd gemanifesteer word. GS 138.3