Die Groot Stryd (1911)

8/44

Hoofstuk 6—Huss en Hieronymus*

Die evangelie het reeds in die negende eeu in Boheme wortelgeskiet. Die Bybel is vertaal en die openbare godsdiens is in die taal van die volk beoefen. Maar namate die mag van die pous toegeneem het, is die Woord van God uitgedoof. Gregorius VII wat dit op homself geneem het om die trots van konings te verneder, was nie minder vasberade om die volk te verslaaf nie en gevolglik is ‘n bevelskrif uitgereik wat openbare aanbidding in die Boheemse taal verbied het. Die pous het verklaar dat “...dit die Almagtige behaag het dat Sy aanbidding in ‘n onbekende taal moes geskied en dat baie euwels en ketterye ontstaan het as gevolg van die feit dat hierdie reël nie nagekom is nie.”— Wylie, vol 3, hfst 1. So het Rome beveel dat die lig van God se Woord geblus en die mense in duisternis opgesluit moes word. Maar die Here het ander agentskappe vir die bewaring van die kerk voorsien. Baie van die Waldense en Albigense, wat as gevolg van vervolging uit hulle wonings in Frankryk en Italië verdryf is, het na Boheme gevlug. Alhoewel hulle dit nie gewaag het om in die openbaar te onderrig nie, het hulle ywerig in die geheim gewerk. So het die ware geloof van eeu tot eeu behoue gebly. GS 86.1

Voor die dae van Huss, was daar manne in Boheme wat verreis het en die verdorwenheid van die kerk en die losbandigheid van die mense openlik veroordeel het. Hulle arbeid het groot belangstelling gewek. Die vrese van die hiërargie is gewek en vervolging teen die dissipels van die evangelie het begin. Hulle was genoodsaak om in die woude en die berge te aanbid, deur soldate agtervolg en baie is om die lewe gebring. Na ‘n tyd is daar ‘n dekreet uitgevaardig dat almal wat van die Romeinse vorm van aanbidding afwyk, verbrand moes word. Maar terwyl Christene met hul lewens geboet het, het hulle uitgesien na die oorwinning van hul saak. Een van die wat “...geleer het dat verlossing alleen deur geloof in die gekruisigde Heiland verkry kon word...” het op sy sterfbed verklaar: “Die woede van die vyande van die waarheid het nou die oorhand teen ons, maar dit sal nie vir ewig so wees nie; daar sal een uit die gewone volk opstaan, sonder swaard of gesag en hulle sal nie die oorhand oor hom kry nie.” — Wylie, vol 3, hfst 1. Die koms van Luther was nog ver in die toekoms, maar daar het reeds een opgestaan wie se getuienis teen Rome die nasies sou roer. GS 86.2

Johannes Huss is uit ‘n nederige huis gebore en is vroeg as gevolg van die dood van sy vader as ‘n weeskind agtergelaat. Sy vroom moeder wat opvoeding en die vrees van God as die mees waardevolste bates beskou het, het gepoog om hierdie erfenis vir haar seun te beveilig. Huss het in ‘n provinsiale skool onderrig ontvang en is later na die Universiteit van Praag waar hy as ‘n liefdadigheids-student toelating verkry het. Op sy reis na Praag is hy deur sy moeder vergesel; as arm weduwee, het sy geen aardse rykdom gehad om aan haar seun te gee nie, maar toe hulle die groot stad nader, het sy langs die vaderlose jeug neergekniel en vir die seën van hul hemelse Vader oor hom gebid. Weinig het daardie moeder besef hoe haar gebed verhoor sou word. GS 87.1

By die universiteit het Huss homself spoedig deur sy onvermoeide ywer en vinnige vordering onderskei, terwyl sy onberispelike lewe en sagmoedige, innemende houding algemene agting afgedwing het. Hy was ‘n opregte aanhanger van die Roomse Kerk en ‘n ernstige soeker na die geestelike seëninge wat die kerk beweer het te kan skenk. By geleentheid van ‘n jubeljaar het hy belydenis afgelê, die laaste paar muntstukke uit sy karige beursie betaal en by die optog aangesluit sodat hy in die beloofde vergifnis kon deel. Nadat hy sy opleiding aan die universiteit voltooi het, het hy die priesteramp betree, spoedig ‘n naam vir homself gemaak en ‘n plek aan die hof van die koning verkry. Hy is ook as professor en later as rektor van die universiteit waar hy sy opleiding ontvang het, aangestel. Binne ‘n paar jaar was die nederige, liefdadigheids-student die trots van sy land en sy naam was regdeur Europa bekend. GS 87.2

Maar dit was in ‘n ander veld wat Huss met sy hervormingswerk begin het. ‘n Paar jaar nadat hy sy priesterskap ontvang het, is hy as prediker van die kapel van Betlehem aangestel. Die stigter van hierdie kapel het die prediking van die skrif in die taal van die volk sterk voorgestaan. Ondanks Rome se teenkanting teen hierdie gebruik, was dit nie heeltemal in Boheme gestaak nie. Daar was egter groot onkunde aangaande die Bybel en die ergste ondeugde het onder alle geledere van die samelewing geheers. Hierdie euwels het Huss genadeloos aan die kaak gestel en ‘n beroep op die Woord van God gedoen om die beginsels van waarheid en reinheid wat hy ingeskerp het, af te dwing. GS 88.1

'n Burger van Praag, Hieronymus, wat later baie nou met Huss geassosieer was, het met sy terugkeer uit Engeland, die geskrifte van Wycliffe saam met hom gebring. Die koningin van Engeland, wat ‘n bekeerling van die leer van Wycliffe was, was ‘n Boheemse prinses en deur haar invloed is die werke van die hervormer ook wyd in haar geboorteland versprei. Huss het hierdie werke met belangstelling gelees; hy het geglo dat die skrywer daarvan ‘n opregte Christen was en hy was geneig om die hervormings wat Wycliffe voorgestaan het, in ‘n gunstige lig te beskou. Alhoewel hy dit nie geweet het nie, was Huss reeds op die pad wat hom ver weg van Rome sou lei. GS 88.2

Ongeveer hierdie tyd, het daar twee vreemdelinge uit Engeland in Praag aangekom, manne van geleerdheid wat die lig ontvang het en dit in hierdie ver land kom versprei het. Hulle het begin met ‘n openlike aanval op die oppergesag van die pous, maar hulle is gou deur die owerhede stilgemaak. Onwillig om van hul doel af te sien, het hulle hul tot ander maatreëls gewend. Aangesien hulle kunstenaars sowel as predikers was, het hulle hul vaardighede aangewend. Op ‘n plek wat oop vir die publiek was, het hulle twee skilderye geskilder. Die een was ‘n voorstelling van Christus se intog in Jerusalem, “...sagmoedig, sittende op ‘n esel...” (Mat 21:5), gevolg deur Sy dissipels in verslete klere en kaalvoet en die ander skildery was ‘n voorstelling van ‘n pouslike optog; die pous was geklee in sy duursame kleed en trippel-kroon, gemonteer op ‘n perd wat pragtig versier is, voorafgegaan deur trompetspelers en gevolg deur kardinale en prelate in ‘n skitterende vertoon. GS 88.3

Hier was ‘n preek wat die aandag van alle klasse gevange gehou het. Skares het na die skilderye kom kyk. Hulle kon nie anders as om die sedeles op te merk nie en baie was diep onder die indruk van die kontras tussen die sagmoedigheid en nederigheid van Christus die Meester en die prag en praal van die pous, Sy beweerde dienskneg. Daar het groot beroering in Praag ontstaan en die vreemdelinge het dit na ‘n tyd nodig geag om veiligheidshalwe te vertrek. Maar die les wat hulle geleer het, is nie vergeet nie. Die skilderye het ‘n diep indruk op Huss gemaak en hom gelei tot ‘n dieper studie van die Bybel en die geskrifte van Wycliffe. Ofskoon hy nie op daardie stadium bereid was om die hervorming wat Wycliffe voorgestaan het te aanvaar nie, het hy die ware karakter van die pousdom duideliker gesien en met groter ywer die hoogmoed, eersugtigheid en verdorwenheid van die hiërargie aan die kaak gestel. GS 89.1

Vanuit Boheme het die lig na Duitsland versprei, want die ontwrigting aan die Universiteit van Praag het die onttrekking van honderde Duitse studente veroorsaak. Baie van hulle het hul eerste kennis van die Bybel van Huss ontvang en met hul terugkeer na hul vaderland, die evangelie versprei. GS 89.2

Berigte aangaande die werk in Praag het Rome bereik en Huss is spoedig voor die pous gedaag. Om te gehoorsaam sou beteken dat hy hom aan ‘n gewisse dood blootstel. Die koning en koningin van Boheme, die universiteit, lede van die adelstand, regeringsamptenare, het almal saam ‘n beroep op die pous gedoen dat Huss toegelaat word om in Praag te bly en deur ‘n adjunk in Rome verantwoording te doen. In stede van hierdie versoek toe te staan, het die pous met die verhoor en veroordeling van Huss voortgegaan en verder Praag onder interdik verklaar. GS 89.3

Op daardie stadium het hierdie vonnis, waar dit ook al uitgespreek is, wydverspreide alarm ontketen. Die seremonies waarmee dit gepaard gegaan het, was goed aangepas om die volk skrik op die lyf te jaag, wat die pous as die verteenwoordiger van God en in besit van die sleutels van die hemel en hel beskou het, asook met die mag om tydelike sowel as geestelike oordele op te roep. Daar is geglo dat die poorte van die hemel vir die streek wat met ‘n interdik getref word gesluit was; dat, totdat die pous tevrede gestel word om die verbod op te roep, die afgestorwenes uit die plekke van saligheid uitgesluit is. As ‘n teken van hierdie verskriklike ramp, is alle godsdienstige dienste opgeskort. Die kerke is gesluit. Huwelike is in die kerkhof voltrek. Daar is geweier dat afgestorwenes in gewyde grond begrawe word en hulle is sonder ‘n lyksrede in die slote of in die veld begrawe. Op hierdie wyse het Rome, deur maatreëls wat aanspraak op die verbeelding van die volk gemaak het, die gewetens van die volk beheer. GS 90.1

Die stad van Praag was in oproer. ‘n Groot menigte het Huss as die oorsaak van hulle rampe veroordeel en hulle het geëis dat hy aan die wraak van Rome oorgelewer moes word. Om die storm te stil, het die hervormer ‘n tyd lank na sy geboortedorp onttrek. In ‘n brief aan sy vriende wat hy in Praag agtergelaat het, het hy geskryf: “As ek my uit julle midde teruggetrek het, is dit om die voorskrif en die voorbeeld van Jesus Christus na te volg, om geen ruimte vir kwaadwilliges te laat om die ewige oordeel oor hulleself te bring nie en sodat ek nie die oorsaak van beproewing en vervolging vir die vromes sal wees nie. Ek het my ook onttrek as gevolg van vrees dat goddelose priesters sou voortgaan om die prediking van die woord van God onder julle te verbied; maar ek het julle nie verlaat om die Goddelike waarheid, waarvoor ek met God se hulp bereid is om te sterf, te ontken nie.” — Bonnechose, The Reformers Before the Reformation, vol 1, bI 87. Huss het nie sy werk gestaak nie, maar het deur die omliggende lande gereis waar hy vir gretige skares gepreek het. Sodoende was die maatreëls wat die pous getref het om die evangelie te onderdruk, juis die oorsaak dat dit verder versprei het. “Want ons kan niks doen teen die waarheid nie, maar wel vir die waarheid.” (2 Kor 13:8). GS 90.2

“Dit wil voorkom asof die gedagtes van Huss op hierdie stadium van sy loopbaan, die toneel van pynlike konflik was. Alhoewel die kerk hom deur haar donderslae wou oorweldig, het hy nie haar gesag verwerp nie. Die Roomse Kerk was vir hom nog steeds die bruid van Christus en die pous die verteenwoordiger en plaasvervanger van God. Huss se stryd was nie teen die beginsel van gesag self nie, maar teen die misbruik daarvan. Dit het ‘n groot konflik tussen die oortuigings van sy begrip en die aansprake van sy gewete ontketen. As die owerheid regverdig en onfeilbaar was, soos hy geglo het, hoekom was dit dan dat hy verplig gevoel het om ongehoorsaam daaraan te wees? Om te gehoorsaam, het hy ingesien, was om te sondig; maar waarom moet gehoorsaamheid aan ‘n onfeilbare kerk dan tot so ‘n kwessie lei? Dit was ‘n probleem wat hy nie kon oplos nie; dit was die twyfel wat hom uur na uur gemartel het. Die naaste benadering tot ‘n oplossing waartoe hy kon kom, was om te aanvaar dat daar ‘n herhaling van toestande soos in die dae van die Verlosser was, toe die priesters van die kerk goddelose mense geword het en hulle wettige gesag vir onwettige doeleindes aangewend het. Dit het hom gelei dat hy ter wille van sy eie leiding en dit vir ander voor te hou, dat die beginsel van die voorskrifte van die Skrif wat deur die begrip oorgedra word, die gewete moet regeer; met ander woorde, dat die woorde van God in die Bybel en nie die kerk wat deur die priesterskap praat nie, die enigste onfeilbare riglyn is.” — Wylie, vol 3, hfst 2. GS 91.1

Toe die opwinding in Praag na ‘n tyd bedaar het, het Huss na sy kapel van Betlehem teruggekeer om met groter ywer en moed met die prediking van die Woord van God voort te gaan. GS 92.1

Sy vyande was baie en bedrywig en magtig, maar die koningin en baie van die adel was sy vriende en die volk het hulle in groot getalle by hom geskaar. In vergelyking met sy suiwer en opheffende leerstellings en heilige lewe en die vernederende dogmas wat die Roomsgesindes verkondig het en die gierigheid en losbandigheid wat hulle uitgeoefen het, het baie dit as ‘n eer beskou om aan sy kant te wees. GS 92.2

Tot dusver het Huss alleen in sy arbeid gestaan, maar nou het Hieronymus wat, terwyl hy in Engeland was, die leerstellings van Wycliffe aanvaar het, ook by die werk van hervorming aangesluit. Die twee is hierna in hul lewens verenig en in die dood sou hulle nie verdeeld wees nie. Briljantheid van genialiteit, welsprekendheid en geleerdheid, gawes wat gewilde guns gewen het, was eienskappe wat Hieronymus tot ‘n groot mate besit het, maar in die eienskappe wat sterkte van karakter uitmaak, het Huss uitgeblink. Sy kalm oordeel het die impulsiewe gees van Hieronymus, wat met opregte nederigheid sy waarde besef het, beteuel en hy het aan sy raad toegegee. Deur hul gesamentlike arbeid, het die werk van hervorming vinniger uitgebrei. GS 92.3

God het toegelaat dat groot lig in die harte van hierdie uitverkore manne skyn en het baie dwalinge van Rome aan hulle geopenbaar; maar hulle het nie al die lig ontvang wat aan die wêreld gegee sou word nie. Deur hierdie, sy diensknegte, het God die volk uit die duisternis van Romanisme uitgelei; maar daar was heelwat en groot struikelblokke wat hulle moes oorkom en Hy het hulle, stap vir stap, namate hulle dit kon verduur, voortgelei. Hulle was nie gereed om al die lig gelyktydig te ontvang nie. Soos die volle glorie van die middagson vir diegene wat in duisternis gewoon het, sou dit, indien dit ten volle aan hulle gebied was, hulle laat wegdraai het. Daarom het Hy dit geleidelik aan die leiers, namate dit deur die mense ontvang kon word, geopenbaar. Van eeu tot eeu sou ander getroue werkers hulle opvolg om die volk nog verder op die pad van hervorming voort te lei. GS 92.4

Die skeuring in die kerk het steeds voortgeduur. Drie biskoppe het nou om oppergesag gewedywer en hulle stryd het die Christendom met misdaad en oproer gevul. Nie tevrede met vervloekings nie, het hulle hul tot verganklike wapens gewend. Elkeen van hulle het rondgekyk om wapens en soldate te bekom. Natuurlik moes geld hiervoor verkry word en om dit te bekom, is die geskenke, ampte en seëninge van die kerk te koop aangebied. [Sien bylaag nota vir bl 59]. Ook die priesters wat hulle meerderes nagedoen het, het hulle tot die verkoop van kerklike voorregte en oorlog begeef om hulle teëstanders te verneder en hul eie mag te versterk. Met daaglikse toenemende onverskrokkenheid het Huss teen die gruwels wat in die naam godsdiens toegelaat is, te velde getrek en die volk het die Roomse leiers openlik as die oorsaak van die ellendes wat die Christendom oorweldig het, beskuldig. GS 93.1

Weer het dit geblyk of die stad Praag op die punt van ‘n bloedige konflik was. Soos in vroeër eeue, is God se dienskneg beskuldig dat hy “...die beroerder van Israel... ” was. (1 Kon 18:17). Die stad is weer onder ‘n interdik geplaas en Huss het na sy geboortedorp onttrek. Die getuienis wat hy so getrou in sy geliefde kapel van Betlehem gegee het, is beëindig. Voordat hy sy lewe as getuie vir die waarheid neergelê het, sou hy tot die hele Christendom vanaf ‘n wyer verhoog spreek. GS 93.2

Om die euwels wat Europa se aandag in beslag geneem het uit die weg te ruim, is daar ‘n algemene raad byeengeroep om in Konstanz te vergader. Hierdie raad is op versoek van Keiser Sigismund deur een van die drie mededingende biskoppe, Johannes XXIII, byeengeroep. Die eis vir ‘n raad is nie deur pous Johannes verwelkom nie, wie se karakter en beleid die ondersoek onmoontlik sou kon deurstaan, selfs deur die prelate wie se sedes net so los soos die kerkmanne van daardie tyd was. Hy het egter nie durf weier om die versoek van Sigismund teë te gaan nie. [Sien bylaag]. GS 93.3

Die hoofoogmerke van die raad was om die skeuring in die kerk te heel en kettery met wortel en tak uit te roei. Daarom is die twee anti-biskoppe, ontbied of voor hulle te verskyn, asook die voorste verspreider van die nuwe sienings, Johannes Huss, ontbied. Eersgenoemde het, in ag genome hul eie veiligheid, nie die vergadering persoonlik bygewoon nie, maar is deur afgevaardigdes verteenwoordig. Hoewel Pous Johannes skynbaar die sameroeper van die raad was, het hy met baie bedenkinge daar aangekom en vermoed dat dit die keiser se geheime doel was om hom te onttroon; en hy was ook bevrees dat hy verantwoording sou moes doen vir die euwels wat die tiara onteer het, sowel as vir die misdade waardeur dit beveilig is. Tog het hy sy intrede met groot prag en praal in die stad Konstanz gemaak, vergesel van kerklikes van die hoogste rang en gevolg deur ‘n stoet van hofdienaars. Al die geestelikes en hoogwaardigheidsbekleërs van die stad, met ‘n groot menigte burgers, het uitgegaan om hom te verwelkom. Bokant sy kop was ‘n goue gewelf, wat deur vier van die hooflanddroste omhoog gehou is. Die hostie is voor hom gedra en die duursame gewaad van die kardinale en edeles het ‘n imposante vertoning gemaak. GS 94.1

Intussen het iemand anders Konstanz genader. Huss was bewus van die gevare wat hom bedreig het. Hy het afskeid van sy vriende geneem, asof hy hulle nooit weer sou ontmoet nie en het sy reis met ‘n gevoel dat dit hom na die brandstapel sou lei, onderneem. Ondanks die feit dat hy ‘n geleibrief van die koning van Boheme, sowel as een van Keiser Sigismund vir sy reis verkry het, het hy al sy reëlings met die oog op die waarskynlikheid dat hy sou sterf, getref. GS 94.2

In ‘n brief wat aan sy vriende in Praag gerig is, het hy geskryf: “My broers ... ek vertrek met ‘n geleibrief van die koning om my talryke en dodelike vyande te gaan ontmoet ... Ek vertrou volkome op die almagtige God, my Verlosser; ek vertrou dat Hy u vurige gebede sal verhoor; dat Hy Sy omsigtigheid en wysheid in my mond sal lê, sodat ek hulle kan weerstaan; en dat Hy my Sy Heilige Gees sal skenk om my in Sy waarheid te versterk, sodat ek moedig versoekings, gevangenisstraf en, indien nodig, ‘n wrede dood in die gesig kan staar. Jesus Christus het vir sy geliefdes gely en moet ons dan verbaas wees dat Hy ons Sy voorbeeld nagelaat het, sodat ons self met alle geduld, alles tot ons eie saligheid sal kan verdra? Hy is God en ons is Sy skepsels; Hy is die Here en ons is Sy diensknegte; Hy is Meester van die wêreld en ons is veragtelike sterflinge - tog het Hy gely! Waarom dan sou ons nie ook ly nie, veral as die lyding vir ons loutering is? Daarom, geliefdes, as my dood tot Sy heerlikheid sal bydra, bid dat dit vinnig kan kom en dat Hy my in staat sal stel om al die onheil wat oor my mag kom met standvastigheid te verduur. Maar indien dit beter sou wees dat ek na julle moet terugkom, laat ons tot God bid dat ek sonder vlek mag terugkeer - dit wil sê, dat ek nie een titteltjie van die waarheid van die evangelie sal onderdruk nie, om aan my broers ‘n uitstekende voorbeeld te gee om na te volg. Julle sal my gesig waarskynlik nooit weer in Praag aanskou nie; maar as dit die almagtige God behaag om my aan julle terug te besorg, laat ons dan met ‘n standvastiger hart in die kennis en liefde van Sy wet voortgaan.” — Bonnechose, vol 1, bl 147,148. GS 95.1

In ‘n ander brief aan ‘n priester wat ‘n dissipel van die evangelie geword het, het Huss met diepe nederigheid oor sy eie dwalinge geskryf en homself beskuldig “...dat dit hom genoeë verskaf het om duursame klere te dra en ure aan ligsinnige dinge verspil het.” Verder het hy die volgende roerende vermanings bygevoeg: “Mag die heerlikheid van God en die heil van siele jou gedagtes in beslag neem en nie die van rykdom en grondbesit nie. Waak daarteen om nie jou huis meer as jou siel te versier nie en gee veral aandag aan jou geestelike gebou. Wees vroom en nederig teenoor die behoeftiges en moenie jou besittings met feesmaaltye verteer nie. Indien jy nie jou lewe verander en jou van oordadigheid weerhou nie, is ek bevrees dat jy, net soos ek, ernstige getugtig sal word ... Jy is bekend met my leer want jy het my onderrig vanaf jou kinderjare ontvang; dit sou dus nutteloos vir my wees om verder aan jou te skryf. Maar ek doen ‘n beroep op jou deur die genade van onse Here, om my nie in enige van die ydelhede waarin jy my gesien verval het, na te volg nie.” Op die buiteblad van die brief het hy bygevoeg: “Ek doen ‘n beroep op jou my vriend om nie hierdie seël te verbreek voordat jy sekerheid van my dood verkry het nie.” — Bonnechose, vol 1, bl 148,149. GS 95.2

Op sy reis het Huss oral bewyse van die verspreiding van sy leerstellings en die guns waarmee sy bejeën is, gesien. Die mense het om hom saamgedrom en in sommige dorpe het die landdroste hom deur die strate vergesel. GS 96.1

Met sy aankoms in Konstanz het Huss volle vryheid geniet. By die keiser se geleibrief, is ‘n persoonlike versekering van beskerming deur die pous gevoeg. Maar, in weerwil van hierdie plegtige en herhaaldelike versekerings, is die hervormer binne ‘n kort tydjie op bevel van die pous en die kardinale in hegtenis geneem en in ‘n weersinswekkende kerker opgesluit. Hy is later na ‘n sterk kasteel oorkant die Ryn oorgeplaas en daar is hy gevange gehou. Die pous, wat min voordeel uit sy verraad getrek het, is kort daarna in dieselfde gevangenis opgesluit. — Id, bI 247. Op die konsilie is daar bewys dat hy aan die vernaamste misdade, bo en behalwe moord, simonie en owerspel, (sondes wat nie genoem kan word nie) skuldig was. Dit was die verklaring van die raad self en hy is eindelik die tiara ontneem en in die gevangenis gewerp. Die anti-biskoppe is ook omvergewerp en ‘n nuwe pous is gekies. GS 96.2

Alhoewel die pous homself aan groter misdade skuldig gemaak het as dié waarvan Huss die priesters beskuldig het en waarvoor hy op hervorming aangedring het, het dieselfde raad wat die pous verneder het, voortgegaan om die hervormer te verpletter. Die gevangenskap van Huss het groot verontwaardiging in Boheme ontketen. Magtige adellikes het sterk by die raad teen hierdie wandaad geprotesteer. Die keiser, wat onwillig was om die skending van die geleibrief te gedoog, het hom teen hierdie optrede verset. Maar die vyande van die hervormer was kwaadwillig en vasberade. Hulle het ‘n beroep op die keiser se vooroordele, sy vrese en op sy ywer vir die kerk gedoen. Hulle het lang uitgerekte argumente aangevoer om te bewys dat “...beloftes aan ketters en aan persone wat van kettery verdink word, nie nagekom behoort te word nie, ten spyte van die feit dat hulle van briewe van veilige geleide van keisers en konings voorsien is.” — Lenfant, History of the Council of Constance, vol 1, bl 516. So het hulle die oorhand verkry. GS 96.3

Verswak deur siekte en die gevangenisstraf - omdat die klam, vuil lug van sy kerker ‘n koors veroorsaak het wat byna sy lewe beëindig het - is Huss eindelik voor die raad gebring. Belas met kettings, het hy voor die keiser, wat in goedere trou beloof het om hom te beskerm, gestaan. Gedurende sy lang verhoor, het hy onwrikbaar aan die waarheid vasgehou en in die teenwoordigheid van die vergaderde hooggeplaastes van Kerk en Staat, plegtige en getroue protes teen die korrupsie van die hiërargie uitgespreek. Toe hy tussen die herroeping van sy leerstellings en die dood moes kies, het hy die weg van ‘n martelaar gekies. GS 97.1

Die genade van God het hom onderskraag. Gedurende die weke van lyding voor sy finale vonnis voltrek is, het die vrede van die hemel sy siel gevul. “Ek skryf hierdie brief...” het hy aan ‘n vriend geskryf, “...in die gevangenis en met my geboeide hand en ek verwag my doodvonnis more ... Wanneer ons, met die hulp van Jesus Christus, weer in die heerlike vrede van die lewe in die hiernamaals sal ontmoet, sal u leer hoe genadig God Homself aan my betoon het en hoe doeltreffend Hy my, te midde van my versoekings en beproewinge ondersteun het.”— Bonnechose, vol 2, bI 67. GS 97.2

In die somberheid van sy kerker, het hy die triomf van die ware geloof vooruitgesien. Terwyl hy in sy drome na die kapel in Praag waar hy die evangelie verkondig het teruggekeer het, het hy gesien hoe die pous en sy biskoppe die uitbeeldings van Christus wat hy teen die mure geskilder het, uitwis. “Hierdie visioen het hom baie ontstel; maar die volgende dag het hy gesien hoe baie skilders besig was om hierdie uitbeeldings in groter hoeveelheid en helderder kleure te herstel. Toe hul taak beëindig is, het die skilders, wat deur ‘n groot menigte omring was, uitgeroep: ‘Laat die biskoppe en pouse nou kom; hulle sal dit nooit weer kan uitwis nie!’” Terwyl hy van sy droom vertel het, het die hervormer gesê: “Ek is vas oortuig daarvan dat die beeld van Christus nooit vernietig sal word nie. Hulle wou dit vernietig, maar dit sal opnuut in alle harte geskilder word deur beter predikers as ek.” — D’ Aubigne, vol 1, hfst 6. GS 98.1

Huss is vir die laaste keer voor die raad gebring. Dit was ‘n uitgebreide en skitterende vergadering, naamlik die keiser, die vorste van die ryk, die koninklike afgevaardigdes, die kardinale, biskoppe, priesters en ‘n groot menigte wat as toeskouers van die gebeure van die dag gekom het. Uit alle dele van die Christendom het die getuies vir die eerste groot offer in die lang stryd waardeur gewetensvryheid verkry moes word, byeengekom. GS 98.2

Toe hy geroep word om sy finale besluit aan die raad te gee, het Huss sy weiering om terug te trek verklaar en met sy deurvorsende blik op die monarg wie se plegtige woord so onbeskaamd geskend is, het hy verklaar: “Ek het uit my eie vry wil besluit om voor hierdie raad te verskyn onder die openbare beskerming en belofte van die keiser hier teenwoordig.” — Bonnechose, vol 2, bl 84. ‘n Diep rooi gloed het oor die gelaat van Sigismund gespoel toe die oë van almal op hom gevestig is. GS 98.3

Nadat die vonnis uitgespreek is, het die seremonie van vernedering begin. Die biskoppe het die gevangene in priesterlike gewaad beklee en terwyl hy die kleed aantrek, het hy gesê, “Onse Here Jesus is met ‘n wit kleed bedek om Hom te beledig, toe Herodes Hom voor Pilatus laat bring het.” — D'Aubigne, vol 2, bI 86. Toe hy weer vermaan is om te herroep, het hy hom tot die volk gewend en geantwoord: “Met watter aangesig moet ek dan die hemel aanskou? Hoe moet ek die menigte mense aan wie ek die suiwer evangelie verkondig het in die gesig kyk? Nee; ek ag hulle redding van meer belang as hierdie armsalige liggaam, wat nou vir die dood bestem is.” Die kledingstukke is een vir een verwyder elke biskop het ‘n vloek uitgespreek terwyl hy sy deel van die seremonie uitgevoer het. Eindelik het hulle die piramied-vormige myter op sy hoof geplaas waarop skrikwekkende gestaltes van duiwels was, met die woord “Aartsketter” opvallend voorop vir almal. “Met vreugde...” het Huss gesê, “...sal ek hierdie kroon van skande vir U ontwil dra, o Jesus, wat vir my ‘n doringkroon gedra het.” GS 99.1

Nadat hy so uitgedos is, “...het die prelate gesê: ‘Nou wy ons jou siel aan die duiwel.’ ‘En ek...’ het Johannes Huss geantwoord, met sy oë hemelwaarts gerig, ‘...beveel my gees in U hande, o Here Jesus, want U het my verlos.’” — Wylie, vol 3, hfst 7. GS 99.2

Daarna is hy aan die sekulêre owerhede oorgelewer en na die plek van teregstelling gelei. ‘n Ontsaglike optog van honderde gewapende soldate, priesters en biskoppe in hulle kleurvolle drag en die inwoners van Konstanz het gevolg,. Nadat hy aan die brandstapel vasgebind is en alles gereed was om die vuur aan die brand te steek, is die martelaar weereens vermaan om homself te red deur sy dwaling af te sweer. “Watter dwalings...” het Huss gevra, “...moet ek afsweer? Ek vind myself aan niks skuldig nie. Ek roep God om te getuig dat alles wat ek geskryf en gepreek het, gedoen is om siele van sonde en die verderf te red; en daarom sal ek met vreugde die waarheid wat ek geskryf en verkondig het, met my bloed bevestig.” — D'Aubigne, vol 3, hfst 7. Toe die vlamme rondom hom begin brand, het hy begin sing: “Jesus, Seun van Dawid, wees my genadig...” en so het hy aangehou totdat sy stem vir ewig stil was. GS 99.3

Selfs sy vyande is deur sy heldhaftige optrede getref. ‘n Ywerige pousgesinde, in ‘n beskrywing van die marteldood van Huss en Hieronymus, wat kort daarna gesterf het, het gesê: “Beide van hulle het onwrikbaar vasgestaan toe hulle laaste uur aangebreek het. Hulle het hulself vir die brandstapel voorberei asof hulle op pad na ‘n huweliksfees was. Hulle het geen uitroep van pyn geuiter nie. Toe die vlamme opskiet, het hulle lofliedere gesing en die heftigheid van die vuur kon skaars hulle singery uitdoof.” — Wylie, deel 3, hfst 7. GS 100.1

Nadat die liggaam van Huss heeltemal verteer was, is sy as, met die grond waarop dit gelê het, bymekaargeskraap en in die Ryn gegooi wat dit na die oseaan weggevoer het. Sy vervolgers het tevergeefs gehoop dat hulle die waarhede wat hy verkondig het, uitgeroei het. Min het hulle gedroom dat die as wat daardie dag na die see gevoer is soos saad wat in al die lande van die aarde gesaai is, sou wees; dat dit in lande wat tot nog toe onbekend was, oorvloedige vrugte deur getuies vir die waarheid sou lewer. Die stem wat in die raadsaal van Konstanz gespreek het, het deur al die toekomstige eeue weerklink. Huss was nie meer daar nie, maar die waarhede waarvoor hy gesterf het, sou nooit uitgedelg word nie. Sy voorbeeld van geloof en bestendigheid sou menigtes aanmoedig om, te midde van marteling en dood, vas vir die waarheid te staan. Sy teregstelling het die volslae wreedheid van Rome aan die hele wêreld getoon. Die vyande van die waarheid het, alhoewel hulle dit nie geweet het nie, die saak wat hulle tevergeefs gepoog het om te vernietig, bevorder. GS 100.2

Daar sou nog ‘n ander brandstapel op Konstanz opgerig word. Die bloed van nog ‘n getuie moes van die waarheid getuig. Hieronymus het, toe hy van Huss afskeid geneem het, hom tot moedigheid en fermheid aangespoor het en verklaar dat hy self tot sy hulp sou haas indien hy in enige gevaar sou verkeer. Toe hy van die hervormer se gevangeneming hoor, het hierdie getroue dissipel hom dadelik klaargemaak om sy belofte na te kom. Sonder ‘n geleibrief en met ‘n enkele metgesel, het hy na Konstanz vertrek. Met sy aankoms in Konstanz was hy oortuig dat hy homself bloot in gevaar gestel het sonder enige moontlikheid om iets vir die vrylating van Huss te kan doen. Hy het uit die stad gevlug, maar op sy reis huiswaarts is hy in hegtenis geneem en onder toesig van ‘n groep soldate is hy in boeie teruggeneem. Met sy eerste verskyning voor die raad is Hieronymus se pogings om op die beskuldigings teen hom te antwoord, met uitroepe beantwoord: “Na die vlamme met hom, na die vlamme!” — Bonnechose, vol 1, bl 234. Hy is in die gevangenis gewerp, vasgeketting op ‘n wyse wat vir hom groot lyding veroorsaak het en hy is met brood en water gevoed. Na etlike maande het die wreedhede van sy gevangenskap veroorsaak dat Hieronymus ‘n siekte wat sy lewe bedreig het opgedoen en sy vyande, uit vrees dat hy, as gevolg van die dood, van hulle sou ontsnap, het hom met minder wreedheid behandel, alhoewel hy vir ‘n jaar in die gevangenis gebly het. GS 100.3

Die dood van Huss het nie die uitwerking gehad wat die Roomsgesindes op gehoop het nie. Die skending van sy geleibrief het ‘n storm van protes by die volk ontketen en as ‘n veiliger weg, het die raad besluit om Hieronymus, in stede van hom te verbrand, hom te dwing om indien moontlik te herroep. Hy is voor die vergadering gebring en die alternatief is aan hom gebied om te herroep, of op die brandstapel te sterf. Aan die begin van sy gevangenskap, sou die dood ‘n seën gewees het vergeleke met die verskriklike lyding wat hy moes verduur; maar nou, verswak deur siekte, deur die uitmergelende ontberings van sy gevangenskap en die marteling van angs en spanning, geskei van sy vriende en deur die dood van Huss ontmoedig, het Hieronymus se krag ingegee en hy het ingestem om hom aan die raad te onderwerp. Hy het hom daartoe verbind om vas aan die Katolieke geloof te hou en hy het die optrede van die raad in die veroordeling van die leerstellings van Wycliffe en Huss aanvaar, met uitsondering van die “...heilige waarhede ” wat hulle verkondig het. — D'Aubigne, vol 2, bl 141. GS 101.1

Deur hierdie redmiddel het Hieronymus gepoog om die stem van sy gewete stil te maak en aan sy lot te ontkom. Maar in die eensaamheid van sy kerker het hy meer werklik tot die besef gekom van wat hy gedoen het. Hy het aan die moed en getrouheid van Huss gedink, in teenstelling met sy eie verloëning van die waarheid. Hy het aan sy Goddelike Meester gedink wat hy belowe het om te dien en wat ter wille van hom die kruisdood verduur het. Voor sy herroeping het hy te midde van sy lyding, troos gevind in die versekering van God se guns; maar nou het berou en twyfel sy siel gemartel. Hy het geweet dat daar nog ander herroepings gemaak sou moes word voordat hy in vrede met Rome kon verkeer. Die weg wat hy ingeslaan het, kon slegs in volkome afvalligheid eindig. Sy besluit is geneem: Hy sou nie sy Here verloën, om vir ‘n kort tydjie van sy lyding te ontsnap nie. GS 102.1

Hy is gou weer voor die raad gebring. Sy voorlegging het nie sy regters tevrede gestel nie. Hulle dors na bloed, geprikkel deur die dood van Huss, het uitgeroep na meer slagoffers. Slegs deur ‘n onvoorwaardelike versaking van die waarheid kon Hieronymus sy lewe behou. Maar hy was vasbeslote om sy geloof te handhaaf en sy broer in marteling na die vlamme te volg. GS 102.2

Hy het afstand gedoen van sy vorige herroeping en as sterwende, het hy plegtig ‘n geleentheid om homself te verdedig versoek. Uit vrees vir die uitwerking van sy woorde, het die prelate daarop aangedring dat hy bloot die waarheid van die aanklagte teen hom moes bevestig of ontken. Hieronymus het teen hierdie wreedheid en onreg geprotesteer. “Julle het my vir driehonderd-en-veertig dae in hierdie vreeslike gevangenis opgesluit...” het hy gesê, “...te midde van vuilheid, lawaaierigheid, stank en in die grootste gebrek aan alles; dan bring julle my voor julle en terwyl julle my dodelikste vyande aanhoor, weier julle om my te hoor... As julle regtig wyse manne en die ligte van die wêreld is, moet julle versigtig wees dat julle nie teen geregtigheid sondig nie. Wat my betref, ek is net ‘n swak sterfling; my lewe is van min belang; en wanneer ek julle vermaan om nie ‘n onregverdige vonnis oor my uit te spreek nie, spreek ek minder vir myself as vir julle.” — D'Aubigne, vol 2, bl 146,147. GS 102.3

Sy versoek is uiteindelik toegestaan. In die teenwoordigheid van sy regters het Hieronymus neergekniel en gebid dat die Goddelike Gees sy gedagtes en woorde mag beheer, sodat hy niks mag spreek wat in stryd met die waarheid, of sy Meester onwaardig sou wees nie. Op daardie dag is die belofte van God aan die eerste dissipels vervul: “Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om my ontwil... Maar wanneer hulle julle oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie; want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek.” (Mat 10:18,19). GS 103.1

Die woorde van Hieronymus het die verbasing en bewondering van selfs sy vyande ontketen. Vir ‘n volle jaar is hy in groot liggaamlike lyding en geestelike angs in ‘n kerker opgesluit, nie in staat om te lees of selfs te sien nie. Tog was sy argumente so duidelik en kragtig aangebied, asof hy ongestoorde geleentheid vir studie gehad het. Hy het sy hoorders op die lang reeks heilige manne gewys wat deur onregverdige regters veroordeel is. In byna elke generasie was daar diegene wat, terwyl hulle gepoog het om die mense van hulle tyd op te hef, gesmaad en verwerp is, maar wat op ‘n later stadium bewys is dat hulle eer verdien het. Christus was self as boosdoener deur ‘n onregverdige tribunaal veroordeel. GS 103.2

Tydens sy herroeping het Hieronymus toegegee aan die regverdigheid van die vonnis oor Huss; maar nou het hy sy berou verklaar en getuig van die onskuld en heiligheid van die martelaar. “Ek ken hom van kleins af...” het hy gesê. “Hy was ‘n voortreflike man, regverdig en heilig; ondanks sy onskuld is hy veroordeel ... Ek is ook gereed om te sterf; ek sal nie terugdeins vir die pyniging wat my vyande en valse getuies vir my voorberei het nie, wat eendag voor God, wat deur niemand bedrieg kan word nie, verantwoording sal moet doen vir hulle valsheid.” — Bonnechose, vol 2, bl 151. GS 103.3

In selfverwyt oor sy eie ontkenning van die waarheid, het Hieronymus voortgegaan: “Van al die sondes wat ek sedert my jeug gepleeg het, weeg niks so swaar en veroorsaak vir my sulke aangrypende berou, soos dit wat ek op hierdie noodlottige plek gepleeg het, toe ek die onregverdige vonnis teen Wycliffe en teen die heilige martelaar, Johannes Huss, my meester en my vriend, goedgekeur het nie. Ja! Ek bely dit uit my hart en verklaar met afgryse dat ek skandelik gesidder het toe ek deur vrees vir die dood hulle leerstellings veroordeel het. Daarom smeek ek ... die Almagtige God om my vir my sondes en veral hierdie een, die afskuwelikste van almal, te vergewe.” Hy het na sy regters gewys en ferm gesê: “Julle het Wycliffe en Johannes Huss veroordeel, nie omdat hulle die leerstellings van die kerk geskud het nie, maar bloot omdat hulle die bandeloosheid en skandelike dade van die geestelikes met verwerping gebrandmerk het — hul prag en praal, hoogmoed en al die ondeugde van die prelate en die priesters. Die dinge wat hulle bevestig het en wat onweerlegbaar is, dink en verklaar ek ook soos hulle.” GS 104.1

Sy woorde is onderbreek. Die prelate, bewend van woede, het uitgeroep: “Watter behoefte is daar aan verdere bewys? Ons sien met ons eie oë die hardnekkigste van alle ketters!” GS 104.2

Onverstoor deur hierdie storm, het Hieronymus uitgeroep: “Wat! Dink julle ek is bang om te sterf? Julle het my vir ‘n hele jaar lank in ‘n vieslike kerker opgesluit, aakliger as die dood self. Julle het my met groter wreedheid behandel as ‘n Turk, Jood, of heiden en my vlees het letterlik van my bene afgevrot; en nogtans het ek nie gekla nie, want ‘n klaaglied pas nie by ‘n man van hart en gees nie; maar ek kan nie anders as om my verbasing oor sulke groot barbaarsheid teenoor ‘n Christen uit te spreek nie.” — D'Aubigne, vol 2, bl 151-153. GS 104.3

Weer het die storm van hulle woede losgebars en Hieronymus is inderhaas na die gevangenis verwyder. Tog was daar sommige in die raad op wie sy woorde ‘n diep indruk gemaak het en wat sy lewe wou red. Hy is deur hooggeplaastes van die kerk besoek en versoek om homself aan die raad te onderwerp. Die aanloklikste vooruitsigte is aan hom as beloning voorgehou, indien hy sou afstand doen van sy opposisie t teen Rome. Maar, net soos sy Meester toe die heerlikheid van die wêreld aan Hom voorgehou is, het hy standvastig gebly. GS 105.1

“Bewys aan my uit die Heilige Skrif dat ek dwaal...” het hy gesê, “...en ek sal dit afsweer.” GS 105.2

“Die Heilige Skrifte!” het een van sy uitdagers uitgeroep, “Moet alles dan deur hulle beoordeel word? Wie kan hulle verstaan totdat die kerk dit vertolk het?” GS 105.3

“Is die tradisies van mense meer geloofwaardig as die evangelie van ons Verlosser?” het Hieronymus gevra. “Paulus het diegene aan wie hy geskryf het, nie vermaan om na die oorlewerings van mense te luister nie, maar het gesê: ‘Ondersoek die Skrifte.’” GS 105.4

“Ketter!” was die antwoord. “Ek is jammer dat ek so lank by jou gepleit het. Ek sien dat jy deur die duiwel aangespoor word.” — Wylie, vol 3, hfst 10. GS 105.5

Eerlank is die doodvonnis oor hom uitgespreek. Hy is na dieselfde plek gelei waar Huss sy lewe afgelê het. Hy het al singende geloop, sy gesig verlig met vreugde en vrede. Sy blik was op Christus gerig en vir hom het die dood geen verskrikking ingehou nie. Toe die laksman op die punt was om die vuur agter hom aan die brand te steek, het die martelaar uitgeroep, “Kom openlik voor my; steek die vuur voor my aan die brand. As ek bang was, sou ek nie hier gewees het nie.” GS 105.6

Sy laaste woorde, uitgespreek terwyl die vlamme om hom opskiet, was ‘n gebed. “Here, Almagtige Vader...” het hy uitgeroep, “...ontferm U oor my en vergewe my my sondes; want U weet dat ek U waarheid altyd liefgehad het.” — Bonnechose, vol 2, bI 168. Sy stem is nie meer gehoor nie, maar sy lippe het nog in gebed beweeg. Nadat die vuur sy werk verrig het, is die as van die martelaar met die grond waarop dit gelê het, bymekaargeskraap en soos dié van Huss, is dit in die Ryn gewerp. GS 106.1

So het God se getroue ligdraers gesterf. Maar die lig van die waarhede wat hulle verkondig het — die lig van hul heldhaftige voorbeeld — kon nie uitgedoof word nie. Mense kon net sowel probeer het om die son in sy baan te laat omdraai as om die koms van die dagbreek wat toe reeds oor die wêreld gebreek het te verhoed. GS 106.2

Die teregstelling van Huss het ‘n vlam van verontwaardiging en afgryse in Boheme aangesteek. Die ganse volk het gevoel dat hy die slagoffer van die kwaadwilligheid van die priesters en die verraad van die keiser was. Hulle het verklaar dat hy ‘n getroue leraar van die waarheid was en dat die raad wat sy doodvonnis bepaal het, aan moord skuldig was. Sy leerstellings het nou groter aandag as ooit tevore getrek. Op bevel van die pous is die geskrifte van Wycliffe tot die vlamme veroordeel. Maar die wat vernietiging vrygespring het, is nou uit hulle wegsteekplekke gehaal en saam met die Bybel, of die dele daarvan wat die mense in die hande kon kry, bestudeer en baie is daartoe gelei om die hervormde geloof aan te neem. GS 106.3

Die moordenaars van Huss het nie stilgestaan om die triomf van sy saak te aanskou nie. Die pous en die keiser het saamgewerk om die beweging te vernietig en die leërs van Sigismund het Boheme binnegeval. GS 106.4

Maar ‘n bevryder is opgewek. Ziska, wat kort na die aanvang van die oorlog totaal blind geword het, maar tog een van die vaardigste generaals van sy tyd was, was die leier van die Bohemers. Met hulle vertroue in God en die regverdigheid van hulle saak, het die volk die magtigste leërs wat teen hulle gebring kon word, weerstaan. Keer op keer het die keiser met nuwe leërs Boheme binnegeval, om net weer op ‘n skandalige wyse afgeweer te word. Die Hussiete was bo vrees vir die dood verhewe en niks kon voor hulle staan nie. ‘n Paar jaar na die aanvang van die oorlog, is die dappere Ziska oorlede; maar sy plek is deur Procopius wat ‘n ewe dapper en bekwame generaal was en in seker opsigte ‘n meer bekwame leier, gevul. GS 107.1

Die vyande van die Bohemers, wetende dat die blinde generaal dood was, het dit as ‘n gunstige geleentheid beskou om alles wat hulle verloor het, te herwin. Die pous het nou ‘n kruistog teen die Hussiete aangekondig en weer is ‘n geweldig mag teen die Bohemers uitgestuur, om net weer ‘n verskriklike nederlaag te ly. Nog ‘n kruistog is uitgeroep. In al die pousgesinde lande van Europa is manne, geld en oorlogswapens ingesamel. Menigtes het hulle onder die pouslike banier geskaar met die versekering dat daar uiteindelik ‘n einde aan die Hussitiese ketters gemaak sal word. Met volle vertroue van ‘n groot oorwinning, het die groot mag Boheme binnegeval. Die volk het saamgestaan om hulle terug te dryf. GS 107.2

Die twee leërs het mekaar genader totdat net ‘n rivier tussen hulle was. “Die kruisvaarders was baie sterk, maar in stede daarvan dat hulle die rivier oorsteek en teen die Hussiete te veg, wat hulle so ver gekom het om aan te val, het hulle daardie krygers stilswyend aangestaar.” — Wylie, vol 3, hfst 17. Toe word hulle deur ‘n skielike vrees oorval. Sonder om ‘n slag te slaan, het daardie magtige leër uitmekaar gespat en gevlug asof hulle deur ‘n onsigbare mag verdryf is. Groot getalle is deur die leër van die Hussiete wat die vlugtelinge agterna gesit het, gedood en ‘n geweldige buit het in die hande van die oorwinnaars geval, sodat die oorlog die mense van Boheem verryk het in plaas van te verarm. GS 107.3

'n Paar jaar later, onder ‘n nuwe pous, is nog ‘n kruistog opgeroep. Net soos voorheen, is manne en middele uit al die pousgesinde lande van Europa ingevorder. Aantreklike lokmiddels is aan diegene wat aan hierdie gevaarlike onderneming sou deelneem, voorgehou. Volle vergifnis vir die mees afskuwelikste misdade is aan elke kruisvaarder belowe. GS 108.1

Aan almal wat in die oorlog sou sterf, is ‘n ryk beloning in die hemel beloof en diegene wat oorleef het, sou eer en rykdom op die slagveld verkry. Weer is ‘n groot leër op die been gebring en hulle het Boheme binnegeval. Die Hussitiese magte het voor hulle teruggeval en die invallers het sodoende al verder die land geïnfiltreer, wat hulle gelei het om reeds op die gewenste oorwinning staat te maak. Uiteindelik het die leër van Procopius stelling ingeneem en die vyand aangedurf. Die kruisvaarders wat nou hulle fout ontdek het, het die aanval in hulle kamp afgewag. Terwyl die geluid van die naderende mag gehoor is en nog voordat die Hussiete in sig was, het daar weer paniek oor die kruisvaarders losgebars. Vorste, generaals en soldate het hulle wapenrusting neergegooi en in alle rigtings gevlug. Die pouslike legaat, wat die aanvoerder van die inval was, het gepoog om sy verskrikte en ongeorganiseerde mag te bymekaar te maak. Ten spyte van sy beste pogings, is hy self saam met die stroom vlugtelinge. Die nederlaag was volkome en weer het ‘n groot buit in die hande van die oorwinnaars geval. GS 108.2

Vir die tweede keer het ‘n groot leër, wat deur die magtigste nasies van Europa gestuur is, ‘n leër van dapper, oorlogsugtige manne, opgelei en toegerus vir oorlog, sonder ‘n slag voor die verdedigers van ‘n klein en tot dusver swak volk, gevlug. Hier was ‘n manifestasie van Goddelike mag. Die kruisvaarders is deur ‘n bonatuurlike vrees verslaan. Hy wat die leërs van Farao in die Rooi See omvergewerp het, wat die leërs van Midian voor Gideon en sy driehonderd man op die vlug gejaag het, wat in een nag die magte van die trotse Assiriërs neergevel het, het weer Sy hand uitgestrek om die mag van die onderdrukker te vernietig. “Dáár het skrik hulle oorweldig sonder dat daar skrik was; want God het die beendere verstrooi van hom wat jou beleër het; jy het hulle beskaamd gemaak, want God het hulle verwerp.” (Ps 53:6). GS 108.3

Die pouslike, leiers wat gewanhoop het om met geweld te oorweldig, het uiteindelik hul toevlug tot diplomasie geneem. Daar is ‘n kompromie aangegaan dat hulle, terwyl hulle beweer het dat hulle aan die Bohemers vryheid van gewete verleen, hulle eintlik aan die mag van Rome uitgelewer het. Die Bohemers het vier punte as voorwaardes vir vrede met Rome gespesifiseer: Die ongehinderde prediking van die Bybel; die reg van al die gelowiges op gebruik van die brood en wyn by die Nagmaal; en die gebruik van die moedertaal by die godsdiens; die uitsluiting van die geestelikes van alle sekulêre ampte en gesag; en, in gevalle van misdaad, die jurisdiksie van die burgerlike howe oor geestelikes en leke. Die pouslike gesaghebbendes het eindelik “...ooreengekom om die vier punte van die Hussiete te aanvaar, maar dat die reg om dit aan hulle te verduidelik, dit wil sê die reg om die presiese belang daarvan te bepaal, is vir die raad voorbehou — met ander woorde, die pous en die keiser.” — Wylie, vol 3, hfst 18. Op hierdie grondslag is ‘n verdrag gesluit en deur huigelary en bedrog het Rome verkry wat sy nie deur konflik kon verkry nie; want deur hul eie vertolking van die vier artikels van die Hussiete, asook van die Bybel, kon hulle die betekenis daarvan verdraai om by hul eie doeleindes aan te pas. GS 109.1

'n Groot gelid in Boheme, wat gesien het dat dit hulle van hul vryhede ontneem, kon nie tot die verdrag toestem nie. Onenigheid en verdeeldheid het ontstaan, wat tot twis en bloedvergieting onder mekaar gelei het. In hierdie stryd het die edele Procopius geval en die vryheid van Boheme is vernietig. GS 109.2

Sigismund, die verraaier van Huss en Hieronymus, het nou koning van Boheme geword en ongeag sy eed om die regte van die Bohemers te beskerm, het hy die pousdom daar gevestig. Maar hy het min deur sy ondergeskiktheid aan Rome verdien. Vir twintig jaar was sy lewe gevul met arbeid en gevare. Sy leërs en skatkamers is deur ‘n lang en vrugtelose stryd uitgeput en nou, nadat hy vir een jaar regeer het, het hy gesterf, sy koninkryk was op die rand van ‘n burgeroorlog en sy nageslag is met ‘n berugte naam agtergelaat. GS 110.1

Oproerigheid, stryd en bloedvergieting is uitgerek. Weer het buitelandse leërs Boheme binnegeval en die interne onenigheid het die land bly ontwrig. Diegene wat getrou aan die evangelie gebly het, is aan bloedige vervolging onderwerp. GS 110.2

Terwyl hulle voormalige broers, wat die verdrag met Rome aangegaan het, haar dwaalleer aanvaar het, het diegene wat die antieke geloof aangehang het, ‘n afsonderlike kerk onder die naam van Verenigde Broeders gestig. Hierdie optrede het vir hulle die vervloeking op die hals gehaal, maar hulle was standvastig en onverskrokke. Gedwing om skuiling in die bosse en spelonke te soek, het hulle steeds vergader om God se Woord te lees en in aanbidding tot Hom te verenig. GS 110.3

Deur boodskappers wat hulle heimlik na verskillende lande gestuur het, het hulle verneem dat daar hier en daar “...geïsoleerde belyers van die waarheid was; ‘n paar in hierdie stad en ‘n paar in daardie stad wat, net soos hulleself, die voorwerpe van vervolging was; en dat daar tussen die berge van die Alpe, ‘n ou kerk was wat op die fondamente van die Skrif berus het en teen die afgodiese korrupsie van Rome geprotesteer het.” — Wylie, vol 3, hfst 19. Hulle het hierdie nuus met groot vreugde ontvang en korrespondensie is met die Waldensiese Christene gewissel. GS 110.4

Standvastig aan die evangelie, het die Bohemers deur die nag van hul vervolging gewag en in die donkerste uur het hulle steeds hul oë na die horison gedraai, soos mense wat vir die dagbreek wag. “Hulle lot is in bose dae gewerp, maar ... hulle het die woorde wat eers deur Husse uitgespreek is en later deur Hieronymus herhaal is onthou, dat die eeu moes draai voordat die dag sou aanbreek. Hierdie woorde was vir die Taboriete [Hussiete], soos die woorde van Josef vir die stamme in slawerny: “Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek.” — D'Aubigne, vol 3, hfst 19. “Aan die einde van die vyftiende eeu was daar getuienis van ‘n stadige, maar sekere toename van gemeentes van die Broeders te bespeur. Hulle is egter nie gemolesteer nie, maar het ‘n taamlike mate van vrede geniet. Aan die begin van die sestiende eeu het hulle sowat tweehonderd gemeentes in Boheme en Morawië gehad.” — Gillett, Life and Times of John Huss, derde uitg, vol 2, bI 570. “Die oorblyfsel wat die vernietigende woede van vuur en swaard ontkom het, was van so aard, dat hulle toegelaat was om die aanbreek van die dag wat Huss voorspel het, te sien.”— Wylie, vol 3, hfst 19. GS 110.5