Die Groot Stryd (1911)

3/44

Hoofstuk 1—Vernietiging van Jerusalem

“As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom, dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (Luk 19:42-44). GS 1.1

Jesus het vanaf die kruin van die Olyfberg oor Jerusalem uitgekyk. Die toneel wat voor Hom uitgestrek het was mooi en vreedsaam. Dit was die tyd van die Pasga en die kinders van Jakob het uit alle lande daar saamgekom om die groot nasionale fees te vier. Te midde van die tuine en wingerde en groen hellings, besaai met die tente van pelgrims, het die heuwels, die statige paleise en massiewe skanse van Israel se hoofstad uitgestyg. Dit het gelyk asof die dogter van Sion in haar hoogmoed gesê het: “Ek sit as koningin ... en droefheid sal ek nooit sien nie...”, in skoonheid en haarself as veilig in die guns van die Hemel beskou, soos toe die Psalmdigter gesing het: “Skoon deur sy verhewendheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion ... die stad van die groot Koning!” (Ps 48:3). Die manjifieke geboue van die tempel was duidelik sigbaar. Die strale van die ondergaande son het die sneeuagtige wit marmermure opgehelder en verlig en vanaf die goue poorte en torings, tot aan hul toppunt, laat glinster. Dit het as “...die volkomenheid van skoonheid...” en die trots van die Joodse nasie gestaan. Watter kind van Israel kon hierdie toneel sonder vreugde en bewondering aanskou! Maar baie ander gedagtes het die gedagtes van Jesus beset. “En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween.” (Luk 19:41). Te midde van die universele vreugde van die triomfantlike intog, terwyl palmtakke gewaai is, blye hosannas deur die berge weerklink het en duisende stemme Hom tot koning verklaar het, is die Verlosser van die wêreld deur ‘n skielike en misterieuse droefheid oorweldig. Hy, die Seun van God, die Beloofde van Israel, wie se mag die dood oorwin het en die gevangenes uit die grafte geroep het, was in trane, nie die trane van gewone hartseer nie, maar van intense, onbedwingbare sielsangs. GS 1.2

Sy trane was nie vir Homself nie, hoewel Hy ten volle bewus was van waarheen Sy voete geneig het. Voor Hom was Getsémané, die toneel van Sy naderende lyding. Die Skaappoort, waardeur die slagoffers eeue lank gelei is om geoffer te word en wat vir Hom sou oopgaan wanneer Hy “...soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word...” (Jes 53:7) sou gaan, was ook in sig. Nie ver daarvandaan nie was Golgota, die plek van kruisiging. Op die pad wat Christus binnekort sou betree, sou groot duisternis Hom oorval wanneer Hy Sy siel as ‘n offer vir die sonde sou bring. Tog was dit nie die bepeinsing van hierdie tonele wat in hierdie uur van vreugde die skaduwee oor Hom gewerp het nie. Geen voorbode van Sy eie bomenslike lyding het Sy onselfsugtige gees vertroebel nie. Hy het oor die verdoemde duisende van Jerusalem, oor die blindheid en onboetvaardigheid van diegene wat Hy gekom het om te seën en te red geween. GS 2.1

Die geskiedenis van meer as ‘n duisend jaar van God se spesiale guns en beskermende sorg wat aan de uitverkore volk bewys is, was oop voor die oë van Jesus. Daar was die berg Moria, waar die seun van belofte as gewillige slagoffer op die altaar gebind is, ‘n embleem van die offer van die Seun van God. GS 2.2

(Gen 22:9,16-18). Daar het die vlamme van die offer wat na die hemel vanaf die dorsvloer van Ornan opgegaan het, die swaard van die engel van vernietiging weggedraai, ‘n simbool van die offer en bemiddeling van die Heiland vir die skuldige mensdom. Jerusalem is bo die hele aarde deur God vereer. Die Here het Sion uitgekies en “...Hy het dit as woonplek vir Hom begeer.” (Ps 132:13). Daar het heilige profete vir eeue hulle boodskappe van waarskuwing uitgespreek. Daar het die priesters hul vuurpanne geswaai en het die wolk van wierook met die gebede van die aanbidders na God opgestyg. Daar is die bloed van die geslagte lammers wat na die Lam van God gewys het, geoffer. Daar is Jehova se teenwoordigheid in die wolk van heerlikheid bokant die versoendeksel geopenbaar. Daar het die basis van die mistieke leer wat die aarde met die hemel verbind gerus. (Gen 28:12; Joh 1:51) - dieselfde leer waarop die engele van God op en af beweeg het en wat vir die wêreld die weg na die allerheiligste geopen het. Indien Israel as ‘n nasie, hulle trou aan die hemel gehandhaaf het, sou Jerusalem vir ewig as die uitverkorenes van God bly staan het. (Jer 17:21-25). Maar die geskiedenis van daardie bevoorregte nasie was ‘n rekord van afvalligheid en opstand. Hulle het die genade van die hemel weerstaan, hulle voorregte misbruik en hulle geleenthede geminag. GS 2.3

Alhoewel Israel “...die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot het...” (2 Kron 36:16), het die Here Homself steeds aan hulle as die “...Here, ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou...” geopenbaar en het Hy in Sy genade, nieteenstaande herhaaldelike verwerping, steeds met hulle gepleit. (Ex 34:6). Met ‘n meer as ‘n vader se deernisvolle liefde vir die seun van sy sorg, het God “...vroeg en laat na hulle gestuur deur Sy boodskappers; want Hy het medelyde met Sy volk en met Sy woning gehad.” (2 Kron 36:15). Toe vermaning, smeking en teregwysing nie geslaag het nie, het Hy Sy grootste Geskenk van die hemel aan hulle gestuur; nee, Hy het die ganse hemel in daardie een Geskenk uitgestort. GS 3.1

Die Seun van God self is gestuur om met die onboetvaardige stad te pleit. Dit was Christus wat Israel as ‘n goeie wingerdstok uit Egipte uitgebring het. (Ps 80:9). Sy eie Hand het die heidene voor hulle uitgedryf. Hy het “...'n wingerd op ‘n vrugbare heuwel...” geplant. (Jes 5:1). Sy voogdyskap het dit verskans. Sy dienaars is gestuur om dit te versorg. “Wat is daar meer te doen aan My wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie?” het Hy gevra. (Jes 5:4.) En toe Hy verwag het “...dat dit druiwe sou dra...” het dit “...wilde druiwe voortgebring.” (Jes 5:2). Alhoewel Hy uitgesien het dat dit druiwe moes voortbring, het dit wilde druiwe voortgebring, maar tog, met ‘n steeds smagtende hoop of vrugbaarheid, het Hy persoonlik na Sy wingerd gekom om dit, indien moontlik, van ondergang te red. Hy het dit omgespit; Hy het dit gesnoei en gekoester; Hy was onvermoeid in Sy pogings om hierdie wingerdstok wat Hy self geplant het, te red. GS 3.2

Drie jaar lank het die Here van lig en heerlikheid in-en-uit tussen sy volk beweeg. Hy het rondgegaan en “...goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was.” (Hand 10:38; Luk 4:18; Matt 11:5). Hy het “...die wat verbryseld van hart was ... genees ... aan die gevangenes vrylating ... verkondig en aan blindes herstel van gesig...” (Luk 4:18,19); Hy het die kreupeles herstel, die dowes laat hoor, die melaatses gereinig, die dooies opgewek en die evangelie aan die armes verkondig. (Sien Matt 11:5). Aan alle mense is die uitnodiging gegee: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.” (Matt 11:28). GS 4.1

Hoewel Hy met kwaad vir goed beloon is en haat vir Sy liefde (Ps 109:5), het Hy Sy sending van barmhartigheid onwrikbaar nagestreef. Nooit is diegene wat Sy genade gesoek het weggewys nie. ‘n Hawelose swerwer, met verwyt en armoede as Sy daaglikse lot, het Hy gelewe om in die behoeftes van die mensdom te voorsien, hulle ellende te verlig en met hulle te pleit om die geskenk van die lewe aan te neem. Die golwe van genade, teruggedryf deur daardie wederstrewige harte, het in ‘n sterker gety van deernisvolle, onuitspreeklike liefde teruggevloei. Maar Israel het van hul beste Vriend en enigste Helper afgewyk. Die smekinge van Sy liefde is verag, Sy raad versmaai en Sy waarskuwings bespot. GS 4.2

Die uur van hoop en kwytskelding was vinnig besig om uit te loop; die beker van God se lank-uitgestelde toorn was amper vol. Die wolke wat deur eeue van afvalligheid en opstand saamgepak het, nou swart van wee, was op die punt om oor ‘n skuldige volk los te bars; en Hy wat hulle alleen van hulle dreigende lot kon red, is verag, mishandel, verwerp en sou binnekort gekruisig word. Wanneer Christus aan die kruis van Golgota sou hang, sou Israel se dag, as die geseënde en begunstigde volk van God, beëindig wees. Die verlies van slegs een siel is ‘n ramp wat oneindig swaarder weeg as al die winste en skatte van die wêreld; maar, terwyl Christus Jerusalem aanskou het, het die ondergang van ‘n hele stad, die hele volk, voor Hom opgedoem - dié stad, dié volk wat eens die uitverkorenes van God was, Sy eiesoortige skat. GS 4.3

Profete het geween oor die afvalligheid van Israel en die verskriklike verwoesting wat as gevolg van hulle sondes besoek is. Jeremia het gewens dat sy oë ‘n fontein van trane was, dat hy dag en nag kon ween oor die gesneuweldes van die dogter van sy volk en oor die kudde van die Here wat as gevangenes weggevoer is. (Jer 9:1;13:17). Hoe groot was dus die droefheid van Hom wie se profetiese blik nie slegs deur jare nie, maar deur die eeue heen gesien het! Hy het die engel van verwoesting met sy swaard teen die stad opgehef, wat vir soveel jare die woonplek van Jehova was, gesien. Vanaf die rant van die Olyfberg, dieselfde plek wat later deur Titus en sy leër beset is, het Hy oor die vallei na die heilige voorhowe en suilegange met traanverdofte oë gekyk en met ‘n vreeslike perspektief die mure, deur ‘n vyandige leërskare omring gesien. Hy het gehoor hoe die leërmag vir oorlog opmarsjeer. Hy het moeders en kinders om brood in die beleërde stad hoor huil. Hy het gesien hoedat die heilige geboue, paleise en torings, in vlamme opgaan en waar hulle eenmaal gestaan het, het net smeulende puinhope oorgebly het. GS 5.1

Met sy blik ver in die toekoms, het Hy die verbondsvolk in alle lande verstrooi gesien “...soos wrakke op ‘n verlate kus.” In die tydelike vergelding wat op die punt was om oor die volk te kom, het Hy die eerste teug uit die beker van grimmigheid gesien wat met die finale oordeel tot die bodem toe geledig sou word. Goddelike deernis en verlangende liefde het uiting in die hartseer woorde gevind: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak en julle wou nie!” (Mat 23:37). O dat jy, ‘n nasie bevoorreg bo alle ander, as jy tog maar die dag van jou besoeking geken het en die dinge wat tot jou vrede dien! Ek het die engel van geregtigheid teëgehou; Ek het jou tot bekering geroep, maar tevergeefs. Dit is nie slegs diensknegte, afgevaardigdes en profete wat jy geweier en verwerp het nie, maar die Heilige van Israel, jou Verlosser. As jy vernietig word dan is jy alleenlik verantwoordelik. “Julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” (Joh 5:40). GS 5.2

Christus het in Jerusalem ‘n simbool van die wêreld, wat in ongeloof en opstand verhard is en haastig op pad na die vergeldende oordele van God, gesien. Die ellendes van ‘n gevalle ras wat op Sy siel gedruk het, het daardie bittere uitroep uit Sy lippe gepers. Hy het gesien hoe die sonde in menslike ellende, trane en bloed nagespoor word; Sy hart was diep ontroer met ‘n oneindige deernis vir die geteisterde en lydende mense op die aarde. Hy het daarna verlang om hulle almal te verlos. Maar selfs Sy hand kon nie die gety van menslike wee keer nie; min sou na hul enigste Bron van hulp soek. Hy was bereid om Sy siel tot die dood toe uit te stort om redding binne hul bereik te bring; maar min sou na Hom kom sodat hulle die lewe kon hê! GS 6.1

Die Majesteit van die hemel in trane! Die Seun van die Oneindige God, in Sy gees bekommerd en neergeboë van sielesmart! Hierdie toneel het die ganse hemel met verwondering gevul. Dit openbaar aan ons die uitermate sondigheid van sonde; dit wys hoe moeilik dit is, selfs vir Oneindige Mag, om die skuldiges van die gevolge van die oortreding van God se wet te red. Soos Jesus neergekyk het na die laaste geslag, het hy gesien hoe die wêreld betrokke sou wees by misleiding, soortgelyk aan dit wat die vernietiging van Jerusalem veroorsaak het. Die groot sonde van die Jode was hulle verwerping van Christus; die groot sonde van die Christenwêreld sou wees dat hulle die wet van God, die grondslag van Sy regering in die hemel en op die aarde, verwerp. Die voorskrifte van Jehova sou verag en van nul en geen waarde gemaak word. Miljoene in die slawerny van sonde, slawe van Satan, gedoem tot die tweede dood, sou weier om na die woorde van waarheid op die dag van hul besoeking te luister. Verskriklike blindheid! Vreemde versotheid! GS 6.2

Twee dae voor die Pasga, toe Christus vir die laaste keer die tempel verlaat het, nadat Hy die geveinsdheid van die Joodse owerstes veroordeel het, het Hy weer met Sy dissipels na die Olyfberg gegaan, waar hulle teen die helling wat oor die stad uitgekyk het, op die gras gaan sit het. Weer het Hy na die stadsmuur, die torings en die paleise gekyk en het Hy die skitterende prag van die tempel soos ‘n sierlike kroon op die heilige berg, aanskou. GS 7.1

Duisend jaar tevore het die psalmis God geloof vir Sy guns aan Israel, deur haar heilige huis Sy woonplek te maak: “Ook het in Salem Sy tent verrys en Sy woning in Sion.” Hy het “...die stam van Juda uitverkies, die berg van Sion wat Hy liefhet. En Hy het Sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou.” (Ps 76:3;78:68,69). Die eerste tempel is gedurende die voorspoedigste tydperk van Israel se geskiedenis opgerig. Groot hoeveelhede skatte is vir hierdie doel deur Koning Dawid bymekaargemaak en die planne vir die oprigting daarvan is deur Goddelike Ingewing opgetrek. (Sien 1 Kron 28:12,19). Salomo, die wysste van Israel se vorste, het die werk voltooi. Hierdie tempel was die manjifiekste gebou wat die wêreld ooit gesien het. Tog het die Here, deur die profeet Haggai, aangaande die tweede tempel verklaar: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as van die vroeëre ... Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die Here van die leërskare” (Hag 2:9,7). GS 7.2

Na die vernietiging van die tempel deur Nebukadnésar, is dit ongeveer vyfhonderd jaar voor die geboorte van Christus herbou deur ‘n volk wat uit lewenslange gevangenskap na ‘n verwoeste en byna verlate land teruggekeer het. Onder hulle was daar destyds bejaarde mans wat die heerlikheid van Salomo se tempel gesien het en wat by die grondlegging van die nuwe gebou geween het omdat dit so minderwaardig in vergelyking met eersgenoemde was. Die gevoel wat geheers het, word kragtig deur die profeet beskryf: “Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie?” (Hag 2:3; Esra 3:12). Toe is die belofte gegee dat die heerlikheid van hierdie laasgenoemde huis, dié van die eersgenoemde ver sou oortref. GS 7.3

Maar die tweede tempel was nie te vergelyk met die glansrykheid van die eerste nie; ook was dit nie deur die sigbare tekens van Goddelike teenwoordigheid wat die eerste tempel gekenmerk het, geheilig nie. Daar was geen manifestasie van bonatuurlike Mag om die toewyding daarvan aan te dui nie. Geen wolk van heerlikheid is gesien om die pas opgerigte heiligdom te vul nie. Geen vuur uit die hemel het neergedaal om die offer op die altaar te verteer nie. Die Sjekina was nie meer tussen die gerubs in die Allerheiligste plek nie; die verbondsark, die versoendeksel en die tafels van die wet is nie daarin gevind nie. Geen stem het uit die hemel opgeklink om die wil van Jehova aan die vraende priester bekend te maak nie. GS 8.1

Eeue lank het die Jode tevergeefs gepoog om aan te dui in watter opsigte die belofte van God wat deur Haggai gegee is, vervul is; maar hoogmoed en ongeloof het hulle verstand vir die ware betekenis van die profeet se woorde verblind. Die tweede tempel is nie met die wolk van die heerlikheid van Jehova vereer nie, maar met die lewende teenwoordigheid van Een in wie die volheid van die Godheid liggaamlik gewoon het - wat God self in die vlees gemanifesteer was. Die Begeerte van alle nasies het waarlik na Sy tempel gekom toe die Man van Nasaret in die heilige voorhowe geleer en genees het. In die teenwoordigheid van Christus en alleenlik hierin , het die tweede tempel die eerste in heerlikheid oortref. Maar Israel het die aangebode Gawe van die hemel verwerp. Met die nederige Leermeester wat daardie dag vir die laaste keer deur die goue poort uitgegaan het, het die heerlikheid vir ewig uit die tempel gewyk. Toe reeds is die Heiland se woorde vervul: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt 23:38). GS 8.2

Die dissipels is met ontsag en verwondering deur Christus se voorspelling van die omverwerping van die tempel vervul en hulle wou die betekenis van Sy woorde beter verstaan. Rykdom, arbeid en argitektoniese vaardighede is vir meer as veertig jaar aangewend om die prag daarvan te verhoog. Herodes die Grote het beide Romeinse en Joodse skatte daaraan bestee en selfs die keiser van die wêreld het dit met sy geskenke verryk. Massiewe blokke wit marmer van byna fabelagtige grootte wat vir hierdie doel uit Rome gestuur is, het deel van die struktuur uitgemaak; hierop het die dissipels die aandag van hulle Meester gevestig en gesê: “Meester, kyk watter klippe en watter geboue!” (Mark 13:1). GS 9.1

Op hierdie woorde het Jesus die plegtige en ontstellende antwoord gegee: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie heeltemal afgebreek sal word nie.” (Mat 24:2). GS 9.2

Met die omverwerping van Jerusalem, het die dissipels die gebeure van Christus se persoonlike koms met tydelike glorie vereenselwig, om die troon van die universele ryk in te neem, om die onboetvaardige Jode te straf en om die Romeinse juk van die volk te verbreek. Die Here het aan hulle gesê dat Hy die tweede keer sou kom. Daarom, met die melding van die oordele oor Jerusalem, het hulle gedagtes na daardie koms teruggekeer; en toe hulle om die Verlosser op die Olyfberg vergader het, het hulle gevra: “Vertel ons wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mat 24:3). GS 9.3

Die toekoms was genadiglik vir die dissipels verberg. Indien hulle op daardie stadium die twee skrikwekkende feite, naamlik die lyding en dood van die Verlosser en die verwoesting van hul stad en die tempel ten volle begryp het, sou hulle met afgryse oorweldig gewees het. Christus het aan hulle ‘n uiteensetting van die belangrike gebeure wat voor die einde van tyd sou plaasvind gegee. Sy woorde was nie toe ten volle begryp nie; maar de betekenis daarvan moes ontvou word, aangesien Sy volk ‘n behoefte aan die onderrig daarin vervat, sou hê. Die profesie wat Hy uitgespreek het, was tweeledig in die betekenis daarvan; terwyl dit die verwoesting van Jerusalem voorspel het, het dit ook die verskrikking van die laaste groot dag voorafgeskadu. GS 9.4

Jesus het aan Sy luisterende dissipels die oordele wat oor die afvallige Israel sou kom verklaar en veral die vergeldende wraak wat as gevolg van hulle verwerping en kruisiging van die Messias oor hulle sou kom. Onmiskenbare tekens sou hierdie verskriklike klimaks voorafgaan. Die gevreesde uur sou skielik en spoedig kom. En die Verlosser het Sy volgelinge gewaarsku: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom - laat hy wat lees, oplet - dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug.” (Mat 24:15,16). (Sien ook Luk 21:20,21). Wanneer die afgodiese vaandels van die Romeine, wat ‘n paar lengtes buite die stadsmure gestrek het, op die heilige grond opgestel word, moes die volgelinge van Christus na veiligheid vlug. Wanneer die waarskuwingstekens gesien word, moes diegene wat sou vlug, nie aarsel nie. Dwarsdeur die land van Judea, asook in Jerusalem, moes die teken om te vlug onmiddellik gehoorsaam word. Die een wat op die dak was, mag nie afgaan na sy huis om eers sy waardevolste skatte te red nie. Diegene wat op die lande of in die wingerde gewerk het, moes geen tyd verkwis om vir hul bokleed wat hulle uitgetrek het terwyl hulle in die hitte geswoeg het, terug te keer nie. Hulle moes nie vir ‘n oomblik huiwer nie, sodat hulle nie by die algehele vernietiging betrokke sou raak nie. GS 10.1

Tydens die regering van Herodes is Jerusalem nie net baie mooi versier nie, maar deur die oprigting van torings, mure en vestings wat tot die natuurlike sterkte van die stad bygedra het, was dit blykbaar onneembaar gemaak. Hy wat in hierdie tyd die vernietiging daarvan in die openbaar sou voorspel het sou, soos Noag in sy tyd, as ‘n geklike alarmis beskou word. Maar Christus het gesê: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.” (Mat 24:35). Vanweë hul sondes, is die toorn teen Jerusalem uitgespreek en hul hardnekkige ongeloof het hulle ondergang verseker. GS 10.2

Die Here het deur die profeet Miga verklaar: “Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg ‘n afsku het en al wat reg is, verdraai; julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg! Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk en sy priesters gee onderrig vir loon en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die Here en sê: Is die Here nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!” (Miga 3:9-11). GS 11.1

Hierdie woorde was ‘n getroue beskrywing van die korrupte en eiegeregtige inwoners van Jerusalem. Terwyl hulle beweer het dat hulle die voorskrifte van God se wet getrou nagekom het, het hulle al die beginsels daarvan oortree. Hulle het Christus gehaat omdat Sy reinheid en heiligheid hulle ongeregtighede aan die kaak gestel het; en hulle het Hom beskuldig dat Hy die oorsaak van al die moeilikhede was wat as gevolg van hulle sondes oor hulle gekom het. Alhoewel hulle geweet het dat Hy sondeloos was, het hulle verklaar dat Sy dood noodsaaklik vir hulle veiligheid as volk was. “As ons Hom so laat begaan...” het die Joodse leiers gesê, “...sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.” (Joh 11:48). As Christus geoffer word, kon hulle weer ‘n sterk en verenigde volk word. So het hulle geredeneer en met die beslissing van hul hoëpriester saamgestem, dat dit beter sou wees vir een man om te sterf as dat die hele volk vergaan. GS 11.2

So het die Joodse leiers dus Sion met bloed en Jerusalem met ongeregtigheid opgehou. (Sien Miga 3:10). En tog, terwyl hulle hul Verlosser gedood het omdat Hy hulle sondes bestraf het, was hulle so eiegeregtig, dat hulle hulleself as die bevoorregte volk van God beskou het en verwag het dat die Here hulle van hul vyande sou verlos. “Daarom...” het die profeet voortgegaan, “...sal Sion om julle ontwil soos ‘n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bos-rante” (Miga 3:12). GS 11.3

Vir byna veertig jaar nadat Christus die verwoesting van Jerusalem voorspel het, het die Here Sy oordele oor die stad en die nasie vertraag. Wonderbaarlik was die lankmoedigheid van God teenoor die verwerpers van Sy evangelie en die moordenaars van Sy Seun. Die gelykenis van die onvrugbare boom het God se handelinge met die Joodse volk verteenwoordig. Die opdrag het uitgegaan: “Kap hom uit. Waarom maak hy die grond nog onvrugbaar?” (Luk 13:7), maar Goddelike genade het dit vir nog ‘n kort tyd gespaar. Daar was nog baie onder die Jode wat onkundig aangaande die karakter en werk van Christus was. En die kinders het nie die geleenthede geniet en ook nie die lig wat hul ouers versmaai het, ontvang nie. GS 12.1

Deur die prediking van die apostels en hul medewerkers sou God lig op hulle laat skyn; hulle sou toegelaat word om te sien hoe die profesie vervul is, nie slegs in die geboorte en lewe van Christus nie, maar ook in Sy dood en opstanding. Die kinders is nie weens die sonde van die ouers veroordeel nie; maar toe die kinders met kennis van al die lig wat aan hulle ouers gegee is, die addisionele lig wat aan hulle verleen is verwerp het, het hulle die ouers se sondes deelagtig geword en die maat van hul ongeregtigheid gevul. GS 12.2

Die lankmoedigheid van God teenoor Jerusalem het die Jode net in hul hardkoppige onboetvaardigheid laat volhard. In hulle haat en wreedheid teenoor die dissipels van Jesus, het hulle die laaste aanbod van genade verwerp. Toe het God Sy beskerming van hulle onttrek en Sy mag van beheer oor Satan en sy engele weggeneem en die volk is aan die mag van die leier wat hulle gekies het oorgelaat. Sy kinders het die genade van Christus wat hulle in staat sou stel om hulle bose drange te onderwerp, versmaai en nou het dit die oorwinnaars geword. Satan het die felste en mees verlagende hartstogte van die siel opgewek. Mense het nie redenasievermoë gebruik nie; hulle was redeloos, beheer deur impuls en blinde woede. Hulle het satanies in hulle wreedheid geword. In die gesin en die nasie, onder die hoogste en laagste klasse, was daar agterdog, afguns, haat, twis, rebellie en moord. Daar was nêrens veiligheid nie. Vriende en familie het mekaar verraai. Ouers het hul kinders doodgemaak en kinders hul ouers. Die heersers van die volk het geen mag gehad om oor hulself te heers nie. Onbeteuelde hartstogte het tiranne van hulle gemaak. Die Jode het valse getuienis aanvaar ten einde die onskuldige Seun van God te veroordeel. Nou het valse beskuldigings hulle eie lewens onseker gemaak. Lank reeds het hulle deur hul optrede gesê: “Laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jes 30:11). Nou is daar aan hul begeerte voldoen. Die vrees vir God het geen invloed meer oor hulle gehad nie. Satan was aan die hoof van die volk en die vernaamste burgerlike en godsdienstige owerhede was onder sy heerskappy. GS 12.3

Die leiers van opponerende faksies het soms verenig om hul ellendige slagoffers te plunder en te martel en dan het hulle weer mekaar se magte aangeval en sonder genade geslag. Selfs die heiligheid van die tempel kon die felheid van hul woede nie in bedwang hou nie. Aanbidders is voor die altaar neergevel en die heiligdom is met die lyke van die gesneuweldes besoedel. Maar, in hul blinde en lasterlike aanmatiging, het die stigters van hierdie helse werk in die openbaar verklaar dat hulle geen vrees gehad het dat Jerusalem vernietig sou word nie, want dit was God se eie stad. Om hulle mag te verstewig, het hulle valse profete omgekoop om te verkondig dat die volk, selfs terwyl Romeinse leërs die tempel beleër het, op die verlossing van God moes wag. Tot op die laaste het menigtes aan die oortuiging dat die Allerhoogste vir die nederlaag van hul teëstanders sou intree vasgehou. Maar Israel het die Goddelike beskerming versmaai en nou het hulle geen verdediging gehad nie. Ongelukkige Jerusalem, verskeur deur interne verdeeldheid, die bloed van hul kinders wat deur mekaar se hande vergiet is en in die strate vloei, terwyl vyandige leërs hulle vestings vernietig en hul krygsmanne dood! GS 13.1

Al die voorspellings van Christus aangaande die verwoesting van Jerusalem is tot op die letter vervul. Die Jode het die waarheid van Sy woorde van waarskuwings ervaar: “Met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Matt 7:2). GS 14.1

Tekens en wonders het verskyn - voorbodes van rampspoed en verdoemenis. In die middel van die nag het ‘n onnatuurlike lig oor die tempel en die altaar geskyn. Teen sononder is daar op die wolke oorlogswaens en manne wat vir ‘n geveg saamtrek uitgebeeld. Die priesters wat snags in die heiligdom bedien het, is deur geheimsinnige geluide verskrik; die aarde het gebewe en ‘n menigte stemme is gehoor wat uitroep: “Laat ons die plek verlaat.” Die groot Oospoort se hek, wat so swaar was dat dit skaars deur ‘n twintigtal mans gesluit kon word en wat aan groot ysterstawe wat diep in die soliede rots ingeplant is beveilig is, was om middernag, sonder enige sigbare bemiddeling, oopgemaak. - Milman, History of the Jews, vol 13. GS 14.2

Sewe jaar lank het ‘n man voortgegaan om op en af in die strate van Jerusalem die ellende wat oor die stad sou kom te verkondig. Bedags en snags het hy die klaaglied uitgeroep: “‘n Stem uit die ooste! ‘n Stem uit die weste! ‘n Stem uit die vier winde! ‘n Stem teen Jerusalem en teen die tempel! ‘n Stem teen bruidegomme en bruide! ‘n Stem teen die hele volk!” - Ibid. Hierdie vreemde wese is in die gevangenis gewerp en gegesel, maar geen klagte het oor sy lippe gekom nie. Op belediging en mishandeling het hy slegs gereageer: “Wee, wee Jerusalem! Wee, wee aan die inwoners daarvan!” Sy waarskuwingskreet het eers opgehou toe hy in die beleg wat voorspel is gedood is. GS 14.3

Nie een Christen het met die verwoesting van Jerusalem omgekom nie. Christus het Sy dissipels gewaarsku en almal wat Sy woorde geglo het, het uitgekyk vir die beloofde teken: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingel sien...” het Jesus gesê, “...dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.” (Luk 21:20,21). Nadat die Romeine onder Cestius die stad omsingel het, het hulle, toe alles gunstig vir ‘n onmiddellike aanval voorgekom het, die beleg onverwags laat vaar. Die beleërdes, wanhopig oor suksesvolle verset, was op die punt van oorgawe toe die Romeinse generaal sy magte sonder enige skynbare rede onttrek het. Maar God se barmhartige voorsienigheid het hierdie gebeure tot voordeel van Sy eie mense gerig. Die beloofde teken is aan die wagtende Christene gegee en daar was geleentheid vir almal wat sou wou, om die waarskuwing van die Heiland te gehoorsaam. Die gebeure was so oorheers dat nie Jode of Romeine die ontvlugting van die Christene sou belemmer nie. Met die onttrekking van Cestius, het die Jode uit Jerusalem sy terugtrekkende leër agtervolg; en terwyl albei die magte ten volle hierby betrek was, het die Christene geleentheid gehad om uit die stad te vlug. Op hierdie tydstip was die land ook vry van vyande wat moontlik sou probeer om hulle te onderskep. Ten tye van die beleg was die Jode in Jerusalem byeen om die Huttefees te vier en sodoende kon die Christene dwarsdeur die land ongehinderd ontsnap. Hulle het sonder versuim na ‘n veilige plek gevlug - die stad van Pella in die land Perea, anderkant Jordanië. GS 14.4

Die Joodse magte wat Cestius en sy leër agternagesit het, het hulle aan die agterkant met sulke heftigheid aangeval, dat hulle met totale vernietiging bedreig is. Dit was met groot moeite dat die Romeine daarin kon slaag om terug te trek. Die Jode het met byna geen verlies ontsnap en triomfantlik met hul buit na Jerusalem teruggekeer. Maar hierdie skynbare sukses het slegs onheil oor hulle gebring. Dit het hulle met ‘n gees van hardnekkige verset teen die Romeine besiel, wat spoedig onuitspreeklike wee oor die gedoemde stad gebring het. GS 15.1

Verskriklik was die rampe wat oor Jerusalem gekom het toe die beleg deur Titus hervat is. Die stad is ten tye van die Pasga beleër, toe miljoene Jode binne die mure bymekaargekom het. GS 15.2

Hulle voedselvoorrade wat die inwoners, indien hulle dit verstandig bewaar het, jare lank sou voorsien het, is vroeër deur die jaloesie en wraak van die vegtende faksies vernietig en nou het hulle al die verskrikkinge van honger ervaar. ‘n Maat koring is vir ‘n talent verkoop. Die hongerpyne was so fel, dat mans aan die leer van hul gordels en sandale en die bedekking van hul skilde geknaag het. Baie mense het snags uitgesluip om wilde plante wat buite die stadsmure gegroei het te versamel, al was baie van hulle gevang en met wrede marteling om die lewe gebring; en dikwels is diegene wat veilig teruggekeer het, beroof van dit wat hulle met soveel gevaar bekom het. Die mees onmenslike marteling is deur die gesaghebbendes toegedien om die gebrekkige mense te dwing om die laaste, geringe voorrade wat hulle moontlik kon wegsteek, oor te lewer. En hierdie wreedhede is dikwels deur mense, wat welgevoed was, maar wat graag ‘n voorraad vir die toekoms wou opbou, toegepas. GS 16.1

Duisende het van honger en pessiektes omgekom. Die natuurlike liefde het geblyk totaal vernietig te wees. Mans het hul vrouens beroof en vrouens hulle mans. Kinders is gesien dat hulle die voedsel voor die mond van hulle bejaarde ouers wegraap. Die vraag van die profeet: “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet?” (Jes 49:15), is binne die mure van die gedoemde stad beantwoord: “Die hande van teerhartige vroue het hulle eie kinders gekook; dit het hulle voedsel geword in die verbreking van die dogter van my volk.” (Klaagl 4:10). Weer is die profesie wat veertien eeue tevore gegee is vervul: “Die vertroetelde en verwende vrou by jou wat van verwendheid en weekheid nooit probeer het om haar voetsool op die grond neer te sit nie - haar oog sal die man wat sy liefhet en haar seun en haar dogter skeef aankyk ... en haar kinders wat sy baar; want sy sal dit stil letjies eet by gebrek aan alles in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in jou poorte sal bring.” (Deut 28:56,57). GS 16.2

Die Romeinse leiers het probeer om terreur onder die Jode te saai en hulle sodoende tot oorgawe te dwing. Die gevangenes wat hulle teen hul gevangeneming verset het, is voor die muur van die stad gegesel, gemartel en gekruisig. Honderde is daagliks op hierdie wyse tereggestel en hierdie afskuwelike dade het voortgeduur totdat die kruise in sulke groot getalle langs die Vallei van Josafat en op Golgota opgerig was, dat daar nouliks beweegruimte tussen hulle was. Só verskriklik was die vervloeking wat voor die regterstoel van Pilatus uitgespreek is, besoek: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” (Mat 27:25). GS 16.3

Titus sou gewilliglik ‘n einde aan hierdie skrikbewind gemaak het en Jerusalem so van die volle maat van hul ondergang gespaar het. Hy was met afgryse gevul toe hy die lyke van die dooies in hope in valleie sien lê. Soos iemand wat betower was het hy oor die kruin van die Olyfberg na die manjifieke tempel gekyk en bevel gegee dat geen steen daarvan aangeraak moes word nie. Voor sy poging om hierdie vesting in besit te neem, het hy ‘n ernstige beroep op die Joodse leiers gedoen om hom nie te dwing om hierdie heilige plek met bloed te verontreinig nie. Indien hulle sou uitkom en op enige ander plek veg, mag geen Romein die heiligheid van die tempel skend nie. Josefus self, het ‘n mees welsprekende beroep op hulle gedoen om hulself, hul stad en hul plek van aanbidding te red; maar sy woorde is met bitter vloeke beantwoord. Terwyl hy, hulle laaste menslike middelaar, besig was om hulle te smeek, is pyle na hom geslinger. Die Jode het die smekinge van die Seun van God verwerp en nou het vertoë en smekinge hulle net meer vasbeslote gemaak om tot die laaste weerstand te bied. Titus se pogings om die tempel te red was tevergeefs; Een groter as hy het verklaar dat nie een steen op die ander gelaat sou word nie. GS 17.1

Die blinde hardnekkigheid van die Joodse leiers en die verfoeilike misdade wat in die beleërde stad plaasgevind het, het die verskrikking en verontwaardiging van die Romeine opgewek en Titus het uiteindelik besluit om die tempel te bestorm. Hy het egter besluit dat dit, indien moontlik, van vernietiging gered moes word; maar sy opdragte is verontagsaam. Nadat hy vir die nag na sy tent teruggekeer het, het die Jode uit die tempel gestorm en die soldate buite aangeval. In die worsteling is ‘n brandende fakkel deur een van die soldate deur ‘n opening in die poort geslinger en onmiddellik het die sederhout-kamers rondom die heilige tempel aan die brand geslaan. Titus het hom daarheen gehaas, gevolg deur sy generaals en die soldate beveel om die vlamme te blus. Sy woorde is verontagsaam. In hulle woede het die soldate brandende fakkels in die kamers langs die tempel geslinger en toe het hulle diegene wat daar skuiling gevind het, met hulle swaarde om die lewe gebring. Bloed het soos water tussen die tempeltrappe gevloei. Duisende der duisende Jode het omgekom. Bokant die geluid van die stryd, is stemme gehoor wat geskree het: “Ikabod” - weg is die heerlikheid. GS 17.2

“Titus het dit onmoontlik gevind om die woede van die soldate in bedwang te hou; met sy offisiere het hy die binnekant van die heilige gebou gaan besigtig. Die luisterrykheid het hulle met verwondering gevul; en aangesien die vlamme nog nie die heilige plek binnegedring het nie, het hy ‘n laaste poging aangewend om dit te red en die soldate weer aangespoor om die brand te blus. Die hoofman oor honderd, Liberalis, het gepoog om gehoorsaamheid by sy ampspersoneel af te dwing; maar selfs respek vir die keiser het plek gemaak vir die woedende vyandigheid teen die Jode, vir die hewige opwinding van die stryd en vir hulle onversadigbare lus om te plunder. Die soldate het alles rondom hulle wat in die lig van die vlamme geskitter het, sien blink van die goud; hulle was van mening dat daar onberekenbare skatte in die heiligdom weggebêre is. ‘n Soldaat het onopgemerk ‘n brandende fakkel tussen die skarniere van die deur gesteek en die hele gebou was spoedig in vlamme. Die verblindende rook en vlamme het die offisiere gedwing om te onttrek en die edele gebou is aan sy lot oorgelaat. GS 18.1

“Vir die Romeine was dit ‘n ontsettende skouspel - wat was dit nie vir die Jode nie? Die hele kruin van die heuwel bokant die stad het soos ‘n vulkaan gebrand. Een na die ander het die geboue met ‘n verskriklike slag ineengestort en is deur die vuur verswelg. Die plafonne van sederhout was soos plate van vlamme; die vergulde torings het soos spikkels in die rooi lig geblink; die torings by die poorte het hoë kolomme vlamme en rook laat opstyg. Die naburige heuwels is verlig en daar was donker groepe mense wat met afgryslike angs die vordering van die vernietiging dopgehou het. Die mure en die hoogtes van die boonste stad was vol gesigte, sommige bleek van angs en wanhoop en ander het dit met onwrikbare wraaksug gadegeslaan. Die geskreeu van die Romeinse soldate soos hulle heen en weer gehardloop het en die gekerm van die opstandelinge wat in die vlamme omgekom het, het met die gedreun van die vuur en die donderslae van vallende hout gemeng. Die eggo’s van die berge het die krete van die mense op die hoogtes laat weergalm; al langs die mure is gille en ‘n geweeklaag gehoor; mense wat besig was om van honger te sterf, het hul oorblywende krag bymekaargeskraap om ‘n uitroep van angs en verlatenheid te uiter. GS 18.2

“Die slagting van binne was selfs meer ontsettend as die skouspel van buite. Manne en vroue, oud en jonk, opstandelinge en priesters, die wat geveg het en diegene wat om genade gesmeek het, is neergevel in ‘n onoordeelkundige slagting. Die aantal gesneuweldes het die moordenaars oortref. Die soldate moes oor hope dooies klim om hulle vernietigingswerk voort te sit.” — Milman, History of the Jews, vol 16. GS 19.1

Na die vernietiging van die tempel het die hele stad spoedig in die hande van die Romeine geval. Die Joodse leiers het hul ondeurdringbare torings verlaat en Titus het dit verlate aangetref. Hy het dit met verbasing aangestaar en verklaar dat God dit in sy hande oorgegee het, want geen oorlogstuig, hoe kragtig ook al, kon daardie verstommende vestings inneem nie. Beide die stad en die tempel is tot op hulle fondasie gelykgemaak en die grond waar die tempel gestaan het, is “...soos ‘n land omgeploeg.” (Jer 26:18). In die beleg en slagting wat daarop gevolg het, het meer as ‘n miljoen mense omgekom; die oorlewendes is as gevangenes weggevoer, as slawe verkoop, na Rome geneem om die veroweraar se triomf te laat pryk , vir die wilde diere in die amfiteater gegooi, of hulle is as hawelose swerwers oor die hele aarde versprei. GS 19.2

Die Jode het hulle eie kettings gesmee; hulle het vir hulself die beker van grimmigheid gevul. In die totale vernietiging wat hulle as volk getref het en in al die ellendes wat hulle in hulle verstrooiing agtervolg het, het hulle slegs ‘n oes gemaai wat hulle self gesaai het. Die profeet het gesê: “Dit is jou verderf, o Israel ... want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid.” (Hos 13:9;14:2). Hulle lyding is dikwels as ‘n straf wat op die regstreekse bevel van God oor hulle gekom het beskryf. Dit is op hierdie wyse dat die groot bedrieër poog om sy eie werk te verberg. Deur hulle hardnekkige verwerping van Goddelike liefde en genade, was die Jode self die oorsaak dat die beskerming van God van hulle onttrek is en Satan is toegelaat om na willekeur oor hulle te heers. Die verskriklike wreedhede tydens die verwoesting van Jerusalem is ‘n voorbeeld van Satan se wraakgierige mag oor diegene wat hulle aan sy beheer onderwerp. GS 20.1

Ons kan nooit weet hoeveel ons aan Christus verskuldig is vir die vrede en beskerming wat ons geniet nie. Dit is die weerhoudende krag van God wat verhoed dat die mensdom volledig onder Satan se beheer kom. Die ongehoorsames en ondankbares het baie stof tot dankbaarheid vir God se genade en lankmoedigheid om die wrede, kwaadwillige mag van die bose in toom hou. Maar wanneer die mens die perke van Goddelike verdraagsaamheid oorskry, word daardie weerhoudende krag onttrek. God staan nie teenoor die sondaar as Voltrekker van die vonnis teen oortreding nie; maar Hy laat die verwerpers van Sy genade aan hulleself oor om dit wat hulle gesaai het te oes. Elke ligstraal wat verwerp word, elke waarskuwing wat geminag of verontagsaam word is, elke hartstog waaraan toegee word en elke oortreding van die wet van God, is saad wat gesaai word en sal ‘n gewisse oes lewer. Die Gees van God wat voortdurend weerstaan word, word uiteindelik van die sondaar onttrek en dan is daar geen krag meer om die bose hartstogte van die siel te beheer nie en geen beskerming teen die kwaadwilligheid en vyandskap van Satan nie. Die vernietiging van Jerusalem is ‘n skrikwekkende en plegtige waarskuwing aan almal wat die aanbod van Goddelike barmhartigheid ligtelik opneem en die smekinge van Goddelike genade weerstaan. Nooit was ‘n meer beslissende getuienis van God se haat vir die sonde en die gewisse straf wat op die skuldiges sal val gelewer nie. GS 20.2

Die Heiland se profesie aangaande die besoeking van oordele oor Jerusalem sal egter ‘n ander vervulling hê waarvan daardie skrikwekkende verwoesting slegs ‘n dowwe skaduwee was. In die lotgeval van die gekose stad, kan ons die ondergang van ‘n wêreld wat God se genade verwerp en Sy wet vertrap het aanskou. Donker is die verslae van menslike ellende wat op die aarde plaasgevind het gedurende die lang eeue van misdaad. Die hart word siek en die gees verflou in die besinning daarvan. Skrikwekkend was die gevolge van die verwerping van die gesag van die hemel. Maar nog ‘n donkerder toneel word in die openbarings van die toekoms voorspel. Die verslae van die verlede - die lang opeenvolging van oproer, konflik en revolusies, is niks in vergelyking met die verskrikkinge van daardie dag, wanneer die weerhoudende Gees van God geheel en al van die goddelose onttrek sal word, om nie meer die uitbarsting van menslike hartstogte en sataniese toorn in toom te hou nie! Die wêreld sal dan soos nooit tevore nie, die uitwerking van Satan se heerskappy aanskou. GS 21.1

Maar in daardie dag, net soos in die tyd van die vernietiging van Jerusalem, sal die volk van God verlos word, almal wat by die lewendes opgeskryf is. Christus het verklaar dat Hy die tweede keer sal kom om Sy getroues by Hom te versamel: “En dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal Sy engele uitstuur met ‘n harde trompetgeluid en hulle sal Sy uitverkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” (Mat 24:30,31). Dan sal Hy diegene wat nie die evangelie gehoorsaam het nie, “...met die asem van Sy mond ... verdelg en deur die verskyning van Sy wederkoms tot niet ... maak.” (2 Thes 2:8). Soos Israel van ouds, vernietig die goddelose hulleself; hulle val as gevolg van hul ongeregtigheid. Deur ‘n lewe van sonde het hulle hulself so uit harmonie met God geplaas, hulle karakters so deur die bose afgetakel, dat die openbaring van Sy heerlikheid ‘n verterende vuur vir hulle sal wees. GS 21.2

Laat mense oplet dat hulle nie die les, wat aan hulle in die woorde van Christus oorgedra is, verwaarloos nie. Net soos Hy Sy dissipels aangaande die verwoesting van Jerusalem gewaarsku het en aan hulle ‘n teken van die naderende ondergang gegee het sodat hulle kon vlug; so het Hy ook die wêreld oor die uiteindelike verwoesting gewaarsku en aan hulle tekens gegee van die dag van finale vernietiging wat nader, sodat diegene wat wil, van die toekomstige toorn kan vlug. Jesus het gesê: “Daar sal tekens wees aan son en maan en sterre en op die aarde benoudheid van nasies.” (Luk 21:25; Matt 24:29; Mark 13:24-26; Openb 6:12-17). Diegene wat op hierdie tekens van Sy koms let, moet weet “...dat dit naby is, voor die deur.” (Mat 24:33). “Waak dan...” het Hy hulle vermaan. Diegene wat ag gee op hierdie waarskuwing, “...is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.” Maar oor diegene wat nie waak nie, sal die “...dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.” (1 Thes 5:2-5). GS 22.1

Die wêreld is nie méér bereid om kredietwaardigheid aan hierdie boodskap te skenk as wat die Jode aan die Heiland se waarskuwing aangaande Jerusalem wou skenk nie. Wanneer dit ook al kom, sal die dag van die Here onverwags oor die goddelose kom. Terwyl die lewe in sy onveranderlike kringloop voortgaan, terwyl die mens opgeneem is in plesier, in sake, handel, in verkeer, in winsbedryf; terwyl godsdienstige leiers die vooruitgang en verligting van die wêreld verhef en die mense in 'n valse gerustheid gesus word, dan, net soos die middernagtelike dief die onbewaakte woning binnesluip, sal skielike verderf oor die onverskilliges en goddelose kom, “...en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.” (1 Thes 5:3). GS 22.2