Die Groot Stryd (1911)

4/44

Hoofstuk 2—Vervolging in die Eerste Eeue

Toe Jesus die lot van Jerusalem en die tonele van Sy tweede koms aan Sy dissipels geopenbaar het, het Hy ook die ervarings van Sy volk, vanaf die tyd wanneer Hy van hulle weggeneem sou word, tot met Sy terugkeer in krag en glorie vir hulle verlossing, voorspel. Vanaf die Olyfberg het die Verlosser die storms wat die apostoliese kerk sou tref gesien; en terwyl Hy die toekoms dieper binnegedring het, het Sy oog die hewige, vernietigende storms wat Sy volgelinge in die komende eeue van duisternis en vervolging sou tref waargeneem. In ‘n paar kort uitsprake van skrikwekkende betekenis, het Hy die porsie wat die regeerders van hierdie wêreld aan die kerk van God sou uitmeet, voorspel. (Sien Mat 24:9,21,22). Die volgelinge van Christus sou dieselfde pad van vernedering, smaad en lyding wat hul Meester geloop het, volg. Die vyandigheid wat teen die Verlosser van die wêreld uitgebreek het, sou teen almal wat in sy Naam glo, geopenbaar word. GS 24.1

Die geskiedenis van die vroeë kerk het van die vervulling van die Heiland se woorde getuig. Die magte van die aarde en die hel het in slagorde teen Christus in die persoon van Sy volgelinge opgekom. Die heidendom het voorsien dat indien die evangelie sou seëvier, hulle tempels en altare weggevee sou word; daarom het hulle al hul kragte ingespan om die Christendom te vernietig. GS 24.2

Die vure van vervolging is aangesteek. Christene is van hul besittings beroof en uit hulle huise verdryf. Hulle het “...groot lydensworsteling deurstaan.” (Heb 10:32). Hulle moes “...die proef van bespottinge en geseling deurstaan, ook van boeie en gevangenis.” (Heb. 11:36). Groot getalle het hul getuienis met hul bloed verseël. Edelman en slaaf, ryk en arm, geleerd en ongeletterd, is almal genadeloos gedood. GS 24.3

Hierdie vervolgings wat onder Nero ‘n aanvang geneem het, ongeveer in die tyd van Paulus se marteldood, het vir eeue met minder of meer woede voortgeduur. Christene is valslik van die aakligste misdade beskuldig en dat hulle die oorsaak van die groot rampe soos hongersnood, pessiektes en aardbewings was. GS 24.4

Hulle was die voorwerpe van haat en agterdog en informante was altyd gereed om onskuldiges vir eie gewin te verraai. Hulle is as opstandelinge teen die ryk veroordeel, as vyande van die godsdiens en ‘n pes vir die samelewing. Groot getalle is vir wilde diere gegooi of lewendig in die amfiteaters verbrand. Sommige is gekruisig, ander is met die velle van wilde diere bedek en in die arena geplaas om deur honde verskeur te word. Hulle straf het dikwels op openbare feesdae gedien as die vernaamste vermaak. Groot menigtes het saamgedrom om die toneel te aanskou en het die doodsangs van die Christene met gelag en applous begroet. GS 25.1

Oral waar hulle skuiling gesoek het, is die volgelinge van Christus soos die prooi van roofdiere gejag. Hulle moes noodgedwonge in verlate en eensame plekke skuiling soek. “Hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel — die wêreld was hulle nie werd nie — hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.” (Heb 11:37,38). GS 25.2

Die ondergrondse grafkelders het skuiling aan duisende verleen. Onder die heuwels buite die stad Rome, is lang galerye deur die grond en rotse getonnel; hierdie donker en ingewikkelde netwerk van gange het kilometers ver buite die stadsmure gestrek. In hierdie ondergrondse skuilplekke het die volgelinge van Christus hulle dooies begrawe; en hulle het ook hier, wanneer hulle verdink of verban is, skuiling gevind. Wanneer die Lewegewer eendag diegene wat die goeie stryd gevoer het opwek, sal menige martelaar wat om Christus ontwil gesterf het, uit hierdie somber grotte voortkom. GS 25.3

Onder die hewigste vervolging, het hierdie getuies van Jesus hulle geloof onbevlek bewaar. Hoewel hulle van alle geriewe beroof is, weg van die sonlig opgesluit en hulle in die donker, maar vriendelike skoot van die aarde ‘n tuiste moes vind, het hulle nooit gekla nie. Met woorde van geloof, lydsaamheid en hoop het hulle mekaar bemoedig om die ontbering en ellende te verdra. Die verlies van alle aardse seëninge kon hulle nie dwing om hulle geloof in Christus te verloën nie. Beproewing en vervolgings was slegs enkele stappe wat hulle nader aan hul rus en hul beloning gebring het. GS 25.4

Soos God se diensknegte van ouds, is baie van hulle gemartel en hulle “...wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.” (Heb 11:35). Hulle het die woorde van hul Meester in herinnering geroep wat gesê het dat as hulle om Sy ontwil vervolg word, hulle verheug moes wees omdat hulle loon in die hemel groot sou wees; want so is die profete voor hulle ook vervolg. Hulle was verheug dat hulle waardig geag is om vir die waarheid te ly en te midde van die knetterende vlamme, het daar oorwinningsliedere opgestyg. Terwyl hulle in geloof opgekyk het, het hulle gesien hoe Christus en engele oor die kantele van die hemel met diep belangstelling na hulle kyk en hul standvastigheid met goedkeuring aanskou. ‘n Stem is van die troon van God gehoor: “Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” (Openb 2:10). GS 26.1

Satan se pogings om die kerk van Christus deur geweld te vernietig was tevergeefs. Die groot stryd waarin die dissipels van Jesus hulle lewens opgeoffer het, het nie opgehou toe hierdie getroue vaandeldraers in hul pos geval het nie. Deur hul neerlaag het hulle oorwin. God se werkers is gedood, maar sy werk het bestendig voortgegaan. Die evangelie het steeds uitgebrei en die aantal aanhangers daarvan het toegeneem. Dit het tot plekke deurgedring wat selfs vir die arende van Rome ontoeganklik was. Aan die heidense regeerders wat aangedring het op die voortsetting van die vervolging, het ‘n Christen gesê: Julle mag “...ons doodmaak, ons martel, ons veroordeel ... Julle onregverdigheid is bewys van ons onskuld ... Julle wreedheid ... sal julle niks help nie.” Die vervolging het slegs gedien as ‘n sterker uitnodiging om ander van hulle geloof te oortuig. “Hoe meer julle ons afmaai, hoe meer sal ons getalle uitbrei; die bloed van Christene is saad.” — Tertullianus, Apology, par 50. GS 26.2

Duisende is gevange geneem en gedood; maar ander het hul plekke ingeneem. En diegene wat weens hul geloof gemartel is, was veilig in Christus en is deur Hom as oorwinnaars gereken. Hulle het die goeie stryd van geloof gestry en sal die kroon van heerlikheid ontvang wanneer Christus kom. Die lyding wat hulle verduur het, het die Christene nader aan mekaar en aan hulle Verlosser gebring. Hulle lewende voorbeeld en sterwende getuienis was ‘n voortdurende getuienis vir die waarheid; en waar dit die minste verwag is, het die onderdane van Satan sy diens verlaat en hulle onder die vaandel van Christus geskaar. GS 27.1

Om hierdie rede het Satan sy planne om meer suksesvol teen die regering van God te veg, beraam deur sy vaandel in die Christelike kerk te plant. As die volgelinge van Christus mislei kon word en dit daartoe sou lei dat hulle God mishaag, sou hulle krag, volharding en standvastigheid hulle in die steek laat en sou hulle ‘n maklike prooi word. GS 27.2

Die groot teëstander het nou probeer om deur listigheid te bekom wat hy nie met geweld kon verkry nie. Die vervolging is gestaak en met gevaarlike aanloklikhede van tydelike voorspoed en wêreldse eer vervang. Afgodedienaars is gelei om die Christelike geloof gedeeltelik aan te neem, terwyl hulle sommige van die noodsaaklike waarhede verwerp het. Hulle het bely dat hulle Jesus as die Seun van God aanvaar en in Sy dood en opstanding te glo, maar hulle het geen oortuiging van sonde gehad nie en het geen behoefte aan bekering of verandering van die hart gehad nie. Met ‘n paar toegewings aan hulle kant, het hulle voorgestel dat die Christene ook toegewings moet maak, sodat hulle almal op die platform van geloof in Christus kon verenig. GS 27.3

Die kerk het nou in groot gevaar verkeer. Die gevangeskap, marteling, vuur en swaard was seëninge in vergelyking hiermee. Sommige van die Christene het vasgestaan en verklaar dat geen kompromie aangegaan kon word nie. Ander was ten gunste daarvan om sommige eienskappe van hulle geloof te wysig of aan te pas en met diegene wat die Christelike geloof gedeeltelik aangeneem het te verenig en het daarop aangedring dat dit die middel tot hulle volle bekering kon wees. Dit was ‘n tyd van groot sieleangs vir die getroue volgelinge van Christus. Onder ‘n dekmantel van beweerde Christelikheid, het Satan homself in die kerk geïnsinueer om hul geloof te verdorwe en hul gedagtes weg van die woord van waarheid te keer. GS 27.4

Uiteindelik het meeste van die Christene ingestem om hul standaard te verlaag en die Christendom en die heidendom het verenig. Hoewel die aanbidders van afgode voorgegee het dat hulle tot bekering gekom en met die kerk verenig is, het hulle steeds aan hulle afgodsdiens vasgehou en slegs die voorwerpe van hul aanbidding verander na beelde van Jesus en selfs van Maria en die heiliges. Hierdie besoedelde suurdeeg van afgodediens wat in die kerk ingebring is, het die kwaadwillige werk voortgesit. Ongesonde leerstellings, bygelowige rituele en afgodiese seremonies is in haar geloof en aanbidding opgeneem. Namate die volgelinge van Christus met afgodedienaars verenig het, het die Christelike godsdiens korrup geraak en die kerk het haar reinheid en krag verloor. Sommiges was egter nie deur hierdie dwalinge mislei is nie. Hulle het steeds hul trou aan die Outeur van die waarheid gehandhaaf en God alleen aanbid. GS 28.1

Daar was altyd twee klasse onder diegene wat bely dat hulle volgelinge van Christus is. Terwyl die een klas die lewe van die Heiland bestudeer en ernstig gepoog het om hul gebreke reg te stel en aan die Patroon te voldoen, het die ander klas die duidelike, praktiese waarhede wat hulle dwalings blootlê, verwerp. Selfs op haar beste, is die kerk nooit geheel en al uit ware, suiwer en opregte gelowiges saamgestel nie. Ons Verlosser het geleer dat diegene wat opsetlik aan sonde toegee, nie in die kerk ontvang moes word nie; tog het Hy mense met gebrekkige karakters met Homself verbind en aan hulle die voordele van Sy leerstellings en voorbeeld gegee, sodat hulle ‘n geleentheid kon kry om hulle eie foute raak te sien en reg te stel. Onder die twaalf apostels was ‘n verraaier. Judas is aanvaar, nie vanweë die gebreke in sy karakter nie, maar ten spyte daarvan. Hy was met die dissipels verbind, sodat hy deur die onderrig en voorbeeld van Christus kon leer wat die Christelike karakter is en sodoende gelei kon word om sy dwalinge in te sien, hom te bekeer en deur Goddelike genade sy siel te reinig “...deur gehoorsaamheid aan die waarheid.” Maar Judas het nie in die lig wat so genadiglik op hom geskyn het gewandel nie. Deur toe te gee aan sonde, het hy die versoekings van Satan uitgelok. Sy bose karaktertrekke het die oorhand gekry. Hy het sy gedagtes aan die magte van die duisternis onderwerp, kwaad geword wanneer sy foute bestraf is en sodoende is hy daartoe gelei om die vreesagtige misdaad te pleeg om sy Meester te verraai. Almal wat boosheid onder ‘n dekmantel van godsaligheid koester, haat ook diegene wat hulle sondes veroordeel. Wanneer ‘n gunstige geleentheid hom voordoen, sal hulle, net soos Judas, diegene wat hulle ten goede probeer teregwys, verraai. GS 28.2

In die kerk het die apostels mense teëgekom wat godvrugtigheid bely het, terwyl hulle heimlik ongeregtigheid gekoester het. Ananias en Saffira was bedrieërs wat voorgegee het dat hulle ‘n volle offer vir God gebring het, terwyl hulle hebsugtig ‘n deel vir hulleself teruggehou het. Die Gees van waarheid het die ware karakter van hierdie voorgee aan die apostels geopenbaar en die oordele van God het die kerk van hierdie klad op sy reinheid bevry. Hierdie belangrike bewys van die onderskeidende Gees van Christus in die kerk, was ‘n verskrikking vir huigelaars en kwaaddoeners. Hulle kon nie lank onder diegene bly wat in gewoonte en gesindheid, konstante verteenwoordigers van Christus was nie; en toe beproewinge en vervolging oor Sy volgelinge gekom het, was slegs diegene wat gewillig was om alles ter wille van die waarheid op te offer, bereid om Sy dissipels te word. Vir solank as wat die vervolging voortgeduur het, het die kerk relatief suiwer gebly. Maar toe die vervolging opgehou het, is daar bekeerlinge tot die kerk toegevoeg wat minder opreg en toegewyd was en die weg was oop vir Satan om ‘n vastrapplek te kry. GS 29.1

Maar daar is geen verbintenis tussen die Vors van die lig en die vors van die duisternis nie en daar kan ook geen verbintenis tussen hulle volgelinge wees nie. Toe die Christene ingestem het om met diegene wat slegs halfhartig van die heidendom bekeerd was te verenig, het hulle ‘n weg betree wat hulle al hoe verder van die waarheid weggelei het. Satan was verheug dat hy daarin geslaag het om so ‘n groot aantal van die volgelinge van Christus te mislei. Toe het hy al sy kragte ingespan en dit op hierdie mense uitgeoefen om hulle te beweeg om diegene wat getrou aan God gebly het te vervolg. Niemand het so goed verstaan hoe om die ware Christelike geloof te bestry as diegene wat vroeër die verdedigers daarvan was nie; en hierdie afvallige Christene, in samewerking met hulle half-heidense Christene, het die stryd teen die belangrikste kenmerke van die leerstellings van Christus gevoer. GS 30.1

Dit het ‘n desperate stryd van diegene wat getrou wou bly geverg om vas te staan teen die misleiding en gruwels wat in die vermomming van heilige gewaad in die kerk ingebring is. Die Bybel is nie as die maatstaf van geloof aanvaar nie. Die leerstelling van godsdiensvryheid is as kettery bestempel en die handhawers daarvan is gehaat en verban. GS 30.2

Na ‘n lang en felle stryd het die geringe groep getroues besluit om alle verbintenis met die afvallige kerk te ontbind, indien laasgenoemde steeds sou weier om haar van valsheid en afgodediens te vrywaar. Hulle het besef dat skeiding absoluut noodsaaklik was as hulle die Woord van God wou gehoorsaam. Hulle het nie durf toelaat dat dwalinge wat noodlottig vir hulle eie siele was en ‘n voorbeeld sou stel wat die geloof van hul kinders en kindskinders sou belemmer, langer geduld word nie. Om vrede en eenheid te verseker, was hulle bereid om enige toegewing in ooreenstemming met wat getrou aan God was, te maak; maar hulle was van mening dat die prys van vrede te duur was as dit ten koste van opoffering van beginsel moes geskied. Indien eenheid slegs deur die kompromie van waarheid en geregtigheid beveilig kon word, laat daar dan geskille en selfs oorlog wees. GS 30.3

Dit sou goed vir beide die kerk en die wêreld wees as die beginsels wat daardie standvastige siele besiel het, weer in die harte van God se belydende volk herleef. Daar is ‘n onrusbarende onverskilligheid ten opsigte van die leerstellings wat die pilare van die Christelike geloof vorm. Die mening, dat dit per slot van sake nie van lewensbelang is nie, is besig om veld te wen. Hierdie ontaarding is besig om die hande van die werkkragte van Satan te versterk, sodat valse teorieë en noodlottige dwalinge wat deur gelowiges in die verlede met lewensgevaar weerstaan en aan die kaak gestel is, tans deur duisende wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is, goedgunstiglik beskou word. GS 31.1

Die vroeë Christene was inderdaad ‘n besondere volk. Hulle onberispelike optrede en onwrikbare geloof was ‘n voortdurende teregwysing wat die vrede van die sondaars versteur het. Alhoewel hulle min in getal was, sonder rykdom, posisie of eretitels, was hulle ‘n verskrikking vir boosdoeners oral waar hulle karakter en leerstellings bekend was. Daarom is hulle deur die goddelose gehaat net soos Abel deur die goddelose Kain gehaat is. Om dieselfde rede wat Kain vir Abel doodgemaak het, het diegene wat gepoog het om die inperking van die Heilige Gees van hulle weg te werp, die volk van God doodgemaak. Dit was om dieselfde rede dat die Jode die Verlosser verwerp en gekruisig het, omdat die reinheid en heiligheid van Sy karakter ‘n voortdurende bestraffing van hul selfsug en verdorwenheid was. Van die dae van Christus af tot nou toe, het Sy getroue dissipels die haat en teenkanting van diegene wat die weë van sonde liefhet en volg, ontketen. GS 31.2

Hoe kan die evangelie dan ‘n boodskap van vrede genoem word? Toe Jesaja die geboorte van die Messias voorspel het, het hy die titel van “Vredevors” aan Hom toegeken. Toe die engele die geboorte van Christus aan die herders bekendgemaak het, het hulle op die vlaktes van Betlehem gesing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” (Luk 2:14). Daar is ‘n skynbare teenstrydigheid tussen hierdie profetiese verklarings en die woorde van Christus: “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” (Mat 10:34). Maar, as dit reg verstaan word, is hierdie twee in perfekte harmonie. Die evangelie is ‘n boodskap van vrede. Die Christelike geloof is ‘n stelsel wat, indien dit aangeneem en gehoorsaam word, vrede, harmonie en geluk oor die aarde sou versprei. Die godsdiens van Christus sal almal wat die leringe daarvan aanvaar, in ‘n hegte broederskap saamsnoer. Die sending van Jesus was om mense met God en dus met mekaar, te versoen. Maar die hele wêreld is onder die beheer van Satan, Christus se bitterste vyand. Die evangelie bied aan hulle lewensbeginsels wat geheel en al teenstrydig met hulle gewoontes en begeertes is en hulle kom in opstand daarteen. Hulle haat die reinheid wat hul sondes openbaar en veroordeel en hulle vervolg en vernietig diegene wat by hulle aandring om die regverdige en heilige aansprake daarvan te aanvaar. In hierdie sin, omdat die verhewe waarhede haat en twis veroorsaak, word die evangelie ‘n swaard genoem. GS 31.3

Die heimlike voorsienigheid wat toegelaat het dat regverdiges vervolging deur die goddelose ondergaan, was ‘n oorsaak van groot benoudheid vir baie wat swak in die geloof was. Sommige was selfs bereid om hul vertroue in God te laat vaar omdat Hy toegelaat het dat selfs die sondigste mense voorspoedig was, terwyl die beste en reinste Christene deur hul wrede mag geteister word. Hoe, het hulle gevra, kan Iemand wat regverdig en barmhartig is en wat oneindig magtig is, sulke onreg en verdrukking verdra? Dit is ‘n vraag waarmee ons niks te doen het nie. God het aan ons voldoende bewyse van Sy liefde gegee en ons moet nie Sy goedheid betwyfel omdat ons nie die werking van Sy voorsienigheid verstaan nie. Die Verlosser, wat die twyfel wat in die dae van beproewing en donkerheid hulle siele sou oorval vooruitgesien het, het aan Sy dissipels gesê: “Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.” (Joh 15:20). Jesus het meer vir ons gely as wat enige van Sy volgelinge ooit deur die wreedheid van goddelose mense, sou ly. Diegene wat geroep is om marteling te verduur en ‘n marteldood te sterf, het slegs in die voetstappe van God se geliefde Seun gevolg. GS 32.1

“Die Here vertraag nie die belofte” nie. (2 Pet 3:9). Hy vergeet of verwaarloos nie Sy kinders nie; maar Hy laat die goddelose toe om hul ware karakter te openbaar, sodat niemand wat begeer om sy wil te doen, aangaande hulle mislei word nie. En die regverdiges word dan weer in die smeltkroes geplaas, sodat hulle self gereinig kan word; sodat hulle voorbeeld ander van die werklikheid van geloof en godsvrug kan oortuig; en hulle deur hul standvastige lewe, die goddelose en ongelowiges kan veroordeel. GS 33.1

God laat die goddelose toe om voorspoedig te wees en hul vyandigheid teenoor Hom te openbaar, sodat wanneer hulle beker van ongeregtigheid vol is, almal Sy geregtigheid en genade in hul volkome vernietiging kan sien. Die dag van Sy wraak kom vinnig nader, wanneer almal wat Sy wet oortree en Sy volk verdruk het, die regverdige vergelding vir hulle dade sal ontvang; wanneer elke daad van wreedheid en onreg teenoor God se getroues gestraf sal word asof dit aan Christus self gedoen is. GS 33.2

Daar is egter ‘n ander en belangriker vraag wat die aandag van die kerke van vandag in beslag moet neem. Die apostel Paulus verklaar dat: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Tim 3:12). Waarom is dit dan asof vervolging in ‘n groot mate sluimerend blyk te wees? Die enigste rede is dat die kerk aan die wêreld se standaard voldoen en daarom geen teëstand opwek nie. Die hedendaagse godsdiens is nie van die suiwer en heilige aard wat die Christelike geloof in die dae van Christus en Sy apostels gekenmerk het nie. Dit is slegs as gevolg van ‘n gees van kompromie wat met die sonde aangegaan is, dat die groot waarhede van die Woord van God met soveel onverskilligheid bejeën word, dat daar so min lewensbelangrike godsaligheid in die kerk is en dat die Christelike geloof so gewild in die wêreld blyk te wees. Sodra die geloof en krag van die vroeë kerk herleef, sal die gees van vervolging weer herleef en die vure van vervolging sal weer aangesteek word. GS 33.3