Die Groot Stryd (1911)

7/44

Hoofstuk 5—John Wycliffe

Voor die hervorming was daar met tye min eksemplare van die Bybel beskikbaar, maar God het nie toegelaat dat sy Woord heeltemal vernietig word nie. Die waarhede daarvan sou nie vir altyd verborge wees nie. Hy kon die woorde van lewe net so maklik vrystel, soos wat Hy gevangenisdeure en ysterpoorte kon oopmaak om Sy dienaars te bevry. In die verskillende lande van Europa is mense deur die Gees van God beweeg om, soos na verborge skatte, na die waarheid te soek. Deur Voorsienigheid na die Heilige Skrif gelei, het hulle die gewyde bladsye met groot belangstelling bestudeer. Hulle was bereid om die lig ten alle koste vir hulleself, te aanvaar. Alhoewel hulle nie alles duidelik gesien het nie, was hulle in staat gestel om waarhede wat lank bedek was, waar te neem. Soos hemelse boodskappers het hulle voortgegaan, die kettings van dwaalleer en bygeloof verbreek en diegene wat lank verslaaf was, geroep om op te staan en hul vryheid te laat geld. GS 67.1

Behalwe onder die Waldense, was die Woord van God eeue lank in tale opgesluit wat slegs aan geleerdes bekend was; maar die tyd het aangebreek dat die Skrif vertaal en aan die mense van verskillende lande in hul eie taal beskikbaar gestel word. Die middernag van die wêreld was verby. Die ure van duisternis was besig om uit te loop en in baie lande het die tekens van die komende dagbreek verskyn. GS 67.2

In die veertiende eeu het die “mórester van die hervorming” in Engeland, John Wycliffe, verrys. Hy was die voorloper van die hervorming, nie alleen in Engeland nie, maar vir die hele Christendom. Die groot protes wat hy geoorloof was om teen Rome uit te spreek, is nooit stilgemaak nie. Hierdie protes het die stryd geopen wat tot die bevryding van individue, kerke en nasies sou lei. GS 67.3

Wycliffe het ‘n liberale opvoeding ontvang en by hom was die vrees van die Here die beginsel van wysheid. Hy was op kollege bekend vir sy vroomheid, sowel as vir sy merkwaardige talente en nougesette studie. In sy dors na kennis het hy gepoog om met alle takke van geleerdheid vertroud te raak. Hy is in die skolastiese filosofie onderrig, in die kerkwette en in die burgerlike regte, veral van sy eie land. In sy latere lewe het die waarde van sy vroeë opleiding duidelik geblyk. ‘n Deeglike kennis van die spekulatiewe filosofie van sy tyd het hom in staat gestel om die foute daarvan bloot te lê; en deur sy studie van nasionale en kerklike reg, was hy bereid om die groot stryd vir burgerlikeen godsdiensvryheid aan te pak. Terwyl hy die wapens wat uit die Woord van God gekom het kon aanwen, het hy die intellektuele dissipline van die skole verwerf en die taktiek van die geleerdes verstaan. Die krag van sy genialiteit en die omvang en deeglikheid van sy kennis het die respek van beide vriende en vyande afgedwing. Sy aanhangers het met genoegdoening gesien dat hulle kampvegter saam met die leiers van die nasie voor gestaan het en sy vyande is verhoed om minagting op die saak van hervorming te werp deur onkunde of swakhede aan die voorstander daarvan toe te skryf. GS 68.1

Terwyl Wycliffe nog op kollege was, het hy die Skrif begin bestudeer. In daardie vroeë tyd toe die Bybel slegs in antieke tale beskikbaar was, was geleerdes in staat gestel om hul weg na die fontein van waarheid, wat vir die onopgevoede klasse gesluit was, te vind. Sodoende was die weg reeds vir Wycliffe se toekomstige werk as hervormer voorberei. Geleerdes het die Woord van God bestudeer en het gevind dat die groot waarheid van Sy vrye genade daarin geopenbaar word. In hulle leringe het hulle ‘n kennis van hierdie waarheid versprei en ander daartoe gelei om hulle tot die lewende orakels te wend. GS 68.2

Toe Wycliffe se aandag op die Skrif gevestig is, het hy die bestudering daarvan met dieselfde deeglikheid wat hom in staat gestel het om die skoolvakke te bemagtig, betree. Tot dusver het hy ‘n groot gebrek ervaar wat nie deur sy skolastiese studies of die leer van die kerk bevredig kon word nie. In die Woord van God het hy gevind waarna hy so lank tevergeefs gesoek het. Hierin het hy die plan van verlossing geopenbaar gesien en dat Christus die enigste Voorspraak vir die mens was. Hy het homself aan die diens van Christus oorgegee en besluit om die waarhede wat hy ontdek het, te verkondig. GS 68.3

Soos die hervormers ná hom, het Wycliffe nie aanvanklik gesien waarheen sy werk hom sou lei nie. Hy het homself nie doelbewus teen Rome in opstand gebring nie. Maar toegewydheid aan die waarheid kon nie anders as om hom in konflik met valsheid te bring nie. Hoe duideliker hy die dwalinge van die pousdom opgemerk het, hoe ernstiger het hy die leer van die Bybel verkondig. Hy het gesien dat Rome die Woord van God vir menslike tradisie versaak het; hy het die priesterskap onverskrokke beskuldig dat hulle die Skrif verban het en geëis dat die Bybel aan die volk beskikbaar gestel word en die gesag daarvan weer in die kerk gehandhaaf word. Hy was ‘n bekwame en ernstige onderwyser, asook ‘n welsprekende prediker en sy daaglikse lewe was ‘n bewys van die waarhede wat hy verkondig het. Sy kennis van die Skrif, die krag van sy redenasies, die reinheid van sy lewe en sy onbuigsame moed en integriteit, het algemene agting en vertroue vir hom gewen. Baie van die mense het, omdat hulle die ongeregtigheid gesien het wat in die Roomse Kerk heers, ontevrede met hul eertydse geloof geraak en hulle het die waarhede wat Wycliffe openbaar het met onbeperkte vreugde gehuldig; maar die pouslike leiers was woedend toe hulle besef dat hierdie hervormer groter invloed as hulle uitoefen. GS 69.1

Wycliffe was ‘n skerp ontdekker van dwaalleer en hy het vreesloos te velde getrek teen die veelvuldige misbruike wat die gesag van Rome goedgekeur het. Terwyl hy as kapelaan vir die koning opgetree het, het hy ‘n blatante standpunt teen die betaling van huldeblyke wat die pous van die Engelse monarge geëis het ingeneem en het getoon dat die pouslike aanname van gesag oor sekulêre heersers in stryd is met beide rede en openbaring. Die eise van die pous het groot verontwaardiging uitgelok en Wycliffe se leerstellings het die leiers van die land beïnvloed. Die koning en die adellikes het saamgespan om die pous se aanspraak op wêreldse gesag te ontken en die betaling van huldeblyke te weier. So is die pouslike oppergesag in Engeland ‘n ‘n effektiewe slag toegedien. GS 69.2

Nog ‘n euwel waarteen die hervormer ‘n lang en vasberade stryd gevoer het, was die instelling van die orde van bedelmonnike. Hierdie monnike het in Engeland gewemel en was ‘n plaag vir die grootheid en vooruitgang van die nasie. Nywerheid, onderwys, sedes, alles het die verwelkende invloed hiervan ervaar. Die monnik se lewe van ledigheid en bedelary was nie net ‘n swaar dreinering op die hulpbronne van die volk nie, maar dit het nuttige arbeid in veragtelik gemaak. Die jongmense is gedemoraliseer en gekorrupteer. Onder die invloed van die monnike is baie oorgehaal om hulle tot ‘n kloosterlewe te begewe en nie alleen sonder die toestemming van hulle ouers nie, maar ook sonder hulle kennisname en in stryd met hulle opdragte. Een van die vroeëre vaders van die Roomse Kerk wat die aansprake van die lewe van ‘n monnik bo die liefde en plig van kinders teenoor hulle ouers gestel het, het verklaar: “Al sou jou vader voor jou ween en jou moeder haar liggaam aan jou toon waaruit jy gebore is en die borste wat jou gesoog het, vertrap hulle onder jou voete en gaan voort op jou weg na Christus.” Deur sulke “...monsteragtige onmenslikheid...” soos Luther dit later uitgedruk het, “...wat meer na die aard van die wolf en die tiran as van die Christen en die mens is, is die harte van die kinders teen hulle ouers verhard.” — Sears en Barnes, Life of Luther, bl 69,70. So het die pouslike leiers, net soos die Fariseërs van ouds die gebod van God deur hulle tradisies tot niet gemaak. Op hierdie wyse is huise verlate gemaak en ouers die samesyn van hul seuns en dogters ontneem. GS 70.1

Selfs die studente aan die universiteite is deur die valse voorstellings van die monnike mislei en is oortuig om by hulle ordes aan te sluit. Baie het later berou oor die stap gehad, want hulle het hul eie lewens verwoes en hul ouers verdriet aangedoen; maar eenmaal in hierdie strik vasgevang, was dit onmoontlik om daarvan bevry te word. Baie ouers, uit vrees vir die invloed van die monnike, het geweier om hul seuns na die universiteite te stuur. Die aantal studente wat die groot sentrums van onderwys bygewoon het, het aansienlik afgeneem. Die skole het gekwyn en onkunde het geheers. GS 70.2

Die pous het aan hierdie monnike die mag verleen om belydenisse aan te hoor en vergifnis te verleen. Dit het ‘n bron van groot onheil geword. Die monnike was daarop ingestel om hul winste te verbeter en was so bereid om kwytskelding toe te staan, dat misdadigers van alle beskrywings hul toevlug na hulle geneem het en veroorsaak dat die ergste euwels vinnig toeneem. Die siekes en armes is aan hul lyding oorgelaat, terwyl die gawes wat hulle behoeftes moes verlig, na die sakke van die monnike gegaan het, wat met dreigemente die aalmoese van die mense geëis het, terwyl hulle die goddeloosheid van diegene wat die vereiste gawes weerhou het, veroordeel het. Ondanks hulle aanspraak op armoede, het die rykdom van die monnike steeds toegeneem en hulle mooi geboue en luukse tafels het sterk teen die toenemende armoede van die volk afgesteek. En terwyl hulle hul tyd in weelde en plesier deurgebring het, het hulle onkundige manne in hul plek uitgestuur, wat slegs wonderlike verhale, legendes en grappies kon vertel om die mense te vermaak, wat hulle groter slagoffers van die monnike gemaak het. Die monnike het egter steeds hul greep op die bygelowige skares behou en hulle laat glo dat alle godsdienstige pligte uit die erkenning van die oppergesag van die pous bestaan het en dat die aanbidding van die heiliges en die gee van gawes aan die monnike voldoende was om vir hulle ‘n plek in die hemel te verseker. GS 71.1

Geleerde en vroom manne het tevergeefs gewerk om hervorming in hierdie kloosterordes te bewerkstellig; maar Wycliffe met duideliker insig, het die wortel van die kwaad getref en verklaar dat die stelsel self vals was en afgeskaf moet word. Besprekings oor die saak is aangewakker. Soos die monnike die land deurreis het om pouslike aflate te verkoop, is baie gelei om die moontlikheid om vergifnis met geld te bekom, te begin betwyfel en het verneem of hulle nie eerder vergifnis van God moes vra in plaas van by die pous van Rome nie. Baie was bekommerd oor die hebsug van die monnike wie se geldgierigheid nooit tevrede gestel kon word nie. “Die Roomse priesters en monnike...” het hulle gesê, “...verteer ons soos ‘n kanker. God moet ons verlos of ons sal vergaan.” — D ‘Aubigne, vol 17, hfst 7. Om hulle gierigheid te bedek, het hierdie bedelende monnike beweer dat hulle die voorbeeld van die Heiland volg en verklaar dat Jesus en Sy dissipels deur die liefdegawes van die volk onderhou is. Hierdie bewering het hulle saak benadeel omdat baie mense daartoe gelei is om die Bybel self te ondersoek — ‘n gevolg wat Rome die minste van alles begeer het. Die harte van die mense was op die Bron van die waarheid gerig, wat Rome haarself juis ten doen gestel het om te verberg. GS 71.2

Wycliffe het traktate teen die monnike begin skryf en uitgegee, nie soseer om in ‘n twis met hulle betrokke te raak nie, maar om die aandag van die volk op die leerstellings van die Bybel en die Outeur daarvan te vestig. Hy het verklaar dat die pous net so min die mag van vergifnis of van ekskommunikasie besit as die priesters en dat niemand werklik uit die kerk geban kan word, tensy hy die oordeel van God op homself gebring het nie. Op geen meer effektiewe wyse kon hy onderneem het om daardie magtige weefsel van geestelike en wêreldse heerskappy wat deur die pous opgerig is en waarin die siele en liggame van miljoene gevange gehou is, omver te werp nie. GS 72.1

Wycliffe is weer geroep om die regte van die Engelse kroon teen die insprake van Rome te verdedig; hy is as ‘n koninklike ambassadeur aangestel en hy het twee jaar in Nederland in konferensie met die kommissarisse van die pous deurgebring. Hier is hy in aanraking met die geestelikes uit Frankryk, Italië en Spanje gebring en hy het die geleentheid gehad om agter die skerms te kyk en kennis op te doen van baie dinge wat in Engeland vir hom verborge sou gebly het. Hy het baie geleer wat sy latere arbeid doeltreffend sou maak. In hierdie verteenwoordigers van die pouslike hof het hy die ware karakter en doelwitte van die hiërargie gelees. Hy het na Engeland teruggekeer om sy vorige leerstellings meer openlik en met groter ywer te herhaal en verklaar dat hebsug, trots en misleiding die gode van Rome was. GS 72.2

In een van sy traktate, het hy aangaande die pous en sy insamelaars gepraat en gesê: “Hulle neem uit ons land die lewensbestaan van die arm man en ook jaarliks duisende mark van die koning se geld vir sakramente en geestelike dinge; wat die vervloekte kettery van simonie is en hy laat die hele Christendom instem en hierdie kettery handhaaf. En voorwaar, al sou ons Ryk ‘n groot berg van goud besit en niemand behalwe die insamelaar van hierdie trotse, wêreldse priester sou daarvan neem nie, sou hierdie berg met verloop van tyd uitgeput raak, want hy neem voortdurend geld uit ons land en stuur niks in die plek daarvan terug nie, behalwe God se vervloeking vir sy simonie.” — Eerw John Lewis, History of the Life and Sufferings of J Wycliffe, bl 37. GS 73.1

Kort na sy terugkeer na in Engeland is Wycliffe deur die koning as predikant van Lutterworth aangestel. Dit was ‘n versekering dat die monarg ten minste nie ontevrede was omdat hy so reguit gepraat het nie. Wycliffe se invloed is in die vorming van die optrede van die hof, asook in die vorming van die geloof van die nasie gesien. GS 73.2

Die pouslike donderstorms het spoedig teen hom losgebars. Drie bevelskrifte is na Engeland gestuur — na die universiteit, die koning en die prelate - alles met die bevel dat onmiddellike en beslissende maatreëls ingestel word om die leraar van kettery die swye op te lê. (Augustus Neander, General History of the Christian Religion and Church, per 6, art 2, vol 1, par 8). [Sien ook bylaag vir bl 86] . Voor die aankoms van die bevelskrifte, het die biskoppe in hul ywer, Wycliffe gedaag om voor hulle te verskyn om verhoor te word. Maar twee van die magtigste vorste in die ryk het hom na die tribunaal vergesel en die mense wat die gebou omsingel en ingestorm het, het die regters so geïntimideer, dat die verrigtinge voorlopig opgeskort is en hy toegelaat is om in vrede sy gang te gaan. ‘n Rukkie later het Eduard III, wie die prelate op sy ou dag teen die hervormer probeer beïnvloed het, gesterf en Wycliffe se voormalige beskermheer het regent van die koninkryk geword. GS 73.3

Maar met die aankoms van die pouslike bevelskrifte, is die hele Engeland ‘n verpligte opdrag opgelê vir die arrestasie en gevangenisstraf van die ketter. Hierdie maatreëls het regstreeks op die brandstapel gewys. Dit was byna seker dat Wycliffe binnekort die prooi van die wraak van Rome sou word. Maar Hy, wat in die dae van die voortyd verklaar het: “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skuld...” (Gen 15:1), het weereens Sy hand uitgesteek om Sy dienskneg te beskerm. Die dood het nie vir die hervormer gekom nie, maar vir die pous wat sy vernietiging gelas het. Gregorius XI het gesterf en die geestelikes wat vir die verhoor van Wycliffe byeengekom het, is uiteen. GS 74.1

Die voorsienigheid van God het die gebeure nog verder oorheers om geleentheid vir die groei van die hervorming te bied. Die dood van Gregorius is gevolg deur die verkiesing van twee mededingende biskoppe. Twee teenstrydige magte wat beide beweer het onfeilbaar te wees en nou gehoorsaamheid geëis het. [Sien bylaag notas vir bl 50 en 85] . Albei het ‘n beroep op die getroues gedoen om hom te help om oorlog teen die ander te voer, deur sy eise van verskriklike vervloekings teen sy teëstanders af te dwing en beloftes van beloning in die hemel aan sy ondersteuners. Hierdie gebeurtenis het die mag van die pousdom grootliks verswak. Die mededingende faksies het alles in hul vermoë gedoen om mekaar aan te val en Wycliffe het ‘n tyd lank rus gehad. Vervloekings en beskuldigings het van pous na pous gevlieg en strome bloed het gevloei om hul teenstrydige bewerings te ondersteun. Misdade en skandale het die kerk oorstroom. Intussen het die hervormer, in die rustige aftrede van sy gemeente in Lutterworth, ywerig gewerk om mense van die strydende biskoppe na Jesus, die Vredevors te wys. GS 74.2

Die skeuring met al die stryd en korrupsie wat daardeur veroorsaak is, het die weg vir die hervorming berei deur die mense in staat te stel om te sien wat die pousdom werklik was. In een traktaat wat hy uitgegee het oor “Die Skeuring Tussen die Biskoppe,” het Wycliffe die volk gevra om te besin of hierdie twee priesters nie die waarheid praat deur mekaar as die Antichris te veroordeel nie. “God...” het hy gesê, “...sou die Satan nie langer toelaat om slegs oor een priester te heers nie, maar ... het die verdeeldheid tussen die twee veroorsaak sodat mense, in die Naam van Christus, albei makliker kon oorwin.” — Neander, History of the Christian Religion and Church, per 6, art 2, vol 1, par 8. GS 75.1

Wycliffe het, soos sy Meester, die evangelie aan die armes verkondig. Hy was nie tevrede om slegs die lig in hul nederige wonings in sy eie gemeente in Lutterworth te versprei nie, maar het besluit dat dit na elke deel van Engeland geneem moes word. GS 75.2

Om dit te bewerkstellig, het hy ‘n aantal predikers, eenvoudige, vroom manne, wat die waarheid liefgehad het en niks meer begeer het as om dit te versprei nie, georganiseer. Hierdie manne het oral heen gegaan en op die markpleine, in die strate van die groot stede en op die platteland onderrig. Hulle het die bejaardes, siekes en armes opgesoek en die blye boodskap van die genade van God aan hulle gebring. GS 75.3

As professor in teologie aan Oxford het Wycliffe die Woord van God in die sale van die universiteit verkondig. So getrou het hy die waarheid aan die studente onder sy onderrig verkondig, dat hulle aan hom die titel van “Die Evangelie-dokter” gegee het. Maar die grootste werk van sy lewe sou die vertaling van die Skrif in die Engelse taal wees. In ‘n werk getiteld On the Truth and Meaning of Scripture, het hy sy voorneme om die Bybel te vertaal uitgespreek, sodat elke mens in Engeland die wonderbaarlike werke van God in sy eie moedertaal kon lees. GS 75.4

Maar skielik is sy arbeid gestaak. Hoewel hy nog nie sestig jaar oud was nie, het onophoudelike geswoeg, studie en die aanvalle van sy vyande, hulle tol op sy krag geëis en hom voortydig oud gemaak. Hy is deur ‘n gevaarlike siekte aangetas. Hierdie tyding het groot vreugde vir die monnike ingehou. Nou, het hulle gedink, sal hy bitter berou hê oor die kwaad wat hy die kerk aangedoen het en hulle na hom gehaas om sy belydenis aan te hoor. Verteenwoordigers van die vier godsdienstige ordes, vergesel van vier burgerlike beamptes, het om die vermeende sterwende man geskaar. “Die dood is op jou lippe...” het hulle gesê; “...word deur jou foute aangeraak en trek alles wat jy tot ons skade gesê het terug.” Die hervormer het in stilte geluister; toe het hy sy oppasser beveel om hom in sy bed op te lig en, terwyl hulle staan en wag het vir sy terugtrekking, het hy stip na hulle gekyk het en met die vaste, sterk stem wat hulle so dikwels laat sidder het, gesê: “Ek sal nie sterwe nie, maar lewe; en weer die bose dade van die monnike verklaar.” — D ‘Aubigne, vol 17, hfst 7. Verbaas en verslae het die monnike uit die kamer gehaas. GS 76.1

Wycliffe se woorde is bewaarheid. Hy het gelewe om die magtigste van alle wapens teen Rome in die hande van sy landgenote te plaas, naamlik die Bybel, die hemelse werktuig vir die bevryding, verligting en evangelisasie van die mens. Daar was baie en groot struikelblokke om te oorkom in die uitvoering van hierdie werk. Wycliffe het gebuk gegaan onder liggaamlike ongesteldhede; hy het geweet dat slegs ‘n paar jaar van arbeid vir hom oorgebly het; hy het die teëstand wat hy moes konfronteer gesien, maar aangemoedig deur die beloftes van God se Woord, het hy deurgedruk en hom deur niks laat afskrik nie. In die volle krag van sy intellektuele vermoëns, ryk aan ervaring, is hy deur God se spesiale voorsiening hiervoor, vir die grootste van sy arbeid bewaar en voorberei. Terwyl die hele Christendom in oproer verkeer het, het die hervormer in sy pastorie op Lutterworth, sonder om ag op die storm wat buite gewoed het, homself aan sy gekose taak gewy. GS 76.2

Uiteindelik was die werk voltooi - die eerste Engelse vertaling van die Bybel wat ooit beskikbaar gestel is. Die Woord van God is aan Engeland geopen. Die hervormer het nou nie meer die gevangenis of die brandstapel gevrees nie. Hy het lig in die hande van die Engelse volk geplaas wat nooit gedoof sou word nie. Deur die Bybel aan sy landgenote te gee, het hy meer gedoen om die boeie van onkunde en ondeug te verbreek en om sy land te bevry en te verhef, as wat ooit deur die briljantste oorwinnings op die slagveld behaal is. GS 77.1

Die drukkuns was nog onbekend en dit was slegs deur langsame en moeisame arbeid dat eksemplare van die Bybel kon vermenigvuldig. Die belangstelling om die boek te bekom was so groot, dat baie gewilliglik met die transkripsie daarvan besig was, maar dit was moeilik vir die kopieerders om in die aanvraag te voorsien. Sommige van die meer welvarende kopers wou die hele Bybel hê. Ander het slegs gedeeltes daarvan aangeskaf. In baie gevalle het verskeie gesinne saam ‘n afskrif gekoop. So het Wycliffe se Bybel spoedig sy weg tot die huise van die mense gevind. GS 77.2

Die beroep op die mens se rede het hulle uit hul passiewe onderwerping aan pouslike dogmas gewek. Wycliffe het nou die kenmerkende leerstellings van Protestantisme verkondig, naamlik verlossing deur geloof in Christus en onfeilbaarheid van die Skrif alleen. Die predikers wat hy uitgestuur het, het die Bybel saam met die geskrifte van die hervormer met soveel sukses versprei, dat die nuwe geloof deur byna die helfte van die bevolking van Engeland aangeneem is. GS 77.3

Die verskyning van die Skrifte het die owerhede van die kerk ontstel. Hulle het nou met ‘n magtiger werktuig as Wycliffe te doen gehad — ‘n werktuig waarteen hulle wapens magteloos was. Op daardie stadium was daar geen wetgewing in Engeland wat die Bybel verbied het nie, want dit was nog nie tevore in die volkstaal gepubliseer nie. Sulke wette is agterna uitgevaardig en streng toegepas. Intussen, ondanks die pogings van die priesters, was daar geleentheid vir die verspreiding van die Woord van God. GS 77.4

Weereens het die pouslike leiers beplan om die hervormer se stem stil te maak. Hy is voor drie geregshowe gedaag maar dit het niks gehelp nie. Eerstens het ‘n sinode van biskoppe sy geskrifte as kettery verklaar en nadat hulle die jong koning, Richard II, na hulle kant oorgehaal het, het hulle ‘n koninklike dekreet verkry wat almal wat aan die veroordeelde leerstellings vasgehou het, tot gevangenisstraf veroordeel het. GS 78.1

Wycliffe het hom vanaf die sinode op die Parlement beroep; het hy die hiërargie onverskrokke voor die nasionale raad gedaag en ‘n hervorming van die enorme wanpraktyke wat die kerk goedgekeur het, geëis. Met oortuigende krag het hy die aanmatigings en korrupsie van die pouslike setel geskilder. Dit het sy vyande verwar. Die vriende en ondersteuners van Wycliffe moes noodgedwonge toegee en daar is met volle vertroue verwag dat die hervormer self op sy oudag, alleen en vriendeloos, voor die gesamentlike gesag van die kroon en die myter sou buig. Maar in stede hiervan het die Roomsgesindes hulself verslaan gevind. Die Parlement, wakker geskud deur die roerende appelle van Wycliffe, het die vervolgingsbevel herroep en die hervormer was weer vry. GS 78.2

Hy is vir ‘n derde keer verhoor en hierdie keer voor die hoogste, kerklike tribunaal in die koninkryk. Hier sou geen genade aan kettery betoon word nie. Hier sou Rome uiteindelik kon seëvier en die werk van die hervormer gestaak word. So het die Roomsgesindes gedink. As hulle net hul doel kon bereik, sou Wycliffe gedwing word om sy leerstellings af te sweer, of hy sou die hof vir die vlamme verlaat. GS 78.3

Maar Wycliffe het niks teruggetrek nie; hy sou nie huigel nie. Vreesloos het hy sy leerstellings verdedig en die beskuldigings van sy vervolgers weerlê. Hy het homself, sy posisie en die geleentheid vergeet en sy toehoorders voor die Goddelike regterstoel gedaag en die drogredes en hulle misleidings in die weegskaal van ewige waarheid geweeg. Die krag van die Heilige Gees is in die raadsaal gevoel. ‘n Betowerende krag van God was op die hoorders. Dit het gelyk asof hulle geen mag gehad het om die plek te verlaat nie. Die pyle uit die Here se pylkoker, naamlik die hervormer se woorde, het hul harte deurboor. Die aanklag van dwaalleer wat hulle teen hom ingebring het, het hy met oortuigende krag op hulle teruggewerp. Waarom, het hy geëis, het hulle dit gewaag om hul dwaalleer te versprei? Was dit ter wille van winsbejag om met die genade van God handel te dryf? GS 78.4

“Teen wie, dink julle...” het hy ten slotte gevra, “...stry julle? Teen ‘n ou man op die randjie van die graf? Nee! teen Waarheid — Waarheid wat sterker as julle is en wat julle sal oorwin.” — Wylie vol 2, hfst 13. Met hierdie woorde het hy die vergadering verlaat en nie een van sy teëstanders het hom probeer keer nie. GS 79.1

Wycliffe se werk was byna voltooi; die vaandel van die waarheid wat hy so lank omhoog gehou het, sou eerlank uit sy hand val; maar weereens sou hy vir die evangelie getuig. Die waarheid sou vanuit die vesting van die koninkryk van dwaling self verkondig word. Wycliffe is gedaag om voor die pouslike tribunaal in Rome te verskyn waar die bloed van die heiliges so dikwels gestort is. Hy was nie blind vir die gevaar wat hom bedreig het nie, maar hy sou nogtans die dagvaarding gehoorsaam het, as ‘n aanval van beroerte dit nie vir hom onmoontlik gemaak het om die reis te onderneem nie. Maar hoewel sy stem nie in Rome gehoor sou word nie, kon hy per brief kommunikeer en hy het besluit om dit te doen. Vanaf sy pastorie het die hervormer ‘n brief aan die pous geskryf wat, hoewel dit hoflik en in ‘n Christelike gees was, ‘n skerp teregwysing vir die prag en praal van die pouslike stoel was. GS 79.2

“Ek verheug my voorwaar...” het hy gesê, “...om aan alle mense die geloof wat ek huldig, te open en te verklaar, veral aan die biskop van Rome wat, omdat ek meen dat hy standvastig en getrou is, maar te gewillig sou wees om my genoemde geloof te bevestig, of indien dit verkeerd is, dit te verbeter. GS 79.3

“Eerstens neem ek aan dat die evangelie van Christus die volle wet van God omvat... Ek glo dat die biskop van Rome, aangesien hy die plaasvervanger van Christus op aarde is, meer as alle mense gebind is aan die wet van die evangelie. Want die grootheid onder die dissipels van Christus het nie bestaan uit wêreldse waardigheid of eer nie, maar uit ‘n nougesette en presiese navolging van Christus in Sy lewe en optrede ... Christus was, tydens sy pelgrimstog op aarde, ‘n baie arm man, wat alle wêreldse heerskappy en eer van die hand gewys het... GS 80.1

“Geen gelowige mag óf die pous homself, óf enige van die heiliges navolg nie, behalwe op die punte waarop hulle die Here Jesus Christus navolg; want Petrus en die seuns van Sebedeus, deur wêreldse eer in teenstelling met die voorbeeld van Christus te begeer, het aanstoot gegee en daarom moet hulle nie in hierdie dwalinge nagevolg word nie... GS 80.2

“Die pous behoort alle tydelike heerskappy en beheer aan die sekulêre mag oor te laat en ook al sy geestelikes daartoe te beweeg en te vermaan, want so het Christus, veral deur Sy apostels, gedoen. Daarom, as ek op enige van hierdie punte fouteer het, wil ek myself nederig aan teregwysing, of selfs die dood onderwerp as dit nodig is; en as ek volgens my wil of begeerte, in my eie persoon kon optree, sou ek myself sekerlik voor die biskop van Rome gestel het, maar die Here het my andersins besoek en my geleer om God eerder as die mens te gehoorsaam.” GS 80.3

Ter afsluiting het hy gesê: “Laat ons tot ons God bid, dat Hy ons Pous, Urbanis VI, soos aan die begin, sal opwek sodat hy met sy geestelikes die Here Jesus Christus in lewe en sedes mag navolg; en dat hulle die volk kragdadig kan onderrig, sodat laasgenoemdes hulle eweneens getrou daarin mag navolg.” — Foxe, Acts and Monuments, vol 3, bl 49,50. GS 80.4

Sodoende het Wycliffe aan die pous en sy kardinale die sagmoedigheid en nederigheid van Christus voorgehou en nie net aan hulle nie, maar ook aan die hele Christendom, die kontras tussen hulle en die Meester wie se verteenwoordigers hulle beweer het om te wees, getoon. GS 81.1

Wycliffe het ten volle verwag dat hy met sy lewe vir sy getrouheid sou moes boet. Die koning, die pous en die biskoppe het saamgespan om sy ondergang te bewerk en dit het gelyk asof dit ‘n uitgemaakte saak was dat hy binne ‘n paar maande na die brandstapel sou gaan. Maar sy moed was onverstoorbaar. “Waarom praat julle van die kroon van martelaarskap ver te gaan soek?” het hy gesê. “Verkondig die evangelie van Christus aan arrogante prelate en die marteldood sal gewis wees. Wat! Moet ek lewe en swyg? ... Nooit nie! Laat die slag val, ek wag op die koms daarvan.” — D'Aubigne, vol 17, hfst 8. GS 81.2

Maar God se voorsienigheid het steeds sy dienskneg beskerm. Die man wat vir ‘n hele leeftyd met vrymoedigheid gestaan het om die waarheid te verdedig, met sy lewe daagliks in gevaar, sou nie ‘n slagoffer van die vyand se haat word nie. Wycliffe het nooit probeer om homself te beskerm nie, maar die Here was sy beskermer; en nou, toe sy vyande seker van hulle prooi was, het God se hand hom buite hulle bereik verwyder. In sy kerk op Lutterworth, terwyl hy besig was om die nagmaal te bedien, het ‘n beroerte aanval hom verlam en hy is kort daarna oorlede. GS 81.3

God het Wycliffe vir hierdie werk aangestel. Hy het die woord van waarheid in sy mond gelê en Hy het oor hom gewaak sodat hierdie woord na die volk kon uitgaan. Sy lewe is beskerm en sy arbeid verleng, totdat die grondslag vir die groot werk van die hervorming gelê is. GS 81.4

Wycliffe het uit die duisternis van die Donker Eeue gekom. Daar was niemand wat hom voorafgegaan het, uit wie se werk hy sy stelsel vir hervorming kon skep nie. Hy is, soos Johannes die Doper, vir ‘n spesiale taak verwek en was die aankondiger van 'n nuwe era. In die stelsel van waarheid wat hy verkondig het, was daar ‘n eenheid en volledigheid wat nie deur hervormers wat hom opgevolg het, oorskry is nie en wat sommige van hulle selfs nie ‘n honderd jaar later kon bereik nie. Die grondslag was so breed en diep gelê en die raamwerk was so vas en waar, dat dit nie vir diegene wat hom opgevolg het, nodig was om dit te herbou nie. GS 81.5

Die groot beweging wat deur Wycliffe ingelei is, wat die gewete en intellek moes bevry en die nasies wat vir so lank aan die segetog van Rome gebonde was sou bevry, het sy oorsprong in die Bybel gehad. Hier was die bron van daardie stroom van seën wat sedert die veertiende eeu, deur die eeue heen soos water van die lewe gevloei het. Wycliffe het die Heilige Skrif met onwrikbare geloof as die geïnspireerde openbaring van God se wil aanvaar, ‘n onfeilbare maatstaf van geloof en praktyk. Hy was opgelei om die Kerk van Rome as die Goddelike, onfeilbare gesag te beskou en om die leerstellings en gebruike van ‘n duisend jaar met onvoorwaardelike eerbied te aanvaar; maar hy het van al hierdie dinge afgewyk om na God se heilige Woord te luister. Dit was die gesag wat hy die volk aangespoor het om te erken. In plaas daarvan dat die kerk deur die pous praat, het hy verklaar dat die enigste ware gesag die stem van God is wat deur Sy woord spreek. En nie alleen het hy geleer dat die Bybel ‘n perfekte openbaring van God se wil is nie, maar dat die Heilige Gees die enigste Vertolker daarvan is en dat elke mens sy eie plig, deur die bestudering daarvan, moet leer ken. So het hy die gedagtes van mense van die pous en die kerk van Rome weggelei en dit op die woord van God gerig. GS 82.1

Wycliffe was een van die grootste hervormers. In omvang van intellek, helderheid van denke, standvastigheid in die handhawing van die waarheid en vrymoedigheid om dit te verdedig, is hy deur min wat ná hom gekom het geëwenaar. Reinheid van lewe, onvermoeide ywer in studie en arbeid, onkreukbare integriteit, Christelike liefde en getrouheid in hul bediening, was ‘n kenmerk van die eerste van die hervormers en dit, ten spyte van die intellektuele duisternis en morele korrupsie waarin hy geleef het. GS 82.2

Wycliffe se karakter is ‘n getuienis van die opvoedende, transformerende krag van die Heilige Skrif. Dit was die Bybel wat hom gemaak het wat hy was. Die poging om die groot waarhede van Openbaring te begryp het al die verstandelike vermoëns verkwik en krag daaraan verleen. Dit verbreed die verstand, verskerp die waarnemingsvermoë en gee rypheid van oordeel. ‘n Studie van die Bybel sal elke gedagte, gevoel en strewe veredel, soos wat geen ander studie kan nie. Dit gee stabiliteit van doel, geduld, moed en deursettingsvermoë; dit verfyn die karakter en heilig die siel. ‘n Ernstige, eerbiedige studie van die Skrif wat die denke van die student in regstreekse kontak met die oneindige verstand bring, sal aan die wêreld manne van sterker en meer aktiewe intellek besorg, sowel as van ‘n edeler beginsel as wat die beste menslike filosofie bied. “Die opening van U woorde gee lig...” sê die psalmis, “...dit maak die eenvoudiges verstandig.” (Ps 119:130). GS 83.1

Die leerstellings wat deur Wycliffe geleer is, het ‘n tyd lank voortgeduur om uit te brei; sy volgelinge, bekend as Wycliffiete en Lollarde, het nie alleen Engeland deurkruis nie, maar ook na ander lande uitgebrei, waarheen ‘n kennis van die evangelie uitgedra is. Nadat hulle leier van hulle weggeneem is, het die predikers met nog groter ywer as voorheen gewerk en menigtes het saamgestroom om na hulle leringe te luister. Sommige van die adel, waaronder ook die koningin, was onder die bekeerlinge. Op baie plekke was daar ‘n duidelike hervorming in die optrede van die volk en die afgodiese simbole van Romanisme is uit die kerke verwyder. Maar spoedig het die meedoënlose storm van vervolging op diegene wat dit gewaag het om die Bybel as hul riglyn aan te neem, losgebars. Die Engelse vorste was gretig om hulle mag deur die steun van Rome te versterk en het nie gehuiwer om die hervormers op te offer nie. Vir die eerste keer in die geskiedenis van Engeland is die dekreet van die brandstapel teen die dissipels van die evangelie uitgevaardig. Martelaarskap het op martelaarskap gevolg. Die voorstanders van die waarheid, verban en gemartel, kon slegs tot die Here van die leërskare uitroep. Vervolg as vyande van die kerk en verraaiers van die koninkryk, het hulle in verborge plekke gepreek en so goed as hulle kon, skuiling in die nederige wonings van die armes gevind en dikwels in kuile en grotte wegkruip. GS 83.2

Ondanks die woede van vervolging, is daar eeue lank kalme, vroom, ernstige en geduldige protes teen die heersende korrupsie van godsdienstige geloof uitgespreek. Die Christene van daardie vroeë tyd het slegs ‘n gedeeltelike kennis van die waarheid gehad, maar hulle het geleer om God se Woord te gehoorsaam en lief te hê en hulle het geduldig daarvoor gely. GS 84.1

Soos die dissipels in die tyd van die apostels, het baie hulle wêreldse besittings vir die saak van Christus opgeoffer. Diegene wat toegelaat was om in hul huise te woon, het herberg aan hul verbanne broers in hul huise verleen en wanneer hulle self verdryf is, het hulle die lot van uitgeworpenes met blymoedigheid aanvaar. Duisende wat weliswaar deur die woede van hul vervolgers afgeskrik was, het hul vryheid ten koste van hul geloof gekoop en hul tronke in ‘n kleed van boetedoening verlaat om die verloëning van hul geloof aan te dui. Maar daar was ‘n groot aantal, waaronder ook mense, adellik van oorsprong, wat onverskrokke vir die waarheid in kerkers, in die Lollard-torings, in marteling en in die vlamme, met blydskap getuig het dat hulle waardig geag is om “...in Sy lyde...” te deel. GS 84.2

Die Roomsgesindes het nie daarin geslaag om hulle doel metWycliffe gedurende sy lewe, te bereik nie en hulle haat kon nie deur sy liggaam wat rustig in die graf gerus het, bevredig word nie. Kragtens ‘n dekreet van die Konsilie van Konstanz, is sy bene meer as veertig jaar ná sy dood opgegrawe, in die openbaar verbrand en die as in ‘n naburige spruit gegooi. “Hierdie stroom...” het ‘n ou skrywer gesê, “...het die as na die Avon gevoer, van Avon na die Severn, van die Severn na die kleiner see en vandaar na die groot oseaan. En so het die as van Wycliffe ‘n embleem van sy leer, wat nou oor die hele wêreld versprei is, geword.” — T Fuller, Church History of Britain, vol 4, art 2, par 54. Sy vyande was onbewus van die betekenis van hul kwaadwillige daad. GS 84.3

Dit is deur die geskrifte van Wycliffe dat Johannes Huss, van Boheme, gelei is om afstand van baie van die dwalinge van Romanisme te doen en met die werk van hervorming voort te gaan. Aldus is die saad van die waarheid in hierdie twee lande, wat so ver van mekaar geleë is, gesaai. Van Boheme het die werk na ander lande uitgebrei. Die aandag van die mense is op die lank vergete Woord van God gevestig. ‘n Goddelike Hand was besig om die weg vir die groot hervorming voor te berei. GS 85.1