Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 4—Die Waldense
Te midde van die somberheid gedurende die lang tydperk van pouslike heerskappy op die aarde, kon die lig van die waarheid nie heeltemal uitgedoof word nie. In elke eeu was daar getuies vir God — mense wat geloof in Christus as die enigste Middelaar tussen God en mens gekoester het, wat die Bybel as die enigste reël vir die lewe beskou het en wat die ware Sabbat geheilig het. Hoeveel die wêreld aan hierdie mense verskuldig is, sal die nageslag nooit weet nie. Hulle was as ketters gebrandmerk, hul motiewe is verdink, hul karakters verguis en hul geskrifte onderdruk, verkeerdelik voorgestel of vernietig. Tog het hulle vasgestaan en van eeu tot eeu het hulle hul geloof in die suiwerheid daarvan as ‘n heilige erfdeel vir die toekomstige geslagte gehandhaaf. GS 48.1
Die geskiedenis van God se volk gedurende die donker eeue wat op Rome se oppergesag gevolg het, is in die hemel opgeteken, maar min daarvan kom in menslike geskrifte voor. Behalwe vir die beskuldigings van hulle vervolgers, is daar min spore van hulle bestaan. Dit was die beleid van Rome om elke spoor van afwyking van haar leerstellings of dekrete uit te wis. Alles wat ketters was, hetsy dit mense of geskrifte was, het Rome probeer vernietig. Uitdrukkings van twyfel, of vrae oor die gesag van pouslike dogmas, was genoeg om die lewe van ryk of arm, vernaam of eenvoudig te verbeur. Rome het ook gepoog om elke verslag van haar wreedheid teenoor andersdenkendes te vernietig. Pouslike rade het besluit dat boeke en geskrifte wat sulke verslae bevat verbrand moes word. Voordat die drukpers uitgevind is, was boeke min in getal en nie gunstig vir bewaring nie; daarom was daar nie veel wat die Romeine verhinder het om hul doel te verwesenlik nie. GS 48.2
Geen kerk binne die perke van die Romeinse jurisdiksie is lank 62 ongehinderd gelaat om vryheid van gewete te geniet nie. Sodra die pousdom mag verkry het, het sy haar arms uitgesteek om almal wat geweier het om haar heerskappy te erken te verpletter en een na die ander kerk het hulle aan haar onderwerp. GS 48.3
In Groot-Brittanje het die primitiewe Christendom baie vroeg wortelgeskiet. Die evangelie wat in die eerste eeu deur die Britte ontvang is, was toe nog onbedorwe deur Roomse afvalligheid. Vervolging van heidense keisers wat selfs tot by hierdie verre oewers gestrek het, was die enigste geskenk wat die eerste kerke van Brittanje van Rome ontvang het. Baie van die Christene wat weens vervolging uit Engeland moes vlug, het hul toevlug in Skotland gevind; daarvandaan is die waarheid na Ierland oorgedra en in al hierdie lande is dit met blydskap ontvang. GS 49.1
Toe die Sakse Brittanje binnegeval het, het die heidendom die beheer oorgeneem. Die oorwinnaars het minagtend geweier om deur hul slawe onderrig te word en die Christene moes noodgedwonge na die berge en die wilde heivelde onttrek. Tog het die lig, wat vir ‘n tyd lank verberg was, voortgegaan om te brand. ‘n Eeu later in Skotland, het dit met ‘n helderheid geskyn wat na verre lande uitgebrei het. Uit Ierland het die vrome Columbanus en sy medewerkers gekom, wat die verstrooide gelowiges op die eensame eiland Iona bymekaargebring het en dit die middelpunt van hul sendingwerk gemaak het. Onder hierdie evangeliste was ‘n waarnemer van die Bybelse Sabbat en hierdie waarheid is so onder die volk bekendgestel. Daar is ‘n skool in Iona gestig, waarvandaan sendelinge uitgegaan het, nie slegs na Skotland en Engeland nie, maar ook na Duitsland, Switserland en selfs Italië. GS 49.2
Maar Rome het haar visier op Brittanje gevestig en het besluit om dit aan haar oppermag te onderwerp. In die sesde eeu het haar sendelinge onderneem om die heidense Sakse te bekeer. Hulle is goedgunstiglik deur die trotse barbare ontvang en het duisende mense oorgehaal om die Roomse geloof te bely. Soos die werk gevorder het, het die pouslike leiers en hulle bekeerlinge in aanraking met die primitiewe Christene gekom. Die teenstelling was opvallend. Laasgenoemdes was eenvoudig, nederig en Skriftuurlik van karakter, leerstellings en optrede, terwyl eersgenoemdes die bygeloof, prag en arrogansie van die pousdom geopenbaar het. Die gesant van Rome het geëis dat hierdie Christelike kerk die oppergesag van die soewereine pous moes erken. Hierop het die Britte sagmoedig geantwoord dat hulle alle mense wou liefhê, maar dat die pous nie op oppergesag in die kerk geregtig was nie en dat hulle slegs daardie onderwerping aan hom kon betoon wat elke volgeling van Christus aan hom kon gee. Herhaaldelike pogings is aangewend om hulle lojaliteit aan Rome te verseker, maar hierdie nederige Christene, verbaas oor die trots wat die afgevaardigdes openbaar het, het onwrikbaar geantwoord dat hulle geen ander meester behalwe Christus erken nie. Toe is die ware gees van die pousdom geopenbaar. Die Roomse leier het gesê: “As julle nie broeders wil ontvang wat vrede aan julle bring nie, sal julle vyande ontvang wat oorlog teen julle sal voer. As julle nie met ons wil saamwerk om die weg van die lewe aan die Sakse te openbaar nie, sal julle van hulle die doodslag ontvang.” — JH Merle D'Aubigne, History of the Reformation of the Sixteenth Century, vol 17, hfst 2. Dit was geen ydele dreigemente nie. Oorlog, intriges en misleiding is teen hierdie getuies van Bybelse geloof gebruik totdat die kerke in Brittanje vernietig of gedwing was om hulle aan die gesag van die pous te onderwerp. GS 49.3
In lande buite die jurisdiksie van Rome het daar eeue lank liggame van Christene bestaan wat feitlik heeltemal vry van pouslike verdorwenheid was. Hulle was deur die heidendom omring en met verloop van die eeue is hulle deur hulle dwalinge geaffekteer; maar hulle het voortgegaan om die Bybel as die enigste maatstaf van geloof te beskou en het baie van die waarhede daarvan aangehang. Hierdie Christene het in die ewigheid van die wet van God geglo en die Sabbat van die vierde gebod onderhou. Die kerke wat hierdie geloof en gebruik gehandhaaf het, was in Sentraal-Afrika en onder die Armeniërs in Asië. GS 50.1
Maar onder diegene wat die inbraak van die pouslike mag weerstaan het, was die Waldense vooraan. In die einste land waar die pousdom haar setel gevestig het, is valsheid en korrupsie onwrikbaar weerstaan. Eeue lank het die kerke van Piedmont hul onafhanklikheid gehandhaaf; maar uiteindelik het die tyd aangebreek dat Rome op hulle onderwerping aangedring het. Na ‘n ondoeltreffende stryd teen haar tirannie, het die leiers van hierdie kerke onwillig die oppergesag van die mag waaraan die hele wêreld geblyk het hulde te betoon, erken. Daar was egter sommige wat geweier het om toe te gee aan die gesag van pous of prelaat. Hulle was vasbeslote om hul trou aan God te handhaaf en om die suiwerheid en eenvoud van hul geloof te bewaar. ‘n Skeiding het plaasgevind. Diegene wat die antieke geloof aangehang het, het nou onttrek; sommige het hul vaderland in die Alpe verlaat en die vaandel van waarheid in vreemde lande opgehef; ander het skuiling in die afgeleë klowe en rotsvestings in die berge gaan soek en daar het hul vryheid om God te dien, behoue gebly. GS 51.1
Die geloof wat eeue lank deur die Waldensiese Christene behoue gebly en geleer is, het ‘n groot kontras met die valse leerstellings wat deur Rome verkondig is gevorm. Hulle geloofsoortuiging was op die geskrewe Woord van God en die ware stelsel van die Christendom gegrond. Maar hierdie nederige landbouers, in hul verborge skuilplekke, van die wêreld afgesluit en daagliks gebonde aan hul geswoeg met hul kuddes en wingerde, het nie vanself tot die waarheid in teenstelling met die dogmas en ketterye van die afvallige kerk gekom nie. Hulle geloof was nie ‘n nuutgevonde geloof nie; hulle godsdienstige oortuiging was hul erfenis van hul vaders. Hulle het vir die geloof van die apostoliese kerk gestry, naamlik “...die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 3). “Die kerk in die woestyn...” en nie die trotse hiërargie wat op die troon in die groot hoofstad van die wêreld gesit het nie, was die ware kerk van Christus, die bewaker van die skatte van die waarheid wat God aan Sy volk toegewy het om aan die wêreld te verkondig. GS 51.2
Van die vernaamste oorsake wat tot die skeiding tussen die ware kerk en die kerk van Rome gelei het, was die haat wat laasgenoemde teen die Sabbat van die Bybel gekoester het. Soos in die profesieë voorspel, het die pouslike mag die waarheid teen die grond gewerp; die wet van God is in die stof vertrap, terwyl die tradisies en gebruike van mense verhef is. Die kerke wat onder die heerskappy van die pousdom was, is vroeg gedwing om Sondag as heilige dag te vereer. Te midde van die heersende dwaling en bygeloof het baie, selfs van die getroue volk van God, so verward geraak dat hulle, terwyl hulle die Sabbat onderhou het, hulself ook op Sondag van arbeid weerhou. Maar dit het die pouslike leiers nie tevrede gestel nie. Hulle het geëis dat nie alleen die Sondag geheilig moes word nie, maar dat die Sabbat ontheilig moes word; en hulle het diegene wat dit gewaag het om die Sabbat te eerbiedig, in die sterkste taal veroordeel. Slegs deur die mag van Rome te ontvlug kon iemand God se wet in vrede gehoorsaam. [Sien bylaag]. Die Waldense was een van die eerste volke in Europa wat ‘n vertaling van die Heilige Skrif ontvang het. [Sien bylaag]. Honderde jare voor die hervorming het hulle ‘n manuskrip van die Bybel in hul moedertaal besit. GS 52.1
Hulle het die onvervalste waarheid gehad en dit het hulle die besondere voorwerp van haat en vervolging gemaak. Hulle het die kerk van Rome as die afvallige Babilon van Openbaring van die Apokalips verklaar en in gevaar van hul lewens, het hulle opgestaan om haar verdorwenheid te weerstaan. Hoewel sommige, onder die langdurige vervolging hul geloof in gevaar gestel en stelselmatig die onderskeidende beginsels daarvan versaak het, het ander aan die waarheid vasgehou. Gedurende die eeue van duisternis en afvalligheid, was daar van die Waldense wat die oppergesag van Rome ontken het, wat die aanbidding van beelde as afgodediens verwerp het en die ware Sabbat onderhou het. Onder die hewigste storms van teëstand het hulle hul geloof gehandhaaf. Ofskoon hulle deur die spies van die Savojaarde deurpriem en op die Roomse brandstapel verbrand is, het hulle onwrikbaar vir God se Woord en Sy eer gestaan. GS 52.2
Agter die hoë skanse van die berge — deur die eeue heen die toevlugsoord van die vervolgdes en verdruktes — het die Waldense ‘n skuilplek gevind. Hier is die lig van die waarheid te midde van die duisternis van die Middeleeue brandend gehou. Hier het getuies vir die waarheid vir ‘n duisend jaar hul antieke geloof bewaar. GS 53.1
God het vir Sy volk ‘n heiligdom van ontsagwekkende grootsheid voorsien, wat by die magtige waarhede wat Hy aan hulle toevertrou het gepas het. Vir hierdie getroue bannelinge was die berge ‘n simbool van die onveranderlike geregtigheid van Jehova. Hulle het hul kinders na die hoogtes wat in hul onveranderlike majesteit bo hulle uitgetroon het, gewys en met hulle oor Hom gepraat, by wie daar geen veranderlikheid of skaduwee van omkering is nie en wie se Woord net so blywend as die ewige berge is. God het die berge gegrondves en hulle met krag omgord; geen arm, behalwe die van Oneindige Krag, kon hulle uit hulle plekke versit nie. Op dieselfde wyse het Hy Sy wet, die grondslag van Sy regering in die hemel en op die aarde, gevestig. Die arm van die mens mag sy medemens bereik en hom vernietig; maar net so min as wat hulle die berge van hul fondamente kan ontwortel en in die see werp, kan hulle een voorskrif van die wet van Jehova verander of een van Sy beloftes aan diegene wat Sy wil doen, uitwis. In hulle getrouheid aan Sy wet moet God se diensknegte net so onwrikbaar soos die onveranderlike berge wees. GS 53.2
Die berge wat hulle valleie omgord het, was ‘n voortdurende getuie van God se skeppingsmag en ‘n onfeilbare versekering van Sy beskermende sorg. Hierdie pelgrims het geleer om hierdie stil simbole van Jehova se teenwoordigheid lief te hê. Hulle het nie gekla oor die ontberinge van hulle lot nie; te midde van die afsondering van die berge, was hulle nooit eensaam nie. Hulle het God gedank omdat Hy vir hulle ‘n toevlugsoord, weg van die toorn en wreedheid van mense voorsien het. Hulle was verheug oor hul vryheid om Hom te aanbid. Dikwels wanneer hulle deur hul vyande vervolg was, was die berge vir hulle ‘n veilige beskutting. Vanaf baie hoë kranse het hulle die lof van God besing en die leërs van Rome kon nie hulle dankliedere stilmaak nie. GS 53.3
Rein, eenvoudig en vurig was die vroomheid van hierdie volgelinge van Christus. Hulle het die beginsels van die waarheid bo huise en lande, vriende, familie en selfs die lewe self gewaardeer. Hulle het ernstig gepoog om hierdie beginsels op die harte van die jeug te druk. Van jongs af is die kinders uit die Skrif onderrig en geleer om die aansprake van die wet van God as heilig te beskou. Afskrifte van die Bybel was skaars; daarom het hulle die kosbare woorde gememoriseer. Baie van hulle kon groot dele van die Ouen die Nuwe Testament herhaal. Gedagtes aan God is met die verhewe natuurskoon en die nederige seëninge van hul daaglikse lewe vereenselwig. Kinders het geleer om met dankbaarheid na God as die Gewer van elke guns en gerief op te sien. GS 54.1
Ouers, teer en liefdevol soos hulle was, het hulle kinders met te veel wysheid liefgehad om hulle aan ‘n lewe van selfbevrediging gewoond te maak. Voor hulle was ‘n lewe van beproewing en swaarkry en moontlik ‘n marteldood. Hulle is van kindsbeen opgelei om swaarkry te verduur, om onderdanig te wees, maar tog vir hulself te dink en op te tree. Hulle is baie vroeg geleer om verantwoordelikhede te dra, om oor hul tong te waak en die wysheid van stilswye te besef. Een onoordeelkundige woord ten aanhore van hulle vyande, kon nie slegs die lewe van die spreker in gevaar stel nie, maar ook die lewens van honderde van sy broers; want net soos wolwe wat hulle prooi jag, het die vyande van die waarheid diegene wat dit gewaag het om op vryheid van godsdienstige geloof aanspraak te maak agtervolg. GS 54.2
Die Waldense het hul wêreldse voorspoed ter wille van die waarheid opgeoffer en met volhardende geduld vir hul brood geswoeg. Elke kol bewerkbare land tussen die berge is sorgvuldig bewerk; die valleie en die minder vrugbare berghellings moes hulle oeste lewer. Spaarsaamheid en streng selfverloëning was deel van die opvoeding wat die kinders as hul enigste nalatenskap ontvang het. Hulle is geleer dat God die lewe as ‘n dissipline ontwerp het en dat daar slegs deur persoonlike arbeid, bedagsaamheid, sorgsaamheid en geloof in hul behoeftes voorsien kon word. Die proses was moeisaam en uitputtend, maar dit was heilsaam en presies wat die mens in sy gevalle toestand nodig gehad het, die skool wat God vir sy opvoeding en ontwikkeling voorsien het. Terwyl die jeug geswoeg en swaargekry het, was die intellektuele kultuur nie verwaarloos nie. Hulle is geleer dat al hul kragte aan God behoort en dat almal vir Sy diens ontwikkel en verbeter moes word. GS 55.1
Die gemeentes van die Vaudois in hul eenvoud en reinheid was gelykstaande aan die kerk in die apostoliese tyd. Hulle het die oppergesag van die pous en prelaat verwerp en die Bybel as die enigste, hoogste en onfeilbare gesag beskou. Hulle predikante het, in teenstelling met die heerssugtige priesters van Rome, die voorbeeld van hulle Meester gevolg wat gekom het, “...nie om gedien te word nie, maar om te dien.” Hulle het die kudde van God gevoed en hulle na die groen weivelde en lewende fonteine van Sy Heilige Woord gelei. Ver weg van die monumente van menslike prag en praal, het die mense nie in pragtige kerke of grootse katedrale vergader nie, maar in die skadu’s van die berge in die Alpe-valleie, of in tye van gevaar in een of ander rotsvesting, om na die woorde van waarheid deur die diensknegte van Christus, te luister. Die predikante het nie alleen die evangelie verkondig nie, maar hulle het siekes besoek, die kinders gekatkiseer, die dwalende vermaan en hulle het hulle beywer om geskille te besleg en harmonie en broederliefde te bevorder. In tye van vrede is hulle deur die vrywillige offergawes van die volk onderhou; maar soos Paulus, die tentmaker, het elkeen die een of ander ambag of beroep geleer waardeur hy, indien nodig, in sy eie behoeftes kon voorsien. GS 55.2
Die jeug is deur hulle predikante onderrig. Terwyl aandag aan alle fasette van algemene opvoeding geskenk is, was die hoofstudie die Bybel. Die Evangelies van Mattheus en Johannes is gememoriseer, asook baie van die Sendbriewe. Hulle was ook ingespan om die Skrif te kopieer. Sommige van die manuskripte het die hele Bybel bevat, ander slegs uitgesoekte dele waarby ‘n paar eenvoudige verklarings van die teks deur diegene wat die Skrif kon uitlê, gevoeg is. So is die skatte van die waarheid wat so lank deur diegene wat hulself bo God wou verhef weggesteek was, na vore gebring. GS 56.1
Deur geduldige, onvermoeide arbeid, soms in die diep, donker spelonke van die aarde, by die lig van fakkels, is die Heilige Skrifte, teks vir teks, hoofstuk vir hoofstuk, neergeskryf. So het die werk voortgegaan en het die geopenbaarde wil van God soos suiwer goud geblink; hoeveel helderder, duideliker en heerliker dit geblink het as gevolg van die beproewings wat ter wille daarvan ondergaan is, kon slegs diegene wat met die werk besig was besef. Engele uit die hemel het hierdie getroue werkers omring. GS 56.2
Satan het die pouslike priesters en prelate aangehits om die Woord van waarheid onder die vullis van dwaling, kettery en bygeloof te begrawe; maar op ‘n wonderbaarlike wyse is dit onbedorwe deur al die donker eeue bewaar. Dit het nie die stempel nie van die mens gedra nie, maar die afdruk van God. Mense was onvermoeid in hul pogings om die duidelike, eenvoudige betekenis van die Skrif te verdoesel en met hul eie getuienis te weerspreek; maar soos die ark op die onstuimige waters, het die Woord van God die storms wat dit met vernietiging bedreig het, getrotseer. Soos ryk are van goud en silwer onder die oppervlak van ‘n myn verborge is, sodat daar gedelf moet word om die kosbare goud te ontdek, so is daar in die Heilige Skrif skatte van waarheid wat slegs aan die ernstige, nederige, biddende soeker geopenbaar word. God het die Bybel as ‘n lesboek vir die hele mensdom, gedurende sy kinderjare, jeugen volwassenheid bestem om deur alle tye bestudeer te word. Hy het sy Woord aan die mens as ‘n openbaring van Homself gegee. Elke nuwe waarheid wat ontdek word, is ‘n vars openbaarmaking van die karakter van die Outeur daarvan. Die bestudering van die Skrifte is die middel wat deur God bestem is om die mens in ‘n nouer verband met sy Skepper te bring en om aan hulle ‘n duideliker begrip van Sy wil te gee. Dit is die medium van kommunikasie tussen God en die mens. GS 56.3
Terwyl die Waldense die vrees van die Here as die beginsel van wysheid beskou het, was hulle nie blind vir die belangrikheid van kontak met die wêreld, ‘n kennis van mense en van ‘n aktiewe lewe om die verstand te ontwikkel en die begrip te verskerp nie. Van die skole in die berge, is sommige van die jeug na die opvoedingsinrigtings van Frankryk of Italië gestuur, waar daar ‘n meer uitgebreide veld vir studie, bepeinsing en waarneming, as in hulle geboorteplek in die Alpe was. Die jeug wat aldus weggestuur is, was aan versoeking blootgestel; hulle was getuies van ondeug, hulle het in aanraking met Satan se sluwe werkkragte gekom, wat die mees subtiele ketterye en gevaarlikste misleidings aangehits het. Maar hulle opvoeding van kleins af was van so aard, om hulle vir hierdie dinge voor te berei. GS 57.1
In die skole waarheen hulle gestuur is, moes hulle niemand hul vertrouelinge maak nie. Hulle klere was so gemaak, dat dit hul grootste skat kon versteek - die kosbare manuskripte van die Skrif. Hierdie, die vrug van maande en jare se geswoeg, het hulle met hulle saamgedra en wanneer dit, sonder om agterdog te wek, vir hulle moontlik was, het hulle versigtig ‘n gedeelte daarvan oor die pad van diegene wie se harte geblyk het oop vir die waarheid te wees, gebring. Vanaf die moederskoot is die Waldensiese jeug met hierdie doel voor oë opgelei; hulle het hulle werk verstaan en dit getrou uitgevoer. In hierdie opvoedingsinrigtings is bekeerlinge tot die waarheid gewen en dikwels is daar bevind dat die beginsels van die waarheid die hele skool deurtrek het en die pouslike leiers, selfs deur die mees sorgvuldigste ondersoek, kon nie die oorsprong van die sogenaamde korrupterende dwaalleer naspeur nie. GS 57.2
Die Gees van Christus is ‘n Sendinggees. Die heel eerste impuls van die nuwe hart is om ander ook na die Verlosser te bring. Dit was die gees van die Vaudois-Christene. Hulle was van mening dat God meer van hulle vereis het as om die suiwer waarheid slegs in hul eie kerke te bewaar en dat daar ‘n ernstige verantwoordelikheid op hulle gerus het om hulle lig op diegene wat in duisternis was, te laat skyn. Deur die magtige krag van God se Woord het hulle gepoog om die slawerny wat Rome afgedwing het te verbreek. Die Vaudois-predikante is as sendelinge opgelei en almal wat verwag het om in die bediening te tree, moes eers ervaring as ‘n evangelis opdoen. Elkeen moes drie jaar in die sendingveld dien voordat hy die leiding in ‘n gemeente tuis kon neem. Hierdie diens, wat van meet af selfverloëning en opoffering vereis het, was ‘n gepaste inleiding tot die lewe van ‘n predikant in tye wat mense se siel beproef het. Die jeug wat tot die heilige amp georden is, het nie ‘n lewe van aardse rykdom en glorie tegemoetgegaan nie, maar ‘n lewe van swoeg, gevaar en moontlik die lot van ‘n martelaar. Die sendelinge het twee-twee uitgegaan, soos Jesus Sy dissipels uitgestuur het. Elke jongman was gewoonlik van ‘n ouer man met ervaring vergesel, terwyl die jeugdige onder leiding van sy metgesel was, wat verantwoordelik vir sy opleiding was en wie se opdragte hy moes volg. Hierdie medewerkers was nie altyd bymekaar nie, maar het gereeld vir gebed en raadpleging saamgekom en sodoende mekaar in die geloof versterk. GS 58.1
Om die doel van hulle sending bekend te maak, sou die nederlaag daarvan verseker het; daarom het hulle hul ware karakter van hulle werk sorgvuldig verberg. Elke predikant het kennis van die een of ander handel of beroep gehad en die sendelinge het hulle werk onder die dekmantel van ‘n sekulêre beroep voortgesit. Gewoonlik het hulle dié van ‘n handelaar of smous gekies. “Hulle het juweliersware en ander artikels wat nie vrylik plaaslik beskikbaar was nie verkoop en is as handelaars verwelkom, waar hulle as sendelinge verwerp sou word.” — Wylie, vol 1, hfst 7. Maar hulle harte was voortdurend na tot God opgehef vir wysheid, om ‘n kosbaarder skat as goud of edelstene, aan te bied. Hulle het heimlik eksemplare van die Bybel of gedeeltes daarvan saam met hulle gedra en elke keer wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, het hulle die aandag van hul klante op hierdie manuskripte gevestig. Die belangstelling om God se woord te lees is dikwels op hierdie wyse gewek en ‘n gedeelte is by diegene wat dit graag wou ontvang agtergelaat. GS 58.2
Die werk van hierdie sendelinge het in die vlaktes aan die voet van hul eie berge begin, maar dit het veel verder as hierdie grense uitgebrei. Kaalvoet en met klere van growwe stof en reisbevlek, net soos dié van hulle Meester, het hulle deur die groot stede gereis en na verre lande deurgedring. Hulle het die kosbare saad oral gesaai. Kerke het op hul pad verrys en die bloed van martelare het vir die waarheid getuig. Op die dag van die Here sal ‘n ryk oes van siele as gevolg van die arbeid van hierdie getroue mense ingesamel word. Stil en verskans, was die Woord van God besig om deur die Christendom te beweeg en is met blydskap in die huise en harte van mense ontvang. GS 59.1
Vir die Waldense was die Skrif nie slegs ‘n verslag van God se handelinge met die mense in die verlede en ‘n openbaring van verantwoordelikhede en pligte vir die hede nie, maar ‘n ontvouing van die gevare en heerlikheid van die toekoms. Hulle het geglo dat die einde van alle dinge nie meer ver in die toekoms was nie en namate hulle die Bybel biddend en met trane bestudeer het, het hulle nog meer onder die indruk van die kosbare uitsprake daarvan gekom en van hul plig om die reddende waarhede daarvan aan ander bekend te maak. Hulle het die plan van verlossing duidelik op die heilige bladsye gesien en hulle het vertroosting, hoop en vrede, deur geloof in Jesus gevind. Namate die lig hulle begrip verlig en hul harte verbly het, het hulle daarna verlang om die strale daarvan op diegene wat in die duisternis van pouslike dwaling verkeer het, te laat skyn. GS 59.2
Hulle het gesien dat menigtes tevergeefs gepoog het om, onder leiding van die pous en priesters vergifnis te ontvang ,deur hul liggame vir die sondes van hulle siele te pynig. Geleer om op hul goeie werke te vertrou vir hulle redding, was hulle oë voortdurend op hulself gevestig, terwyl hulle gedagtes by hul sondige toestand vasgesteek het en hulle hulself aan die toorn van God, wat siel en liggaam beproef het, oorgelaat gesien het en geen verligting gevind nie. Sodoende was pligsgetroue siele aan die leerstellings van Rome vasgebind. Duisende het vriende en familie verlaat en hul lewens in kloosterselle deurgebring. GS 60.1
Deur dikwels herhaalde vaste en wrede pynigings, deur middernagwake, deur uitputtende ure op die koue, klam stene van hul somber verblyf, deur lang pelgrimstogte, deur vernederende boetedoening en verskriklike marteling, het duisende vergeefs probeer om vrede vir hulle gewete te verkry. Terneergedruk deur ‘n besef van sonde en agtervolg deur ‘n vrees vir God se vergeldende wraak, het baie op hierdie wyse voortgegaan totdat die uitgeputte natuur meegegee het en hulle sonder een ligstraal of hoop in die graf weggesak het. GS 60.2
Die Waldense het verlang om die brood van die lewe vir hierdie hongerige siele te breek, om die boodskappe van vrede in die beloftes van God oop te maak en hulle na Christus as hul enigste hoop op verlossing te wys. Die leerstelling dat goeie werke versoening kan doen vir die oortreding van God se wet, het hulle voorgehou dat dit op valsheid gegrond was. Vertroue op menslike verdienste onderskep die siening van Christus se oneindige liefde. Jesus het as offer vir die mens gesterf, omdat die gevalle ras niks kon doen om hulself by God aan te beveel nie. Die verdienste van ‘n gekruisigde en opgestane Verlosser is die grondslag van die Christen se geloof. Die siel se afhanklikheid van Christus is net so werklik en die verbintenis met Hom moet net so innig wees soos die ledemate aan die liggaam of die tak aan die wingerdstok. GS 60.3
Die leringe van biskoppe en priesters het daartoe gelei dat mense die karakter van God en selfs van Christus, as streng, somber en onverbiddelik beskou. Die Verlosser is voorgestel dat Hy sonder meegevoel met die mens in sy gevalle toestand is en dat daar ‘n beroep op die bemiddeling van priesters en heiliges gedoen moet word. Diegene wie se gedagtes deur die Woord van God verlig is, het verlang om hierdie siele na Jesus as hul medelydende, liefdevolle Verlosser te wys, wat met uitgestrekte arms staan en almal uitnooi om met hul sondelas, sorge en vermoeienis na Hom te kom. Hulle wou graag die struikelblokke wat Satan opgestapel het om mense te verhoed om die beloftes raak te sien, uit die weg ruim en om hulle regstreeks na God te lei om hul sondes te bely en vergifnis en vrede te ontvang. GS 61.1
Met gretigheid het die Vaudois-sendeling die kosbare waarhede van die evangelie aan soekende siele geopenbaar. Hy het die geskrewe dele van die Skrif versigtig te voorskyn gehaal. Dit was sy grootste vreugde om hoop aan die ernstige, sondegeteisterde siel, wat slegs ‘n God van wraak wat gewag het om reg te laat geskied, raakgesien het, te bring. Met bewende lippe en betraande oë het hy, dikwels op sy neergeboë knieë, die kosbare beloftes vir sy broers oopgestel, wat die sondaar se enigste hoop openbaar. So het die lig van die waarheid tot menige verduisterde verstande deurgedring en die wolk van somberheid verdryf, totdat die Son van Geregtigheid met genesing in sy strale in die hart geskyn het. Dit het dikwels gebeur dat ‘n sekere skrifgedeelte herhaaldelik gelees is, omdat die hoorder dit so begeer het, so asof hy homself wou verseker dat hy reg gehoor het. Daar was veral ‘n begeerte dat die volgende woorde herhaal moes word: “Die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Joh 1:7). “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:14,15). GS 61.2
Baie het uit hul misleiding ten opsigte van die aansprake van Rome gekom. Hulle het gesien hoe tevergeefs die bemiddeling van mense of engele ten behoewe van die sondaar is. Namate die ware lig in hulle harte opgegaan het, het hulle met vreugde uitgeroep: “Christus is my priester; Sy bloed is my offerande; Sy altaar is my biegstoel.” Hulle het hulself heeltemal op die verdienste van Jesus beroep en die woorde herhaal: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.” (Heb 11:6). “Want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. (Hand 4:12). GS 62.1
Die versekering van ‘n Verlosser se liefde het vir sommige van hierdie arme, storm-geteisterde siele te oorweldigend gelyk. Die verligting wat dit gebring het was so groot, dat so ‘n vloed van lig, wat geblyk het hulle na die hemel te voer, op hulle geskyn het. Hulle hande is met vertroue in die hand van Christus gelê en hulle voete op die Rots van Eeue geplant. Alle vrees vir die dood het verdwyn. Hulle kon nou die gevangenis en die brandstapel begeer as hulle daardeur die Naam van hul Verlosser kon vereer. GS 62.2
So is die Woord van God is in geheime plekke te voorskyn gebring en gelees, soms vir ‘n enkele siel en soms vir ‘n groep wat na lig en waarheid verlang het. Dikwels is die hele nag op hierdie wyse deurgebring. So groot was die verwondering en bewondering van die hoorders, dat die boodskapper van genade dikwels verplig was om op te hou lees, totdat die verstand die boodskap van verlossing kon begryp. Dikwels sou vrae soos hierdie gevra word: “Sal God regtig my offerande aanneem? Sal Hy vir my glimlag? Sal Hy my vergewe?” Op hierdie vrae is die volgende antwoord gelees: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.” (Matt 11:28). GS 62.3
Geloof het die belofte aangegryp en die blye reaksie is gehoor: “Geen verdere lang bedevaarte om te maak nie; geen pynlike reise na heiligdomme nie. Ek kan na Jesus kom net soos ek is, sondig en onheilig en Hy sal nie die boetvaardige gebed minag nie. ‘Jou sondes is vergewe.’ Myne, ja ook myne, kan vergewe word!” GS 62.4
'n Gloed van heilige vreugde het die hart vervul en die Naam van Jesus is deur lof en danksegging groot gemaak. Daardie gelukkige siele het na hul huise teruggekeer om die lig te versprei; en om so goed as moontlik, hul nuwe ervaring met ander te deel; dat hulle die ware en lewende Weg gevind het. Daar was vreemde en plegtige krag in die woorde van die Skrif, wat direk tot die harte van diegene wat na die waarheid verlang, gespreek het. Dit was die stem van God en dit het diegene wat dit gehoor het, oortuig. GS 63.1
Die boodskapper van waarheid het verder op sy weg gegaan, maar sy nederige voorkoms, sy opregtheid, sy erns en ywer, was gereeld die onderwerp van bespreking. In baie gevalle het sy toehoorders hom nie gevra waar hy vandaan kom of waarheen hy gaan nie. Hulle was so oorweldig, eerstens deur verbasing en daarna met dankbaarheid en vreugde, dat hulle nooit daaraan gedink het om hom te ondervra nie. Wanneer hy gevra is om hulle na hul huise te vergesel, het hy geantwoord dat hy die verlore skape van die kudde moes besoek. Sou hy ‘n engel van die hemel wees? het hulle gevra. GS 63.2
In baie gevalle is die boodskapper van waarheid nie weer gesien nie. Hy het sy weg na ander lande gevind, of hy het sy lewe in die een of ander onbekende kerker geslyt, of miskien het sy beendere op een of ander plek waar hy vir die waarheid getuig het, verbleik. Maar die woorde wat hy agtergelaat het, kon nie vernietig word nie. Hulle het hul werk in die harte van mense verrig; die geseënde resultate sal eers op die oordeelsdag volkome bekend wees. GS 63.3
Die Waldensiese sendelinge het die koninkryk van Satan binnegedring en die magte van duisternis is tot groter waaksaamheid gewek. Die vors van die bose het alle pogings om die waarheid te bevorder gadegeslaan en hy het die vrees van sy werkkragte aangewakker. Die pouslike leiers het ‘n potensiaal van gevaar vir hul saak in die werk van hierdie nederige reisigers gesien. Indien die lig van die waarheid toegelaat sou word om ongehinderd te skyn, sou dit die dik wolke van dwaling wat die mense omhul het, verdryf. Dit sou die gedagtes van mense tot God alleen rig en uiteindelik die oppergesag van Rome vernietig. GS 63.4
Die bestaan van hierdie mense alleen, wat die geloof van die vroeë kerk gehad het, was ‘n konstante getuienis teen Rome se afvalligheid en het daarom die bitterste haat en vervolging ontketen. Hulle weiering om die Skrif op te gee, was ook ‘n oortreding wat Rome nie kon verdra nie. Sy het besluit om hulle van die aarde te verdelg. Die felste kruistogte het nou teen die volk van God in hul bergwonings begin. Inkwisiteurs is op hul spoor geplaas en die toneel van die onskuldige Abel wat voor die moorddadige Kain geval het, is gereeld herhaal. GS 64.1
Keer op keer is hulle vrugbare lande verwoes en hulle woonhuise en kerke vernietig, sodat waar daar eers welige landerye en die wonings van die onskuldige, vlytige mense was, het daar net ‘n woesteny oorgebly. Soos ‘n uitgehongerde dier steeds woedender deur die smaak van bloed word, is die woede van die papiste deur die lyding van hulle slagoffers aangevuur. Baie van hierdie getuies vir ‘n suiwer geloof is oor die berge en in die valleie waar hulle tussen woude en agter rotse weggekruip het, agtervolg. GS 64.2
Geen klag kon teen die sedelike karakter van hierdie verbode klas ingebring word nie. Selfs hulle vyande het hulle as ‘n vreedsame, stil en vroom volk verklaar. Hulle grootste oortreding was dat hulle God nie volgens die wil van die pous wou aanbid nie. Vir hierdie misdaad is elke vernedering, belediging en marteling wat deur mense of duiwels uitgedink kon word, teen hulle opgestapel. GS 64.3
Toe Rome op ‘n stadium besluit het om hierdie gehate sekte te verdelg, het die pous ‘n bevelskrif uitgevaardig wat hulle as ketters veroordeel het en hulle aan slagting oorgelewer het. [Sien bylaag nota vir bl 59]. Hulle is nie beskuldig dat hulle leeglêers, oneerlik of wanordelik was nie, maar daar is aangevoer dat hulle ‘n skyn van vroomheid en heiligheid gehad het, wat “...die skape van die ware kudde...” verlei het. Daarom het die pous beveel dat “...hierdie kwaadwillige en afskuwelike sekte van kwaadwilliges...” as hulle “...weier om afstand van hulle geloof te doen, soos giftige slange vermorsel moet word.” — Wylie, vol 16, hfst 1. Het hierdie hooghartige potentaat geweet dat hierdie woorde weer sou moes konfronteer? Het hy geweet dat hulle in die boeke van die hemel opgeskryf is, om hom in die oordeel te konfronteer? “Vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My...” het Jesus gesê, “...het julle dit aan My gedoen.” (Matt 25:40). GS 64.4
Hierdie bevelskrif het ‘n beroep op al die lede van die kerk gedoen om aan die kruistog teen die ketters deel te neem. As ‘n aansporing om aan hierdie wrede werk deel te neem, het dit “...almal vrygespreek van kerklike straf en marteling, algemeen en in die besonder; dit het almal wat by die kruistog aangesluit het vrygestel van enige eed wat hulle afgelê het; dit het hulle die wettige eienaars van alle eiendom wat hulle op onwettige wyse bekom het gemaak; en dit het die kwytskelding van alle sondes van diegene wat enige ketter sou doodmaak, belowe. Dit het alle kontrakte wat ten gunste van die Vaudois aangegaan is, nietig verklaar; hulle huishoudings is gelas om hulle te verlaat, alle persone is verbied om enige bystand aan hulle te verleen en alle persone is gemagtig om hulle besittings in besit te neem.” — Wylie, vol 16, hfst 1. Hierdie dokument het die meesterbrein agter die skerms duidelik geopenbaar. Dit was die gebrul van die draak en nie die stem van Christus wat daarin gehoor is. GS 65.1
Die pouslike leiers wou nie hulle karakters in ooreenstemming met die maatstaf van God se wet bring nie, maar hulle het hul eie maatstaf opgestel om hulle te pas en was vasbeslote om almal te dwing om hieraan te voldoen omdat Rome dit so wou hê. Die verskriklikste tragedies het afgespeel. Korrupte en godslasterlike priesters en biskoppe het die werk waarvoor Satan hulle aangestel het, gedoen. Daar was geen plek vir genade in hul aard nie. Dieselfde gees wat Christus gekruisig en sy apostels om die lewe gebring het; dieselfde gees wat die bloeddorstige Nero in sy tyd teen die gelowige begeester het, was nou aan die werk om die aarde van diegene vir wie God lief was, te bevry. GS 65.2
Die vervolging wat baie eeue lank deur hierdie Godvresende volk besoek is, is deur hulle met geduld en bestendigheid wat hul Verlosser vereer het, verdra. Ondanks die kruistogte teen hulle en die onmenslike slagting waaraan hulle onderwerp is, het hulle steeds hulle sendelinge uitgestuur om die kosbare waarheid te versprei. Hulle is tot die dood toe gejag; tog het hulle bloed die gesaaide saad benat en dit het nie gefaal om vrugte te dra nie. So het die Waldense eeue voor die geboorte van Luther vir Christus getuig. Verstrooi in baie lande het hulle die saad van die hervorming geplant wat in die tyd van Wycliffe begin het, in die dae van Luther wyd en diep gegroei het en wat tot die einde van tyd voortgesit moet word deur diegene wat bereid is om alle dinge te ly vir “...die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus.” (Openb 1:9). GS 66.1