Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 41—Verwoesting van die Aarde
“Haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou ... Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het. Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie en droefheid sal ek nooit sien nie, daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar rou bedrywe wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!” (Openb 18:5-10). GS 691.1
“Die handelaars van die aarde...” wat “...ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid ... sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê: Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versier met goud en edelgesteentes en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!” (Openb 18:11,3,15-16). GS 691.2
Dit is die oordele wat oor Babilon in die dag van die besoeking van die grimmigheid van God sal kom. Sy het die maat van ongeregtigheid volgemaak; haar tyd het aangebreek; sy is ryp vir vernietiging. GS 691.3
Wanneer die stem van God die gevangenskap van Sy volk omkeer, is daar ‘n verskriklike ontwaking van diegene wat alles in die groot stryd van die lewe verloor het. Terwyl die proeftydperk voortgeduur het, was hulle deur Satan se misleidings verblind en hulle het hul sondige weg geregverdig. Die rykes was trots op hul meerderwaardigheid teenoor diegene wat minder bevoorreg is; maar hulle het hul rykdom verkry deur die wet van God te oortree. Hulle het nagelaat om die hongeriges te voed, die naaktes te klee, om regverdig te handel en barmhartigheid lief te hê. Hulle het gepoog om hulself te verhef en die hulde van hulle medemens te verkry. Nou is hulle van alles wat hulle groot gemaak het gestroop en hulle is behoeftig en weerloos. Met verskrikking aanskou hulle die vernietiging van die afgode wat hulle bo hul Maker verkies het. Hulle het hul siele vir aardse rykdom en plesier verkoop en hulle het nie probeer om ryk aan God te word nie. Die gevolg is dat hulle lewens ‘n mislukking is; hulle plesier het nou galbitter geword en hulle skatte korrup. Die winste van ‘n leeftyd word binne ‘n oomblik uitgewis. Die rykes beween die vernietiging van hulle groot huise en die verstrooiing van hul goud en silwer. Maar hulle klaagliedere word deur die vrees dat hulle self saam met hulle afgode sal vergaan stilgemaak. GS 691.4
Die goddelose is met spyt vervul, maar nie weens hul sondige verwaarlosing van God en hul medemens nie, maar omdat God oorwin het. Hulle betreur die gevolge, maar het geen berou oor hul goddeloosheid nie. Hulle sou geen middel onbeproef gelaat het om te oorwin as hulle kon nie. GS 692.1
Die wêreld sien nou dat die mense wat hulle bespot en gehoon het en wat hulle wou uitroei, ongedeerd te midde van pes, storm en aardbewing is. Hy wat vir die oortreders van Sy wet ‘n verterende vuur is, is vir Sy volk ‘n veilige vestig. GS 692.2
Die predikant wat die waarheid vir die guns van mense versaak het, onderskei nou die aard en invloed van sy leringe. Dit is duidelik dat die alwetende Oog hom gevolg het waar hy op die kansel gestaan het, in die strate rondgestap het en met mense in die verskillende tonele van die lewe gemeng het. Elke emosie van die siel, elke reël wat geskryf is, elke woord wat geuiter is, elke daad wat mense in ‘n toevlug van valsheid gerusgestel het, was soos saad wat gesaai is; en nou, in die ellendige verlore siele rondom hom, sien hy die oes. GS 692.3
Die Here sê: “Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie.” (Jer 8:11). “Omdat julle met leuens die hart van die regverdige droewig gemaak het — terwyl Ek hom geen smart aangedoen het nie — en die hande van die goddelose versterk het, dat hy van sy slegte weg nie sou terugkeer, om hom in die lewe te hou nie — daarom sal julle geen bedrieglike gesigte meer sien en geen waarsêery meer drywe nie.” (Eseg 13:22,23). GS 693.1
“Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom ... Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge ... Huil, o herders, en skreeu en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag te word en Ek sal julle verbrysel en julle sal val soos ‘n kosbare voorwerp. Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde nie.” (Jer 23:1,2;25:34,35). GS 693.2
Predikante en mense besef dat hulle nie die regte verhouding met God gehandhaaf het nie. Hulle sien dat hulle teen die Outeur van alle regverdige wette in opstand gekom het. Die tersydestelling van die Goddelike voorskrifte het aanleiding gegee tot duisende bronne van boosheid, onenigheid, haat en ongeregtigheid, totdat die aarde een groot veld van stryd en een poel van korrupsie geword het. Dit is wat diegene wat die waarheid verwerp en gekies het om dwaling te koester, nou aanskou. Geen taal kan die verlange beskryf wat die ongehoorsames en ontroues voel vir dit wat hulle vir ewig verbeur het nie, naamlik die ewige lewe. Mense wat weens hul talente en welsprekendheid deur die wêreld aanbid is, sien hierdie dinge nou in hul ware lig. Hulle besef nou wat hulle deur oortreding verbeur het en val aan die voete van diegene wie se getrouheid hulle verag en bespot het en bely dat God hulle liefgehad het. GS 693.3
Die mense besef dat hulle bedrieg was. Hulle beskuldig mekaar dat hulle hul tot ondergang gelei het; maar almal verenig om hul bitterste veroordeling op die predikante te werp. Ontroue predikante het strelende dinge geprofeteer; hulle het hul toehoorders daartoe gelei om die wet van God tot niet te maak en diegene wat dit wou heilig, te vervolg. Nou, in hul wanhoop, bely hierdie leraars voor die wêreld hul werk van misleiding. Die skare is met woede vervul. “Ons is verlore...” roep hulle, “...en julle is die oorsaak van ons ondergang;” en dan val hulle die valse herders aan. Diegene wat hulle eens bewonder het, sal die verskriklikste vloeke oor hulle uitspreek. Dieselfde hande wat hulle eens met louere gekroon het, sal opgehef word om hulle te vernietig. Die swaarde wat die volk van God moes doodmaak, word nou gebruik om hul vyande te vernietig. Oral is daar stryd en bloedvergieting. GS 694.1
“Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die Here het ‘n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose — aan die swaard het Hy hulle oorgegee.” (Jer 25:31). Sesduisend jaar lank het die groot stryd gewoed; die Seun van God en Sy hemelse boodskappers het die stryd teen die Bose gevoer om die mensekinders te waarsku, te verlig en te red. Nou het almal hul besluite geneem; die goddelose het ten volle met Satan in sy oorlogvoering teen God verenig. Die tyd het aangebreek dat God die gesag van sy vertrapte wet moet bevestig. Die stryd is nou nie alleen met Satan nie, maar met die mense. “Die Here het ‘n twis met die nasies.” Hy sal hulle aan die swaard oorgee. GS 694.2
Die teken van bevryding is op diegene “...wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word...” geplaas. (Eseg 9:4). Die doodsengel gaan nou uit, soos in Esegiël se visioen verteenwoordig, as manne met wapens aan wie die opdrag gegee is: “Slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie en begin by My heiligdom.” (Eseg 9:6). Die profeet sê, “Hulle het begin by die manne, die oudstes wat voor die huis was.” Die vernietigingswerk begin onder diegene wat beweer het dat hulle die geestelike voogde van die volk was. Hierdie valse wagters val eerste. Daar is niemand om hulle te bejammer of te ontsien nie. Mans, vroue, meisies en klein kindertjies vergaan almal saam. GS 694.3
“Die Here sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.” (Jes 26:21). “Dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander.” (Sag 14:12,13). In die waansinnige stryd van hul eie, heftige hartstogte en deur die skrikwekkende uitstorting van God se ongetemperde toorn, val die goddelose aardbewoners — priesters, owerstes en mense, ryk en arm, hoog en laag. “Die wat deur die Here verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie.” (Jer 25:33). GS 695.1
Met die koms van Christus word die goddelose oor die ganse aarde uitgedelg — verteer deur die asem van Sy mond en verdelg deur die glans van Sy heerlikheid. Christus neem Sy volk na die Stad van God en die aarde word leeggemaak van sy inwoners. “Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners ... Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek ... Want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde, en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor.” (Jes 24:1,3,5,6). GS 695.2
Die hele aarde is soos ‘n verlate woestyn. Die ruïnes van stede en dorpe wat deur die aardbewing verwoes is, bome wat ontwortel is, ruwe rotse wat deur die see uitgewerp is, of uit die aarde self geskeur is, is oor die oppervlak versprei, terwyl groot openinge die plek aantoon waar berge hut hul fondamente geruk is. GS 696.1
Die gebeure wat die plegtige diens van die Versoendag voorafgeskadu het vind nou plaas. Toe die bediening in die Allerheiligste afgehandel was en die sondes van Israel uit die heiligdom deur die bloed van die sondoffer verwyder is, is die sondebok lewendig voor die aangesig van die Here gebring en in die aanwesigheid van die vergadering het die hoëpriester al die “...ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees.” op die kop van die bok gelê. (Lev 16:21). Op dieselfde wyse, wanneer die versoeningswerk in die hemelse heiligdom voltooi is, sal die sondes van God se volk op Satan geplaas word in die teenwoordigheid van God en hemelse engele en die leërskare van die verlostes; hy sal van al die boosheid waartoe hy die mense verlei het skuldig verklaar word. En soos die sondebok na ‘n onbewoonde land weggevoer is, sal Satan na die verlate aarde, ‘n verlate en somber wildernis, verban word. GS 696.2
Die openbaarder voorspel die verbanning van Satan en die toestand van chaos en verlatenheid waarin die aarde omskep sal word en hy verklaar dat hierdie toestand vir ‘n duisend jaar sal voortduur. Nadat hy die wederkoms van die Here en die vernietiging van die goddelose beskryf het, sê hy: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan vir ‘n kort tydjie ontbind word.” (Openb 20:1-3). GS 696.3
Dat die uitdrukking “afgrond” die aarde in ‘n toestand van verwarring en duisternis voorstel, blyk uit ander geskrifte. Oor die toestand van die aarde “In die begin...”, sê die Bybel: “Die aarde was woes en leeg en duisternis was op die wêreldvloed.” (Gen1:2). (Die Hebreeuse woord wat hier as “wêreldvloed” vertaal is, is in die Septuagint (Griekse) vertaling van die Hebreeuse Ou Testament weergegee deur dieselfde woord wat in Openbaring 20:1-3 as “afgrond” vertaal is). Profesie leer dat die aarde, ten minste gedeeltelik, weer na hierdie toestand teruggebring sal word. Die profeet Jeremia wat hierdie groot dag van die Here vooruit gesien het, het gesê: “Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel en sy lig was daar nie. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe en al die heuwels het geskud. Ek het gekyk en daar was geen mens nie en al die voëls van die hemel het weggevlieg. Ek het gekyk en die land van tuine was ‘n woestyn en al sy stede was afgebreek.” (Jer 4:23-26). GS 697.1
Dit sal die tuiste van Satan met sy bose engele vir ‘n duisend jaar lank wees. Beperk tot die aarde, sal hy nie toegang tot die ander wêrelde hê om diegene wat nog nooit in die sonde geval het, te versoek en lastig te val nie. Dit is in hierdie sin dat hy gebind word: daar is niemand oor op wie hy sy mag kan uitoefen nie. Hy is heeltemal afgesny van sy werk van misleiding en vernietiging wat vir soveel eeue sy enigste vreugde was. GS 697.2
Die profeet Jesaja, wat die tyd van Satan se omverwerping vooruitgesien het, het uitgeroep: “Hoe het jy uit die hemel geval, o mórester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel ... my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangene nie losgelaat het huis toe nie?” (Jes 14:12-17). GS 697.3
Vir sesduisend jaar het Satan se rebellie die aarde laat sidder. Hy het “...die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes.” En hy het nie die gevangenes “...losgelaat huis toe nie.” Vir sesduisend jaar het hy die volk van God gevange geneem en hy sou hulle vir ewig gevange gehou het as dit nie was dat Christus sy bande verbreek en die gevangenes vrygestel het nie. GS 698.1
Selfs die goddelose is nou buite bereik van die mag Satan geplaas en saam met sy bose engele bly hy alleen agter om die effek van die vloek wat sonde gebring het te besef. “Die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis [die graf]; maar jy is gewerp, ver van jou graf, soos ‘n afskuwelike uitspruitsel ... Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood.” (Jes 14:18-20). GS 698.2
Duisend jaar lank sal Satan heen en weer op die verlate aarde ronddwaal om die gevolge van sy opstand teen die wet van God te aanskou. Gedurende hierdie tyd is sy lyding intens. Sedert sy val, het sy lewe van onophoudelike bedrywigheid hom geen kans vir bepeinsing gegee nie; maar nou is sy mag ontneem en hy word alleen gelaat om te besin oor sy werk sedert hy teen die regering van die hemel in opstand gekom het en met vrees en bewing die ontsettende toekoms wanneer hy vir al die boosheid wat hy verrig het sal moet ly en vir die sondes wat hy veroorsaak het gestraf sal word. GS 698.3
Vir die volk van God sal die gevangenskap van Satan blydskap en vreugde bring. Die profeet sê: “Op die dag as die Here jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het, dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel [verteenwoordig deur Satan] en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking! Die Here het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers, wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met ‘n agtervolging sonder verskoning” (Jes 14:3-6). GS 698.4
Gedurende die duisend jaar tussen die eerste en die tweede opstanding, vind die oordeel van die goddelose plaas. Die apostel Paulus verwys na hierdie oordeel as ‘n gebeurtenis wat op die tweede koms volg. “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak.” (1 Kor 4:5). Daniël verklaar dat “...aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is...” toe die Oue van dae gekom het. (Dan 7:22). Gedurende hierdie tyd regeer die regverdiges soos konings en priesters van God. In Openbaring sê Johannes: “Ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee ... Hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” (Openb 20:4,6). Dit is in hierdie tyd, soos deur Paulus voorspel is, “...dat die heiliges die wêreld sal oordeel.” (1 Kor 6:2,3). Saam met Christus oordeel hulle die goddelose, vergelyk hulle hul dade met die wetboek, die Bybel en beslis elke saak volgens die dade wat in die liggaam geskied het. Dan sal die deel wat die goddelose moet ly, volgens hul werke toegeken word; en dit sal teenoor hulle name in die boek van die dood opgeteken word. GS 699.1
Ook Satan en die bose engele word deur Christus en sy volk geoordeel. Paulus sê: “Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie?” (1 Kor 6:3). En Judas sê dat “...die engele wat hulle eie beginsel nie bewaar het nie, maar hulle eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar.” (Judas 6). GS 699.2
Aan die einde van die duisend jaar sal die tweede opstanding plaasvind. Dan sal die goddelose uit die dood opgewek word en voor die aangesig van God verskyn vir die voltrekking van hulle vonnis. Daarom sê die openbaarder, nadat hy die opstanding van die regverdiges beskryf het: “Die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Openb 20:5). En aangaande die goddelose verklaar Jesaja: “Hulle sal opgesluit word soos gevangene opgesluit word in ‘n kuil, en bewaar word in ‘n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.” (Jes 24:22). GS 699.3