Die Groot Stryd (1911)

42/44

Hoofstuk 40—God se Volk Verlos

Wanneer die beskerming van menslike wette van diegene wat die wet van God eer onttrek word, sal daar in verskillende lande ‘n gelyktydige beweging vir hul vernietiging wees. Namate die tyd van die dekreet nader, sal die mense saamsweer om die gehate sekte met wortel en tak uit te roei. Daar sal besluit word om in een nag ‘n beslissende slag te slaan wat die stem van afkeur en teregwysing vir ewig sal stilmaak. GS 672.1

Die volk van God, sommige in tronkselle en ander in eensame skuilplekke in die woude en berge versteek, sal steeds om Goddelike beskerming pleit, terwyl gewapende manne in elke kwartier, deur ‘n leërskare van bose engele aangehits, hulle voorberei vir die werk van vernietiging. Dit is nou, in die uur van uiterste nood, dat die God van Israel sal intree om Sy uitverkorenes te verlos. Die Here sê; “Die lied sal by julle wees soos in die nag as die fees gevier word en julle sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die Here, na die Steenrots van Israel. En die Here sal Sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van Sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ‘n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.” (Jes 30:29,30). GS 672.2

Met uitroepe van oorwinning, bespotting en verwensings is die skare van bose mense gereed om op hulle prooi af te storm, wanneer daar skielik ‘n digte duisternis, dieper as die donkerste nag, die aarde oorval. Daarna span daar ‘n reënboog deur die lug, wat skitter met die heerlikheid van die troon van God wat lyk asof dit elke biddende groep omring. Die bose skare word skielik gestuit. Hulle spottende krete sterf weg. Die voorwerpe van hul moordende woede word vergeet. Met vreesaanjaende voorgevoelens staar hulle na die simbool van die verbond van God en smag daarna om teen die oorweldigende helderheid daarvan beskerm te word. GS 672.3

Die volk van God hoor ‘n helder, melodieuse stem wat sê: “Kyk op...” en met hulle oë na die hemel opgehef, sien hulle die boog van belofte. Die swart, dreigende wolke wat die uitspansel bedek het, het verdwyn en soos Stefanus kyk hulle standvastig op na die hemel en sien die heerlikheid van God en die Seun van die mens op Sy troon sit. In Sy Goddelike vorm sien hulle die tekens van Sy vernedering; en van Sy lippe hoor hulle die versoek voor Sy Vader en die heilige engele: “Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” (Joh 17:24). Weer word ‘n stem gehoor, musikaal en triomfantlik, wat sê: “Hulle kom! Hulle kom! Heilig, onskuldig en onbesoedeld. Hulle het die woord van My lydsaamheid bewaar; hulle sal onder die engele wandel;” en die bleek, bewende lippe van diegene wat aan hulle geloof vasgehou het, hef ‘n oorwinningskreet aan. GS 673.1

Dit is middernag wanneer God Sy krag vir die bevryding van Sy volk openbaar. Die son verskyn en skyn in sy volle krag. Tekens en wonders volg vinnig opmekaar. Die goddelose kyk met verskrikking en verwondering na die toneel, terwyl die regverdiges die tekens van hul bevryding met plegtige blydskap aanskou. Alles in die natuur blyk ontwrig te wees. Die strome hou op om te vloei. Donker, swaar wolke kom op en bots teen mekaar. Maar te midde van die onstuimige hemele is daar een helder opening van onbeskryflike heerlikheid, waaruit die stem van God soos die geraas van baie waters gehoor word, wat sê: “Dit is verby!” (Openb 16:17). GS 673.2

Daardie stem skud die hemele en die aarde. Daar is ‘n magtige aardbewing “...soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie — so ‘n geweldige groot aardbewing.” (Openb 16:18). Dit lyk of die uitspansel oop en toe gaan en asof die heerlikheid van die troon van God daardeur flits. Die berge skud soos ‘n riet in die wind en ruwe rotse lê aan alle kante verstrooi. Daar word ‘n gedreun soos van ‘n dreigende storm gehoor. Die see bruis verwoed. Die gedruis van ‘n orkaan word gehoor soos die stemme van demone op ‘n missie van vernietiging. Die hele aarde styg en swel soos die golwe van die see. Die oppervlak daarvan breek op. Dit lyk asof die fondamente daarvan meegee. Bergreekse sak weg. Bewoonde eilande verdwyn. Die hawestede wat soos Sodom weens hulle goddeloosheid geword het, word deur die verwoede waters verswelg. Die grote Babilon is voor God in gedagtenis gebring “...om haar te gee die beker van die wyn van die grimmigheid van Sy toorn.” (Openb 16:19). Groot haelstene omtrent die gewig van ‘n talent, doen hulle vernietigingswerk. (Openb 16:21.) Die trotsste stede van die aarde is laag gelê. Die majestueuse paleise waarop die groot manne van die wêreld hulle rykdom bestee het om hulleself te verheerlik, verbrokkel voor hulle oë. Gevangenismure word uitmekaar geruk en die volk van God wat daar in slawerny weens hulle geloof was, word vrygelaat. GS 673.3

Grafte word geopen “...en baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (Dan 12:2). Almal wat in geloof as gevolg van die boodskap van die derde engel gesterf het, kom verheerlik uit die graf om die vredesverbond van God met diegene wat Sy wet onderhou het te hoor. “Ook hulle wat Hom deursteek het...” diegene wat met Christus se sterwende sielsangs gespot en Hom uitgelag het en die vernaamste teenstanders van Sy waarheid en Sy volk was, word opgewek om Hom in Sy heerlikheid te aanskou en om die eer wat aan die lojale en gehoorsames toegedig word te aanskou. (Openb 1:7.) GS 674.1

Digte wolke bedek steeds die lug; tog breek die son nou en dan deur en dit lyk soos die wraaknemende oog van Jehova. Hewige blitse kom vanaf die hemel en omhul die aarde in vuurvlamme. Bokant die geweldige gedreun, verklaar stemme, geheimsinnig en skrikwekkend, die ondergang van die goddelose. Die woorde wat uitgespreek is word nie deur almal verstaan nie; maar dit word duidelik deur die valse leraars verstaan. Diegene wat ‘n ruk tevore nog so onverskillig, grootpraterig en uitdagend was, so opgewerk in hulle wreedheid teenoor die volk van God wat die gebooie bewaar het, is nou deur konsternasie oorweldig en sidder van vrees. Hulle angskrete word bo die gedreun van die elemente gehoor. Duiwels erken die Godheid van Christus en hulle bewe voor Sy mag, terwyl mense in die grootste verskrikking neerval en om genade smeek. GS 674.2

Toe hulle in ‘n heilige gesig die dag van God aanskou het, het die profete gesê: “Huil julle, want die dag van die Here is naby; Hy kom as ‘n verwoesting van die Almagtige.” (Jes 13:6). “Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van Sy majesteit ontwil. Die hoë oë van die mense sal verneder word en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die Here alleen sal in dié dag verhewe wees. Want ‘n dag is daar vir die Here van die leërskare oor al wat trots en hoog is en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word ... In dié dag sal die mens sy silwer afgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise; om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van Sy majesteit ontwil, as Hy Hom klaarmaak om die aarde te verskrik.” (Jes 2:10-12,20,21). GS 675.1

Deur ‘n skeuring in die wolke, skyn daar ‘n ster waarvan die skittering viervoudig in teenstelling met die duisternis verhoog is. Dit spreek van hoop en vreugde tot die gelowiges, maar van strengheid en toorn tot die oortreders van die wet van God. Diegene wat alles vir Christus opgeoffer het, is nou veilig, geborge in die skuilplek van die Here se tent. Hulle is getoets en voor die wêreld en die veragters van die waarheid het hulle hul getrouheid aan Hom wat vir hulle gesterf het betoon. ‘n Wonderbaarlike verandering het oor diegene gekom wat aan hul onkreukbaarheid in die aangesig van die dood vasgehou het. Hulle is skielik van die donker en die verskriklike tirannie van mense wat in demone verander het, verlos. Hulle aangesigte wat die afgelope tyd bleek, angstig en vervalle was, is nou gloeiend van verwondering, geloof en liefde. Hulle stemme styg op in ‘n triomfantlike lied: “God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid!” (Ps 46:2-4). GS 675.2

Terwyl hierdie woorde van heilige vertroue tot God opstyg, trek die wolke terug en die sterrehemel word gesien, onuitspreeklik heerlik in kontras met die swart en toornige uitspansel aan weerskante. Die heerlikheid van die hemelse stad stroom deur die half-oop poorte. Dan verskyn daar ‘n hand teen die lug met twee kliptafels wat saamgevou is. Die profeet het gesê: “Die hemele verkondig Sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel!” (Ps 50:6). Daardie heilige wet, die geregtigheid van God, wat te midde van donder en vlamme as lewensreël vanaf Sinai verkondig is, word nou aan die mense as die reël van oordeel geopenbaar. Die hand vou die tafels oop en die voorskrifte van die Dekaloog staan soos met ‘n pen van vuur geskryf. Die woorde is so duidelik dat almal dit kan lees. Dit word in herinnering geroep, die duisternis van bygeloof en dwaalleer word uit alle harte gevee en die tien woorde van God, kort, omvattend en gesaghebbend, word ter aanskoue van al aardbewoners geopenbaar. GS 676.1

Dit is onmoontlik om die afgryse en wanhoop van diegene wat die heilige gebooie van God vertrap het, te beskryf. Die Here het Sy wet aan hulle gegee; hulle kon hulle karakters daaraan getoets het en hul gebreke besef het terwyl daar geleentheid vir berou en hervorming was; maar om die guns van die wêreld te verseker, het hulle die voorskrifte daarvan verwerp en andere ook geleer om dit te oortree. Hulle het gepoog om die volk van God te dwing om Sy Sabbat te ontheilig. Nou word hulle deur die wet wat hulle verag het veroordeel. Met skrikwekkende onderskeiding besef hulle dat hulle sonder verskoning is. Hulle het gekies wie hulle wou dien en aanbid. “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Maleagi 3:18). GS 676.2

Die vyande van God se wet, van die predikante tot die minste onder hulle, het ‘n nuwe opvatting van waarheid en plig. Te laat sien hulle dat die Sabbat van die vierde gebod die seël van die lewende God is. Te laat besef hulle die ware aard van hul valse sabbat en die fondament van sand waarop hulle gebou het. Hulle vind dat hulle teen God geveg het. Godsdienstige leraars het siele na die verderf gelei terwyl hulle beweer het dat hulle hulle na die poorte van die Paradys te lei. Eers op die dag van finale afrekening sal dit bekend word hoe groot die verantwoordelikheid is van mense wat ‘n heilige amp beklee en hoe verskriklik die gevolge van hulle ontrouheid is. Eers in die ewigheid kan die verlies van een enkele siel na waarde geskat word. Vreeslik sal die ondergang wees van die aan wie God sal sê: “Gaan weg van My, jou bose dienskneg.” GS 677.1

Die stem van God word vanuit die hemel gehoor wat die dag en die uur van Jesus se koms aankondig en die ewige verbond aan Sy volk lewer. Soos die hardste donderslag dreun Sy woorde oor die aarde! Die Israel van God staan en luister met hulle oë na bo. Hulle voorkoms word met Sy heerlikheid verlig en skyn soos die aangesig van Moses toe hy van Sinai afgekom het. Die goddelose kan nie na hulle kyk nie. En wanneer die seën oor diegene uitgespreek word wat God vereer het deur Sy Sabbat te heilig, word daar ‘n magtige oorwinningskreet gehoor. GS 677.2

Spoedig verskyn daar in die ooste ‘n klein swart wolkie, ongeveer so groot soos die helfte van ‘n man se hand. Dit is die wolk wat die Verlosser omring en wat lyk asof dit in die verte in duisternis gehul is. Die volk van God weet dat dit die teken van die Seun van die mens is. In plegtige stilte kyk hulle daarna terwyl dit nader aan die aarde kom en steeds ligter en heerliker word totdat dit ‘n groot wit wolk is, die onderkant soos ‘n verterende vuur en bo-oor die reënboog van die verbond. Jesus ry voort soos ‘n magtige Oorwinnaar. Nou is Hy nie meer die “...man van smarte...” om die bitter beker van skande en wee te drink nie; Hy kom as Oorwinnaar van hemel en aarde om die lewende en die dode te oordeel. “Getrou en Waaragtig en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid ... En die leërs in die hemel het Hom gevolg.” (Openb 19:11,14). Met hemelse lofliedere vergesel die engele Hom, ‘n groot ontelbare leërskare. Die uitspansel lyk asof dit gevul is met stralende gedaantes tienduisend maal tienduisend en duisende van duisende. Geen menslike pen kan die toneel beskryf nie; geen sterflike verstand is in staat om die luisterrykheid te begryp nie. “Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van sy lof. En glans soos sonlig is daar.” (Hab 3:3,4). Namate die wolk steeds nader kom, sien elke oog die Vors van die lewe. Geen doringkroon skend nou sy heilige hoof nie, maar Hy dra ‘n kroon van heerlikheid. Sy voorkoms oortref die verblindende helderheid van die middagson. “En Hy het op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die Konings en die Here van die Here.” (Openb 19:16). GS 677.3

Voor sy aangesig “...is alle aangesigte in bleekheid verander” (Jer 30:6); op diegene wat die genade van God verwerp het, val die skrik van ewige wanhoop. “Die hart versmelt en knieë wankel ... en die aangesig van hulle almal word bleek.” (Nahum 2:10). Die regverdiges roep bewend uit: “Wie kan bestaan?” (Openb 6:17). Die engele se lied is stil en daar is ‘n tydperk van ontsaglike stilte. Dan word die stem van Jesus gehoor, wat sê: “My genade is vir jou genoeg.” (2 Kor 12:9). Die aangesigte van die regverdiges word verlig en vreugde vul elke hart. Die engele hef ‘n hoër noot aan en sing weer terwyl hulle steeds nader aan die aarde kom. GS 678.1

Die Koning van die konings daal neer op ‘n wolk, in vuurvlamme gehul. Die hemele word soos ‘n boek saamgerol, die aarde sidder voor Hom en elke berg en elke eiland word uit hul plekke verskuif. “Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor Sy aangesig en rondom Hom storm dit geweldig. Hy roep na die hemel daarbo en na die aarde, om Sy volk te oordeel.” (Ps 50:3,4). GS 678.2

“En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vry mense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge en vir die berge en die rotse gesê: ‘Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van Sy toorn het gekom en wie kan bestaan?’” (Openb 6:15-17). GS 679.1

Die smalende gespot het opgehou. Leuenagtige lippe is stil gemaak. Die gekletter van wapens en die rumoer van oorlog, “...met gedreun en die kleed wat in bloed gerol is...” is stil. (Jes 9:4). Niks word nou gehoor nie, behalwe stemme van gebed en die geluid van ‘n geween en klaagliedere. Vanuit die lippe wat so kort gelede nog gespot het, word die kreet gehoor: “Die groot dag van Sy toorn het gekom en wie kan bestaan?” (Openb 6:17). Die goddelose bid vir die rotse om hulle te bedek, eerder as om die aangesig van Hom wie hulle verag en verwerp het te sien. GS 679.2

Die stem wat selfs die ore van die dode deurdring, ken hulle. Hoe dikwels het daardie pleitende, sagte stem hulle nie tot bekering geroep nie! Hoe dikwels is dit in die aangrypende versoeke van ‘n vriend, ‘n broer, ‘n Verlosser gehoor! Vir die verwerpers van Sy genade is daar geen stem so vol veroordeling en so belaai met afkeur as die stem wat so lank met hulle gepleit het nie: “Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe.” (Eseg 33:11). O dat dit vir hulle die stem van ‘n vreemdeling was! Jesus sê: “Omdat ek geroep en julle geweier het, ek My hand uitgestrek en niemand geluister het nie; en julle al My raad nie opgevolg en van My teregwysing nie wou geweet het nie, daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom.” (Spr 1:24,25). Daardie stem wek herinneringe wat hulle sou wou uitwis — waarskuwings wat verag is, uitnodigings wat geweier is en voorregte wat geminag is. GS 679.3

Daar is diegene wat Christus in Sy vernedering bespot het. Met rillende krag kom die woorde van die Lydende nou in hul gedagtes op toe hy, deur die hoëpriester veroordeel, plegtig verklaar het: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matt. 26:64.) Nou sien hulle Hom in Sy heerlikheid en later sal hulle Hom aan die regterhand van Mag sien sit. GS 680.1

Diegene wat Sy aanspraak as die Seun van God bespot het, is nou sprakeloos. Daar is die hoogmoedige Herodes wat Sy koninklike titel gehoon en sy soldate gebied het om Hom as koning te kroon. Daar is die manne wat met goddelose hande die purper kleed op Hom geplaas het, die doringkroon op Sy heilige hoof geplaas het en in Sy weerlose hand die spottende septer geplaas het en met godslasterlike gespot voor Hom gebuig het. Die manne wat die Vors van die lewe geslaan en bespuug het, deins nou terug voor Sy deurdringende blik en probeer om van die oorweldigende heerlikheid van Sy teenwoordigheid weg te vlug. Diegene wat die spykers deur Sy hande en voete geslaan het en die soldate wat Hom in die sy gesteek het, sien hierdie tekens met verskrikking en verwyt raak. GS 680.2

Met die skrikwekkende helderheid herinner die priesters en owerstes hulself aan die tonele op Golgota. Met sidderende afgryse onthou hulle hoe hulle, terwyl hulle hul hoofde met sataniese vreugde geskud het, uitgeroep het: “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het.” (Mat 27:42,43). GS 680.3

Hulle herinner hulleself duidelik aan die Heilige se gelykenis van die landbouers wat geweier het om die vrug van die wingerd aan hul heer te lewer, wat sy diensknegte mishandel en sy seun gedood het. Hulle onthou ook die vonnis wat hulle self uitgespreek het, dat die eienaar van die wingerd “...sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe.” (Mat 21:41). In die sonde en straf van daardie ontroue mense erken die priesters en die ouderlinge hulle eie handelswyse en hul eie regverdige straf. En nou word daar ‘n kreet van sterwensangs gehoor. Luider as die uitroepe wat deur die strate van Jerusalem gehoor is, toe hulle uitgeroep het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”, weergalm ‘n wanhopige geweeklaag: “Hy is die Seun van God! Hy is die ware Messias!” Hulle wil van die teenwoordigheid van die Koning van konings vlug. Hulle poog vergeefs om in die diep skeure van die aarde, verbrysel deur die stryd van die elemente, weg te kruip. GS 680.4

In die lewens van almal wat die waarheid verwerp, is daar oomblikke wanneer die gewete aangewakker word en wanneer die geheue martelende herinneringe aan ‘n lewe van skynheiligheid oproep en die siel deur ydele spyt geteister word. Maar wat is dit in vergelyking met die berou oor die dag wanneer “...verskrikking kom soos ‘n onweer en julle ondergang soos ‘n stormwind!” (Spr 1:27). Diegene wat Christus en sy getroue volgelinge wou uitroei, getuig nou van die heerlikheid wat op hulle rus. Te midde van hulle verskrikking, hoor hulle die stemme van die heiliges wat met vreugde uitroep: “Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos.” (Jes 25:9). GS 681.1

Te midde van die waggelende aarde, die weerligstrale en die gedreun van donder, roep die stem van die Seun van God die slapende heiliges te voorskyn. Hy kyk na die grafte van die regverdiges en lig dan Sy hande na die hemel en roep: “Staan op, staan op, staan op, julle wat in die stof slaap, staan op!” Oor die lengte en breedte van die aarde sal die dode daardie stem hoor en die wat hoor, sal lewe. En oor die hele aarde sal die voetstappe van die groot skare uit alle nasies, geslagte, tale en volke gehoor word. Uit die gevangenis van die dood kom hulle met onsterflike heerlikheid beklee te voorskyn en roep: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor 15:55). Dan verenig die lewende regverdiges en die opgestane heiliges hul stemme in ‘n uitgerekte, blye oorwinningskreet. GS 681.2

Almal kom uit hulle grafte voort in dieselfde gestalte waarmee hulle gesterf het. Adam, wat ook onder die opgestane skare is, is lank van gestalte met ‘n majestueuse vorm, maar hy is kleiner as die Seun van God. Hy vorm ‘n treffende kontras met die mense van latere generasies; en hierin kan die groot ontaarding van die ras gesien word. Maar almal staan op in die lewenskragtigheid van ewige jeug. In die begin is die mens na die gelykenis van God geskape, nie net in karakter nie, maar ook in vorm en gelaatstrekke. Sonde het die goddelike beeld geskend en byna uitgewis; maar Christus het gekom om te herstel wat verlore was. Hy sal ons vernederde liggame verander om gelykvormig aan Sy verheerlikte liggaam te word. GS 682.1

Die sterflike, verganklike vorm, wat van alle skoonheid ontneem en eens deur sonde besoedel was, word volmaak, heerlik en onsterflik. Alle letsels en gebreke word in die graf agtergelaat. Die verlostes sal herstel word na die boom van die lewe in die verlore Eden en sal tot die volle statuur van die ras in sy oeroue heerlikheid groei. Die laaste spore van die vloek van die sonde sal verwyder word en die getroues van Christus sal in die “...lieflikheid van die Here onse God...” verskyn en verstandelik, geestelik en liggaamlik sal hulle die volmaakte ewebeeld van hul Here weerspieël. O wonderbare verlossing! Lank oor gepraat, lank op gehoop, met gretige afwagting bedink, maar nooit ten volle begryp nie! GS 682.2

Die lewende regverdiges word “...in ‘n oomblik, in ‘n oogwink...” verander (1 Kor 15:52). Deur die bevel van God word hulle verheerlik; nou is hulle onsterflik en saam met die opgestane heiliges word hulle opgeneem, die Here tegemoet in die lug (1 Thes.4:17). Engele versamel die uitverkorenes “...uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” (Matt 24:31). Klein kindertjies word deur heilige engele na hulle moeders se arms gedra. Vriende wat lank deur die dood geskei was, word herenig om nooit weer te skei nie en met vreugdevolle liedere vaar hulle saam op na die Stad van God. GS 682.3

Aan weerskante van die wa van wolke is daar vlerke en onderaan lewende wiele; en as die wa opwaarts styg, roep die wiele uit, “Heilig,” en terwyl die vlerke beweeg, roep hulle ook uit, “Heilig” en die gevolg van engele roep: “Heilig, heilig, heilig, Here God Almagtig.” (Openb 4:8). En die verlostes roep uit: “Halleluja!” terwyl die wa na die Nuwe Jerusalem voortbeweeg. GS 683.1

Voordat die Heiland die stad van God binnegaan, skenk Hy aan Sy volgelinge die embleme van oorwinning en Hy beklee hulle met die kentekens van hulle koninklike status. Die glinsterende geledere is in die vorm van ‘n vierkant rondom hulle Koning opgestel, wie se gestalte in majesteit hoog bo heiliges en engele uitstyg en sy aangesig vol sagmoedige liefde oor hulle skyn. Die blik van die ontelbare leërskare van verlostes is op Hom gerig en elke oog sien die heerlikheid van Hom van wie gesê is: “So misvormd was Sy voorkomste, geen mens meer nie en Sy gestalte was nie soos die van ‘n mensekind nie.” (Jes 52:14). Op die hoofde van die oorwinnaars plaas Jesus met Sy eie regterhand die kroon van heerlikheid. Vir elkeen is daar ‘n kroon met sy eie “nuwe naam” (Openb 2:17) en die opskrif, “Heilig aan die Here.” (Eks 39:30). In elke hand word die oorwinnaarspalm en ‘n glinsterende harp geplaas. Dan, wanneer die bevelvoerende engele die toon aangee, speel elke hand die stringe van die harp met ‘n behendige aanraking, ontwakende, soet musiek in ryk, melodieuse klanke. Elke hart word in onuitspreeklike verrukking meegevoer en elke stem word met dankbare lof opgehef: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in Sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir Sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.” (Openb 1:5,6). GS 683.2

Die Heilige Stad is voor die verloste menigte. Jesus maak die poorte van pêrel wyd oop en die nasies wat die waarheid bewaar het, gaan binne. Daar sien hulle die paradys van God, die tuiste van Adam in sy onskuld. Dan word daardie stem, ryker as enige musiek wat ooit op ‘n sterflike oor geval het, gehoor: “Julle konflik is beëindig.” “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle toeberei is van die grondlegging van die wêreld af.” (Matt 25:34). GS 683.3

Nou is die Verlosser se gebed vir Sy dissipels, vervul: “Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” (Joh 17:24). Christus stel diegene wat Hy met Sy bloed gekoop het, aan Sy Vader voor “...sonder gebrek voor Sy heerlikheid met gejuig...” terwyl Hy sê: “Hier is Ek en die kinders wat U My gegee het ... Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak.” (Joh.17:12). O, die wonders van verlossende liefde! Die verrukking van daardie uur wanneer die ewige Vader die verlostes aanskou en Sy beeld in hulle sal sien, wanneer die wanklanke van sonde verban is, die verderf daarvan verwyder en die mens weer in harmonie met die Goddelike verkeer! GS 684.1

Met onuitspreeklike liefde verwelkom Jesus Sy getroue kinders in die vreugde van hulle Here. Die Heiland se vreugde is om in die koninkryk van heerlikheid, die siele wat deur Sy pyn en vernedering verlos is, te sien. En die verlostes sal deel in Sy vreugde wanneer hulle, onder die verlostes, diegene sien wat deur hulle gebede, hulle arbeid en liefdevolle opoffering, vir Christus gewen is. Terwyl hulle om die groot wit troon bymekaarkom, sal onuitspreeklike blydskap hulle harte vul wanneer hulle diegene wat hulle vir Christus gewen het sien en sien hoedat hulle ander gewen het en deur hulle weer ander, almal na die hawe van rus gebring en daar hul krone aan Jesus se voete neerlê en Hom deur die eindelose siklusse van die ewigheid loof. GS 684.2

Soos die verlostes in die Stad van God verwelkom word, klink daar jubelende aanbidding in die lug op. Die twee Adams is op die punt om mekaar te ontmoet. Die Seun van God staan met uitgestrekte arms om die vader van ons geslag te ontvang — die wese wat Hy geskape het, wat teen sy Maker gesondig het en vir wie se sonde die tekens van die kruisiging deur die Heiland gedra word. Wanneer Adam die merktekens van die wrede spykers sien, val hy nie sy Here om die hals nie, maar werp homself in vernedering aan Sy voete neer, terwyl hy uitroep: “Waardig, waardig is die Lam wat geslag is!” Met deernis rig die Heiland hom op en gebied hom om weereens die Eden-tuiste waaruit hy so lank verban was te aanskou. GS 684.3

Na sy uitsetting uit Eden, was Adam se lewe op die aarde met droefheid gevul. Elke sterwende blaar, elke slagoffer wat geslag is, elke smet op die mooi gesig van die natuur, elke vlek op die reinheid van die mens, het hom opnuut aan sy sonde herinner. Die sieleangs van berou was verskriklik toe hy die ongeregtigheid oorvloedig sien toeneem het en, in antwoord op sy waarskuwings, die verwyte wat op hom gewerp is as die oorsaak van die sonde, tegemoetkom. Met geduldige nederigheid het hy vir byna ‘n duisend jaar die straf van oortreding gedra. Getrou het hy berou oor sy sonde gehad en in vertroue in die verdienste van die beloofde Verlosser, het hy met die hoop van ‘n opstanding gesterf. Die Seun van God het verlossing vir die mislukking en die val van die mens gebring; en nou, deur die werk van versoening, is Adam weer tot sy vorige heerskappy herstel. GS 685.1

In vervoering met blydskap, sien hy die bome wat eens sy vreugde was — dieselfde bome waarvan hy die vrugte in die dae van sy onskuld en vreugde versamel het. Hy sien die wingerde wat hy met sy eie hande bewerk het en dieselfde blomme wat hy met liefde versorg het. Sy gedagtes neem die werklikheid van die toneel in; hy begryp dat dit inderdaad Eden is wat gerestoureer is, nou liefliker as toe hy daaruit verban is. Die Heiland lei hom na die boom van die lewe, pluk van die heerlike vrugte en gebied hom om te eet. Hy kyk om hom heen en sien ‘n groot menigte van sy gesin wat verlos is, in die paradys van God staan. Dan gooi hy sy glinsterende kroon voor die voete van Jesus en omhels sy Verlosser. Hy raak aan die goue harp en deur die gewelf van die hemel weerklink die triomfantlike lied: “Waardig, waardig, waardig, is die Lam wat geslag is en weer lewe!” Die gesin van Adam neem die noot op en werp hul krone aan die Heiland se voete terwyl hulle in aanbidding voor Hom neerbuig. GS 685.2

Die engele wat oor die val van Adam getreur het en hulle verheug het toe Jesus na Sy opstanding na die hemel opgevaar het en die graf vir almal wat in Sy naam geglo het geopen het, getuig van hierdie hereniging. Nou sien hulle die verlossingswerk volbring en verenig hul stemme in die loflied. GS 686.1

Op die see van kristal voor die troon, die see van glas soos met vuur vermeng, so luisterryk is dit met die heerlikheid van God, is die skare vergader wat “...die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam...” is. “...die Lam staan op die berg Sion en saam met Hom honderdvier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.” En daar is “...'n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van ‘n harde donderslag... ” en die geluid “...van siterspelers wat speel op hulle siters. En hulle het ‘n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-enveertigduisend wat van die aarde vrygekoop is. Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.” (Openb. 14:1-5). Hierdie mense, wat van die lewendes op die aarde opgeneem is, word beskou as die “...eerstelinge vir God en die Lam.” (Openb 15:2,3). “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom.” Hulle het die tyd van benoudheid soos daar nie was vandat daar ‘n volk was nie ervaar; hulle het die angs van die tyd van die benoudheid van Jakob verduur; en tydens die uitstorting van die oordele van God op die aarde het hulle sonder ‘n Middelaar gestaan. Maar hulle is verlos want hulle het “...hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” (Openb. 7:14). “In hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.” (Openb.14:5). “Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan.” (Openb.7:15). Hulle het gesien hoe die aarde deur hongersnood en pessiektes wegkwyn, hoe die son die mense met groot hitte geskroei het en hulle het self lyding, honger en dors verduur. Maar “...hulle sal nie meer honger en meer dors hê nie en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei en God sal alle trane van hulle oë afvee.” (Openb 7:16,17). GS 686.2

Die uitverkorenes van die Heiland is in alle eeue in die skool van beproewing opgelei en gedissiplineer. Hulle het die smal pad op die aarde bewandel; hulle is in die smeltkroes van beproewing gelouter. Ter wille van Jesus het hulle teëstand, haat en smaad verduur. Hulle het Hom deur heftige konflik gevolg; hulle het selfverloëning en bitter teleurstellings verduur. Deur hul eie pynlike ervaring, het hulle die boosheid van sonde, die krag, die skuld en die wee daarvan leer ken en dit met afgryse aanskou. ‘n Besef van die oneindige offer vir die genesing daarvan het hulle nederig in hul eie oë gemaak en hul harte met dankbaarheid en lof gevul, wat nooit deur diegene wat nog nooit geval het nie, waardeer kan word nie. Hulle het baie liefde, omdat hulle baie vergeef is. Omdat hulle deel gehad het aan Christus se lyding, is hulle geskik om saam met Hom in Sy Heerlikheid te deel. GS 687.1

Die erfgename van God het uit solders, hole, kerkers, skavotte, berge, woestyne en die grotte van die aarde gekom. Op die aarde was hulle behoeftig, geteister en mishandel. Miljoene is met hoon na die graf omdat hulle onwrikbaar geweier het om aan die misleidende aansprake van Satan toe te gee. In menslike tribunale is hulle as die laagste misdadigers veroordeel. Maar nou staan God “...gereed om te oordeel!” (Ps 50:6). Nou word die besluite van die aarde omgekeer. “Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem.” (Jes 25:8). “Hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die Here.” (Jes 62:12) Hy het beskik dat aan hulle “...sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees...” gegee sal word. (Jes 61:3.) Hulle is nie meer swak, geteister, verstrooi en verdruk nie. Voortaan sal hulle altyd by die Here wees. Hulle staan voor die troon, geklee in ryker gewaad as wat die mees geëerdes van die aarde nog ooit gedra het. Hulle word bekroon met glansryker krone as wat nog ooit op die hoof van aardse konings geplaas is. Die dae van pyn en geween is vir ewig beëindig. Die Koning van heerlikheid het die trane van alle gesigte afgevee; elke oorsaak van hartseer is verwyder. Te midde van die waai van palmtakke, hef hulle ‘n loflied aan, helder, soet en harmonieus; elke stem neem die noot op, totdat die loflied deur die gewelf van die hemel uitswel: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” En al die bewoners van die hemel reageer op die loflied: “Amen: Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid!” (Openb 7:10,12). GS 687.2

In hierdie lewe kan ons net begin om die wonderlike tema van verlossing te verstaan. Met ons beperkte begrip, kan ons die skande en die heerlikheid, die lewe en die dood, die geregtigheid en genade, wat by die kruis ontmoet, oorweeg; maar, met die grootste mate van ons verstandelike kragte, kan ons nooit die volle betekenis daarvan begryp nie. Die lengte en die breedte en die diepte en die hoogte van die verlossende liefde, word maar dofweg begryp. Die verlossingsplan sal nie ten volle begryp word nie, selfs nie as die verlostes kan sien soos hulle gesien word en ken soos hulle geken word nie; maar deur die ewige eeue sal nuwe waarhede voortdurend voor die verwonderde en verheugde gees ontvou. Alhoewel die droefheid en pyn en versoekings van die aarde beëindig en die oorsake verwyder word, sal die volk van God altyd ‘n duidelike, intelligente kennis hê van wat hulle verlossing gekos het. GS 688.1

Die kruis van Christus sal die wetenskap en lied van die verlostes tot in ewigheid wees. In Christus verheerlik, sal hulle Christus gekruisig aanskou. Nooit sal daar vergeet word dat Hy, deur wie se mag die ontelbare wêrelde geskape en deur die uitgestrekte ruimtes in stand gehou word, die Geliefde van God, die Majesteit van die hemel, wat graag deur gerubs en glansende serafs aanbid word, Homself verneder het om die gevalle mens op te hef nie; dat Hy die skuld en die skande van sonde, wat Sy Vader se aangesig vir Hom verberg het, verduur het, totdat die ellendes van ‘n verlore wêreld Sy hart gebreek en Sy lewe aan die kruis van Golgota verpletter het. Dat die Skepper van al die wêrelde, die Beskikker van alle lotgevalle, Sy heerlikheid afgelê en Homself uit liefde vir die mens verneder het, sal die wonder en die aanbidding van die heelal vir ewig ontlok. Wanneer die nasies van die verlostes hul Verlosser aanskou en die ewige heerlikheid van die Vader op sy gelaat aanskou; wanneer hulle Sy troon wat van ewigheid tot ewigheid bestaan aanskou en weet dat Sy koninkryk geen einde het nie, hef hulle ‘n verruklike lied aan: “Waardig, waardig is die Lam wat geslag is en wat ons verlos het deur Sy eie dierbare bloed!” GS 688.2

Die verborgenheid van die kruis verklaar alle ander verborgenhede. In die lig wat vanaf Golgota straal, is die eienskappe van God wat ons eers met vrees en ontsag vervul het, lieflik en aantreklik. Daar word gesien dat genade, teerheid en ouerlike liefde met heiligheid, geregtigheid en krag saamsmelt. Terwyl ons die majesteit van Sy troon, wat hoog en verhewe is aanskou, sien ons Sy karakter in Sy genadige manifestasies en ons besef soos nooit tevore nie, die betekenis van daardie dierbare Naam: “Onse Vader.” GS 689.1

Daar sal gesien word dat Hy wat oneindig in wysheid is, geen ander plan vir ons redding kon beraam nie, behalwe deur die offer van Sy Seun. Die vergoeding vir hierdie offer is die vreugde om die aarde met verloste wesens te bevolk, heilig, gelukkig en onsterflik. Die resultaat van die redding van die Heiland van die magte van die duisternis, is vreugde vir die verlostes wat deur die ewigheid tot die heerlikheid van God strek. En dit is die waarde van ‘n siel, dat die Vader tevrede is met die prys wat betaal is; en Christus self, wat die vrugte van Sy groot offer aanskou, is tevrede. GS 689.2