Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 42—Die Stryd beëindig
Aan die einde van die duisend jaar keer Christus weer na die aarde terug. Hy word vergesel van ‘n leërskare van verlostes en deur ‘n gevolg van engele bygewoon. Terwyl Hy met grootse Majesteit neerdaal, gebied Hy die goddelose ontslapenes om om hul lot te ontvang. Hulle kom uit, ‘n magtige leërskare, ontelbaar soos die sand aan die see. Wat ‘n kontras met diegene wat in die eerste opstanding opgewek is! Die regverdiges was met ewige jeug en skoonheid beklee. Die goddelose dra die spore van siektes en dood. GS 701.1
Elke oog in daardie groot menigte is op die heerlikheid van die Seun van God gerig. Met een stem roep die goddelose leërskare uit: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Luk. 13:35) Dit is nie liefde vir Jesus wat hierdie uitlating inspireer nie. Die krag van die waarheid dwing die woorde uit onwillige lippe. Net soos die goddelose in hulle grafte neergedaal het, kom hulle uit, met dieselfde vyandigheid teenoor Christus en dieselfde opstandige gees. Vir hulle is daar geen nuwe proeftydperk om die gebreke in hul vorige lewens reg te stel nie. Niks sou hierdeur bereik word nie. ‘n Leeftyd van oortreding het hul harte nie versag nie. ‘n Tweede proeftydperk sou, indien dit aan hulle geskenk was, net soos die eerste, beset word om die vereistes van God te ontduik en opstand teen Hom aan te hits. GS 701.2
Christus daal op die Olyfberg neer waarvandaan Hy ná Sy opstanding opgevaar het en waar die engele die belofte van Sy wederkoms herhaal het. Die profeet sê: “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U ... In dié dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word ... tot ‘n baie groot dal ... en die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees en sy Naam een.” (Sag. 14:5,4,9). Wanneer die Nuwe Jerusalem in sy skitterende prag uit die hemel neerdaal, sal dit op die plek wat vir die ontvangs daarvoor gereinig en gereed gemaak is, tot rus kom en Christus met Sy volk en die engele sal die heilige stad binnegaan. GS 701.3
Dan sal Satan hom vir die laaste magtige stryd om oppergesag voorberei. Terwyl hy van sy mag ontneem was en van sy bedrieglike werk afgesny was, was die vors van die bose ellendig en verslae; maar wanneer die goddelose dode opgewek word en hy die groot menigte aan sy kant sien, word sy hoop opgewek en hy besluit om nie die groot stryd gewonne te gee nie. Hy sal al die leërs van die verlorenes onder sy vaandel orden en deur hulle sal hy poog om sy planne uit te voer. Die goddelose is Satan se gevangenes. Deur Christus te verwerp, het hulle die heerskappy van die rebelleleier aanvaar. GS 702.1
Hulle is gereed om sy opdragte te ontvang en sy bevele uit te voer. Maar, getrou aan sy vroeëre slinksheid, erken hy homself nie as Satan nie. Hy beweer dat hy die prins is wat die regmatige eienaar van die wêreld is en wie se erfenis onwettig van hom weggeneem is. Hy stel hom aan sy misleide onderdane voor as ‘n verlosser en hy verseker hulle dat sy mag hulle uit hul grafte voortgebring het en dat hy op die punt staan om hulle van die wreedste tirannie te red. In die afwesigheid van Christus verrig Satan wonders om sy bewerings te staaf. Hy maak die swakkes sterk en besiel almal met sy eie gees en energie. Hy stel voor om hulle teen die kamp van die heiliges aan te voer en om die stad van God in besit te neem. Met sataniese vreugde wys hy na die ontelbare miljoene wat uit die dode opgewek is en hy verklaar dat hy, as hulle leier, meer as in staat is om die stad omver te werp en beide sy troon en sy koninkryk te herwin. GS 702.2
Onder daardie groot skare is daar menigtes van die langslewende ras wat voor die Sondvloed geleef het; manne van hoë gestalte en reuse intellek wat, onder die beheer van gevalle engele, al hulle vaardighede en kennis aan die verheffing van hulself gewy het; manne wie se wonderlike kunswerke daartoe gelei het dat die wêreld hul genialiteit verafgod het, maar wie se wreedheid en bose uitvindsels die aarde verontreinig en die beeld van God oneer aangedoen het en veroorsaak het dat God hulle voor die aangesig van Sy skepping uitgedelg het. Daar is konings en generaals wat nasies verower het, dapper manne wat nooit ‘n geveg verloor het nie, trotse, ambisieuse krygers, wie se nadering koninkryke laat sidder het. In die dood het hierdie mense geen verandering ondergaan nie. Wanneer hulle uit hul grafte uitkom, hervat hulle die stroom van hul gedagtes net daar waar dit opgehou het. Hulle word met dieselfde begeerte om te verower besiel soos toe hulle gesneuwel het. GS 702.3
Satan konsulteer met sy engele en daarna met hierdie konings en veroweraars en magtiges. Hulle kyk na die krag en menigtes aan hulle kant en verklaar dat die leër binne-in die stad klein is, vergeleke met hulle s'n en dat dit oorkom kan word. Hulle beraam planne om die rykdom en heerlikheid van die Nuwe Jerusalem in besit te neem. Almal begin dadelik om vir die geveg voor te berei. Vaardige ambagsmanne bou oorlogstuig. Mil itêre leiers, beroemd vir hulle sukses, organiseer die menigte in regimente en divisies. GS 703.1
Uiteindelik word die bevel gegee om voort te gaan en die ontelbare leërskare begin met hulle opmars — ‘n leër soos nog nooit deur aardse veroweraars opgeroep is, of wat deur die gesamentlike magte van alle eeue sedert die eerste oorlog op die aarde oortref is nie. Satan, die magtigste van alle krygsmanne, lei die opmars en sy engele verenig hul magte vir hierdie finale stryd. Hy word deur konings en helde gevolg wat weer op hulle beurt deur die menigtes in groot afdelings, elke afdeling onder sy eie bevelvoerder, gevolg word. Met militêre presisie marsjeer die linies oor die ongelyke en gebroke oppervlak van die aarde na die stad van God. Op bevel van Jesus word die poorte van die Nuwe Jerusalem gesluit; en die leërs van Satan omsingel die stad en maak gereed vir die aanval. GS 703.2
Christus verskyn nou weer voor die aangesig van Sy vyande. Hoog bokant die stad, op ‘n fondament van blink goud, is ‘n, hoë en verhewe troon. Op hierdie troon sit die Seun van God en rondom Hom is die onderdane van Sy koninkryk. Die mag en majesteit van Christus kan geen taal beskryf nie en geen pen uitbeeld nie. Die heerlikheid van die Ewige Vader omvou Sy Seun. Die helderheid van Sy teenwoordigheid vul die stad, vloei uit tot buite die poorte en oorstroom die hele aarde met Sy glans. GS 704.1
Naaste aan die troon is diegene wat eens ywerig was vir die saak van Satan, maar wat soos stukke brandhout uit die vuur geruk is en hul Verlosser met ‘n diepe, intense toewyding gevolg het. Volgende is diegene wat hul Christelike karakters te midde van leuens en ontrouheid vervolmaak het, diegene wat die wet van God geëer het toe die Christen-wêreld dit tot niet verklaar het en die miljoene van alle eeue wat vir hul geloof gemartel is. En agter hulle is “...'n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale ... voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande.” (Openb 7:9,10). Hulle stryd is beëindig, die oorwinning is behaal. Hulle het die wedloop voleindig en die prys behaal. Die palmtak in hul hande is ‘n simbool van hulle oorwinning en die wit klere ‘n simbool van die vlekkelose geregtigheid van Christus wat nou aan hulle behoort. GS 704.2
Die verlostes hef ‘n loflied aan wat deur die hemel weergalm: “Heil aan onse God wat op die troon sit en aan die Lam!” (Openb 7:10). Engele en serafs voeg hulle stemme in aanbidding by. Terwyl die verlostes die mag en kwaadwilligheid van Satan aanskou, besef hulle soos nog nooit tevore nie, dat geen mag behalwe dié van Christus, oorwinnaars van hulle sou kon maak nie. In daardie ganse skitterende skare is daar niemand wat sy verlossing aan homself kan toeskryf asof hy deur sy eie krag en goedheid oorwin het nie. Daar word nie een woord gesê van wat hulle gedoen en gely het nie; maar die las van elke lied en die hoofrede vir elke loflied is: Redding aan onse God en aan die Lam! GS 704.3
In die teenwoordigheid van die versamelde bewoners van die aarde en die hemel, vind die finale kroning van die Seun van God plaas. En nou, beklee met die hoogste majesteit en mag, spreek die Koning van die konings die vonnis oor die rebelle teen sy regering uit en voer Hy geregtigheid uit teen diegene wat Sy wet oortree en Sy volk verdruk het. Die profeet van God sê: “Ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat geskrywe is in die boeke, volgens hulle werke.” (Openb 20:11,12). GS 705.1
Sodra die boeke geopen word en die oog van Jesus op die goddelose gevestig word, word hulle bewus van elke sonde wat hulle ooit gepleeg het. Hulle sien presies waar hulle voete van die weg van reinheid en heiligheid afgewyk het en hoe ver hoogmoed en rebellie hulle in die oortreding van die wet van God gevoer het. Die verleidelike versoekings wat hulle, deur die toegewing aan sonde aangemoedig het, die seëninge wat verdraai is, die boodskappers van God wat hulle verag het, die waarskuwings wat hulle verwerp het, die golwe van genade wat hulle weerstaan het deur ‘n hardkoppige, onboetvaardige hart — alles lyk asof dit met letters van vuur geskryf is. GS 705.2
Bo die troon word die kruis geopenbaar; en soos ‘n panoramiese uitsig word die tonele van Adam se versoeking en sondeval en die opeenvolgende stappe in die groot plan van verlossing vertoon. Die Heiland se nederige geboorte; Sy vroeë lewe van eenvoud en gehoorsaamheid; Sy doop in die Jordaanrivier; Sy vas en die versoeking in die woestyn; Sy openbare bediening wat die hemel se seëninge aan mense ontvou het; die dae gevul met dade van liefde en barmhartigheid, die nagte van gebed en die waaksaamheid in die eensaamheid van die berge; die sameswerings van afguns, haat en kwaadwilligheid waarmee Sy goedheid vergeld is; die ontsettende, misterieuse sieleangs van Getsémané onder die verpletterende las van die sondes van die hele wêreld; Sy verraad in die hande van die moorddadige gepeupel; die vreesaanjaende gebeure van daardie nag van afgryse — die weerlose gevangene, deur Sy geliefde dissipels verlaat, meedoënloos deur die strate van Jerusalem gehaas; die Seun van God wat met jubeling voor Annas gebring word, in die paleis van die hoëpriester, daarna in die regslokaal van Pilatus, voor die lafhartige en wrede Herodes, bespot, beledig, gemartel en veroordeel om te sterf — al hierdie dinge word duidelik uitgebeeld. GS 705.3
En nou, voor die wiegende skare, word die laaste tonele geopenbaar — die geduldige Lyer wat die pad na Golgota stap; die Vors van die hemel wat aan die kruis hang; die hoogmoedige priesters en die honende gepeupel wat met Sy doodsangs spot; die bonatuurlike duisternis; die sidderende aarde, die geskeurde rotse, die geopende grafte, wat die oomblik toe die wêreld se Verlosser sy lewe opgegee het aandui. GS 706.1
Hierdie aaklige skouspel verskyn presies soos dit was. Satan, sy engele en sy onderdane het geen mag om hulle van die prent van hul eie werk weg te draai nie. Elke akteur onthou die rol wat hy opgevoer het: Herodes, wat die onskuldige kindertjies van Betlehem laat doodmaak het om die Koning van Israel te vernietig; die lae Herodias, aan wie se skuldige siel die bloed van Johannes die Doper kleef; die swak weifelende Pilatus; die spottende soldate; die priesters en die owerstes en die waansinnige gepeupel wat uitgeroep het: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” Almal aanskou die ontsaglikheid van hulle skuld en probeer tevergeefs om vir die Goddelike majesteit van Sy aangesig wat die glorie van son oortref weg te kruip, terwyl die verlostes hul krone aan die voete van die Heiland werp en uitroep: “Hy het vir my gesterf!” GS 706.2
Te midde van die verloste skare, is die apostels van Christus, die heldhaftige Paulus, die vurige Petrus, die geliefde en liefdevolle Johannes en hulle opregte broeders, saam met die groot menigte van martelare; terwyl, buitekant die stadsmure, met al die vuil en afskuwelike dinge, diegene deur wie hulle vervolg, opgesluit en gedood is, staan. Daar is Nero, die monster van wreedheid en ondeug, wat die vreugde en jubeling van diegene, wat hy eenmaal gemartel het en in wie se groot angs hy sataniese vreugde gevind het, aanskou. Sy moeder is ook daar om die gevolge van haar eie handewerk te sien; om te sien hoedat die bose karaktertrekke wat aan haar seun oorgedra is, die passies wat deur haar invloed en voorbeeld aangemoedig en ontwikkel is, vrugte in die vorm van misdade wat die wêreld laat sidder het, afgewerp het. GS 707.1
Daar is die pouslike priesters en prelate wat beweer het dat hulle die gesante van Christus was, maar die pynbank, die kerker en die brandstapel gebruik het om die gewete van die volk van God te beheer. Daar is die trotse pouse wat hulself bo God verhef het en hulle aangematig het om die wet van die Allerhoogste te verander. Dié wat voorgegee het om kerkvaders te wees moet rekenskap aan God lewer gee, iets waarvan hulle baie graag vrygestel sou wil word. Te laat besef hulle dat die Almagtige jaloers op Sy wet is en dat Hy die skuldiges geensins sal verskoon nie. Hulle sien nou dat Christus Hom met die lyding van Sy volk vereenselwig; en hulle voel die krag van Sy eie woorde, “Vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Mat 25:40). GS 707.2
Die ganse bose wêreld staan tereg voor die regbank van God op die aanklag van hoogverraad teen die regering van die hemel. Hulle het niemand om hul saak te bepleit nie; hulle is sonder verskoning; en die vonnis van die ewige dood word oor hulle uitgespreek. GS 707.3
Dit is nou vir almal duidelik dat die loon van die sonde nie ‘n edele, onafhanklikheid en ewige lewe is nie, maar slawerny, ondergang en die dood. Die goddelose besef nou wat hulle deur hulle lewe van rebellie verbeur het. Die allesoortreffende en ewige heerlikheid is verag toe dit vir hulle aangebied is; maar hoe begeer hulle dit nie nou nie! “Dit alles...” roep die verlore siel uit, “...kon ek gehad het; maar ek het verkies om al hierdie dinge te verwerp. O, vreemde verdwaasdheid! Ek het vrede, geluk en eer vir ellende, oneer en wanhoop verruil.” Almal sien dat hulle uitsluiting uit die hemel regverdig is. Deur hulle lewens het hulle verklaar: “Ons wil nie hê dat hierdie Man [Jesus] as Koning oor ons regeer nie.” GS 708.1
Asof in ‘n beswyming het die goddelose die kroning van die Seun van God aanskou. In Sy hande sien hulle die tafels van die Goddelike wet, die insettinge wat hulle verag en oortree het. Hulle getuig van die uitbarsting van verwondering, verrukking en die aanbidding van die verlostes; en terwyl ‘n golf van melodie oor die skare buitekant die stad spoel, roep almal met een stem uit: “Groot en wonderlik is U werke, Here God, die Almagtige; regverdig en waaragtig is U weë, o Koning van die heiliges!” (Openb 15:3) En in aanbidding val hulle voor die Vors van die lewe neer. GS 708.2
Satan lyk asof verlam wanneer hy die heerlikheid en majesteit van Christus aanskou. Hy, wat eenmaal ‘n beskuttende gerub was, onthou die plek vanwaar hy geval het. ‘n Glinsterende seraf, “...seun van die more...”; hoe is hy verander en hoe is hy verlaag! Van die raad waar hy eers vereer is, is hy vir ewig uitgesluit. Hy het gesien hoedat die kroon op die hoof van Christus deur ‘n magtige engel van hoë gestalte en majestueuse teenwoordigheid geplaas word en hy weet dat die verhewe posisie van daardie engel moontlik syne kon gewees het. GS 708.3
Sy geheue gaan terug na sy tuiste van onskuld en reinheid, die vrede en tevredenheid wat syne was totdat hy teen God gemurmureer het en afgunstig op Christus geraak het. Sy beskuldigings, sy rebellie, sy misleidings om die simpatie en ondersteuning van die engele te verkry, sy hardnekkige volharding om geen poging aan te wend om homself te herstel toe God vergifnis aan hom wou verleen nie — kom alles nou helder voor sy gees op. Hy beoordeel sy werk onder mense en die gevolge daarvan — die vyandigheid van die mens teenoor sy medemens, die ontsettende vernietiging van lewe, die opkoms en ondergang van koninkryke, die omverwerping van trone, die lang opeenvolgende oproer, konflik en opstande. Hy herinner hom aan sy voortdurende pogings om die werk van Christus teë te staan en die mens al hoe laer af te bring. Hy sien dat sy helse komplotte magteloos was om diegene wat op Jesus vertrou het te vernietig. Terwyl Satan sy koninkryk aanskou, die vrug van sy arbeid, sien hy net mislukking en ondergang. Hy het die skares laat glo dat die Stad van God ‘n maklike prooi sou wees; maar hy weet dat dit vals is. In die verloop van die groot stryd is hy telkens weer verslaan en gedwing om in te gee. Hy ken die krag en die majesteit van die Ewige God maar al te goed. GS 709.1
Die doel van die groot rebel was altyd om homself te regverdig en om te bewys dat die Goddelike regering verantwoordelik vir die opstand was. Vir hierdie doel het hy al sy mag en reuse intellek ingespan. Hy het doelbewus en stelselmatig te werk gegaan en met wonderbaarlike sukses groot menigtes daartoe gelei om sy weergawe van die groot stryd wat so lank aan die gang was, te aanvaar. Vir duisende jare het hierdie hoof van samesweerders valsheid vir waarheid afgesmeer. Maar die tyd het nou aangebreek dat die rebellie finaal verslaan en die geskiedenis en karakter van Satan bekend gemaak word. In sy finale poging om Christus te onttroon, Sy volk te vernietig en die stad van God in te neem, word die aartsbedrieër volkome ontmasker. Diegene wat met hom verenig het, sien nou die totale mislukking van sy saak. Christus se volgelinge en die lojale engele sien die volle omvang van sy kragte teen die regering van God. Hy is die voorwerp van universele afsku. GS 709.2
Satan sien dat sy rebellie hom ongeskik vir die hemel gemaak het. Hy het sy kragte opgelei om teen God te verg; die reinheid, vrede en harmonie van die hemel sou vir hom die grootste marteling wees. Sy beskuldigings teen die barmhartigheid en geregtigheid van God is nou stilgemaak. Die smaad wat hy gepoog het om op Jehova te werp, rus nou geheel en al op homself. En nou buig Satan neer en bely die regverdigheid van sy vonnis. GS 710.1
“Wie sal U nie vrees nie, Here en U Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat U regverdige dade openbaar geword het.” (Openb 15:4). Elke vraag na waarheid en dwaalleer in die langdurige stryd is nou duidelik gemaak. Die gevolge van rebellie en die vrugte op die tersydestelling van die Goddelike insettinge is nou ten aanskoue van alle geskape wesens oopgestel. Die uitwerking van Satan se heerskappy, in teenstelling met die regering van God, is aan die ganse heelal voorgehou. Satan se eie werke het hom veroordeel. Die wysheid van God, Sy geregtigheid en Sy goedheid staan volkome geregverdig. Daar word gesien dat al Sy handelinge in die groot stryd geskied het met die oog op die ewige beswil van Sy volk en vir die beswil van al die wêrelde wat Hy geskape het. “Al u werke loof U, o Here en u gunsgenote prys U.” (Ps 145:10). Die geskiedenis van sondes sal tot in alle ewigheid staan as getuie dat die geluk van al die wesens wat Hy geskape het, in die wet van God opgesluit is. Met al die feite van die groot stryd voor oë, verklaar die heelal, beide die getroues en die opstandiges, eendragtig: “Regverdig en waaragtig is U weë, o Koning van die heiliges!” (Openb 15:3). GS 710.2
Voor die heelal word die groot offer wat die Vader en die Seun ten behoewe van die mens gebring het, duidelik aangebied. Die uur het aangebreek dat Christus Sy regmatige posisie inneem en bo owerhede en magte en elke naam wat genoem word verheerlik word. Dit was vir die vreugde wat Hom voorgehou is, sodat Hy baie seuns tot heerlikheid kon bring, dat Hy die kruis verdra en die skande verag het. En ondenkbaar groot soos die lyding en skande was, nog groter is die vreugde en heerlikheid. Hy aanskou die verlostes wat na Sy ewebeeld herskep is, met die volmaakte beeld van die Goddelike op elke hart afgedruk, terwyl elke aangesig die ewebeeld van hul Koning weerspieël. Hy sien in hulle die resultaat van die moeite van Sy siel en Hy is tevrede. Dan, met ‘n stem wat die versamelde menigtes van regverdiges en goddelose bereik, verklaar Hy: “Kyk wat het Ek met My bloed gekoop! Vir diesulkes het Ek gely en hiervoor het Ek gesterf, sodat hulle deur die ewigheid heen in My teenwoordigheid kan woon.” En dan styg die loflied vanaf die wit-geklede skare op rondom die troon: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Openb 5:12). GS 710.3
Ondanks die feit dat Satan gedwing is om die geregtigheid van God te erken en hom voor die oppergesag van Christus te buig, bly sy karakter onveranderd. Die gees van rebellie bars weer soos ‘n magtige stroom los. Gevul met waansinnige woede, besluit hy om nie die groot stryd gewonne te gee nie. Die tyd vir ‘n laaste wanhopige poging teen die Koning van die hemel het aangebreek. Hy haas hom te midde van sy onderdane en poog om hulle met sy eie woede te inspireer en om hulle tot onmiddellike stryd aan te spoor. Maar van al die ontelbare miljoene wat hy tot rebellie gelok het, is daar niemand wat sy oppergesag erken nie. Sy mag is op ‘n einde. Die goddelose is met dieselfde haat teenoor God gevul wat Satan inspireer; maar hulle sien dat hulle saak hopeloos is en dat hulle nie teen Jehova kan seëvier nie. Hulle woede word nou teen Satan en sy werkkragte in die misleiding ontketen en met demoniese woede val hulle hulle aan. GS 711.1
Die Here sê: “Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god, daarom kyk, Ek bring vreemdes oor jou, die geweldigste nasies en hulle sal hul swaarde trek teen die skoonheid wat jou wysheid verwerf het en jou glans ontheilig. In die kuil sal hulle jou laat neerdaal ... Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gerub wat beskut! ... Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien ... Jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.” (Eseg 28:6-8,16-19). GS 712.1
“Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun en die kleed wat in bloed gerol is, dien tot verbranding, ‘n prooi van die vuur.” (Jes 9:4). “Want die toorn van die Here is oor al die nasies en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word.” (Jes 34:2). “Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.” (Ps. 11:6). Vuur daal van God uit die hemel neer. Die aarde word opgebreek. Die wapens wat in die dieptes versteek is word opgelewer. Verterende vlamme bars uit elke skeur. Selfs die rotse brand. Die dag wat brand soos ‘n oond, het aangebreek. Die elemente versmelt weens die intense hitte en ook die aarde en die werke wat daarop is, verbrand. (Mal 4:1; sien ook 2 Pet 3:10). Die oppervlakte van die aarde is een gesmelte massa, ‘n uitgestrekte, siedende poel van vuur. Dit is die dag van oordeel en verderf van die goddelose “...'n dag van wraak, ‘n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.” (Jes 34:8). (Sien ook Spr 11:31). GS 712.2
Die goddelose ontvang hulle vergelding op die aarde. Hulle sal “...'n stoppel wees; en die dag wat kom sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare” (Mal 4:1). Sommige word in ‘n oomblik vernietig, terwyl ander baie dae ly. Almal word volgens hulle dade gestraf. Deurdat die sondes van die regverdiges op Satan oorgeplaas is, ondergaan hy nie alleen straf vir sy eie opstand nie, maar ook vir al die sondes wat hy God se volk veroorsaak het om te pleeg. Sy straf sal baie groter wees as wat diegene ontvang wat hy mislei het. Nadat almal wat weens sy bedrog ten gronde gegaan het vernietig is, sal sy straf nog steeds voortduur. In die reinigende vlamme word die goddelose eindelik wortel en tak verdelg — Satan die wortel en sy volgelinge die takke. Die volle straf van die wet word uitgevoer; daar word aan die vereistes van geregtigheid voldoen; en die hemel en die aarde waar hulle dit aanskou, getuig van die geregtigheid van Jehova. GS 712.3
Satan se werk van verwoesting is vir ewig beëindig. Vir sesduisend jaar lank het hy sy wil uitgevoer, die aarde met ellende vervul en droefheid oor die ganse heelal veroorsaak. Die hele skepping het gesug en tesame in barensnood verkeer. Nou word die skepsels van God vir altyd van sy teenwoordigheid en versoekings verlos. “Die hele aarde rus, is stil; hulle [die regverdiges] breek uit in jubel.” (Jes. 14:7). ‘n Kreet van oorwinning en dank styg van die ganse lojale heelal op. “Die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae,” word gehoor, wat sê: “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar” (Openb. 19:6). GS 713.1
Terwyl die aarde met die vlamme van verwoesting omhul is, is die regverdiges veilig in die heilige stad. Oor diegene wat in die eerste opstanding opgestaan het, het die tweede dood geen mag nie. Terwyl God vir die goddelose soos ‘n verterende vuur is, is Hy vir Sy volk beide ‘n son en ‘n skild. (Openb. 20:6; Ps. 84:11). GS 713.2
“Ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan” (Openb 21:1). Die vuur wat die goddelose verteer, reinig die aarde. Elke spoor van die vloek word uitgewis. Geen ewige brandende hel sal die vreesagtige gevolge van sonde aan die verlostes voorhou nie. GS 713.3
Net een herinnering aan die sonde sal oorbly: Ons Verlosser sal vir ewig die tekens van Sy kruisdood dra. Op Sy gewonde hoof, aan Sy sy, hande en voete is die tekens van die wrede werk van die sonde. Die profeet, terwyl hy Christus in Sy heerlikheid aanskou, sê: “Glans soos sonlig is dáár, ligstrale aan Sy sy; en dáár is die omhulsel van Sy krag.” (Hab 3:4). Die deurboorde sy waaruit die bloederige stroom gevloei het wat die mens met God versoen het — daar is die Verlosser se heerlikheid, “...daar is die omhulsel van sy krag.” Magtig om deur die offer van verlossing te red, was Hy dus sterk om geregtigheid uit te voer teenoor diegene wat die genade van God verag het. En die tekens van Sy vernedering is Sy hoogste eer; deur die ewige eeue sal die wonde van Golgota Sy lof en Sy mag verkondig. GS 714.1
“En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja die vroeëre heerskappy.” (Miga 4:8). Die tyd het aangebreek waarna heilige manne met verlange uitgesien het sedert die vlammende swaard die eerste paar uit Eden verban het, die tyd om “...Sy eiendom te verlos.” (Efe 1:14). Die aarde wat oorspronklik aan die mens as sy koninkryk gegee is, wat deur hom in die hande van Satan oorgelewer is en so lank deur die magtige vyand beset is, is deur die groot verlossingsplan teruggebring. Alles wat as gevolg van die sonde verlore gegaan het, is weer herstel. “Want so sê die Here ... wat die aarde geformeer en dit gemaak het — Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.” (Jes 45:18). God se oorspronklike doel met die skepping van die aarde word vervul, aangesien dit die ewige woning van die verlostes word. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” (Ps 37:29). GS 714.2
Die vrees om die toekomstige erfenis te wesenlik te laat voorkom, het daartoe gelei dat baie mense die waarhede wat ons daartoe lei om dit as ons tuiste te sien, te vergeestelik. Christus het Sy dissipels verseker dat Hy vir hulle wonings in die Vader se huis gaan voorberei. Diegene wat die leringe van die Woord van God aanvaar, sal nie heeltemal onkundig aangaande die hemelse tuiste wees nie. En tog: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” (1 Kor 2:9). Menslike taal is nie by magte om die beloning van die regverdiges te beskryf nie. Dit sal slegs aan diegene wat dit aanskou bekend wees. Geen verganklike menslike verstand kan die heerlikheid van die paradys van God begryp nie. GS 714.3
In die Bybel word die erfenis van die verlostes ‘n vaderland genoem. (Heb 11:14-16.) Daar lei die hemelse Herder Sy kudde na fonteine van lewende waters. Die boom van die lewe gee elke maand sy vrugte en die blare van die boom is vir die genesing van die nasies. Daar is voortdurend vloeiende strome, helder soos kristal en langs hulle groei wuiwende bome wat hulle skaduwees op die paaie gooi wat vir die verlostes van die Here voorberei is. Daar rys die wyd-uitgestrekte vlaktes op in heuwels van skoonheid en verrys die hoë spitse van die berge van God. Op daardie vreedsame vlaktes, langs daardie lewende strome, sal die volk van God, wat vir so lank pelgrims en swerwers was, ‘n tuiste vind. GS 715.1
“My volk sal woon in ‘n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van onbesorgde rus ... Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie — van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof ... En hulle sal huise bou en bewoon en wingerde plant en die vrug daarvan eet: Hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie ... My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.” (Jes 32:18;60:18;65:21,22). GS 715.2
“Die woestyn en die dor land sal bly wees; en die wildernis sal juig en bloei soos ‘n narsing.” (Jes 35:1). “Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan; vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan.” (Jes 55:13). “Dan wei die wolf by die lam en die luiperd gaan lê by die bokkie ... en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja ... Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie...” sê die Here (Jes 11:6,9). GS 715.3
Pyn kan nie in die atmosfeer van die hemel bestaan nie. Daar sal nie meer trane wees nie, geen begrafnisstoete, geen tekens van rou nie. “Daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openb 21:4). “En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; vir die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.” (Jes 33:24). GS 716.1
Daar is die Nuwe Jerusalem, die hoofstad van die verheerlikte nuwe aarde, “...'n sierlike kroon ... in die hand van die Here en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God.” (Jes 62:3). “Sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.” (Openb 21:11). “En die nasies van dié wat gered word, sal in die lig daarvan wandel en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” (Openb 21:24). Die Here sê: “Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk.” (Jes 65:19). “Die tabernakel van God is by die mense en Hy sal by hulle woon en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openb 21:3). GS 716.2
In die Stad van God sal daar geen nag wees nie. Niemand sal rus benodig of begeer nie. Daar sal geen vermoeidheid wees in die uitvoering van die wil van God te doen of om Sy Naam te prys nie. Ons sal vir ewig die varsheid van die oggend ervaar en ver van die einde daarvan wees. “En hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig.” (Openb 22:5). Die lig van die son sal deur ‘n glans, wat nie pynlik verblindend is nie, maar wat die helderheid van ons middagson onmeetbaar sal oortref, vervang word. Die heerlikheid van God en die Lam oorstroom die Heilige Stad met onverwelklike lig. Die verlostes sal in die sonlose heerlikheid van ewige daglig wandel. GS 716.3
“En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel en die Lam.” (Openb 21:22). Die volk van God is bevoorreg om in gemeenskap met die Vader en die Seun te verkeer. “Nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel.” (1 Kor 13:12). Ons sien die beeld van God, soos in ‘n spieël weerspieël, in die werke van die natuur en in Sy handelinge met mense; maar dan sal ons Hom van aangesig tot aangesig sien sonder ‘n verdoffende sluier tussenin. Ons sal in Sy teenwoordigheid staan en die heerlikheid van Sy aangesig aanskou. GS 716.4
Dáár sal die verlostes ken, net soos hulle geken word. Die liefde en medelye wat God self in die siel ingeplant het, sal daar die ware en soetste uitdrukking vind. Die suiwer gemeenskap met heilige wesens, die harmonieuse sosiale lewe met die geseënde engele en die getroues van alle eeue, wat hulle klere gewas en in die bloed van die Lam wit gemaak het, die heilige bande wat die hele gesin “...in die hemele en op die aarde... ” (Ef 3:15) saamsnoer — dit dra alles by om die geluk van die verlostes te vorm. GS 717.1
Dáár sal onsterflike denke met onverganklike vreugde die nimmer-eindigende wonders van die skeppende krag en die verborgenheid van verlossende liefde bepeins. Daar sal geen wrede, bedrieglike vyande wees om die mense te verlei om van God te vergeet nie. Elke bevoegdheid sal ontwikkel word, elke bekwaamheid sal bevorder word. Die verwerwing van kennis sal nie die verstand vermoei of die energie uitput nie. Daar kan die grootste ondernemings voortgesit word, die hoogste ideale bereik en die hoogste ambisies verwesenlik word. En steeds sal daar nuwe hoogtes wees om te bowe te kom, nuwe wonders om te bewonder, nuwe waarhede om te begryp en vars voorwerpe om die kragte van gees, siel en liggaam uit te daag. GS 717.2
Al die skatte van die heelal sal oop wees vir die studie van God se verlostes. Ongebonde deur sterflikheid, sal hulle na verafgeleë wêrelde vlieg — wêrelde wat met droefheid by die aanskouing van menslike ellende vervul was en wat met liedere van blydskap weergalm het oor die tyding van ‘n verloste siel. Met onuitspreeklike vreugde deel die kinders van die aarde in die vreugde en wysheid van ongevalle wesens. Hulle deel in die skatte van kennis en begrip wat deur die eeue heen opgedoen is in die oorweging van God se handewerk. Met ‘n onbelemmerde visie aanskou hulle die heerlikheid van die skepping, sonne, sterre en stelsels, alles in hul aangewese bane wat rondom die troon van die Godheid beweeg. Oor alles, van die geringste tot die grootste, staan die Naam van die Skepper geskryf en in alles word die rykdom van Sy mag getoon. GS 717.3
En die verloop van die jare van die ewigheid, sal steeds ryker en nog heerliker openbarings van God en Christus bring. Namate kennis progressief is, sal ook liefde, eerbied en geluk toeneem. Hoe meer mense van God leer, hoe groter sal hulle bewondering van Sy karakter wees. Soos Jesus die rykdom van die verlossing en die verbasende prestasies in die groot stryd met Satan openbaar, sal die harte van die verlostes met vuriger toewyding vervul word en met meer verruklike vreugde sal hulle die harpe van goud bespeel; en tienduisend maal tienduisend en duisende der duisende stemme sal uitswel en met die magtige koor van lof verenig. GS 718.1
“En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openb 5:13). GS 718.2
Die groot stryd is beëindig. Sonde en sondaars bestaan nie meer nie. Die ganse heelal is skoon. Een pols van harmonie en blydskap klop deur die onmeetlike skepping. Van Hom wat almal geskape het, vloei lewe en lig en blydskap, dwarsdeur die koninkryke van die onnaspeurlike ruimte. Van die fynste atoom tot die grootste wêreld, verklaar alle dinge, lewendig en lewensloos, in hul volmaakte skoonheid en vreugde, dat God liefde is. GS 718.3