Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 39—'n Tyd van Groot Benoudheid
“En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het, vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” (Dan 12:1). GS 649.1
Wanneer die boodskap van die derde engel afsluit, pleit Genade nie langer vir die skuldige aardbewoners nie. Die volk van God het hulle werk volbring. Hulle het die “...laat reëns ... tye van verkwikking van die aangesig van die Here... ” (Hand 3:19) ontvang en hulle is voorbereid op uur van beproewing voor hulle. Engele haas heen en weer in die hemel. ‘n Engel wat van die aarde af terugkeer, kondig aan dat sy werk voltooi is; die finale toets is oor die wêreld gebring en almal wat hulle getrouheid aan die Goddelike voorskrifte bewys het, het die “...seël van die lewende God...” ontvang. Dan word Jesus se voorbidding in die hemelse heiligdom gestaak. Hy hef Sy hande op en sê met ‘n luide stem: “Dit is volbring...” en die ganse leërskare van engele lê hul krone af terwyl Hy die plegtige aankondiging doen: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word en laat die heilige nog heiliger word.” (Openb 22:11). Elke saak is vir die lewe of die dood beslis. Christus het versoening vir Sy volk gedoen en hulle sondes is uitgewis. Die getal van Sy onderdane is voltallig; “Die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel...” (Dan 7:27) sal binnekort aan die erfgename van die saligheid gegee word en Jesus sal as Koning van die konings en Here van die here regeer. GS 649.2
Wanneer Hy die heiligdom verlaat, bedek duisternis die bewoners van die aarde. In daardie vreesaanjaende tyd moet die regverdiges voor die heilige God sonder ‘n Middelaar leef. Die beperkings op die goddelose is opgehef en Satan het volle beheer oor die finale onboetvaardiges. God se lankmoedigheid is beëindig. Die wêreld het Sy genade verwerp, Sy liefde versmaai en Sy wet vertrap. Die goddelose het die grense van hulle genadetyd oorskry; die Gees van God waarteen hulle hul so aanhoudend verset het, is uiteindelik onttrek. Sonder die beskerming van Goddelike genade, is daar geen beskerming teen die bose vir hulle nie. Satan sal dan die aardbewoners in een laaste, groot teëspoed dompel. Namate die engele van God ophou om die hewige winde van menslike passie in toom te hou, sal al die elemente van stryd losgelaat word. Die hele wêreld sal in ‘n hewiger verwoesting as wat oor Jerusalem van ouds gekom het, betrokke wees. GS 649.3
Een engel het al die eersgeborenes van die Egiptenare vernietig en die land in rou gedompel. Toe Dawid teen God gesondig het deur die volk te tel, het een engel die ontsettende vernietiging veroorsaak waardeur sy sonde gestraf is. Dieselfde vernietigende krag wat deur die heilige engele op bevel van God uitgevoer is, sal deur bose engele uitgeoefen word wanneer Hy dit toelaat. Daar is reeds magte gereed wat net wag op die Goddelike toestemming om oral oor wanhoop te saai. GS 650.1
Hulle wat die wet van God eer, sal daarvan beskuldig word dat hulle die oordele oor die wêreld gebring het en hulle sal as die oorsaak van die vreesaanjaende stuiptrekkings van die natuur en die twis en bloedvergieting onder die mense wat die aarde met wee vul, beskuldig word. Die mag wat met die laaste waarskuwing gepaard gegaan het, het die goddelose woedend gemaak; hulle woede word teen almal wat die boodskap aangeneem het ontketen en Satan sal die gees van haat en vervolging tot nog groter intensiteit aanblaas. GS 650.2
Toe God se teenwoordigheid uiteindelik van die Joodse volk onttrek is, het die priesters en die volk dit nie besef nie. Alhoewel hulle onder die beheer van Satan was en deur die afskuwelikste en mees kwaadwilligste hartstogte beïnvloed was, het hulle hulself steeds as die uitverkorenes van God beskou. Die bediening in die tempel het voortgegaan; offers is op besoedelde altare gebring en daagliks is die Goddelike seën oor ‘n volk, wat skuldig aan die bloed van die geliefde Seun van God was aangeroep en wat steeds getrag het om Sy diensknegte en apostels om die lewe te bring. Wanneer die onherroeplike besluit oor die heiligdom uitgespreek is en die lot van die wêreld vir ewig verseël is, sal die bewoners van die aarde dit ook nie besef nie. Die vorms van godsdiens sal steeds deur ‘n volk van wie die Gees van God finaal onttrek is voorgesit word; en die sataniese ywer waarmee die vors van die bose hulle sal besiel vir die uitvoering van sy kwaadwillige planne, sal ‘n skyn van ywer vir God dra. GS 650.3
Aangesien die sabbat die spesifieke geskil in die ganse Christendom geword het en godsdienstige en burgerlike owerhede verenig het om die handhawing van die Sondag af te dwing, sal die volhardende weiering van ‘n klein minderheid om aan die gewilde vereiste toe te gee, hulself die spesiale voorwerpe van universele vervloeking maak. Daar sal aangevoer word dat die paar wat in stryd met ‘n instelling van die kerk en wet van die staat is, nie geduld moet word nie; dat dit beter is dat hulle ly, as dat hele volke in verwarring en wetteloosheid gewerp word. Dieselfde argument is baie eeue gelede teen Christus gebring deur die “...owerstes van die volk...”. Dit is voordelig vir ons, het die listige Kajafas gesê, “...dat één man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.” (Joh 11:50). Hierdie argument sal afdoende blyk te wees; uiteindelik sal daar ‘n dekreet teen diegene wat die Sabbat van die vierde gebod heilig uitgevaardig word, waarin hulle veroordeel word dat hulle die swaarste straf verdien en sal daar aan die volk die vryheid gegee word om hulle na ‘n sekere tyd dood te maak. Romanisme in die Ou Wêreld en afvallige Protestantisme in die Nuwe, sal ‘n soortgelyke weg teenoor diegene wat die goddelike voorskrifte eerbiedig volg. GS 651.1
Die volk van God sal dan in die tonele van verdrukking en benoudheid gedompel word, wat deur die profeet as die tyd van Jakob se benoudheid beskryf word: “So sê die Here: Ons het ‘n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! ... Waarom ... is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.” (Jer 30:5-7). GS 652.1
Jakob se nag van sieleangs, toe hy in gebed om verlossing uit die hand van Esau geworstel het, verteenwoordig die ervaring van die volk van God in die tyd van benoudheid. (Gen 32:24-30) Vanweë die bedrog wat hy gepleeg het om die seën wat vir Esau bedoel was van sy vader te verkry, moes Jakob vir sy lewe vlug omdat hy bang was vir die dodelike dreigemente van sy broer. GS 652.2
Nadat hy baie jare in ballingskap deurgebring het, het hy op bevel van God met sy vrouens en kinders, kuddes en beeste, na sy geboorteland teruggekeer. Toe hy die grense van die land bereik, was hy met vrees gevul deur die tyding van Esau se aantog aan die hoof van ‘n groep krygers, ongetwyfeld met die doel om wraak te neem. Jakob se gevolg, ongewapen en weerloos het geblyk op die punt te staan om die hulpelose slagoffers van geweld te word. En by die las van angs en vrees is die verpletterende gewig van selfverwyt gevoeg; want dit was sy eie sonde wat hom in hierdie gevaar gebring het. Sy enigste hoop was op die genade van God; sy enigste verdediging was nou in gebed. Tog het hy niks van sy eie kant nagelaat om vir die onreg aan sy broer te vergoed en die dreigende af te weer nie. So moet die volgelinge van Christus ook, wanneer hulle die tyd van benoudheid nader, alles in hulle vermoë doen om hulself in die regte lig voor die mense te stel, vooroordele te ontwapen en die gevaar wat die gewetensvryheid bedreig, af te weer. GS 652.3
Nadat hy sy gesin weggestuur het sodat hulle nie sy nood kon aanskou nie, het Jakob alleen agtergebly om by God in te tree. Hy het sy sonde bely en met dankbaarheid die genade wat God aan hom bewys het erken, terwyl hy met diepe nederigheid die verbond met sy vaders en die beloftes aan homself in die naggesig te Bet-el in die land van sy ballingskap bepleit het. Die krisis van sy lewe het gekom; alles was op die spel. In die duisternis en eensaamheid het hy aangehou om te bid en homself te verneder. Skielik is daar ‘n hand op sy skouer gelê. Hy het gedink dat dit ‘n vyand is wat sy lewe soek en met wanhopige krag het hy met sy aanvaller geworstel. Soos die dag begin aanbreek het, het die vreemdeling bomenslike krag gebruik; met sy aanraking het die voorgekom asof die sterk man verlam is en hy het hulpeloos, wenend en smekend sy antagonis om die nek geval. Jakob het toe besef dat dit die Verbondsengel was met wie hy geworstel het. Hoewel hy gebreklik was en die grootste pyn verduur het, het hy nie moed opgegee nie. Hy het vir lank onrus, berou en moeite oor sy sonde verduur en hy moes nou die versekering hê dat hy vergewe is. Dit het gelyk asof die goddelike besoeker wou vertrek; maar Jakob het aan hom vasgehou en vir ‘n seën gepleit. Die engel het gesê: “Laat my gaan, want die dag het gebreek...” (Gen 32:26), maar die patriarg het uitgeroep: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” Watter vertroue, watter fermheid en deursettingsvermoë word hier vertoon! As dit ‘n spoggerige, vermetele eis was, sou Jakob onmiddellik vernietig gewees het; maar dit was die sekerheid van iemand wat sy swakheid en onwaardigheid bely het, maar tog op die genade van ‘n Verbondsgod vertrou het. GS 652.4
“Hy het met die engel geworstel en die oorhand gekry.” (Hos 12:5). Deur verootmoediging, berou en selfoorgawe, het hierdie sondige, dwalende sterweling die oorhand oor die Majesteit van die hemel gekry. Hy het sy bewende greep aan die beloftes van God vasgemaak en die hart van Oneindige Liefde kon die pleidooi van die sondaar nie afwys nie. As bewys van sy oorwinning en as aanmoediging vir ander om sy voorbeeld te volg, is sy naam verander van een wat ‘n herinnering aan sy sonde was, na een sat sy oorwinning gedenk het. En die feit dat Jakob die oorhand oor God verkry het, was die versekering dat hy die oorhand oor mense sou kry. Hy was nie langer bang om die woede van sy broer teë te kom nie, want die Here was sy verdediging. GS 653.1
Satan het Jakob voor die engele van God beskuldig en aanspraak gemaak op die reg om hom weens sy sonde te vernietig; hy het Esau beweeg om teen hom op te trek en gedurende die patriarg se lang nag van worsteling, het Satan gepoog om ‘n besef van sy skuld aan hom op te dring ten einde hom te ontmoedig en sy houvas op God te verbreek. Jakob was byna tot wanhoop gedryf, maar hy het geweet dat hy sonder hemelse hulp sou vergaan. Hy het opreg berou oor sy groot sonde gehad en hy het hom op die genade van God beroep. Hy sou nie van sy doel afgeskrik word nie, maar het aan die Engel vasgehou en op sy versoek met ernstige angskrete aangedring, totdat hy die oorhand verkry het. GS 654.1
Net soos Satan Esau beïnvloed het om teen Jakob op te trek, so sal hy ook die goddelose aanhits om die volk van God in die tyd van benoudheid te vernietig. En net soos hy Jakob beskuldig het, sal hy ook op sy beskuldigings teen die volk van God aandring. Hy beskou die wêreld as sy onderdane; maar die klein geselskap wat die gebooie van God onderhou, weerstaan sy oppergesag. As hy hulle van die aarde kon verdelg, sou sy oorwinning volkome wees. Hy sien dat heilige engele hulle beskerm en daaruit lei hy af dat hulle sondes vergewe is; maar hy weet nie dat hulle sake reeds in die hemelse heiligdom beslis is nie. Hy het ‘n akkurate kennis van al die sondes waartoe hy hulle verlei het en hy stel dit voor God in die mees oordrewe lig, wat aanvoer dat hierdie volk net so verdienstelik as hy is om van die guns van God uitgesluit te word. Hy verklaar dat die Here nie hulle sondes in alle regverdigheid kan vergewe en tog homself en sy engele kan vernietig nie. Hy eis hulle as sy prooi en eis dat hulle in sy hande oorgegee word om te vernietig. GS 654.2
Soos Satan die volk van God vanweë hulle sondes beskuldig, laat die Here toe dat hy hulle tot die uiterste beproef. Hulle vertroue in God, hulle geloof en standvastigheid sal ernstig getoets word. Soos hulle oor hul verlede terugkyk, sak hulle moed, want in hul hele lewe, kan hulle weinig goed raaksien. Hulle is volkome bewus van hulle swakheid en onwaardigheid. Satan poog om hulle vreesbevange, met die gedagte dat daar geen hoop vir hulle is nie, te maak; dat die vlek van hul besoedeling nooit uitgewis kan word nie. Hy hoop om so hulle geloof te vernietig sodat hulle aan sy versoekings sal toegee en hulle trou aan God sal versaak. GS 655.1
Alhoewel die volk van God met vyande wat op hulle vernietiging uit is, omring sal word, sal die angs wat hulle ervaar, egter nie as gevolg van ‘n vrees vir vervolging ter wille van die waarheid wees nie; hulle sal vrees dat hulle nie alle sondes bely het nie en dat hulle, as gevolg van een of ander defek in hulle lewe, nie die belofte van die Heiland verwesenlik sal sien nie: “Ek [sal] jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom.” (Openb 3:10). As hulle net die versekering van vergifnis kon hê, sou hulle nie vir marteling of die dood terugdeins nie, maar sou hulle onwaardig blyk te wees en hulle lewens as gevolg van hulle eie gebreke in karakter sou verloor, sou die heilige Naam van God gesmaad word. GS 655.2
Aan alle kante hoor hulle van sameswerings tot verraad en sien hulle die aktiewe werking van rebellie; en daar word ‘n intense begeerte, ‘n ernstige hunkering in hul siel gewek, dat hierdie groot afvalligheid beëindig moet word en die goddeloosheid van die goddelose tot ‘n einde moet kom. Maar terwyl hulle by God pleit om die werk van rebellie teë te hou, is dit met ‘n skerp besef van selfverwyt omdat hulle nie self meer krag het om die magtige gety van die bose te weerstaan nie. Hulle voel dat as hulle altyd al hulle vermoëns in diens van Christus aangewend het en van krag tot krag voortgegaan het, die magte van Satan minder mag sou hê om hulle te oorwin. GS 655.3
Hulle verootmoedig hul siele voor God en wys op hulle berou van hul baie sondes van die verlede en bepleit die belofte van die Heiland. “Hulle moet My beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.” (Jes 27:5). Hulle wankel nie in hul geloof omdat hul gebede nie onmiddellik beantwoord word nie. Alhoewel hulle in die grootste angs, vrees en ellende verkeer, staak hulle nie hul voorbidding nie. Hulle gryp die krag van God aan soos Jakob die engel vasgegryp het; en die taal van hul siele is: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” (Gen 32:26). GS 656.1
As Jakob hom nie voorheen van sy sonde van die verkryging van die eersgeboortereg deur bedrog verootmoedig het nie, sou God nie sy gebed verhoor en sy lewe gespaar het nie. So ook in die tyd van benoudheid; indien die volk van God onbelyde sondes gehad het wat voor hulle verskyn terwyl hulle met angs en vrees gemartel word, sou hulle oorweldig word; wanhoop sou hulle geloof vernietig en hulle sou geen vertroue hê om tot God om verlossing te pleit nie. Maar terwyl hulle ‘n diepe besef van hulle onwaardigheid het, is daar geen verborge sondes, wat geopenbaar moet word nie. Hulle sondes is vooraf veroordeel uitgewis en hulle kan dit nie in herinnering roep nie. GS 656.2
Satan laat baie mense glo dat God hulle ontrouheid in die klein dingetjies oorsien; maar die Here toon in Sy optrede teenoor Jakob, dat Hy geensins die kwaad sal goedkeur of verdra nie. Almal wat probeer om hul sondes te verskoon of te verberg en toelaat dat dit onbelyd en onvergewe in die boeke van die hemel bly, sal deur Satan oorwin word. Hoe meer verhewe hul beroep en hoe eerbaarder die posisie wat hulle beklee, hoe ernstiger is hulle weg voor God en hoe sekerder is die oorwinning van hul groot teëstander. Diegene wat hul voorbereiding op die dag van God vertraag, kan dit nie in die tyd van benoudheid of op enige daaropvolgende periode bereik nie. Die sake van al diesulkes is hopeloos. GS 656.3
Daardie belydende Christene wat onvoorbereid tot daardie laaste skrikwekkende stryd kom, sal in wanhoop, hulle sonde in die grootste angs bely, terwyl die goddelose hulle oor hulle ellende verheug. Hulle belydenis van sonde is soortgelyk aan die van Esau en Judas. Diegene wat dié belydenis doen, is jammer oor die gevolge van hulle oortreding, maar nie oor hulle sonde self nie. Daar is geen ware berou en geen afsku vir sonde nie. Hulle bely hulle sonde uit vrees vir straf; maar, soos Farao van ouds, sal hulle weer terugkeer tot hul uitdagende houding teen die hemel indien die oordele van God verwyder sou word. GS 657.1
Die geskiedenis van Jakob is ook ‘n versekering dat God diegene wat mislei, versoek en in sonde verraai is, maar wat met opregte berou na Hom terugkeer het, nie sal verstoot nie. Terwyl Satan hierdie klas wil vernietig, sal God Sy engele stuur om hulle in die tyd van gevaar te vertroos en te beskerm. Die aanvalle van Satan is hewig en vasberade en sy dwalinge ontsettend; maar die oog van die Here is op Sy volk en Sy oor luister na hulle roepstem. Hulle ellende is groot; dit blyk asof die vlamme van die smeltkroes hulle wil verswelg, maar die Louteraar sal hulle soos goud wat deur vuur beproef is, te voorskyn bring. Die liefde van God vir Sy kinders gedurende die periode van hulle hewigste beproewing, is net so sterk en teer soos in die dae van hulle sonnigste voorspoed; maar dit is nodig dat hulle deur die smeltkroes moet gaan; hulle aardsheid moet verteer word, sodat die beeld van Christus volkome kan weerspieël word. GS 657.2
Die tyd van benoudheid en angs voor ons, sal ‘n geloof vereis wat vermoeidheid, vertraging en honger kan verduur — ‘n geloof wat nie sal verswak nie, hoewel dit streng beproef sal word. Die proeftydperk word aan almal toegestaan om hulle vir hierdie tyd voor te berei. Jakob het die oorhand gekry omdat hy volhard het en vasberade was. Sy oorwinning is ‘n bewys van die krag van volhardende gebed. Almal wat, soos hy, God se beloftes sal aangryp en so ernstig en volhardend soos hy sal wees, sal slaag soos hy geslaag het. Diegene wat onwillig is om self te verloën, om in sieleangs tot God te bid en lank en ernstig vir Sy seën te smeek nie, sal dit nie verkry nie. Worstel met God — hoe min weet wat dit beteken! Hoe min het hulle siele, met ‘n intense begeerte en met al hulle krag, na God laat trek? Wanneer golwe van wanhoop wat nie in woorde uitgedruk kan word nie, oor die smeker kom, hoe min van hulle hou met onversetlike geloof aan die beloftes van God vas? GS 657.3
Diegene wat tans min vertroue het, loop die grootste gevaar om onder die mag van sataniese dwalinge en die dekreet om die gewete te dwing, tot ‘n val te kom. En selfs as hulle die toets kan deurstaan, sal hulle in die tyd van groot benoudheid, dieper in ellende en sieleangs gedompel word, omdat hulle nie die gewoonte aangekweek het om op God te vertrou nie. Die lesse van geloof wat hulle verwaarloos het, sal hulle dwing om onder die verskriklike druk van ontmoediging te leer. GS 658.1
Ons moet God nou leer ken deur Sy beloftes te beproef. Engele neem elke ernstige en opregte gebed op. Ons moet eerder van selfsugtige bevrediging afsien, as om gemeenskap met God te verwaarloos. Die diepste armoede, die grootste selfverloëning met Sy goedkeuring, is beter as rykdom, eerbewyse, gemak en vriende daarsonder. Ons moet tyd neem om te bid. As ons toelaat dat ons gedagtes deur wêreldse belange in beslag geneem word, mag die Here ons tyd gee, deur ons afgode van goud, of huise, of vrugbare landerye van ons weg te neem. GS 658.2
Die jongmense sou nie tot sonde verlei word as hulle sou weier om enige ander pad te betree as die een waarop hulle die seën van God kan vra nie. As die boodskappers wat die laaste plegtige boodskap aan die wêreld oordra, vir die seën van God sou bid, nie op ‘n kille, lustelose en lui wyse nie, maar vurig en in geloof, net soos Jakob, sou hulle baie plekke kon vind waar hulle kon sê: “Ek het God gesien van aangesig tot aangesig en tog is my lewe gered.” (Gen 32:30). Die hemel sou hulle as vorste beskou, wat die mag het om by God en by mense te oorwin. GS 658.3
Die “...tyd van benoudheid soos daar nie gewees het nie...” (Dan 12:1) sal binnekort aanbreek en daarvoor sal ons ‘n ervaring nodig hê wat ons nie nou het nie en wat vele te traag is om op te doen. Dit is dikwels so dat die afwagting van moeilikheid erger as die werklikheid is; maar dit geld nie vir die krisis wat voor ons lê nie. Die mees aanskoulikste aanbieding kan nie die omvang van die beproewing verteenwoordig nie. In daardie tyd van beproewing sal elke siel alleen voor God moet staan. “Al was Noag, Daniël en Job daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, hulle sou geen seun of dogter red nie; hulle sou net hulle eie siel deur hul geregtigheid red.” (Eseg 14:20). GS 659.1
Nou, terwyl ons groot Hoëpriester vir ons versoening doen, moet ons volmaaktheid in Christus nastreef. Nie eens deur ‘n gedagte kon ons Verlosser onder die mag van versoeking gebring word nie. In menslike harte vind Satan die een of ander plek waar hy vastrapplek kan kry; die een of ander gekoesterde sondige begeerte waar sy versoekings hul krag kan laat geld. Maar Christus het van Homself verklaar: “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.” (Joh 14:30). Satan kon niks in die Seun van God vind wat hom in staat sou stel om die oorwinning te behaal nie. Hy het die gebooie van Sy Vader bewaar en daar was geen sonde in Hom wat Satan tot sy voordeel kon gebruik nie. Dit is die toestand waarin diegene, wat in die tyd van benoudheid staande wil bly, gevind moet word. GS 659.2
Dit is in hierdie lewe dat ons die sonde deur geloof in die versoenende bloed van Christus moet versaak. Ons kosbare Verlosser nooi ons om by Hom aan te sluit, om ons swakheid met Sy krag te verenig, ons onkunde met Sy wysheid en ons onwaardigheid met Sy verdienste. Die voorsienigheid van God is die skool waarin ons die sagmoedigheid en nederigheid van Jesus moet leer. Die Here stel voortdurend voor ons, nie die wyse wat vir ons makliker en aangenamer lyk nie, maar die ware doel van die lewe. Dit berus by ons om saam met die werkkragte wat die Hemel gebruik te werk om ons karakters aan die Goddelike model te laat voldoen. Niemand kan hierdie werk sonder die grootste gevaar vir hul siel verwaarloos of uitstel nie. GS 659.3
Die apostel Johannes het in ‘n visioen ‘n harde stem in die hemel hoor roep: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.” (Openb 12:12). Vreesaanjaend is die tonele wat die hemelse stem hier weergee. Namate die tyd korter word, neem Satan se woede toe en sy werk van bedrog en vernietiging sal ‘n hoogtepunt in die tyd van benoudheid bereik. GS 660.1
Skrikwekkende verskynsels van ‘n bonatuurlike aard sal binnekort in die hemele geopenbaar word as ‘n teken van die wonderwerkende mag van demone. Die geeste van duiwels sal na die konings van die aarde en die hele wêreld uitgaan om hulle in misleiding vas te trek en hulle aan te spoor om met Satan in sy laaste stryd teen die regering van die hemel te verenig. Deur hierdie werkkragte sal regeerders en onderdane mislei word. Persone sal verrys en voorgee dat hulle Christus self is en aanspraak maak op die titel en aanbidding wat die Verlosser van die wêreld toekom. Hulle sal wonderwerke van genesing verrig en beweer dat hulle openbarings uit die hemel wat die getuienis van die Skrif weerspreek, ontvang het. GS 660.2
As die kroon van die groot drama van misleiding, sal Satan homself as Christus verpersoonlik. Die kerk het lank reeds bely dat sy na die koms van die Heiland as die voleindig van haar hoop uitsien. Nou sal die groot bedrieër dit laat blyk dat Christus gekom het. In verskillende dele van die wêreld sal Satan homself onder die mense as ‘n majestueuse wese van skitterende heerlikheid manifesteer, wat aan die beskrywing van die Seun van God wat Johannes in Openbaring gegee het, sal voldoen. (Openb 1:13-15.) Die heerlikheid wat hom omring, sal enigiets wat nog deur sterflike oë gesien is, oortref. ‘n Uitroep van oorwinning sal deur die lug weergalm: “Christus het gekom! Christus het gekom!” Die mense sal in aanbidding voor hom neerval, terwyl hy sy hande in seën ophef, soos Christus Sy dissipels geseën het toe Hy op die aarde was. Sy stem is sag en ingetoë, maar tog melodieus. In ‘n sagte, deernisvolle toon, sal hy dieselfde genadige, hemelse waarhede wat die Heiland geuiter het, aanbied.; hy sal die siektes van die mense genees en dan sal hy in sy aangenome karakter van Christus, beweer dat hy die Sabbat na Sondag verander het en almal beveel om die dag wat hy geseën het, te heilig. Hy sal verklaar dat diegene wat volhard om die sewende dag heilig te hou, sy naam laster deur te weier om na sy engele wat met lig en waarheid na hulle gestuur is, te luister. Dit is die groot, byna oorheersende dwaling. Net soos die Samaritane wat deur Simon, die towenaar, bedrieg is, let die skare, groot en klein, op na hierdie towery en sê: “Hy is die groot krag van God.” (Hand 8:10). GS 660.3
Maar die volk van God sal nie mislei word nie. Die leerstellings van hierdie valse Christus stem nie met die Skrif ooreen nie. Sy seën word uitgespreek oor die aanbidders van die dier en sy beeld, die einste klas op wie, verklaar die Bybel, die onvermengde wraak van God uitgestort sal word. GS 661.1
En verder, sal Satan nie toegelaat word om die wyse waarop Christus se koms gaan plaasvind, te vervals nie. Op hierdie punt het die Heiland Sy volk teen bedrog gewaarsku en die wyse van Sy koms duidelik voorspel. “Daar sal valse christusse en valse profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moet nie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” (Mat 24:24-27,31;25:31; Openb 1:7,1.). Daar bestaan geen moontlikheid om hierdie koms te vervals nie. Dit sal universeel bekend wees —die hele wêreld sal daarvan getuig. GS 661.2
Slegs diegene wat ywerige studente van die Skrif was en wat die liefde vir die waarheid ontvang het, sal teen die kragtige dwaling wat die wêreld gevange sal neem, beskerm word. Deur die getuienis van die Bybel sal hulle die bedrieër in sy vermomming bespeur. Die toetstydperk sal vir almal aanbreek. Deur die sifting van versoeking sal die ware Christen geopenbaar word. Is die volk van God tans so vas gevestig op Sy woord, dat hulle nie sal toegee aan die getuienis van hul sinne nie? Sal hulle in so ‘n krisis aan die Bybel en die Bybel alleen vashou? Satan sal, indien moontlik, hulle verhoed om hulself voor te berei om op daardie dag staande te kan bly. Hy sal sake so reël dat hulle weg versper word; hy sal hulle met aardse skatte verstrik, hulle swaar en moeisame laste laat dra, sodat hul harte met die sorge van hierdie lewe oorlaai sal word en dat die dag van beproewing hulle soos ‘n dief oorval. GS 662.1
Wanneer die dekreet deur die verskillende owerhede van die Christendom uitgevaardig word, die beskerming van die regering van diegene wat die gebooie bewaar onttrek word en hulle aan diegene wat verlang om hulle te vernietig oorgelewer word, sal die volk van God uit die stede en dorpe wegvlug en hulle sal in groepe saamkom en op afgeleë plekke gaan woon. Baie sal skuiling in bergvestings vind. Soos die Christene van die Piedmont-valleie, sal hulle van die hoë plekke van die aarde hul heiligdomme maak en hulle sal God dank vir “...die rotsvesting...” (Jes 33:16). Maar baie van alle nasies en van alle klasse, hoog en laag, ryk en arm, swart en wit, sal in die mees onregverdigste en wreedste slawerny gewerp word. Die geliefdes van God sal lang, vermoeiende dae in kettings geknel, agter tralies in tronke opgesluit, tot die dood veroordeel en sommige waarskynlik in walglike, donker kerkers van honger omkom, deurbring. Geen menslike oor sal oop wees om hulle gekreun te hoor nie; geen menslike hand sal bereid om hulle te help nie. GS 662.2
Sal die Here Sy volk in hierdie uur van beproewing vergeet? Het hy die getroue Noag vergeet toe die oordele oor die antediluviaanse wêreld besoek is? Het Hy Lot vergeet toe vuur uit die hemel neergedaal het om die stede van die vlakte te vernietig? Het Hy Josef vergeet toe hy in Egipte deur afgodedienaars omring was? Het Hy Elia vergeet toe die eed van Isébel hom met dieselfde lot as die Baal profete bedreig het? Het hy Jeremia in die donker, somber put van sy gevangenis vergeet? Het Hy die drie waardiges in die vuuroond vergeet? Of Daniël in die leeukuil? GS 663.1
“Sion sê: Die Here het my verlaat en die Here het my vergeet! Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer.” (Jes 49:14-16). Die Here van die leërskare het gesê: “...want wie julle aanraak, raak Sý oogappel aan.” (Sag 2:8). GS 663.2
Alhoewel vyande hulle in die gevangenis kan werp, kan die tronkmure nie die kommunikasie tussen hulle siele en Christus verbreek nie. Een wat elke swakheid raaksien, wat vertroud met elke beproewing is, is bo alle aardse magte; en engele sal in eensame selle na hulle kom en lig en vrede uit die hemel bring. Die gevangenis sal soos ‘n paleis wees; want hulle wat ryk in geloof is woon daar en die somber mure sal met hemelse lig verlig word, soos toe Paulus en Silas om middernag in die tronk in Filippi gebid en lofsange gesing het. GS 663.3
God se oordele sal oor diegene wat Sy volk wil onderdruk en vernietig, besoek word. Sy lang verdraagsaamheid met die goddelose moedig mense in hulle oortreding aan, maar hulle straf is nietemin seker en skrikwekkend omdat dit lank uitgestel is. “Die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gibeon om Sy werk te doen — vreemd is Sy werk!” (Jes 28:21). Vir ons barmhartige God is die daad van straf ‘n vreemde daad. “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie.” (Eseg 33:11). Die Here is “...'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou ... Wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.” Maar Hy sal die skuldiges “...nooit ongestraf laat bly nie ... Die Here is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die Here ongestraf bly nie.” (Eks 34:6,7; Nah 1:3). Die Here sal, in geregtigheid, die ondergrawing van Sy gesag deur verskriklike dinge wreek. Die erns van die vergelding wat op die oortreder wag, kan uit die Here se huiwering om die reg uit te voer gesien word. Die volk wat Hy lank verdra en wat Hy nie wil straf totdat die beker van hulle ongeregtigheid vol is nie, sal uiteindelik die beker van die wraak van God wat onvermeng met genade ingeskink is, moet drink. GS 663.4
Wanneer Christus sy voorbidding in die heiligdom staak, sal die dreigende onvermengde wraak van God op diegene wat die dier en sy beeld aanbid en sy merkteken ontvang uitgestort word. (Openb 14:9,10). Die plae wat Egipte getref het net voordat God Israel verlos het, was soortgelyk aan die verskriklike en uitgebreide oordele wat oor die wêreld gaan kom net voor die finale verlossing van die volk van God. Die openbaarder sê in die beskrywing van hierdie geweldige plae: “Kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.” Die see “...het bloed geword soos van ‘n dooie en al die lewende wesens in die see het gesterwe.” Die riviere en die waterfonteine “...het bloed geword.” Vreeslik soos hierdie toedienings is, is die oordele van God volkome regverdig. Die engel van God verklaar: “Ja, Here God, die Almagtige, waaragtig en regverdig is U oordele ... Want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet en U het vir hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.” (Openb 16:2-4,7,6). Deur die volk van God tot die dood te veroordeel, het hulle hul net so gewis aan bloedskuld skuldig gemaak, asof hulle die bloed met hulle eie hande vergiet het. Net so het Christus ook die Jode van Sy tyd skuldig verklaar aan die bloed van al die heiliges wat sedert die dae van Abel vergiet is; want hulle was met dieselfde gees besiel en hulle wou dieselfde werk as die moordenaars van die profete doen. GS 664.1
In die plaag wat volg, word daar krag aan die son gegee “...om die mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met ‘n groot hitte.” (Openb 16:8,9). Die profete beskryf die toestand van die aarde gedurende hierdie vreeslike tyd, soos volg: “Die veld is verwoes, die akkerland treur;... Al die bome van die land het verdor; want beskaamd is die vreugde, weg van die mensekinders af ... Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is verwoes ... Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie... Die waterstrome het opgedroog en ‘n vuur het die weivelde van die woestyn verteer ... En die liedere van die paleis sal in dié dag weeklaag, spreek die Here HERE: ‘n menigte lyke; hulle gooi dit oral neer. Stilte!” (Joël 1:10-12,17-20; Amos 8:3). GS 665.1
Die plae is nie universeel nie, anders sou die aardbewoners heeltemal uitgewis word. Tog sal dit die afskuwelikste plae wees wat sterflinge ooit geken het. Al die oordele oor die mense voor die einde van die proeftydperk, is met genade vermeng. Die pleitende bloed van Christus het die sondaar teen die volle mate van sy skuld beskerm; maar in die finale oordeel word die grimmigheid van God sonder genade uitgestort. GS 665.2
In daardie dag sal menigtes die skuiling van God se genade wat hulle vir so lank verag het, begeer. “Kyk daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die Here te soek, maar hulle sal dit nie vind nie.” (Amos 8:11,12). GS 665.3
Die volk van God sal nie vry van lyding wees nie; maar terwyl hulle vervolg word en in ellende verkeer en terwyl hulle ontberings en aan ‘n gebrek van voedsel sal ly, sal hulle nie oorgelaat word om te sterf nie. Die God wat vir Elia gesorg het, sal nie by een van sy selfopofferende kinders verbygaan nie. Hy wat die hare van hulle hoof tel, sal na hulle omsien; in die tyd van hongersnood sal hulle versadig word. Terwyl die goddelose van honger en die pes sterf, sal engele die regverdiges beskerm en in hulle behoeftes voorsien. Aan hom “...wat in geregtigheid wandel...” is die belofte gegee: “Sy brood word hom gegee, sy water is gewis.” (Jes. 33:15,16). “Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.” (Jes 41:17). GS 666.1
“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie...” nogtans sal diegene wat die Here vrees “...juig in God...” (Hab 3:17,18); die God van hulle verlossing. GS 666.2
“Die Here is jou bewaarder; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.” (Ps 121:5-7). “Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met Sy vlerke en onder Sy vleuels sal jy skuil; Sy trou is ‘n skild en pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie.” (Ps 91:3-10). GS 666.3
Tog, uit ‘n menslike oogpunt, sal dit lyk asof die volk van God binnekort hulle getuienis met hulle bloed sal moet verseël, net soos die martelare voor hulle. Hulle sal selfs begin vrees dat die Here hulle oorgelaat het om aan die hand van hul vyande onder te gaan. Dit is ‘n tyd van verskriklike sieleangs. Dag en nag sal hulle tot God roep om verlossing. Die goddelose sal juig en die honende vraag gehoor word: “Waar is julle geloof nou? As julle inderdaad die volk van God is, waarom verlos Hy julle nie uit ons hande nie?” Maar hierdie wagtendes sal onthou hoedat Jesus aan die kruis van Golgota gesterf het en hoedat die owerpriesters en owerstes spottend gesê het: “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom en ons sal in Hom glo.” (Mat 27:42). Soos Jakob, worstel almal met God. Hulle aangesigte gee uitdrukking aan hul innerlike stryd. Bleekheid is op elke gesig. Tog staak hulle nie met hul ernstige voorbidding nie. GS 667.1
Sou mense met hemelse visie kon sien, dan sou hulle die skares van magtige engele gestasioneer oor diegene wat die Woord van Christus bewaar het, sien. Die engele het met medelydende teerheid van hul ellende getuig en hulle gebede gehoor. Hulle wag op bevel van hulle Bevelvoerder om hulle uit hul gevaar te ruk. Maar hulle moet nog ‘n rukkie wag. Die volk van God moet die beker drink en met die doop gedoop word. Die vertraging, hoe pynlik ook al vir hulle, is die beste antwoord op hul smekinge. Terwyl hulle poog om met vertroue op die Here te wag om te werk, word hulle gelei tot geloof, hoop en geduld, wat te min tydens hul godsdienservaring uitgeoefen is. Maar ter wille van die uitverkorenes, sal die tyd van benoudheid verkort word. “Sal God dan nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie? ... Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” (Luk 18:7,8). Die einde sal vinniger kom as wat mense verwag. Die koring sal bymekaar gemaak en in gerwe gebind word vir die skuur van God; die onkruid sal in bondels gebind word vir die vure van vernietiging. GS 667.2
Die hemelse wagte, getrou aan hul vertroue, gaan steeds voort met hul wag. Alhoewel ‘n algemene dekreet die tyd bepaal het waarop die bewaarders van die gebooie gedood kan word, sal hulle vyande in sommige gevalle die besluit vooruitloop en probeer om voor die vasgestelde tyd hul lewe te neem. Maar nie een van hulle sal by die magtige wakers wat rondom elke getroue siel gestasioneer is, kan verbykom nie. Sommige sal aangeval word terwyl hulle uit die stede en die dorpe vlug; maar die swaarde wat teen hulle opgehef sal word, sal verbreek word en magteloos soos ‘n strooihalm val. Ander sal deur engele in die vorm van krygsmanne beskerm word. GS 668.1
Deur al die eeue heen het God deur heilige engele vir die bewaring en verlossing van Sy volk gewerk. Hemelse wesens het aktief deelgeneem aan die sake van mense. Hulle het in klere wat soos weerlig blink verskyn; hulle het in die vorm van mense, soos reisigers geklee, gekom. Engele het in menslike gedaante aan manne van God verskyn. Hulle het in die middaghitte in die koelte van die akkerbome gerus, asof hulle moeg was. Hulle het die gasvryheid van mense aanvaar. Hulle het as gidse vir verdwaalde reisigers opgetree. Met hulle eie hande het hulle die vure op die altare aangesteek. Hulle het die deure van gevangenisse oopgemaak en die dienaars van God bevry. Gekleed In die gewaad van die hemel, het hulle gekom om die klip voor die Heiland se graf weg te rol. GS 668.2
Engele is dikwels in die vorm van mense in die vergaderings van die regverdiges; en hulle besoek ook die vergaderings van die bose, soos hulle na Sodom toe gegaan het om ‘n opname van hul dade te maak, om vas te stel of hulle die grens van God se verdraagsaamheid oorskrei het. Die Here verlustig Hom in genade; en ter wille van die enkeles wat Hom in opregtheid dien, hou Hy rampe in bedwang en verleng die vrede vir menigtes. Sondaars het min besef dat hulle hul eie lewens aan die getroue mense, wat hulle graag bespot en verdruk, verskuldig is. GS 668.3
Alhoewel die heersers van hierdie wêreld onbewus daarvan is, was engele dikwels woordvoerders in hulle raadsvergaderings. Menslike oë het hulle gesien; menslike ore het na hulle oproepe geluister;menslike lippe het hulle voorstelle teëgestaan en hulle raad geminag; mensehande het hulle beledig en mishandel. In die raadsaal en geregshof, het hierdie hemelse boodskappers ‘n intieme kennis van die menslike geskiedenis aan die dag gelê; hulle het bewys gelewer dat hulle beter in staat is om die saak van die verdruktes te bepleit as die bekwaamste en welsprekendste verdedigers. GS 669.1
Hulle het doelwitte verslaan en euwels verhoed wat die werk van God baie sou vertraag en groot lyding vir Sy volk sou veroorsaak. In die uur van ellende en nood trek die engel van die Here “...'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” (Ps 34:8). GS 669.2
Met ernstige verlange wag die volk van God op die tekens van hulle komende Koning. Wanneer die wagte uitgedaag word: “Hoe ver is dit in die nag?” kom die antwoord: “Die more kom, en ook die nag.” (Jes 21:11,12). Die lig skyn op die wolke bokant die bergtoppe. Binnekort sal Sy heerlikheid geopenbaar word. Die Son van Geregtigheid is op die punt om te skyn. Beide more en die nag is ophande — die aanbreek van die eindelose dag vir die regverdiges en die vestiging van die ewige nag vir die goddelose. GS 669.3
Terwyl die kinders van God met hul versoeke in gebed met Hom worstel, skyn dit amper asof die sluier wat hulle van die onsienlike skei, weggetrek is. Die hemel gloei met die aanbreek van die ewige dag en soos die melodie van engelliedere, word die woorde gehoor: “Staan onwrikbaar in jou getrouheid. Hulp kom.” Christus die almagtige Oorwinnaar, hou ‘n kroon van onsterflike heerlikheid na Sy afgematte soldate uit; en Sy stem kom deur die half-oop: “Kyk, Ek is met julle. Moenie vrees nie. Ek is bekend met al julle smart; Ek het julle leed gedra. Julle veg nie teen onbeproefde vyande nie. Ek het die stryd namens julle gestry en in My Naam is julle meer as oorwinnaars.” GS 669.4
Die dierbare Verlosser sal hulp stuur presies wanneer ons dit nodig het. Die weg na die hemel is deur Sy voetspore geheilig. Elke doring wat in ons voete steek, het syne verwond. Elke kruis wat ons geroep is om te dra, het Hy reeds voor ons gedra. Die Here laat konflik toe om die siel op vrede voor te berei. Die tyd van benoudheid is ‘n felle beproewing vir die volk van God; maar dit is die tyd vir elke ware gelowige om op te kyk en in geloof die boog van die belofte te sien. GS 670.1
“So sal dan die losgekooptes van die Here teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg. Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? — dat jy vergeet die Here wat jou gemaak het ... dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker? Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie. Maar Ek is die Here jou God wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis; Here van die leërskare is sy Naam! En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg...”(Jes 51:11-16). GS 670.2
“Daarom, hoor tog dit, ellendige en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie! So sê die Here, die Here en jou God wat die saak van sy volk verdedig: Kyk, Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, die kelk van My grimmigheid; jy sal dit verder nie meer drink nie. Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen, wat vir jou gesê het: Buig, dat ons oor jou kan gaan; en jy moes jou rug maak soos die grond en soos ‘n straat vir die wat daaroor gaan.” (Jes 51:21-23). GS 670.3
Die oog van God wat deur die eeue heen gekyk het, was op die krisis wat Sy volk sou tegemoet gaan wanneer aardse magte teen hulle sal opstaan, gevestig. Soos die bannelinge in gevangenskap, sal hulle vrees vir die dood as gevolg van honger of geweld. Maar die Heilige wat die Rooi See voor Israel verdeel het, sal Sy magtige krag openbaar en hulle ballingskap verander. “Hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien.” (Mal 3:17). As die bloed van Christus se getroue getuies in hierdie tyd gestort sou word, sal dit nie, soos die bloed van die martelare, soos saad wees om ‘n oes vir God te lewer nie. Hulle getrouheid sal nie ‘n getuienis wees om ander van die waarheid te oortuig nie; want die verharde hart het die golwe van genade soveel keer teëgestaan, dat hulle nie meer sal terugkeer nie. As die regverdiges nou as die prooi van hulle vyande aan hulle oorgelaat sou word, sou dit ‘n oorwinning vir die vors van duisternis wees. Die psalmis sê: “Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots.” (Ps 27:5). En Christus sê: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die Here sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek.” (Jes 26:20,21). Heerlik sal die verlossing wees van diegene wat geduldig op Sy koms gewag het en wie se name in die boek van die lewe geskryf staan. GS 671.1