Die Groot Stryd (1911)

40/44

Hoofstuk 38—Die Finale Waarskuwing

“Na hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls ... En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” (Openb 18:1,2,4). GS 638.1

Hierdie skriftuur verwys na ‘n tyd wanneer die aankondiging dat Babilon geval het, soos deur die tweede engel van Openbaring 14 gemaak is, herhaal sal word, met die aanvullende vermelding van die korrupsie wat die verskillende organisasies binnegedring het, wat Babilon gevorm het, vanaf die eerste keer wat daardie boodskap in die somer van 1844 uitgegaan het. Hier word die haglike toestand van die godsdienstige wêreld beskryf. Met elke verwerping van die waarheid, sal die gemoedere van die mense donkerder word, hulle harte verhard word, totdat hulle in ‘n ongelowige gehardheid verskans is. In uittarting teenoor die waarskuwings wat God gegee het, sal hulle voortgaan om een van die voorskrifte van die dekaloog te vertrap, totdat hulle gelei word om diegene wat dit as heilig beskou, te vervolg. Christus word tot niet gemaak deur die minagting van Sy woord en Sy volk. GS 638.2

Soos die kerke die leerstellings van Spiritisme aanvaar, gaan die beheer wat die vleeslike hart opgelê word verlore en die belydenis van godsdiens word ‘n dekmantel om die grootste ongeregtighede te bedek. ‘n Geloof in geestelike manifestasies maak die deur vir misleidende geeste en leerstellings van duiwels oop en sodoende sal die invloed van bose engele in die kerke ervaar word. GS 638.3

In die tyd waarop hierdie profesie van toepassing is, word van Babilon gesê: “Haar sondes reik tot aan die hemel en God het haar ongeregtighede onthou.” (Openb 18:5). Sy het die beker van haar ongeregtigheid volgemaak en sy staan op die punt om vernietig te word. Maar God het steeds mense in Babilon en voor die besoek van Sy oordele oor haar, moet hierdie getroues uitgeroep word, sodat hulle nie in haar sondes sal deel en van haar plae ontvang nie. Vandaar die beweging wat gesimboliseer word deur die engel wat uit die hemel neerdaal, die aarde met sy heerlikheid verlig en met ‘n sterk stem die sondes van Babilon aankondig. Gekoppel aan sy boodskap word die oproep gehoor: “Gaan uit haar uit, my volk.” Hierdie boodskap, saam met die boodskap van die derde engel vorm die finale waarskuwing wat aan die aardbewoners gegee sal word. GS 639.1

Vreeswekkend is die kwessie waarvoor die wêreld gebring sal word. Die magte van die aarde, verenig in stryd teen die gebooie van God, sal bepaal dat “...almal, klein en groot en die rykes en die armes en die vry mense en die slawe... ” (Openb 13:16), volgens die gebruike van die kerk, sal voldoen aan die nakoming van die valse sabbat. Almal wat weier om dit na te kom, sal met siviele boetes gestraf word en uiteindelik sal daar verklaar word dat hulle die dood verdien. Aan die anderkant, eis die wet van God, wat die onderhouding van die Skepper se rusdag vereis, gehoorsaamheid en dreig met toorn oor almal wat die voorskrifte daarvan oortree. GS 639.2

Met die saak wat so duidelik aan hom voorgehou word, sal elkeen wat die wet van God vertrap en menslike verordeninge gehoorsaam, die merk van die dier ontvang; hy aanvaar die teken van trou aan die mag wat hy verkies om in die plek van God te gehoorsaam. Die waarskuwing van die hemel is: “As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van Sy toorn.” (Openb. 14:9,10). GS 639.3

Maar niemand sal deur die wraak van God getref word voordat die waarheid in sy verstand en gewete tuisgebring is en verwerp is nie. Daar is baie wat nog nooit ‘n geleentheid gehad het om die spesiale waarhede vir hierdie tyd te hoor nie. Die verpligting van die vierde gebod is nog nooit in die ware lig voor hulle gestel nie. Hy wat elke hart lees en elke motief toets, sal niemand wat kennis van die waarheid verlang, mislei laat word aangaande die kwessies van die stryd nie. Die dekreet sal nie blindelings op mense afgedwing word nie. Elkeen sal genoeg lig ontvang om sy eie intelligente besluit te maak. GS 640.1

Die Sabbat sal die groot toets van getrouheid wees; want dit is die aspek van die waarheid wat veral gekonfronteer word. Wanneer mense voor die finale toets te staan kom, sal die onderskeid tussen diegene wat God dien en diegene wat Hom nie dien nie getref word. Terwyl die onderhouding van die valse sabbat in ooreenstemming met die wet van die staat, in stryd met die vierde gebod, ‘n verklaring van trou aan ‘n mag wat in stryd met God is sal wees, sal die onderhouding van die ware Sabbat, in gehoorsaamheid aan die wet van God, ‘n bewys van lojaliteit aan die Skepper wees. Terwyl die een klas, deur die aanvaarding van die teken van onderwerping aan aardse gesag, die merkteken van die dier ontvang, ontvang die ander klas, wat die teken van getrouheid aan Goddelike gesag kies, die seël van God. GS 640.2

Tot dusver is diegene wat die waarhede van die boodskap van die derde engel aangebied het, dikwels as blote alarmmakers beskou. Hulle voorspellings dat godsdienstige onverdraagsaamheid die oorhand in die Verenigde State sal verkry en dat kerk en staat sal verenig om diegene wat die gebooie van God nakom te vervolg, word as ongegrond en absurd bestempel. Daar word met die grootste vertroue verklaar dat hierdie land nooit iets anders sal kan word as wat dit was nie — die verdediger van godsdiensvryheid. Maar namate die saak van verpligte handhawing van die Sondag wyd en syd aangespoor word, kom die gebeurtenis wat so lank betwyfel is nader en die derde engel se boodskap sal ‘n uitwerking hê wat dit nie voorheen kon gehad het nie. GS 640.3

In elke geslag het God Sy diensknegte uitgestuur om die sonde in die wêreld en in die kerk te bestraf. Maar die mense wil strelende dinge hoor en die suiwer, naakte waarheid is onaanvaarbaar. Baie hervormers het in die aanvaarding van hulle werk besluit om groot versigtigheid aan die dag te lê in hul bestraffing van die sondes van die kerk en die volk. Hulle het gehoop om deur die voorbeeld van ‘n rein, Christelike lewe, die volk na die leerstellings van die Bybel terug te lei. Maar die Gees van God het op hulle gekom soos dit op Elia gekom het en hom beweeg het om die sondes van ‘n goddelose koning en ‘n afvallige volk te bestraf; hulle kon hulself nie daarvan weerhou om die duidelike uitsprake van die Bybel te verkondig nie, leerstellings wat hulle huiwerig was om aan te bied. Hulle was gedwonge om die waarheid en die gevaar wat siele bedreig, ywerig te verkondig Die woorde wat die Here aan hulle gegee het, het hulle sonder vrees vir die gevolge geuiter en die volk moes noodgedwonge die waarskuwing aanhoor. GS 641.1

So ook sal die boodskap van die derde engel verkondig word. Namate die tyd aanbreek dat dit met die grootste krag verkondig sal word, sal die Here deur nederige instrumente werk en die denke van diegene wat hulself aan Sy diens wy, lei. Die arbeiders sal eerder deur die salwing van Sy Heilige Gees kwalifiseer as deur die opleiding van literêre instellings. Manne van geloof en gebed sal genoodsaak voel om met heilige ywer voort te gaan en die woorde wat God aan hulle gee te verkondig. Die sondes van Babilon sal geopenbaar word. Die skrikwekkende gevolge om die nakoming van die gebruike van die kerk af te dwing, die intrede van spiritisme, die heimlike, maar vinnige vooruitgang van die pouslike mag, alles sal ontmasker word. Deur hierdie ernstige waarskuwings sal die mense wakker geskud word. Duisende der duisende, wat nog nooit woorde soos hierdie gehoor het nie, sal luister. Met verbasing sal hulle aanhoor dat Babilon die kerk is wat weens haar dwalinge en sondes geval het, omdat sy die waarheid wat uit die hemel aan haar gestuur is, verwerp het. Wanneer die mense na hulle vorige leraars gaan en gretig vra: “Is hierdie dinge so?” sal die predikante versinsels verkondig en hulle vrese en gewetes stil, deur vleiende dinge te profeteer. Maar omdat baie mense weier om tevrede met die blote gesag van mense te wees en op ‘n duidelike “So sê die Here,” aandring, sal die gewilde bediening, net soos die Fariseërs van ouds, met woede gevul wees omdat hulle gesag bevraagteken word, die boodskap afmaak dat dit van Satan afkomstig is en die sondeliefhebbende menigtes aanhits om diegene wat dit verkondig te belaster en te vervolg. GS 641.2

Namate die stryd na nuwe terreine uitbrei en die gemoedere van die mense op die vertrapte wet van God gevestig word, raak Satan baie bedrywig. Die krag wat met die verkondiging van die boodskap gepaard gaan, sal diegene wat daarteen gekant is, woedend maak. Die geestelikes sal byna bomenslike pogings aanwend om die lig uit te sluit, sodat dit nie op hul kuddes kan skyn nie. Deur elke middel onder hulle bevel, sal hulle poog om die bespreking van hierdie lewensbelangrike vrae te onderdruk. Die kerk sal hom op die sterk arm van die burgerlike gesag beroep en Katolieke en Protestante sal in hierdie werk verenig. Namate die beweging vir die verpligte handhawing van die Sondag meer waaghalsig en beslis word, sal die wet teen die onderhouers van die gebooie ingeroep word. Hulle sal met boete en gevangenisstraf gedreig word en sommiges sal posisies van invloed en belonings en voordele aangebied word as aansporing om hul geloof te verloën. Maar hulle standvastige antwoord is: “Oortuig ons van ons dwaling uit die Woord van God” — dieselfde pleidooi as wat Luther onder soortgelyke omstandighede gemaak het. Diegene wat voor die howe gedaag word, sal die waarheid sterk verdedig en sommige wat dit hoor, sal gelei word om standpunt in te neem om al die gebooie van God te onderhou. So sal die lig aan duisende gebring word wat andersins niks van hierdie waarhede sou geweet het nie. GS 642.1

Pligsgetroue gehoorsaamheid aan die Woord van God sal as opstand hanteer word. Verblind deur Satan, sal die ouer hardheid en wreedheid teenoor die gelowige kind uitoefen; die meester of meesteres sal die gebod-gehoorsame dienskneg verdruk. Liefde sal vervreem word; kinders sal onterf en uit die huis verdryf word. Die woorde van Paulus sal letterlik vervul word: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Tim 3:12). Aangesien die verdedigers van die waarheid weier om die Sondag-sabbat te eer, sal sommige van hulle in die gevangenis gewerp word, sommige sal verban word en ander sal as slawe hanteer word. Vir menslike wysheid lyk dit alles tans onmoontlik; maar namate die Gees van God van die mense onttrek word en hulle onder die beheer van Satan, wat die goddelike voorskrifte haat, kom, sal daar vreemde verwikkelinge plaasvind. Die hart kan baie wreed wees wanneer God se vrees en liefde verwyder word. GS 643.1

Namate die storm nader kom, sal ‘n groot klas wat vertroue in die boodskap van die derde engel het, maar nie deur gehoorsaamheid aan die waarheid geheilig is nie, hul posisie laat vaar en by die geledere van die opposisie aansluit. Deur te verenig en met die gees van die wêreld besiel te word, het hulle tot ‘n punt gekom waar hulle sake amper in dieselfde lig beskou; en wanneer die toets afgelê word, sal hulle bereid wees om die maklike, gewilde kant te kies. Talentvolle mense met ‘n innemende geaardheid wat hulle voorheen in die waarheid verheug het, sal hul kragte gebruik om siele te mislei en te bedrieg. Hulle sal die bitterste vyande van hul voormalige broers word. Wanneer die onderhouers van die Sabbat voor die howe gebring word om verantwoording vir hul geloof te doen, sal hierdie afvalliges die mees doeltreffendste agente van Satan wees om hulle vals voor te stel en te beskuldig en deur valse berigte en insinuasies, die owerheid teen hulle op te wek. GS 643.2

In hierdie tyd van vervolging sal die geloof van die diensknegte van die Here beproef word. Deur na God en na Sy Woord alleen te kyk, het hulle die waarskuwing getrou gegee. GS 644.1

Die Gees van God wat hulle harte beweeg het, het hulle gedwing om te praat. Met heilige ywer gestimuleer en met ‘n sterk Goddelike dryfkrag, het hulle hul pligte uitgevoer sonder ‘n koel berekening van die gevolge om aan die mense die woord wat die Here aan hulle gegee te verkondig. Hulle het nie hul tydelike belange opgeweeg en ook nie hul reputasie of lewens probeer beveilig nie. Maar, wanneer die storm van teenstand hulle oorweldig sal sommige, deur ontsteltenis oorweldig, bereid wees om uit te roep: “As ons die gevolge van ons woorde vooruit gesien het, sou ons geswyg het.” Hulle word van alle kante deur probleme ingesluit. Satan teister hulle met hewige versoekings. Die werk wat hulle aangepak het, blyk ver bokant hulle vermoë te wees. Hulle word met vernietiging gedreig. Die geesdrif wat hulle besiel het, is weg; tog kan hulle nie terugdraai nie. Dan, wanneer hulle ervaar hoe hulpeloos hulle is, vlug hulle na die Almagtige vir krag. Hulle onthou dat die woorde wat hulle gespreek het, nie van hulle afkomstig was nie, maar van Hom wat hulle beveel het om die waarskuwing te gee. God het die waarheid in hulle harte geplaas en hulle kon nie anders as om dit te verkondig nie. GS 644.2

Dieselfde beproewinge is al vir eeue lank deur die mense van God ervaar. Wycliffe, Huss, Luther, Tyndale, Baxter, en Wesley, het daarop aangedring dat alle leerstellings aan die Bybel getoets moet word en verklaar dat hulle alles wat deur die Bybel veroordeel word sou versaak. Met meedoënlose woede het vervolging teen hierdie manne gewoed; tog het hulle nie opgehou om die waarheid te verkondig nie. Verskillende tydperke in die geskiedenis van die kerk is gekenmerk deur die ontwikkeling van een of ander spesiale waarheid wat vir die noodsaaklikhede van God se volk op daardie stadium aangepas is. Elke nuwe waarheid het sy weg teen haat en opposisie gebaan; en diegene wat met die lig daarvan geseën is, is versoek en beproef. In tye van nood gee God aan Sy volk spesiale waarhede. Wie durf weier om sulke waarhede te verkondig? Hy beveel Sy diensknegte om die laaste uitnodiging van genade aan die wêreld voor te lê. Hulle kan nie sonder gevaar vir hul eie siele swyg nie. Christus se gesante het niks met die gevolge te doen nie. Hulle moet hul plig uitvoer en die gevolge aan God oorlaat. GS 644.3

Namate die teenstand tot heftiger hoogtes styg, raak die diensknegte van God opnuut verward; want dit kom vir hulle voor asof hulle die krisis laat ontstaan het. Maar hul gewete en die Woord van God verseker hulle dat hulle op die regte pad is; en hoewel die beproewings voortduur, ontvang hulle krag om dit te verduur. Die stryd kom nader en raak heftiger, maar hulle geloof en moed styg in verhouding soos die nood toeneem. Hulle getuig: “Ons durf nie met God se Woord peuter en Sy heilige wet verdeel deur een deel noodsaaklik en die ander onbelangrik te noem, om die guns van die wêreld te verkry nie. Die Here wat ons dien, is in staat om ons te verlos. Christus het die magte van die aarde oorwin; en sal ons bang wees vir ‘n wêreld wat reeds oorwin is?” GS 645.1

Vervolging in sy verskillende vorme is die ontwikkeling van ‘n beginsel wat sal bestaan vir solank as wat Satan bestaan en die Christendom lewensbelangrike mag het. Niemand kan God dien sonder om teenstand van die leërskare van die duisternis teen homself te ontketen nie. Bose engele sal hom aanval, bang dat sy invloed die prooi uit hul hande sal neem. Bose mense, bestraf deur sy voorbeeld, sal hulle met die bose engele verenig in ‘n poging om hom deur aanloklike versoekings van God te skei. As dit nie slaag nie, word ‘n dwingende mag aangewend om die gewete te dwing. GS 645.2

Maar vir solank Jesus as Middelaar in die hemelse heiligdom optree, sal die beherende invloed van die Heilige Gees deur heersers en die volk ervaar word. Dit beheer die landswette tot ‘n sekere mate. Was dit nie vir hierdie wette nie, sou die toestand van die wêreld baie erger gewees het as wat dit tans is. Terwyl baie van ons regeerders aktiewe werkkragte van Satan is, het God ook Sy werkkragte onder die leiers van die land. Die vyand beweeg sy diensknegte om maatreëls voor te stel wat die werk van God baie sal belemmer; maar staatsmanne wat die Here vrees, word deur heilige engele beïnvloed om sulke stellings met onweerlegbare argumente teë te staan. So sal ‘n paar manne die kragtige stroom van boosheid in toom hou. Die teenstand van die vyande van die waarheid sal ingeperk word, sodat die boodskap van die derde engel sy werk kan verrig. Wanneer die finale waarskuwing gegee word, sal dit die aandag van hierdie leiers deur wie die Here tans werk trek en sommige van hulle sal die boodskap aanvaar en saam met die volk van God in die tyd van benoudheid staan. GS 645.3

Die engel wat verenig met die aankondiging van die derde engel se boodskap, sal die hele wêreld met sy heerlikheid verlig. Hier word ‘n werk van wêreldwye omvang en ongekende krag voorspel. Die Advent-beweging van 1840-44 was ‘n heerlike manifestasie van die krag van God; die boodskap van die eerste engel is na elke sendingstasie in die wêreld oorgedra en in sommige lande was daar die grootste godsdienstige belangstelling wat nog ooit sedert die hervorming van die sestiende eeu in enige land gesien is; maar dit sal deur die magtige beweging onder die finale waarskuwing van die derde engel oortref word. GS 646.1

Die werk sal soortgelyk wees aan die van Pinksterdag. Net soos die “vroeë reën” tydens die uitstorting van die Heilige Gees aan die begin van die evangelie gegee is om die kosbare saad te laat ontkiem, so sal die “laat reën” aan die einde daarvan gegee word om die oes ryp te maak. “En laat ons ken — laat ons dit najaag om die Here te ken; Sy opgang is so seker soos die dagbreek en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.” (Hos 6:3). “En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die Here julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns soos voorheen.” (Joël 2:23). “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van My Gees uitstort op alle vlees ... En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Hand 2:17,21). GS 646.2

Die groot werk van die evangelie sal nie met ‘n geringer openbaring van die krag van God afgesluit word as met die aanvang daarvan nie. Die profesieë wat tydens die uitstorting van die vroeë reën met die aanvang van die evangelie vervul is, sal weer aan die einde daarvan met die laat reën vervul word. Hier is die “...die tye van verkwikking...” waarna Petrus uitgesien het toe hy gesê het: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus.” (Hand 3:19,20). GS 647.1

Dienaars van God, met hulle gesigte stralend en skitterend van heilige toewyding, sal hulle van plek tot plek haas om die boodskap uit die hemel te verkondig. Deur duisende stemme oor die ganse aarde, sal die waarskuwing gegee word. Wonderwerke sal verrig word, siekes sal genees word en tekens en wonders sal die gelowiges volg. Satan sal ook met leuenagtige wonders werk en hy sal selfs vuur uit die hemel voor die oë van die mense laat neerdaal. (Openb 13:13). Sodoende sal die aardbewoners beweeg word om standpunt in te neem. GS 647.2

Die boodskap sal nie soseer deur argumente oorgedra word, as deur die diepe oortuiging van die Gees van God nie. Die argumente is reeds aangevoer. Die saad is gesaai en nou sal dit opskiet en vrugte dra. Die publikasies wat deur sendingwerkers versprei is, het hul invloed laat geld, maar baie wat onder die indruk daarvan gekom het, is verhinder om die waarheid ten volle te begryp of te gehoorsaam. Nou sal die ligstrale orals deurdring en die waarheid sal in sy helderheid gesien word en die opregte kinders van God sal die bande wat hulle vasgehou het verbreek. Familie-betrekkinge en kerklike bande is magteloos om hulle langer vas te hou. Die waarheid is vir hulle kosbaarder as alle ander dinge. En ten spyte van die magte wat teen die waarheid verenig is, sal ‘n groot getal hul plek aan die kant van die Here inneem. GS 647.3