Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 37—Die Skrif as Beskerming
“Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie!” (Jes 8:20). Die volk van God word na die Skrif as beskerming teen die invloed van valse leraars en die misleidende krag van die geeste van duisternis gerig. Satan gebruik elke moontlike hulpmiddel om mense te verhoed om kennis van die Bybel op te doen; want die duidelike uitsprake daarvan maak sy misleiding openbaar. Met elke herlewing in die werk van God word die vors van die bose tot meer intensiewe aktiwiteit opgewek; hy wend tans sy uiterste pogings aan vir ‘n finale stryd teen Christus en Sy volgelinge. Die laaste groot bedrog sal binnekort voor ons ontvou. Die Antichris sal sy wonderwerke voor ons oë uitvoer. Die vervalsing van die waarheid sal so eg lyk dat dit onmoontlik sal wees om dit te onderskei, behalwe deur die Heilige Skrif. Elke verklaring en elke wonderwerk moet aan hul getuienis getoets word. GS 628.1
Diegene wat poog om al die gebooie van God te gehoorsaam, sal teëgestaan en bespot word. Hulle kan alleen in God staande bly. Om die beproewing voor hulle te kan verduur, moet hulle die wil van God soos in Sy Woord geopenbaar word verstaan; hulle kan Hom slegs eer as hulle ‘n korrekte begrip van Sy karakter, regering en voornemens het en daarvolgens optree. Niemand, behalwe diegene wat die verstand met Bybelse waarhede versterk het, sal in die laaste konflik staande bly nie. Elke siel sal voor die vraag te staan kom: Sal ek God eerder as die mens gehoorsaam? Die beslissende uur is op hande. Is ons voete op die rots van die onveranderlike Woord van God geplant? Is ons bereid om vas te staan ter verdediging van die gebooie van God en die geloof van Jesus? GS 628.2
Voor Sy kruisiging het die Heiland aan Sy dissipels verduidelik dat Hy gedood moes word en weer uit die graf moes opstaan en engele was teenwoordig om Sy woorde op hul verstand en harte te druk. Maar die dissipels was op soek na tydelike verlossing van die Romeinse juk en hulle kon die gedagte dat Hy, op wie al hul hoop gerig was, ‘n onheilspellende dood sou ly, nie verdra nie. Die woorde wat hulle moes onthou, is uit hul gedagtes verban; en toe die tyd van beproewing kom, was hulle onvoorbereid daarvoor. Die dood van Jesus het hulle hoop so volkome vernietig asof Hy hulle nooit vooraf gewaarsku het nie. In die profesieë, word die toekoms net so duidelik aan ons geopenbaar soos wat dit deur die woorde van Christus vir die dissipels geopenbaar is. Die gebeure wat verband hou met die afsluiting van die genadetyd en die voorbereidingswerk vir die tyd van benoudheid, word duidelik weergegee. Maar menigtes verstaan net so min van hierdie belangrike waarhede asof dit nooit geopenbaar is nie. Satan is waaksaam om elke indruk wat hulle wysheid tot verlossing sal gee vas te vang en die tyd van benoudheid sal hulle onverhoeds tref. GS 628.3
Wanneer God waarskuwings aan mense stuur wat so belangrik is dat hulle voorgestel word as engele wat te midde van die hemel vlieg om dit te verkondig, vereis Hy dat elke persoon met redenasievermoë, aan die boodskap gehoor sal gee. Die skrikwekkende oordeel wat teen die aanbidding van die dier en sy beeld uitgespreek is (Openb 14:9-11), behoort almal tot ‘n ywerige studie van die profesieë te lei, om te leer wat die merk van die dier is en hoe hulle kan voorkom dat hulle dit ontvang. Maar die massas wend hulle ore van die waarheid af en luister na versinsels. Die apostel Paulus het verklaar, terwyl hy vooruit gesien op die laaste dae: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie.” (2 Tim 4:3). Daardie tyd het reeds aangebreek. Die meerderheid wil nie Bybelse waarheid hê nie, omdat dit inmeng met die begeertes van ‘n sondige, wêreldgesinde hart; en Satan voorsien die misleiding wat hulle verkies. GS 629.1
Maar God sal ‘n volk op die aarde hê, wat op die Bybel en die Bybel alleen, as maatstaf van alle leerstellings en die grondslag van alle hervorming sal staan. Die menings van geleerde mense; die afleidings van die wetenskap; die geloofsbelydenisse en besluite van kerklike rade, net so talryk en uiteenlopend soos die kerke wat hulle verteenwoordig; die stem van die meerderheid - nie een, of almal van hierdie dinge, moet as bewys vir of teen enige geloofspunt beskou word nie. Voordat ons enige leerstelling of voorskrif aanvaar, moet ons ‘n duidelike “So sê die Here” as bewys daarvoor eis. GS 630.1
Satan poog voortdurend om die aandag op die mens in die plek van God te vestig. Hy lei die volk om na biskoppe, predikante en teologiese professore op te sien as hulle gidse, in plaas daarvan om die Skrif te ondersoek ten einde vir hulself te leer wat hul plig behels. Dan kan hy, deur die gedagtes van die leiers te beheer, die skare volgens sy wil beïnvloed. GS 630.2
Toe Christus die woorde van lewe kom spreek het, het die gewone mense graag na Hom geluister; en baie, selfs van die priesters en owerstes, het in Hom geglo. Maar die owerpriester en die leiers van die volk was vasbeslote om Sy leerstellings te veroordeel en te verwerp. Alhoewel hulle raadop was met al hul pogings om beskuldigings teen Hom te vind en alhoewel hulle nie anders kon as om die invloed van Goddelike mag en wysheid in Sy woorde te ervaar nie, het hulle hulself in vooroordeel omsluit; hulle het die duidelikste getuienis van Sy Messiasskap verwerp, anders sou hulle gedwing gewees het om Sy dissipels te word. Hierdie teenstanders van Jesus, was mense wie die volk van kleins af geleer is om te eerbiedig, voor wie se gesag hulle implisiet gewoond was om te buig. “Hoe is dit...” het hulle gevra, “...dat ons owerste en geleerde skrifgeleerdes nie in Jesus glo nie? Sou hierdie vrome manne Hom nie aanneem as Hy die Christus was nie?” Dit was die invloed van sulke leraars wat daartoe gelei het dat die Joodse nasie hul Verlosser verwerp het. GS 630.3
Die gees wat hierdie priesters en owerstes besiel het, word steeds deur baie mense wat ‘n hoë beroep op vroomheid maak, geopenbaar. Hulle weier om die getuienis van die Skrif aangaande die spesiale waarhede vir hierdie tyd te ondersoek. Hulle wys na hulle eie getalle, rykdom en gewildheid en kyk met minagting neer op die voorstanders van die waarheid, as die minderheid, arm en ongewild, met ‘n geloof wat hulle van die wêreld skei. GS 631.1
Christus het vooruit gesien dat die oordrewe aanname van gesag waarop die skrifgeleerdes en Fariseërs aanspraak gemaak het, nie met die verstrooiing van die Jode sou eindig nie. Hy het ‘n profetiese siening gehad van die werk om menslike gesag te verhef om die gewete te beheer, wat ‘n verskriklike vloek vir die kerk deur alle eeue was. En Sy vreesaanjaende veroordeling van die skrifgeleerdes en Fariseërs en Sy waarskuwings aan die volk om nie hierdie blinde leiers te volg nie, is as ‘n vermaning aan toekomstige geslagte opgeteken. GS 631.2
Die Roomse Kerk behou aan die geestelikes die reg voor om die Skrif te vertolk. Op grond van die feit dat kerklike magte bevoeg is om God se Woord te vertolk, word dit van die gewone mense weerhou. [Sien bylaag]. Alhoewel die Hervorming die Skrif aan almal beskikbaar gestel het, verhinder dieselfde beginsels wat deur Rome gehandhaaf word, menigtes in Protestantse kerke om self die Bybel te ondersoek. Hulle word geleer om die leerstellings van die Bybel te aanvaar soos dit deur die kerk geïnterpreteer word; en daar is duisende wat niks anders wat strydig met hul geloofsbelydenis of die gevestigde leer van hulle kerk is, hoe duidelik dit ook al in die Skrif geopenbaar word, durf aanvaar nie. GS 631.3
Ondanks die feit dat die Bybel vol waarskuwings teen valse leraars is, is baie bereid om die behoud van hul siel aan die geestelikes toe te vertrou. Daar is vandag duisende beweerde belyers van godsdiens wat geen ander rede vir hul geloof kan gee as dat hulle so deur hul godsdienstige leiers onderrig word nie. Die Heiland se leringe gaan byna ongemerk by hulle verby en hulle plaas implisiete vertroue in die woorde van die predikante. Maar is predikante onfeilbaar? Hoe kan ons ons siele aan hulle leiding toevertrou tensy ons uit die Woord van God weet dat hulle ligdraers is? ‘n Gebrek aan morele moed om die gebaande weë van die wêreld te verlaat, lei baie mense om op die spoor van geleerde mense te volg; en deur hulle onwilligheid om dinge vir hulself te ondersoek, raak hulle hopeloos in die kettings van dwaalleer vasgevang. Hulle sien dat die waarheid vir hierdie tyd duidelik in die Bybel geopenbaar word en hulle voel die krag van die Heilige Gees wat met die verkondiging daarvan gepaard gaan; tog laat hulle toe dat die teenstand van die geestelikes hulle van die lig wegkeer. Al is die rede en die gewete oortuig, durf hierdie misleide siele nie anders as hulle predikante dink nie; en hulle individuele oordeel en hul ewige belange, word aan die ongeloof, trots en vooroordeel van ‘n ander geoffer. GS 631.4
Daar is baie maniere waarop Satan deur menslike invloede werk om sy gevangenes te bind. Hy verbind menigtes aan homself deur hulle met sydrade van liefde te heg aan die vyande van die kruis van Christus. Wat hierdie bande ook al behels, hetsy ouerliefde, filiaal, huweliksbande of sosiaal, die uitwerking is dieselfde; die teëstanders van die waarheid oefen hulle mag uit om die gewete te beheer en die siele wat onder hulle heerskappy is, het nie genoeg moed of onafhanklikheid om hul eie oortuiging van plig te gehoorsaam nie. GS 632.1
Die waarheid en heerlikheid van God is onafskeidbaar; dit is onmoontlik vir ons, met die Bybel binne ons bereik, om God deur verkeerde opinies te eer. Baie beweer dat dit nie saak maak wat iemand glo nie, solank sy lewe reg is. Maar die lewe word deur geloof gevorm. As lig en waarheid binne ons bereik is en as ons nalaat om die voorreg om dit te hoor en te sien te bevorder, verwerp ons dit feitlik; ons kies die duisternis eerder as die lig. GS 632.2
“Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” (Spr 16:25). Onkunde is geen verskoning vir dwaalleer of sonde wanneer daar alle geleentheid is om die wil van God te ken nie. Veronderstel dat ‘n man op reis is en ‘n plek bereik waar daar verskeie uitdraaipaaie is, met ‘n behoorlike padwyser wat aandui waarheen elke pad lei, as hy die padwyser verontagsaam en enige pad kies wat vir hom reg lyk, al is hy ook hoe opreg, sal hy waarskynlik op die verkeerde pad wees. GS 633.1
God het ons sy Woord gegee sodat ons met die leerstellings daarvan vertroud kan raak en self kan weet wat Hy van ons verlang. Toe die regsgeleerde na Jesus met die vraag gekom het: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (Luk 18:18), het die Heiland hom na die Skrif verwys en gesê: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (Luk 10:26). Onkunde sal nie jonk of oud verskoon nie en hulle sal ook nie van die straf van oortreding van God se wet vrygestel wees nie; want daar is in hulle hande ‘n getroue weergawe van daardie wet en van die beginsels en aansprake daarvan. Dit is nie genoeg om, wat ‘n mens dink reg is, of wat die predikant vir hom sê is reg, te doen nie. Sy siel se redding is op die spel en hy moet die Skrif vir homself ondersoek. Hoe sterk sy oortuigings ook al mag wees, hoe vol vertroue hy ook mag wees dat die predikant weet wat die waarheid is, dit is nie sy fondasie nie. Hy het ‘n kaart wat elke rigting op reis na die hemel aandui en hy moet oor niks raai nie. GS 633.2
Dit is die eerste en hoogste plig van elke rasionele wese om uit die Skrif te leer wat die waarheid is en dan in die lig daarvan te wandel en ander aan te moedig om sy voorbeeld te volg. Ons moet die Bybel elke dag ywerig bestudeer, elke gedagte opweeg en die skrif met die skrif vergelyk. Met Goddelike hulp moet ons ons eie opinies vorm, waarvoor ons self aan God rekenskap sal moet gee. GS 633.3
Die duidelikste waarhede in die Bybel is deur geleerde mense betwyfel en in duisternis gehul, wat met die voorwendsel van groot wysheid leer dat die Skrif ‘n mistieke, geheime en geestelike betekenis het wat nie in die taal wat gebruik word sigbaar is nie. Hierdie mense is valse leraars. Dit was aan hierdie klas wat Jesus gesê het: “Julle dwaal deurdat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie.” (Mark 12:24). Die taal van die Bybel moet volgens die duidelike betekenis daarvan vertolk te word, tensy ‘n simbool of figuur gebruik word. Christus het die belofte gegee dat “...as iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet...” (Joh 7:17). As ‘n mens net die Bybel soos dit lees sou aanneem en as daar geen valse leraars was om hulle verstand te mislei en te verwar nie, sou ‘n werk verrig word wat die engele sou verbly en wat duisende der duisende wat tans dwaal, in die kraal van Christus sou inbring. GS 634.1
Ons moet al ons verstandelike kragte vir die bestudering van die Skrif inspan en moet ons beywer om, sover dit moontlik vir sterflinge is, die diep dinge van God te begryp; tog moet ons nie vergeet dat die toegewydheid en onderwerping van ‘n kind, die ware gees van die leerder moet wees nie. Skriftuurlike probleme kan nooit op dieselfde wyse as filosofiese vraagstukke oorkom word nie. Ons moet nie die Bybel bestudeer met die selfvertroue waarmee so baie die wetenskaplike gebied betree nie, maar met ‘n biddende afhanklikheid van God en ‘n opregte begeerte om Sy wil te ken. Ons moet met ‘n nederige en leerbare gees kom om kennis van die groot EK IS te verkry. Andersins sal bose engele ons verstand so verblind en ons harte so verhard, dat die waarheid geen indruk op ons sal maak nie. GS 634.2
Baie van die Skrifgedeeltes wat geleerde mense as verborgenhede beskou, of as onbelangrik oorslaan, is vol vertroosting en onderrig vir hom wat in die skool van Christus geleer het. Een van die redes waarom baie teoloë geen duideliker begrip van die Woord van God het nie, is omdat hulle hul oë vir waarhede wat hulle nie wil gehoorsaam nie, sluit. ‘n Begrip van Bybelse waarheid hang nie soseer af van intellektuele krag wat aangewend word nie, maar van enkelheid van doel en ‘n ernstige verlange na geregtigheid. GS 634.3
Die Bybel moet nooit sonder gebed bestudeer word nie. Die Heilige Gees alleen kan die belangrikheid van dinge vir ons maklik verstaanbaar maak, of ons verhinder om waarhede wat moeilik is om te verstaan, te verdraai. Dit is die werk van hemelse engele om die hart voor te berei om die Woord van God so te begryp, sodat ons met die skoonheid daarvan bekoor sal word, gemaan word deur die waarskuwings en om deur die beloftes daarvan besiel en versterk te word. Ons moet die versoek van die psalmis ons eie maak: “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit U wet.” (Ps 119:18). Versoekings lyk dikwels onweerstaanbaar omdat die een wat versoek is, weens verwaarlosing van gebed en die ondersoek van die Woord van God, nie die beloftes van God kan onthou en Satan met Skriftuurlike wapens kan konfronteer nie. Maar engele rondom diegene wat bereid is om in Goddelike dinge onderrig te word; en in die tyd van groot nood sal hulle daardie waarhede wat nodig is, in herinnering roep. So sal, wanneer die vyand soos ‘n vloed instroom, die Gees van die Here ‘n vaandel teen hom ophef. GS 635.1
Jesus het Sy dissipels belowe: “Maar die Trooster, die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh 14:26). Maar die leringe van Christus moet reeds vroeër in die verstand ingeprent word, sodat die Gees van God dit, in tye van gevaar, in herinnering kan bring. “Ek het U Woord in my hart gebêre...” het Dawid gesê, “...dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Ps 119:11). GS 635.2
Almal wat hulle ewige belange waardeer, moet op hul hoede teen die intrede van skeptisisme wees. Selfs die pilare van waarheid sal aangeval word. Dit is onmoontlik om buite die bereik van sarkasme, drogredes en die verraderlike pes van leerstellings van moderne ongeloof te bly. Satan pas sy versoekings by alle klasse aan. Hy val die ongeletterdes met ‘n gespot en gesmaal aan, terwyl hy die geleerdes ontmoet met wetenskaplike besware en filosofiese redenasies, wat bereken word om wantroue of minagting vir die Skrif op te wek. Selfs jongmense met min ervaring matig hulle aan om twyfel in die grondbeginsels van die Christelike geloof te insinueer. En hierdie jeugdige ongeloof, vlak soos dit is, het ‘n nadelige invloed. So word baie gelei om met die geloof van hulle vaders die spot te dryf en die Gees van Genade te smaad. (Heb 10:29). Baie lewens wat beloof ‘n eer aan God en ‘n seën vir die wêreld in te hou, is deur die slegte asem van ongeloof besmet. Almal wat op die spoggerige besluite van die menslike rede vertrou en dink dat hulle Goddelike verborgenhede, kan verklaar en tot die waarheid kan kom, sonder die bystand van die wysheid van God, word in die strikke van Satan gevang. GS 635.3
Ons lewe in die mees plegtigste tydperk van hierdie wêreld se geskiedenis. Die lot van die aarde se wemelende miljoene sal binnekort beslis word. Ons eie toekomstige welstand, asook die saligheid van ander siele, hang af van die weg wat ons tans volg. Ons moet deur die Gees van waarheid gelei word. Elke volgeling van Christus behoort ernstig te vra: “Here wat wil U hê moet ek doen?” Ons moet ons met vas en gebed voor die Here verootmoedig en baie oor sy Woord peins, veral oor die tonele van die oordeel. Ons moet nou na ‘n diep en lewende ervaring in die dinge van God soek. Ons het nie ‘n oomblik om te verloor nie. Gebeurtenisse van lewensbelang vind rondom ons plaas; ons is op Satan se betowerde grond. Moenie slaap nie, wagters van God; die vyand skuil in die nabyheid, gereed om, indien jy sou laks word en sluimer, enige oomblik toe te slaan, om jou sy prooi te maak. GS 636.1
Baie mense word aangaande hulle ware toestand voor God mislei. Hulle wens hulself geluk met die verkeerde dade wat hulle nie gedoen het nie, maar vergeet van die goeie en edele dade wat God van hulle vereis, wat hulle nie nagekom het nie. Dit is nie genoeg dat hulle bome in die tuin van God is nie. Hulle moet aan Sy verwagting voldoen deur vrug te dra. Hy hou hulle verantwoordelik vir hulle versuim om al die goeie dinge te bereik wat hulle kon bereik het omdat Sy genade hulle versterk het. In die boeke van die Hemel word hulle aangeteken as ‘n las vir die grond. Tog is die geval van selfs hierdie klas nie heeltemal hopeloos nie. Die lankmoedige Hart van liefde pleit steeds by diegene wat God se barmhartigheid geminag het en Sy genade misbruik het. “Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap en staan op uit die dode en Christus sal oor jou skyn. Pas dan op dat julle nougeset wandel ... en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” (Efe 5:14-16). GS 636.2
Wanneer die tyd vir die toets aanbreek, sal diegene wat die Woord van God hulle lewensreël gemaak het, geopenbaar word. In die somer is daar geen merkbare verskil tussen die immergroenen die ander bome nie; maar wanneer die winter aanbreek, bly die immergroen bome onveranderd terwyl die ander bome van hul blare ontsier is. So ook kan die leuenagtige belyer nie nou van die ware Christen onderskei word nie, maar die tyd is op hande wanneer die verskil duidelik sal blyk. Laat daar teenstand wees, laat dweepsug en onverdraagsaamheid weer heers, laat vervolging weer ontketen word en die halfhartige en skynheilige sal wankel en hul geloof versaak; maar die ware Christen sal vasstaan soos ‘n rots, sy geloof sterker en sy hoop helderder as in die dae van voorspoed. GS 637.1
Die psalmis sê: “U getuienisse is my bepeinsing ... Uit U bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.” (Ps 119:99,104). GS 637.2
“Gelukkig die mens wat wysheid vind.” (Spr. 3:13). “Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” (Jer 17:8). GS 637.3