Die Groot Stryd (1911)

36/44

Hoofstuk 34—Kan die Afgestorwenes Met Ons Kommunikeer?

Die bediening van heilige engele, soos in die Skrif uiteengesit, is ‘n mees vertroostende en kosbare waarheid vir elke volgeling van Christus. Maar die leer van die Bybel op hierdie punt is deur dwalings van die algemene teologie verduister en verdraai. Die leerstelling van natuurlike onsterflikheid, die eerste keer ontleen van die heidense filosofie en in die duisternis van die groot afvalligheid wat in die Christelike geloof opgeneem is, het die waarheid wat so duidelik in die Skrif geleer word, dat “...die dooies weet glad niks nie...” (Pred. 9:5), verdraai. Menigtes het tot die geloof gekom dat die geeste van die afgestorwenes “...dienende geeste [is] wat vir diens uitgestuur word terwille van die wat die saligheid sal beërwe.” En dit, nieteenstaande die getuienis van die Skrif oor die bestaan van hemelse engele en hul verband met die geskiedenis van die mens voordat die dood van die mens ingetree het. GS 583.1

Die doktrine dat die mens sy bewussyn in die dood behou en veral die geloof dat die geeste van die afgestorwenes terugkeer om die lewendes te dien, het die weg vir moderne spiritisme voorberei. As die dode in die teenwoordigheid van God en die heilige engele toegelaat word en meer kennis verkry as wat hulle ooit voorheen gehad het, waarom sou hulle nie na die aarde terugkeer om die lewendes te verlig en te onderrig nie? As die geeste van die afgestorwenes oor hul vriende op aarde sweef, soos deur baie teoloë geleer word, waarom sou hulle dan nie toegelaat word om met hulle te kommunikeer nie, hulle teen kwaad te waarsku, of om hulle in hul hartseer te vertroos nie? Hoe kan diegene wat glo dat die mens sy bewussyn in die dood behou, die dinge wat deur verheerlikte geeste, as Goddelike lig aan hulle oorgedra word, verwerp? Hier is ‘n kanaal wat as heilig beskou word, waardeur Satan werk om sy doel te bereik. Die gevalle engele wat sy bevele uitvoer, verskyn as boodskappers uit die geesteswêreld. Terwyl hy beweer dat hy die lewende in aanraking met die afgestorwenes bring, oefen die vors van duisternis sy betowerende invloed op hulle verstand uit. GS 583.2

Hy besit die mag om hul ontslape vriende aan mense te laat verskyn. Hierdie vervalsing is volmaak; die bekende voorkoms, die woorde, die buiging in die stemtoon, word met wonderbaarlike juistheid weergegee. Baie word vertroos met die versekering dat hul geliefdes die hemelse geluksaligheid van die hemel geniet en sonder enige gewaarwording van gevaar, luister hulle na die “...verleidende geeste en leringe van duiwels.” GS 584.1

Wanneer hulle gelei word om te glo dat die afgestorwenes werklik terugkeer om met hulle te praat, laat Satan diegene wat onvoorbereid in die graf ingegaan het, verskyn. Hulle gee voor dat hulle gelukkig in die hemel is selfs verhewe posisies daar beklee en die dwaling word op hierdie wyse wyd versprei dat daar geen onderskeid tussen die regverdiges en goddeloses getref word nie. Die sogenaamde besoekers uit die geesteswêreld spreek soms waarskuwings wat waar blyk te wees uit. Dan, wanneer vertroue gewen is, bied hulle leerstellings aan wat geloof in die Skrif regstreeks ondermyn. Met ‘n skyn van diep belangstelling in die welstand van hul vriende op aarde, insinueer hulle die mees gevaarlikste dwalinge. Die feit dat hulle sekere waarhede en soms toekomstige gebeure kan voorspel, gee ‘n skyn van betroubaarheid aan hul uitsprake; en hul valse leringe word net so geredelik deur die meerderheid aanvaar en implisiet geglo, asof dit die heiligste waarhede van die Bybel is. Die wet van God word ter syde gestel, die Gees van genade verag en die bloed van die verbond as onheilig beskou. Die geeste ontken die Godheid van Christus en hulle plaas die Skepper selfs op gelyke vlak met hulleself. Aldus, onder ‘n nuwe vermomming, gaan die groot rebel steeds voort met sy oorlogvoering teen God, wat in die hemel begin het en vir byna sesduisend jaar op die aarde voortduur. GS 584.2

Baie mense poog om spiritistiese verskynsels aan bedrog en goëltoertjies van die medium toe te skryf. Maar, hoewel dit waar is dat resultate van bedrieërs dikwels as ware manifestasies beskou is, was daar ook duidelike vertonings van bonatuurlike krag. Die geheimsinnige geklop waarmee hedendaagse spiritisme begin het, was nie die gevolg van menslike bedrog of sluheid nie, maar was die regstreekse werk van bose engele wat op hierdie wyse een van die suksesvolste sielsvernietigende dwalings ingestel het. Baie sal deur die oortuiging dat spiritisme blote menslike bedrog is verstrik raak. Wanneer hulle van aangesig tot aangesig met die manifestasies wat hulle nie anders kan as om bonatuurlik te beskou nie, gebring word, sal hulle mislei word om dit as die groot krag van God te aanvaar. GS 585.1

Hierdie persone sien nie die getuienis van die Skrif aangaande die wonders wat deur Satan en sy werktuie verrig word raak nie. Dit was deur sataniese hulp dat die towenaars van Farao in staat gestel was om die werk van God na te maak. Paulus getuig dat daar voor die wederkoms van Christus soortgelyke openbarings van sataniese mag sal wees. Die wederkoms van die Here sal voorafgegaan word deur “...die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid.” (2 Thes 2:9,10). En in sy beskrywing van die wonderwerkende krag wat in die laaste dae geopenbaar sal word, verklaar die apostel Johannes: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is ... te doen.” (Openb 13:13,14). Dit is nie blote bedrog wat hier voorspel word nie. Die mense word deur wonderwerke waaroor Satan se werkkragte die mag besit om uit te voer, mislei en nie deur wat hulle voorgee om te doen nie. GS 585.2

Die vors van die duisternis wat so lank reeds die mag van sy meesterbrein vir die werk van misleiding aangewend het, pas sy versoekinge met behendigheid by alle klasse en toestande aan. Aan persone van kultuur en verfyning stel hy spiritisme in sy meer verfynde en intellektuele aspekte voor en slaag hy daarin om baie in sy strik te vang. Die wysheid wat deur spiritisme verleen word, word deur die apostel Jakobus beskryf dat: “Dít is nie die wysheid wat van Bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels...” (Jak 3:15.) Dit verberg egter die groot bedrieër wanneer dit hom pas. Hy wat in die woestyn van versoeking, bekleed met die helderheid van die hemelse serafs voor Christus kon verskyn, kom op die mees aantreklikste manier na die mens as ‘n engel van lig. Hy doen ‘n beroep op die rede deur die aanbieding van verheffende temas; hy behaag die verbeelding met betowerende tonele; en hy doen ‘n beroep op die geneenthede deur sy welsprekende uitbeeldings van liefde en liefdadigheid. Hy wek die mense op tot hoë verbeeldingsvlugte, wat daartoe lei dat hulle so trots op hul eie wysheid is, dat hulle die ewige God in hul harte verag. Hierdie magtige wese wat die Verlosser van die wêreld na ‘n buitengewoon hoë berg kon neem en al die koninkryke van die aarde en die heerlikheid daarvan voor Hom kon laat verbygaan, sal sy versoekings aan mense voorlê op ‘n wyse wat die sintuie van almal wat nie deur Goddelike mag beskerm word nie, sal verdraai. GS 586.1

Satan verlei mense vandag net soos hy Eva in Eden verlei het deur vleiery, deur ‘n begeerte om verbode kennis op te doen aan te wakker en deur opwindende ambisie vir selfverheffing. Dit was die koestering van hierdie euwels wat sy val veroorsaak het en om die ondergang van mense te bewerk. Julle sal soos God wees deur goed en kwaad te ken, het hy gesê. (Gen 3:5). Spiritisme leer dat die mens ‘n progressiewe wese is; dat dit sy bestemming is om van sy geboorte af tot in ewigheid te vorder tot godheid. En verder, dat elke verstand oor homself sal oordeel en nie ‘n ander nie. Die oordeel sal korrek wees, omdat dit ‘n oordeel oor self is. Die troon is binne-in jou. ‘n Spiritisteleraar, toe sy “geestelike bewussyn” in hom opgewek is, het gesê: “My medemense was almal ongevalle halfgode. En ‘n ander een het verklaar: “Enige regverdige en volmaakte wese is Christus.” GS 586.2

So het Satan dus die plek van die geregtigheid en volmaaktheid van die ewige God, die ware voorwerp van aanbidding, die plek van die volmaakte geregtigheid van Sy wet, die ware maatstaf van die mens, met die sondige, dwalende aard van die mens self vervang as die enigste voorwerp van aanbidding, die enigste reël van oordeel of maatstaf van karakter. Dit is nie opwaartse vordering nie maar afwaarts. GS 587.1

Dit is ‘n wet van beide die intellektuele en geestelike aard dat deur te aanskou, ons verander word. Die verstand pas hom geleidelik aan by die onderwerpe wat hy toegelaat word om te bepeins. Dit word gelykgestel aan waaraan dit gewoond is om te koester en te eerbiedig. Die mens sal nooit hoër styg as sy maatstaf van reinheid, goedheid, of waarheid nie. As die eie-ek sy hoogste ideaal is, sal hy nooit iets hoër bereik nie. Inteendeel, hy sal voortdurend laer en laer sink. Slegs die genade van God het mag om die mens te verhef. Aan homself oorgelaat, sal sy gang onvermydelik afwaarts sink. GS 587.2

Vir die selfbevredigende, genotsugtige, wellustige mense kom spiritisme in ‘n minder subtiele vermomming voor as vir die meer verfynde en intellektuele persoon; hulle vind dit wat in ooreenstemming met hul neigings is, in die growwer vorms. Satan bestudeer elke aanduiding van swakheid in die menslike natuur en hy neem waar wat se sonde elke individu geneig is om te pleeg en dan sorg hy vir voldoende geleentheid om die neiging tot sonde te bevredig. Hy verlei mense tot onmatigheid in dinge wat op sigself wettig is, sodat hulle deur onbeheerstheid hulle liggaamlike, geestelike en morele kragte verswak. Hy het en vernietig steeds duisende deur hul toegewing aan hartstogte en het sodoende die hele natuur van die mens te verdierlik. En om sy werk te voltooi, verklaar hy deur geeste dat “...ware kennis die mens bokant die wet plaas;” en dat “...wat is, is reg;” dat “...God nie veroordeel nie...” en dat “...alle sondes wat gepleeg word, onskuldig is.” As die mens dus gelei word om te glo dat begeerte die hoogste wet is, dat losbandigheid vryheid beteken en dat die mens slegs aan homself verantwoordelik is, is dit geen wonder dat verdorwenheid en aftakeling aan alle kante gesien word nie. Menigtes neem met gretigheid leringe aan wat hulle vrylaat om die aanmoedigings van die vleeslike hart te gehoorsaam. Die leisels van selfbeheer word op die nek van wellus gelê, die krag van die verstand en siel word aan die dierlike neigings onderwerp en Satan vang triomfantlik duisende wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is in sy net. GS 587.3

Maar niemand hoef deur die leuenagtige bewerings van spiritisme mislei te word nie. God het genoeg lig aan die wêreld gegee om hom in staat te stel om hierdie valstrik te bespeur. Soos reeds aangetoon is, is die teorie wat die grondslag van spiritisme vorm, in stryd met die duidelikste Skrifuitsprake. Die Bybel verklaar dat die dooies niks weet nie en dat hulle gedagtes vergaan het; dat hulle geen deel het aan enigiets wat onder die son gebeur nie; hulle weet niks van die vreugde of hartseer van diegene wat vir hulle die dierbaarste op aarde was nie. GS 588.1

Verder, het God alle sogenaamde kommunikasie met die geeste van afgestorwenes uitdruklik verbied. In die dae van die Hebreërs was daar ‘n groep mense wat beweer het, net soos spiritiste vandag, dat hulle met die dooies kommunikeer. Maar die “geeste van afgestorwenes,” soos hierdie besoekers van die geesteswêreld genoem word, is volgens die Bybel “...geeste van duiwels...” (Vergelyk Lev 19:31; Ps 106:28; 1 Kor 10:20; Openb 16:14.) Om met die geeste van afgestorwenes om te gaan, was ‘n gruwel vir die Here en was streng, onder straf van die dood, verbied. (Lev 19:31; 20:27.) Die blote benaming heksery word tans met minagting bejeën. Die bewering dat mense met bose geeste kan praat, word as ‘n fabel van die Donker Eeue beskou. Maar spiritisme het honderde duisende aanhangers, eintlik miljoene en het selfs wetenskaplike kringe en kerke binnegedring en guns onder beheerliggame en selfs koninklike howe gevind — hierdie reuse bedrog is slegs ‘n herlewing, in ‘n nuwe vermomming, van die heksery van ouds wat veroordeel en verbied is. GS 588.2

Al was daar geen ander bewyse van die ware aard van spiritisme nie, behoort dit vir Christene genoeg te wees dat die geeste geen verskil maak tussen geregtigheid en sonde, tussen die edelste en reinste apostels van Christus en die mees korrupte dienaars van Satan nie. Deur voor te stel dat die mees laagste mense in die hemel is en daar hoog verhewe is, sê Satan aan die wêreld: “Dit maak nie saak hoe sleg jy is nie; en of jy God en die Bybel glo of nie. Lewe soos jy wil; die hemel is jou tuiste.” Die spiritistiese leraars sê feitlik: “Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here en in hulle het Hy ‘n behae; of waar is anders die God van die reg?” (Mal 2:17). Die woord van God sê: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak, en die lig duisternis.” (Jes 5:20). GS 589.1

Die apostels, soos verpersoonlik deur hierdie leuenagtige geeste weerspreek dit wat hulle, terwyl hulle op die aarde was, deur die ingewing van die Heilige Gees geskryf het. Hulle ontken die Goddelike oorsprong van die Bybel en vernietig daardeur die grondslag van die Christen se hoop en doof die lig wat die weg na die hemel wys, uit. Satan laat die wêreld glo dat die Bybel blote fiksie is, of ‘n boek wat by die kinderjare van die ras pas, maar dat dit ligtelik opgeneem moet word, of as verouderd verwerp moet word. En hy hou spiritistiese manifestasies in die plek van die Woord van God voor. Hier is ‘n kanaal wat totaal onder sy beheer is; op hierdie wyse kan hy die wêreld laat glo wat hy wil. Die Boek wat hom en sy volgelinge veroordeel, plaas hy in die skaduwee, presies waar hy dit wil hê; hy maak die Verlosser van die wêreld uit as ‘n gewone mens. En net soos die Romeinse wag by die graf van Christus leuenagtige gerugte versprei het wat die priesters en owerstes in hulle mond gelê het om Sy opstanding te weerlê, so probeer diegene wat in spiritistiese verskynsels glo, dit te laat blyk dat daar niks wonderbaarliks aan die omstandighede van ons Heiland se lewe is nie. Nadat hulle sodoende gepoog het om Jesus op die agtergrond te skuif, vestig hulle die aandag van mense op hul eie wonderwerke en verklaar dat dit die werke van Christus ver oortref. GS 589.2

Dit is waar dat spiritisme tans van gedaante wissel en dat dit ‘n Christelike voorkoms aanneem om sommige van die meer afstootlike kenmerke daarvan te bedek. Maar die uitlatings vanaf platforms en die pers is reeds vir baie jare aan die publiek bekend en hierin word die ware karakter daarvan ontbloot. Hierdie leerstellings kan nie ontken of weggesteek word nie. GS 590.1

Selfs in huidige vorm, is dit, ver van meer aanvaarbaar as voorheen te wees, werklik meer gevaarlik omdat dit ‘n meer subtiele misleiding is. Waar dit voorheen Christus en die Bybel verwerp het, gee dit tans voor om albei te aanvaar. Maar die Bybel word op ‘n wyse vertolk wat dit aanvaarbaar vir die onbekeerde hart maak, terwyl die plegtige en belangrike waarhede daarvan van nul en gener waarde gemaak word. GS 590.2

Liefde word as die hoof kenmerk van God beskou, maar dit word afgekraak tot soetsappige sentimentalisme en maak weinig onderskeid tussen goed en kwaad. Die geregtigheid van God, Sy veroordeling van sonde en die vereistes van Sy heilige wet word bedek. Die mense word geleer om die Dekaloog as dooie brief te beskou. Aangename, betowerende verdigsels boei die sinne en lei daartoe dat mense die Bybel as die grondslag van hul geloof verwerp. Christus word net so gewis soos voorheen verloën; maar Satan het die oë van die mense so verblind dat hulle nie die misleiding kan raaksien nie. GS 590.3

Daar is min mense wat ‘n ware besef van die misleidende krag van spiritisme en die gevaar om onder die invloed daarvan te kom, besef. Baie mense bemoei hulle uit blote nuuskierigheid daarmee. Hulle glo nie werklik daarin nie en die gedagte dat hulle hul aan die beheer van geeste oorgee, sou hulle met afgryse vervul. Maar hulle beweeg op verbode terrein en die magtige vernietiger oefen sy mag teen hulle wil, oor hulle uit. As hulle net eenkeer oorgehaal kan word om hulle gedagtes aan sy leiding te onderwerp, hou hy hulle gevange. Dit is onmoontlik om in hul eie krag van die betowerende, aanloklike spel weg te breek. Niks behalwe die krag van God, wat deur die ernstige gebed van geloof verleen word, kan hierdie verstrengelde siele verlos nie. GS 591.1

Almal wat aan sondige eienskappe van karakter toegee, of ‘n bekende sonde opsetlik koester, nooi die versoekings van Satan uit. Hulle skei hulle van God en van die waaksaamheid van Sy engele; wanneer die bose sy misleiding voorhou, is hulle sonder verdediging en word ‘n maklike prooi. Diegene wat hulself sodoende in sy mag plaas, het min besef van waar hierdie weg sal eindig. Nadat hy hulle ondergang bewerk het, sal die versoeker hulle as sy werktuie gebruik om ander tot ondergang te lok. GS 591.2

Die profeet Jesaja sê: “As hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie? moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en na die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie!” (Jes 8:19, 20). As mense net so bereid was om die waarheid aangaande die aard van die mens en die toestand van die dooies, wat so duidelik in die Skrif uiteengesit word, te aanvaar, sou hulle die werking van Satan met krag en tekens en wonders van die leuen in die aansprake en verskynsels van spiritisme sien. Maar in plaas daarvan om die vryheid wat so aanneemlik vir die vleeslike hart is te verloën en sondes wat hulle koester te laat vaar, sluit menigtes hul oë vir die lig en, ongeag waarskuwings, gaan hulle voort, terwyl Satan sy strikke vir hulle stel en hulle sy prooi word. “Omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie...” daarom “...sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.” (2 Thes 2:10,11). GS 591.3

Diegene wat die leerstellings van spiritisme teëstaan, val nie slegs mense nie, maar Satan en sy engele aan. Hulle het in ‘n stryd met die owerhede en magte en teen bose geeste in die lug betree. Satan sal nie een sentimeter grond prysgee tensy hy deur die mag van hemelse boodskappers teruggedryf word nie. Die volk van God moet hom, net soos ons Verlosser, met die woorde: “Daar is geskrywe...” weerstaan. Satan kan tans, net soos in die tyd van Christus, die Skrif aanhaal en hy sal die leringe daarvan verdraai om sy dwalings te handhaaf. Diegene wat in tye van gevaar staande wil bly, moet self die getuienis van die Skrif verstaan. GS 592.1

Baie sal met die geeste van duiwels, wat hulself as geliefde familielede of vriende voordoen en die gevaarlikste dinge verkondig, gekonfronteer word. Hierdie besoekers sal ‘n beroep op ons teerste gevoelens doen en wonderwerke verrig om dit wat hulle voorgee te handhaaf. Ons moet gereed wees om hulle met die Bybelse waarheid te weerstaan, dat die dooies niks weet nie en dat diegene wat op hierdie wyse verskyn, die geeste van duiwels is. GS 592.2

“Die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel...” (Openb 3:10) is voor ons. Almal wie se geloof nie in die Woord van God gevestig is nie, sal mislei en oorwin word. Satan werk “...met allerhande verleiding van ongeregtigheid...” om beheer oor die mensekinders te verkry en sy misleiding sal voortdurend toeneem. Maar hy sal slegs sy doel bereik as mense vrywilliglik aan sy versoekings toegee. Diegene wat ernstig op soek is na kennis van die waarheid en daarna streef om hul siele deur gehoorsaamheid te reinig en sodoende te doen wat hulle kan om hulself vir die stryd voor te berei, sal in die God van die waarheid ‘n gewisse verdediging vind. “Omdat jy die woord van My lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar...” is die belofte van die Heiland aan ons (Openb 3:10). Hy sal eerder elke engel uit die hemel stuur om Sy volk te beskerm, as om een siel wat op Hom vertrou, oor te laat om deur Satan oorwin te word. GS 592.3

Die profeet Jesaja beskryf die groot misleiding wat oor die goddelose sal kom en hulle sal lei om te glo dat hulle veilig van die oordele van God is: “Ons het ‘n verbond met die dood gesluit en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan; as die golwende gesel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek.” (Jes. 28:15). Onder die klas wat hier beskryf word, word ook diegene wat in hulle hardnekkige onboetvaardigheid hulself met die versekering troos dat daar geen straf vir die sondaar sal wees nie ingesluit; dat die ganse mensdom, ongeag hoe korrup hulle is, tot die hemel verhef sal word om soos die engele van God te word. Maar nog meer nadruklik, is diegene wat ‘n verbond met die dood en ‘n ooreenkoms met die hel sluit, wat die waarhede wat die hemel as verdediging vir die regverdiges in die dag van benoudheid voorsien het te versaak en toevlug tot die leuens wat deur Satan in die plek daarvan aangebied word te neem, naamlik die misleidende aansprake van spiritisme. GS 593.1

Die blindheid van die mense van hierdie generasie is onbeskryflik. Duisende verwerp die Woord van God as onwaardig om te glo en aanvaar met gretige vertroue die bedrog van Satan. Twyfelaars en spotters veroordeel die bekrompenheid van diegene wat vir die geloof van die profete en die apostels stry en laat hulleself weglei van die plegtige verklarings van die Skrif aangaande Christus, deur die verlossingsplan en die vergelding van die verwerpers van die waarheid te bespot. Hulle gee voor om baie jammer te wees vir mense wat so bekrompe, swak en bygelowig is om die aansprake van God te erken en die voorskrifte van Sy wet te gehoorsaam. Hulle openbaar soveel sekerheid van hulle saak, asof hulle inderdaad ‘n verbond met die dood en ‘n ooreenkoms met die hel gesluit het - asof hulle ‘n onoorbrugbare, ondeurdringbare versperring tussen hulle en die wraak van God opgerig het. Niks kan hulle vrese opwek nie. Hulle het hulself so volkome aan die versoeker oorgegee, so nou met hom verenig en is so deeglik met sy gees deurdrenk, dat hulle geen krag en geen geneigdheid het om uit sy strikke te ontsnap nie. GS 593.2

Satan is lank reeds besig met voorbereidings vir sy laaste poging om die wêreld te bedrieg. Die grondslag van sy werk is gelê deur die versekering wat hy aan Eva in Eden gegee het: “Julle sal gewis nie sterwe nie ... As julle daarvan eet, [sal] julle oë oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Gen 3:4,5). Hy het stap vir stap die weg vir sy meesterstuk van bedrog deur die ontwikkeling van spiritisme voorberei. Hy het nog nie sy doelwit ten volle bereik nie; maar hy sal dit in die laaste oorblywende tyd bereik. Die profeet sê: “Ek het ... drie onreine geeste soos paddas sien kom ... Dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God.” (Openb 16:13,14). Behalwe vir diegene wat deur die krag van God bewaar word, deur geloof in sy Woord, sal die hele wêreld onder die geledere van hierdie dwaling opgesweep word. Die mense word spoedig tot ‘n noodlottige gerustheid aan die slaap gesus, waaruit hulle slegs deur die uitstorting van die toorn van God gewek sal word. GS 594.1

So sê die Here God: “Ek sal die reg tot ‘n riglyn maak, en die geregtigheid tot ‘n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel. En julle verbond met die dood sal uitgewis word en julle verdrag met die doderyk nie standhou nie; as die golwende gesel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word.” (Jes 28:17,18). GS 594.2