Die Groot Stryd (1911)

37/44

Hoofstuk 35—Gewetensvryheid Bedreig

Romanisme (Katolisisme) word tans deur Protestante met veel groter guns bejeën as in vorige jare. In die lande waar Katolisisme nie hoogty vier nie en pousgesindes die weg van versoening volg om invloed te verkry, is daar ‘n toenemende onverskilligheid aangaande die leerstellings wat die hervormde kerke van die pouslike hiërargie skei; die mening dat ons per slot van rekening nie so wyd verskil oor lewensbelangrike aspekte soos wat gemeen is nie en dat geringe toegewings van ons kant ‘n beter verstandhouding met Rome sal teweegbring, wen veld. Daar was ‘n tyd toe Protestante die gewetensvryheid wat hulle so duur gekoop het, baie hoog op prys gestel het. Hulle het hulle kinders geleer om van die pousdom af te sien en was van mening dat harmonie met Rome dislojaliteit teenoor God is. Maar hoe wyd verskil die menings wat tans uitgespreek word! GS 595.1

Die verdedigers van die pousdom verklaar dat die kerk belaster is en die Protestantse wêreld geneig is om die verklaring te aanvaar. Baie mense dring daarop aan dat dit nie reg is om die kerk van vandag te oordeel oor die gruwels en ongerymdhede wat haar heerskappy gedurende die eeue van onkunde en duisternis gekenmerk het nie. Hulle verskoon haar ontsettende wreedheid dat dit as gevolg van die barbaarsheid van die tyd was en dat die invloed van die moderne beskawing haar sentimente verander het. GS 595.2

Het hierdie mense van die aanspraak op onfeilbaarheid, wat vir agthonderd jaar deur hierdie hooghartige mag aangevoer is, vergeet? Ver van hierdie aanspraak prys te gee, word dit sedert die negentiende eeu met groter positiwiteit as ooit tevore bevestig. Waar Rome beweer dat die kerk “...nooit fouteer het...” en volgens die Skrifte “...nooit kan fouteer nie...” (John L von Mosheim, Institutes of Ecclesiastical History, boek 3, eeu 11, deel 2, hfst 2, para 9, aantekening 1), hoe kan sy die beginsels wat haar in vorige eeue beheer het, versaak? GS 595.3

Die pouslike kerk sal nooit van haar aanspraak op onfeilbaarheid afstand doen nie. Al die dade wat sy in haar vervolging van diegene wat haar leerstellings verwerp het gepleeg het, hou sy as reg voor; en sal sy nie dieselfde optree as die geleentheid hom voordoen nie? Laat die beperkings wat tans deur die sekulêre regerings opgelê is, verwyder word en laat Rome weer tot haar vorige magsposisie herstel word en daar sal ‘n spoedige herlewing van tirannie en vervolging wees. GS 596.1

'n Bekende skrywer sê die volgende oor die houding van die pouslike hiërargie met betrekking tot vryheid van gewete en van die gevare wat veral die Verenigde State bedreig as Rome in haar beleid slaag: GS 596.2

“Daar is baie wat geneig is om enige vrees vir RoomsKatolisisme in die Verenigde State aan bekrompenheid en kinderagtigheid toe te skryf. Sulke mense sien niks in die houding en beleid van Katolisisme wat vyandig teenoor vrye instellings is nie, of vind niks onheilspellend in die groei daarvan nie. Laat ons in die eerste plek enkele van die grondbeginsels van ons regering met die van die Katolieke Kerk vergelyk. GS 596.3

“Die grondwet van die Verenigde State waarborg vryheid van gewete. Niks is meer kosbaar of meer fundamenteel nie. Pous Pius IX het in sy omsendbrief van 15 Augustus 1854 gesê: ‘Die belaglike en foutiewe leerstellings of lawaai ter verdediging van gewetensvryheid is ‘n verpestelike dwaling — ‘n plaag wat die meeste van alle plae in ‘n staat gevrees moet word.’ Dieselfde pous het in sy omsendbrief van 8 Desember 1864 ‘...die banvloek uitgespreek oor diegene wat vryheid van gewete en godsdienstige aanbidding voorstaan,’ asook oor ‘...almal wat beweer dat die kerk nie geweld mag gebruik nie.’ GS 596.4

“Die vreedsame toon van Rome in die Verenigde State impliseer nie ‘n verandering van hart nie. Sy is verdraagsaam waar sy hulpeloos is. Biskop O'Connor sê: ‘Godsdiensvryheid word bloot verduur totdat die teenoorgestelde, sonder gevaar vir die Katolieke wêreld uitgevoer kan word.’ Die aartsbiskop van St. Louis het eenkeer gesê: ‘Kettery en ongeloof is misdade; en in Christenlande, soos byvoorbeeld Italië en Spanje, waar al die mense Katolieke is en waar die Katolieke godsdiens ‘n wesenlike deel van die wet van die land uitmaak, word dit soos ander misdade gestraf.’ ... GS 596.5

“Elke kardinaal, aartsbiskop en biskop van die Katolieke Kerk lê ‘n eed van getrouheid aan die pous af waarin die volgende woorde voorkom: ‘Ketters, skismatici en rebelle teen ons genoemde heer [die pous] of sy opvolgers, sal ek tot my uiterste vervolg en te teëstaan.’” — Dr Josiah Strong, Our Country, hfst 5, par 2-4. [Sien bylaag vir reggestelde verwysings] . GS 597.1

Dit is waar dat daar opregte Christene in die RoomsKatolieke gemeenskap is. Duisende in daardie kerk dien God volgens die beste lig wat hulle het. Hulle het nie toegang tot die Woord van God nie en daarom kan hulle nie die waarheid onderskei nie. [Gepubliseer in 1888 en 1911. Sien bylaag]. Hulle het nog nooit die kontras tussen ‘n lewendige diens van die hart en blote vorms en seremonies gesien nie. God bejeën hierdie siele met medelydende teerheid, wat opgevoed is in ‘n geloof wat misleidend en onbevredigend is. Hy sal ligstrale deur die digte donkerte wat dit omring laat dring. Hy sal die waarheid, soos dit in Jesus is, aan hulle openbaar. En baie sal nog hul posisie by Sy volk inneem. GS 597.2

Maar die Roomse stelsel is geensins vandag meer in ooreenstemming met die evangelie van Christus as in enige vroeëre tydperk in haar geskiedenis nie. Die Protestantse kerke verkeer in groot duisternis, of hulle sou die tekens van die tye bespeur. Die Roomse kerk is verreikend in haar planne en werkmetodes. Sy maak gebruik van elke instrument om haar invloed en mag uit te brei ter voorbereiding op ‘n hewige en meedoënlose stryd om beheer van die wêreld te herwin, om vervolging te hervestig en om alles wat deur Protestantisme vermag is, ongedaan te maak. Katolisisme wen veld aan alle kante. Kyk na die gewildheid van haar kolleges en kweekskole in Amerika, wat so wyd deur Protestante ondersteun word. Kyk na die groei van ritualisme in Engeland en die gereelde oorloop na die geledere van die Katolieke. Hierdie dinge behoort almal wat die suiwer beginsels van die evangelie koester, te verontrus. GS 597.3

Protestante het hulle met die pousdom bemoei en dit begunstig Katolieke; hulle het kompromieë aangegaan en toegewings gemaak wat selfs pousgesindes verbaas het en hulle nie kon verstaan nie. Mense sluit hulle oë vir die ware karakter van Katolisisme en vir die gevare wat as gevolg van haar oppergesag begryp moet word. Mense het nodig om wakker geskud te word om die toenaderings van hierdie uiters gevaarlike vyand van burgerlike en godsdienstige vryheid te weerstaan. GS 598.1

Baie Protestante verkeer onder die indruk dat die Katolieke godsdiens onaantreklik is en dat dit uit ‘n lewenslose en betekenislose reeks van seremonies bestaan. Hulle vergis hulleself Alhoewel die Roomse godsdiens op bedrog gebaseer is, is dit nie ‘n growwe en lomp bedrog nie. Die godsdienstige diens van die Roomse Kerk is ‘n indrukwekkende seremonie. Die pragtige vertoning en plegtige rituele fassineer die sintuie en maak die stem van rede en gewete stil. Die oog word gestreel. Pragtige kerkgeboue, imposante optogte, goue altare, versierde tempels, seldsame skilderye en pragtige beeldhouwerk, spreek die mens se liefde vir skoonheid aan. Ook die oor word gestreel; die musiek is onoortreflik. Die ryk klanke van die orrel, vermeng met die melodie van baie stemme soos dit deur die hoë koepels en pilaargange van haar groot katedrale uitswel, kan nie anders as om die sinne met ontsag en eerbied te beïndruk nie. GS 598.2

Hierdie uiterlike prag en praal en seremonies wat slegs die sonde-belaste siele uitlok, is ‘n bewys van innerlike korrupsie. Die godsdiens van Christus het nie sulke aantreklikhede nodig om dit aan te beveel nie. In die lig wat vanaf die kruis skyn, is die ware godsdiens so rein en lieflik, dat geen uiterlike versierings die waarde daarvan kan verbeter nie. Dit is die skoonheid van heiligheid, ‘n sagmoedige en stil gees, wat van waarde by God is. GS 599.1

'n Skitterende voorkoms is nie noodwendig ‘n teken van suiwer, verhewe, gedagtes nie. ‘n Hoë begrip van kuns en verfynde smaak kom dikwels by mense wat aards en sinlik is voor. Hierdie dinge word dikwels deur Satan aangewend om die mens van die noodsaaklikhede van die siel te laat vergeet, om die toekomstige en ewige uit die oog te verloor en om van hul ewige Helper weg te draai en slegs vir hierdie wêreld te lewe. GS 599.2

'n Godsdiens wat uit uiterlike dinge bestaan, is aantreklik vir die onwedergebore hart. Die praal en seremonies van die Katolieke aanbidding het ‘n verleidelike, betowerende krag, waardeur baie bedrieg word; en hulle beskou die Katolieke Kerk as die poort van die hemel. Niemand behalwe diegene wat hul voet stewig op die fondament van waarheid geplant het en wie se harte deur die Gees van God vernuwe is, is teen haar invloed bestand nie. Duisende wat nie ‘n eksperimentele kennis van Christus het nie, sal gelei word om die vorms van godsaligheid sonder die krag te aanvaar. So ‘n godsdiens is presies wat die massas begeer. GS 599.3

Die aanspraak van die kerk op die reg om sonde te vergewe, laat die Katoliek vry voel om te sondig; en die ordonnansie van belydenis, waarsonder geen kwytskelding verleen word nie, is ook geneig om vryheid om te sondig te skenk. Die een wat in belydenis voor ‘n gevalle mens neerkniel en die geheime gedagtes en verlangens van sy hart ontbloot, verlaag sy menswees en degradeer elke edele instink van sy siel. Wanneer hy sy sondes aan ‘n priester, ‘n dwalende sondige sterfling en te dikwels verdorwe met wyn en losbandigheid ontbloot, verlaag hy sy maatstaf van karakter en word hy as gevolg daarvan besoedel. Sy gedagte aan God word tot die gelyke van ‘n gevalle mens verlaag; want die priester staan as verteenwoordiger van God. Hierdie vernederende belydenis van ‘n mens tot ‘n mens is die geheime bron waaruit baie van die kwaad wat die wêreld besoedel en vir die uiteindelike verwoesting voorberei het, gevloei het. Tog is dit vir hom wat selfbevrediging koester, aanneemliker om aan ‘n medesterfling te bely as om sy siel voor God te ontbloot. Dit is vir die menslike natuur aanneemliker om belydenis te doen as om sonde te versaak; dit is makliker om die vlees met sak en as, brandnekels en pynlike kettings te kasty as om die vleeslike begeerlikhede te kruisig. Swaar is die juk wat die vleeslike hart bereid is om te dra eerder as om vir die juk van Christus neer te buig. GS 599.4

Daar is ‘n opvallende ooreenkoms tussen die Roomse Kerk en die Joodse Kerk ten tye van Christus se eerste koms. Terwyl die Jode in die geheim elke beginsel van die wet van God vertrap het, was hulle uiterlik streng in die nakoming van die gebooie wat hulle met vereistes en tradisies belas het en wat gehoorsaamheid pynlik en swaar gemaak het. Net soos die Jode beweer het dat hulle die wet eerbiedig, beweer die Katolieke dat hulle die kruis eerbiedig. Hulle verhef die simbool van Christus se lyding, terwyl hulle in hulle lewens Hom, wat dit verteenwoordig, ontken. GS 600.1

Katolieke plaas kruise op hul kerke, op hulle altare en op hulle klere. Orals word die kentekens van die kruis gesien. Oral word dit uiterlik vereer en verhef. Maar die leringe van Christus is onder ‘n massa sinnelose tradisies, valse vertolkings en streng vereistes begrawe. Die Heiland se woorde aangaande die dweepsugtige Jode, is met groter krag van toepassing op die leiers van die Rooms-Katolieke Kerk: “Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.” (Matt 23:4). Pligsgetroue siele word in gedurige vrees vir die wraak van ‘n beledigde God gehou, terwyl baie van die hooggeplaastes van die kerk in weelde en sensuele plesier lewe. GS 600.2

Die aanbidding van beelde en relikwieë, die aanroep van heiliges en die verheffing van die pous, is instrumente van Satan om die aandag van die mense van God en van Sy Seun af te trek. Om hulle ondergang te bewerkstellig, poog hy om hulle aandag van Hom deur wie hulle alleen die verlossing kan verkry weg te lei. Hy sal hulle na enige voorwerp verwys wat die Een kan vervang wat gesê het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.” (Mat 11:28). GS 601.1

Dit is Satan se voortdurende strewe om die karakter van God, die aard van sonde en die werklike kwessies wat in die groot stryd op die spel is, te verdraai. Sy drogredenasies verminder die verpligting van die Goddelike wet en skenk aan mense vryheid om te sondig. Terselfdertyd lei hy hulle om valse opvattings van God te koester, sodat hulle Hom met vrees en haat, eerder as met liefde beskou. Die wreedheid inherent aan sy eie karakter, skryf hy aan die Skepper toe; dit word in die godsdienstige stelsels beliggaam en uitgedruk in die wyses van aanbidding. Sodoende word die verstand van mense verblind en Satan beveilig hulle as sy werkkragte om oorlog teen God te voer. Deur verdraaide opvattings van die Goddelike eienskappe, is heidense nasies gelei om menslike offers te bring, wat glo nodig was om die guns van die Godheid te verseker; en afskuwelike wreedhede is onder die verskillende vorms van afgodediens gepleeg. GS 601.2

Die Rooms-Katolieke kerk, wat die vorme van heidendom en Christendom verenig en, soos die heidendom, die karakter van God verdraai, het dit vir gebruike wat nie minder wreed en weersinwekkend is nie, aangewend. In die dae van Rome se oppergesag, is daar instrumente van marteling gebruik om mense tot aanvaarding van haar leerstellings dwing. Die brandstapel was daar vir diegene wat nie aan haar eise wou toegee nie. Daar was slagting op ‘n ongekende skaal wat nooit bekend sal word totdat dit op die oordeelsdag oopgevlek word nie. Hoogwaardigheidsbekleërs het geleer om onder Satan, hulle meester, middele te bedink om die wreedste moontlike marteling uit te voer, sonder om die lewe van die slagoffer te beëindig. In baie gevalle is hierdie helse proses tot die uiterste grens van menslike uithouvermoë herhaal, totdat die natuur die stryd gewonne gegee en die lyer die dood as ‘n heerlike bevryding verwelkom het. GS 601.3

Dit was die lot van Rome se teenstanders. Vir haar aanhangers, het sy die dissipline van die gesel, honger en die foltering van alle bedenklike soorte liggaamlike straf gehad. Om die guns van die hemel te verseker, het boetvaardiges die wette van God oortree deur die wette van die natuur te oortree. Hulle is geleer om die bande wat Hy gevorm het om die mens se verblyf op die aarde te seën en te verbly, te verbreek. Die kerkhowe bevat miljoene slagoffers wat hulle lewens bestee het aan vergeefse pogings om hulle natuurlike geneenthede en elke gedagte en gevoel van medelye met hul medemens, wat volgens hulle aanstootlik vir God was, te onderdruk. GS 602.1

As ons die vasberade wreedheid van Satan, wat vir honderde jare lank, nie onder diegene wat nog nooit van God gehoor het nie, maar in die hart en regdeur die hele Christendom gemanifesteer is wil verstaan, hoef ons net na die geskiedenis van die Katolisisme kyk. Die vors van die bose bereik deur hierdie reuse stelsel van bedrog, sy doel om oneer aan God en ellende vir die mens te bring. En as ons sien hoedat hy daarin slaag om homself te vermom en sy werk deur die leiers van die kerk te verrig, sal ons beter kan verstaan waarom hy so ‘n groot weersin in die Bybel het. As daardie Boek gelees word, sal die genade en liefde van God geopenbaar word; daar sal gesien word dat Hy geeneen van hierdie swaar laste op mense lê nie. Al wat Hy vra, is ‘n gebroke en verslae hart, ‘n nederige, gehoorsame gees. GS 602.2

Christus het in sy lewe geen voorbeeld gestel vir manne en vroue om hulself in kloosters op te sluit om hulle vir die hemel geskik te maak nie. Hy het nooit geleer dat liefde en medelye onderdruk moet word nie. Die Heiland se hart loop oor van liefde. Hoe nader die mens tot sedelike volmaaktheid kom, hoe skerper word sy sintuie, hoe skerper is persepsie van sonde en hoe dieper is sy medelye met die geteisterde. Die pous maak daarop aanspraak dat hy die plaasvervanger van Christus is; maar hoe vergelyk sy karakter met die van ons Verlosser? Was Christus ooit bekend daarvoor dat hy mense na die gevangenis of die pynbank gestuur het omdat hulle Hom nie as die Koning van die hemel vereer het nie? Is Sy stem ooit gehoor dat Hy diegene wat Hom nie aangeneem het nie ter dood veroordeel? Toe Hy deur die mense van ‘n Samaritaanse dorpie beledig is, het die apostel Johannes verontwaardig gevra: “Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elia ook gedoen het?” (Luk 9:54). Jesus het sy dissipel met ontferming aangekyk en sy harde gees veroordeel deur te sê: “Die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red.” (Luk 9:56). Hoe anders is die gees wat deur Christus geopenbaar word as die van sy beweerde plaasvervanger! GS 603.1

Die Roomse Kerk bied tans ‘n regverdige front aan die wêreld, met verskonings vir haar rekord van afskuwelike wreedhede. Sy het haarself in Christelike klere geklee; maar sy is onveranderd. Elke beginsel van die pousdom wat in die vorige eeue bestaan het, bestaan steeds vandag. Die leerstellings wat in die Donker eeue bedink is, word steeds gehandhaaf. Laat niemand hulself mislei nie. Die pousdom wat Protestante nou so geneig is om te eer, is dieselfde wat die wêreld in die tyd van die Hervorming regeer het, toe die manne van God in gevaar van hul lewe opgestaan het om hulle ongeregtigheid bloot te stel. Sy besit dieselfde trots en arrogante aanname wat oor konings en vorste geheers het en die prerogatiewe van God vir haarself opgeëis het. Haar gees is tans nie minder wreed en despoties as toe sy menslike vryheid verbrysel en die heiliges van die Allerhoogste gedood het nie. GS 603.2

Die pousdom is presies wat die profesie verklaar het dat dit sou wees, naamlik die afvalligheid van die laaste dae. (2 Thes 2:3,4). Dit is deel van haar beleid om die karakter aan te neem wat haar doel die beste sal bereik; maar onder die wisselende voorkoms van ‘n verkleurmannetjie, verberg sy die onveranderlike gif van ‘n slang. “Geloof behoort nie by ketters of persone wat van kettery verdink word nie” verklaar sy. — Lenfant, History of the Council of Constance, vol 1, bl 516. Sal hierdie mag wie se geskiedenis vir ‘n duisend jaar met die bloed van die heiliges geskryf is, nou as deel van die kerk van Christus erken word? GS 604.1

Dit is nie sonder rede dat die bewering dat Katolisisme minder van Protestantisme verskil as vroeër aangevoer word nie. Daar het ‘n verandering plaasgevind; maar die verandering het nie in die pousdom plaasgevind nie. Katolisisme lyk vandag inderdaad baie na hedendaagse Protestantisme; maar dit is omdat Protestantisme sedert die dae van die hervormers so ontaard het! GS 604.2

Namate die Protestante die guns van die wêreld gesoek het, het valse welwillendheid hulle oë verblind. Hulle sien nie in dat dit nie reg is om goed van kwaad te dink nie; en die onvermydelike gevolg sal wees dat hulle uiteindelik kwaad van alles wat goed is sal dink. In plaas daarvan om ter verdediging van die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is, te staan, vra hulle Rome as’t ware om verskoning vir hul onbarmhartige mening van haar en vir hul bekrompenheid. GS 604.3

'n Groot klas, selfs van diegene wat nie gunstig teenoor Rome gesind is nie, het min besef van die gevaar van haar mag en invloed. Baie mense dring daarop aan dat die intellektuele en morele duisternis wat gedurende die Middeleeue geheers het, die verspreiding van haar dogmas, bygelowe en verdrukking bevoordeel het en dat die toename in intelligensie van die moderne tye, die algemene verspreiding van kennis en toenemende vryheid in godsdienssake, ‘n herlewing van die onverdraagsaamheid en tirannie van Rome sal belet. Selfs die gedagte dat so ‘n toestand van sake in hierdie verligte tye kan bestaan, word as belaglik afgemaak. Dit is waar dat groot lig, intellektueel, moreel en godsdienstig, tans op hierdie generasie skyn. Deur die oop bladsye van God se Heilige Woord, is lig uit die hemel op die wêreld gewerp. Maar daar moet onthou word dat hoe groter die lig, hoe groter die duisternis van diegene wat dit verdraai en verwerp. GS 604.4

'n Biddende studie van die Bybel sou die ware karakter van die pousdom aan Protestante toon en dit sou hulle met afsku daarvan weerhou; maar vele is so wys in hul eie verwaandheid, dat hulle geen behoefte het om nederig tot God te nader sodat hulle in die waarheid gelei kan word nie. Alhoewel hulle trots op hul verligtheid is, is hulle onkundig oor beide die Skrif en die krag van God. Hulle moet op een of ander wyse hul gewete sus en soek die middel wat die minste vernederend en geestelik is. Wat hulle begeer, is ‘n metode waardeur hulle van God kan vergeet, wat as ‘n metode om Hom te onthou voorgehou kan word. Die pousdom is goed aangepas om aan hierdie behoeftes te voldoen. Dit is vir twee klasse van mense, wat byna die ganse wêreld omvat, voorberei — diegene wat deur hul eie verdienste gered sal word en diegene wat in hulle sondes gered sal word. Hierin lê die geheim van haar mag. GS 605.1

Daar is getoon dat ‘n dag van groot intellektuele duisternis gunstig vir die sukses van die pousdom is. Maar daar sal nog getoon word dat ‘n dag van groot intellektuele lig ewe gunstig vir die sukses daarvan is. In die verlede toe mense sonder die Woord van God en sonder ‘n kennis van die waarheid was, was hulle oë verblind en duisende was vasgevang en het nie die net wat voor hulle voete oopgesprei was gesien nie. In hierdie generasie is daar baie wie se oë deur die fel glans van menslike bespiegelinge, “wetenskap valslik so genoem” verblind word; hulle kan nie die net onderskei nie en loop so maklik daarin, asof hulle geblinddoek is. Dit was God se voorneme dat die intellektuele vermoë van die mens as ‘n gawe van sy Skepper beskou moes word en in diens van waarheid en geregtigheid aangewend moes word; maar wanneer hoogmoed en ambisie gekoester word en die mens sy teorieë bo die Woord van God verhef, kan intelligensie groter skade as onkunde aanrig. So sal die valse wetenskap van vandag, wat geloof in die Bybel ondermyn, net so suksesvol wees om die weg vir die pousdom met al sy aangename vorme wees, soos wat die weerhouding van kennis met die aanvang van die weg tot sy verheerliking in die Donker Eeue was. GS 605.2

In die beweging wat tans in die Verenigde State aan die gang is om die steun van die staat vir die instellings en gebruike van die kerk te verseker, volg Protestante in die voetspore van Katolieke. Nee, wat meer is, hulle is besig om die deur vir die pousdom oop te maak om die oppergesag wat sy in die Ou Wêreld verloor het, in Protestantse Amerika te herwin. En wat groter betekenis aan hierdie beweging gee, is die feit dat die hoofdoel daarvan die verpligte onderhouding van Sondag is — ‘n gebruik wat sy oorsprong in die Rooms-Katolieke kerk het en wat volgens haar, die teken van haar gesag is. Dit is die gees van die pousdom — die gees van gelykvormigheid aan wêreldse gebruike, die verering van menslike tradisies bo die gebooie van God, wat die Protestantse kerke deurdring, is en lei tot dieselfde werk van verheffing van die Sondag, soos die pousdom voor hulle gedoen het. GS 606.1

As die leser die werkkragte wat in die komende stryd aangewend gaan word, wil verstaan, hoef hy maar net die rekord van die middele wat Rome vir dieselfde doel in die vorige eeue aangewend het, na te gaan. As hy wil weet hoe Katolieke en Protestante wat verenig is, teenoor diegene wat hul dogmas verwerp sal optree, laat hom die gees wat Rome teenoor die Sabbat en die verdedigers daarvan geopenbaar het, sien. GS 606.2

Koninklike dekrete, algemene rade, kerk-ordonnansies wat deur sekulêre mag gehandhaaf word, was die stappe waarop die heidense feesdag sy ere-posisie in die Christelike wêreld bereik het. Die eerste openbare maatreël wat die onderhouding van Sondag afgedwing het, was die wet wat Konstantyn in 321 nC uitgevaardig het. [Sien bylaag]. Hierdie dekreet het vereis dat die dorpenaars op die “eerwaardige dag van die son” moes rus, maar het landbouers toegelaat om met hul landboubedrywighede voort te gaan. Hoewel dit feitlik ‘n heidense statuut was, is dit deur die keiser ná sy sogenaamde aanvaarding van die Christelike geloof afgedwing. GS 607.1

Omdat die keiserlike mandaat nie ‘n voldoende plaasvervanger vir Goddelike gesag was nie, het Eusebius, ‘n biskop wat die guns van die vorste gesoek het en wat ‘n spesiale vriend en bewonderaar van Konstantyn was, aangevoer dat Christus die Sabbat na Sondag oorgedra het. Nie ‘n enkele getuienis uit die skrif is as bewys getoon om hierdie nuwe leerstelling te staaf nie. Eusebius het self onwetend die valsheid daarvan erken en gewys op die werklike outeurs van die verandering. “Alle dinge...” het hy gesê, “...wat ook al ons plig was om op die Sabbat te doen, dit het ons oorgedra na die dag van die Here.” — R Cox, Sabbath Laws and Sabbath Duties, bl 538. Maar die Sondag-argument, ongegrond soos dit was, het gedien om die mense aan te moedig om die Sabbat van die Here te vertrap. Almal wat deur die wêreld vereer wou word, het hierdie gewilde feesdag aanvaar. GS 607.2

Soos die pousdom stewig gevestig geraak het, is die verheffing van Sondag voortgesit. Vir ‘n tyd het die mense met hulle landbouwerk voortgegaan en nie kerk toe gegaan nie en die sewende dag was steeds as die Sabbat beskou. Maar geleidelik het daar verandering ingetree. Diegene wat in die heilige amp was, was verbied om op Sondae uitspraak te lewer in enige burgerlike geskil. Kort daarna is alle mense, van watter rang ook al, beveel om hulle van gewone werk te weerhou met straf van ‘n boete vir vry mense en geseling in die geval van slawe. Later is bepaal dat gegoede mense met die verlies van die helfte van hulle besittings gestraf moes word; en uiteindelik, indien hulle steeds hardnekkig was, sou hulle slawe word. Die laer klasse sou vir altyd verban word. GS 607.3

Wonderwerke is ook ingeroep. Onder ander wonders is vertel dat toe ‘n landbouer sy grond op ‘n Sondag wou ploeg en sy ploeg met ‘n stuk yster wou skoonmaak, het die yster aan sy hand vasgesit en hy moes dit vir twee jaar saam met hom ronddra, “...in verskriklike pyn en tot groot skande...” — Francis West, Historical and Practical Discourse on the Lord’s Day, bl 174. GS 608.1

Later het die pous opdrag gegee dat die priester van die gemeente, die oortreders van die Sondag moes vermaan en hulle moes gebied om na die kerk te gaan en hul gebede op te sê, sodat hulle nie ‘n groot ramp op hulleself en hul bure sou bring nie. ‘n Kerkraad, selfs Protestante, het die argument so aangewend dat, na aanleiding van die feit dat mense wat op die Sondag gearbei het deur weerlig getref is, dit as gevolg van die Sabbat moet wees. “Dit is duidelik...” het die prelate gesê, “...hoe verskriklik dit God mishaag as hulle hierdie dag verontagsaam.” Daar is toe ‘n beroep op priesters en predikante, konings en vorste en alle gelowiges gedoen “...om alles in hulle vermoë te doen om te sorg dat die dag weer in sy ere herstel word en dat dit vir die welsyn van die Christendom in die vervolg plegtig gevier moes word.” — Thomas Morer, Discourse in Six Dialogues on the Name, Notion and Observation of the Lord’s Day, bl 271. GS 608.2

Omdat die dekrete van konsilies onvoldoende blyk te gewees het, is die sekulêre owerhede gevra om ‘n edik uit te vaardig wat vrees in die harte van die mense sou inboesem en hulle sou dwing om hulle op ‘n Sondag van werk te weerhou. Op ‘n sinode wat in Rome gehou is, is alle vorige besluite met groter krag en plegtigheid herbevestig. Hulle is in die kerklike wet opgeneem en deur die burgerlike owerhede deur byna die hele Christendom afgedwing. (Sien Heylyn se History of the Sabbath, pt 2, hfst 5, art 7). GS 608.3

Maar steeds het die gebrek aan skriftuurlike gesag vir die onderhouding van die Sondag groot verleentheid veroorsaak. Die mense het die reg van hul leraars, om die positiewe verklaring van Jehova, “...die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God...” ter syde te stel, om die Sondag te eerbiedig, bevraagteken. Om te voorsien in die gebrek aan Bybelse getuienis, was ander hulpmiddels nodig. ‘n Ywerige voorstander van Sondag, wat teen die einde van die twaalfde eeu die kerke van Engeland besoek het, is deur getroue getuies van die waarheid weerstaan en sy pogings was so vrugteloos dat hy die land vir ‘n tyd verlaat het om na middels te soek om sy leerstellings te bekragtig. Nadat hy teruggekeer het, is daar aan die tekort voldoen en het hy meer sukses behaal. Hy het ‘n boekrol saamgebring wat hy beweer het van God self afkomstig was en dat dit die nodige opdrag vir die onderhouding van Sondag bevat het, asook skrikwekkende dreigemente om die ongehoorsames vrees in te boesem. Daar is beweer dat hierdie kosbare dokument, wat net so vals was soos die instelling wat dit ondersteun het, uit die hemel geval het en in Jerusalem op die altaar van St Simeon op Golgota gevind is. Maar eintlik was die bron waarvandaan dit gekom het, die pouslike paleis in Rome. Bedrog en vervalsings om die mag en welvaart van die kerk te bevorder, is in alle eeue deur die pouslike hiërargie geoorloof. GS 609.1

Die rol het arbeid vanaf die negende uur, dit is drieuur op Saterdagmiddag, tot sonop op Maandag verbied; en die gesag daarvan is beweer deur baie wonderwerke bevestig te wees. Na berig is, was persone wat langer as die vasgestelde uur gewerk het, verlam. ‘n Meulenaar wat probeer het om sy mielies te maal, het in plaas van meel, ‘n stortvloed bloed sien voortkom en die meule het stilgestaan ten spyte van ‘n sterk stroom water. ‘n Vrou wat deeg in die oond geplaas het, het gevind dat, alhoewel die oond baie warm was, die deeg nog rou was toe sy dit uithaal. ‘n Ander een wat die deeg gereed gehad het om te bak, maar besluit het om dit tot Maandag te laat oorstaan, het die volgende dag ontdek dat die deeg deur Goddelike krag in brode opgemaak en klaar gebak is ‘n Man wat op Saterdag, na die negende uur brood gebak het, het gevind dat, toe hy dit die volgende dag oopgebreek het, bloed daaruit gekom het. Deur sulke belaglike en bygelowige versinsels het die voorstanders van Sondag gepoog om die heiligheid daarvan te bevestig. — (Sien Roger de Hoveden, Annals, vol 2, bl 528530). GS 609.2

In Skotland, soos in Engeland, is groter agting vir Sondag verkry deur ‘n deel van die ou Sabbat daaraan te verbind. Maar die tyd wat heilig gehou moes word het gewissel. In ‘n dekreet deur die koning van Skotland, is daar bepaal dat “Saterdag van twaalfuur af heilig beskou moes word...” en dat niemand van daardie tyd af tot Maandagoggend enige wêreldse sake mag doen nie. — Morer, Dialogues on the Lord’s Day, bl 290, 291. GS 610.1

Maar ondanks al die pogings om die heiligheid van Sondag te bewerkstellig, het pousgesindes self die Goddelike gesag van die Sabbat bely en die menslike oorsprong van die instelling wat dit vervang het, erken. In die sestiende eeu het ‘n pouslike raad duidelik verklaar: “Laat alle Christene onthou dat die sewende dag deur God geheilig is en dat dit nie slegs deur die Jode nie, maar deur alle ander mense wat beweer het dat hulle God aanbid, ontvang en onderhou is; hoewel ons Christene hulle Sabbat na die dag van die Here verander het.” — Id, bl 281, 282. Diegene wat aan die Goddelike wet gepeuter het, was nie onkundig oor die aard van hulle daad nie. Hulle het hulself doelbewus bo God gestel. GS 610.2

'n Treffende illustrasie van die beleid van Rome ten opsigte van diegene wat nie met haar saamstem nie, word in die langdurige en bloedige vervolging van die Waldense gesien, sommige van wie die Sabbat onderhou het. Ander het op dieselfde wyse as gevolg van hul getrouheid aan die vierde gebod gely. Die geskiedenis van die kerke in Etiopië en Abessinië is besonder betekenisvol. Te midde van die somberheid van die Donker Eeue, is die Christene van SentraalAfrika deur die wêreld uit die oog verloor en vergete en hulle het eeue lank die vryheid geniet om hul geloof uit te oefen. Maar uiteindelik het Rome van hulle verneem en die keiser van Abessinië is spoedig verlei tot ‘n erkenning van die pous as die vikaris van Christus. Ander toegewings het gevolg. ‘n Dekreet wat die onderhouding van die Sabbat, onder die strengste strawwe verbied, is uitgereik. (Sien Church History of Ethiopia, bl 311, 312). Maar die pouslike tirannie het gou ‘n juk geword wat so ondraaglik geword het, dat die Abessiniërs vasbeslote was om die juk te verbreek. Na ‘n heftige stryd is die Katolieke uit die land verban en die eertydse geloof is herstel. Die kerke was verheug oor hul vryheid en hulle het nooit die les wat hulle geleer het rakende die misleiding, die fanatisme en despotiese mag van Rome vergeet nie. Hulle was tevrede om in hulle afgesonderde land te woon, onbekend aan die res van die Christendom. GS 610.3

Die kerke van Afrika het die Sabbat gevier soos dit deur die pouslike kerk voor haar algehele afvalligheid gevier is. Terwyl hulle die sewende dag in gehoorsaamheid aan die gebod van God gehou het, het hulle hul op Sondag, in ooreenstemming met die gebruik van die kerk, van werk onthou. Met die verkryging van oppergesag, het Rome die Sabbat van God vertrap om haar eie sabbat te verhef; maar die kerke van Afrika, wat vir byna ‘n duisend jaar onbekend was, het nie in hierdie afvalligheid gedeel nie. Toe hulle onder die heerskappy van Rome gebring is, is hulle gedwing om die ware Sabbat te versaak en die valse te verhef; maar nadat hulle hul onafhanklikheid herwin het, het hulle weer die vierde gebod gehoorsaam. (Sien bylaag) . GS 611.1

Hierdie verslae van die verlede openbaar duidelik die vyandskap van Rome teenoor die ware Sabbat en die verdedigers daarvan, asook die middele wat sy aangewend het om die instelling van haar skepping te eer. Die woord van God leer dat hierdie tonele herhaal sal word wanneer RoomsKatolieke en Protestante in die verheffing van Sondag sal verenig. GS 612.1

Die profesie van Openbaring 13 verklaar dat die mag wat deur die dier met die lamshorings voorgestel word sal “...maak dat die aarde en die wat daarop woon... ” die pousdom sal aanbid, wat daar deur die dier wat “...soos ‘n luiperd... ” lyk gesimboliseer word. Die dier met die twee horings sal ook “.. .aan die bewoners van die aarde ... sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die...” dier en verder, “...hy maak dat aan almal, klein en groot en die rykes en die armes en die vry mense en die slawe ‘n merk ... gegee word...” naamlik die merk van die dier. (Openb 13:11-16). Daar is getoon dat die Verenigde State die mag is wat deur die dier met die lamshorings voorgestel word en dat hierdie profesie vervul sal word wanneer die Verenigde State die viering van Sondag sal afdwing, wat Rome beweer die spesiale erkenning van haar oppergesag is. Maar die Verenigde State sal nie alleen in hierdie huldebetoon aan die pousdom wees nie. Die invloed van Rome in die lande wat voorheen haar heerskappy erken het, is nog lank nie vernietig nie. En profesie voorspel ‘n herstel van haar mag. “Ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan.” (Openb 13:3). Die toediening van die dodelike wond dui op die ondergang van die pousdom in 1798. Verder sê die profeet: “Sy dodelike wond is genees en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan.” Paulus stel dit duidelik dat “...die mens van sonde...” tot die tweede koms van Christus sal voortbestaan. (2 Thes 2:3-8.) Tot die einde van tyd sal hy die werk van misleiding voortsit. En die openbaarder, met verwysing na die pousdom, verklaar: “Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe ... geskrywe is nie.” (Openb 13:8.) In beide die Ouen die Nuwe Wêreld sal daar hulde aan die pousdom betoon word deur die verering van Sondag, die instelling wat uitsluitlik op die gesag van die Roomse Kerk berus. GS 612.2

Sedert die middel van die negentiende eeu het studente van die profesieë in die Verenigde State hierdie getuienis aan die wêreld te gelewer. In die gebeure wat tans plaasvind, nader ons vinnig die tyd vir die vervulling van hierdie voorspelling. By Protestantse leraars is daar net so min Goddelike gesag en Skriftuurlike bewys vir die viering van Sondag, as wat die pouslike leiers wonderwerke versin het om in die plek van ‘n opdrag van God te voorsien. Die bewering dat die oordele van God oor die mens besoek sal word vir die oortreding van die Sondag-sabbat, sal tref vir die ontheiliging van die Sondag-sabbat, sal herhaal word; daar word reeds daarop aangedring. En die beweging om die onderhouding van Sondag af te dwing is besig om vinnig veld te wen. GS 613.1

Wonderbaarlik is die Roomse Kerk se listigheid en slinksheid. Sy kan vooruit sien wat sal gebeur. Sy wag haar tyd af en sy sien dat die Protestantse kerke hulde aan haar betoon deur die aanvaarding van die valse sabbat en dat sy besig is om voor te berei om dit af te dwing deur dieselfde metodes wat sy in vervloë dae toegepas het. Diegene wat die lig van die waarheid verwerp, sal steeds die hulp van hierdie self-aangestelde onfeilbare mag soek om ‘n instelling wat by haar ontstaan het te verhef. Hoe geredelik Rome sal wees om Protestante in hierdie werk tot hulp te kom, is nie moeilik om te sien nie. Wie verstaan beter as die pouslike leiers hoe om teenoor diegene wat aan die kerk ongehoorsaam is, op te tree? GS 613.2

Die Rooms-Katolieke Kerk, met al haar gevolge regdeur die wêreld, is ‘n magtige organisasie onder die beheer van en ontwerp om die belange van die pouslike stoel te dien. Aan haar miljoene lidmate in elke land ter wêreld, word opdrag gegee om hulself gebonde in getrouheid aan die pous te hou. Ongeag hul nasionaliteit of regering, moet hulle die gesag van die kerk as die hoogste gesag beskou. Alhoewel hulle ‘n eed van lojaliteit aan ‘n staat mag aflê, lê daar desnieteenstaande ‘n eed van gehoorsaamheid aan Rome daaragter, wat hulle vrystel van elke belofte wat skadelik vir haar belange is. GS 613.3

Die geskiedenis getuig van haar listige en volgehou pogings om met die sake van die nasies in te meng; en nadat sy ‘n vastrapplek gekry het, haar eie doelwitte tot ondergang van mense en selfs pouse bevorder het. In die jaar 1204 het Pous Innocentius lll die volgende buitengewone eed uit Petrus II, koning van Aragon, getrek: “Ek, Petrus, koning van die Arragoniërs, bely en belowe dat ek my heer, Pous Innocentius, sy Katolieke opvolgers en die Roomse Kerk getrou en gehoorsaam sal wees en my koninkryk getrou sal bewaar in gehoorsaamheid aan hom, die Katolieke geloof sal verdedig en ketterse verdorwenheid sal vervolg.” — J Dowling, History of Romanism, boek 5, hfst 6, art 55. Dit stem ooreen met die bewerings aangaande die mag van die Roomse pous, dat dit “...geoorloof is om keisers te onttroon en dat hy onderdane van hulle eed van trou aan onregverdige heersers kan onthef.”—Mosheim, Ecclesiastical History, boek 3, 11e eeu, pt 2, hfst 2, art 9, aantekening 17. (Sien ook bylaag nota vir bl 447). GS 614.1

En laat dit onthou word, Rome roem daarop dat sy nooit verander nie. Die beginsels van Gregorius VII en Innocentius III, is steeds die beginsels van die Rooms-Katolieke Kerk. En as sy net die mag gehad het, sou sy dit nou met net soveel krag as die afgelope eeue in die praktyk toegepas het. Protestante is onbewus van wat hulle doen wanneer hulle voorstel dat die hulp van Rome ingeroep word vir die verheffing van Sondag. Terwyl hulle daarop ingestel is om hulle doel te bereik, is Rome daarop gemik om haar mag te herstel, om haar verlore oppergesag te herstel. Laat die beginsel eenmaal in die Verenigde State vasgestel word dat die kerk die mag van die staat mag gebruik of beheer; dat godsdienstige nakoming deur sekulêre wette afgedwing kan word; in kort, dat die gesag van kerk en staat die gewete mag oorheers, dan is die oorwinning van Rome in hierdie land verseker. GS 614.2

Die Woord van God het ons teen die dreigende gevaar gewaarsku; laat dit verontagsaam word en die Protestantse wêreld sal spoedig leer wat die doelwit van Rome werklik is, slegs wanneer dit te laat is om uit die strik te ontsnap. Ongemerk neem sy in mag toe. Haar leerstellings oefen invloed in wetgewende lokale, in kerke en in die harte van mense uit. Sy stapel haar hoë en massiewe strukture in die geheime inhamme vanwaar sy haar vorige vervolgings sal herhaal. Sluimerend en niks vermoedend versterk sy haar kragte om haar eie doel te bevorder vir die tyd wanneer sy moet toeslaan. Al wat sy begeer, is ‘n uitkykpunt en dit word reeds aan haar gegee. Ons sal binnekort sien en ervaar wat die doel van die Roomse element is. Elkeen wat die Woord van God sal glo en gehoorsaam, sal daardeur smaad en vervolging op die hals haal. GS 615.1