Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 33—Die Eerste Groot Misleiding
Sedert die vroegste geskiedenis van die mens het Satan gepoog om ons ras te mislei. Hy wat opstand in die hemel aangehits het, was begerig om die bewoners van die aarde te laat saamwerk in sy oorlogvoering teen die regering van God. Adam en Eva was volkome gelukkig in hul gehoorsaamheid aan die wet van God en hierdie feit was ‘n konstante getuienis teen die bewering wat Satan in die hemel aangespoor het, dat die wet van God onderdrukkend was en teen die welsyn van Sy skepsels was. En verder was Satan se afguns aangewakker toe hy die pragtige tuiste aanskou wat vir die sondelose paar voorberei is. Hy het besluit om hulle tot ‘n val te bring, sodat, nadat hy hulle van God geskei en hulle onder sy mag gebring het, hy die aarde in besit sou kon neem en sy koninkryk hier in opposisie met die Allerhoogste kon vestig. GS 561.1
Indien Satan homself in sy ware karakter geopenbaar het, sou hy afgeweer gewees het, want Adam en Eva was teen hierdie gevaarlike vyand gewaarsku; maar hy het in die donker gewerk, sy ware doel verberg, sodat hy sy doel beter kon bereik. Hy het die slang, ‘n medium met ‘n boeiende voorkoms as medium gebruik, homself tot Eva gewend en gesê: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Gen 3:1). As Eva geweier het om met die versoeker te praat, sou sy veilig gewees het; maar sy het dit gewaag om met hom ‘n gesprek aan te knoop en ‘n slagoffer van sy listigheid geword. So word baie steeds oorwin. Hulle twyfel en redeneer oor die vereistes van God; en in plaas daarvan om die goddelike opdragte te gehoorsaam, aanvaar hulle menslike teorieë wat slegs die werktuie van Satan verdoesel. GS 561.2
“En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Gen 3:2-5). Hy het verklaar dat hulle soos God sou word, met groter wysheid as voorheen en dat hulle in staat sou wees om ‘n hoër toestand van bestaan te bereik. Eva het toegegee aan die versoeking en deur haar invloed is Adam tot sonde verlei. Hulle het die woorde van die slang geglo, naamlik dat God nie bedoel het wat Hy gesê het nie; hulle het hul Skepper gewantrou gemeen dat Hy hulle vryheid beperk en dat hulle groot wysheid en verheffing sou verkry deur Sy wet te oortree. GS 561.3
Wat het Adam, na sy sonde, gevind was die betekenis van die woorde: “Want die dag as jy daarvan eet, sal jy die dood sterwe”? (Gen 2:17). Het hy gevind dat dit beteken wat Satan hom wysgemaak het, dat hy tot ‘n hoër toestand van bestaan verhef sou wees? Dan sou daar inderdaad baie goed uit die oortreding verkry gewees het en Satan sou as ‘n weldoener van die ras bewys gewees het. Maar Adam het gevind dat dit nie die betekenis van die Goddelike woorde was nie. God het verklaar dat die mens, as straf vir sy sonde, tot die stof waaruit hy geneem is, sou terugkeer: “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Gen 3:19). Die woorde van Satan: “Julle oë sal oopgaan...” (Gen 3:5) was slegs in hierdie sin waar: Nadat Adam en Eva ongehoorsaam aan God was, is hulle oë geopen om hulle dwaasheid te onderskei; hulle het wel die kwaad geken en die bitter vrug van oortreding gesmaak. GS 562.1
In die middel van Eden het die boom van die lewe gegroei, waarvan die vrugte die krag gehad het om die lewe vir ewig te laat voortduur. As Adam aan God gehoorsaam was, sou hy voortgegaan het om vrye toegang tot hierdie boom te geniet en sou hy vir ewig gelewe het. Maar toe hy gesondig het, is hy van toegang tot die boom van die lewe afgesny en hy was aan die dood onderhewig. Die Goddelike woorde: “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer... ” (Gen 3:19) wys op volkome uitwissing van lewe. GS 562.2
Onsterflikheid wat aan die mens op voorwaarde van gehoorsaamheid belowe is, is deur oortreding verbeur. Adam kon nie dit wat hy nie besit het, aan sy nageslag oordra nie.; en daar sou geen hoop vir die gevalle mens gewees het as God nie deur die offer van Sy Seun, onsterflikheid binne hul bereik gebring het nie. Terwyl “...die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het...” het Christus “...die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring deur die evangelie.” (Rom 5:12; 2 Tim 1:10). En onsterflikheid kan slegs deur Christus verkry word. Jesus het gesê: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.” (Joh 3:36). Elke mens mag hierdie onskatbare seën verkry as hy die voorwaardes nakom. Almal “...wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek... ” sal die ewige lewe ontvang. (Rom 2:7). GS 563.1
Die enigste een wat aan Adam lewe ten spyte van ongehoorsaamheid belowe het, was die groot bedrieër. En die woorde van die slang aan Eva in Eden: “Julle sal gewis nie sterwe nie”, was die eerste preek wat ooit oor die onsterflikheid van die siel gelewer is. Tog word hierdie verklaring wat uitsluitlik op die gesag van Satan berus, vanaf kansels van die Christendom weerspieël en word deur die meerderheid van die mensdom net so maklik aanvaar, as wat dit deur ons eerste ouers aanvaar is. Die Goddelike woorde: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe...” (Eseg 18:20), is bedoel om te beteken: “Die siel wat sondig, sal nie sterwe nie, maar sal vir ewig lewe.” Ons kan nie anders as om te wonder oor die vreemde voorliefde van mense om so op die woorde van Satan te vertrou en so ongelowig ten opsigte van die woorde van God te wees nie. GS 563.2
As die mens na sy val vrye toegang tot die boom van die lewe gehad het, sou hy vir ewig gelewe het en sonde sou verewig word. Maar gérubs het met “...die swaard wat vlam en flikker ... die toegang tot die boom van die lewe ... bewaak...” (Gen 3:24) en nie een van die nakomelinge van Adam is toegelaat om deur daardie versperring te dring om die lewegewende vrugte te bereik nie. Daarom is daar nie ‘n onsterflike sondaar nie. GS 564.1
Maar na die sondeval, het Satan sy engele gebied om ‘n spesiale poging aan te wend om geloof in die natuurlike onsterflikheid van die mens in te boesem; en wanneer hulle die mense aangespoor het om hierdie dwaling aan te neem, sou hulle tot die oortuiging gebring word dat sondaars vir ewig in ellende sou voortlewe. Hierdeur het die vors van duisternis wat deur sy werkkragte werk, God as ‘n wraaksugtige tiran voorgehou en het hy verklaar dat almal wat Hom nie behaag nie, in die hel gedompel sal word waar hulle vir ewig Sy wraak sou ervaar; en terwyl hulle onuitspreeklike foltering verduur en in die ewige vlamme wriemel, kyk hulle Skepper tevrede op hulle neer. GS 564.2
So ken die aartsvyand sy eie eienskappe aan die Skepper en Weldoener van die mensdom toe. Wreedheid is satanies. God is liefde; en alles wat Hy geskape het, was rein, heilig en lieflik totdat sonde deur die eerste groot rebel ingetree het. Satan self is die vyand, wat die mens tot sonde verlei en hom dan vernietig as hy kan; en wanneer hy seker gemaak het van sy slagoffer, verheug hy hom oor die ondergang wat hy bewerk het. As hy toegelaat sou word, sou hy die ganse ras in sy net vang. As dit nie vir die tussentrede van Goddelike mag was nie, sou nie een seun of dogter van Adam ontsnap het nie. GS 564.3
Satan poog tans om mense te oorwin, soos hy ons eerste ouers oorwin het, deur hul vertroue in hul Skepper te laat wankel en hulle te laat twyfel oor die wysheid van sy regering en die regverdigheid van sy wette. Satan en sy boodskappers God erger as hulleself voor om hulle eie kwaadwilligheid en opstand te regverdig. Die groot bedrieër poog om sy eie ontsettende wreedheid van karakter op ons hemelse Vader af te skuif, sodat hy homself kan voordoen as een wat baie verontreg is as gevolg van sy uitwerping uit die hemel omdat hy hom nie aan so ‘n onregverdige heerser wou onderwerp nie. Hy bied aan die wêreld die vryheid wat hulle onder sy sagte heerskappy mag geniet, in teenstelling met die slawerny en streng verordeninge wat deur Jehova opgelê word. So slaag hy daarin om siele van hul trou aan God weg te lok. GS 564.4
Hoe weersinwekkend vir elke emosie van liefde en genade en selfs vir ons sin vir geregtigheid, is die leerstelling dat die goddelose dooies in ‘n ewig brandende hel van vuur en swawel gepynig word; dat vir die sondes van ‘n kortstondige aardse bestaan, hulle gepynig moet word vir solank as wat God lewe! Tog is hierdie leerstelling wyd verkondig en word dit steeds in baie van die geloofsbelydenisse van die Christendom bevat. ‘n Geleerde doktor in goddelikheid het gesê: “Die gesig van die pyniging in die hel sal die geluk van die heiliges vir ewig verhoog. Wanneer hulle sien hoedat ander van dieselfde natuur en onder dieselfde omstandighede gebore as hulle, sulke ellende ly, terwyl hulle self so bevoorreg is, sal hulle ‘n besef van hulle groot geluksaligheid hê.” ‘n Ander een het die volgende woorde gebesig: “Terwyl die bevel van verwerping vir ewig op die voorwerpe van toorn uitgevoer word, sal die rook van hul pyniging vir ewig opstyg voor die aangesig van die verlostes wat, in stede van meegevoel met hierdie ellendige voorwerpe te toon, uitroep: Amen, Halleluja! Loof die Here!” GS 565.1
Waar word so ‘n leerstelling in die bladsye van die Woord van God gevind? Sal die verlostes in die hemel alle emosies van medelye en ontferming en selfs gevoelens van menslikheid verloor het? Moet hierdie eienskappe verruil word vir die onverskilligheid van die stoïsyn of die wreedheid van die barbaar? Nee, glad nie; dit is nie die leer van die Boek van God nie. Diegene wat die sienings in die bostaande aanhalings weergee, is miskien geleerde en selfs eerlike mense, maar hulle word deur die drogredes van Satan mislei. Hy lei hulle om die sterk taal van die Skrif verkeerd te vertolk en gee aan die taal die kleur van bitterheid en kwaadwilligheid wat op homself van toepassing is, maar wat nie by ons Skepper tuishoort nie. “So waar as Ek leef! spreek die Here HERE: gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe?” (Eseg 33:11). GS 565.2
Watter voordeel sou God daaruit trek as ons sou erken dat Hy behae skep in die oneindige marteling van Sy skepsels; dat dit Hom genot verskaf om die kreune en gille en vervloekings van die gefolterde skepsels wat Hy in die vlamme van die hel hou aan te hoor? Kan hierdie afskuwelike geluide soos musiek in die oor van Oneindige Liefde wees? Daar word aangevoer dat die toediening van eindelose ellende aan die goddelose, God se haat vir sonde wat die vrede en orde van die heelal vernietig, openbaar. O, die verskriklike godslastering! Asof God se haat vir sonde die rede is waarom dit vir ewig moet voortduur. Want volgens die lering van hierdie teoloë maak die onophoudelike marteling, sonder hoop op genade, die rampspoedige slagoffers kranksinnig en namate hulle uiting aan hul woede in vloeke en godslastering uitstort, vermeerder hulle hul skuldlading vir ewig. Die heerlikheid van God word nie verhoog deur sonde voortdurend deur die ewige eeue te laat toeneem en voort te laat gaan nie. GS 566.1
Dit is bo die begrip van die menslike verstand om die kwaad te bereken wat deur die dwaalleer van ewige foltering veroorsaak is! Die godsdiens van die Bybel, vol liefde, goedheid en oorvloedige medelye, word verduister deur bygeloof en beklee met vrees. As ons die valse kleure waarin Satan die karakter van God geskilder het aanskou, kan ons dan nog daaroor wonder dat ons barmhartige Skepper gevrees en selfs gehaat word? Hierdie afgryslike beskouings van God wat oor die hele wêreld vanaf die kansels versprei word, het duisende, ja, miljoene twyfelaars en ongelowiges tot gevolg gehad. GS 566.2
Die teorie van ewige foltering is een van die valse leerstellings wat deel uitmaak van die wyn van die gruwel van Babilon waarvan sy al die nasies laat drink het. (Openb 14:8;17:2). Waarom predikante van Christus hierdie dwaalleer aanvaar en dit vanaf die kansel verkondig, is inderdaad ‘n raaisel. Hulle het dit van Rome ontvang, toe hulle ook die valse sabbat aanvaar het. Dit is waar, hierdie leerstelling is deur vooraanstaande en vrome manne verkondig; maar die lig aangaande hierdie onderwerp het nie na hulle gekom soos dit na ons gekom het nie. Hulle was slegs verantwoordelik vir die lig wat in hulle tyd geskyn het; ons is verantwoordelik vir die lig wat in ons dag skyn. As ons ons van die getuienis van die Woord van God afwend en valse leerstellings aanvaar omdat ons voorvaders dit geleer het, dan kom ons onder die veroordeling wat oor Babilon uitgespreek is; ons drink die wyn van haar gruwel. GS 567.1
'n Groot gelid van diegene vir wie die leerstelling van ewige marteling afstootlik is, word tot die teenoorgestelde dwaling gedryf. Hulle sien dat die Skrif God voorstel as ‘n God van liefde en ontferming en hulle kan nie glo dat Hy Sy skepsels aan die vure van ‘n ewig brandende hel sal oorgee nie. Maar omdat hulle van mening is dat die siel van nature onsterflik is, sien hulle geen ander alternatief as om tot die gevolgtrekking te kom dat die ganse mensdom uiteindelik gered sal word nie. Baie beskou die dreigemente van die Bybel slegs as ‘n middel om mense uit vrees tot gehoorsaamheid te dwing en dat dit nie letterlik vervul gaan word nie. So ‘n leerstelling wat ‘n aanname van God se barmhartigheid maak, maar Sy geregtigheid ignoreer, behaag die vleeslike hart en moedig die goddelose in hul ongeregtigheid aan. GS 567.2
Om aan te toon hoe gelowiges in die universele verlossing grepe uit die Skrif neem om hul selfvernietigende dogmas te steun, is dit slegs nodig om hul eie uitsprake aan te haal. By die begrafnis van ‘n jong godsdienstige man, wat op slag in ‘n ongeluk gedood is, het ‘n predikant wat die leer van universele redding aangehang het, die volgende teks uit die skrif aangehaal waar van Dawid gesê word: “Want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.” (2 Sam 13:39). GS 567.3
“Dikwels word ek gevra...” het die spreker gesê, “...wat sal van diegene word wat hierdie wêreld in sonde verlaat, of miskien in ‘n toestand van dronkenskap sterf, of rooi-bevlek van misdaad op hul ongewaste klere, of wat gesterf het soos hierdie jongman wat nooit ‘n belydenis van godsdiens gemaak het of ‘n ervaring daarvan gehad het nie. Ons is tevrede met die Skrifte; hul antwoord sal hierdie vreesaanjaende vraag beantwoord. Amnon was buitengewoon sondig; hy was onboetvaardig, hy is dronk gemaak en terwyl hy dronk was, is hy gedood. Dawid was ‘n profeet van God; hy het moes geweet het of dit goed of sleg vir Amnon in die hiernamaals sou wees. Wat was die begeertes van sy hart? ‘...die gees van koning Dawid het baie verlang om na Absalom uit te gaan, want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.’ (2 Sam 13:39). GS 568.1
“En wat kan van hierdie woorde afgelei word? Is dit nie dat eindelose lyding geen deel van sy geloofsoortuiging uitmaak nie? Dit is ons mening; en hier ontdek ons ‘n triomfantlike argument ter ondersteuning van die meer aanvaarbare, meer verligte en meer welwillende hipotese van uiteindelike universele reinheid en vrede. Hy is getroos, siende dat sy seun dood was. En waarom? Omdat hy met profetiese blik vooruit in die heerlike toekoms kon sien en die seun kon sien, dat hy ver verwyderd van alle versoekings was, vrygemaak van slawerny en gesuiwer van die korrupsie van sonde en nadat hy voldoende geheilig en verlig is, toegelaat is tot die vergadering van vreugdevolle geeste wat opgevaar het. Sy enigste vertroosting was dat sy geliefde seun, nadat hy van die huidige toestand van sonde en lyding weggeneem is, heengegaan het waar die Heilige Gees in sy donker siel uitgestort sou word en waar sy verstand tot die wysheid van die hemel, asook die verrukking van onsterflike liefde sou ontvou en sodoende, met ‘n geheiligde natuur voorberei sou word om die rus en samelewing van die hemelse erfenis te geniet. GS 568.2
“Volgens hierdie gedagtes word ons gelei om te verstaan dat die saligheid van die hemel nie van enigiets wat ons in hierdie lewe kan doen afhanklik is nie; en ook nie van ‘n huidige hartsverandering of huidige geloof of ‘n huidige belydenis van godsdiens nie.” GS 569.1
So het hierdie beweerde dienaar van Christus die valsheid wat die slang in Eden uitgespreek het, herhaal: “Julle sal gewis nie sterwe nie.” (Gen 3:4). “Julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees.” (Gen 3:5). Hy verklaar dat die laagste sondaar — die moordenaar, die dief en die egbreker — na die dood berei sal word om die ewige geluksaligheid te betree. GS 569.2
En waarvan lei hierdie verdraaier van die Skrif sy gevolgtrekkings af? Uit een enkele sin wat Dawid se onderwerping aan die bedeling van die Voorsienigheid uitdruk. Die siel van Dawid “...het baie verlang om na Absalom uit te gaan want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.” (2 Sam 13:39). Omdat die angel van sy hartseer deur tyd versag is, het sy gedagtes van sy gestorwene na sy lewende seun weggedraai, wat uit vrees vir die regverdige straf op sy misdaad homself verban het. En dit is die beweerde bewys dat die besope Amnon, skuldig aan bloedskande, onmiddellik ná sy dood na die oord van geluksaligheid gevoer is, om daar vir gemeenskap met sondelose engele gereinig en voorberei te word! Inderdaad ‘n welgevallige versinsel, bestem om die vleeslike hart te bevredig! Dit is Satan se eie leerstelling en dit werk effektief. Moet ons dan verbaas wees dat goddeloosheid as gevolg van sulke leringe oorvloedig is? GS 569.3
Die koers van hierdie een valse leraar illustreer die koers van baie ander. ‘n Paar woorde uit die Skrif word uit konteks geneem, wat in baie gevalle toon dat die betekenis daarvan presies die teenoorgestelde vertolking is van wat daarop geplaas is; en sulke onderbroke gedeeltes word verdraai en gebruik as bewys van leerstellings van geen grondslag in die Woord van God het nie. Die getuienis wat aangehaal word as bewys dat die besope Amnon in die hemel is, is ‘n blote afleiding wat direk deur die duidelike en positiewe verklaring van die Skrif weerspreek word, dat geen dronkaard die koninkryk van God sal beërwe nie. (1 Kor 6:10.) Dit is op hierdie wyse dat twyfelaars, ongelowiges en skeptici, die waarheid in ‘n leuen verdraai. Menigtes is deur hulle drogredes mislei en het in die wieg van vleeslike veiligheid geslaap. GS 569.4
As dit waar was dat die siele van alle mense direk ná die dood na die hemel gegaan het, sou ons die dood bo die lewe begeer. Baie mense is deur hierdie oortuiging gelei om ‘n einde aan hul lewe te maak. Wanneer hulle deur moeilikheid, verwarring en teleurstelling oorweldig word, lyk dit na ‘n maklike uitweg om die brose draad van die lewe te knip en weg te sweef in die saligheid van die ewige wêreld. GS 570.1
God het in Sy Woord onweerlegbare bewys gelewer dat Hy die oortreders van Sy wet sal straf. Diegene wat hulle vlei dat Hy te genadig is om reg aan die sondaar te laat geskied, hoef net na die kruis van Golgota te kyk. Die dood van die vlekkelose Seun van God getuig dat die “...loon van die sonde die dood is...” en dat elke oortreding van die wet van God gestraf sal word. Christus, die sondelose, het sonde vir die mens geword. Hy het die skuld van oortreding en die verberging van Sy Vader se aangesig verduur, totdat Sy hart gebreek en Sy lewe verpletter is. Hierdie opoffering is gemaak sodat sondaars verlos kon word. Op geen ander wyse kan die mens van die straf van sonde bevry word nie. En elke siel wat weier om te deel in die versoening wat teen so ‘n ontsettende koste voorsien is, moet in sy eie persoon die skuld en die straf van die oortreding dra. GS 570.2
Laat ons kyk na wat die Bybel verder aangaande goddelose en onboetvaardiges leer, wat deur die universalis as heilige gelukkige engele in die hemel geplaas word. GS 571.1
“Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” (Openb 21:6). Hierdie belofte is slegs vir diegene dors het. Slegs diegene wat hul behoefte aan die water van die lewe ervaar en ten alle koste daarna soek, sal dit ontvang. “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees en hy sal vir My ‘n seun wees.” (Openb 21:7). Ook hier, word die voorwaardes gespesifiseer. Om alle dinge te beërwe, moet ons die sonde weerstaan en oorwin. GS 571.2
Die Here verklaar deur die profeet Jesaja: “Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan ... Wee die goddelose; Met hom gaan dit sleg; want wat sy hande gewerk het, sal hom aangedoen word.” (Jes 3:10,11). Die wyse man sê: “...aangesien ‘n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe — alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor Sy aangesig vrees en dit nie goed sal gaan met die goddelose...” nie. (Pred 8:12,13.) En Paulus getuig dat die sondaar vir homself toorn vergader teen die “...dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke ... verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen.” (Rom 2:5,6,9). GS 571.3
“Dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.” (Efe 5:5). “Jaag die vrede na met almal en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (Heb 12:14). “Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.” (Openb 22:14,15). GS 571.4
God het aan die mens ‘n verklaring van Sy karakter en Sy manier om met sonde om te gaan, gegee. “Here, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” (Eks 34:6,7). “Hy verdelg al die goddelose ... maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.” (Ps 145:20;37:38). GS 572.1
Die mag en gesag van die Goddelike regering sal aangewend word om die opstand te onderdruk; tog sal al die openbarings van vergeldende regverdigheid in volkome ooreenstemming met die karakter van God wees, as ‘n genadige, lankmoedige en weldadige Wese. GS 572.2
God dwing niemand se wil of oordeel af nie. Hy het geen behae in slaafse gehoorsaamheid nie. Hy begeer dat die skepsels van Sy hande Hom sal liefhê omdat Hy hulle liefde waardig is. Hy wil hê dat hulle Hom moet gehoorsaam, omdat hulle ‘n intelligente waardering vir sy wysheid, geregtigheid en welwillendheid het. En almal wat ‘n regverdige begrip van hierdie eienskappe het, sal Hom liefhê omdat hulle na Hom toe, in bewondering van Sy hoedanighede, aangetrek word. GS 572.3
Die beginsels van goedhartigheid, barmhartigheid en liefde soos deur ons Heiland geleer en geïllustreer, is ‘n transkripsie van die wil en karakter van God. Christus het verklaar dat Hy niks geleer het wat Hy nie van Sy Vader ontvang het nie. Die beginsels van die Goddelike regering is in volkome harmonie met die Heiland se gebod: “Julle moet julle vyande liefhê.” God voer geregtigheid oor die goddelose uit vir die welsyn van die heelal en selfs tot die beswil van diegene oor wie Sy oordele uitgevoer word. Hy sou hulle gelukkig maak as Hy dit ooreenkomstig die wette van Sy regering en die geregtigheid van Sy karakter kon doen. Hulle word omring met tekens van Sy liefde. Hy gee aan hulle ‘n kennis van Sy wet en volg hulle met die aanbiedings van Sy genade; maar hulle versmaai Sy liefde, maak Sy wet tot niet en verwerp Sy genade. Terwyl hulle voortdurend Sy gawes ontvang, doen hulle die Gewer oneer aan; hulle haat God omdat hulle weet dat Hy ‘n afsku aan hulle sondes het. Die Here is lankmoedig met hulle verdorwenheid, maar die beslissende uur sal uiteindelik aanbreek wanneer hulle lot beslis sal word. Gaan Hy dan hierdie rebelle aan Sy sy vasketting? Sal Hy hulle dwing om Sy wil te doen? GS 572.4
Diegene wat Satan as leier gekies het en deur sy mag beheer word, is nie bereid om in die teenwoordigheid van God te kom nie. Hoogmoed, misleiding, losbandigheid en wreedheid is in hul karakters vasgevang. Kan hulle die hemel binnegaan om vir ewig by diegene wie hulle op aarde geminag en gehaat het te woon? Die waarheid sal nooit vir ‘n leuenaar aanvaarbaar wees nie; sagmoedigheid sal nie die eiewaan en hoogmoed bevredig nie; reinheid is nie vir die korruptes aanvaarbaar nie; onselfsugtige liefde is nie vir die selfsugtiges aantreklik nie. Wat se bron van genot kan die hemel aan diegene wat volkome in aardse genot en eiebelang opgeneem is, bied? GS 573.1
As diegene wat hulle hele lewe in opstand teen God deurgebring het, skielik na die hemel geneem kon word en hulle die hoë en heilige staat van volmaaktheid wat ewig daar bestaan kon aanskou, waar elke siel met liefde gevul is, elke gelaat stralend van vreugde, waar verruklike musiek in melodieuse note ter ere van God en die Lam opstyg en onophoudelike strale van lig voortdurend oor die verlostes straal vanuit die aangesig van Hom wat op die troon sit, sou diegene wie se harte met haat teenoor God en teenoor die waarheid en heiligheid gevul is, met die hemelse skare in hulle lofliedere kon saamsing? Sou hulle die heerlikheid van God en die Lam kan verduur? Nee, nee; jare van genadetyd is aan hulle verleen, sodat hulle hul karakters geskik vir die hemel kon vorm; maar hulle het hul verstand nooit geleer om reinheid lief te hê nie; hulle het nooit die taal van die hemel geleer nie en nou is dit te laat. ‘n Lewe van opstand teen God het hulle ongeskik vir die hemel gemaak. Die reinheid, heiligheid en vrede wat daar heers, sal vir hulle ‘n marteling wees; die heerlikheid van God sal vir hulle soos ‘n verterende vuur wees. Hulle sal verlang om van daardie heilige plek af weg te vlug. Hulle sal vernietiging verwelkom sodat hulle van die aangesig van Hom wat gesterf het om hulle te verlos verberg kon word. Die lot van die goddelose word deur hulle eie keuse bepaal. Hulle uitsluiting uit die hemel is vrywillig van hulle kant en regverdig en genadig van die kant van God. GS 573.2
Soos die waters van die Sondvloed, sal die vuur van die groot dag van God se uitspraak, aankondig dat die goddelose ongeneeslik is. Hulle is nie geneig om hulle aan Goddelike gesag te onderwerp nie. Hulle het hulle wil in opstand uitgeoefen; en wanneer die lewe beëindig word, is dit te laat om die stroom van hul gedagtes in die teenoorgestelde rigting te stuur, te laat om van oortreding na gehoorsaamheid en van haat na liefde te draai. GS 574.1
Deur die lewe van Kain, die moordenaar, te spaar, het God aan die wêreld ‘n voorbeeld gegee van wat die gevolge is wanneer ‘n sondaar toegelaat word om ‘n weg van ongebreidelde ongeregtigheid voort te sit. Deur die invloed van Kain se leer en voorbeeld is menigtes van sy nageslag in sonde gelei, totdat “...die boosheid van die mens op die aarde groot was ... en ... al die versinsels wat hy in sy hart bedink altyddeur net sleg was ... Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God en die aarde was vol geweld.” (Gen 6:5,11). GS 574.2
In genade teenoor die wêreld, het God die goddelose bewoners daarvan in die tyd van Noag uitgewis. In genade het Hy die korrupte inwoners in Sodom vernietig. Deur die misleidende krag van Satan verkry die bewerkers van ongeregtigheid medelye en bewondering en lei ander dus voortdurend tot rebellie. So was dit in Kain se tyd, in Noag se tyd en in die tyd van Abraham en Lot en so is dit ook in ons tyd. Dit is in genade teenoor die heelal dat God die verwerpers van Sy genade finaal sal vernietig. GS 574.3
“Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:23). Die lewe is die erfdeel van die regverdiges, maar die dood is die deel van die goddelose. Moses het aan Israel verklaar: ldquo;Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk en die dood en die ongeluk.” (Deut 30:15). Die dood waarna in hierdie Skriftuur verwys word, is nie soos die dood wat oor Adam uitgespreek is nie, want die hele mensdom deel in die straf van sy oortreding. Dit is die “tweede dood” wat hier in teenstelling met die ewige lewe geplaas word. GS 575.1
As gevolg van Adam se sonde is die dood aan die ganse mensdom oorgedra. Almal gaan dieselfde weg na die graf volg. En volgens die bepalings van die plan van verlossing, moet almal uit hul grafte te voorskyn kom. Daar sal ‘n opstanding van die dode wees, regverdiges sowel as onregverdiges; “...want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewendig gemaak word” (Hand 24:15; 1 Kor 15:22). Maar daar is ‘n verskil tussen die twee klasse wat opgewek sal word. “Daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan — die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” (Joh 5:28,29). Diegene wat “...waardig geag is...” tot die opstanding van die lewe, word genoem “...salig en heilig.” “Oor hulle het die tweede dood geen mag nie.” (Openb 20:6). Maar diegene wat nie deur bekering en geloof die vryspraak ontvang het nie, sal die straf op hulle oortreding ontvang — “...die loon van die sonde.” Hulle ontvang straf wat “...volgens hulle werke...” in die duur daarvan en intensiteit sal verskil, maar uiteindelik in die tweede dood sal eindig. Aangesien dit onmoontlik vir God is om, in ooreenstemming met Sy geregtigheid en barmhartigheid, die sondaar in sy sondes te red, ontneem Hy hom van die lewe wat hy deur sy oortredinge verbeur het en waarvan hy homself onwaardig bewys het. ‘n Geïnspireerde skrywer sê: “Nog ‘n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.” En ‘n ander verklaar: Hulle sal “...word asof hulle nooit bestaan het nie.” (Ps 37:10; Obadja 1:16). Met skande bedek, sink hulle in hopelose, ewige vergetelheid weg. GS 575.2
So sal daar ‘n einde aan sonde gemaak word met al die wee en verwoesting wat daaruit voortgevloei het. Die psalmis sê: “U het die heidene gedreig, die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd. Die vyande het omgekom — puinhope vir ewig.” (Ps 9:6,7). Johannes, wat in Openbaring uitsien na die ewigheid, het ‘n universele loflied sonder enige wanklank gehoor. Hy het gehoor hoe elke skepsel in die hemel en op die aarde heerlikheid aan God bring. (Openb 5:13.) Daar sal dan geen verlore siele wees om God te laster terwyl hulle wriemel in nimmer-eindigende pyniging nie; geen ellendige wesens in die hel sal hul gille met die liedere van die verlostes meng nie. GS 576.1
Die leerstelling van bewustheid na die dood berus op die fundamentele lering van natuurlike onsterflikheid - ‘n leerstelling, soos ewige foltering, in teenstelling met die leerstellings van die Skrif, met die voorskrifte van die rede en ons gevoelens van menslikheid. Volgens die algemene opvatting, is die verlostes in die hemel bekend met alles wat op die aarde plaasvind en veral die lewens van die vriende wat hulle agtergelaat het. Maar watter bron van geluk kan dit vir die afgestorwenes inhou om bewus te wees van die probleme van die lewendes, om die sondes wat hulle dierbares pleeg te aanskou en om te sien hoedat hulle die smarte, teleurstellings en angs van die lewe verduur? Hoeveel hemelse geluk kan diegene wat bokant hul vriende op aarde swerf ervaar? En hoe uiters weersinwekkend is die geloof dat die siel van die onboetvaardige aan die vlamme van die hel oorgegee word sodra die asem die liggaam verlaat! In wat se diepte van sieleangs moet diegene wat hul vriende onvoorbereid na die graf sien afgaan om die ewigheid van wee en sonde in te gaan, gedompel word! Baie is deur hierdie ontstellende gedagte tot waansin gedryf. GS 576.2
Wat sê die Skrif oor hierdie dinge? Dawid verklaar dat die mens geen bewustheid na sy dood het nie. “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Ps 146:4). Salomo getuig dieselfde: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie ... Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie ... Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.” (Pred. 9:5,6,10). GS 577.1
Toe Hiskia se lewe in antwoord op sy gebed met vyftien jaar verleng is, het die dankbare koning eer aan God betoon vir Sy Groot genade gegee. In hierdie loflied gee hy die rede vir sy vreugde: “Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op U trou nie hoop nie. GS 577.2
Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag.” (Jes 38:18,19). Algemene teologie stel die regverdige afgestorwenes voor as dat hulle in die hemel is, saligheid betree het en God met onsterflike tonge loof; maar Hiskia kon nie so ‘n heerlike vooruitsig in die dood sien nie. Sy woorde stem ooreen met die getuienis van die psalmdigter: “Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk? ... Die dode en almal wat na die stilte neerdaal sal die Here nie loof nie.” (Ps 6:6;115:17). GS 577.3
Op Pinksterdag het Petrus verklaar dat die patriarg, Dawid, “...gesterf het en ook begrawe is en sy graf is onder ons tot vandag toe ... Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie.” (Hand 2:29,34). Die feit dat Dawid in die graf bly tot met die opstanding, bewys dat die regverdiges nie met die dood hemel toe gaan nie. Alleenlik met die opstanding en op grond van die feit dat Christus opgestaan het, kan Dawid uiteindelik aan die regterhand van God sit. GS 577.4
En Paulus sê: “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.” (1 Kor 15:16-18). Indien die regverdiges vir vierduisend jaar reeds onmiddellik na die dood hemel toe gegaan het, hoe sou Paulus kon sê dat as daar geen opstanding is nie, “...die wat in Christus ontslaap het, verlore is”? Geen opstanding sou dan nodig gewees het nie. GS 578.1
Die martelaar Tyndale, met verwysing na die toestand van die ontslapenes, het verklaar: “Ek bely openlik dat ek nie oortuig is dat hulle alreeds in die volle heerlikheid verkeer waar Christus of die uitverkore engele van God is nie. Dit is ook nie in my geloofsartikels nie, want as dit so was, kan ek nie anders as om in te sien dat die prediking van die opstanding van die vlees iets tevergeefs is nie.” — Wm Tyndale, Voorwoord tot New Testament, 1534-uitgawe. Herdruk in British Reformers — Tyndale, Firth, Barnes, bl 349. GS 578.2
Dit is ‘n onweerlegbare feit dat die hoop op onsterflike geluksaligheid by die dood, gelei het tot ‘n algemene verwaarlosing van die Bybelse lering oor die opstanding. Aangaande hierdie neiging het Dr Adam Clarke opgemerk: “Die leerstelling van die opstanding het skynbaar groter betekenis vir die vroeë Christene as tans gehad! Hoekom? Die apostels het dit voortdurend beklemtoon en hulle het die volgelinge van God tot ywer, gehoorsaamheid en blymoedigheid op grond daarvan vermaan. En hul hedendaagse opvolgers maak selde melding daarvan! So het die apostels gepreek en so het die vroeëre Christene geglo; so preek ons en so glo ons hoorders. GS 578.3
Daar is nie ‘n leerstelling in die evangelie wat meer beklemtoon word nie; en daar is nie ‘n leerstelling in die huidige stelsel wat meer verwaarloos word nie!” — Commentary on the New Testament, vol 2, algemene opmerking oor 1 Korinthiërs15, par 3. GS 578.4
Dit het voortgeduur totdat die heerlike waarheid van die opstanding byna heeltemal verduister is en deur die Christelike wêreld uit die oog verloor is. So sê ‘n vooraanstaande godsdienstige skrywer, in ‘n kommentaar oor die woorde van Paulus in 1 Thessalonicense 4:13-18: “Vir alle praktiese doeleindes van vertroosting, neem die leer van die salige onsterflikheid van die regverdiges vir ons die plek in van enige twyfelagtige lering van die Here se tweede koms. Met ons afsterwe kom die Here ons haal. Dit is waarvoor ons moet wag en uitsien. Die ontslapenes is reeds in heerlikheid opgeneem. Hulle wag nie op die geklank van die basuin vir hulle oordeel in geluksaligheid nie.” GS 579.1
Maar toe Hy Sy dissipels sou verlaat, het Jesus nie vir hulle gesê dat hulle binnekort na Hom sou kom nie. “Ek gaan om vir julle plek te berei...” het Hy gesê. “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” (Joh 14:2,3). Verder sê Paulus: “Die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” En hy voeg by: “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” (1 Thes 4:16-18). GS 579.2
Hoe wyd is die kontras tussen hierdie trooswoorde en die van die universele-predikant wat hierbo aangehaal is! Laasgenoemde het sy bedroefde vriende getroos met die versekering dat die ontslapenes, hoe sondig hulle ook was, tussen die engele ontvang sou word wanneer hulle hul asem hier uitblaas. Paulus wys sy broeders op die toekomstige koms van die Here, wanneer die kettings van die graf verbreek sal word “...en die wat in Christus gesterf het...” tot die ewige lewe opgewek sal word. GS 579.3
Voordat enigiemand die herehuise van die saliges kan betree, moet hul lewens ondersoek word en hul karakters en dade moet voor God in oënskou geneem word. Almal moet volgens wat in die boeke geskryf staan geoordeel word en volgens hulle werke beloon word. Hierdie oordeel vind nie by die dood plaas nie. Let op Paulus se woorde: God het ‘n dag bepaal “...waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Hand 17:31). Hier het die apostel dit duidelik gestel dat daar ‘n bepaalde tyd (toe nog in die toekoms), vir die oordeel van hierdie wêreld vasgestel is. GS 579.4
Judas verwys na dieselfde tydperk: “Die engele wat hulle eie beginsel nie bewaar het nie, maar hulle eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar.” En weer haal hy die woorde van Henog aan: “Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisend talle, om gerig te hou oor almal.” (Judas 14,15). Johannes verklaar: “Ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan en die boeke is geopen ... En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is.” (Openb 20:12). GS 580.1
Maar as die ontslapenes alreeds die saligheid van die hemel geniet, of in die vlamme van die hel wriemel, watter behoefte is daar dan vir ‘n toekomstige oordeel? Die leer van die Woord van God oor hierdie belangrike punte is nie duister of teenstrydig nie; dit kan deur die algemene denke verstaan word. Maar watter openhartige mens kan wysheid of geregtigheid in die huidige teorie sien? Sal die regverdiges, na die ondersoek van hul saak tydens die oordeel, die lof ontvang: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg ... gaan in in die vreugde van jou heer...”, as hulle reeds miskien eeue lank reeds in Sy, teenwoordigheid verkeer? Sal die goddelose uit die plek van pyniging ontbied word om hul vonnis van die Regter van die hele aarde te ontvang: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele”? (Mat 25:21,41). O, plegtige bespotting! Skandelike beskuldiging teen die wysheid en geregtigheid van God! GS 580.2
Die teorie oor die onsterflikheid van die siel is een van die valse leerstellings wat Rome, van Paganisme ontleen, opgeneem het in die godsdiens van die Christendom. Martin Luther het dit met die “afskuwelike versinsels wat deel uitmaak van die Roomse mishoop van dekrete” geklassifiseer. — E Petavel, The Problem of Immortality, bl 255. In ‘n kommentaar oor Salomo se woorde in die boek Prediker, dat die dode niks weet nie, sê hierdie hervormer: “Dit is nog ‘n plek wat bewys dat die ontslapenes niks voel nie. Daar is, sê hy, geen plig, geen wetenskap, geen kennis, geen wysheid daar nie. Salomo sê dat die dooies slaap en glad niks voel nie. Want die dode lê daar, sonder ‘n besef van dae of jare, maar wanneer hulle wakker word, sal dit vir hulle voel asof hulle skaars ‘n minuut geslaap het.” — Luther, Exposition of Solomon’s Book Called Ecclesiastes, bI 152. GS 581.1
Nêrens in die Heilige Skrif word die stelling gevind dat met hulle afsterwe die regverdiges na hul beloning gaan of dat die goddelose na hulle straf gaan nie. Die patriarge en profete het nie so ‘n versekering gelaat nie. Christus en Sy apostels het geen wenk daarvan gegee nie. Die Bybel leer duidelik dat die ontslapenes nie onmiddellik hemel toe gaan nie. Hulle word voorgestel dat hulle slaap tot met die opstanding (1Thes 4:14; Job 14:10-12). Op die dag wanneer “...die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val...” (Pred 12:6) is dit met die gedagtes gedaan. Hulle wat neerdaal na die graf, is stil. Hulle weet niks meer van wat onder die son aangaan nie. (Job 14:21). Salige rus vir die vermoeide regverdiges! Tyd, hetsy lank of kort, is net ‘n oomblik vir hulle. Hulle slaap; hulle sal deur die basuin van God tot ‘n heerlike onsterflikheid opgewek word. “Want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word ... Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. Dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: “Die dood is verslind in die oorwinning.” (1 Kor 15:52-54). Wanneer hulle uit hul diepe slaap opgewek word sal hul eerste gedagte hul laaste gedagte wees voordat hulle gesterf het. Die laaste gewaarwording was die pyn van die dood; die laaste gedagte, dat hulle onder die mag van die graf verval. Wanneer hulle uit die graf opstaan, sal hul eerste blye gedagte in die kreet van triomf weerklink: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (vers 55). GS 581.2