Die Groot Stryd (1911)

5/44

Hoofstuk 3—'n Tydperk van Geestelike Duisternis

In sy tweede sendbrief aan die Thessalonicense, het Paulus die groot afvalligheid wat tot die opkoms van die mag van die pousdom sou lei, voorspel. Hy het verklaar dat die dag van Christus nie sou kom voordat die groot afval gekom het nie: “Want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo elkeen wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” (2 Thes 2:3,4). En verder waarsku die apostel sy broeders: “Die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.” (2 Thes 2:7). Selfs op daardie vroeë stadium het hy gesien hoedat dwaalleringe wat die weg vir die ontwikkeling van die pousdom sou voorberei die kerk binnesluip. GS 35.1

Bietjie vir bietjie, eers skelm en stilweg en toe meer openlik en namate dit in krag toegeneem en beheer oor die verstand van mense verkry het, het die verborgenheid van ongeregtigheid die misleidende en godslasterlike werk voortgesit. Byna onopmerklik het die gebruike van die heidendom hul weg in die Christelike kerk gevind. Die gees van kompromie en gelykvormigheid is vir ‘n tyd deur die hewige vervolging wat die kerk onder die heidendom verduur het ingeperk. Maar toe die vervolging gestaak is en die Christendom die voorhowe en paleise van konings betree het, het die kerk die nederige eenvoud van Christus en Sy apostels verruil vir die prag en praal van heidense priesters en heersers; en in plaas van die vereistes van God, is dit met menslike teorieë en tradisies vervang. Die sogenaamde bekering van Konstantyn aan die begin van die vierde eeu, het groot vreugde veroorsaak; en die wêreld, bedek met ‘n vorm van geregtigheid, het in die kerk ingetree. Korrupsie het nou vinnig toegeneem. Die heidendom, terwyl dit voorgekom het asof dit oorwin is, het die oorwinnaar geword. Haar gees het die kerk beheer. Haar leerstellings, seremonies en bygelowe is in die geloof en aanbidding van die beweerde volgelinge van Christus opgeneem. GS 35.2

Hierdie kompromie tussen die heidendom en die Christendom, het gelei tot die ontwikkeling van die ” mens van sonde...” wat, volgens die profesie voorspel is dat hy homself bo God verhef en Hom teëstaan. Hierdie reuse-stelsel van valse godsdiens is ‘n meesterstuk van Satan se mag — ‘n monument vir sy pogings om homself op die troon te plaas om die aarde volgens sy wil te regeer. GS 36.1

Satan het voorheen probeer om ‘n kompromie met Christus te sluit. Hy het in die woestyn van versoeking na die Seun van God gekom en terwyl hy aan Hom al die koninkryke van die wêreld en die heerlikheid daarvan getoon het, aangebied om alles in Sy hande oor te gee as Hy net die oppergesag van die vors van duisternis sou erken. Christus het die vermetel versoeker bestraf en hom gedwing om weg te gaan. Maar Satan behaal groter sukses deur dieselfde versoekings aan mense te rig. Ten einde wêreldse winste en eerbewyse te verseker, is die kerk gelei om die guns en steun van die groot manne van die aarde te soek; en nadat sy Christus verwerp het, is sy beweeg om haar trou aan die verteenwoordiger van Satan, die biskop van Rome, te skenk. GS 36.2

Dit is een van die vernaamste leerstellings van die Roomse geloof dat die pous die sigbare hoof van die universele kerk van Christus is, beklee met oppergesag oor biskoppe en predikante in alle dele van die wêreld. Meer as dit, is die titel van Godheid aan hom toegedien. Hy word genoem, “Here God die pous” [sien bylae vir bl 50] en is onfeilbaar verklaar. Hy maak aanspraak op die eerbetoon van alle mense. Dieselfde aanspraak wat Satan in die woestyn van versoeking aangespoor het, word steeds deur die Kerk van Rome aangespoor en groot menigtes is bereid om aan hom hulde te bring. GS 36.3

Maar diegene wat God vrees en eerbiedig, konfronteer hierdie hemeltergende aanmatiging soos Christus die versoekinge van die sluwe vyand beantwoord het met: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Luk 4:8). God het nêrens in Sy Woord melding gemaak dat Hy ‘n mens as hoof van die kerk aangestel het nie. Die leerstelling van pouslike heerskappy is regstreeks in teenstelling met die leerstellings van die Skrif. Die pous kan geen mag oor die kerk van Christus verkry nie, behalwe deur ongeoorloofde oorname. GS 36.4

Rome het volhard om die beskuldiging teen Protestante van dwaalleringe en moedswillige skeiding van die ware kerk te bring, maar hierdie beskuldigings was eerder op hulleself van toepassing. Dit is hulle wat die vaandel van Christus neergelê het en afgewyk het van die “...geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 3). GS 37.1

Satan het goed geweet dat die Heilige Skrif mense in staat sou stel om sy misleidings te onderskei en sy mag te weerstaan. Dit was deur die Woord dat selfs die Verlosser van die wêreld sy aanvalle weerstaan het. Met elke aanval het Christus die skild van ewige waarheid voorgehou en gesê: “Daar is geskrywe.” Elke voorstel wat die vyand gemaak het, het Hy met die wysheid en krag van die Woord teëgestaan. Vir Satan om sy beheer oor die mense te handhaaf en die gesag van die pouslike indringer te vestig, moes hy hulle onkundig aangaande die Skrif hou. Die Bybel verhef God en plaas die sterflike mens in sy ware posisie; daarom moes die heilige waarhede daarvan verswyg en onderdruk word. Hierdie logika is deur die Roomse Kerk aanvaar. Die verspreiding van die Bybel was vir honderde jare verbode. Die mense was verbied om dit te lees of in hulle huise te hê en beginsellose priesters en prelate het die leerstellings daarvan op ‘n wyse vertolk wat hulle eie aanmatigings staaf. So is die pous byna universeel as die plaasvervanger van God op aarde erken, bedeel met gesag oor kerk en staat. GS 37.2

Met die ontbloter van dwaling uit die weg geruim, kon Satan na willekeur werk. Die profesie het verklaar dat die pousdom sou dink “...om tye en wet te verander.” (Dan 7:25). Hy was nie traag om dit in werking te stel nie. Om aan die bekeerlinge uit die heidendom ‘n plaasvervanger vir die aanbidding van afgode te kon bied en sodoende hul nominale aanvaarding van die Christendom te bevorder, is die aanbidding van beelde en relikwieë geleidelik in die Christelike godsdiens ingebring. ‘n Dekreet van ‘n algemene raadsvergadering [sien bylaag] het hierdie stelsel van afgodery uiteindelik bekragtig. Om hierdie werk van heiligskending te voltooi, het Rome hulle aangematig om die tweede gebod van die wet van God wat die aanbidding van beelde verbied te verwyder en die tekort aan te vul deur die tiende gebod in twee te deel om sodoende tien gebooie te behou. GS 37.3

Hierdie gees van toegewing aan die heidendom het die weg vir ‘n verdere miskenning van die Hemel se gesag gebaan. Satan, wat deur ongewyde leiers van die kerk gewerk het, het ook met die vierde gebod gepeuter en dit so bewerk dat die eertydse Sabbat, die dag wat God geseën en geheilig het (Gen 2:2,3), met die feesdag wat deur die heidene as “...die eerbiedwaardige dag van die son..” gevier is, te vervang. Aanvanklik was hierdie verandering nie openlik aangewend nie. In die eerste eeue was die ware Sabbat deur alle Christene onderhou. Hulle was ywerig vir die eer van God en omdat hulle geglo het dat Sy wet onveranderlik is, het hulle ywerig oor die heiligheid van die gebooie gewaak. Maar met groot subtiliteit het Satan deur sy werkkragte gewerk om sy doelwit te bereik. Om die aandag van die mense op Sondag te vestig, is dit as ‘n feesdag ter ere van die opstanding van Christus ingestel. Godsdienstige dienste is op daardie dag gehou; tog was dit as ‘n dag van ontspanning beskou, terwyl die Sabbat steeds as heilig waargeneem is. GS 38.1

Om die weg voor te berei vir die werk wat hy beplan het om te verrig, het Satan die Jode, voor die eerste koms van Christus, beweeg om die Sabbat te belaai met die strengste eise wat die onderhouding daarvan ‘n las gemaak het. En, terwyl hy voordeel uit die valse lig waarin hy dié dag gestel het getrek het, het hy dit as ‘n Joodse instelling laat minag. Terwyl die Christene Sondag oor die algemeen steeds as ‘n vreugdevolle dag gevier het, het hy hulle gelei om haat teenoor Judaïsme te betoon, om die Sabbat ‘n vasdag, ‘n dag van hartseer en somberheid te maak. GS 38.2

Aan die begin van die vierde eeu het die keiser, Konstantyn, ‘n dekreet uitgevaardig wat Sondag as ‘n openbare feesdag in die hele Romeinse Ryk [sien bylaag] verklaar het. Die dag van die son is deur sy heidense onderdane eerbiedig en deur Christene vereer; dit was die keiser se beleid om die botsende belange van die heidendom en die Christendom te verenig. Hy het dit op aandrang van die biskoppe van die kerk gedoen wat, besiel met ambisie en ‘n dors na mag, gesien het dat indien dieselfde dag deur beide Christene en heidene vereer word, dit die nominale aanname van die Christelike geloof deur die heidene sou bevorder en sodoende die mag en heerlikheid van die kerk sou laat toeneem. Maar hoewel baie godvresende Christene geleidelik gelei is om Sondag met ‘n mate van heiligheid te beskou, het hulle steeds die ware Sabbat as die heilige dag van die Here onderhou en dit in gehoorsaamheid aan die vierde gebod waargeneem. GS 39.1

Die aartsbedrieër het egter nog nie sy werk voltooi nie. Hy was vasbeslote om die Christendom onder sy vaandel te versamel en om sy mag deur sy plaasvervanger, die trotse pous wat aanspraak daarop maak dat hy die verteenwoordiger van Christus is, uit te oefen. Deur middel van half-bekeerde heidene, ambisieuse prelate en wêreldliefhebbende kerkmense, het hy sy doel bereik. Belangrike raadsvergaderings waar die waardigheidsbekleërs van die kerk uit alle dele van die wêreld byeengeroep is, is van tyd tot tyd gehou. Op byna elke vergadering is die Sabbat wat God ingestel het, steeds laer afgedruk terwyl Sondag dienooreenkomstig verhoog is. As gevolg hiervan is die heidense feesdag uiteindelik as ‘n goddelike instelling vereer, terwyl die Bybelse Sabbat as ‘n oorblyfsel van Judaïsme bestempel is en diegene wat dit gevier het, is as vervloek verklaar. GS 39.2

Die groot afvallige het daarin geslaag om homself te “...verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is.” (2 Thes 2:4). Hy het dit gewaag om die enigste voorskrif van die Goddelike wet wat die mensdom onmiskenbaar op die ware en lewende God gewys het, te verander. In die vierde gebod word God as die Skepper van die hemel en die aarde geopenbaar en word daardeur van alle valse gode onderskei. Dit was as ‘n gedenkteken van die skeppingswerk dat die sewende dag as rusdag vir die mens geheilig is. Die doel daarvan was om die lewende God altyd in die gedagtes van mense as die Bron van die wese en die voorwerp van eerbied en aanbidding voor te hou. Satan streef daarna om mense van hulle trou aan God en gehoorsaamheid aan Sy wet weg te keer; daarom is sy pogings veral op daardie gebod wat God as die Skepper aanwys, gerig. GS 40.1

Protestante voer nou aan dat die opstanding van Christus op Sondag hierdie dag die Christelike Sabbat gemaak het. Maar daar is geen skriftuurlike bewys daarvoor nie. Geen sulke eer is deur Christus of Sy apostels aan hierdie dag toegeken nie. Die viering van Sondag as ‘n Christelike instelling, het sy oorsprong in die “...verborgenheid van die ongeregtigheid...” (2 Thes 2:7), wat selfs in Paulus se tyd reeds aan die werk was. Waar en wanneer, het die Here hierdie kind van die pousdom aangeneem? Watter geldige rede kan aangevoer word vir ‘n verandering wat nie deur die Skrif bevestig word nie? GS 40.2

In die sesde eeu is die pousdom ferm gevestig. Sy setel is in die keiserlike stad gevestig en die biskop van Rome is as hoof van die hele kerk verklaar. Die heidendom het plek vir die pousdom gemaak. Die draak het aan die dier “...sy krag gegee en sy troon en grote mag.” (Openb 13:2). En nou het die 1 260 jaar van pouslike onderdrukking, soos in die profesieë van Daniël en Openbaring voorspel, ‘n aanvang geneem. (Sien Dan 7:25; Openb 13:5-7). [Sien bylaag] . Christene moes noodgedwonge kies om óf hul integriteit in te boet en die pouslike seremonies en godsdiens te aanvaar, óf om in kerkers weg te kwyn, óf op die pynbank te sterf, óf op die brandstapel, óf deur die byl van die laksman. Die volgende woorde van Jesus is aldus vervul: “Julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende; en hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.” (Luk 21:16,17). Vervolging is op die getroues met groter woede as ooit tevore losgelaat en die wêreld het ‘n uitgestrekte slagveld geword. Die kerk van Christus het vir honderde jare in afsondering en onopsigtelikheid skuiling gevind. Daarom het die profeet gesê: “En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar kan onderhou duisend-tweehonderd-ensestig dae lank.” (Openb 12:6). GS 40.3

Die toetrede van die mag van die Roomse Kerk, het die begin van die Donker Eeue ingelei. Namate haar krag toegeneem het, het die duisternis verdiep. Geloof in Christus, die ware fondament, is op die pous van Rome oorgedra. In plaas daarvan om op die Seun van God vir vergifnis van sonde en verlossing te vertrou, het die mense na die pous en na priesters en prelate aan wie hy sy gesag oorgedra het, opgesien. Hulle is geleer dat die pous hulle aardse middelaar is en dat niemand tot God kon nader behalwe deur hom nie; en verder, dat hy in die plek van God staan vir hulle en daarom implisiet gehoorsaam moes word. Afwyking van sy vereistes was voldoende rede om die liggame en siele van die oortreders met die swaarste straf te besoek. So is die denke van die volk van God afgewend na feilbare, dwalende en wrede mense; nee, meer as dit, na die vors van die duisternis self wat sy mag deur hulle uitgeoefen het. Sonde was in ‘n gewaad van heiligheid verbloem. Wanneer die Skrif onderdruk word en die mens homself as oppermag beskou, kan ons slegs bedrog, misleiding en afbrekende ongeregtigheid verwag. Met die verheffing van menslike wette, word die korrupsie wat altyd die gevolg van die tersydestelling van die wet van God is gemanifesteer. GS 41.1

Dit was dae van gevaar vir die kerk van Christus. Getroue vaandeldraers was inderdaad in die minderheid. Alhoewel die waarheid nie sonder getuies gelaat is nie, het dit soms gelyk asof dwaling en bygeloof sou oorheers en dat ware godsdiens van die aarde verban sou word. Die evangelie is uit die oog verloor, maar vormgodsdiens het toegeneem en die mense is met streng vereistes belas. GS 41.2

Nie alleen is hulle geleer om na die pous as hulle middelaar op te sien nie, maar om ook op hul eie werke om versoening vir sonde te doen, te vertrou. Lang pelgrimsreise, dade van boetedoening, aanbidding van relikwieë, oprigting van kerke, heilige grafte en altare, die betaling van groot bedrae geld aan die kerk — dit en soortgelyke dade, is voorgeskryf om die wraak van God te bevredig of om Sy guns te verseker; asof God soos mense is, wat oor onbenullighede kwaad word, of deur dade van boetedoening versoen word! GS 42.1

Ondanks die ondeug, selfs onder die leiers van die Roomse Kerk, het dit geblyk asof haar invloed steeds toegeneem het. Ongeveer teen die einde van die agste eeu, het papiste die bewering aangevoer dat die biskoppe van Rome in die eerste eeue van die kerk, oor dieselfde geestelike mag beskik het as wat hulle nou vir hulself toegeëien het. Om hierdie eis te bevestig, moes die een of ander middel gevind word om daaraan ‘n skyn van gesag te gee en dit is geredelik deur die vader van die leuen voorgestel. Antieke geskrifte is deur monnike vervals. Dekrete van raadsvergaderings waarvan nooit voorheen gehoor is nie, is ontdek, wat die universele oppergesag van die pous vanaf die vroegste tye bevestig het. En ‘n kerk wat die waarheid verwerp het, het hierdie misleiding gretig aanvaar. [Sien bylaag] GS 42.2

Die paar getroue bouers op die ware Fondament, (Sien 1 Kor 3:10,11) is verwar en verhinder toe die rommel van valse leerstellings die werk belemmer het. Soos die bouers aan die muur van Jerusalem in Nehemia se tyd, was sommige gereed om te sê: “Die krag van die lasdraers beswyk en die puinhoop is groot, sodat ons nie aan die muur kan bou nie.” (Neh 4:10). Uitgemergel deur die voortdurende stryd teen vervolging, bedrog, ongeregtigheid en elke ander struikelblok wat Satan kon bedink om hulle vooruitgang te belemmer, het sommige van die getroue bouers moedeloos geraak; en ter wille van vrede en veiligheid van hulle eiendom en hul lewens, het hulle van die ware Fondament weggedraai. Ander, nie deur die teenkanting van hul vyande afgeskrik nie, het onverskrokke verklaar: “Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte HERE...” (Neh 4:14) en hulle het met hulle werk voortgegaan elkeen met sy swaard aan sy sy gegord. (Sien Efe 6:17). GS 42.3

Dieselfde gees van haat en teëstand teen die waarheid het die vyande van God in elke eeu besiel en dieselfde waaksaamheid en getrouheid word van sy diensknegte vereis. Die woorde van Christus aan die eerste dissipels is tot die einde van tyd op Sy volgelinge van toepassing: “En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark 13:37). GS 43.1

Die donkerte het geblyk al digter te word. Aanbidding van beelde het meer algemeen geword. Kerse is voor die beelde gebrand en daar is tot hulle gebid. Die mees absurde en bygelowige gebruike het geheers. Die gemoed van die mense is so volkome deur bygeloof oorheers dat dit gelyk het asof alle rede van mag ontneem is. Omdat priesters en biskoppe self genotsugtig, wellustig en verdorwe was, kon niks anders verwag word as dat mense wat vir leiding na hulle opgesien het, in onkunde en ondeug sou wegsink. GS 43.2

'n Ander stap in pouslike aanmatiging is geneem toe Pous Gregorius VII in die elfde eeu die volmaaktheid van die Roomse Kerk verklaar het. Een van die aansprake wat hy voorgehou het, het verklaar dat die kerk, volgens die Skrif, nooit gedwaal het nie en ook nooit sou dwaal nie. Maar skriftuurlike bewyse vir hierdie bewering het ontbreek. Die trotse pous het ook op die mag aanspraak gemaak om keisers te onttroon en verklaar dat geen vonnis wat hy uitgespreek het deur enigiemand omgekeer kon word nie, maar dat dit sy voorreg was om die besluite van alle ander om te keer. [Sien bylaag]. 'n Treffende voorbeeld van die tiranniese karakter van hierdie voorstander van onfeilbaarheid sien ons in sy optrede teen die Duitse keiser, Hendrik IV. Vanweë die veronderstelling dat hy die gesag van die pous verontagsaam het, is hierdie monarg geëkskommunikeer en onttroon. Vreesbevange as gevolg van die dreigemente en verlating van sy eie vorste, wat deur die pouslike mandaat in opstand teen hom aangemoedig is, het Hendrik genoodsaak gevoel om vrede met Rome te sluit. Vergesel van sy vrou en ‘n getroue dienskneg het hy die Alpe in die middel van die winter oorgesteek om homself voor die pous te gaan verneder. Toe hy by die kasteel aankom waarheen Gregorius hom onttrek het, is hy sonder ‘n lyfwag in die buitenste voorhof gebring en daar, in die bittere winterkoue, met onbedekte hoof, kaalvoet en skamele kleding aan, het hy op toestemming van die pous om in sy teenwoordigheid te verskyn gewag. Nie voordat hy drie dae lank gevas en belydenis gedoen het, het die pous ingewillig om hom te vergewe nie. Selfs toe was dit slegs op voorwaarde dat die keiser op die toestemming van die pous moes wag voordat hy weer sy koninklike amp kon hervat en sy gesag uitoefen. En Gregorius, ekstaties oor sy oorwinning, het daarmee gespog dat dit sy plig was om die trots van konings te verneder. GS 43.3

Hoe opvallend is die kontras tussen die oorheersende trots van hierdie hoogmoedige pous en die nederigheid en sagmoedigheid van Christus wat Homself verteenwoordig as pleitend by die deur van die hart om toegelaat te word om binne te kom, om vergifnis en vrede te bring en wat Sy dissipels geleer het dat: “Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees!” (Mat 20:27). GS 44.1

Met verloop van eeue was daar ‘n konstante toename van dwalinge in die leerstellings wat uit Rome voorgehou is. Reeds voor die totstandkoming van die pousdom, het die leerstellings van heidense filosowe aandag geniet en ‘n invloed op die kerk uitgeoefen. Baie wat beweer het dat hulle tot bekering gekom het, het steeds aan die beginsels van hul heidense filosofie vasgehou en dit nie net verder bestudeer nie, maar dit op ander afgedwing om hul invloed onder die heidene uit te brei. Ernstige dwaling is aldus op hierdie wyse in die Christelike geloof ingebring. Die belangrikste hieronder, was die geloof in die mens se natuurlike onsterflikheid en sy voortgaande bewustheid na die dood. Hierdie leerstelling het die grondslag gelê waarop Rome die aanroep van heiliges en die aanbidding van die Maagd Maria gevestig het. Hieruit het ook die dwaalleer van ewige foltering van sondaars gespruit, wat vroeg reeds in die pouslike geloofsbelydenis opgeneem is. GS 44.2

Daarna is die weg vir die bekendstelling vir ‘n verdere versinsel van die heidendom voorberei, wat Rome die vagevuur genoem het en wat aangewend was om die goedgelowige en bygelowige massas met vrees te vul. Deur hierdie dwaalleer word die bestaan van ‘n plek van pyniging verklaar waarin die siele van diegene wat nie die ewige verdoemenis verdien het nie, die straf vir hul sondes moes ly en waaruit hulle, nadat hulle van hul onreinheid gereinig is, in die hemel toegelaat sou word. [Sien bylaag]. GS 45.1

Nog ‘n versinsel was nodig om Rome in staat te stel om voordeel uit die vrese en die ondeugde van haar aanhangers, te trek. Dit is voorsien deur die leerstelling van aflaatbriewe. Volle vergifnis van sondes van die verlede, die hede en die toekoms en vrylating van al die pyne en boetedoening is aan almal beloof wat by die oorlog van die pous sou aansluit om sy vyande te straf, of om diegene wat dit gewaag het om sy geestelike oppergesag te misken, uit te wis. Die mense is ook geleer dat deur die betaling van geld aan die kerk, hulle hulself van sonde kon bevry, asook die siele van hul oorlede vriende wat in die pynigende vlamme opgesluit was kon bevry. Op hierdie wyse het Rome haar koffers gevul en kon sy die prag, weelde en ondeug van die beweerde verteenwoordigers van Hom wat geen plek gehad het om Sy hoof neer te lê nie, onderhou. [Sien bylaag]. GS 45.2

Die skriftuurlike ordening van die Nagmaal is deur die afgodiese offer van die mis vervang. Pouslike priesters het deur hul maskerades voorgegee om die brood en die wyn in die werklike “...liggaam en bloed van Christus...” te omskep. — Kardinaal Wiseman se lesings oor “The Real Presence...”, lesing 8, art 3, par 26. Met godslasterlike aanmatiging het hulle openlik aanspraak gemaak op die mag om God, die Skepper van alle dinge, te herskep. Van Christene is geëis om onder bedreiging van die dood, hul geloof in hierdie verskriklike, hemeltergende dwaalleer, te betuig. Menigtes wat geweier het, is aan die vlamme oorgegee. [Sien bylaag]. GS 46.1

In die dertiende eeu is die mees vreesaanjaende van alle dryfkragte van die pousdom ingestel, naamlik die Inkwisisie. Die vors van die duisternis het saam met die leiers van die pouslike hiërargie gewerk. In hul geheime rade het Satan en sy engele die harte van bose mense beheer, terwyl ‘n engel van God ongesiens in hul midde gestaan het om ‘n verslag van hul ongeregtige verordeninge en die geskiedenis van hul dade, te afskuwelik vir die oë van die mens, op te skryf “Die groot Babilon...” was “...dronk met die bloed van die heiliges.” Die verminkte liggame van miljoene martelare het tot God geroep om wraak teen daardie afvallige mag te neem. GS 46.2

Die pousdom het die despoot van die wêreld geword. Konings en keisers het voor die verordeninge van die Roomse pous gebuig. Dit het geblyk asof die lotgevalle van mense vir tyd en ewigheid onder sy beheer was. Vir honderde jare is die leerstellings van Rome omvattend en implisiet aanvaar, sy rituele eerbiedig uitgevoer en die feeste oor die algemeen gevier. Sy geestelikes is vereer en mildelik ondersteun. Sedertdien het die Roomse Kerk nog nooit groter waardigheid, heerlikheid, of mag bereik nie. GS 46.3

Maar “...die middag van die pousdom was die middernag van die wêreld.” — Wylie, The History of Protestantism, vol 1, hfst 4. Die Heilige Skrifte was byna onbekend, nie alleen aan die volk nie, maar ook aan die priesters. Soos die Fariseërs van ouds, het die pouslike leiers die lig wat hul sondes sou openbaar gehaat. Met God se wet, die maatstaf van geregtigheid, uit die weg geruim, het hulle onbeperkte mag uitgeoefen en goddeloosheid sonder beperking bedryf. Bedrog, gierigheid en losbandigheid het die oorhand gekry. Mense het geen misdaad waardeur hulle welvaart of aansien kon verwerf ontsien nie. Die paleise van biskoppe en prelate was tonele van die laagste losbandigheid. Sommige van die heersende biskoppe was skuldig aan misdade wat so afskuwelik was, dat sekulêre heersers gepoog het om van hierdie hooggeplaastes van die kerk ontslae te raak, as monsters wat te laag was om geduld te word. Europa het eeue lank geen vordering in geleerdheid, die kunste of die beskawing gemaak nie. Die Christendom het ‘n morele en intellektuele verlamming ondergaan. GS 46.4

Die toestand van die wêreld onder die Roomse mag het ‘n skrikwekkende en treffende vervulling van die woorde van die profeet Hosea verteenwoordig: “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp ... omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet ... Want die Here het ‘n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak.” (Hosea 4:6,1,2). Dit was die gevolge van die verbanning van die Woord van God. GS 47.1