Die Groot Stryd (1911)

32/44

Hoofstuk 30—Vyandskap Tussen die Mens en Satan

“Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Gen 3:15). Die Goddelike vonnis wat na die val van die mens oor Satan uitgespreek is, was ook ‘n profesie wat alle eeue tot aan die einde van tyd omsluit en die groot konflik waarby al die rasse van mense wat op die aarde woon betrek sou word, voorafgeskadu het. GS 533.2

God het verklaar: “Ek sal vyandskap stel...” Hierdie vyandskap word nie van nature gehuldig nie. Toe die mens die Goddelike wet oortree het, het sy natuur sondig geword en was hy in harmonie en nie in stryd met Satan nie. Daar bestaan van nature geen vyandskap tussen die sondige mens en die skepper van sonde nie. Albei het weens afvalligheid boos geword. Die afvallige kry nooit rus voordat hy medelye en ondersteuning verkry, deur ander te oorreed om sy voorbeeld te volg nie. Om hierdie rede verenig bose engele en goddelose mense in desperate gemeenskap. As God nie spesiaal tussenbeide getree het nie, sou Satan en die mens ‘n bondgenootskap teen die Hemel aangegaan het en in stede van vyandskap teen Satan te koester, sou die ganse mensdom in opposisie teen God, met hom verenig het. GS 533.3

Satan het die mens in versoeking gebring om te sondig, net soos hy veroorsaak het dat die engele rebelleer, sodat hy sodoende samewerking vir sy oorlogvoering teen die hemel kon bewerkstellig. Daar was geen geskil tussen hom en die gevalle engele aangaande hul haat teenoor Christus nie; terwyl daar op alle ander punte geskille was, was hulle sterk verenig in hul teenstand teenoor die Heerser van die heelal. Maar toe Satan die verklaring hoor dat daar vyandskap tussen hom en die vrou en tussen sy saad en haar saad sal wees, het hy geweet dat sy pogings om die menslike natuur te verdorwe, onderbreek sou word; dat die mens op die een of wyse in staat gestel sou word om sy mag te weerstaan. GS 533.4

Satan se vyandskap teen die mensdom is ontketen omdat hulle, deur Christus, die voorwerpe van God se liefde en barmhartigheid is. Hy begeer om die Goddelike plan van verlossing van die mens te dwarsboom, om oneer op God te werp deur Sy handewerk te skend en te besoedel; en hy wou droefheid in die hemel veroorsaak en die aarde met wee en wanhoop vul. En dan verwys hy na al hierdie euwels as die gevolg van God se werk om die mens te skape. GS 534.1

Dit is die genade wat Christus in die siel inplant wat vyandskap tussen die mens en Satan skep. Sonder hierdie bekerende genade en vernuwende krag, sou die mens as ‘n gevangene van Satan voortgaan, ‘n dienaar wat altyd gereed is om te doen wat hy gebied. Maar die nuwe beginsel in die siel skep konflik waar daar tot dusver vrede was. Die krag wat Christus verleen, stel die mens in staat om hierdie tiran en indringer te weerstaan. Wie ook al gesien word dat hy sonde verafsku in plaas van dit lief te hê en wat die passies wat die botoon gevoer het weerstaan en oorwin, vertoon die werking van ‘n beginsel wat geheel en al van Bo kom. GS 534.2

Die antagonisme wat tussen die Gees van Christus en die gees van Satan bestaan, word die mees treffendste in die wêreld se ontvangs van Jesus getoon. Dit was nie soseer omdat Hy sonder wêreldse rykdom, prag en praal verskyn het, dat die Jode gelei was om hom verwerp het nie. Hulle het gesien dat Hy oor mag beskik wat meer as genoeg vir die gebrek aan uiterlike vertoon sou vergoed. Maar die reinheid en heiligheid van Christus het die haat van die goddelose teen Hom ontketen. Sy lewe van selfverloëning en sondelose toewyding, was ‘n voortdurende teregwysing vir die trotse en wellustige volk. Dit was wat die vyandskap teen die Seun van God ontlok het. Satan en bose engele het met bose mense saamgespan. Al die kragte van afvalligheid, het teen die Kampvegter vir die waarheid saamgespan. GS 534.3

Dieselfde vyandskap wat teenoor Christus geopenbaar is, word teenoor die volgelinge van Christus gemanifesteer. Wie die afstootlike aard van sonde sien en in die krag van Bo versoeking weerstaan, sal verseker die woede van Satan en sy onderdane wek. Haat vir die suiwer beginsels van waarheid en verwyte en vervolging van die voorstanders daarvan, sal bestaan vir solank as wat sonde en sondaars bestaan. Die volgelinge van Christus en die diensknegte van Satan, kan nooit ooreenstem nie. Die aanstoot van die kruis het nie opgehou nie. “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Tim 3:12). GS 535.1

Satan se werkkragte is voortdurend onder sy leiding aan die werk om sy gesag te vestig en sy koninkryk in teenstelling met die heerskappy van God op te bou. Met hierdie doel voor oë, poog hulle om die volgelinge van Christus te mislei en hulle van hul trou weg te lok. Net soos hulle leier, vertolk en verdraai hulle die Skrif om hul doel te bereik. Soos Satan gepoog het om God te smaad, so probeer sy werkkragte om die volk van God te verguis. Die gees wat Christus gedood het, beweeg die goddelose om Sy volgelinge te vernietig. Dit was alles in daardie eerste profesie voorafgeskadu: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad.” (Gen 3:15). En hierdie vyandskap sal tot aan die einde van tyd voortduur. GS 535.2

Satan roep al sy magte op en werp alles in die stryd. Waarom is dit dat hy nie groter weerstand teëkom nie? Waarom is die soldate van Christus so aan die slaap en onverskillig? Omdat hulle so min werklike verbintenis met Christus het; omdat hulle so arm aan Sy Gees is. Sonde is nie vir hulle so afstootlik en afskuwelik soos vir hulle Meester nie. Hulle konfronteer dit nie soos Christus, met besliste en vasberade verset nie. Hulle besef nie die uiterste boosheid en kwaadwilligheid van sonde nie en hulle is blind vir die karakter en die mag van die vors van duisternis. Daar is min vyandskap teen Satan en sy werke, omdat daar sulke groot onkunde aangaande sy mag en kwaadwilligheid heers en die groot omvang van sy oorlogvoering teen Christus en Sy kerk. Menigtes word op hierdie punt mislei. Hulle besef nie dat hulle vyand ‘n magtige generaal is wat beheer uitoefen oor die bose engele en diegene wat met weldeurdagte planne en fyn uitgewerkte taktiek, oorlog teen Christus voer om die redding van siele te verhoed nie. Onder belydende Christene en selfs onder bedienaars van die evangelie, word daar skaars ‘n verwysing na Satan gehoor, behalwe miskien ‘n toevallige vermelding vanaf die kansel. Hulle sien die bewyse van sy voortdurende bedrywighede en sukses oor die hoof; hulle slaan nie ag op die talle waarskuwings teen sy listigheid nie; dit blyk asof hulle selfs sy bestaan ignoreer. GS 535.3

Terwyl mense onkundig aangaande sy listigheid is, is hierdie waaksame vyand elke oomblik op hul spoor. Hy dring sy teenwoordigheid in elke deel van die huishouding binne, elke straat van ons stede, die kerke, die nasionale rade en die geregshowe, waar hy verwar, bedrieg, verlei en oral die siele en liggame van mans, vroue en kinders ruïneer, gesinne opbreek, haat saai, wedywering, twis en moord veroorsaak. En dit lyk asof die Christelike wêreld hierdie dinge beskou asof God dit so beskik het en dat dit so moet wees. GS 536.1

Satan poog voortdurend om die volk van God te oorkom deur die hindernisse wat hulle van die wêreld skei, af te breek. Israel van ouds is tot sonde verlei toe hulle verbode omgang met die heidene betree het. Op ‘n soortgelyke wyse word hedendaagse Israel verlei. “Die god van hierdie wêreld [het] die sinne verblind, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” (2 Kor 4:4). Almal wat nie besliste volgelinge van Christus is nie, is diensknegte van Satan. In die hart wat nie wedergebore is nie, heers daar ‘n liefde vir sonde en ‘n gesindheid om dit te koester en dit te verontskuldig. In die wedergebore hart is daar ‘n haat teen sonde en vasberade weerstand daarteen. Wanneer Christene die geselskap van goddelose en ongelowiges kies, stel hulle hulself aan versoeking bloot. Satan verberg hom op die agtergrond en op slinkse wyse trek hy die sluier van bedrog oor hulle oë. Hulle kan nie sien dat sulke geselskap skadelik vir hulle is nie; en terwyl hulle al die tyd gelykvormig aan die wêreld word in karakter, woorde en dade, word hulle steeds meer en meer verblind. GS 536.2

Gelykvormigheid aan wêreldse gebruike, omskep die kerk tot die wêreld; dit bekeer die wêreld nooit tot Christus nie. Om vertroud met sonde te wees, sal dit gewis minder afstootlik laat voorkom. Wie verkies om met die diensknegte van Satan om te gaan, sal binnekort ophou om hul meester te vrees. Wanneer ons in die uitvoering van ons pligte in beproewing verkeer, soos Daniël aan die koninklike hof, kan ons daarop reken dat God ons sal beskerm; maar as ons onsself onder versoeking plaas, sal ons vroeër of later val. GS 537.1

Die versoeker werk dikwels die suksesvolste deur diegene wat die minste vermoed word dat hulle onder sy beheer is. Die wat talent en geleerdheid besit, word bewonder en vereer, asof hierdie eienskappe versoening kan doen vir die afwesigheid van die vrees van God of die mense geregtig op Sy guns kan maak. Talent en kultuur, op sigself beskou, is gawes van God; maar wanneer dit die plek van vroomheid inneem en wanneer dit hulle van Hom af wegdraai in plaas van die siel nader aan God te bring, dan word dit ‘n vloek en ‘n strik. Baie mense is van mening dat alles wat soos hoflikheid en verfyndheid voorkom, in ‘n sekere sin betrekking op Christus moet hê. Maar nog nooit was daar ‘n groter fout nie. Hierdie eienskappe behoort die karakter van elke Christen tot sieraad te strek, want dit sal ‘n kragtige invloed ten gunste van ware godsdiens uitoefen; maar dit moet aan God gewy word, anders sal dit ook ‘n krag ten kwade wees. Baie mense met ‘n gekultiveerde verstand en aangename maniere, wat nie sou neig na wat in die algemeen as ‘n onsedelike daad beskou word nie, is maar net ‘n gepoleerde instrument in die hande van Satan. Die verraderlike en bedrieglike karakter van sy invloed en voorbeeld, maak hom ‘n gevaarliker vyand van die saak van Christus as diegene wat onkundig en ongekultiveerd is. GS 537.2

Deur ernstige gebed en afhanklikheid van God, het Salomo wysheid ontvang wat die verwondering en bewondering van die wêreld opgewek het. Maar toe hy hom van die Bron van sy krag afkeer en op homself begin vertrou het, het hy die prooi van versoeking geword. Toe het die wonderlike kragte wat aan hierdie wysste van alle konings gegee is, hom slegs ‘n meer effektiewe werktuig van die teëstander van siele gemaak. GS 538.1

Terwyl Satan voortdurend poog om hul gedagtes vir die feit te verblind, moet Christene nooit vergeet dat hulle nie worstel “...teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu en teen bose geeste in die lug.” (Efe 6:12). Die geïnspireerde waarskuwing weerklink deur die eeue heen tot in ons tyd: “Wees nugter en waak, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” (1 Pet 5:8). “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.” (Efe 6:11). GS 538.2

Vanaf die dae van Adam tot in ons tyd, oefen ons groot vyand sy mag uit om te onderdruk en te vernietig. Hy berei hom tans voor vir sy laaste veldtog teen die kerk. Almal wat Jesus wil volg, sal in konflik met hierdie meedoënlose vyand gebring word. Hoe nader die Christen die Goddelike Patroon naboots, , hoe sekerder sal hy homself ‘n teiken van die aanvalle van Satan maak. Almal wat aktief met die saak van God besig is, wat die misleiding van die Bose aan die kaak wil stel en Christus voor die volk wil aanbied, sal saam met Paulus kan getuig wanneer hy sê dat hy die Here met alle nederigheid van verstand, met baie trane en beproewinge dien. GS 538.3

Satan het Christus met sy felste en mees subtielste versoekings aangeval; maar hy is in elke konflik afgeweer. Hierdie gevegte was namens ons gevoer; dit maak dit vir ons moontlik om te oorwin. Christus sal aan almal krag gee wat daarom vra. Niemand kan sonder dat hy self toestem, deur Satan oorwin word nie. Die versoeker besit geen mag om die wil te beheer of die siel tot sonde te dwing nie. Hy mag ellende bring, maar hy kan nie besoedel nie. Die feit dat Christus oorwin het, moet Sy volgelinge met moed inspireer om manmoedig die stryd teen sonde te beveg. GS 539.1