Die Groot Stryd (1911)

33/44

Hoofstuk 31—Werkinge van Bose Geeste

Die verbintenis van die sigbare met die onsigbare wêreld, die bediening van die engele van God en die werkinge van bose geeste word duidelik in die Skrif geopenbaar en onlosmaaklik verweef met die mensegeskiedenis. Daar is ‘n toenemende neiging tot ongeloof in die bestaan van bose geeste, terwyl die heilige engele “...wat vir diens uitgestuur word terwille van die wat die saligheid sal beërwe...” (Heb 1:14), deur baie mense as die geeste van afgestorwenes beskou word. Maar die Skrif leer nie net van die bestaan van goeie en bose engele nie, maar lewer ook onbetwisbare bewys dat dit nie die geeste van afgestorwenes is nie. GS 540.1

Voor die skepping van die mens was daar engele; want toe die fondamente van die aarde gelê is, het “...die móresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig.” (Job 38:7). Na die sondeval is engele gestuur om die boom van die lewe te bewaak; en dit vóórdat ‘n mens op die aarde gesterf het. Engele is van nature bo die mens verhewe, want die psalmis sê dat die mens: “...'n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese.” (Ps 8:6). GS 540.2

In die Skrif word ons aangaande die getal en die krag en heerlikheid van die hemelse wesens ingelig, van hul verbintenis met die regering van God en ook van hul verhouding tot die verlossingswerk. “Die Here het Sy troon in die hemel gevestig en sy koninkryk heers oor alles.” (Ps 103:19). “Ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon.” (Openb 5:11). In die troonkamer van die Koning van die konings wag hulle - engele, “...kragtige helde wat Sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van Sy woord.” (Ps.103:20). Tienduisend maal tienduisend en duisende van duisende engele is deur die profeet Daniël gesien. (Dan 7:10.) Die apostel Paulus het verklaar dat hulle “...tienduisende engele... ” is. (Heb 12:22). As boodskappers van God gaan hulle uit “...in aansien soos ‘n bliksemstraal...” (Eseg 1:14), so verblindend is hul heerlikheid en so vinnig vlieg hulle. Die engel wat by die Heiland se graf verskyn het, se “...gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu, en uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.” (Matt 28:3,4). Toe Sanherib, die hoogmoedige Assiriër, God gesmaad en gelaster en Israel met vernietiging gedreig het, het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd vyf-en-tagtig duisend verslaan. “En dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met ‘n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het.” (2 Kon 19:35; 2 Kron 32:21). GS 540.3

Engele word op sendings van genade na die kinders van God gestuur. Hulle het na Abraham met beloftes van seën gekom; na die poorte van Sodom om die regverdige Lot van ‘n vurige ondergang te red; na Elia, terwyl hy op die punt was om van moegheid en honger in die woestyn te vergaan; na Elisa met strydwaens en perde van vuur rondom die stad waar hy deur sy vyande omsingel was; na Daniël terwyl hy na Goddelike wysheid in die voorhof van ‘n heidense koning gesoek het, asook toe hy in die leeukuil gegooi is; na Petrus, toe hy in die tronk van Herodes ter dood veroordeel is; na die gevangenes in Filippi; na Paulus en sy metgeselle in die storm op see; na Cornelius om sy gedagtes ontvanklik vir die evangelie te maak; na Petrus om hom met die boodskap van verlossing na die heidense vreemdeling te stuur - aldus het die heilige engele in alle eeue die volk van God bedien. GS 541.1

'n Beskermengel word vir elke volgeling van Christus aangestel. Hierdie hemelse wagters beskerm die regverdiges teen die mag van die bose. Satan het dit self erken toe hy gesê het: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?” Job 1:9,10). Die werkkrag deur wie God Sy volk beskerm, word in die woorde van die psalmis aangebied: “Die Engel van die Here trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees en red hulle uit.” (Ps 34:8). Die Verlosser sê aangaande diegene wat in Hom glo: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” (Matt 18:10). Die engele wat aangestel is om die kinders van God te bedien, het ten alle tye toegang tot Sy teenwoordigheid. GS 541.2

So word God se volk, wat aan die misleidende mag en waaksame boosheid van die vors van duisternis blootgestel is en in stryd met al die magte van die bose is, verseker van die ononderbroke voogdyskap van die hemelse engele. So ‘n versekering word ook nie sonder rede gegee nie. As God aan Sy kinders die belofte van genade en beskerming gegee het, is dit omdat daar magtige werkkragte van die bose is om te konfronteer - talle werkkragte, wat vasberade en nooit moeg word nie en wie se kwaadaardigheid en mag niemand met veiligheid kan ignoreer of verontagsaam nie. GS 542.1

Bose geeste, wat in die begin sondeloos geskape is, was van nature, krag en heerlikheid gelykstaande aan die heilige wesens wat tans God se boodskappers is. Maar, deur sonde tot ‘n val gebring, werk hulle nou saam vir die ontering van God en die vernietiging van die mens. Verenig met Satan in sy opstand en saam met hom uit die hemel gewerp, het hulle deur die daaropvolgende eeue met hom in sy oorlogvoering teen die Goddelike gesag saamgewerk. Ons word in die Skrif vertel van hul sameswering en regering, van hulle verskillende ordes, van hulle intelligensie en subtiliteit en van hulle kwaadwillige planne teen die vrede en geluk van die mens. GS 542.2

Ou-Testamentiese geskiedenis maak af en toe melding van hul bestaan en gesag; maar in die tyd toe Christus op aarde was, het bose geeste hulle mag op die mees opvallendste wyse geopenbaar. Christus het gekom om die plan van verlossing vir die mens te betree en Satan het besluit om sy reg om die wêreld te beheer, te laat geld. Hy het daarin geslaag om afgodediens in alle dele van die aarde, behalwe in die land van Palestina te vestig. In die enigste land wat nie ten volle aan die oorreding van die versoeker oorgegee was nie, het Christus gekom om die lig van die hemel op die mense te laat skyn. Hier het twee mededingende magte aanspraak op oppergesag gemaak. Jesus het sy arms van liefde uitgestrek en almal uitgenooi om vergifnis en vrede in Hom te vind. Die leërskare van die duisternis het gesien dat hulle nie onbeperkte beheer het nie en hulle het besef dat as Christus se sending suksesvol sou wees, hulle heerskappy spoedig tot ‘n einde sou kom. Satan het soos ‘n vasgekettingde leeu gewoed en op ‘n uitdagende wyse sy mag oor die liggame, sowel as die siele van mense getoon. GS 542.3

Die feit dat mense met demone besete was, word duidelik in die Nuwe Testament gestel. Die persone wat so geteister was, het nie siektes slegs as gevolg van natuurlike oorsake opgedoen nie. Christus het volkome begrip gehad van dit waarmee Hy te doen gehad het en Hy het die direkte teenwoordigheid en werkinge van die bose geeste erken. GS 543.1

'n Treffende voorbeeld van hulle getal, mag en kwaadwilligheid, asook van die mag en genade van Christus, word in die Skrif in die beskrywing van die genesing van die duiwelbesetenes van Gádara gegee. Hierdie ellendige besetenes wat alle selfbeheer verloor en die lug met hulle gille gevul het, was rasend en het hulself geweld aangedoen en almal wat hulle genader het in gevaar gestel. Hulle bebloede en misvormde liggame en hulle kranksinnigheid was ‘n aangename skouspel vir die vors van duisternis. Een van die demone het verklaar “Legio is my naam, want ons is baie.” (Mark 5:9). In die Romeinse leer het ‘n legioen uit drietot vyfduisend man bestaan. Satan se leërskare was ook in groepe opgestel en die groep waartoe hierdie demone behoort het, was nie minder as ‘n legioen nie. GS 543.2

Op bevel van Jesus het die bose geeste hul slagoffers verlaat en hulle het rustig aan die voete van die Heiland gaan sit, ingetoë intelligent en sagmoedig. Maar die demone is toegelaat om in ‘n trop varke in te vaar en hulle in die see te jaag; en vir die inwoners van Gádara was die verlies van die varke swaarder as die seëninge wat Christus gegee het en die Goddelike Geneesheer is versoek om die plek te verlaat. Dit was die presiese uitwerking wat Satan wou sien gebeur. Deur die skuld van hulle verlies aan Jesus toe te skryf, het hy die selfsugtige vrese van die mense gewek en hulle verhinder om na Sy woorde te luister. Satan beskuldig Christene voortdurend as die oorsaak van verlies, ongeluk en lyding, in plaas daarvan om die smaad te plaas waar dit hoort - op homself en sy werkkragte. GS 543.3

Maar die doel van Christus is nie gedwarsboom nie. Hy het die bose geeste toegelaat om die trop varke te vernietig as ‘n teregwysing vir die Jode wat hierdie onrein diere ter wille van wins geteel het. As Christus nie die demone in beteuel het nie, sou hulle nie net die varke nie, maar ook die oppassers en eienaars in die see laat stort het. Die beskerming van sowel die oppassers as die eienaars was aan Sy mag alleen te danke, wat in barmhartigheid vir hulle verlossing uitgeoefen is. Verder, is hierdie gebeurtenis toegelaat sodat die dissipels die wrede mag van Satan oor mens en dier kon aanskou. Die Verlosser wou hê dat sy volgelinge kennis moes dra van die vyand wat hulle sou teëkom, sodat hulle nie deur sy planne mislei en oorwin sou word nie. Dit was ook Sy wil dat die inwoners van daardie streek Sy mag om die slawerny van Satan te verbreek en sy gevangenes vry te laat, moes aanskou. En hoewel Jesus self weggegaan het, het die manne wat so wonderbaarlik verlos is, agtergebly om van die genade van hulle Weldoener te getuig. GS 544.1

Ander voorvalle van soortgelyke aard is in die Skrif opgeteken: ‘n Siro-Feniciese vrou wie se dogter erg deur ‘n demoon geteister was, wat Jesus deur Sy woord verdryf het; (Mark 7:26-30). ‘n “...duiwelbesetene wat blind en stom was...” (Matt. 12:22); ‘n “...seun wat ‘n stomme gees het...” wat hom soms “...in die vuur en in die water gegooi [het] om hom dood te maak...” (Mark 9:17-27); die besetene wat deur ‘n “...gees van ‘n onreine duiwel” gepynig is (Luk 4:33-36), wat die stilte van die Sabbat in die sinagoge in Kapernaum versteur het — almal is deur die medelydende Verlosser genees. In byna elke geval het Christus die demoon as ‘n intelligente entiteit aangespreek en hom beveel om uit sy slagoffer te gaan en hom nie langer te pynig nie. Die aanbidders in Kapérnaum wat die openbaring van Sy mag aanskou het, was almal verbaas en het onder mekaar gepraat en gesê: “Wat vir ‘n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied en hulle gaan uit!” (Luk 4:36). GS 544.2

Diegene wat met demone besete was, word gewoonlik voorgestel dat hulle in ‘n toestand van groot lyding verkeer het; tog was daar ook uitsonderings op hierdie reël. Ter wille van die verkryging van bonatuurlike mag, het sommige die sataniese invloed verwelkom. Hulle het natuurlik geen konflik met die demone gehad nie. Onder hierdie klas was daar diegene wat ‘n gees van waarsêery besit het, soos Simon Magus, Elimas die towenaar en die meisie wat Paulus en Silas in Filippi agtervolg het. GS 545.1

Niemand loop groter gevaar vir die invloed van bose geeste as diegene wat, ondanks die duidelike en ruim getuienis van die Skrifte, die bestaan en outoriteit van die duiwel en sy engele ontken nie. Solank as ons onkundig is aangaande hulle listigheid, het hulle ‘n byna ondenkbare voordeel; baie skenk aandag aan hulle voorstelle, terwyl hulle onder die indruk verkeer dat hulle die voorskrifte van hul eie wysheid volg. Dit is die rede waarom, terwyl ons die einde van die tyd nader, wanneer Satan met die grootste krag te werk gaan om te bedrieg en te vernietig, hy die oortuiging versprei dat hy nie bestaan nie. Dit is sy beleid om homself en sy werkswyse te verberg. GS 545.2

Daar is niks wat die groot bedrieër so vrees, as dat ons kennis van sy bedrog sal opdoen nie. Om sy ware karakter en voornemens te verdoesel, het hy homself so vertoon dat hy geen sterker emosie as bespotting of minagting opwek nie. Hy is tevrede om as ‘n belaglike of afskuwelike voorwerp, misvormd, half dierlik en half menslik geskilder te word. Dit behaag hom as sy naam in ligsinnigheid en bespotting deur diegene wat hulself as intelligent en goed ingelig beskou gebruik word. GS 545.3

Dit is omdat hy homself met volmaakte vaardigheid vermom het dat die vraag so algemeen gevra word: “Bestaan daar regtig so ‘n wese?” Dit is ‘n bewys van sy sukses dat teorieë wat die duidelike verklaring van die Skrifte verloën, so algemeen in die godsdienstige wêreld aanvaar word. En dit is omdat Satan die gemoedere van diegene wat onbewus van sy invloed is, so maklik kan beheer, dat die Woord van God ons soveel voorbeelde van sy kwaadwillige werk gee, wat sy geheime kragte aan ons openbaar en ons sodoende op ons hoede vir sy aanvalle stel. GS 546.1

Die mag en kwaadwilligheid van Satan en sy leërskare kan ons tereg verskrik as ons nie skuiling en verlossing in die superieure mag van ons Verlosser vind nie. Ons beveilig ons huise sorgvuldig met boute en slotte om ons eiendom en ons lewens teen bose mense te beskerm; maar ons dink selde aan die bose engele wat voortdurend toegang tot ons soek en teen wie se aanvalle ons geen verdedigingsmeganisme het nie. As hulle toegelaat word, kan hulle ons kranksinnig maak, ons liggame wanordelike maak en teister en ons besittings en ons lewens vernietig. Hulle enigste behae vind hulle in ellende en vernietiging. Vreeslik is die toestand van diegene wat die Goddelike aansprake weerstaan en toegee aan Satan se versoekings, totdat God hulle uiteindelik aan die beheer van bose geeste oorlaat. Maar diegene wat Christus volg, is altyd veilig onder sy wakende toesig. Engele wat oortref in krag, word uit die hemel gestuur om hulle te beskerm. Die bose een kan nie deur die wag wat God oor sy volk opgestel het, dring nie. GS 546.2