Die Groot Stryd (1911)

31/44

Hoofstuk 29—Die Oorsprong van Boosheid

Vir baie siele is die oorsprong van sonde en rede vir die bestaan daarvan, ‘n bron van groot verwarring. Hulle sien die werk van die bose met die verskriklike gevolge van wee en wanhoop en hulle bevraagteken hoe dit alles kan bestaan onder die soewereiniteit van Iemand wat oneindig van wysheid, krag en liefde is. Hier is ‘n raaisel waarvoor hulle geen verklaring kan vind nie. En in hul onsekerheid en twyfel is hulle verblind vir die waarhede wat duidelik in God se Woord geopenbaar word en noodsaaklik vir redding is. Daar is diegene wat in hul vrae oor die bestaan van die sonde, probeer om dinge na te speur wat God nie openbaar het nie; daarom vind hulle geen oplossing vir hulle probleme nie; en diegene wat deur ‘n ingesteldheid om te twyfel en fout te vind geaktiveer word, gebruik dit as ‘n verskoning om die woorde van die Heilige Skrif te verwerp. Ander weer, slaag egter nie daarin om die groot probleem van die bose bevredigend te verstaan nie, omdat tradisie en verkeerde vertolking, die leringe van die Bybel aangaande die karakter van God, die aard van Sy regering en die beginsels van Sy hantering van sonde verduister het. GS 519.1

Dit is onmoontlik om die oorsprong van sonde te verklaar, om ‘n rede vir die bestaan daarvan te kan gee. Tog kan daar genoeg aangaande die oorsprong en die finale neiging daarvan verstaan word, om die geregtigheid en welwillendheid van God in al Sy handelinge met die bose, ten volle te openbaar. Niks word meer duideliker in die Skrif geleer as dat God geensins verantwoordelik vir die intrede van sonde was nie; dat daar geen willekeurige onttrekking van Goddelike genade en geen gebrek in die Goddelike heerskappy was, wat aanleiding tot die opstand gegee het nie. Sonde is ‘n indringer, die teenwoordigheid waarvoor geen rede gegee kan word nie. Dit is ‘n verborgenheid, ontoerekeningsvatbaar; om dit te verskoon is om dit te verdedig. Sou daar ‘n verskoning daarvoor gevind kon word, of ‘n rede vir die bestaan daarvoor gegee kon word, sou dit ophou om sonde te wees. Ons enigste definisie van sonde is dit wat in die Woord van God gegee word: “...ongeregtigheid is sonde.” (1 Joh 5:17); dit is die gevolg van ‘n beginsel, wat in stryd met die groot wet van liefde, die grondslag van die Goddelike regering is. GS 519.2

Voor die intrede van boosheid, was daar vrede en vreugde in die heelal. Alles was in perfekte harmonie met die Skepper se wil. Liefde vir God het hoogty gevier en liefde vir mekaar was onpartydig. Christus, die Woord, die Eniggebore van God, was een met die ewige Vader, een in natuur, karakter en doel, die enigste Wese in die heelal wat toegang tot al die raadsbesluite en voornemens van God gehad het. Die Vader het deur Christus met die skepping van alle hemelse wesens gewerk. “In Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is ... trone sowel as heerskappye en owerhede en magte... ” en die ganse hemel het aan Christus, net soos aan die Vader, trou betoon. (Kol 1:16.) GS 520.1

Omdat die wet van liefde die grondslag van God se regering was, was die geluk van alle geskape wesens afhanklik van hul volkome ooreenstemming met Sy groot beginsels van geregtigheid. God verlang liefdesdiens van al Sy skepsels — ‘n liefde wat uit ‘n intelligente waardering van Sy karakter spruit. Hy vind geen behae in gedwonge getrouheid nie en aan almal het Hy ‘n vrye wil gegee sodat hulle Hom vrywillig kan dien. GS 520.2

Maar daar was een wat gekies het om hierdie vryheid te misbruik. Sonde het sy ontstaan by hom gehad wat, naas Christus, die grootste eer van God ontvang het en wat die hoogste in mag en heerlikheid onder die hemelse bewoners gehad het. Voor sy val was Lucifer die eerste van die beskuttende engele, heilig en onbesmet. “So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol van wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking ... Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.” (Eseg 28:12-15). GS 520.3

Lucifer, kon in God se guns gebly het, geliefd en deur die engele-leërskare vereer en hy kon sy edele magte tot seën van andere en tot verheerliking van sy Skepper, aangewend het. “Maar...” het die profeet gesê, “...hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans.” (Eseg 28:17). Bietjie vir bietjie het Lucifer aan sy begeerte vir selfverheffing toegegee. Hy het sy hart soos die hart van ‘n god ingestel. “En jy het in jou hart gesê: Ek wil ... my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde ... Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Eseg 28:6; Jes 14:13,14). In plaas daarvan om te probeer om God die grootste in die geneenthede en trou van Sy skepsels te maak, het Lucifer gepoog om hul diens en hulde vir homself te wen. En deur die eer wat die ewige Vader aan Sy seun geskenk het te begeer, het hierdie vors van die engele na die voorreg van die mag wat aan Christus alleen behoort het, gestreef. GS 521.1

Die ganse hemel was verheug om die heerlikheid van die Skepper te weerspieël en lof aan Hom te betoon. En terwyl God op hierdie wyse vereer is, het vrede en vreugde geheers. Maar toe het ‘n noot van onenigheid die hemelse harmonie geskend. Eersug en selfverheffing, in stryd met God se plan, het voorbodes in gedagtes waarin die heerlikheid van God allesoorheersend was, ontketen. Die hemelse rade het met Lucifer gepleit. Die Seun van God het die grootheid, die goedheid en regverdigheid van die Skepper aan hom voorgehou, asook die heilige, onveranderlike aard van Sy wet. God het self die orde van die hemel bepaal; en deur daarvan af te wyk, sou Lucifer sy Skepper oneer aandoen en homself vernietig. Maar hierdie waarskuwing wat in oneindige liefde en genade gegee is, het slegs ‘n gees van verset gewek. Lucifer het toegelaat dat jaloesie teenoor Christus die oorhand kry en hy het net meer vasberade geword. GS 521.2

Hoogmoed, weens sy eie glorie, het sy sug na oppergesag gevoed. Die hoë lof wat aan Lucifer toegeken is, is nie as ‘n gawe van God waardeer nie en het geen dankbaarheid teenoor die Skepper ontlok nie. Hy het behae geskep in sy glansrykheid en verhewenheid en daarna gestreef om aan God gelyk te wees. Hy was geliefd en deur die hemelse leërskare vereer. Engele het behae daarin geskep om sy opdragte uit te voer en hy was bo hulle almal met wysheid en heerlikheid beklee. Maar die Seun van God was die erkende Soewerein van die hemel, een in mag en gesag by die Vader. Christus het aan al die raadsbesluite van God deelgeneem, terwyl Lucifer nie toegelaat was om insae in die Goddelike planne te hê nie. “Waarom...” het hierdie magtige engel gevra, “...moet Christus, hierdie oppergesag hê? Waarom word Hy dan bo Lucifer vereer?” GS 522.1

Lucifer het sy plek in die onmiddellike teenwoordigheid van God verlaat en ‘n gees van ontevredenheid onder die engele ontlont. Hy het met misterieuse geheimsinnigheid te werk gegaan en deur sy werklike doel vir ‘n tyd lank onder ‘n skyn van eerbied vir God te verberg, het hy gepoog om ontevredenheid oor die wette wat die hemelse wesens regeer het te wek en beweer dat hulle onnodige beperkings oplê. Aangesien hulle heilig van aard was, het hy aangevoer dat die engele die voorskrifte van hul eie wil moet gehoorsaam. Hy het gepoog om medelye vir homself op te wek, deur aan te voer dat God hom met onreg behandel het deur die hoogste eer aan Christus te gee. Hy het beweer dat in sy strewe na groter mag en eer, hy nie na selfverheffing gestreef het nie, maar dat hy gepoog het om vryheid vir al die bewoners van die hemel te verkry, om sodoende ‘n hoër toestand van bestaan te bereik. GS 522.2

In sy groot genade was God lank geduldig met Lucifer. Hy is nie onmiddellik van sy verhewe posisie onthef toe hy die eerste keer aan ‘n gees van ontevredenheid toegegee het nie en selfs nie toe hy sy valse aansprake aan die lojale engele begin voorlê het nie. Hy was nog lank in die hemel geduld. Hy is telkens weer vergewe op voorwaarde van berou en onderwerping. Sulke pogings wat slegs deur oneindige liefde en wysheid bedink kon word, is aangewend om hom van sy dwaling te oortuig. Die gees van ontevredenheid was nooit voorheen in die hemel bekend nie. Lucifer self het eers nie dadelik besef waarheen hy neig nie; hy het nie die ware aard van sy gevoelens verstaan nie. Maar toe daar bewys is dat sy ontevredenheid sonder oorsaak blyk te wees, was Lucifer oortuig dat hy verkeerd was, dat die Goddelike aansprake regverdig was en dat hy dit as sodanig aan die ganse hemel moes erken. As hy dit gedoen het, sou hy homself en baie engele gered het. Hy het nog nie op daardie stadium sy getrouheid aan God ten volle verwerp nie. Alhoewel hy sy posisie as die engel wat beskut verlaat het, sou hy in sy amp herstel gewees het, as hy gewillig was om na God terug te keer, die wysheid van die Skepper te erken en tevrede sou wees om die plek waarin God hom in sy groot plan aangestel het, te vul. Maar trots het hom verbied om hom te onderwerp. Hy het volgehou om sy eie koers te verdedig, dat dit nie vir hom nodig was om berou te toon nie en het homself ten volle tot die groot stryd teen sy Maker verbind. GS 522.3

Al die magte van sy meesterlike verstand was nou ingespan vir die werk van misleiding om die medelye van die engele wat onder sy bevel was te bekom. Selfs die feit dat Christus hom gewaarsku en raad gegee het, het hy verdraai om sy planne van verraad te dien. Aan diegene wat met liefdevolle vertroue die naaste aan hom was, het Satan homself voorgehou as iemand wat verkeerd veroordeel is, dat sy posisie nie gerespekteer is nie en dat sy vryheid ingeperk word. Van ‘n wanvoorstelling van die woorde van Christus, het hy oorgegaan tot leuens en blatante valsheid en hy het die Seun van God beskuldig van ‘n plan om hom voor die inwoners van die hemel te verneder. Hy het ook probeer om die lojale engele vals te beskuldig. Almal wat hy nie kon ondermyn en ten volle na sy kant toe oorhaal nie, het hy van onverskilligheid teenoor die belange van die hemelse wesens beskuldig. Dieselfde werke waaraan hy skuldig was, het hy aan diegene wat getrou aan God gebly het, toegedig. En om sy beskuldiging van God se ongeregtigheid teenoor hom te handhaaf, het hy ‘n verdraaide weergawe van die woorde en dade van die Skepper voorgelê. Dit was sy beleid om die engele met subtiele argumente aangaande die voornemens van God te verwar. Die eenvoudige dinge het hy in geheimsinnigheid gehul en deur listige perversiteit, het hy twyfel aangaande die duidelikste uitsprake van Jehova gesaai. Sy hoë posisie in so ‘n noue verband met die Goddelike bestuur, het groter krag aan sy bewerings verleen en baie is oorgehaal om met hom in sy rebellie teen die gesag van die hemel te verenig. GS 523.1

In Sy wysheid, het God Satan toegelaat om sy werk voort te sit, totdat die gees van ontevredenheid ryp geword het in aktiewe opstand. Dit was nodig om sy planne ten volle te laat ontwikkel, sodat die ware aard en neiging daarvan, deur almal gesien kon word. Lucifer, as die gesalfde gerub was hoog verhewe; die hemelse wesens het hom baie liefgehad en sy invloed oor hulle was sterk. God se heerskappy het nie net die inwoners van die hemel ingesluit nie, maar ook al die wêrelde wat Hy geskep het; en Satan het gedink dat as hy die engele van die hemel saam met hom in opstand kon meevoer, hy ook die ander wêrelde sou kon meevoer. Op behendige wyse het hy sy kant van die saak gestel deur van drogredes en valsheid gebruik te maak om sy doel te bereik. Sy mag om te mislei was baie groot en deur homself in ‘n mantel van valsheid te verdoesel, het hy groot voordeel behaal. Selfs die lojale engele, kon nie sy karakter ten volle onderskei of insien waarheen sy werk lei nie. GS 524.1

Satan was so hoog geëerd en sy dade was so in geheimsinnigheid gehul, dat dit moeilik was om die ware aard van sy werk aan die engele te bekend te maak. Totdat dit ten volle ontwikkel het, sou sonde nie vir die boosheid wat dit was openbaar kon word nie. Voorheen het dit geen plek in die heelal van God gehad nie en heilige wesens het geen begrip van die aard en kwaadwilligheid daarvan gehad nie. Hulle kon nie die verskriklike gevolge van die verwerping van die Goddelike wet voorsien nie. Satan het aanvanklik sy werk onder ‘n skyn belydenis van lojaliteit aan God verberg. Hy het beweer dat hy probeer het om die eer van God, die bestendigheid van Sy regering en die beswil van al die inwoners van die hemel te bevorder. Terwyl hy ontevredenheid in die gedagtes van die engele onder hom ingeboesem het, het hy op ‘n slinkse wyse laat blyk dat hy ontevredenheid uit die weg wou ruim. Toe hy daarop aangedring het dat daar veranderinge in die orde en wette van God se regering aangebring moet word, was dit onder die voorwendsel dat dit nodig was om harmonie in die hemel te bewaar. GS 524.2

In Sy hantering van sonde, kon God slegs in geregtigheid en waarheid optree. Satan kon gebruik maak van wat God nie kon nie - vleiery en bedrog. Hy het probeer om die Woord van God te vervals en het Sy plan van heerskappy verkeerdelik aan die engele voorgestel en beweer dat God nie net wette en reëls op die bewoners van die hemel geplaas het nie, maar dat Hy, deur onderwerping en gehoorsaamheid van Sy skepsels te eis, slegs verheffing vir Homself nagestreef het. Daarom moes daar aan die bewoners van hemel, sowel as aan al die wêrelde, gedemonstreer word dat God se regering regverdig was en Sy wet volmaak. Satan het dit laat voorkom asof hy self die goeie vir die heelal wou bevorder. Die ware karakter van die indringer en sy werklike doelwit moes deur almal verstaan word. Hy moes genoeg tyd gegun word om homself deur sy goddelose werke te openbaar. GS 525.1

Die onenigheid wat deur sy eie optrede in die hemel veroorsaak is, het Satan die skuld aan die wet en regering van God toegeskryf. Hy het verklaar dat al die kwaad die gevolg van die Goddelike bestuur was. Hy het beweer dat dit sy doel was om die wette van Jehova te verbeter. Daarom was dit nodig dat hy die aard van sy aansprake moes demonstreer en die uitwerking van sy voorgestelde wysigings aan die Goddelike wet, moes toon. Sy eie werk moes hom veroordeel. Satan het van die begin af beweer dat hy nie in opstand was nie. Die ganse heelal moes die misleier ontmasker aanskou. GS 525.2

Selfs toe daar besluit is dat hy nie langer in die hemel kon bly nie, het die Oneindige Wysheid Satan nie vernietig nie. Aangesien slegs liefdesdiens vir God aanvaarbaar is, moet die getrouheid van Sy skepsels op ‘n oortuiging van Sy geregtigheid en welwillendheid berus. Omdat die inwoners van die hemel en ander wêrelde op daardie stadium onvoorbereid was om die aard of gevolge van sonde te begryp, sou hulle nie die geregtigheid en barmhartigheid van God, indien Hy Satan vernietig het, gesien het nie. As God hom dadelik vernietig het, sou hulle Hom uit vrees, eerder as uit liefde gedien het. Die invloed van die bedrieër sou dan nie ten volle vernietig gewees het nie en die gees van rebellie sou nie volkome uitgewis gewees het nie. Boosheid moes toegelaat word om volwaardig te ontwikkel. Vir die beswil van die ganse heelal deur al die eeue, moes Satan toegelaat word om sy beginsels ten volle te ontwikkel, sodat sy aanklagte teen die goddelike regering, deur al die geskape wesens, in hul ware lig gesien kon word, dat die geregtigheid en barmhartigheid van God en die onveranderlikheid van Sy wet vir ewig bo alle twyfel geplaas kon word. GS 526.1

Satan se opstand sou deur al die komende eeue ‘n les vir die heelal wees, ‘n ewige getuienis van die aard en verskriklike gevolge van sonde. Die uitwerking van Satan se heerskappy op beide mense en engele sou die vrugte van die tersydestelling van Goddelike gesag toon. Dit sou getuig dat die welstand van al Sy skepsels aan die voortbestaan van God se regering en Sy wet gebonde is. Die geskiedenis van hierdie skrikwekkende eksperiment van rebellie, moes dus as ‘n ewige beskerming vir alle heilige wesens dien, om te verhoed dat hulle oor die aard van oortreding mislei word en hulle van die straf vir die pleeg van sonde te bewaar. GS 526.2

Tot aan die einde van die stryd in die hemel, het die groot indringer voortgegaan om homself te regverdig. Toe daar aangekondig is dat hy met al sy aanhangers uit die verblyfplek van saligheid verban word, het die rebelleleier blatant sy minagting vir die wet van die Skepper betoon. Hy het sy bewering herhaal dat die engele geen beheer nodig het nie, maar gelaat moes word om hul eie wil, wat hulle altyd reg sou lei, te volg. Hy het die Goddelike wette as ‘n beperking van hul vryheid veroordeel en verklaar dat dit sy doel was om die afskaffing van die wet te verseker, sodat die leërskare van die hemel, bevry van hierdie beheer, ‘n meer verhewe en glorieryker toestand van bestaan kon betree. GS 527.1

Satan en sy leër het eendragtig al die skuld vir hulle opstand op Christus gewerp en verklaar dat as daar nie teregwysing vir hulle was nie, hulle nooit ‘n opstand sou gekom het nie. Daarom, hardkoppig en uittartend in hul ontrouheid, hul vergeefse pogings om die regering van God omver te werp en deur lasterlik te beweer dat hulle self die onskuldige slagoffers van ‘n onderdrukkende mag was, is die aartsrebel en sy ondersteuners uiteindelik uit die hemel verban. GS 527.2

Dieselfde gees wat die rebellie in die hemel veroorsaak het, veroorsaak steeds rebellie op die aarde. Satan het dieselfde beleid as wat hy met die engele gevolg het onder die mense voortgesit. Sy gees heers tans in die kinders van ongehoorsaamheid. Soos hy, poog hulle om die beperkings van God se wet af te breek en deur die oortreding aan die wet, vryheid aan die mense te belowe. Die teregwysing van sonde wek steeds ‘n gees van haat en weerstand. Wanneer God se boodskappe van waarskuwing aan die gewete tuisgebring word, lei Satan mense om hulself te regverdig en die medelye van ander in hul sondige lewenswandel te soek. In plaas daarvan om hul foute reg te stel, wek hulle verontwaardiging teen die een wat teregwys, asof hy alleen die oorsaak van probleme is. Vanaf die dae van regverdige Abel tot in ons eie tyd, is dit steeds die gees wat teenoor diegene wat die sonde durf veroordeel, geopenbaar word. GS 527.3

Deur dieselfde wanvoorstelling van die karakter van God wat hy in die hemel uitgeoefen het, wat veroorsaak het dat God as streng en tirannies gesien word, het Satan die mens tot sonde beweeg. En omdat hy tot dusver geslaag het, het hy verklaar dat God se onregverdige beperkings tot die val van die mens gelei het, net soos dit tot sy eie rebellie gelei het. GS 528.1

Maar die Oneindige verklaar self Sy karakter: “Here, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” (Ex 34:6,7). GS 528.2

Deur die verbanning van Satan uit die hemel, het God Sy geregtigheid verklaar en die eer van Sy troon gehandhaaf. Maar toe die mens gesondig het deur aan die misleidings van hierdie afvallige gees toe te gee, het God ‘n bewys van Sy liefde gelewer, deur Sy eniggebore Seun te gee om vir die gevalle ras te sterf. In hierdie versoening word die karakter van God geopenbaar. Die magtige betoog van die kruis demonstreer aan die ganse heelal dat die weg van die sonde wat Lucifer gekies het, geensins aan die regering van God toegeskryf kan word nie. GS 528.3

In die stryd tussen Christus en Satan tydens die aardse bediening van die Heiland, is die karakter van die groot bedrieër ontmasker. Niks kon Satan meer effektief van die geneenthede van die hemelse engele en die ganse lojale heelal ontwortel, soos sy wrede oorlogvoering teen die Verlosser van die wêreld nie. Die uitdagende godslastering om te eis dat Christus aan hom hulde moes betoon, sy vermetele vrymoedigheid om Hom na die bergspits en die toppunt van die tempel te dra, die kwaadwillige bedoeling wat hy verraai het om Hom aan te hits om Homself van die duiselige hoogte af te werp, die onophoudelike boosheid wat Hom van plek tot plek gejag het en die harte van priesters en mense geïnspireer het om Sy liefde te verwerp en uiteindelik uit te roep: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” (Lukas 23:21) — dit alles het die verbasing en verontwaardiging van die heelal ontketen. GS 528.4

Dit is Satan wat die wêreld se verwerping van Christus aangevoer het. Die vors van die bose het al sy mag en slinksheid ingespan om Jesus te vernietig; want hy het gesien dat die Heiland se barmhartigheid en liefde, Sy medelye en deernis, die karakter van God in die wêreld verteenwoordig. Satan het elke aanspraak van die Seun van God bestry en hy het mense as sy werkkragte aangestel om die Heiland se lewe met lyding en droefheid te vul. Die drogredes en valsheid waarmee hy die werk van Jesus probeer belemmer het, die haat wat deur die kinders van ongehoorsaamheid geopenbaar is, sy wrede beskuldigings teen Hom wie se lewe een van ongeëwenaarde goedheid was, het alles uit diepgewortelde wraaksugtigheid ontstaan. Die opgekropte vure van afguns en kwaadwilligheid, haat en wraak, het op Golgota teen die Seun van God losgebars, terwyl die ganse hemel die toneel met stille afgryse aanskou het. GS 529.1

Nadat die groot offer voltrek is, het Christus na die hemel opgevaar en die aanbidding van engele geweier totdat Hy die versoek gerig het: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” (Joh 17:24). Toe het die antwoord met onuitspreeklike liefde en krag van die Vader se troon gekom: “Al die engele van God moet Hom aanbid.” (Heb 1:6). Daar was nie ‘n vlek aan Jesus nie. Sy vernedering is beëindig, Sy offer was volbring en daar is ‘n naam aan Hom gegee wat bo elke naam is. GS 529.2

Die skuld van Satan het nou sonder verskoning na vore gekom. Hy het sy ware karakter as leuenaar en moordenaar geopenbaar. Daar is gesien dat dieselfde gees waarmee hy die mensekinders wat onder sy mag was beheer het, hy in sy heerskappy sou openbaar indien hy toegelaat was om oor die bewoners van die hemel te heers. Hy het beweer dat die oortreding van die wet van God vryheid en verheffing sou meebring; maar daar is getoon dat dit slawerny en aftakeling tot gevolg het. GS 529.3

Satan se leuenagtige beskuldigings teen die Goddelike karakter en regering, is in hul ware lig getoon. Hy het God daarvan beskuldig dat Hy slegs die verheffing van Homself gesoek het deur onderdanigheid en gehoorsaamheid van Sy skepsels te eis en het verklaar dat, hoewel die Skepper selfverloëning van alle ander vereis het, Hy geen selfverloëning beoefen het nie en geen opoffering gemaak het nie. Daar is nou gesien dat vir die verlossing van ‘n gevalle en sondig ras, die Heerser van die heelal, die grootste opoffering gebring het wat liefde kon bring, want “...God [het] in Christus die wêreld met Homself versoen...” (2 Kor 5:19). Daar is ook gesien dat terwyl Lucifer deur sy begeerte na eer en oppergesag, die deur vir sonde oopgemaak het, het Christus, ten einde die sonde te vernietig, Homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood toe. GS 530.1

God het sy afsku vir die beginsels van rebellie geopenbaar. Die ganse hemel het ‘n openbaring van Sy geregtigheid gesien, beide in die veroordeling van Satan en die verlossing van die mens. Lucifer het verklaar dat as die wet van God onveranderlik was en die straf daarvoor onverbiddelik, elke oortreder vir ewig van die guns van die Skepper uitgesluit moes word. Hy het geëis dat die sondige buite verlossing geplaas is en dat hulle dus sy regmatige prooi was. Maar die dood van Christus was ‘n argument ten behoewe van die mens wat nie weerlê kon word nie. Die straf van die wet het op Hom, wat gelyk aan God was, geval en die mens was vry om die geregtigheid van Christus te aanvaar en deur ‘n lewe van ootmoed en vernedering te seëvier, net soos die Seun van God die mag van Satan oorwin het. God is dus regverdig en tog ook die Regverdiger van almal wat in Jesus glo. GS 530.2

Maar dit was nie alleenlik om die verlossing van die mens te regverdig dat Christus na die aarde gekom het om te ly en te sterf nie. Hy het gekom om die wet te verhoog en te verheerlik, nie alleen sodat die bewoners van hierdie wêreld die wet kan beskou soos dit beskou moet word nie, maar om aan al die wêrelde van die heelal te demonstreer dat die wet van God onveranderlik is. Sou die aansprake daarvan ter syde gestel kon word, was dit nie nodig vir die Seun van God om Sy lewe te gee vir die versoening van die oortreding daarvan nie. Die dood van Christus bewys die onveranderlikheid daarvan. En die offer waartoe oneindige liefde die Vader en die Seun gedring het vir die verlossing van sondaars, toon aan die ganse heelal — soos slegs die verlossingsplan kan doen — dat geregtigheid en genade die grondslag van die wet en die regering van God is. GS 531.1

In die finale oordeel sal daar gesien word dat daar geen verskoning vir sonde bestaan nie. Wanneer die Regter van die ganse aarde van die Satan sal eis: “Waarom het jy teen My gerebelleer en My van die onderdane van My koninkryk beroof?” sal die bron van die bose geen verskoning hê nie. Elke mond sal stom wees en die ganse leërskare van rebellie sal sprakeloos wees. GS 531.2

Hoewel die kruis van Golgota verklaar dat die wet van God onveranderlik is, verklaar dit ook aan die ganse heelal dat die loon van die sonde die dood is. Die Heiland se sterwenswoorde: “Dit is volbring...” (Joh 19:30), het die doodsklok vir Satan gelui. Die groot stryd wat so lank geduur het, is toe beslis en die finale uitwissing van boosheid is verseker. Die Seun van God het deur die poorte van die graf gegaan “...sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel.” (Heb 2:14). Lucifer se begeerte na selfverheffing het hom gelei om te sê: “Ek wil... my troon verhef bo die sterre van God... Ek wil ... my gelykstel met die Allerhoogste.” (Jes 14:13,14). God het verklaar: “Ek het jou tot as gemaak op die aarde ... en [jy] sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.” (Eseg 28:18,19). Wanneer daardie dag aanbreek wat “...brand soos ‘n oond ... Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.” (Mal 4:1). GS 531.3

Die ganse heelal sal dan getuies van die aard en gevolge van sonde wees. En die totale vernietiging daarvan wat aan die begin vrees oor die engele en oneer aan God sou bring, sal Sy liefde nou bevestig en Sy eer voor die heelal aan die wesens wat behae daarin het om Sy wil te doen en in wie se hart Sy wet is, handhaaf. Nooit weer sal boosheid manifesteer nie. Die Woord van God sê: “Die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.” (Nah1:9). Die wet van God wat deur Satan as ‘n juk van slawerny bestempel is, sal as die wet van vryheid geëer word. ‘n Getoetste en beproefde skepping sal nooit weer van sy trou aan Hom wegdraai nie, wie se karakter volkome aan hulle as ondeurgrondelike liefde en oneindige wysheid, geopenbaar is nie. GS 532.1

546 GS 533.1