Die Groot Stryd (1911)

30/44

Hoofstuk 28—Die Ondersoekende Oordeel

“Ek het bly kyk...” sê die profeet Daniël, “...totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; Sy kleed was wit soos sneeu en die hare van Sy hoof soos skoon wol; Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uitgegaan; duisend maal duisende het Hom gedien en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit en die boeke is geopen.” (Dan 7:9,10). GS 505.1

So is aan die profeet ‘n visioen gegee van die groot en plegtige dag wanneer die karakters en lewens van mense deur die Regter van die hele aarde ondersoek sal word en wanneer elke mens loon “...volgens sy werke...” sal ontvang. Die Oue van dae is God die Vader. Die psalmis sê: “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” (Ps 90:2). Dit is Hy, die Bron van alles wat bestaan en die Bron van die hele wet, wat in die gereg sal voorsit. En heilige engele, as dienaars en getuies, “...duisend maal duisende ... en tienduisend maal tienduisende... ” sal hierdie tribunaal bywoon. GS 505.2

“Ek het gesien in die naggesigte en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens en Hy het gekom tot by die Oue van dae en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie en Sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” (Dan 7:13,14). Die koms van Christus wat hier beskryf word, is nie Sy tweede koms na die aarde nie. Hy kom na die Oue van dae in die hemel om heerskappy en heerlikheid en die koninkryk wat aan Hom gegee sal word aan die einde van Sy werk as Middelaar, te ontvang. Dit is hierdie koms en nie Sy tweede koms na die aarde toe nie wat, volgens die profesie in 1844, aan die einde van die 2 300 dae sou plaasvind. Vergesel van hemelse engele betree ons Hoëpriester die Allerheiligste plek en daar verskyn Hy in die teenwoordigheid van God om die laaste dade van Sy bediening ten behoewe van die mens te verrig, naamlik die ondersoekende oordeel en om versoening vir die sondes van almal wat getoon het dat hulle daarop geregtig is, te doen. GS 505.3

In die tipiese diens het slegs diegene wat met belydenis voor God gekom het en wie se sondes deur die bloed van die sondoffer na die heiligdom oorgedra is, deel gehad aan die diens van die Versoendag. So sal die enigste sake wat dus op daardie groot dag van finale versoening en ondersoekende oordeel oorweeg sal word, die sake van die belydende volk van God wees. Die oordeel van die goddelose is ‘n spesifieke en afsonderlike werk wat op ‘n later stadium sal plaasvind. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Pet 4:17). GS 506.1

Die boeke in die hemel waarin die name en dade van mense aangeteken is, sal die beslissings van die uitspraak bepaal. Die profeet Daniël sê: “Die gereg het gaan sit en die boeke is geopen.” Die openbaarder wat dieselfde toneel beskryf, voeg by: “‘n Ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (Openb 20:12). GS 506.2

Die boek van die lewe bevat die name van almal wat ooit die diens van God betree het. Aan Sy dissipels het Jesus gesê: “Wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.” (Luk 10:20). Paulus praat van sy getroue medewerkers “...wie se name in die boek van die lewe is.” (Filip 4:3). Daniël wat praat van die tyd van benoudheid soos daar nie gewees het nie, sê dat God se volk verlos sal word, “...elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” (Dan 12:1). En die openbaarder sê dat alleenlik diegene wie se name “...geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam...” die Godstad sal binnegaan. (Openb 21:27). GS 506.3

“...daar is ‘n gedenkboek voor Sy aangesig geskrywe...” waarin die goeie dade opgeteken is “...vir die wat die Here vrees en Sy Naam eer.” (Mal 3:16). Hulle woorde van geloof, hul liefdesdade, is in die hemel opgeteken. Nehemia verwys hierna as hy sê: “Dink hierom aan my my God ... en delg tog my liefdediens nie uit wat ek aan die huis van my God en aan die instellinge daarvan bewys het nie.” (Neh 13:14). In die gedenkboek van God is elke daad van geregtigheid verewig. Daarin is elke versoeking wat weerstaan is, elke boosheid wat oorkom is en elke woord van tere ontferming wat uitgespreek is, aangeteken. En elke daad van opoffering, alle lyding en smart wat ter wille van Christus verduur is, is opgeteken. Die psalmis sê: “U het my omswerwinge getel; hou my trane in U kruik; is hulle nie in U boek nie?” (Ps 56:9). GS 507.1

Daar is ook ‘n verslag van die sondes van mense. “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” (Pred 12:14). “Elke ydel woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.” Die Verlosser het gesê: “Uit jou woorde sal jy geregverdig word en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” (Matt 12:36,37). Die geheime doelwitte en motiewe word in die onfeilbare register opgeteken; want God sal “...die verborge dinge van die duisternis in die lig bring en die bedoelinge van die harte openbaar maak.” (1 Kor 4:5). “Kyk, dit staan voor my aangesig geskrywe ... julle ongeregtighede en die ongeregtighede van julle vaders tesame, sê die Here.” (Jes 65:6,7). GS 507.2

Die werk van elke mense word deur God in oënskou geneem en word vir getrouheid of ontrouheid opgeskryf. Teenoor elke naam in die boeke van die hemel, word elke verkeerde woord, elke selfsugtige daad, elke onvervulde plig en elke geheime sonde met listige geveinsdheid en skrikwekkende presisie genoteer. Verwaarloosde hemelse waarskuwings of teregwysings, verkwiste oomblikke, onverbeterde geleenthede, die invloede wat ten goede of ten kwade, met die verreikende gevolge daarvan uitgeoefen is, word alles deur die engel wat die opname doen aangeteken. GS 507.3

Die wet van God is die maatstaf waarvolgens die karakters en lewens van mense in die oordeel getoets sal word. Die wyse man het gesê: “Vrees God en hou Sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom...” (Pred 12:13,14). Die apostel Jakobus het sy broeders vermaan: “Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.” (Jak 2:12). GS 508.1

Diegene wat in die oordeel waardig geag word, sal deel hê in die opstanding van die regverdiges. Jesus het gesê: “...die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry ... is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.” (Luk 20:35,36). En weer verklaar Hy: “...en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe.” (Joh 5:29.) Die regverdige dode sal eers na die oordeel opgewek word, nadat hulle die opstanding tot die lewe waardig geag is. Daarom sal hulle nie persoonlik by die tribunaal teenwoordig wees wanneer hul rekords ondersoek en hul sake beslis word nie. GS 508.2

Jesus sal as hulle voorspraak optree om namens hulle voor God te pleit. “As iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.” (1 Joh 2:1). “Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.” (Heb 9:24). “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Heb 7:25). GS 508.3

Soos die boeke in die oordeel geopen word, word die lewens van almal wat in Jesus geglo het, voor God beoordeel. Ons Voorspraak begin met diegene wat eerste op die aarde geleef het en lê die gevalle van elke opeenvolgende geslag voor en sluit af met die wat nog lewe. Elke naam word genoem en elke saak word noukeurig ondersoek. Name word aanvaar en name word verwerp. As daar nog sondes in die boeke is wat nie met berou bely en vergewe is nie, sal hulle name uit die boek van die lewe uitgedelg word en die verslag van hul goeie dade sal uit die boek van herinnering uitgewis word. Die Here het aan Moses gesê: “Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit My boek.” (Eks 32:33). En die profeet Eségiël sê: “As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen ... aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie.” (Eseg 18:24). GS 508.4

Almal wat waarlik berou oor hulle sondes het en deur geloof die bloed van Christus as hulle soenoffer aangeneem het, word “vergewe” teenoor hul name in die hemelse boeke geskryf; namate hulle aan die geregtigheid van Christus deelagtig geword het en daar gevind is dat hul karakters in ooreenstemming met die wet van God is, sal hul sondes uitgewis word en sal hulle die ewige lewe waardig geag word. Die Here verklaar deur die profeet Jesaja: “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil en aan jou sondes dink Ek nie.” (Jes 43:25). Jesus het gesê: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie en Ek sal sy naam bely voor My Vader en voor Sy engele ... Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor My Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemele is.” (Openb 3:5; Mat 10:32,33). GS 509.1

Die diepste belangstelling wat mense in die uitsprake van aardse tribunale openbaar, verteenwoordig maar ‘n flou belangstelling in vergelyking met dit wat in die hemelse howe getoon sal word wanneer die name wat in die boek van die lewe voor die Regter van die ganse aarde ter sprake kom. Die Goddelike Voorspraak maak die pleidooi dat almal wat deur geloof in Sy bloed, oorwin het, se oortredinge vergewe moet word, dat hulle in hul Eden-tuiste herstel moet word en as mede-erfgename saam met Hom gekroon moet word tot die “...vroeëre heerskappy.” (Miga 4:8). Satan het in sy pogings om ons as ras te mislei en te versoek, gedink om die Goddelike plan met die skepping van die mens te ontwrig; maar Christus pleit nou dat hierdie plan uitgevoer moet word, asof die mens nooit geval het nie. Hy vra nie net vir volkome vergifnis en regverdiging van Sy mense nie, maar dat hulle in Sy heerlikheid en ‘n sitplek op Sy troon moet deel. GS 509.2

Terwyl Jesus vir die onderdane van Sy genade pleit, beskuldig Satan hulle voor God as oortreders. Die groot bedrieër het gepoog om hulle tot skeptisisme te lei, om hulle hul vertroue in God te laat verloor, hulself van Sy liefde te skei en Sy wet te oortree. Nou verwys hy na die verslag van hulle lewens, na hulle gebreke van karakter, hulle ongelykvormigheid aan Christus wat hulle Verlosser oneer aangedoen het en na al die sondes wat hy hulle verlei het om te pleeg en as gevolg hiervan, maak hy op hulle aanspraak as sy onderdane. GS 510.1

Jesus verontskuldig nie hulle sondes nie, maar Hy wys op hul boetvaardigheid en geloof en terwyl Hy hul vergifnis eis, lig Hy Sy gewonde hande voor die Vader en die heilige engele op en sê: “Ek ken hulle by naam. Hulle is op My handpalms gegraveer. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!’” (Ps 51:19). En aan die beskuldiger van Sy volk sê Hy: “Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” (Sag 3:2). Christus sal sy getroue kinders met Sy eie geregtigheid beklee, sodat Hy hulle aan sy Vader kan voorstel, “...verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks.” (Efe 5:27). Hulle name staan in die boek van die lewe en van hulle staan daar geskryf: “Hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.” (Openb 3:4). GS 510.2

So sal die volledige vervulling van die nuwe verbondsbelofte voltrek word. “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie ... In dié dae en in dié tyd, spreek die Here, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie.” (Jer 31:34;50:20). “In dié dag sal die Spruit van die Here wees tot sieraad en heerlikheid en die vrug van die land tot hoogheid en versiering vir die vrygeraaktes van Israel. En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dié sal heilig genoem word, elkeen wat onder die lewendes opgeskrywe is in Jerusalem” (Jes. 4:2,3). GS 511.1

Die ondersoekende oordeel en die uitwissing van sondes moet voor die tweede koms van die Here geskied. Aangesien die dode geoordeel moet word volgens die dinge wat in die boeke geskryf is, is dit onmoontlik dat die sondes van mense uitgedelg sal word tot ná die ondersoekende oordeel. Maar die apostel Petrus verklaar duidelik dat die sondes van die gelowiges uitgewis sal word wanneer “...tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur ... naamlik Jesus Christus.” (Hand 3:19,20). Wanneer die ondersoekende oordeel afgesluit is, sal Christus kom en Sy loon sal by Hom wees om elke mens te vergeld soos sy werke sal wees. GS 511.2

In die tipiese diens het die hoëpriester, nadat hy versoening vir Israel gedoen het, voor die vergadering verskyn en hulle geseën. So ook sal Christus aan die einde van Sy werk as Middelaar, “...sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid” (Heb 9:28), om Sy wagtende volk te seën met die ewige lewe. Soos die priester, om die sondes uit die heiligdom te verwyder, dit op die kop van die sondebok bely het, sal Christus al hierdie sondes op Satan, die skepper en aanhitser van die sonde plaas. Die sondebok wat die sondes van Israel gedra het, is “...na ‘n woeste land...” (Lev 16:22) weggestuur; so sal Satan met al die sondes wat hy God se volk verlei het om te doen, ‘n duisend jaar lank tot die aarde beperk wees, wat dan 'n verlate wildernis sonder bewoner sal wees en hy sal uiteindelik die straf van sonde ly in die vure wat al die goddelose sal verdelg. Sodoende sal die verlossingsplan in die finale uitwissing van sonde en die verlossing van almal wat bereid was om die boosheid te versaak volbring word. GS 511.3

Op die vasgestelde tyd vir die oordeel - aan die einde van die 2 300 dae in 1844 - het die ondersoekende oordeel begin Die werk van ondersoek en die uitdelging van sondes, het begin toe die tyd wat vir die oordeel vasgestel is, naamlik die einde van die 2 300 dae wat in 1844 aangebreek het. Almal wat ooit Christus bely het, se lewens moet ondersoek word. Beide die lewende en die dode moet geoordeel word “...na wat geskrywe is in die boeke, volgens hulle werke.” GS 512.1

Onbekeerde sondes wat nie versaak is nie, sal nie vergewe en uitgewis word nie, maar sal in die dag van God teen die sondaar getuig. Hy mag miskien sy bose dade in die helder daglig of in die duisternis van die nag gepleeg het; maar vir die oë van Hom met wie ons te doen het, was hulle onverbloem. Engele van God het elke sonde aanskou en het dit in die onfeilbare verslae aangeteken. Sondes mag vir vader, moeder, vrou, kinders en kennisse bedek, ontken en verberg word; niemand, behalwe die skuldige, mag dalk van die verkeerde daad weet nie; maar voor die intelligensies van die hemel is hulle blootgelê. Die duisternis van die donkerste nag, die geheimhouding van die mees misleidende liste, is nie voldoende om een gedagte van die kennis van die Ewige te verberg nie. God het ‘n noukeurige verslag van elke onregverdige optrede. Hy word nie deur ‘n skyn van vroomheid bedrieg nie. In Sy opsomming van die karakter begaan Hy geen fout nie. Mense mag deur diegene wie se harte korrup is mislei word, maar God deurdring alle vermommings en lees die innerlike lewe. GS 512.2

Hoe plegtig is die gedagte nie! Dag na dag wat in die ewigheid verbygaan dra die las van opnames in die boeke van die hemel. Woorde wat eenmaal geuiter is en dade wat eenmaal gedoen is, kan nooit weer herroep word nie. Engele registreer die goeie sowel as die kwade. Die magtigste veroweraar op aarde kan nie die rekord van een enkele dag herroep nie. Ons dade, ons woorde en selfs ons mees geheime motiewe, dra almal gewig by tot die bepaling van ons weë. Hoewel ons hulle miskien vergeet het, sal hulle hul getuienis lewer om te regverdig of te veroordeel. GS 512.3

Soos ons gelaatstrekke met akkuraatheid op die gepoleerde plaat van die kunstenaar weergegee word, word die karakter in die boeke daarbo getrou beskryf. Nogtans, hoe min besorgdheid is daar oor die verslag wat die blik van die hemelse wesens moet ontmoet. Sou die sluier wat die sigbare van die onsigbare wêreld skei gelig word en die mensekinders ‘n engel sien wat elke woord en daad opneem wat hulle weer in die oordeel moet konfronteer, hoeveel woorde wat daagliks uitgespreek word sal onuitgespreek bly en hoeveel dade sal ongedaan bly? GS 513.1

In die oordeel sal die gebruik van elke talent onder die loep geneem word. Hoe het ons die kapitaal wat deur die hemel aan ons geleen is bestee? Sal die Here met Sy wederkoms Sy eiendom met rente terug ontvang? Het ons die vermoëns van hand, hart en verstand, wat aan ons toevertrou is, tot eer van God en tot seën van die wêreld aangewend? Hoe het ons ons tyd, ons pen, ons stem, ons geld en ons invloed gebruik? Wat het ons vir Christus in die versorging van die armes en siekes, die wese of die weduwee gedoen? God het ons die bewaarders van Sy heilige Woord gemaak; wat het ons met die lig en die waarheid wat aan ons gegee is, om die mense wys tot saligheid te maak, gedoen? Geen waarde word aan ‘n blote geloofsbelydenis in Christus geheg nie; slegs die liefde wat deur werke getoon word, word as eg beskou. Tog is dit die liefde alleen wat enige daad, in die oë van die Hemel, waardevol maak. Wat ook al in liefde gedoen word, hoe gering dit ook al in die oë van mense mag voorkom, word deur God aanvaar en beloon. GS 513.2

Die verborge selfsug van mense word in die boeke van die hemel geopenbaar. Daar is ‘n verslag van onvervulde pligte teenoor hul medemens en vergetenheid van die Here se aansprake. Daar sal gesien word hoe dikwels die tyd, gedagtes en krag wat aan Christus behoort, aan Satan gegee is. Dit is ‘n hartseer verslag wat die engele na die hemel neem. Intelligente wesens, beweerde volgelinge van Christus, is in die verkryging van wêreldse besittings of die genot van aardse plesier opgeneem. Geld, tyd en krag word opgeoffer vir vertoon en selfbevrediging; maar die oomblikke wat aan gebed, die ondersoek van die Skrif, die verootmoediging van die siel en die belydenis van sonde gewy word, is seldsaam. GS 514.1

Satan bedink ontelbare skemas om ons gedagtes te beset, sodat ons nie met die dinge waarmee ons die beste bekend behoort te wees, vertroud sal wees nie. Die aartsbedrieër haat die groot waarhede wat deur die soenoffer en ‘n Almagtige Middelaar openbaar word. Hy weet dat alles vir hom daarvan afhang om die gedagtes van mense, van Jesus en Sy waarheid weg te lei. GS 514.2

Diegene wat in die Heiland se Middelaarskap wil deel, moet nie toelaat dat enigiets hulle in hul plig om heiligheid in die vrees van God te vervolmaak inmeng nie. In stede van die kosbare ure aan plesier, vertoon, of die najaging van wins te bestee, moet dit aan ernstige, biddende bestudering van die Woord van Waarheid gewy word. Die onderwerp van die heiligdom en die ondersoekende oordeel, moet duidelik deur die volk van God verstaan word. Almal benodig ‘n persoonlike kennis van die plek en die werk van hulle groot Hoëpriester, anders sal dit vir hulle onmoontlik wees om die geloof wat noodsaaklik vir hierdie tyd is te beoefen, of die posisie wat God vir hulle bestem het in te neem. Elke individu het ‘n siel om te red of te verloor. Elkeen het ‘n hangende saak voor die regbank van God. Elkeen moet die groot Regter van aangesig tot aangesig ontmoet. Hoe belangrik is dit dus dat elke gedagte gewy word aan die plegtige toneel wanneer die gereg sal sit en die boeke geopen word, wanneer elkeen, saam met Daniël, aan die einde van die dae sy lot moet konfronteer. GS 514.3

Almal wat die lig aangaande hierdie onderwerpe ontvang het, moet van die groot waarhede wat God aan hulle toevertrou het getuig. Die heiligdom in die hemel is die middelpunt van Christus se werk ten behoewe van die mens. Dit raak elke lewende siel wat op die aarde woon. Dit openbaar die verlossingsplan wat ons tot aan die einde van die tyd sal bring en die oorwinning in die stryd tussen geregtigheid en sonde. Dit is van die allergrootste belang dat almal hierdie onderwerpe deeglik moet ondersoek en in staat moet wees om aan almal wat hulle vra, ‘n rede vir die hoop wat in hulle is te gee. GS 515.1

Die bemiddeling van Christus ten behoewe van die mens in die heiligdom daarbo, is net so noodsaaklik vir die verlossingsplan, soos Sy dood aan die kruis was. Deur Sy dood het Hy met die werk begin wat Hy na Sy opstanding en hemelvaart, opgevaar het om in die hemel te voleindig. Ons moet in geloof agter die voorhangsel ingaan “...waar Jesus as Voorloper vir ons ingegaan het...” (Heb 6:20). Daar word die lig van die kruis van Golgota weerkaats. Daar sal ons ‘n duideliker insig in die verborgenheid van die verlossing verkry. Die redding van die mens is teen ‘n oneindige prys van die hemel verkry; die offer voldoen aan die grootste eise van die gebroke wet van God. Jesus het die weg na die troon van Sy Vader oopgemaak en deur Sy bemiddeling word die opregte begeertes van almal wat in geloof na Hom toe kom, aan God voorgehou. GS 515.2

“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spr 28:13). As diegene wat hulle oortredinge verberg en verskoon, kon sien hoe verheug Satan oor hulle is en hoe hy Christus en die heilige engele met hulle dade uittart, sou hulle hul haas om hul sondes te bely en te versaak. Deur gebreke in die karakter, werk Satan om beheer oor die hele verstand te verkry en hy weet dat hy sal slaag as hierdie gebreke gekoester word. Daarom is hy voortdurend besig om die volgelinge van Christus, met sy noodlottige drogredes te mislei, sodat dit vir hulle onmoontlik is om te oorwin. Maar Jesus pleit met Sy gewonde hande en gebroke liggaam ten behoewe van hulle en Hy verklaar aan almal wat Hom wil navolg: “My genade is vir jou genoeg.” (2 Kor 12:9). “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart; en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig.” (Mat 11:29,30). Laat niemand dan hulle gebreke as ongeneeslik beskou nie. God sal geloof en genade skenk om hulle te oorwin. GS 515.3

Ons leef tans in die groot versoendag. In die tipiese diens, terwyl die hoëpriester versoening vir Israel gedoen het, moes almal hul siel verootmoedig deur berou oor sonde en vernedering voor die aangesig van die Here, sodat hulle nie onder die volk uitgeroei sou word nie. Net so ook moet almal wat hulle name in die boek van die lewe wil behou, nou, in die paar oorblywende dae van hul genadetyd, hul siele voor God in berou en in opregte bekering van hulle sonde verootmoedig. Daar moet ‘n diepe en getroue ondersoek van die hart wees. Die ligsinnige gees wat deur soveel belydende Christene geopenbaar word, moet versaak word. Daar lê ‘n ernstige stryd vir almal voor om die bose neigings wat hulle wil bemeester, te onderwerp. Die voorbereidingswerk is ‘n individuele taak. Ons word nie in groepe gered nie. Die reinheid en toewyding van een sal nie vir die gebreke in die karakter van ‘n ander kan vergoed nie. Hoewel alle nasies in die gereg voor God moet verskyn, sal Hy die saak van elke individu so noukeurig en deeglik ondersoek, asof daar nie ‘n ander wese op die aarde is nie. Almal moet getoets en sonder vlek of rimpel of iets dergeliks bevind word. GS 516.1

Plegtig is die tonele wat verband hou met die sluitingswerk van die versoening. Die belange daarby betrokke is van die uiterste belang. Die oordeel gaan nou oor na die hemelse heiligdom. Hierdie werk is al baie jare aan die gang. Spoedig — niemand weet hoe gou nie — sal dit oorgaan na die gevalle van die wat lewe. In die ontsagwekkende teenwoordigheid van God, sal ons lewens in oënskou geneem word. In hierdie tyd, meer as enige ander, is dit noodsaaklik vir elke siel om op die vermaning van die Heiland te let: “Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.” (Mark 13:33). “As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” (Openb 3:3). GS 517.1

Wanneer die werk van die ondersoekende oordeel sluit, sal die lot van alle mense vir die dood of die lewe beslis wees. Die genadetyd eindig kort voor die verskyning van die Here op die wolke van die hemel. In Openbaring, waar Christus hierdie tyd vooruit sien, verklaar Hy: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen: en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Openb 22:11,12). GS 517.2

Die regverdiges en goddeloses sal steeds in hul sterflike toestand op die aarde woon; mense sal plant en bou, eet en drink, almal onbewus daarvan dat die finale, onherroeplike besluit in die hemelse heiligdom daarbo uitgespreek is. Voor die Sondvloed, nadat Noag in die ark ingekom het, het God hom ingesluit en die goddelose uitgesluit; maar sewe dae lank het die volk, omdat hulle nie geweet het dat hul ondergang beslis was nie, hul sorgelose, genotsugtige lewe voortgesit en die waarskuwings van die dreigende oordeel bespot. “So... ” sê die Verlosser, “...sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” (Mat 24:39). Stil, ongemerk, soos ‘n dief om middernag, sal die beslissende uur aanbreek wat die lot van elke mens sal bepaal, die finale onttrekking van die boodskap van genade aan skuldige mense. GS 517.3

“Waak dan ... dat Hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.” (Mark 13:35,36). Uiters gevaarlik is die toestand van diegene wat, nadat hulle moeg geword het om te waak, hulle tot die aanloklikhede van die wêreld wend. Terwyl die sakeman ‘n slaaf van sy winsbejag is; terwyl die plesiersoeker toegee aan sy begeertes; terwyl die modeverslaafde meisie besig is om haarself te tooi — kan dit die uur wees dat die Regter van die ganse aarde die vonnis uitspreek: “U is op die weegskaal geweeg en te lig bevind.” (Dan 5:27). GS 518.1