Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 25—God se Onveranderlike Wet
“En die tempel van God het in die hemel oopgegaan en Sy verbondsark is in Sy tempel gesien.” (Openb 11:19). Die verbondsark van God is in die Allerheiligste plek, naamlik die tweede vertrek van die heiligdom. In die bediening van die aardse tabernakel “...wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien...” was hierdie vertrek slegs op die groot versoendag vir die reiniging van die heiligdom geopen. Dus het die aankondiging dat die tempel van God in die hemel geopen is en dat Sy verbondsark gesien is, gewys op die opening van die Allerheiligste van die hemelse heiligdom in 1844, toe Christus daar ingegaan het om die afsluitingswerk vir die versoening te doen. Diegene wat deur geloof hulle Hoëpriester gevolg het toe Hy Sy bediening in die Allerheiligste plek betree het, het die verbondsark aanskou. Toe hulle die onderwerp van die heiligdom bestudeer het, het hulle die verandering van die Verlosser se bediening verstaan en hulle het gesien dat Hy nou voor die ark van God dien en Sy bloed namens sondaars bepleit. GS 456.1
Die ark in die aardse tabernakel het die twee kliptafels waarop die voorskrifte van die wet van God geskryf is, bevat. Die ark was bloot ‘n bewaarplek vir die kliptafels van die wet en die teenwoordigheid van die Goddelike voorskrifte daarin, het waardigheid en heiligheid daaraan verleen. Toe die tempel van God in die hemel geopen is, is Sy verbondsark gesien. Binne die Allerheiligste in die hemelse heiligdom, is die Goddelike wet heilig vasgelê - die wet wat deur God self, te midde van die donderweer van Sinai verkondig is en met Sy eie vinger op die kliptafels geskryf is. GS 456.2
Die wet van God in die hemelse heiligdom, is die groot oorspronklike waarvan die voorskrifte wat op die kliptafels opgeskryf is en deur Moses in die Pentateug opgeteken is, ‘n onfeilbare weergawe was. Diegene wat tot ‘n begrip van hierdie belangrike punt gekom het, is dus daartoe gelei om die heilige, onveranderlike karakter van die Goddelike wet te sien. Hulle het, soos nooit tevore, die krag van die Heiland se woorde verstaan: “Voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan...” nie. (Mat 5:18). Die wet van God, wat ‘n openbaring van Sy wil en ‘n weergawe van Sy karakter is, moet vir ewig as ‘n getroue getuie in die hemel bly staan. Nie een gebod is nietig verklaar nie; nie een jota of tittel is verander nie. Die psalmis sê: “Vir ewig, o Here, staan u woord vas in die hemele ... Al sy bevele is betroubaar. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig.” (Ps 119:89;111:7,8). GS 456.3
In die boesem van die Dekaloog is die vierde gebod soos dit die eerste keer verkondig is: “Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Ex 20:8-11). GS 457.1
Die Gees van God het die harte van die ondersoekers van Sy Woord besiel. Hulle het tot die oortuiging gekom dat hulle hierdie gebod onwetend oortree het deur die Skepper se rusdag te verontagsaam. Hulle het begin om ondersoek in te stel na die redes vir die waarneming van die eerste dag van die week in plaas van die dag wat God geheilig het. Hulle kon geen Skriftuurlike bewys vind dat die vierde gebod afgeskaf is, of dat die Sabbat verander is nie; die seën wat die sewende dag aanvanklik geheilig het, is nooit verwyder nie. Hulle het opreg daarna gestrewe om God se wil te ken en te doen; en nou, toe hulle besef dat hulle oortreders van Sy wet is, is hulle harte met berou gevul en hulle het hul lojaliteit teenoor God geopenbaar deur Sy Sabbat te heilig. GS 457.2
Vele en ernstige pogings is aangewend om hulle geloof omver te werp. Niemand kon die feit miskyk dat as die aardse heiligdom ‘n tipe of patroon van die hemelse was, die wet wat in die ark op die aarde was, ‘n presiese weergawe van die wet in die ark in die hemel was; en dat die aanvaarding van die waarheid rakende die hemelse heiligdom, ‘n erkenning van die aansprake van God se wet en die verpligting van die Sabbat van die vierde gebod behels. Hier was die geheim van die bittere en vasberade teëstand teen die harmonieuse uiteensetting van die Skrif wat die bediening van Christus in die hemelse heiligdom geopenbaar het. Mense het gepoog om die deur wat God oopgemaak het te sluit en die deur wat Hy gesluit het, oop te maak. Maar Hy “...wat oopmaak en niemand sluit nie en Hy [wat] sluit en niemand maak oop nie...” het gesê: “Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee en niemand kan dit sluit nie.” (Openb. 3:7,8). Christus het die deur, of die bediening van die Allerheiligste oopgemaak en lig het vanaf daardie oop deur in die hemelse heiligdom geskyn en die vierde gebod is uitgelig dat dit opgeneem is in die wet wat daar vasgelê is, wat God ingestel het en wat deur geen mens omvergewerp kan word nie. GS 458.1
Diegene wat die lig aangaande die bemiddeling van Christus en die ewigdurendheid van die wet van God aanvaar het, het gevind dat dít die waarhede was wat in Openbaring 14 verteenwoordig is. Die boodskappe in hierdie hoofstuk is die drieledige waarskuwing [Sien bylaag]om die inwoners van die aarde vir die wederkoms van die Here voor te berei. Die aankondiging: “Die uur van Sy oordeel het gekom...” wys op die afsluitingswerk van Christus se bediening tot redding van die mens. Dit lui ‘n waarheid in wat verkondig moet word totdat die bemiddeling van Heiland ophou en Hy na die aarde terugkeer om Sy volk na Hom toe te neem. Die werk van die ondersoekende oordeel wat in 1844 begin het, moet voortgaan totdat almal se saak, die lewendes sowel as die wat reeds gesterf het, beslis is; derhalwe sal dit tot aan die einde van die genadetyd vir die mens strek. Sodat mense gereed kan wees om in die oordeel te staan, beveel die boodskap hulle: “Vrees God en gee Hom heerlikheid ... en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” (Openb 14:7). Die gevolge van die aanvaarding van hierdie boodskappe word gegee in die Woord: “Hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.” Ten einde gereed vir die oordeel te wees, is dit noodsaaklik dat mense die wet van God moet onderhou. Hierdie wet sal die maatstaf van karakter in die oordeel wees. Die apostel Paulus verklaar: “Almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word ... in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel.” En hy sê verder dat “...die daders van die wet geregverdig sal word.” (Rom 2:1216). Geloof is noodsaaklik om die wet van God te onderhou, want “...sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag...” en “...alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.” (Heb 11:6; Rom 14:23). GS 458.2
Deur die eerste engel word mense gevra : “Vrees God en gee Hom heerlikheid...” en aanbid Hom as die Skepper van die hemel en die aarde. Om dit te kan doen, moet hulle Sy wet gehoorsaam. Die wyse man sê: “Vrees God en hou Sy gebooie; want dit geld vir alle mense.” (Pred 12:13). Sonder gehoorsaamheid aan Sy gebooie kan geen aanbidding God behaag nie. “Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar ... Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.” (1 Joh 5:3; Spr 28:9). GS 459.1
Die verpligting om God te aanbid, berus op die feit dat Hy die Skepper is en dat alle ander wesens hul bestaan aan Hom te danke het. En oral in die Bybel waar Sy aanspraak op eerbied en aanbidding bo die gode van die heidene aangebied word, word die getuienis van Sy skeppende krag aangehaal: “Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het die hemele gemaak.” (Ps 96:5). “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? ... Want so sê die Here, wat die hemele geskape het — Hy is God! — wat die aarde geformeer en dit gemaak het ... Ek is die Here en daar is geen ander nie.” (Jes 40:25,26;45:18). Die psalmis sê: “Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is Syne ... Kom, laat ons aanbid en neerbuk, laat ons kniel voor die Here wat ons gemaak het.” (Ps 100:3;95:6). En die heilige wesens wat God in die hemel aanbid, verklaar die rede waarom hulle hulde aan Hom verskuldig is: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur U wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Openb 4:11). GS 459.2
In Openbaring 14 word die mense opgeroep om die Skepper te aanbid; en die profesie wys op ‘n klas wat, as gevolg van die drieledige boodskap, die gebooie van God onderhou. Een van hierdie gebooie wys regstreeks op God as die Skepper. Die vierde gebod verklaar: “Die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God ... Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Ex 20:10,11). Aangaande die Sabbat sê die Here verder: “Hulle sal ‘n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die Here julle God is.” (Eseg 20:20). En die rede hiervoor is: “Want in ses dae het die Here die hemele en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Ex 31:17). GS 460.1
“Die belangrikheid van die Sabbat as ‘n gedenkteken van die skepping, is dat dit ons voortdurend herinner aan die rede waarom aanbidding aan God aanbid verskuldig is” — omdat Hy die Skepper en ons Sy skepsels is. “Die Sabbat lê dus die ware grondslag van Goddelike aanbidding, want dit leer ons hierdie groot waarheid op die indrukwekkendste wyse en geen ander instansie doen dit nie. Die ware gronde van aanbidding, nie alleen op die sewende dag nie, maar van alle aanbidding, word gevind in die verskil tussen die Skepper en Sy skepsels. Hierdie groot feit kan nooit verouderd raak nie en moet nooit vergeet word nie.”— J. N. Andrews, History of the Sabbath, hfst 27. Dit was om hierdie waarheid altyd aan die mens voor te hou, dat God die Sabbat in Eden ingestel het; en vir solank die feit dat Hy ons Skepper is, steeds die rede is waarom ons Hom moet aanbid, sal die Sabbat as teken daarvan ons hieraan herinner. As die Sabbat universeel onderhou was, sou die mens se gedagtes en geneenthede na die Skepper as voorwerp van eerbied en aanbidding gelei het en sou daar nooit ‘n afgodsdienaar, ‘n ateïs, of ‘n ongelowige gewees het nie. Die onderhouding van die Sabbat is ‘n teken van lojaliteit teenoor die ware God, “...Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Hieruit is dit ooglopend dat die boodskap wat mense beveel om God te aanbid en Sy gebooie te onderhou, veral ‘n beroep op hulle sal doen om die vierde gebod te onderhou. GS 460.2
In teenstelling met diegene wat die gebooie van God onderhou en die geloof in Jesus het, wys die derde engel op ‘n ander klas teen wie se dwalinge ‘n ernstige en vreesaanjaende waarskuwing geuiter word: “As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God.” (Openb 14:9,10). ‘n Korrekte vertolking van die simbole wat gebruik is, is nodig om hierdie boodskap te begryp. Wat word deur die dier, sy beeld en sy merk voorgestel? GS 461.1
Die lyn van profesie waarin hierdie simbole voorkom, begin met Openbaring 12, met die draak wat gepoog het om Christus tydens sy geboorte te vernietig. Van die draak word gesê dat dit Satan is (Openb 12:9); hy het Herodes aangehits om die Verlosser te dood. Maar die vernaamste instrument van Satan in die oorlogvoering teen Christus en Sy volk gedurende die eerste eeue van die Christelike era, was die Romeinse Ryk, waarin die heidendom die heersende godsdiens was. Terwyl die draak dus hoofsaaklik Satan verteenwoordig, is dit in ‘n sekondêre sin ‘n simbool van heidense Rome. GS 461.2
In Openbaring 13:1-10 word ‘n ander dier beskryf, “...soos ‘n luiperd... ” aan wie die draak “...sy krag en sy troon en groot mag...” gegee het. Hierdie simbool, soos die meeste Protestante geglo het, verteenwoordig die pousdom wat die troon, die mag en setel en die gesag wat eens aan die Romeinse Ryk behoort het, oorgeneem het. Van die dier wat soos ‘n luiperd lyk, word verklaar: “En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek ... En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om Sy Naam en Sy tabernakel en die wat in die hemel woon te laster. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.” (Openb 13:5-7). Hierdie profesie wat byna heeltemal met die beskrywing van die “...ander horinkie...” van Daniël 7 ooreenstem, dui onteenseglik op die pousdom. GS 462.1
“Aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen.” (Openb 13:5). En die profeet sê: “Ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was.” (Openb 13:3). En weer: “As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word.” (Openb 13:10). Die twee-en-veertig maande stem ooreen met die “...tyd en tye en die helfte van ‘n tyd...” (Dan 7:25), die drie en ‘n half jaar, of 1 260 dae van Daniël 7, waartydens die pouslike mag die volk van God onderdruk het. Hierdie tydperk, soos in die voorafgaande hoofstukke vermeld, het begin met die oppergesag van die pousdom in 538 nC en is in 1798 beëindig. Gedurende daardie tyd is die pous deur die Franse leër gevange geneem, die pouslike mag is ‘n dodelike wond toegedien en die voorspelling is vervul: “As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap.” GS 462.2
Op hierdie stadium word ‘n ander simbool bekendgestel. Die profeet sê: “En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam.” (Openb 13:11). Beide die verskyning van hierdie dier asook die manier waarop dit opkom, dui daarop dat die volk wat dit verteenwoordig, nie soos dié van die van die voorafgaande simbole aangebied word nie. Die groot koninkryke wat oor die wêreld geheers het, is aan die profeet Daniël voorgestel wat opkom wanneer: “...die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander.”(Dan 7:2,3). In Openbaring 17 het ‘n engel verduidelik dat waters “...volke en menigtes en nasies en tale... ” verteenwoordig. (Openb 17:15). Winde is ‘n simbool van stryd. Die vier winde van die hemel wat die groot see in beroering gebring het, verteenwoordig die verskriklike tonele van verowering en rewolusies waardeur koninkryke aan bewind gekom het. GS 463.1
Maar die dier met die lamshorings, het uit die aarde opgekom. In plaas daarvan om ander magte omver te werp om homself te bevestig, moet die volk wat hier verteenwoordig word, in gebiede ontstaan wat nie voorheen deur ander volke beset was nie en geleidelik en vreedsaam ontwikkel. Hierdie volk kon dus nie onder die oorbevolkte en worstelende nasies van die Ou Wêreld ontstaan nie - daardie onstuimige see van “...volke en menigtes en nasies en tale...” nie. Dit moet op die Westelike vasteland gesoek word. GS 463.2
Watter nasie van die Nuwe Wêreld het in 1798 aan bewind gekom, ‘n belofte van krag en grootsheid aan die dag gelê en die aandag van die wêreld getrek? Die toepassing van die simbool laat geen twyfel nie; dit wys onmiskenbaar op die Verenigde State van Amerika. Telkens word die gedagte, byna die presiese woorde van die heilige skrywer onbewustelik deur die redenaar en historikus gebruik om die opkoms en groei van hierdie volk te beskryf. Die dier is gesien dat hy “...uit die aarde opkom...” en volgens die vertalers beteken die woord ‘opkom’ hier, letterlik om te groei of soos ‘n plant uit te spruit.” En, soos ons gesien het, moet hierdie nasie in gebiede wat voorheen onbewoon was ontstaan. ‘n Vooraanstaande skrywer, wat die opkoms van die Verenigde State beskryf, praat van “...die wonder van haar ontstaan uit niks” en sê: “Soos ‘n stille saad het ons tot ‘n ryk gegroei.” — G A Townsend, The New World Compared with the Old, bl 462. ‘n Europese tydskrif in 1850 het van die Verenigde State gepraat as ‘n wonderlike ryk wat “uitspruit” en “...te midde van die stilte van die aarde wat daagliks tot sy mag en sy trots bygedra het.” — The Dublin Nation. Edward Everett, in ‘n redenasie oor die Pelgrim-stigters van hierdie nasie, het gevra: “Het hulle na ‘n afgeleë plek gesoek, wat nie aanstoot gee deur die onbekendheid daarvan nie en veilig in sy afsondering was, waar die klein kerkie van Leyden vryheid van gewete kon geniet? Kyk na die magtige streke waaroor hulle in vreedsame verowering ... die vaandels van die kruis gedra het!” (Toespraak gelewer in Plymouth, Massachusetts, 22 Desember 1824, bl 11). GS 463.3
“...en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam...” Die lamshorings dui op jeug, onskuld en sagmoedigheid, wat die karakter van die Verenigde State goed voorstel toe hulle in 1798 aan die profeet voorgehou is as aan die ‘opkom'. Onder die Christen-bannelinge, wat eers na Amerika gevlug en daar asiel van koninklike onderdrukking en priesterlike onverdraagsaamheid gesoek het, was baie wat besluit het om ‘n regering te vestig op die breë grondslag van burgerlikeen godsdiensvryheid. Hulle sienings het plek in die Verklaring van Onafhanklikheid gevind, wat die groot waarheid, dat “...alle mense gelyk geskape is...” en met die onvervreembare reg op “...lewe, vryheid en die strewe na geluk.” En die Grondwet waarborg aan die volk die reg op selfregering, met dien verstande dat verteenwoordigers wat deur die stem van die volk verkies is, die wette sal toepas en bestuur. Daar is godsdiensvryheid toegestaan, terwyl elkeen toegelaat was om God te aanbid volgens die voorskrifte van sy gewete. Republikeinse en Protestantse beginsels het die grondbeginsels van die land geword. Hierdie beginsels was die geheim van sy mag en welvaart. Die verdruktes en vertraptes regdeur die Christendom, het hulle met belangstelling en hoop na hierdie land gewend. Miljoene het sy oewers gesoek en die Verenigde State het tot die posisie van een van die magtigste nasies op aarde gestyg. GS 464.1
Maar die dier met lamshorings, het “...gepraat soos ‘n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid waarvan die dodelike wond genees is ... En hy verlei die bewoners van die aarde deur ... te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.” (Openb 13:11-14). GS 465.1
Die horings soos van ‘n lam en stem van die draak in die simbool, dui op ‘n opvallende teenstrydigheid tussen die beroepe en praktyke van die volk wat so verteenwoordig word. Die “gepraat” van die nasie is die optrede van sy wetgewende en geregtelike owerhede. Deur sulke optrede het dit leuens verleen aan die liberale en vreedsame beginsels wat hulle as grondslag van hul beleid voorgehou het. Die voorspelling dat die dier soos ‘n draak praat en “”...al die mag van die eerste dier...” uitoefen, voorspel duidelik die ontwikkeling van die gees van onverdraagsaamheid en vervolging wat deur die nasies wat deur die draak en die luiperdagtige dier verteenwoordig word, geopenbaar is. En die stelling dat die dier met die twee horings, “...maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid... ” dui aan dat die gesag van hierdie volk uitgeoefen sal word om een of ander gebruik af te dwing wat eer aan die pousdom betoon . GS 465.2
Sodanige optrede sou regstreeks in stryd met die beginsels van hierdie regering wees, die genialiteit van sy vrye instellings en die direkte en plegtige beloftes van die Verklaring van Onafhanklikheid en die Grondwet. Die stigters van die nasie het wyslik daarna gestrewe om teen die uitoefening van sekulêre mag van die kant van die kerk te waak, met die onvermydelike gevolg daarvan - onverdraagsaamheid en vervolging. Die Grondwet bepaal dat “...die Kongres geen wet mag instel wat die vestiging van ‘n godsdiens respekteer, of die vrye uitoefening daarvan verbied nie; en dat “...geen godsdienstige toets ooit nodig sal wees as kwalifikasie vir enige amp of openbare vertroue onder die Verenigde State nie.” Slegs ‘n flagrante skending van hierdie beskermingsmaatreëls vir die vryheid van die land, kan veroorsaak dat enige godsdienstige instelling deur die burgerlike gesag afgedwing word. Die teenstrydigheid van sulke optrede is nie groter as wat deur die simbool voorgestel word nie. Dit is die dier met die lamshorings, wat na bewering, suiwer, sag en skadeloos is, wat soos ‘n draak praat. GS 465.3
“...deur vir die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier.” Hier word duidelik ‘n regeringsvorm voorgehou waarin die wetgewende mag by die volk berus, die mees opvallendste bewys dat die Verenigde State die volk is wat in die profesie aangedui word. GS 466.1
Maar wat is die beeld vir die dier? En hoe word dit gevorm? Die beeld word gevorm deur die dier met die twee horings en is ‘n beeld ‘tot’ die dier. Dit word ook ‘n beeld ‘van’ die dier genoem. Om dus vas te stel hoe die beeld lyk en hoe dit gevorm sal word, moet ons die kenmerke van die dier self, die pousdom, bestudeer. GS 466.2
Toe die vroeë kerk korrup geraak het deur van die eenvoud van die evangelie af te wyk en heidense rituele en gebruike aan te neem, het sy die Gees en krag van God verbeur; en om die gewete van die volk te beheer het sy die steun die van die sekulêre mag gesoek. Die gevolg was die pousdom, ‘n kerk wat die mag van die staat beheer en dit aangewend het om haar eie agenda te bevorder, veral vir die straf van kettery. Ten einde die Verenigde State as ‘n beeld van die dier te vorm, moet die godsdienstige mag die burgerlike regering so beheer, dat die gesag van die staat ook deur die kerk aangewend sal word om haar eie doel te bereik. GS 466.3
Telkens wanneer die kerk sekulêre mag verkry het, het sy dit gebruik om afvalligheid van haar leerstellings te straf. Protestantse kerke wat in die voetspore van Rome gevolg het, deur ‘n bondgenootskap met wêreldse moondhede te sluit, het ‘n soortgelyke begeerte geopenbaar om gewetensvryheid te beperk. ‘n Voorbeeld hiervan word in die volgehoue vervolging van andersdenkendes deur die Kerk van Engeland gegee. Gedurende die sestiende en sewentiende eeue is duisende niekonformistiese predikante gedwing om uit hul kerke te vlug en vele, beide pastore en lidmate was onderworpe aan boete, gevangenskap, marteling en marteldood. GS 467.1
Dit was afvalligheid wat die vroeë kerk daartoe gelei het om die hulp van die burgerlike regering te soek en dit het die weg vir die ontwikkeling van die pousdom voorberei - die dier. Paulus het gesê: “Eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word.” (2 Thes 2:3). Afvalligheid in die kerk sal dus die weg vir die beeld van die dier berei. GS 467.2
Die Bybel verklaar dat daar voor die wederkoms van die Here ‘n toestand van godsdienstige agteruitgang net soos in die eerste eeue sal bestaan. “Maar weet dit, dat daar sware tye in die laaste dae sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante aan godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” (2 Tim 3:1-5). “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.” (1 Tim 4:1). “Satan [sal] met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding en ongeregtigheid... ” werk. En die wat “..die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie...” sal oorgegee word om die “...krag van die dwaling... ” aan te neem “...om die leuen te glo.” (2 Thes 2:911). Wanneer hierdie toestand van goddeloosheid bereik word, sal dieselfde resultate as in die eerste eeue volg. GS 467.3
Die groot diversiteit van gelowe in die Protestantse kerke word deur baie mense as afdoende bewys beskou, dat geen poging om gelykvormigheid te verkry, ooit afgedwing sal word nie. Maar jare lank bestaan daar al ‘n sterk en groeiende sentiment in die kerke van die Protestantse geloof ten gunste van ‘n eenwording, gegrond op gemeenskaplike leerstellings. GS 468.1
Om so ‘n eenheid te bewerkstellig, moet die bespreking van onderwerpe waaroor almal nie ooreenstem nie, hoe belangrik dit ook al uit ‘n Bybelse oogpunt is, noodwendig afgeskaf word. GS 468.2
Charles Beecher het in ‘n preek in die jaar 1846 verklaar dat die bediening van die “evangeliese protestantse denominasies” nie net nie alleenlik tot ‘n groot mate onder geweldige druk van bloot menslike vrees gevorm word nie, maar hulle leef en beweeg en asem ‘n toestand van dinge wat radikaal korrup is in en doen elke uur ‘n beroep op elke laer element van hul aard om die waarheid te verswyg en die knie voor die krag van afvalligheid te buig. Was dit nie ook die geval met Rome nie? Herleef ons nie weer die lewe van Rome nie? En wat sien ons reg voor ons? ‘n Ander algemene raad! ‘n Wêreldbyeenkoms! Evangeliese alliansie en universele geloofsbelydenis. - Preek oor “The Bible a Sufficient Creed”, gelewer te Fort Wayne, Indiana, 22 Februarie 1846. Wanneer dit bereik word, dan sal daar, in ‘n poging om volkome eensgesindheid te bereik, slegs een stap verder geneem word om tot geweld oor te gaan. GS 468.3
Wanneer die leidende kerke van die Verenigde State in leerstellings wat hulle in gemeen het saamsmelt en die Staat beïnvloed om hul verordeninge af te dwing en hul instellings te onderhou, dan sal Protestantse Amerika ‘n beeld van die Romeinse hiërargie gevorm het en die oplegging van burgerlike straf teen andersdenkendes sal onvermydelik daarop volg. GS 468.4
Die dier met die twee horings “...maak dat aan almal, klein en groot en die rykes en die armes en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.” (Openb 13:16,17). Die waarskuwing van die derde engel is soos volg: “As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God.” Die dier wat in hierdie boodskap genoem word en wie se aanbidding deur die dier met die twee horings afgedwing word, is die eerste, of die luiperdagtige dier van Openbaring 13 — die pousdom. Die beeld van die dier verteenwoordig die vorming van afvallige Protestantisme wat sal ontstaan wanneer die Protestantse kerke die hulp van die burgerlike mag sal inroep om hul dogmas af te dwing. Die “...merk van die dier...” moet nog gedefinieer word. GS 469.1
Ná die waarskuwing teen die aanbidding van die dier en sy beeld, verklaar die profesie: “Hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”(Openb 14:12). Aangesien diegene wat God se gebooie bewaar, dus in kontras met diegene wat die dier en sy beeld aanbid en sy merk ontvang geplaas word, volg dit dat die onderhouding van God se wet enersyds en die skending daarvan andersyds, die onderskeid tussen die aanbidders van God en die aanbidders van die dier sal tref. GS 469.2
Die besondere kenmerk van die dier en dus ook van sy beeld, is die oortreding van God se gebooie. Van die “ander horing”, die pousdom, sê Daniël: “...en hy sal probeer om tye en wet te verander...” (Dan 7:25). Paulus noem hierdie selfde mag die “...mens van sonde...” wat hom bokant God sal verhef. Die een profesie vul die ander aan. Alleen deur God se wet te verander kon die pousdom homself bo God verhef; wie ook al wetend die wet wat aldus verander is onderhou, sal die hoogste eer aan die mag deur wie die verandering gemaak is bewys. So ‘n daad van gehoorsaamheid aan pouslike wette sal ‘n teken van trou aan die pous in die plek van God wees. GS 469.3
Die pousdom het gepoog om God se wet te verander. Die tweede gebod wat die aanbidding van beelde verbied, is uit die wet weggelaat en die vierde gebod is so verander, dat dit die eerste, in plaas van die sewende dag as die Sabbat bemagtig. Maar as rede vir die weglating van die tweede gebod, dring die Roomsgesindes daarop aan dat die gebod onnodig is, omdat dit in die eerste gebod opgeneem is en dat hulle die wet presies weergee soos God dit bedoel het, sodat ons dit kan verstaan. Dit kan dus nie die verandering wees wat die profeet voorspel het nie. ‘n Opsetlike, doelbewuste verandering word aangebied: “Hy sal probeer om tye en wet te verander.” Die verandering in die vierde gebod vervul die profesie volkome. Hiervoor is die enigste gesag waarop aanspraak gemaak word, die kerk. Hier stel die pouslike mag hom openlik bo God. GS 470.1
Terwyl die aanbidders van God veral deur hul agting vir die vierde gebod gekenmerk word, aangesien dit die teken van Sy skeppende krag is en dat dit ook ‘n bewys van Sy aanspraak op die eerbewys en hulde van die mens bevat, sal die aanbidders van die dier onderskei word aan hulle pogings om die Skepper se gedenkteken af te takel en die instelling van Rome te verhef. Dit was ten opsigte van die viering van die Sondag dat die pousdom eerstens sy arrogante bewerings gemaak het; [Sien bylaag] en sy eerste toevlug tot die mag van die staat was om die viering van Sondag as die “dag van die Here” af te dwing. Maar die Bybel wys op die sewende dag en nie die eerste as die Dag van die Here nie. Christus het gesê: “Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat.” (Mark 2:28; Jes 58:13). Die vierde gebod lui: “Die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God... ” (Ex 20:10). En die Here noem daardie dag deur die profeet Jesaja: “...My heilige dag...” (Jes 58:13). GS 470.2
Die bewering wat so dikwels gemaak word, dat Christus die Sabbat verander het, is deur Sy eie woorde weerlê. In die bergpredikasie het Hy gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.” (Mat 5:17-19). GS 471.1
Protestante erken oor die algemeen dat die Skrif geen gesag verleen vir die verandering van die Sabbat nie. Dit word duidelik gestel in publikasies wat deur die American Tract Society en die American Sunday School Union uitgereik is. Een van hierdie werke gee erkenning aan “...die volkome stilswye van die Nuwe Testament aangaande enige eksplisiete opdrag vir die Sabbat [Sondag, die eerste dag van die week] of bepaalde reëls vir die viering daarvan.” — George Elliott, The Abiding Sabbath, bl 184. GS 471.2
'n Ander een sê: “Tot die tyd van Christus se dood, was daar geen verandering in die dag aangebring nie; en, sover die verslag toon het hulle [die apostels], geen ... eksplisiete opdrag gegee vir die versaking van die sewende-dag Sabbat en die onderhouding daarvan op die eerste dag van die week nie.” — A E Waffle, The Lord’s Day, bl 186-188. GS 471.3
Rooms-Katolieke erken dat die verandering van die Sabbat deur hulle kerk aangebring is en hulle verklaar dat Protestante, deur die Sondag waar te neem, haar gesag erken. In die Catholic Catechism of Christian Religion word die volgende stelling in antwoord op ‘n vraag oor die dag wat in gehoorsaamheid aan die vierde gebod gehandhaaf moet word, gemaak: “In die ou wet was Saterdag die dag wat geheilig is; maar die kerk, in opdrag van Jesus Christus en deur die Gees van God gelei, het Saterdag met Sondag vervang, so ons heilig nou die eerste en nie die sewende dag nie. Sondag beteken en dit is nou, die dag van die Here.” GS 471.4
As teken van die gesag van die Katolieke Kerk sê pousgesinde skrywers dat “...die daad om die Sabbat na Sondag te verander, wat deur Protestante toegelaat word ... omdat hulle Sondag hou, hulle die mag van die kerk om feeste te orden en die viering daarvan in sonde te gebied, erken.”— H Tuberville, An Abridgment of Christian Doctrine, bl 58. Wat is die verandering van die Sabbat dan anders as die teken of merk van die gesag van die Roomse Kerk — “...die merk van die dier”? GS 472.1
Die Katolieke Kerk het nie afstand van haar aanspraak op oppergesag gedoen nie; en wanneer die wêreld en die Protestantse kerke die Sabbat van haar skepping aanvaar, terwyl hulle die Bybelse Sabbat verwerp, erken hulle wesenlik hierdie aanname. Hulle mag aanspraak maak op die gesag en tradisies van die Vaders vir die verandering; maar sodoende ignoreer hulle die beginsel wat hulle van Rome onderskei - dat die Bybel en slegs die Bybel die godsdiens van Protestante is. Die pousgesindes is daarvan bewus dat die Protestante hulleself mislei en hulle oë moedswillig vir die feite van die saak sluit. Soos die beweging vir die waarneming van Sondag guns verwerf, is hy verseker dat dit uiteindelik die ganse Protestantse wêreld weer onder die vaandel van Rome sal bring. GS 472.2
Die Roomsgesindes verklaar dat “...die waarneming van die Sondag deur Protestante ‘n eerbetoon is wat hulle, ondanks hulleself, aan die gesag van die Katolieke Kerk betoon.” — Segur, Plain Talk About the Protestantism of Today, bl 213. Die handhawing van Sondagviering in die Protestantse kerke, is ‘n handhawing van die aanbidding van die pousdom - van die dier. Diegene wat, volgens die aansprake van die vierde gebod, kies om die valse in plaas van die ware Sabbat te onderhou, bring hulde aan daardie mag alleen wat dit beveel het. Maar, juis in die handhawing van ‘n godsdienstige plig deur sekulêre mag, sal die kerke self ‘n beeld vir die dier vorm; derhalwe sal die handhawing van Sondagviering in die Verenigde State, ‘n afdwinging van die aanbidding van die dier en sy beeld wees. GS 472.3
Maar Christene van vorige geslagte het die Sondag onderhou met die veronderstelling dat hulle sodoende die Bybelse Sabbat onderhou; en daar is tans ook opregte Christene in alle kerke, wat nie die Rooms-Katolieke gemeenskap uitsluit nie, wat eerlik glo dat Sondag die Sabbat is wat God ingestel het. God aanvaar hulle opregtheid van voorneme en hul integriteit. Maar wanneer Sondagonderhouding deur die wet afgedwing word en die wêreld ingelig sal wees aangaande die verpligting van die ware Sabbat, dan sal elkeen wat die wet van God oortree om ‘n voorskrif na te kom wat geen hoër gesag as die van Rome het nie, daardeur die pousdom bokant God vereer. Hulle bring hulde aan Rome en aan die mag wat die instelling wat deur Rome georden is afdwing. Hulle aanbid die dier en sy beeld. Wanneer mense dan die instelling wat God as teken van Sy gesag verklaar het verwerp en in die plek daarvan dit wat Rome as teken van haar oppergesag gekies het eer, sal hulle die merk van getrouheid aan Rome aanvaar, “die merk van die dier.” En dit is eers wanneer die saak duidelik voor die volk gestel word en hulle ‘n keuse tussen die gebooie van God en die gebooie van mense moet maak, dat diegene wat nog in oortreding bly, die “merk van die dier” sal ontvang. GS 473.1
Die mees vreeswekkendste dreigement wat nog ooit aan sterflinge gerig is, word in die boodskap van die derde engel vervat. Dit moet ‘n verskriklike sonde wees wat die toorn van God, onvermeng met genade, ontketen. Mense word nie in die duisternis gelaat aangaande hierdie belangrike saak nie; die waarskuwing teen hierdie sonde moet aan die wêreld gegee word voor die besoeking van God se oordele, sodat almal kan weet waarom dit oor hulle gaan kom en ‘n geleentheid gebied word om dit te ontvlug. Die profesie verklaar dat die eerste engel sy aankondiging sal doen aan “...alle nasies en stamme en tale en volke.” Die waarskuwing van die derde engel, wat deel uitmaak van dieselfde drieledige boodskap, is nie minder wydverspreid nie. Dit word in die profesie verteenwoordig dat dit met ‘n harde stem verkondig word deur ‘n engel wat in die hemel vlieg; en dit sal die aandag van die hele wêreld trek. GS 473.2
In hierdie stryd sal die Christendom in twee klasse verdeel word, naamlik diegene wat die gebooie van God en die geloof van Jesus bewaar en diegene wat die dier en sy beeld aanbid en sy merk ontvang. Hoewel kerk en staat sal saamspan om “..almal, klein en die groot en die rykes en die armes en die vrymense en die slawe... (Openb 13:16) “...die merk van die dier” te gee, sal die volk van God dit nogtans nie ontvang nie. Die profeet van Patmos het die “...oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam ... by die see van glas sien staan met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses ... en die lied van die Lam...” (Openb 15:2,3). GS 474.1