Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 26—'n Werk van Hervorming
Die hervorming ten opsigte van die Sabbat wat in die laaste dae moet geskied, word in die profesie van Jesaja voorspel: “So sê die Here: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want My heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word. Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie ... en die uitlanders wat hulle by die Here aangesluit het om Hom te dien en om die Naam van die Here lief te hê deur Sy knegte te wees — elkeen wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie en hulle wat vashou aan My verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg en Ek sal hulle vreugde laat smaak in My huis van gebed” (Jes 56:1,2,6,7). GS 475.1
Hierdie woorde is van toepassing op die Christelike era soos blyk uit die teksverband: “Die Here HERE wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.” (Jes 56:8). Hier word die insameling van die heidene deur die evangelie voorspel. En oor diegene wat die Sabbat heilig, word daar ‘n seën uitgespreek. GS 475.2
Die verpligting van die vierde gebod, strek dus verder as die kruisiging, opstanding en hemelvaart, tot met die tyd wanneer Sy dienaars die boodskap van die blye tyding aan alle nasies sal verkondig. GS 475.3
Deur dieselfde profeet beveel die Here: “Bind die getuienis toe; verseël die wet in die hart van My leerlinge.” (Jes 8:16). Die seël van God se wet word in die vierde gebod gevind. Van al tien is dit hierdie gebod alleen wat die naam en die titel van die Wetgewer aangedui. Dit verklaar Hom as die Skepper van die hemele en die aarde en toon dus Sy aanspraak op eerbied en aanbidding bo alle ander. Afgesien van hierdie gebod, is daar niks in die Dekaloog om aan te toon deur wie se gesag die wet gegee is nie. Toe die Sabbat deur die pouslike mag verander is, is die seël van die wet verwyder. Die dissipels van Jesus word opgeroep om dit te herstel deur die Sabbat van die vierde gebod tot sy regmatige posisie as die gedenkteken van die Skepper en die teken van Sy gesag te verhef. GS 475.4
“Na die wet en na die getuienis.” Terwyl daar teenstrydige leerstellings en teorieë in oorvloed is, is die wet van God die een onfeilbare maatstaf waaraan alle menings, leerstellings en teorieë getoets moet word. Die profeet sê: “As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie!” (Jes 8:20). GS 476.1
Weereens word die opdrag gegee: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.” Dit is nie die goddelose wêreld nie, maar diegene wat die Here as “My volk” bestempel, wat weens hulle oortredings tereggewys word. Die Here sê verder: “Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë! Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie.” (Jes 58:1,2). Hier word ‘n klas gesien wat hulleself as regverdig beskou en groot belangstelling in die diens van God blyk te toon; maar die streng en plegtige teregwysing van die Ondersoeker van harte, bewys dat hulle die Goddelike voorskrifte vertrap. GS 476.2
Die profeet wys op die gebod wat versaak is: “Die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie om bewoonbaar te maak. As jy jou voet terughou van die Sabbat — om nie jou sake op My heilige dag te doen nie en as jy die Sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hoog hou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here.” (Jes 58:12-14). Hierdie profesie geld ook in ons tyd. Die breuk in die wet van God is veroorsaak toe die Sabbat deur die Roomse mag verander is. Maar die tyd het aangebreek dat hierdie Goddelike instelling herstel moet word. Die breuk moet herstel word en die fondament van baie geslagte moet opgehef word. GS 476.3
Geheilig deur die Skepper se rus en seën, is die Sabbat deur Adam in sy onskuld in die heilige Eden gehou; en ook deur die gevalle en tog berouvolle Adam, toe hy uit sy gelukkige tuiste verdryf is. Dit is deur al die patriarge, vanaf Abel af tot by die regverdige Noag, Abraham en Jakob onderhou. Toe die uitverkore volk in Egipte in slawerny verkeer het, het baie van hulle te midde van die heersende afgodediens hul kennis van God se wet vergeet; maar toe die Here Israel verlos het, het Hy Sy wet in ontsagwekkende grootsheid aan die versamelde menigte verkondig, sodat hulle Sy wil kon ken en Hom vir ewig sou vrees en gehoorsaam. GS 477.1
Van daardie dag af tot vandag toe is die kennis van God se wet op die aarde bewaar en is die Sabbat van die vierde gebod onderhou. Hoewel die “mens van sonde” daarin geslaag het om God se heilige dag onder sy voete te vertrap, was daar selfs in die tydperk van sy oppergesag, getroue siele in verborge plekke, wat die Sabbat eerbiedig het. Sedert die Hervorming was daar in elke generasie sommige wat dit gehandhaaf het. Hoewel dit dikwels te midde van smaad en vervolging geskied het, was daar voortdurende getuienis gelewer van die ewigdurendheid van God se wet en van die heilige verpligting van die Sabbat van die skepping. GS 477.2
Hierdie waarhede, soos in Openbaring 14 aangebied, in verband met die “ewige evangelie,” sal die kerk van Christus tydens Sy verskyning onderskei. Want as gevolg van die verkondiging van die drieledige boodskap, word aangekondig: “Hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.” (Openb 14:12). En hierdie boodskap is die laaste wat voor die koms van die Here gegee sal word. Onmiddellik na die aankondiging daarvan, het die profeet die Seun van die mens in heerlikheid sien kom om die oes van die aarde in te samel. GS 477.3
Diegene wat die lig aangaande die heiligdom en die onveranderlikheid van die wet van God ontvang het, was met vreugde en verwondering vervul toe hulle die skoonheid en harmonie van die stelsel van waarheid gesien het wat aan hulle verstand geopen is. Hulle wou graag hê dat die lig wat vir hulle so kosbaar was, aan alle Christene gegee moes word; en hulle kon nie anders as om te glo dat dit vreugde aanvaar sou word nie. Maar waarhede wat hulle in stryd met die wêreld sou plaas, was vir baie mense wat beweer het dat hulle navolgers van Christus was, onwelkom. Gehoorsaamheid aan die vierde gebod, het ‘n opoffering waarvoor die meerderheid teruggedeins het geverg. GS 478.1
Toe die aansprake van die Sabbat aan hulle voorgehou is, het baie vanuit die oogpunt van die wêreldling geredeneer. Hulle het gesê: “Ons het altyd Sondag gehou, ons vaders het dit gehou en baie goeie en vroom mense het gelukkig gesterf terwyl hulle dit onderhou het. As hulle reg was, is ons ook reg. Die onderhouding van hierdie nuwe Sabbat, sal ons uit harmonie met die wêreld bring en ons sal geen invloed op hulle hê nie. Wat kan ‘n klein groepie wat die sewende dag hou, teen die hele wêreld wat Sondag hou doen?” Dit was deur soortgelyke redenasies dat die Jode gepoog het om hul verwerping van Christus te regverdig. Hulle vaders is deur God aanvaar toe hulle die offerandes aangebied het en waarom kon die kinders nie redding vind deur dieselfde weg te volg nie? In die tyd van Luther het die Roomsgesindes aangevoer dat ware Christene in die Katolieke geloof gesterf het en dat godsdiens dus voldoende vir redding was. Sodanige redenasies was ‘n effektiewe hindernis vir alle vooruitgang in godsdienstige geloof of die beoefening daarvan. GS 478.2
Baie het aangevoer dat die onderhouding van Sondag al eeue lank ‘n gevestigde leerstelling en ‘n algemene gebruik van die kerk was. Teen hierdie argument is daar aangevoer dat die onderhouding van die Sabbat ouer en meer wydverspreid was, selfs so oud soos die wêreld self en dat dit deur beide die engele en God goedgekeur is. Toe die fondamente van die aarde gelê is, toe die móresterre saam gesing het en al die seuns van God van blydskap gejubel het, is die fondament van die Sabbat gelê. (Job 38:6,7; Gen 2:1-3). Hierdie instelling mag wel ons eerbied vereis; dit is deur geen menslike gesag georden nie en berus op geen menslike tradisies nie; dit is deur die Oue van dae ingestel en deur Sy ewige woord beveel. GS 478.3
Namate die aandag van die volk op die onderwerp van die hervorming van die Sabbat gevestig is, het die gewilde predikante die Woord van God verdraai en sodoende op ‘n wyse vertolk wat ondersoekende denke die beste sou pas. En diegene wat nie self die Skrifte deursoek het nie, was tevrede om gevolgtrekkings te aanvaar wat met hulle begeertes ooreengestem het. Deur argumente, drogredes, tradisies van die Vaders en die gesag van die kerk, het baie probeer om die waarheid omver te werp. Die voorstanders van die Sabbat is na hul Bybels gedwing om die geldigheid van die vierde gebod te verdedig. Nederige mense, slegs met die Woord van Waarheid gewapen, het die aanvalle van geleerdes weerstaan, wat met verbasing en woede bevind het dat hul welsprekende drogredes magteloos was teen die eenvoudige, reguit argumente van manne wat die Skrif geken het, eerder as om vertroud te wees met die subtiliteite van die skole. GS 479.1
Sonder enige Bybelse getuienis in hulle guns, het baie mense met onvermoeide volharding aangedring en vergeet hoe dieselfde redenasie teen Christus en Sy apostels gebruik is: “Waarom verstaan ons vooraanstaande manne nie die vraagstuk aangaande die Sabbat nie? Min mense glo soos julle. Dit kan nie wees dat julle reg is en al die geleerdes van die wêreld verkeerd nie.” GS 479.2
Om sulke argumente te weerlê, was dit slegs nodig om die Skrifte aan te haal en na die geskiedenis van die Here se optrede teenoor Sy volk in alle eeue te verwys. God werk deur diegene wat Sy stem hoor en gehoorsaam, deur diegene wat, indien nodig, onverteerbare waarhede spreek en deur diegene wat nie vrees om gewilde sondes te bestraf nie. Die rede waarom Hy nie meer dikwels geleerde en vooraanstaande mense met hoë geleerdheid kies om die hervormingsbewegings te lei nie, is omdat hulle op hul geloofsbelydenisse, teorieë en teologiese stelsels vertrou en geen behoefte het om deur God onderrig te word nie. Slegs diegene wat ‘n persoonlike verbintenis met die Bron van wysheid het, kan die Skrif verstaan en verklaar. Mense met min geleerdheid, word soms geroep om die waarheid te verklaar, nie omdat hulle ongeleerd is nie, maar omdat hulle nie te selfvoldaan is om deur God geleer te word nie. Hulle leer in die skool van Christus en hulle nederigheid en gehoorsaamheid maak hulle groot. Deur kennis van Sy waarheid aan hulle te skenk, verleen God eer aan hulle, in vergelyking waarmee aardse eer en menslike grootsheid in nietigheid wegsink. GS 479.3
Die meerderheid Adventiste het die waarhede aangaande die heiligdom en die wet van God verwerp en baie van hulle het ook hul geloof in die Advent-beweging verloën en ongegronde en teenstrydige sienings van die profesieë wat op die werk van toepassing was, aanvaar. Sommige is selfs in die dwaling om herhaaldelik ‘n bepaalde datum vir die koms van Christus vas te stel gelei. Die lig wat nou oor die onderwerp van die heiligdom geskyn het, moes hulle oortuig het dat geen profetiese tydperk tot by die wederkoms van Christus strek nie en dat die presiese tyd vir die wederkoms nie voorspel is nie. Maar, hulle het van die lig weggedraai en was keer op keer op vir die wederkoms van die Here ingestel en is elke keer teleurgestel. GS 480.1
Toe die kerk in Thessalonika verkeerde sienings aangaande die wederkoms van Christus ontvang het, het die apostel Paulus hulle aangeraai om hulle hoop en verwagting noukeurig aan die Woord van God te toets. Hy het profesieë aangehaal wat die gebeure voor Christus sou kom openbaar het en hy het hulle daarop gewys dat hulle geen grond gehad het om die koms van die Here in hulle tyd te verwag nie. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie...” het hy hulle gewaarsku. (2 Thes 2:3). Indien hulle verwagtinge gekoester het wat nie in die Skrif bevestig is nie, sou dit hulle in ‘n verkeerde rigting gelei het; teleurstelling sou hulle aan die bespotting van ongelowiges blootstel en hulle sou gevaar loop om mismoedig te raak en in die versoeking kom om die waarhede wat noodsaaklik vir hul redding is, te betwyfel. Die apostel se vermaning aan die Thessalonicense bevat ‘n belangrike les vir diegene wat in die laaste dae lewe. Baie Adventiste was van mening dat, tensy hulle op ‘n bepaalde tyd vir die koms van die Here kon vertrou, hulle nie ywerig en toegewyd in die voorbereidingswerk kon wees nie. Maar waar hulle hoop keer op keer opgevlam het om maar net weer teleurgestel te word, was dit so ‘n skok vir hul geloof, dat dit vir hulle onmoontlik was om onder die indruk van die groot waarhede van die profesie te kom. GS 480.2
Die prediking van ‘n bepaalde tyd vir die oordeel, soos in die eerste boodskap, is deur God beveel. Die berekening van die profetiese tydperke waarop daardie boodskap gebaseer is en wat die einde van die 2 300 dae in die herfs van 1844 geplaas het, staan sonder twyfel. Die herhaalde pogings om nuwe datums vir die begin en afsluiting van die profetiese tydperke vas te stel en die onstandvastige redenasies wat nodig is om hierdie stellings te handhaaf, lei die gedagtes nie net weg van die huidige waarheid nie, maar werp minagting op alle pogings om die profesieë te verklaar. Hoe meer gereeld ‘n bepaalde tyd vir die wederkoms bepaal word en hoe wyer dit verkondig word, hoe beter pas dit die doel van Satan. Wanneer die tyd dan verstreke is, verwek hy die bespotting en veragting vir die voorstanders daarvan en werp sodoende oneer op die groot Advent-beweging van 1843 en 1844. Diegene wat in hierdie dwaling volhard sal uiteindelik ‘n datum wat te ver in die toekoms vir die koms van Christus strek, vasstel. Sodoende sal hulle gelei word om in ‘n valse gevoel van sekuriteit te rus en baie sal nie uit hul misleiding ontwaak voordat dit te laat is nie. GS 481.1
Die geskiedenis van Israel van ouds is ‘n treffende voorbeeld van die ervaring van die liggaam van Adventiste. In die Advent- beweging het God Sy volk gelei, net soos Hy die kinders van Israel uit Egipte gelei het. In die groot teleurstelling is hulle geloof getoets, net soos die Hebreërs by die Rooi See. As hulle steeds op die leidende Hand wat in hul vorige ervaring met hulle was vertrou het, sou hulle die redding van God gesien het. As almal in 1844 verenig en saamgewerk het, die boodskap van die derde engel aangeneem het en dit in die krag van die Heilige Gees verkondig het, sou die Here kragtig met hul pogings saamgewerk het. ‘n Vloed van lig sou oor die wêreld gewerp gewees het. Die bewoners van die aarde sou jare gelede gewaarsku gewees het, die afsluitingswerk sou voltooi gewees het en Christus sou gekom het om Sy volk te verlos. GS 481.2
Dit was nie die wil van God dat Israel vir veertig jaar in die woestyn moes rondswerf nie; Hy wou hulle reguit na Kanaan lei en hulle daar vestig as ‘n heilige en gelukkige volk. Maar deur ongeloof kon hulle nie ingaan nie. (Heb 3:19). As gevolg van hul afvalligheid, het hulle in die woestyn omgekom en ander is opgerig om die Beloofde Land binne te gaan. Net so is dit ook nie die wil van God dat die koms van Christus so lank vertraag word en dat Sy volk soveel jare in hierdie wêreld van sonde en droefheid moes bly nie. Maar ongeloof het hulle van God geskei. Terwyl hulle geweier het om die werk te doen waarvoor Hy aan hulle aangestel het, is ander opgewek om die boodskap te verkondig. In genade vir die wêreld, stel Jesus Sy koms uit, sodat sondaars die geleentheid kan kry om die waarskuwing te hoor en skuiling by Hom te vind voordat die toorn van God uitgestort word. GS 482.1
Net soos in vorige eeue, sal die aanbieding van ‘n waarheid wat die sondes en dwalinge van die tyd bestraf, teëstand opwek. “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.” (Joh 3:20). Soos die mense gesien het dat hulle nie hul posisie volgens die Skrif kon handhaaf nie, was baie vasbeslote om dit tog teen alle koste te handhaaf en met ‘n kwaadwillige gees het hulle die karakter en beweegredes van diegene wat ter wille van die ongewilde waarheid staan, aangeval. Dit is dieselfde beleid wat in alle eeue gevolg is. Elia was in Israel as ‘n probleem verklaar, Jeremia ‘n verraaier en Paulus ‘n besoedelaar van die tempel. Vanaf daardie dag tot vandag, word diegene wat lojaal aan die waarheid is, as oproerig, ketters, of dat hulle tweespalt veroorsaak, uitgekryt. Menigtes wat te ongelowig is om die vaste woord van profesie te aanvaar nie, sal met ongetwyfelde goedgelowigheid ‘n beskuldiging teen diegene wat dit durf waag om gewilde sondes te berispe, aanvaar. Hierdie gees sal meer en meer toeneem. En die Bybel leer duidelik dat ‘n tyd nader kom wanneer die wette van die staat so in stryd met die wet van God sal wees, dat elkeen wat al die Goddelike voorskrifte nakom, smaad en straf as ‘n boosdoener sal moet konfronteer. GS 482.2
In die lig hiervan, wat is die plig van die boodskapper van waarheid? Sal hy tot die gevolgtrekking kom dat die waarheid nie voorgehou moet word nie, aangesien die enigste gevolg daarvan dikwels daartoe lei om mense op te wek om die bewerings daarvan te ontduik of te weerstaan? Glad nie; hy het net so min rede om die getuienis van God se Woord te verswyg omdat dit teenstand verwek, as wat die vroeë hervormers gehad het. Die geloofsbelydenis wat deur heiliges en martelare afgelê is, is ten bate van die toekomstige geslagte opgeteken. Hierdie lewende voorbeelde van heiligheid en onwrikbare integriteit, is om diegene wat tans geroep word om as getuies vir God te staan, met moed te besiel. Hulle ontvang genade en waarheid, nie alleen vir hulself nie, maar sodat die kennis van God die aarde deur hulle kan verlig. Het God lig aan sy dienaars in hierdie geslag gegee? Dan moet hulle dit in die wêreld laat skyn. GS 483.1
In die ou tyd het die Here aan iemand wat in sy Naam gespreek het, verklaar: “Die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie;” nietemin het Hy gesê, “Maar jy moet hulle my woorde verkondig, of hulle al luister of nie.” (Eseg 3:7;2:7). Die volgende opdrag word op hierdie stadium aan die dienskneg van God gerig: “Verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan My volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.” (Jes 58:1). GS 483.2
Vir sover die geleentheid hom voordoen, verkeer elkeen wat die lig van die waarheid ontvang het onder dieselfde plegtige en vreesaanjaende verpligting as die profeet van Israel tot wie die woorde van die Here gekom het: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek vir die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.” (Eseg 33:7-9). GS 484.1
Die groot struikelblok vir beide die aanvaarding en die bekendmaking van die waarheid, is die feit dat dit ongerief en verwyt behels. Dit is die enigste argument teen die waarheid wat die voorstanders daarvan nog nooit kon weerlê nie. Maar dit skrik nie die ware volgelinge van Christus af nie. Hulle wag nie vir die waarheid om gewild te raak nie. Omdat hulle oortuig van hulle plig is, aanvaar hulle doelgerig die kruis en saam met die apostel Paulus reken hulle dat “...ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, werk vir ons uit ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid... ” en hulle ag “...die smaad van Christus groter rykdom ... as die skatte van Egipte.” (2 Kor 4:17; Heb 11:26). GS 484.2
Wat hulle roeping ook al mag wees, dit is slegs diegene wat van harte dienaars van die wêreld is, wat in Godsdienssake ‘n beleid van gerief volg, eerder as in beginsel optree. Ons moet kies wat reg is omdat dit die regte ding is om te doen en die gevolge aan God oorlaat. Die wêreld is aan mense van beginsel, geloof en durf, dank verskuldig vir die groot hervormings. Deur sulke mense moet die hervormingswerk vir hierdie tyd voortgesit word. GS 484.3
So sê die Here: “Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart My wet is. Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie; want die mot sal hulle opeet soos ‘n kleed en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag.” (Jes 51:7,8). GS 485.1