Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 24—In die Allerheiligste
Die onderwerp van die heiligdom was die sleutel wat die raaisel van die teleurstelling van 1844 ontsluit het. Dit het begin om ‘n volledige stelsel van waarheid, aaneen te koppel en harmonieus te ontvou, wat getoon het dat God se hand die groot advent-beweging gerig het en die heilige plig openbaar het namate dit die posisie en werk van Sy volk aan die lig gebring het. Soos die dissipels van Jesus, ná die verskriklike nag van angs en teleurstelling, verheug was toe hulle hul Here weer gesien het, het diegene wat in geloof na Sy tweede koms uitgesien het, hulle ook nou verheug. Hulle het verwag dat Hy in heerlikheid sou kom om Sy diensknegte te beloon. Toe hulle hoop teleurgestel is, het hulle Jesus uit die oog verloor en soos Maria by die graf, het hulle uitgeroep: “Hulle het die Here ... weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Maar nou het hulle Hom weer in die Allerheiligste as hul medelydende Hoëpriester aanskou, wat binnekort as hul Koning en Verlosser sal verskyn. Lig uit die heiligdom het die verlede, die hede en die toekoms verlig. Hulle het geweet dat God hulle deur Sy onfeilbare voorsienigheid gelei het. Hoewel hulle, soos die eerste dissipels, nie die boodskap wat hulle verkondig het verstaan het nie, was dit in alle opsigte korrek. Toe hulle dit verkondig het, het hulle die voorneme van God vervul en hulle arbeid in die Here was nie tevergeefs nie. Met die “...wedergeboorte ... tot ‘n lewende hoop...” het hulle hul “...verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” (1 Petrus 1:3,8) GS 446.1
Beide die profesie van Daniël 8:14: “...tweeduisend driehonderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word...” en die eerste engel se boodskap: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom...” het gewys op die bediening van Christus in die Allerheiligste plek, van die ondersoekende oordeel en nie op die koms van Christus vir die verlossing van Sy volk en die vernietiging van die goddelose nie. Die fout was dus nie in die berekening van die profetiese tye nie, maar die gebeurtenis wat aan die einde van die 2 300 dae sou plaasvind. As gevolg van hierdie fout het die gelowiges teleurstelling ervaar, maar alles wat in die profesie voorspel is en alles wat hulle volgens die Skrif verwag het, is vervul. Op dieselfde tydstip toe hulle die mislukking van hulle hoop betreur het, het die gebeurtenis wat deur die boodskap voorspel is en wat vervul moes word voordat die Here kon verskyn om Sy diensknegte te beloon, plaasgevind. GS 446.2
Christus het nie na die aarde gekom soos hulle verwag het nie, maar soos in die tipe voorafgeskadu, na die Allerheiligste plek van die tempel van God in die hemel. Hy word deur die profeet Daniël voorgestel as dat Hy in hierdie tyd die Oue van dae nader: “Ek het gesien in die naggesigte en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom, soos die Seun van ‘n mens en Hy het gekom [nie na die aarde nie, maar] tot by die Oue van dae en hulle het Hom nader gebring voor Hom.” (Dan 7:13). GS 447.1
Hierdie koms word ook deur die profeet Maleági voorspel: “Dan sal skielik na Sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare.” (Mal 3:1). Die koms van die Here na Sy tempel, was skielik en onverwags vir Sy volk. Hulle het Hom nie daar gesoek nie. Hulle het verwag dat Hy na die aarde sou kom “...in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.” (2 Thes 1:8). GS 447.2
Maar die mense was nog nie gereed om hulle Here te ontmoet nie. Daar moes nog ‘n voorbereidingswerk vir hulle gedoen word. Daar sou lig gegee word om hulle gedagtes na die tempel van God in die hemel te rig; en soos hulle deur geloof hul Hoëpriester daar in Sy bediening gevolg het, sou nuwe pligte aan hulle geopenbaar word. ‘n Ander boodskap van waarskuwing en opdrag, sou aan die kerk gegee word. GS 447.3
Die profeet sê: “Maar wie kan die dag van Sy koms verdra? En wie sal stand hou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die seep van die wassers. En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en silwer, sodat hulle aan die Here in geregtigheid ‘n offer sal bring.” (Mal 3:2,3). Diegene wat op die aarde lewe wanneer die bemiddeling van Christus in die hemelse heiligdom sal ophou, sal voor ‘n heilige God sonder ‘n Middelaar moet staan. Hulle kleed moet vlekkeloos wees en hulle karakters moet van sonde gereinig word deur die bloed van besprinkeling. Deur die genade van God en hul ywerige inspanning, moet hulle oorwinnaars wees in die stryd teen die bose. Terwyl die ondersoekende oordeel in die hemel voortgaan, terwyl die sondes van boetvaardige gelowiges uit die heiligdom verwyder word, moet daar ‘n spesiale reinigingswerk onder God se volk op aarde wees om die sonde te versaak. Hierdie werk word duideliker in die boodskappe van Openbaring 14 weergegee. GS 448.1
Wanneer hierdie werk voltooi is, sal die volgelinge van Christus, gereed wees vir Sy verskyning. “Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die Here net so aangenaam wees soos in die ou dae en in die jare van die voortyd.” (Mal 3:4). Dan sal die kerk wat die Here tydens Sy koms vir Homself sal ontvang, ‘n kerk wees, “...verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks.” (Efe 5:27). Dan sal die kerk “...soos die rooidag, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels... ” wees. (Hoogl 6:10). GS 448.2
Behalwe die koms van die Here na Sy tempel, voorspel Maleági ook Sy wederkoms, Sy koms om die oordeel te voltrek, met die volgende woorde: “En Ek sal na julle aankom om strafgerig te hou en Ek sal ‘n haastige Getuie wees teen die towenaars en die egbrekers en die meinediges en die wat die dagloner in sy loon en die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die Here van die leërskare.” (Mal 3:5). Judas verwys na dieselfde toneel as hy sê: “Kyk, die Here het gekom met Sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het.” (Judas 14,15). Hierdie koms en die koms van die Here na Sy tempel, is onderskeie en afsonderlike gebeure. GS 448.3
Die koms van Christus as ons Hoëpriester na die Allerheiligste plek vir die reiniging van die heiligdom, soos in Daniël 8:14; die koms van die Seun van die mens na die Oue van dae, soos in Daniël 7:13; en die koms van die Here na sy tempel, wat deur Maleági voorspel is, is beskrywings van dieselfde gebeurtenis en dit word ook deur die koms van die bruidegom na die huwelik, soos deur Christus in die gelykenis van die tien jong meisies in Mattheus 25 beskryf. GS 449.1
In die somer en herfs van 1844 is die proklamasie: “Daar kom die bruidegom...”gegee. Die twee klasse wat deur die wyse en dwase maagde verteenwoordig word, het toe ontwikkel — een klas wat met vreugde na die verskyning van die Here uitgesien het en hulle ywerig voorberei het om Hom te ontmoet; die ander klas wat, uit vrees en impulsiewe optrede, tevrede was met ‘n teorie van die waarheid, maar wat sonder die genade van God was. In die gelykenis, toe die bruidegom kom, het “...die wat gereed was ... saam met hom ingegaan na die bruilof.” Die koms van die bruidegom hier ter sprake, vind voor die bruilof plaas. Die huwelik verteenwoordig die ontvangs deur Christus van Sy koninkryk. Die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, wat die hoofstad en verteenwoordiger van die koninkryk is, word die bruid genoem, die vrou van die Lam. Die engel het aan Johannes gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam ... En hy het my weggevoer in die gees...” sê die profeet “...en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal.” (Openb 21:9,10). Dit is dus duidelik dat die bruid die heilige stad verteenwoordig en die maagde wat die bruidegom tegemoet gaan, is ‘n simbool van die kerk. In Openbaring word die volk van God as die gaste by die bruilofsmaal voorgestel (Openb 19:9). As gaste, kan hulle nie ook as die bruid voorgestel word nie. Christus, soos deur die profeet Daniël verklaar, sal van die Oue van dae in die hemel “...heerskappy en eer en koningskap...” ontvang. Hy sal die nuwe Jerusalem, die hoofstad van Sy koninkryk, ontvang, “...toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Dan 7:14; Openb 21:2). Nadat Hy die koninkryk ontvang het, sal Hy in Sy heerlikheid na die aarde as Koning van die konings en Here van die here kom, om Sy volk te verlos wat, “...saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele...” om aan die bruilofsmaal van die Lam deel te neem. (Matt 8:11; Luk 22:30). GS 449.2
Die uitroep: “Daar kom die bruidegom...” in die somer van 1844, het daartoe gelei dat duisende die onmiddellike koms van die Here verwag het. Op die vasgestelde tyd het die Bruidegom nie na die aarde gekom soos die mense verwag het nie, maar na die Oue van dae in die hemel, na die bruilof, die ontvangs van Sy koninkryk. “En die wat gereed was, het saam met Hom ingegaan na die bruilof en die deur is gesluit.” (Mat 25:10). Hulle sou nie terwyl hulle op die aarde is persoonlik by die bruilof teenwoordig wees nie, want dit vind in die hemel plaas. Die volgelinge van Christus “...moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom...” (Luk 12:36). Maar hulle moet Sy werk verstaan en Hom in geloof volg waar Hy voor God ingaan. Dit is in hierdie sin dat gesê word dat hulle na die bruilof ingaan. GS 450.1
In die gelykenis was dit diegene wat olie in hul kanne en in hul lampe gehad het, wat na die bruilof ingegaan het. Diegene wat, met ‘n kennis van die waarheid uit die Skrif, ook die Gees en genade van God gehad het en wat in die nag van hul bittere beproewing geduldig gewag en in die Bybel na duideliker lig gesoek het, hulle het die waarheid aangaande die heiligdom in die hemel en die verandering in die Verlosser se bediening gesien en deur geloof het hulle Hom in Sy werk in die hemelse heiligdom gevolg. En almal wat deur die getuienis van die Skrif dieselfde waarhede aanvaar en Christus deur geloof volg waar Hy voor God ingaan om Sy laaste werk van bemiddeling te doen en aan die einde daarvan Sy koninkryk te ontvang, word deur diegene wat na die bruilof ingaan voorgestel. GS 450.2
In die gelykenis van Mattheus 22 word dieselfde figuur vir ‘n huwelik gebruik en word die ondersoekende oordeel duidelik voorgestel dat dit voor die bruilof plaasgevind het. Net voor die bruilof, kom die koning in om die gaste te aanskou (Mat 22:11), om te sien of almal in die bruilofskleed geklee is, die vlekkelose mantel, gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam. (Openb 7:14). Die een wat gebrekkig gevind word, word uitgewerp, maar almal wat met die bruilofskleed geklee is, is deur God aanvaar en waardig geag om deel aan Sy koninkryk te hê en om op Sy troon te sit. Hierdie werk om die karakter te ondersoek, om vas te stel wie gereed is vir die koninkryk van God, is die werk van die ondersoekende oordeel, die afsluitingswerk van die heiligdom in die hemel. GS 451.1
Wanneer die ondersoekende oordeel voltooi is, wanneer die gevalle van diegene wat in alle eeue beweer het dat hulle navolgers van Christus is, ondersoek en beslis is, dan en nie voor dan nie, sal die proeftydperk sluit en die deur van genade gesluit word. In daardie een kort sin: “En die wat gereed was, het saam met Hom ingegaan na die bruilof en die deur is gesluit...” word ons deur die laaste bediening van die Heiland weggevoer na die tyd wanneer die groot werk van redding van die mens voltooi sal wees. GS 451.2
In die bediening van die aardse heiligdom wat, soos ons gesien het, ‘n figuur van die bediening in die hemelse is het, toe die hoëpriester op die versoendag die allerheiligste plek betree het, die bediening in die eerste vertrek opgehou. God het beveel: “En niemand mag in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen voordat hy uitkom nie.” (Lev 16:17). Toe Christus dus die Allerheiligste binnegegaan het om die laaste deel van Sy versoeningswerk te verrig, het Sy bediening in die eerste vertrek opgehou. Maar toe die bediening in die eerste vertrek beëindig is, het die bediening in die tweede vertrek begin. Wanneer, in die tipiese diens die hoëpriester die Allerheiligste op die versoendag verlaat het, het hy voor God ingegaan om die bloed van die sondoffer ten behoewe van die hele Israel wat hulle opreg van hul sondes bekeer het, aan te bied. Christus het dus net een deel van Sy werk as Middelaar voltooi, om met die ander deel van Sy werk te begin en Hy bepleit steeds Sy bloed voor die Vader ten behoewe van sondaars. GS 451.3
Adventiste het nie hierdie onderwerp in 1844 verstaan nie. Na afloop van die tyd waarop die Verlosser verwag is, het hulle nog steeds geglo dat Sy koms naby was; hulle was van mening dat hulle ‘n belangrike krisis bereik het en dat die werk van Christus, as Middelaar van die mens voor God, geëindig het. Dit het vir hulle voorgekom asof die Bybel leer dat die proeftydperk van die mens ‘n kort tydjie voordat die Here in die wolke van die hemel sou kom, sou sluit. Dit het duidelik uit die Skrifgedeeltes geblyk dat dit na ‘n tyd verwys het wanneer mense sal soek, klop en voor die genade-deur sal staan en uitroep, maar die deur sal nie oopgemaak word nie. En die vraag het by hulle opgekom of die datum waarna hulle vir die koms van Christus uitgekyk het, nie eerder die begin van hierdie tydperk was wat onmiddellik Sy koms sou voorafgaan nie. Nadat hulle die waarskuwing van die oordeel wat op hande was gegee het, het hulle gevoel dat hulle werk vir die wêreld afgehandel was en hulle het hul las vir siele vir die redding van sondaars verloor, terwyl die blatante en godslasterlike bespotting van die goddelose, vir hulle ‘n verdere bewys was dat die Gees van God van die verwerpers van Sy genade onttrek is. Dit alles het hulle oortuiging dat die proeftydperk geëindig het bevestig of, soos hulle dit uitgedruk het, “...dat die deur van genade gesluit was.” GS 452.1
Maar duideliker lig is op die ondersoek na die vraag aangaande die heiligdom gewerp. Hulle het nou gesien dat hulle tereg geglo het dat die einde van die 2 300 dae in 1844 ‘n belangrike krisis aangedui het. Maar, hoewel dit waar was dat die deur van hoop en genade wat vir agtien honderd jaar aan die mense toegang tot God verleen het, gesluit was, is ‘n ander deur geopen en vergifnis van sonde kon deur die middelaarswerk van Christus in die Allerheiligste plek verkry word. Een deel van Sy bediening is afgesluit om plek vir ‘n ander deel te maak. Daar was nog steeds ‘n “oop deur” na die hemelse heiligdom, waar Christus ten behoewe van die sondaar dien. GS 453.1
Die toepassing van hierdie woorde van Christus in Openbaring wat aan die huidige kerk gerig word, kon nou gesien word: “Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie en Hy sluit en niemand maak oop nie.” (Openb 3:7,8). GS 453.2
Dit is diegene wat Jesus in geloof in die groot werk van versoening volg, wat die seëninge van Sy bemiddeling namens hulle ervaar, terwyl diegene wat die lig wat hierdie bedieningswerk openbaar verwerp, nie die seën daarvan ontvang nie. Die Jode wat die lig wat tydens die eerste koms van Christus gegee is verwerp het en wat geweier het om in Hom as Verlosser van die wêreld te glo, kon nie deur Hom vergifnis ontvang nie. Toe Jesus tydens Sy hemelvaart, deur Sy eie bloed die hemelse heiligdom binnegegaan het om die seëninge van Sy bemiddeling op Sy dissipels uit te stort, is die Jode in totale duisternis gelaat om hul nuttelose offerandes voort te sit. Die bediening van tipes en skaduwees het geëindig. Die deur waardeur mense voorheen toegang tot God gehad het, was nie meer oop nie. Die Jode het geweier om Hom op die enigste wyse waardeur Hy gevind kon word te soek, naamlik deur die bediening in die hemelse heiligdom. Daarom het hulle geen gemeenskap met God gehad nie. Die deur was vir hulle gesluit. Hulle het geen kennis van Christus as die ware Offer en die enigste Middelaar voor God gehad nie; hulle kon dus die seëninge van Sy bemiddeling ontvang nie. GS 453.3
Die toestand van die ongelowige Jode, illustreer die toestand van die onverskilliges en ongelowiges onder belydende Christene, wat moedswillig onkundig aangaande die werk van ons barmhartige Hoëpriester is. In die tipiese diens, wanneer die hoëpriester die Allerheiligste binnegegaan het, moes die ganse Israel buite rondom die heiligdom vergader en op die mees plegtige wyse hul siele voor God verootmoedig sodat hulle vergifnis van hul sondes kon ontvang en nie van die vergadering afgesny word nie. Hoeveel belangriker is dit nie in hierdie antitipiese versoendag, om die werk van ons Hoëpriester te verstaan en te weet wat se pligte van ons verwag word nie! GS 454.1
Die mens kan nie die waarskuwings wat God in genade aan hulle stuur, ongestraf verwerp nie. In Noag se tyd is ‘n boodskap uit die hemel na die wêreld gestuur en die redding het afgehang van die wyse waarop hulle op die boodskap reageer het. Omdat hulle die waarskuwing verwerp het, is die Gees van God van die sondige geslag onttrek en het hulle in die Sondvloed omgekom. GS 454.2
In die tyd van Abraham het genade opgehou om met die sondige inwoners van Sodom te pleit en almal behalwe Lot, sy vrou en twee dogters is deur die vuur wat uit die hemel gestuur is verteer. So was dit ook in die dae van Christus. Die Seun van God verklaar: “Julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mat 23:38). Wanneer ons kyk na die laaste dae, verklaar dieselfde Oneindige Krag aangaande diegene “...wat die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie ... sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Thes 2:10-12). Soos hulle die leringe van God se Woord verwerp, onttrek God Sy Gees en laat hulle aan die misleiding wat hulle liefhet oor. GS 454.3
Maar Christus tree steeds namens die mens in en lig sal aan diegene wat daarna soek gegee word. Alhoewel dit aan die begin nie deur die Adventiste verstaan is nie, was dit later duidelik, namate die Skrifte wat hul ware posisie omskrywe, voor hulle begin oopgaan het. GS 455.1
Die verloop van tyd in 1844 is gevolg deur ‘n tydperk van groot beproewing vir diegene wat nog die Advent-geloof behou het. Hul enigste verligting ten opsigte van die vasstelling van hul ware posisie, was die lig wat hulle gedagtes op die heiligdom in die hemel gerig het. Sommige het in die vroeë berekening van die profetiese tydperke, hul geloof versaak en het die kragtige invloed van die Heilige Gees wat die Advent-beweging vergesel het, aan menslike of sataniese instrumente toegeskryf. ‘n Ander klas het steeds volgehou dat die Here hulle in hul vorige ervaring gelei het; en namate hulle gewag en gewaak en gebid het om die wil van God te ken, het hulle gesien dat hul groot Hoëpriester ‘n ander deel van Sy bedieningswerk betree het; en deur Hom in geloof te volg is hulle gelei om die afsluitingswerk van die kerk te sien. Hulle het ‘n beter begrip van die eerste en die tweede engele se boodskappe gehad en was gereed om die plegtige waarskuwing van die derde engel van Openbaring 14 te ontvang en dit aan die wêreld deur te gee. GS 455.2